’n Hart is so groot soos ’n vuis deur PP Fourie: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

’n Hart is so groot soos ’n vuis
PP Fourie
Vertaal uit Engels deur Marius Swart
Kaapstad: Kwela

.......

Die titel verskaf vroeg al ’n leidraad dat die inhoud en temas van die boek oor liefde sowel as geweld gaan: ’n hart wat emosie en omgee en liefde verteenwoordig, ’n vuis wat geweld en pyn en aggressie simboliseer en hoe die een die ander definieer.

.........

PP Fourie se roman ’n Hart is so groot soos ’n vuis is geskoei op die herinneringe van Paul rondom sy grootwordjare saam met sy ma en gewelddadige pa. Die titel verskaf vroeg al ’n leidraad dat die inhoud en temas van die boek oor liefde sowel as geweld gaan: ’n hart wat emosie en omgee en liefde verteenwoordig, ’n vuis wat geweld en pyn en aggressie simboliseer en hoe die een die ander definieer. Marius Swart se vertaling is puik – dit kom nêrens voor asof die werk vertaal is uit Engels nie, maar voel eg tuis in die Afrikaanse milieu van die tagtigerjare: die swye van die samelewing, die (effens geykte) voorbeelde van apartheid, soos Broederbondvergaderings (bl 90), die karige ondersteuning vir slagoffers van gesinsgeweld, die taboe van praat oor huismoles.

Tydens Paul se talle achronologiese terugflitse (dan klein seuntjie, dan volwasse man en dan tiener) neem hy die leser saam na sy onstabiele verlede soos hy dit onthou. Die afdelings in die boek word aan die begin aangedui met die opskrif “Tesserae”, wat “klein glasdeeltjies” beteken. Die skerwe van Paul se "onthou" lê soos gebreekte glas regoor die verhaal en die afgryslike geweld daarvan sny telkens emosioneel by die lees daarvan. Maar dit is hier waar die skrywer homself onderskei van bloot outobiograaf as skepper van prosa: Fourie gebruik sy herinneringe as boustene om sy verhaal uiteindelik as mosaïek daar te laat uitsien – dit word ’n werk van kuns en selfs skoonheid, trauma nieteenstaande.

Naas herinnering is nog een van die hooftemas in die boek die teenwoordigheid van uiterstes en hoe om daarmee saam te leef. Paul en sy ma beleef sy pa enersyds as monster: depressiewe, alkoholistiese en psigotiese man, sterk uitgebeeld in die hoofstuk "Die nag van die rewolwer", wat andersyds charismaties en liefdevol kan wees, noukeurig beskryf in die hoofstuk "Soorte liefde". Die gebeure wat hierdie teenpole uitbeeld, het my as leser ontstem, soveel dat ek die boek by tye moes neersit. Dis verder ontstellend dat Paul se ma herhaaldelik terugkeer na sy pa, en die onvoorspelbaarheid en onstabiliteit vir die jongeling se lewe word dan die gegewe in hul geskarrel na oorlewing.

Paul se verhouding met sy halfbroer Ben word gebruik om sy karakter later as volwassene uit te beeld: Sy menslikheid en empatie teenoor Ben, ten spyte van sy gebrekkige voorbeeld in sy ouers, word tentoongestel. Paul se ma word al hoe minder oor geskryf soos die roman verloop, asof die trauma haar uiteindelik totaal vernietig. Paul se verhouding met sy pa verbrokkel onherstelbaar, maar al maak of hy nie meer iets voel vir sy pa nie ("Kry ek hom jammer? Seker. Maar ek is jammerder vir die rusbank", 253), voel dit nie totaal oortuigend nie. Paul se haat vir sy ouma is wel duidelik wanneer hy ’n grusame vertelling oor een Oujaarsaand beskryf waartydens hy as klein seuntjie haar bel in sy paniekbevange toestand en sy dan die foon in sy oor neersit. Hy verwys na haar met die opskrif vir hierdie hoofstuk as "Die duiwel". Paul het wel ook intieme verhoudings van tyd tot tyd met minnaars wat begrip het vir sy trauma.

Mens sou kon spekuleer of hierdie roman inderdaad as sulks geklassifiseer behoort te word, in stede van as ’n outobiografie. Fourie motiveer self subtiel die onderskeid wat getref moet word by die eerste aanhaling in sy literatuur: “Anything processed by memory is fiction” (David Shields). Die aanbieding hier is van so ’n aard dat die literatuur pure kunswerk word in die hande van Fourie en daarom as roman beskou kan word. Sien gerus Willie Burger se resensie op LitNet oor dieselfde punt: "Die feit dat hierdie boek doelbewus as ’n roman aangebied word en nie as ’n outobiografie nie, is egter veelseggend. Dit skep beslis die indruk van outobiografie en sou seker as ’n outobiografiese roman beskryf kon word", maar "Die rede waarom hierdie spesifieke vertelling oor ’n dronk pa en mishandelde ma en opgemorste seun uitstaan, is dat Fourie musiek maak met die taal en met die verhaal".

.......

Verdere temas in die roman sluit in die gesplete gevoel van lief wees vir iemand en hulle terselfdertyd vrees en selfs doodwens. Musiek in die boek is ook ’n belangrike element in die konteks van die storie – soos wat katedrale deurtrek is van geverfde glas, “hoor” mens amper die somber klankbaan deur jou geestesoog sweef.

........

Verdere temas in die roman sluit in die gesplete gevoel van lief wees vir iemand en hulle terselfdertyd vrees en selfs doodwens. Musiek in die boek is ook ’n belangrike element in die konteks van die storie – soos wat katedrale deurtrek is van geverfde glas, “hoor” mens amper die somber klankbaan deur jou geestesoog sweef.

Onskuld en verlies is ook temas en word weergegee in die soepel resensie van Jonathan Amid op Netwerk24: "Kartering in woord van verlies en onskuld".

Uit ’n kritiese oogpunt kan die mishandeling van ’n vrou en kind by tye onuitstaanbaar swaar en donker uitgebeeld word. Paul is as volwassene ook amper te "together" met die voltooiing van voorspelbare sielkundige sessies en hoe ’n gawe mentor hy vir sy boetie is – dis amper onrealisties om jou in te dink. Verhoudings met minnaars is skynbaar intiem en relatief ongekompliseerd. Intertekstualiteit is daar wél – ’n verwysing na die treffende aanhaling uit Tolstoi se Anna Karenina is ’n voorbeeld: "All happy families are alike; each unhappy family is unhappy in its own way."

.......

Die punt van die boek is myns insiens om dubbelsinnigheid in die mens en die lewe self uit te beeld: Niks is slegs wit of swart nie, maar eerder ’n enorme mosaïek, in volkleur. Die boek word opgedra aan die skrywer se ma.

..........

Hierdie boek moes dapperheid van die skrywer geverg het, soos dit ook van die leser sal vereis – om jouself oop te maak om hierdie storie van ’n ander te kan ervaar. Jy vra jou af: Is dit nodig? Is dit kuns? Is dit belangrik? Baie min mense gaan direk met die hoofkarakter kan identifiseer – hy is queer, deur ’n geweldige traumatiese jeug en dis nie duidelik hoe sy toekoms daar uitsien nie. Maar "As ons toelaat dat dit wat vreemd is, vreemd bly, lees ons kreatief en stel ons onsself oop om deur die krag van ’n teks verander te word" (Van Heerden 2018:9). Die punt van die boek is myns insiens om dubbelsinnigheid in die mens en die lewe self uit te beeld: Niks is slegs wit of swart nie, maar eerder ’n enorme mosaïek, in volkleur. Die boek word opgedra aan die skrywer se ma.

Bron:

Van Heerden, N. 2018. Enigste studiegids vir AFK 1501. Pretoria: Unisa

Lees ook:

’n Gesprek met Marius Swart, die vertaler van ’n Hart is so groot soos ’n vuis

’n Brief aan PP Fourie, by die lees van ’n Hart is so groot soos ’n vuis

’n Hart is so groot soos 'n vuis deur PP Fourie: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top