’n Hart is so groot soos ’n vuis
PP Fourie
Kaapstad: Kwela
ISBN: 9780795710018
Marius Swart praat met Naomi Meyer oor ’n Hart is so groot soos ’n vuis, sy vertaling van PP Fourie se The heart is the size of a fist.
Marius, ek vra jou uiteindelik oor ’n Hart is so groot soos ’n vuis, jou lieflike vertaling van The heart is the size of a fist. Baie geluk daarmee; ek het dit as uiters outentiek en akkuraat beleef. Die boek is ’n boek van atmosfeer en gevoel. Hoe het die vertaalproses hiervan jou laat voel?
......
Ek dink die hoofgevoel tydens die vertaalproses was opwinding, en ook (positiewe) spanning – ek kon nie wag om te sien hoe die voorheen losstaande dele nou tot ’n boek saamgebind is nie. En ek is ook nie teleurgestel nie!
.......
Dankie vir die mooi woorde, Naomi. Ek en die boek ken mekaar in ’n sin van nog voordat dit ’n boek was. Die skrywer het van die fragmente waaruit dit bestaan, oor ’n langerige tydperk in sosiale media gedeel. Daar was gevolglik heelwat van die teks wat ek inhoudelik reeds geken het teen die tyd dat dit as afgewerkte roman oor my pad gekom het. Maar daardie moeilik beskryfbare atmosfeer en gevoel van die boek bestaan natuurlik nie net intern by elke teksgedeelte nie, maar ook in die geheel en in die interaksie tussen die dele. Ek dink die hoofgevoel tydens die vertaalproses was opwinding, en ook (positiewe) spanning – ek kon nie wag om te sien hoe die voorheen losstaande dele nou tot ’n boek saamgebind is nie. En ek is ook nie teleurgestel nie! Daardie spanningslyn wat die skrywer handhaaf sonder dat daar werklik ’n chronologiese lyn is waarop dit kan terugval, is een van die beste tegniese aspekte van die boek, en een van die mees aanvoelbares. Die vertaalproses as sodanig het ek werklik geniet, maar wat die inhoud betref, moes ek dit soms los en eers ’n draai buite gaan stap. Dit is, soos jy sê, verskriklik.
Hierdie vraag het niks met taal te doen nie. ’n Vriendin van my wat die boek gelees het, het gesê vir haar is dit nie asof die skrywer te slim probeer klink as hy deel wat hy ervaar en weet nie - hy is doodgewoon so slim. Ek ervaar dit ook so: Hy deel dit asof dit net foto’s is wat hy wys. ’n Film wat tot hom gespreek het, musiek wat hy gehoor het. Dieselfde vriendin het daarop gewys dat baie soortgelyke musiek en film juis ook in haar jonger dae tot haar gespreek en haar na daardie tye teruggetransporteer het. Hoe het jy persoonlik oor die skrywer se kunsverwysings gevoel toe jy vertaal het?
O, maar die vraag het tog alles met taal te doen! In die breë sin van die woord – taal as ’n middel om dinge uit te druk, en waardeur uitgedrukte dinge weer geïnternaliseer kan word. Die beeld van “getransporteer” word, is ’n goeie een hier, so ek leen dit uit jou vraag. Want wat met hierdie soort verwysings gebeur, is dat iemand jou aan die hand vat en vir jou iets wys, iets met jou deel, wat vir hulle om welke rede ook al baie spesiaal of betekenisvol is, of wat bloot presies die regte ding op presies die regte tyd is om iets mee uit te druk wat nie noodwendig binne gewone taal bevatlik is nie. En is dit nie iets wat ons almal graag doen nie? Kyk hoeveel van ons programme op ons fone en tablette se topfunksie is om te “share” – ons verbind ons aan ons wêreld en aan mekaar deur te sê: “Hei, check dit uit, dis vir my snaaks!” en te glo die persoon aan die ander kant gaan dit ook snap en lag. Kyk hoe kommunikeer ons deur middel van meme, GIF’s en ander nietalige (!) middele om die vinger so presiés op die regte reaksie of illustrasie vir ’n bepaalde gedagte te druk. Die kunsverwysings in die boek was vir my so.
Die Afrikaanse woordgebruik in die boek klink nie asof dit vertaal is nie. Die boek lees asof dit presies die woorde van die teks is – die toonaard, tekstuur en gevoelswaarde van die woorde lees baie eg. Is dit maklik om die regte woord te vind? Met watter aspekte het jy gesukkel, indien enige? Was daar frases of woorde waaroor jy moes nadink?
........
Maar hier het ons te make met wat ek nou maar op my eenvoudige manier ’n “Afrikaanse storie” sou noem. Om dit in ’n Afrikaans te vertaal wat dit laat klink asof dit nie vertaal is nie, was dus ’n bewuste besluit en doelwit.
.........
Sien, dis ’n moeilike ding. Die paradoks vir die vertaler is natuurlik dat die grootste kompliment wat uit ’n populêre oogpunt aan ons werk gegee kan word, ook daarop neerkom dat ons heeltemal onsigbaar moet wees. In die vertaalkunde leer ons vir studente belangrike goed oor weerstand teen talige en kulturele hegemonie, magsverhoudinge tussen rolspelers in die proses, en dies meer. Maar hier het ons te make met wat ek nou maar op my eenvoudige manier ’n “Afrikaanse storie” sou noem. Om dit in ’n Afrikaans te vertaal wat dit laat klink asof dit nie vertaal is nie, was dus ’n bewuste besluit en doelwit. So daar was die soort goed wat baie maklik vertaal, omdat dit ’n situasie beskryf wat, of gesitueer is binne ’n omgewing waar, die presiese regte Afrikaanse woord dadelik voor die hand liggend is, of waar ’n enkele Afrikaanse gedagte wat in die Engels in ’n volle sin uitgedruk is omdat die ekwivalente begrip nie in Engels bestaan nie, met daardie woord in Afrikaans uitgedruk kon word. Maar met party goed was dit weer moeilik. Nie soseer die spesifieke enkelwoordkeuses nie as die breër stemme, toonaarde en ander atmosferiese goeters. Die sprekerstemme in die bronteks is kompleks en wisselend, en binne die verskillende stemme wissel die toon en register ook nog fyn en slim om bepaalde effekte mee te bring, atmosfeer aan te dui, spanning te skep, te nuanseer, ens. Die Engels is soms in ’n register geskryf wat in die bloot semanties akkurate vertaling in Afrikaans nogal pretensieus wou-wou klink. Om dit op te los, krap mens dan maar aan die prosodiese goed (die ritme veral). Mens kan nogal ’n tipe van ’n “ba-dum tsss!” op die sintaktiese vlak inbou deur bloot iets op ’n ander plek te laat stop of ’n fokuskonstruksie te skuif of twee sinsnedes om te ruil. Die heel moeilikste balanseertoertjie was waarskynlik om die klein kind wat soms aan die woord is, maar duidelik oor ’n wysheid ver bo sy jare beskik, sodanig te vertaal dat sy onskuld nie verlore gaan nie en dat hy nie soos ’n arrogante klein stront klink as hy Afrikaans praat nie – die woord “precocious” het al ’n cliché geraak, so ek wil dit nie eintlik gebruik nie, maar dis hoe daardie karakter oorkom. En dan die skuif tussen dié sprekerstem en die ouer weergawe van dieselfde persoon. En nog ’n klomp klein goedjies, soos watter aanspreekvorm die ma-karakter vir haar seun (sou) gebruik wanneer hy ontsteld is. Natuurlik dan ook alles binne die konteks van die ongelooflike trauma wat hierdie karakters deurleef. Dis in die ontbloting van daardie verskriklike weerloosheid, deur middel van die skrywer se taalbeheersing en -benutting, dat ek die hardste moes werk en die meeste moes nadink.
........
Natuurlik dan ook alles binne die konteks van die ongelooflike trauma wat hierdie karakters deurleef. Dis in die ontbloting van daardie verskriklike weerloosheid, deur middel van die skrywer se taalbeheersing en -benutting, dat ek die hardste moes werk en die meeste moes nadink.
.........

Bo, links: PP Fourie (foto: LitNet) en onder, regs: Marius Swart (foto: LitNet)
Kom ons praat oor temas. Een van die skreiende aspekte van die boek is dat die skrywer deur omvangryke drama met sy pa gaan, en in sy kleinkindertyd met sy pa en ma se ongeluk – en ten spyte daarvan die diepste, sielsaligste geluk ervaar in die onrealistiese oomblikke waarin hy hom verbeel dat hy die middelpunt van hulle bestaan is en hulle die middelpunt van mekaar se bestaan. Watter aspekte van die storie of temas het jy as die mees hartverskeurende, of die moeilikste, ervaar terwyl jy vertaal het?
Jinne, ek het gehoop op ’n maklike vragie na die vorige een! Um ... Kom ons kyk. Miskien is dit die kontras inherent aan hoop en hopeloosheid wat die ergste is? Of eerder die “ambivalensie” eerder as die “kontras”. Die manier waarop daar nie een of ander maklike moralistiese standpunt ingeneem word daaroor dat alle goeie mense ook ’n bietjie sleg is en selfs die heel slegstes ook iets goeds in hulle het nie; hier word net ge-show en nie bloot ge-tell nie, om dit in daardie terme te stel, en die lesers moet hulle eie afleidings maak. Die moeilikste tema vir my om te hanteer, wat ook daaruit volg, was die inherente subjektiwiteit en onbetroubaarheid van herinneringe, van geheue. Dit en die weerloosheid waarna ek reeds verwys het. Daai goed is moeilik. Maar dis vir elke een van ons relevant.
“Voertuie met strukturele integriteit”, “gevoelsopvoeding”, “pragtige, sonore Frans”, “’n blikkie gedistilleerde terpentyn”, “gebedskers”, “die kompartement is so groot soos ’n menslike hart, wat ook so groot is soos ’n vuis” ... Daar is so baie woorde wat uit die bladsy uitspring en my bybly. Vertel my of die woorde van hierdie verhaal jou ook binnegegaan en bygebly het, en of jy daarby aanklank gevind het (as dit die regte manier is om dit te vra)?
.......
Maar die goed wat my wel bybly, is eerder beelde, gevoelens, indrukke. Daardie goed beleef ek nie in ’n spesifieke taal nie; hulle is aanvanklik in Engels aan my oorgedra en ek moes hulle weer in Afrikaans probeer uitdruk op ’n enigsins getroue manier.
.........
Jy laat my nou kopkrap, hoor. Ek dink ek is nog te naby aan die boek om die vraag regtig sinvol te beantwoord. Vra my oor ’n jaar weer, dan sê ek dalk iets heel anders. Maar die goed wat my wel bybly, is eerder beelde, gevoelens, indrukke. Daardie goed beleef ek nie in ’n spesifieke taal nie; hulle is aanvanklik in Engels aan my oorgedra en ek moes hulle weer in Afrikaans probeer uitdruk op ’n enigsins getroue manier. So ja, die woorde het my dan seker “binnegegaan en bygebly”, maar dis heel indirek. Moenie ’n fout maak nie: Die Engels is heerlik geskryf, en daar is reëls daar wat ek verbatim kan opsê omdat hulle so skerp en so goed afgerond is. Maar as vertaler werk ek op ’n vlak wat die woorde as minimum insluit en dan nog veel verder moet gaan.
Dink jy dat alle ouers, hoe goed hulle ook al dink hulle dit bedoel, hulle kinders skaad en verwond?
.......
Dit voel vir my of daar baie mense is wat die (toegegee, ontnugterende) besef dat hulle ouers ook maar net feilbare mense is, nie baie goed verwerk nie, en dan daarvan probeer sin maak deur slegs op die slegte of slegs op die goeie eienskappe van die betrokke ouer(s) te fikseer. Dis normaal; ons vereenvoudig en kompartementaliseer dinge om hulle beter te verstaan wanneer ons oorweldig voel.
.........
Larkin sê mos: “They fuck you up, your mum and dad. They may not mean to, but they do.” Ek dink dat ons almal verwond en geskaad word deur die ervarings wat ons deurmaak, en ons primêre versorgers het sekerlik ’n groot invloed daarop. Maar ek sal dit nie in die aktiewe sin stel wat dit laat klink asof ouers hierdie goed doelbewus doen nie, want dit is ’n oorvereenvoudiging, en oorvereenvoudigings is oninteressant. Dit voel vir my of daar baie mense is wat die (toegegee, ontnugterende) besef dat hulle ouers ook maar net feilbare mense is, nie baie goed verwerk nie, en dan daarvan probeer sin maak deur slegs op die slegte of slegs op die goeie eienskappe van die betrokke ouer(s) te fikseer. Dis normaal; ons vereenvoudig en kompartementaliseer dinge om hulle beter te verstaan wanneer ons oorweldig voel. Maar ek dink nie daar is net een enkele ding wat “alle” ouers doen nie, hetsy goed of sleg. Ek is ewe skepties oor die “My mamma is die beste-este in die wêreld”-brigade as oor die “My ma is Satan self”-span. Hulle almal verswyg maar sekere goed vir retoriese doeleindes. Dis net die presiese inhoud van die, ahem, stories wat effens verskil.
Dink jy dat alle ouers, ook die ouers in ’n Hart is so groot soos ’n vuis, hulle kinders met ’n skat binne hulle die wêreld instuur? Selfs al weet die kinders wat so beskadig en gekneus en vertoiing uitstap, dit nie eens meer nie?
Mmm. Ja, vir die realiteit dat kinders iets van hulle ouers in hulle saamdra, is ek meer oop om te verwys na “alle” gevalle. Jy weet, met vertaling is die populêre narratief daar buite altyd een oor “verlies”, oor wat “verlore” gaan in vertaling, oor wat nie meer so is soos dit in die “oorspronklike” was nie, oor hoeveel slegter die fliek is as wat die boek was. Ek wonder of die verwondingsnarratief waarna jou vorige vraag verwys, nie ook hier ter sprake is nie – dis dalk die teenhanger daarvan? Dat ons almal iets in ons saamdra wat van ons ouers af kom, of ons dit kan en wil erken of nie? Met ander woorde, dat daar per definisie iets van hulle in ons is, maar dat ons self iets meer of minder daarvan kan maak. Ek sê altyd: Mens moet onderskei tussen ’n “verklaring” en ’n “verskoning” vir iemand se gedrag. Die feit dat iemand se een ouer hulle sleg behandel as kind, is argumentshalwe ’n verklaring daarvoor dat hulle byvoorbeeld sukkel met verhoudings in hulle grootmenslewe. Maar dis nie ’n verskoning vir hulle om ander mense te mishandel nie, want elkeen van ons neem ons eie besluite en moet aanspreeklikheid daarvoor aanvaar – hoewel laasgenoemde natuurlik heel uit die mode is, maar ek volstaan hier voor ek prekerig raak.
Die boek het my verskriklik baie ontstel. Ek dink nie dit kan juis anders nie. Mens sukkel om afstand te behou en mens moet jouself oor en oor herinner: ’n Verhaal gebaseer op die waarheid word onmiddellik ook fiksie as dit neergeskryf word. Dink jy my laaste stelling is waar?
.......
Niemand skryf sonder om ook te stileer nie, is my gevoel.
.......
Ek aanvaar jou laaste stelling, ja. Niemand skryf sonder om ook te stileer nie, is my gevoel. (En op die punt van styl: Dis interessant hoe die boek se styl, wat juis so koel en afstandelik is, daardie uitwerking het, nè?)
Ek vra jou lankal nie meer oor die vertaalproses nie, want jy vertaal nie net ’n storie in hierdie boek nie. Jy vertaal ’n mens. ’n Hele verlede. Jy vertaal die ou Vrystaatse kunsteraad, Sukovs, wat ek ook geken het omdat ek as student ad hoc in hul orkes gespeel het. Jy vertaal ’n era. Wat is die grootste verantwoordelikheid van iemand wat met 'n ander se woorde werk wanneer hy dit vertaal? Wat is die vertaler se hoofdoel, sy taak en sy roeping, om dit so te noem?
The meaning of everything, dus? Ha! Kyk, ek dink dat dit juis is waaroor vertaling gaan. Jy kan nie net meganies elke woord met ’n ekwivalent in die doeltaal vervang en hoop daar gaan een of ander magiese of osmotiese proses wees waardeur dit alles in literatuur sal verander net omdat jy met literatuur begin het nie. Ons almal weet dat masjiene dit om hierdie rede nie kan doen nie. Jy kan nie vertaal sonder om bewus te wees van wat vertaling is, van wat teks is, nie. Maar dis ook sodat jy kan probeer om ’n greep te kry op wat alles in vertaling ter sprake is. Taal is die medium waarbinne dit plaasvind, maar dis definitief nie al waaroor dit gaan nie. Vertalers se grootste verantwoordelikheid is om hul eie feilbaarheid trompop te erken sodat dit hulle nie lamlê nie, en om terselfdertyd hul eie kundigheid te leer vertrou sonder dat dit hulle arrogant maak. Dit, en ’n bewuste bestuur van wat ek noem die “fokusdiepte” – die afbakening van die regte grootte eenhede om te vertaal, die kuns om met omsigtigheid op daardie mespunt tussen té letterlik en té vry te bly balanseer. Onderliggend aan dit alles is daar dan ook die kwessie van vertroue – vertroue in jouself, vertroue in jou medewerkers en, uiteraard, vertroue in die teks. Die vertaler se roeping is om op ’n manier te werk te gaan wat vertroue by alle betrokkenes in die proses inboesem. Hierdie goed word gereeld sosiologies bestudeer, maar dit begin en eindig vir my steeds by die teks, en by respek daarvoor – vir wat dit is, maar veral ook vir wat dit kan word.
......
Taal is die medium waarbinne dit plaasvind, maar dis definitief nie al waaroor dit gaan nie. Vertalers se grootste verantwoordelikheid is om hul eie feilbaarheid trompop te erken sodat dit hulle nie lamlê nie, en om terselfdertyd hul eie kundigheid te leer vertrou sonder dat dit hulle arrogant maak.
.........
Want toe erf die skrywer van die boek nie net die verskriklikhede van sy jeug wat hy vir altyd met hom sou saamdra nie. Hy erf ook die kuns. Arvo Pärt. Breakfast at Tiffany’s. Al die koormusiek en die toneelstukke wat hy self, die skrywer van hierdie boek, kon meemaak. Wat het jy geërf en waarmee loop jy, vertaler van hierdie teks, nog saam – maande nadat hierdie boek reeds gebore en uitgegee is?
Die onstuitbaarheid van die menslike oorlewingsdrang. Die waarde van vriende, en die onverwagse maniere waarop ons vriende maak en vriende raak. Die sterk gif van stilbly en anderpad kyk. Verskillende soorte liefhê en hulle almal se inherente irrasionaliteit. Hoe iemand wat jy elke dag sien, eintlik absoluut weerloos, totaal eensaam, heeltemal geïsoleer kan wees sonder dat jy dit besef. Hoe ons na mekaar moet kyk, en hoe maklik dit is om mekaar glad nie raak te sien nie. Hoe gelukkig mens jou moet ag as jy nie heeltemal alleen is nie.
Lees ook:
’n Hart is so groot soos 'n vuis deur PP Fourie: ’n resensie
’n Brief aan PP Fourie, by die lees van ’n Hart is so groot soos ’n vuis
Kommentaar
Baie insiggewend! Dankie Naomie & Marius! Ek kannie wag om die boek te lees nie!