Anelia Heese praat met Naomi Meyer oor Anelia se boek Diensplig wat onlangs verskyn het en wat ook tydens die Woordfees bespreek sal word.
Anelia, baie geluk met die verskyning van die boek Diensplig. Ek het jare gelede die eerste keer met jou gepraat toe jy na LitNet se kantoor gebel het om van die projek wat nou in die gedaante van die boek Diensplig verskyn het, te praat. Wil jy vertel wat jy van die gesprek onthou?
Diensplig.org in sy oorspronklike gewaad was ’n podsending-projek wat gepoog het om ’n wye verskeidenheid stemme oor ’n tema – militêre diensplig – te versamel. Podsendings is spanwerk. Ek het in Julie 2020 na verskeie mediahuise en kulturele organisasies uitgereik om die waters te toets: As dit kwansuis so ’n belangrike gesprek is, sou daar hulpbronne beskikbaar gestel word? Op die ou end het twee uiteenlopende publikasies – onder meer Vrye Weekblad en Maroela Media – my die kans gegun om essays oor my werk te publiseer. Dat so weinig organisasies bereid was om die gesprek aan te pak, het die onderwerp se taboe-status vir my bevestig. Dit raak toe te interessant om nie dieper te gaan krap nie.
............
Dat so weinig organisasies bereid was om die gesprek aan te pak, het die onderwerp se taboe-status vir my bevestig. Dit raak toe te interessant om nie dieper te gaan krap nie.
...........
Ek kan onthou dat ek gedink het hierdie is ’n belangrike gesprek, omdat dit ’n hele generasie mense in die land beïnvloed het. Ek bedoel natuurlik die dienspligtiges én ek bedoel die ander mense in die land, almal van ons. ’n Land gewikkel in ’n oorlog met homself. Dis nou weer in die tyd van Erfenisdag en is dit nie ’n soort erfenis wat almal van ons geërf het nie? Die trauma van diegene wat gemartel het (die troepe), die trauma van diegene wat gemartel is (die mense teen wie die oorlog gevoer is) en die mense in die land – wat polities totaal verdeeld was en waarvan die grootste meerderheid inderwaarheid in Suid-Afrika gebly het en teen wie se party daar dus as ’t ware oorlog gemaak is. Maar ook ’n baie moeilike gesprek om te benader. Ek het met jou gepraat en jy het ook geweet dis ’n moeilike gesprek om te voer. So wat was jou benadering en werkswyse?
Op papier is ek nie uitgeknip vir die boek wat ek geskryf het nie: Geen opleiding in sielkunde, berading of joernalistiek nie. In 2020 was ek egter baie siek en het by die dood omgedraai. Ek het my eie trauma toegelaat om my te omarm wanneer ek met dienspligtiges onderhoude gevoer het. Ek het probeer luister soos wat ek dikwels gewens het mense na my sou luister: Met geduld, sonder oordeel.
............
Ek het my eie trauma toegelaat om my te omarm wanneer ek met dienspligtiges onderhoude gevoer het. Ek het probeer luister soos wat ek dikwels gewens het mense na my sou luister: Met geduld, sonder oordeel.
............
Tegnies kan dit so lyk: ’n Semi-gestruktureerde telefoniese onderhoud van meer as 60 minute. Een van die onderhoude was selfs oor die vier uur. Traumatiese gebeurtenisse word dikwels in ’n bestaande narratief verweef wat ek dan sagkens uitgedaag het. Vooroordele word tot die minimum gehou deur beeld uit die gesprek te verwyder.
Jy het ’n skryfkursus gedoen, weet ek, en op watter stadium van jou navorsing was jy op daardie stadium? Op watter manier het die skryfkursus jou gehelp om die projek te voltooi?
Ek het die PEN Afrikaans Skryfkursus in September 2021 voltooi. In daardie stadium het ek sporadies aan Diensplig.org aandag gegee. Die kursus het “die skryf van verhale” behandel. Dit was ’n goeie eksperiment omdat ek besef het dat die geleefde werklikhede van ander ’n storie is wat homself kan skryf as jy mooi genoeg luister. Verder leer ’n skryfkursus jou om werk teen ’n tempo te lewer en terugvoer te ontvang. Ek het nooit beplan om ’n boek van my diensplig-werk te maak nie, totdat Tafelberg my in Augustus 2022 gevra het om ’n manuskrip te lewer.
Ek praat nog die heeltyd van die projek, maar dis skryfwerk – en jy skryf ook poësie en fiksie. Vertel asseblief van jou eie skryfwerk.
Ek lees graag fiksie. In plaas van bid, lees ek deesdae gedigte. Ek sou sê ek pleeg eerder essays of literêre niefiksie. Skryf is om die alledaagsheid te verneuk. My skryfwyse is seker ’n ode aan die oorspronklike bron, die oomblik waar ek geleer het hoe jy mense met woorde kan toor: ATKV-Redenaarskompetisies op hoërskool, of selfs goeie preke.
Jou boek is niefiksie en ook fiksie. Dis narratiewe vertellings van oud-soldate wie se stories jy self saamgevoeg het en met jou eie woorde ingeklee het. Hoe was die ervaring vir jou? Wat het dit by jou opgediep? (In die voorwoord van jou boek skryf jy oor jou verlange na SA en jou kinderdae, en op ’n manier was dit die sneller vir die afskop van hierdie ondersoek. Ken jy Danie Marais se gedig wat hy, toevallig ook in Duitsland, geskryf het oor hoe nodig hy sy jeugherinneringe het? Die kompleksiteit daarvan vir wit mense van ons generasie. Vir alle Suid-Afrikaners!)
.............
As jy lank genoeg ver genoeg woon, sterf gedeeltes van jou geliefdes en van jouself. Jy leef in ’n staat van kulturele bedroefdheid. Briewe word huldeblyke. Die skryf van Diensplig was so ’n brief, ’n huldeblyk.
...............
As jy lank genoeg ver genoeg woon, sterf gedeeltes van jou geliefdes en van jouself. Jy leef in ’n staat van kulturele bedroefdheid. Briewe word huldeblyke. Die skryf van Diensplig was so ’n brief, ’n huldeblyk. Ons is ’n volk van ontheemdes, hier in die buiteland, maar ook binne Suid-Afrika omdat die grense wat bepaal wie waar hoort, gedurig aan’t skuif is.
Hoe het jy besluit wie se vertelling kom eerste? Die boek is nie ’n akademiese verhandeling nie. Maar tog is daar baie stukke kliniese waarheid ook, wat dit ’n waarheidsgetroue ondersoek maak. Voorheen was dinge wat in die weermag gebeur het, in geheimhouding gehul. Maar nou mag mense praat (’n paar van die mense met wie jy gepraat het, verwys juis na die WVK).
In ’n instansie soos die weermag is daar gemeenskaplike asook individuele ervarings. Dit was vir my belangrik om verskillende stemme oor hierdie gemeenskaplike ervarings soos hare sny, uniform dra en basiese opleiding in ’n koor te plaas. Kort daarna begin die solo’s: Dieselfde weermag kan vir iemand ná basiese opleiding ’n grusame ervaring wees, vir ander ’n jol. Ek het gefokus op “ontnugterende eerstes” van dienspligtiges se ontplooiing en dit volgens die geskiedkundige tydlyn probeer plaas. Die volgorde is nie ’n rangorde nie: Almal se stories was soos om op heilige grond te loop.
.............
Die volgorde is nie ’n rangorde nie: Almal se stories was soos om op heilige grond te loop.
.............
Hoe beleef diegene met wie jy gepraat het dit om nou hul eie stories te lees? En wat hoor jy van ander Suid-Afrikaners wat dit lees? Hoe beleef Suid-Afrikaners in die buiteland dit?
Dit was vir my verstommend hoeveel respondente ingestem het om onder hul regte name geplaas te word en my met hul stories vertrou het. Een respondent wat geanonimiseer is, het selfs later op sosiale media sy identiteit onthul. Terugvoer strek van “Dit ruk die rowe af” tot “Hoe kry jy dit reg dat ek oor my eie woorde huil?” tot oudgeneraal Roland de Vries wat op verskeie veteranegroepe my werk verdedig. Die kritiek kom meestal van mense wat nog nie die boek gelees het nie en klink soos volg: “Ek was daar en ek stotter fokol.”
Verder is baie belangstelling van Suid-Afrikaners, oud en jonk, in die buiteland. Sekere akademici het gevra dat dit ook in Duits en Russies vertaal behoort te word, aangesien daar nou ’n oorlog in ons agterplaas woed waar soldate daar ook met morele verwonding wroeg.
Hoekom dit op skrif stel? Hoekom nou, in hierdie tyd? Is dit nie net alles verby nie?
Die wonde in ons land is nog baie rou. Jy hoef slegs “anderkant die treinspoor” te kyk om te sien dat daar nog ’n grens is. Stories kan grense versag.
Jy vra die mense met wie jy praat baie moeilike vrae. Soos: “Jy het ’n medalje ontvang vir jou werk in die Weermag. Beskou jy dit as ’n prestasie of ’n sukses?” Het jy nagedink hieroor: Wat is ware sukses en waarvoor ontvang mense pryse, die relatiwiteit daarvan? En die onbetroubaarheid van die geheue? En die verskoning: Ek het nie geweet nie, ek moes deelneem hieraan, ek is opgeroep! En mense wat nou sê: Daardie oorlog moes plaasvind, weet jy hoe sou die land gelyk het as dit nooit plaasgevind het nie? En vergeet die stadige geweld wat deurlopend toegedien is.
Dit was nie my werk om enige respondent te rehabiliteer of uit te daag nie. Ek was nie daar nie, so kan nie aanspraak maak oor hoe jy probeer sin maak van wat jy moes doen nie. Die narratiewe was eerder ’n uitnodiging om na binne te kyk en eerder myself te vra wat dit aan die stellings is wat my pla. Klink ek ook soms so? Sou ek so klink?
Jy skryf baie mooi. Ek lees die slotgedeelte van jou boek en ek dink: Jou volgende boek is sekerlik ’n roman. Of hoe?
Net soos fiksie soms die reëls kan buig, kan niefiksie op ’n manier aangebied word wat die skrywer en die leser uitdaag. Ek is geïnspireer deur die brief, die huldeblyk en die essay-formaat: Ocean Vuong se On Earth We’re Briefly Gorgeous, Sheila Heti, ons eie Antjie se Country of my Skull. My volgende boek sal nie ’n roman wees nie, maar hopelik slaag ek daarin om nog ’n groep miskende mense beter raak te sien en te verstaan.
Lees ook:
Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach
Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke
Toyota US Woordfees 2023: Stars – Iinkwenkwezi – Sterre-kinderteater, ’n onderhoud met Amelda Brand
Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met komponis Kristi Boonzaaier
Hoerkind by die Toyota US Woordfees: ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck
Kommentaar
"Die trauma van diegene wat gemartel het (die troepe), die trauma van diegene wat gemartel is (die mense teen wie die oorlog gevoer is) ..." Ekskuus? Dis darem 'n uiters omstrede en eensydige stelling! Wat van wat die ander betrokkendes gedoen het - aan die plaaslike bevolking en aan hulle eie mense nie? Wat in hulle opleidingskampe gebeur het, en wat o.a, Savimbi aan sy eie mense gedoen het nie, Mugabe se uitwissingsveldtogte, die verkragting, marteling en dood van nonne in Mosambiek, ens? Dis mos 'n skande om so iets kwyt te raak! Hiervolgens dit lyk asof ons die monsters was en die ander almal slagoffers in die oorlog! Ek maak ten sterkste kapsie!
Francois Verster, ek stem saam met jou. Die martelings van sg NP-meelopers was wreed in die "townships", diè skrywer was nooit daar om met daardie slagoffers te praat nie oor hul "trauma" nie.
Ek het bv Kerkstraatbom beleef en nooit verstaan waarom ek dit as persoonlikheidsverandering ervaar het nie. Savimbi het bv die as straf, die "slagoffers" hul eie gate laat grawe. Daarna was hul in hierdie gate gelaat, waaruit hul nie kon klim nie. Die hitte in daardie wit sand in Angola het daardie gate bakoonde gemaak, 'n lewende hel. Die skrywer praat ook nie van trauma van slagoffers in bv ANC Kamp Qautro in Angola nie.
Eintlik ry vele vroue op die "trauma wa" in SA vir eie gewin as emosionele plakkers.