Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

  • 0

Foto van Elmari Rautenbach: Naomi Bruwer; Woordfees-agtergrond: https://woordfees.co.za/post-tag/borrel/

Bygewerkte, chronologiese program | Die EasyEquities-skrywersfees | 9–14 Oktober 2023 | Toyota US Woordfees

 

Elmari Rautenbach praat heerlike hoofstukke lank met Naomi Meyer oor al die boeke op vanjaar se EasyEquities-skrywersfees by die Toyota US Woordfees.

Ek kyk na vanjaar se Skrywersfeesprogram by die Toyota US Woordfees 2023 en sien 'n hele paar items wat my opgewonde maak. Waar begin ’n mens, en hoe hou ’n mens so ’n program vars?

’n Mens kom altyd agter wanneer lesers oor ’n boek begin gons. Jy sien die boek of skrywer al hoe meer gereeld en skielik oral. Resensies is deurgaans uitvoerig en uitstekend. Dit was die geval met drie boeke vanjaar: Eben Venter se Decima, Annemarié van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel – liefde en geweld in Suid-Afrika, en Darrel Bristow-Bovey se Finding Endurance: Shackleton, my father and a world without end.

NB-Uitgewers

Met al drie skrywers het ek vroeg vanjaar al my nek uitgesteek met ’n uitnodiging – ’n waagstuk, want al drie woon oorsee (Eben in Australië, Annemarié in Nederland en Darrel meestal in Griekeland). Boonop was al drie boeke se bekendstelling geoormerk vir ’n tydjie vóór Oktober se Woordfees, wat sou beteken uitgewers het hulle begroting vir oorsese reiskoste reeds uitgegee.

Penguin Random House South Africa

Maar ek was gelukkig. Nie net het elkeen ingestem om te kom nie; hulle het ook aangebied om dit op eie reiskoste te doen in ruil vir ’n nag of wat se akkommodasie. Dis sulke meevallers wat die opstel van dié program opwindend maak en vergoed vir die sleurwerk wat noodwendig met organisasie saamval.

’n Mens vra jou af hoekom raak juis dié drie boeke so ’n snaar vanjaar?

Jonathan Ball

Decima is ’n swart renosterkoei en die titelkarakter van Eben se roman. Die skrywer-verteller skep haar al skrywende terwyl hy renosterstropery navors en tussendeur sy bejaarde ma in ’n aftreeoord in die Oos-Kaap besoek. Oor die roman, skryf Louise Viljoen: “Eben Venter is gewoon een van die beste skrywers oor verlies wat ek ken ... In Decima brei hy sy visie van verlies uit deur die dood van ’n geliefde ma op ’n merkwaardige manier te plaas naas die potensiële verlies van ’n hele spesie wat ons respek en meelewing as medebewoners van die aarde verdien. Dié boek verdien om gelees te word.”

Oor Annemarié se memoires skryf Lindie Koorts: “Dit konfronteer ons mites met ’n eerlikheid wat aan rouheid grens ... Sy spaar nie haarself of die leser nie.”

Wanneer ’n jeugvriend en sy ma wreedaardig omkom tydens ’n plaasaanval, reis die skrywer vir die begrafnis terug uit Den Haag waar sy deesdae woon. Met dié reis, ook na haar konserwatiewe ouerhuis en die Port Elizabeth van haar jeug en later die “grys” Hillbrow waar sy onder ’n swart geliefde se woede en frustrasie moes deurloop, konfronteer sy die leser met die nalatenskap van ons politieke omwenteling – die “gebroke kinders uit gebroke huise, onder ’n gebroke bestel”.

Darrel Bristow-Bovey se Finding Endurance is weer ’n storie van hoop; van die mens se vermoë om ondanks die haglikste omstandighede aan te hou, aan te pas en te oorleef. Ernest Shackleton is deur die geskiedenis opsy gestoot omdat hy die “fout gemaak het” om te oorleef, skryf Darrel.

Die vonk vir die boek was die nuus vroeg-Maart verlede jaar dat die houtwrak van die Endurance, wat in 1915 gesink het (drie jaar nadat dit aan die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog uit Engeland vertrek het), bykans ongeskonde op die bodem van die Weddell-see oos van die Antarktiese Skiereiland gevind is. Dit, boonop, deur die Suid-Afrikaanse ysbreker, die Agulhas II, onder die stuurmanskap van die wêreld se voorste ysloods, kaptein Knowledge Bengu van KwaZulu-Natal.

Ná twee jaar se pandemie het die nuus die wêreld laat jubel. Maar vir Darrel was dit selfs méér betekenisvol. Sy pa, wat bedlêend gelaat is deur ’n beroerte toe Darrel agt was, en twee jaar later dood is, het sy seun met stories grootgemaak. Een daarvan was dat hy lid was van Shackleton se bemanning op die Endurance. Darrel het gou besef die somme klop nie. Maar die nuus van die Endurance het sy verbeelding só aangegryp dat ’n navraag van die boekeredakteur Michelle Magwood hom laat afskop het met ’n epiese navorsingsreis, waarvan die bemanning se persoonlike dagboeke en ’n tog na Antarktika ’n groot gedeelte beslaan het.

Ek het die boek gewoon aangrypend gevind: die drama, die gevaar – vertel asof ’n mens daar is; die monumentale katastrofes, liggaamlike ontberings, leierskapsuitdagings afgewissel met stoïsynse humor, bordspeletjies in die donker Poolse winter, verskeidenheidskonserte om die moraal hoog te hou, die honde en ’n beneukte kat wat saamreis, koppies tee, kos wat al hoe meer bisar word soos die maande jare word. Die boek vertel ook meer van die aard van ys, die unieke bome, dier- en voëllewe en die onaardse kleure van dié stil, wit eindpunt van die wêreld.

Roerend is dan die parallelle storie van Darrel se dromer-pa en opportunistiese oom, die vrae waaroor hy by naby en veraf familie antwoorde soek, sy eie teleurstellings en sy verhouding met sy bejaarde, ingetoë ma.

Marita van der Vyver praat met Darrel, terwyl Lindie Koorts met Annemarié, en Gielie Hoffmann met Eben gesels. Eben is ook deel van die Skrywerslangtafel, wat vanjaar op Saterdagaand 7 Oktober hervat, met tien skrywers wat by gaste aansluit in De Volkskombuis. Bibi Slippers en Heindrich Wyngaard is die aanbieders.

Ek sien baie bekende name, waarvan jy reeds ’n paar genoem het: Bibi Slippers, Eben Venter, Etienne van Heerden, SJ Naudé, Marlene van Niekerk, Marita van der Vyver. Wil jy dalk iets van die gevestigde name op die program sê?

Interessant is dat ’n jaar waarin kunsmatige intelligensie in die kreatieweletteresfeer pal in die nuus is, waarskynlik ’n “bumper”-jaar genoem kan word wat Afrikaanse letterkunde betref. Daar is jong energie met ’n digter soos Bibi Slippers se langverwagte tweede bundel, met die gepaste titel Soekenjin, wat so saam met die fees verskyn, en ’n hele rits gevestigde fiksiename, waarvan se jongste titels ’n dekade of selfs meer ná hulle vorige roman volg.

NB-Uitgewers (foto: verskaf)

Ek dink aan Annelie Botes, wat ’n traumatiese operasie moes ondergaan, met nog in die vooruitsig, en steeds haar eerste roman sedert Swart op wit in 2013 kon persklaar maak. 

Annelie kon op die ou end nie toetstemming van haar dokters kry om self fees toe te kom nie, maar stuur die ou Gryse, haar man Chris Botes, wat – soos sy sê – dié skryfpad woord vir woord saam met haar gestap het en meer sal kan vertel oor die verhaal en die inspirasie daaragter (en natuurlik sy vrou-as-skrywer) .
 

Protea

Johann Rossouw se derde roman, Sluitstuk, verskyn 11 jaar na Verwoerdburg en hiervoor het hy sy vriendskap met die enigmatiese Karel Schoeman as afspringpunt gebruik om die verband te ondersoek tussen geheue en geskiedenis wanneer ’n mens die verlede wil ken – ’n tema wat resoneer met Cas Wepener se Roman, wat nou vir die kykNET Rapport-fiksieprys benoem is. Cas is ook een van die skrywersgaste om die Volkskombuis-langtafel.

Umuzi

Daar is drie Hertzogpryswenners op vanjaar se program: Etienne van Heerden met Gebeente, waarin hy terugkeer na die wêreld van sy geliefde Toorberg uit 1986, en SJ (Fanie) Naudé met sy tweede roman, Van vaders en vlugtelinge, wat ses jaar ná sy bekroonde debuut, Die derde spoel, verskyn. Marlene van Niekerk is die onderwerp van een van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks oor Hertzogpryswenners én ’n Boekklubaand op die Skrywersfees, kompleet met ’n glas wyn.

NB-Uitgewers

Wat dié huldigingsbundel anders maak, is dat die samesteller, Marius Crous, amper uitsluitlik van jong akademici gebruik gemaak het vir die verskillende bydraes oor Marlene se werk. Só word in die boek – en in die gesprek onder leiding van Marius Swart – ook gekyk na Marlene se aweregse kosrubrieke. As ’n toegif het elkeen van die jong deelnemers ’n uittreksel gekies uit hulle onderskeie hoofstukke wat Marlene in Nederland vir ’n oudio-opname gaan voorlees om die aand van die gesprek voor te speel. Sy beantwoord ook ’n paar van hulle vrae op dié manier.

NB-Uitgewers

Ander bekende name op die skrywersprogram is dié van Marita van der Vyver, wat nes Etienne terugkeer na ’n ou bekende. Haar Laaste kans is ’n opvolg op Wegkomkans. Weer draai die storie om ’n reünie van ’n groep ou vriende, maar dié slag kom hulle vir die eerste keer in 25 jaar bymekaar wanneer een sy 70ste verjaarsdag vier.

Die skrywer wat die Weskus in haar stories laat lewe het, E (Sussie) Kotze, maak ’n draai ’n paar dae voor haar 90ste verjaarsdag. Haar jongste roman, Hulle noem haar Carminda, word beskryf as haar “persoonlikste” storie nog. Ons vier dit en haar verjaarsdag met ’n glas sjampanje, ’n gesprek met die Weskusskrywer (en internasionale Gourmand-kosboekpryswenner) Isabella Niehaus en ’n voorlesing deur die bekende akteur Dean Balie.

Moet ook nie die baldadige onderhoud met blitsverkoper Rudie van Rensburg vergeet nie. Al die akteurs wat al Hans van Kraaienburg, die bejaarde hoofkarakter van Huis Madeliefie, op die verhoog of grootskerm of oor die radio gespeel het, daag op om die publikasie van die jongste Hans-aflewering, Hans kry troukoors, te vier. Leon van Nierop (self op die program met ’n heerlike misdaadraaiselboek) praat met hom.

As jy iets anders op die fiksieprogram soek, is daar altyd Fiksieparadys: You had me at hello (’n variasie op Digtersparadys), waarin ses skrywers met nuwe boeke uit hulle werk voorlees, maar nie voordat hulle verklap watter boek se openingsin hulle al in hulle spore gestuit het en watter uitwerking dit op hulle skryfwerk gehad het nie.

Niefiksie wat my aandag trek, is Eve Fairbanks se The inheritors en Winnie & Nelson. Is daar iets oor die niefiksieprogram waarop jy wil uitbrei?

Penguin Random House South Africa

Die eerste twee Skrywersfees-items wat uitverkoop het, is André de Ruyter: truth to power (nou ook met Malegapuru Makgoba, vorige interimvoorsitter van Eskom,  Gesondheidsombudsman en skrywer van Leadership for transformation) en To survive Auschwitz, met die 102-jarige Ella Blumenthal. Dit sê vir my (a) mense soek feite oor wat aangaan in die land vandag, en (b) daar is ’n behoefte aan stories van hoop. (Al twee besprekings skuif ook na ’n groter venue: die Boektent pleks van die Hofmeyrsaal, en op dieselfde aand en dieselfde tyd.)

Ander items wat by hierdie twee temas aansluit, is Sihle Khumalo se Milk the beloved country, met regter Johann Kriegler in die ondervraerstoel, waarin die skrywer die malaise van die land deur ’n kulturele lens ontbloot, en Winnie & Nelson: portrait of a marriage deur die veelbekroonde Jonny Steinberg, ’n verhaal van maskers, ’n uitmekaar geskeurde huwelik en op ’n donkerder manier ook dié van ’n verskeurde Suid-Afrika – kyk maar net na verlede week se gebeure in die Wes-Kaap.

Witboordjieskurke, onder andere met Hermione Cronjé, voorheen van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Financial Times-redakteur Rob Rose en skrywer-ondersoeker Hennie van Vuuren, soek antwoorde oor die toekoms van die NVG en ondersoeke na grootgeldskurke, soos Steinhoff se Markus Jooste, en politici wat lustig aan staatskaping meegedoen het.

Jy noem Eve Fairbanks se The inheritors – an intimate portrait of a brave and bewildered country. Met Eve het ek ’n sterk band raakgesien met Annemarié van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel. Die twee titels sê reeds alles.

Ek wou hulle aanvanklik in een gesprek kombineer. Al twee die betrokkenes is vroue. Die een is ’n Suid-Afrikaanse joernalis en letterkundige wat vanuit Nederland skryf oor die nalatenskap en gevolge van ons politieke bestel en verandering soos sy dit aan eie lyf gevoel het; die ander een is ’n Amerikaanse politieke joernalis, wat vir onder meer The New Republic, The Washington Post en The New York Times geskryf het, deesdae hier woon en ná 12 jaar se onderhoude met Suid-Afrikaners landwyd van hier oor dieselfde onderwerp skryf. ’n Blik van buite binnetoe, en ’n blik van binne buitentoe. Uiteindelik het ek besluit elkeen verdien ’n gesprek uit eie reg. The Daily Maverick se Marianne Thamm praat met Eve.

Daar is ook ’n gesprek oor die rouproses na die verlies van ’n eggenoot met Beryl Botman, vrou van die US se eertydse rektor, Russel Botman, na aanleiding van haar Sedert die dood ons skei. Beryl praat met Marlene le Roux. En Barbara Masekela, ’n belangrike politieke figuur in Mandela se tyd, kom op 82 praat oor haar memoires, Poli Poli, waarin sy skryf van die invloed van haar Afrikaanse ouma op Witbank, kinderdae met haar musikale broer, Hugh, en haar ervaring as die ambassadeur van ’n demokratiese Suid-Afrika en stafhoof van Mandela se kabinet. Glynis Breytenbach gesels met haar. 

Vertel asseblief van Silicon Stellies: smart-township (gepraat van die borrel-element van die Woordfeestema, en almal wat in borrels in hierdie dorp woon)!

Wesley Diphoko is die skerp Suid-Afrikaanse hoofredakteur van die toonaangewende Amerikaanse saketydskrif Fast Company, wat op vernuwing in tegnologie, leierskap en ontwerp fokus. Sy boek oor die tegnologiewêreldleiers wat Stellenbosch al opgelewer het, onder meer Mxit, Capitec, Namola en SnapScan, verskyn in Februarie aanstaande jaar, voorlopig getiteld Silicon Stellies: The Innovation Capital of Africa.

Ons het mekaar by ’n trendy vegankoffiewinkeltjie in Breëstraat in Kaapstad ontmoet, waar jy sommer met jou selfoon bestel en betaal. Wesley het ’n sagte stem, dra bril en het ’n bietjie grys in sy hare. Hy’t my vertel hoe dié plek in die tyd toe hy nog in die stad geswot het, ’n klein Griekse hoekkafee was. Wesley het in Kayamandi buite Stellenbosch grootgeword. In graad 11 was hy Nasionale Pers se korrespondent vir Eikestad Nuus. Sy passie is slimtegnologie – hy was onder meer direkteur van Afrika se eerste tegnologiebroeikas, die Bandwidth Barn. Hy glo dié tegnologie bied ’n oplossing vir uniek Suid-Afrikaanse probleme – veral in townships waar daar dikwels ’n gebrek aan behoorlike infrastruktuur is – en wil dit demonstreer aan die hand van Kayamandi, waar hy die dryfveer is vir die verandering van dié township in Suid-Afrika se eerste slimtownship.

As deel van die Skrywersfees neem hy besoekers op ’n kort verkenningstog deur Kayamandi, wat by AmaZink afskop met ’n demonstrasie van wat alles beplan word en wat alles al in werking is, en daarna lei hy mense deur die dorp na sy ouma se huis waar hy grootgeword het en wat nou Kayamandi se eerste slimhuis is.

Dit is vir my een van die hoogtepunte op die program.

Daar is KI as skrywer – wat kan mense hier verwag?

Ek het verlede jaar al vir Imke van Heerden gepols oor die moontlikheid om by die Woordfees te kom gesels oor KI en kreatiwiteit. Sy is sedert 2020 verbonde aan Koc Universiteit in Istanboel se Departement Vergelykende Letterkunde, waar sy in skeppende KI en Suid-Afrikaanse letterkunde spesialiseer, en LitNet het ’n paar Afrikaanse gedigte geplaas wat ’n uitvloeisel was van haar en haar man, Anil Bas, se AfriKI- (Afrikaanse kunsmatige intelligensie-) taalmodel.

Naledi

Anil is ’n assistentprofessor in rekenaarwetenskap aan Marmara Universiteit in Istanboel wat in masjienleer spesialiseer, en hy en Imke lei saam ’n navorsingsprojek wat letterkundiges en rekenaarwetenskaplikes in gesprek bring rondom KI en kreatiwiteit, met die klem op ’n rekenaar se skryfvermoë.

Ons kon nie die datums en befondsing vir verlede jaar se Woordfees laat klop nie, maar toe Imke se digbundel Silwerwit in die soontoe vanjaar verskyn, het ek dadelik weer gevra en kon sy en Anil dit gelukkig dié slag maak werk.

Imke se werk is deel van ’n wêreldwye nuwe ontwikkeling wat al as die begin van ’n nuwe tegnologiese era bestempel is. Die koms van ChatGTP is ’n “game changer” in KI genoem. Terselfdertyd wek die rimpeleffek daarvan groot bekommernis. Juis hierdie week het TIME ’n voorbladstorie oor die kreatiewe maniere waarop onderwysers ChatGPT in die klaskamer begin gebruik, terwyl die Israelse historikus en filosoof Yuval Noah Harari (bekend vir Sapiens: a brief history of humankind) in The Economist skryf rekenaars wat stories vertel, gaan die verloop van die menslike geskiedenis verander.

Daarom is ek nie net bly Imke is self hier om meer te vertel van dié ontwikkeling, haar en Anil se navorsing en die Afrikaanse gedigte wat daaruit voortgespruit het nie, maar dat sy dit kan doen onder leiding van Bibi, met Tom Dreyer wie se digdebuut, Infrarooi, uitstekend ontvang is, op die paneel, asook Menno van Zaanen, ’n Nederlander en professor in digitale geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit wat spesialiseer in hoe rekenaarprogramme taal aanleer.

Sulke gesprekke spreek die tydgees aan en is uiters belangrik op ’n fees waar dit hoofsaaklik om menslike kreatiwiteit gaan.

Daar is verhale uit 1001 nagte en ’n taalgesprek oor Afrikaans se Arabiese wortels, van antieke tye tot vandag. Vertel asseblief iets van enige van die skrywers op die boekefees wat jou aandag trek en waarna jy vanjaar uitsien.

Die Boekklub-reeks lê my na aan die hart. Dis waar boeke bespreek word wat ’n bietjie anders is, met ’n bietjie meer tyd as die gewone gesprekke en in meer van ’n kuieratmosfeer vroegaand oor ’n glas wyn. Dit is ook in die historiese ou Hofmeyrsaal in Kerkstraat, waar duiwe dikwels deur die dakvensters vlieg.

1001 nagte in magiese Persië is een so ’n bespreking. Die oorspronklike versameling is ’n eeue oue Midde-Oosterse kultuurskat in Persies en Arabies van verhale deur Sjeherazade, ’n maagd wat deur ’n meedoënlose koning geteiken word as een van talle met wie hy die nag wil deurbring en dan die volgende oggend laat doodmaak. Sjeherazade se troefkaart is egter haar verstommende vermoë om stories te vertel en sy besef gou as sy net kan aanhou tot vroegdag en voor die slot halt roep, sy nog ’n nag gespaar word.

Hemel en See-publikasies

In die wêreldletterkunde het die verhale as ’n Duisend en een nagte of ’n 1001 verhale bekend geword. In André P Brink se Afrikaans vertaling uit die Frans, wat in 1966 as die jeugboek Die Arabiese nagte verskyn, skryf ID du Plessis in sy voorwoord hoedat daar in die 1930’s nog dalings aan die Kaap was wat hulle verhale met oorgawe “oor die Slamse Buurt versprei het”, en dat dié vertellings meestal “die pêrels van Sjeherazade” was.
’n Duisend-en-een nagte, die jongste vertaling in Afrikaans (met die mooiste voorblad!) deur Wium van Zyl het sy oorsprong egter in die Nederlandse verwerking van dié oerteks deur die bekende Persies- (nou Irannees-) Nederlandse skrywer Kader Abdolah, wat spesiaal vir dié gesprek Suid-Afrika toe kom. Wat sy teks anders maak, is dat Kader op die vrouehoofkarakters konsentreer, die teks geen Aladdin-kinderverhaal is nie, al bevat dit ’n sprokieselement (trouens, Wium moes Kader soms nader om van die meer skunnige gegewens te herskryf sodat dit in meer “ordentlike” Afrikaans vertaal kon word), en dat die oorspronklike teks se notas ingesluit word. Soos Kader self sê, die stories gaan “over wat het is om mens te zijn”.

Om die Midde-Oosterse atmosfeer van dié ryk boek te herskep, lees die bekende Radio 786-omroeper Fatima Allie en Suidooster-akteur Irshaad Ally die aand voor.

Dis interessant hoe een ding na ’n ander lei. Wat bygekom het op die program, en wat by 1001 nagte aansluit, is ’n gesprek oor Achmat Davids se baanbrekerswerk oor Arabiese Afrikaans wat pas deur Jacana Media heruitgegee is as The Arabic Afrikaans writing tradition. Shamiega Chaudhari van die UWK gesels met Hein Willemse, wat die voorwoord van die nuwe uitgawe geskryf het, maar ook met Mogamat Alexander, samesteller van die Dictionary of Loanwords in the Cape Muslim Vernacular, met die gewilde TV-aanbieder Yusuf Daniel wat uit sy komiese sketse oor Moslem-tradisies tuis voorlees.

En dan is daar die kosprogram wat Shihaam Domingo aanbied, Kaaps-Maleis soos die aunties dit maak, met die Woolworths TASTE-kok Cariema Isaacs wat uit Doebai kom om haar nuwe kosboek te vier met ’n paar plaaslike aunties wat almal saam kosmaak en oor hulle Midde-Oosterse kostradisies gesels.

Vir oulaas?                  

Elke jaar probeer ’n mens iets nuuts. Hierdie jaar is dit Donderdagaand se Boekklub met die DRUM-joernalis en jazzkenner Sam Mathe se jazzboek, From Kippie to Kippies and beyond, waarna ek veral uitsien.

Amazon

In From the smoky jazz halls of yesteryear word teruggereis na die ’40’s tot ’60’s toe mense soos die saxofoonspeler Kippie Moeketsi naam gemaak het in die jazzklubs van Sophiatown. Die musiekjoernalis Chris du Plessis en Sam, wat as ’n opgeskote seun al begin musiekkassette versamel het, herbeleef met ou foto’s en musiek die mense, die modes, musiekstyle en klubs van toe tot die 2000’s se Kippies in Newtown. Met die Stellenbosse jazzspeler Ramon Alexander wat van die deuntjies op die verhoog eggo, beloof die aand iets heel spesiaals.

Hier is die volledige Easy Equities-skrywersfeesprogram by die Woordfees.
Hier is die volledige program van vanjaar se US Woordfees.

Lees ook:

Bygewerkte, chronologiese program | Die EasyEquities-skrywersfees | 9–14 Oktober 2023 | Toyota US Woordfees

Persverklaring: die Toyota US Woordfees 2023 skop af met ’n borrel

Bittereinder se laaste maal: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe, woordkunstenaar en kultuurbewaarder

"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top