
Foto: Anton Kannemeyer: © Wouter Schreuders (2020). Uittreksel: "Some Thoughts by Joe Dog" © A. Kannemeyer (Uit Bitterkomix 19, 2023)
“Wees geduldig en hou aan goeie werk maak – moenie opgee nie! Maar wees subversief, wees braaf, gebruik ’n skuilnaam, bou ’n following” – Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars in ’n era van skrapkultuur en swye.
Jannike Bergh gesels met Anton Kannemeyer.
Anton, baie dankie vir jou tyd. Jy hou vir die eerste keer sedert 2015 ’n solo-uitstalling (by Woordfees 2023), wat beloof om jou eie deplatforming (oa die sensuur van jou werke, galerye wat onttrek, ens) aan te spreek.
Beteken dit dat ’n oorwegend Afrikaanse publiek jou meer goedgesind is? Is daar elders waar jy en Conrad Botes [mede-outeur, Bitterkomix] nog ’n tuiste het, of waarna julle begin terugkeer?
Ja, ironies genoeg is die mense wat ons aanvanklik die meeste gekritiseer het, diés wat ons vandag omarm… Maar mens moet ook verstaan dat ons oorspronklike ondersteuning uit hierdie geledere kom. Afrikaners het van nature ’n innerlike begrip vir verset. Altans die tipe Afrikaners wat ek altyd interessant gevind het. Lande wat oor ’n comic-kultuur beskik en nog nie heeltemal oorrompel is deur die imperialistiese Amerika se woke kultuur nie, is ons werk ook goedgesind, soos Frankryk, België en Italië.
.....
Afrikaners het van nature ’n innerlike begrip vir verset. Altans die tipe Afrikaners wat ek altyd interessant gevind het.
.....
Maar miskien moet ek hier net ’n onderskeid tussen die skone kunste en comic-kuns trek, omdat ons in beide velde werk. Die skone kunste het ’n veel groter profiel en baie geld is ter sprake. Ek is meestal as galerykunstenaar aangeval – comic-kunstenaars is veel meer anoniem en beweeg nie regtig in die spotlight nie. Iemand wat my as galerykunstenaar aanval, kry dus ook meer aandag.

"Uittreksel: "Trending t-shirts" © A. Kannemeyer (Uit Bitterkomix 18, 2020)
“Cancel culture” het in 2015 nog nie ’n naam gehad het nie.
Op watter punt, uit jou/julle ervaring (in julle hoedanigheid as skeppende kunstenaars met prominente publieke profiele) het die kulturele bewussyn (in veral Engelssprekende lande) begin weg beweeg van ’n hernude sosiale bewustheid na ’n kultuur van performatiewe aktivisme en skyn?
Ek het dit al telkemale genoem: Die aanval op die Charlie Hebdo-kantore in Januarie 2015 was ’n duidelike skeidslyn vir my. Ons werk is dikwels in die verlede met Charlie Hebdo s’n vergelyk – dis nie sagte satire (soos die tipe editorial cartoons wat byvoorbeeld Brandon vir Sunday Times maak) nie, maar ’n tipe van ikonoklastiese satire. Etlike maande na die aanval het verskeie intellektuele, skrywers, akademici en joernaliste wêreldwyd (maar veral uit Amerika) Charlie Hebdo en sy tipe satire begin veroordeel. Dis opgevolg deur die “fallists” in Suid-Afrika, en ’n nuwe tipe revolusionêre aktivis met “critical race theory” (en sommer “gender theory” to boot) as verwysingsraamwerk het uit die kas geklim. Die hele “cancel culture” ding het met “#metoo” spoed opgetel.
Hierdie kultuur word natuurlik deur eerstens die media en tweedens magtige korporasies en besighede ondersteun en is glad nie gebaseer op tradisionele geregtigheid nie (met uitsondering van actual kriminele soos Harvey Weinstein). Dit is dié dat mense daarna as “witch hunt” verwys. Ek volg tans die Kevin Spacey-hofsake en wag vir die mense wat sy reputasie vernietig het om hom om verskoning te vra en finansieel te vergoed. Daaroor sal die media wat hom beswadder het, seker nie veel te sê hê nie. In my geval (en ek is nie ’n bekende persoon nie) is my skonekunste-loopbaan so te sê vernietig omdat ’n paar mense op Twitter my as ’n rassis geïdentifiseer het. Dit was nie kunskenners nie. Ek is ook nie krimineel aangekla nie. Galerye met wie ek vir jare gewerk het (met die uitsondering van twee wat my in Europa verteenwoordig), kon nie gou genoeg ’n groot genoeg afstand tussen my en hulle bewerkstellig nie. Geen verdediging het van enige van my voormalige “vriende” in die akademie of media gekom nie.
.....
Die bereidwilligheid van kurators, museumdirekteure, skrywers en die meeste professionele kunstenaars om woke kultuur se reëls te eerbiedig, is geheel en al teenstrydig met die doel/funksie van kuns. En hier praat ek van kuns, nie van versierings vir jou huis nie.
.....
Ek het vir ’n dekade lank in van die grootste kunsmuseums in die wêreld uitgestal (bv in die Museum of Modern Art in New York en San Francisco, die Guggenheim Museum in Bilbao, Spanje, die Louisiana Museum of Modern Art in Denemarke en die Museum of Contemporary Art in Sydney, om net ’n paar te noem), en eensklaps was dit verby. Die bereidwilligheid van kurators, museumdirekteure, skrywers en die meeste professionele kunstenaars om woke kultuur se reëls te eerbiedig, is geheel en al teenstrydig met die doel/funksie van kuns. En hier praat ek van kuns, nie van versierings vir jou huis nie. Ek staan ook vandag geweldig krities teenoor kunstenaars wat hulself as aktiviste identifiseer. Die probleem is voor die hand liggend: Kurators en kunskopers moet besef jy is ’n uiters morele mens en kan dus in goeie trou jou werk koop – ongeag die werklike kwaliteit wat jy bied. Indien jy boonop op enige “slagofferstatus” kan aanspraak maak, behoort jy suksesvol te wees, solank jy die voorgeskrewe reëls volg en die regte retoriek gebruik. Die skynheiligheid hiervan in die kunste vandag “vul die lug met ’n stank van drek”, soos Opperman sou sê. Ek klink seker verskriklik bitter, maar wil dit wel duidelik stel dat ek ook dink dit is ’n goeie ding dat daar ’n fokus is op die werke van gemarginaliseerde groepe. Mense moet besef dat die kunste maar ook beïnvloed word deur die zeitgeist en “fashion”. Dit het egter min te make met skrapkultuur.
Nick Cave het in sy Red hand files (briewe aan sy aanhangers) geskryf: “Cancel culture’s refusal to engage with uncomfortable ideas has an asphyxiating effect on the creative soul of a society.”
As groot stemme soos Nick Cave uitgesproke kan wees hieroor, kan ons dalk begin uitsien na ’n nuwe era van kulturele uitdrukking?
Ek dink die ongekende vryheid van spraak wat ons in die laat negentigerjare beleef het, is verby. Jy praat van groot stemme: Daar is verskeie mense wat ek as groot stemme beskou wat min aandag in die hoofstroommedia geniet. Die probleem lê by onderwys wêreldwyd. Dit is geheel en al gecapture deur woke kultuur en ons jeug leer hierdie halwe waarhede as die gospel truth. Om nou krities te staan teenoor enigiets wat as die waarheid op skool of universiteit aan jou geleer word (veral met betrekking tot “gender politics” of “critical race theory”), kan tot ’n tugverhoor of skorsing lei. Ek weet nie hoe die “intellektuele” van ons tyd ons tot op hierdie punt gebring het nie. Kritiese denke is nou ver regs; vryheid van spraak word nou as ver regs beskou. Die manier waarop hierdie denke nou afgedwing word op kinders, is niks anders as fascisties nie. So as ek ’n uitstekende artikel deur Lionel Shriver lees waar sy vryheid van spraak ondersteun, weet ek dat dit nie deur die massas wat Disney channel kyk, gelees word nie. Ditto Nick Cave.

Uittreksel: "Some Thoughts by Joe Dog" © A. Kannemeyer (Uit Bitterkomix 19, 2023)
Watter temas of inhoud sou jy/julle sê sal julle liefs by verby hou? (Ek het iewers gelees dat jy voel jy het nou aanbeweeg van die golliwog-uitbeelding byvoorbeeld.)
Ek het eintlik kort na 2010 begin dink dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat ek sal ophou om die “golliwog” in my kuns te gebruik. Die vrae wat ek gestel het, die “issues” wat ek aangespreek het, het mettertyd ’n versadigingspunt bereik. Maar natuurlik as jy eers vertel word jy “mag” nie meer dít doen nie, jy “mag” wel dát doen, ens, dan wil jy juis uitdagend of sommer moedswillig wees. In daardie opsig is ek nie ’n goeie liberale Engelsman van die Southern Suburbs nie. Ek wil nie fokken luister nie. Ek weet, dis my eie skuld.
Wat temas en inhoud betref, dink ek dat mens so eerlik as moontlik teenoor jouself moet optree. Ek kies nie temas net omdat dit populêr is nie; ek kies dit wat ek graag oor wil praat. Mense het al gevra hoekom maak ons byvoorbeeld nie werk oor Islam of Moslems nie, en basies voel ons dat hierdie kwessies suksesvol deur ander aangespreek word (soos Charlie Hebdo) of dat dit nie ons bekommernis is nie. Origens het ons beide al in vrede langs Moslems gebly, ek het geen probleme met my bure nie.
In Bitterkomix 19 sluit julle briewe en reaksies uit verskillende oorde in – in gesprek met julle werke, wat baie nuttig vir die leser is wat dalk deur uiteenlopende emosies gaan as hulle deur die tydskrif blaai.
- Gerrit Olivier verwys na die oorrompelende oorhand van die “getraumatiseerde individu” en Antjie Krog vra “Wat word van ’n society waarin daar nie satire is nie?” Jude Daly skryf “Some of the content is unbearable to read.”
- Een van die ongemaklike tonele in Bitterkomix 19 is ’n uitbeelding van kindermolestering. Watter oorwegings bepaal hoe so ’n tema aangespreek en uitgebeeld word?
Dit is ’n eienaardige vraag en ek dink trouens nie dat ek die outoriteit het om dit te beantwoord nie, in elk geval nie uit ’n geregtelike oogpunt nie. Ek het lank geworstel met presies hoe ek hierdie verhaal moet vertel en teken. Ek is aanvanklik deur ’n Belgiese uitgewer gevra om ’n verhaal te teken met die titel “Die strand”, maar toe ek my storie pitch, het hulle omtrent van hulle stoele afgeval. “Onmoontlik,” was die uitspraak, veral omdat dit in ’n versameling somerverhale vir die familie sou verskyn. Ek het gedink hoe de hel gaan ek hierdie storie teken sonder om dit eksplisiet te maak, maar het uiteindelik besluit om dit net te vertel soos ek dit onthou het. Die enigste manier waarop ek kan. Dit is die dilemma van die kunstenaar – die gemeenskap verwag een of ander “accountability”, en jy as kunstenaar worstel al klaar net met die moeilike aard van die inhoud. Daar is egter ’n paar dinge wat vir my belangrik is: Ek benader beslis so ’n storie met humor. Dit is beslis nie ’n treurmare nie. Ek dink ook nie karakters is tweedimensioneel, uitsluitlik boos of “goed” nie. Maar, moet ek hier byvoeg, dit vorm deel van ’n beplande grafiese roman, so dit is slegs ’n uittreksel van ’n veel langer storie. In daardie opsig is dit miskien moeilik vir die leser om te plaas, om heeltemal sin te maak van my bedoelinge.

Uittreksels: "Die Strand" © A. Kannemeyer, 2022 (Uit Bitterkomix 19)
“Transgression is negotiation” – Homi Bhaba, die akademikus en groot reference in kultuurstudies verwys na die noodsaaklike rol wat subversiwiteit speel om dialoog te bewerkstellig.
Is daar ander Suid-Afrikaanse kunstenaars (en skrywers, musikante, ens) wat besig is om subversiwiteit in hulle werke in/terug te bring? En indien nie in Suid-Afrika nie, internasionale kunstenaars wat julle opgewonde maak?
Ek stem saam met Homi Bhaba soos hier aangehaal. Dit kan egter nie vandag meer ’n populêre aanhaling wees nie. Dialoog was nog altyd deurslaggewend, ’n geleentheid om tot ander insigte te kom, ’n stryd of struweling met jou eie vooroordele en die moontlikheid om te twyfel. Ek kan nie insien hoe dit nou beter is om stil te bly en maar net te vreet wat aan jou gevoer word nie.
.....
Daar is min kunstenaars wat tans my verbeelding aangryp – definitief ’n paar op ’n formele vlak, maar konseptueel of “funksioneel” is daar werklik min. In die comic-wêreld is Johnny Ryan absoluut merkwaardig.
.....
Daar is min kunstenaars wat tans my verbeelding aangryp – definitief ’n paar op ’n formele vlak, maar konseptueel of “funksioneel” is daar werklik min – veral van kunstenaars wat toetree tot die gesprek waaroor ons tans gesels. In die comic-wêreld is Johnny Ryan (Amerikaanse kunstenaar wat oa Prison pit geteken het) absoluut merkwaardig. Hy het ’n kultusstatus en volgelinge wat hom ondersteun en kan dus voortgaan sonder om hom te veel te steur aan sosiale media en die geraas van “activists”. Die mainstream kunswêreld ondersteun hom nie. Daar is ’n paar ander, maar Johnny Ryan is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n kunstenaar moontlik ’n bestaan kan voer as underground artist of outsider.
Siende dat “skrapkultuur” ’n daadwerklike impak op julle lewensbestaan en loopbaan het, kry jy/julle dit reg om comics of kuns te maak sonder die swaard van cancel culture wat oor julle hang?
Ek sou sê tot ’n mate. Stel jou voor dat ek moes om verskoning vra vir die werk wat ek gemaak het. Ek sou dus moes erken dat ek ’n fout gemaak het. Dit nadat my werk vir meer as twee dekades in talle koerante en tydskrifte geprys is (in oa The New York Times, Modern Painters, Art Review en Art in America) – selfs die woorde “genius” en “absolutely brilliant” is by tye gebruik (nie dat enige kunstenaar dít ooit ernstig moet opneem nie). My enigste opsie was dus om voort te gaan soos ek nog altyd gedoen het. My inkomste het met meer as helfte gekrimp, maar ek voel dat ek genoeg ondersteuning van ’n klein groepie mense het om wel ’n mate van outonomie te handhaaf. Die swaard van cancel culture hang egter wel bo ons koppe. Alle galerye, museums, uitgewers, winkels ens is bang vir kontroversie. Dit is ’n baie moeilike tyd vir kunstenaars om dwars te wees. Die meeste van my werk kan ek nie eers op Instagram post sonder om ’n stortvloed van vloeke te ontketen nie.
Geniet julle nog kuns?
As kunstenaars baie druk het van deadlines ens, kan alles nogals ’n oorweldigende taak raak – ’n ondraaglike “chore” as jy sou wou. Maar sodra jy terugsit en dink aan die lewens van die ander gemiddelde middelklas mense wat jy ken, waardeer jy jou eie posisie geweldig. Ek het dit vreeslik geniet om aan die laaste Bitterkomix te werk. Kuns is divers en uiteenlopend en ’n mens doen verskillende dinge, hetsy skilder, teken, comics of drukkuns – beide in funksie en vorm. Dit bly dus interessant. En dis ongelooflik om momentum op tel nadat jy ’n deurbraak gemaak het.

Uittreksels: "Die Strand" © A. Kannemeyer, 2022 (Uit Bitterkomix 19)
Om af te sluit, het julle enige raad vir jonger kunstenaars wat dalk tans in geweldige angs verkeer itv boodskappe in hulle kuns waaraan hulle wil uiting gee maar wat hulle liewers verberg weens die huidige kultuur?
Ek voel werklik jammer vir jong kunstenaars, eerstens omdat hulle so pas ’n woke education moes verduur het en tweedens omdat hulle geleer is om die “regte” dinge te maak en om die “verkeerde” dinge te vermy. Dit kom met ’n disproporsionele hoeveelheid Derrida, Lacan en Foucault (wat niemand anyway verstaan of lees nie). Ek sê disproporsioneel, want die klem lê op teorie en nie op tegniese vermoëns nie. As jy na drie of vier jaar by ’n kunskursus uitstap sonder technical skills maar met ’n moerse studentelening kan jy tereg voel dat jy ingedoen is…
.....
Wees dus geduldig en hou aan goeie werk maak – moenie opgee nie! Maar wees subversief, wees braaf, gebruik ’n skuilnaam, bou ’n following – op een of ander stadium gaan die wiel draai.
.....
My raad aan jong kunstenaars is om online met sosiale en alternatiewe media te werk om ’n following te bewerkstellig. Tye het geweldig verander. Selfs galerye se funksie is vandag anders as 10 jaar gelede. ’n Mens moet uitstal, jou werk moet gesien word – maar dit is jou eie verantwoordelikheid om jou profiel te handhaaf. Onthou dat galerye met ’n klomp verskillende kunstenaars werk en dat hulle vinnig gewissel word – niemand is onmisbaar nie. Indien jy ’n onafhanklike en eiesinnige boodskap wil oordra, gaan jy waarskynlik min geld aanvanklik maak – maar geld is nie alles nie. Ek en Conrad het comics vir 10 jaar lank gemaak voordat ons vir die eerste keer oorsee genooi is. Dit het werklike deursettingsvermoë gekos. Alhoewel daar geweldige ondersteuning en goeie reviews plaaslik was, het dit lank gevat voordat ons internasionale profiel gegroei het. Wees dus geduldig en hou aan goeie werk maak – moenie opgee nie! Maar wees subversief, wees braaf, gebruik ’n skuilnaam, bou ’n following – op een of ander stadium gaan die wiel draai.

Bitterkomix 19 (2023) is by Protea-boekwinkels en bitterkomix.co.za beskikbaar. Voorblad: © Anton Kannemeyer (voorblad) en agterblad: © Conrad Botes
Lees ook:
Kommentaar
Uitstekende onderhoud. Dankie.
Thanks for the interview. It was an absolute pleasure to "catch up" with Anton after many, many years.
Kan nie wag om te sien wat Bitterkomix met ons nuwe universele onderdrukker, Woke Big Brother, gaan aanvang nie. Destyds se local Groot Krokodil & Kie kom nie naby hom nie.
Anton Kannemeyer maak uiters belangrike opmerkings oor hoe politieke korrektheid mense inhibeer. Dosente o.a. is deesdae "versigtig" om boeke voor te skryf wat "gevaarlik" is. In my dae as student moes ek tekste lees wat grensoorskrydend was.
Gelukkig dosente soos Opperman beleef.
En steeds lees ek hierdie "gevaarlike" boeke. Persoonlik raak ek moedeloos wanneer ek lees hoe boeke gesaniteer moet word. Kuns is veronderstel om jou uit jou gemaksone te ruk. In my lesings altyd teorie doseer wat uitdaag. Kristeva, Lacan, Barthes.