Sensuur: Nog springlewendig en gesond, dankie!

  • 7

Hierdie artikel bevat grafiese beelde en is nie geskik vir kinders nie.

Onder sensuur: Conrad Botes en Anton Kannemeyer se The erotic drawings of Conrad Botes en The erotic drawings of Anton Kannemeyer (Foto's: verskaf)

As jy gedink het dat sensuur saam met apartheid begrawe is, is jy verkeerd. Sensuur wat destyds deur die owerhede op skrywers en kunstenaars afgedwing is, hoofsaaklik vanweë godsdienstige en politieke oorwegings, het plek gemaak vir nuwe, ewe dodelike muilbandstrategieë. Waar apartheid sensuur geïnstitusionaliseer het, is dit nou individue binne die bedryf wat skrywers en kunstenaars op velerlei maniere stilmaak.

Hiervan kan Conrad Botes en Anton Kannemeyer, stigters van die legendariese Bitterkomix, getuig. Botes en Kannemeyer is onlangs opnuut gesnoer toe hul jongste boeke die lig gesien het. Botes se The erotic drawings of Conrad Botes het saam met ’n herdruk van Kannemeyer se The erotic drawings of Anton Kannemeyer einde 2019 by Soutie Press verskyn.

Die boeke is versamelings van sketse van die gevierde kunstenaars se “erotiese werk” – natuurlik is die verwysing na erotiek in die boektitels ironies; die eksplisiete tekeninge wat daarin opgeneem is, ondersoek en stel snydende vrae oor morele kwessies omtrent hoofsaaklik konserwatiewe waardes wat in die samelewing gehuldig word. Met pornografie as ’n tema stel hul kunswerke vooroordeel en skynheiligheid ten opsigte van seks, godsdiens en politiek met onverbiddelike humor aan die kaak.

Dit is nie die eerste keer dat die kunstenaars met sensuur te doen kry nie. Sedert Bitterkomix in 1992 in die lewe geroep is, het die valbyl vanuit verskeie oorde op Botes en Kannemeyer neergekom. Hul publikasie Gif: Afrikaner Sekskomix, uitgegee deur Ryk Hattingh en Tienie du Plessis se Hond, is in 1994 verban nadat die ou sensuurraad dit as “obseen” afgemaak het. Botes vertel dat hulle nie die geleentheid gehad het om teen die verbanning te appelleer nie. “Die sensuurbase het ons nie daarvan in kennis gestel nie. Destyds het kunstenaars drie maande grasie gehad om te appelleer nadat die verbanning in die Government Gazette aangekondig is. Teen die tyd dat ons besef het Gif is ongewens verklaar, was dit te laat om iets aan die saak te doen.”

Botes en Kannemeyer is ook welbekend vir hul werk in Ryk Hattingh se Loslyf, die Afrikaanse pornografietydskrif wat groot opspraak verwek en deur Afrikaanse lesers opgeraap is. By Loslyf moes hulle die sensuurbedreiging deurentyd in ag neem. Kannemeyer sê: “Alle uitbeeldings van penetrasie, of werk waarin byvoorbeeld honde verskyn het, is afgekeur. Ons het dit aanvanklik nie geweet nie, maar daar was so ’n weird code of conduct van wat toegelaat kon word en wat nie. Dit het te make gehad met waar die tydskrif verkoop is. As die inhoud te erg was, kon dit byvoorbeeld nie in kafees van die hand gesit word nie. Uiteindelik is ’n hele paar van ons drawings afgekeur.”

Die verregse motiewe wat sensuuraksies destyds gedryf het, het intussen plek gemaak vir sensuur wat deur verlinkse sentimente gemotiveer word. “Deesdae word sensuur nie soseer deur die wet toegepas nie, maar eerder deur mense in die boek-industrie, en veral die drukkersbedryf,” sê Botes. “Alles het sedertdien volsirkel gegaan.”

Kannemeyer se Erotic drawings, wat reeds in 2014 die lig gesien het – vyf jaar voor verlede jaar se herdruk en die eerste verskyning van Botes se Erotic drawings – het dieselfde pad gestap. Destyds was Kannemeyer op Jacana, wat boeke in die Bitterkomix-reeks uitgegee het, se publikasielys, maar kort voordat die manuskrip ingelewer sou word, het die uitgewershuis die projek gekanselleer. The erotic drawings of Anton Kannemeyer is daarna deur die Stevenson-galery gepubliseer.

Voordat die Bitterkomix-boeke verskyn het, sou Double Storey, destyds Juta se algemene-boeke-arm, The Bitterkomix Big Bad Handbook publiseer. Publikasie is egter gekanselleer nadat die uitgewer aangevoer het dat die titel nie “by die res van hul publikasielys ingepas het nie”. Volgens Bridget Impey, in daardie tyd Double Storey se uitgewer wat met die boek gewerk het, het sy uit protes teen dié besluit bedank en vir Jacana gaan werk.

In 2019 het Botes en Kannemeyer ’n simpatieke stem gevind in die onafhanklike uitgewery Soutie Press, wat ingestem het om hul boeke te publiseer. Die kunstenaars het saam met die uitgewer na ’n geskikte drukker gesoek, en in die proses hindernisse op die lyf geloop. Vyf drukkerye het nie kans gesien om die Erotic drawings vir Soutie Press te lewer nie, en elke keer is ’n morele standpunt as rede vir die onwilligheid aangegee. Een was ’n gevestigde maatskappy wat voorheen pornografietydskrifte op groot skaal gedruk het. Maar vir Botes en Kannemeyer se tekeninge het hulle nie kans gesien nie.

Uiteindelik is ’n drukkery gevind wat die projek onderneem het, maar dit was nog lank nie die einde van Botes en Kannemeyer se frustrasies nie. ’n Week of wat nadat Soutie Press ’n deposito vir die drukwerk betaal het, het die maatskappy laat weet dat hulle ’n probleem met een van die sketse in Botes se boek het omdat dit kwansuis godslasterlik was. Botes het ingestem om die spesifieke skets te vervang, ironies genoeg deur hierdie werk wat teen sensuur protesteer:

Maar net toe hulle gedink het hul sorge met die drukduiwel is op ’n einde, is nog ’n kwaal geopper. Nóg ’n werk in Botes se boek gee aanstoot – kan dit asseblief uitgehaal of vervang word?

Die kunstenaars het toe saam met hul uitgewer regsadvies ingewin en die drukkery voor ’n ultimatum gestel: óf hulle druk die boek soos dit is en kry klaar, óf die saak word verder in die hof gevoer. Die drukkery was immers nou besig om kontrakbreuk te pleeg.

Uiteindelik is die boek gedruk, maar sonder dat die drukkery se naam daarin verskyn.

Dié scenario het hom uitgespeel enkele weke voordat die boek saam met ’n uitstalling van Botes se werke in Johannesburg se Everard Read-galery bekendgestel sou word. Botes, bekommerd dat die drama met die drukker die bekendstellingsdatum sou vertraag, het die galery deurentyd op hoogte van verwikkelinge gehou.

Hierop het die galery gevra om dringend na die werke wat by die uitstalling ingesluit sou word, te kyk. Toe hulle die kunswerke onder oë kry, is die uitstalling summier gekanselleer. Die rede? Christelike werknemers van die galery het gedreig om te bedank indien die uitstalling sou voortgaan.

In hierdie stadium kon die uitstalling nie meer na ’n ander galery in die stad verskuif word nie, omdat daardie galery in die tussentyd ’n ooreenkoms met ’n ander kunstenaar vasgemaak het. Tyd staan immers nie stil nie.

In 2015 het Kannemeyer ’n soortgelyke ervaring gehad. Die Stevenson-galery, wat ’n uitstalling van sy werk gehuisves het, moes enorme druk trotseer oor die inhoud van Kannemeyer se kuns, in so ’n mate dat hulle eenvoudig nie kans gesien het om verdere uitstallings te akkommodeer nie.

Dis egter nie net in die kuns- en boekbedryf waar Bitterkomix ’n klip in die skoen geraak het nie; Botes en Kannemeyer se werk word jare lank reeds as module uitgesluit van die modernekunsgeskiedenis-kursus aan die Universiteit van Kaapstad. Voor dié uitsluiting is studente telkens met “trigger warnings” gewaarsku dat die Bitterkomix-materiaal wat tydens lesings onder bespreking was, tot ontsteltenis mag lei.

Vir Botes is dié stand van sake ’n steen des aanstoots: “Dit is ’n uiterste vorm van onverdraagsaamheid teenoor vryheid van spraak. En dit word gedikteer deur die far left. Dit gaan nie oor wat reg of verkeerd is nie, dit gaan oor ’n dogma wat reëls neerlê oor wat mág en wat mag nié. As ’n man mag jy deesdae byvoorbeeld nie namens vroue praat nie.”

Kannemeyer voel net so sterk oor die kwessie: “Trigger warnings en sulke kak – ek kan nie glo dosente steur hulle daaraan nie!”

Toe Kannemeyer ’n Ikey-kunsdosent konfronteer omdat hy Bitterkomix nie meer doseer nie, ten spyte daarvan dat hy voorheen in die openbaar die kunstenaars se werk aangeprys het, is hy van arrogansie beskuldig. “Dit wys jou hoe diep die vlak van skynheiligheid deesdae lê.”

Anton Kannemeyer (links) en Conrad Botes (regs) (Afdrukke: verskaf)

Volgens die kunstenaars dring studente daarop aan om beskerm te word teen dinge wat hulle mag ontstel, sonder dat hulle die gevolge van sensuur begryp. “Dis soos om te wil hê apartheid moet terugkom,” sê Kannemeyer. In die vyftien jaar wat hy as kunsdosent gewerk het, het studente dikwels kapsie gemaak teen sy aandrang op kritiese denke met die argument: Hoekom moet ons altyd krities na dinge kyk? Ons wil net gelukkig wees.

“Daar was nog altyd kontroversie rondom my werk,” sê Kannemeyer. “Mediamense en kurators het my nog al die jare ondersteun in terme van dreigende sensuur. Maar ná die aanval op Charlie Hebdo in 2015 het die wêreld teen satire gedraai. ’n Falanks van invloedryke kunstenaars en skrywers, veral in Amerika, was dit eens dat satire dinge te ver gevat het. Verlede jaar het selfs die New York Times besluit om hul redaksionele spotprentkunstenaar in die pad te steek.”

Ook Suid-Afrika is deur dié vloedgolf van politieke korrektheid getref. “Zapiro se dienste by Mail & Guardian is beëindig, en toe ook by die Sunday Times,” vertel Kannemeyer. “Dit is ’n skande dat hy so onder sensuur moes deurloop.”

“Kurators en joernaliste ondersteun my egter al minder,” sê hy. “Mense is bang om as rassiste of vrouehaters uitgekryt te word. Hulle is skrikkerig en trap in hul spoor.” Hy sonder egter Afrikaanse joernaliste soos Elsabé Brits uit vir hul bereidwilligheid om die onderwerp van sensuur sonder skroom aan te durf.

Dat al hierdie verwikkelinge ’n impak op ’n kunstenaar se loopbaan het, is vir Kannemeyer ontstemmend: “In Suid-Afrika is daar nie meer ’n platform vir my werk nie; wel oorsee.” Onlangs het hy en Botes hulle tot guerrillataktieke begin wend om enigsins uitgestal te word. Die splinternuwe, waagmoedige Gallery 131 in Kaapstad het hul werke in 2019 ten toon gestel.

Tans stal Kannemeyer in Frankryk uit, waar hy vind dat kurators, ten spyte van die dogma van politieke korrektheid, ruimte bied vir humor en satire. “Ons het in ’n humorlose tyd inbeweeg; gevolglik word die deur na demokratiese debat gesluit. Maar vir die satirikus is niks heilig nie.

“Die probleem met sensuur is, as jou boeke geïgnoreer word, begin jy werklik vergaan. Mense vergeet van jou, boekwinkels stel nie meer belang nie,” sê hy. “As satiriese kunstenaars het ons altyd konserwatiewe waardes aangeval. Nou is dit die sogenaamde ‘oopkop liberaal’ wat voorskriftelik is oor wat mag gebeur.”

Die feit dat sensuur ná apartheid so vinnig en moeiteloos in die vesel van die hedendaagse samelewing ingebed geraak het, stem die kunstenaars tot kommer. “As ’n sterk konserwatiewe politieke leier na vore kom, het hy nou die perfekte teelaarde om ’n nuwe sensuur toe te pas en in stand te hou.”

Conrad Botes en Anton Kannemeyer se onderwerping aan sensuur demonstreer dat vryheid van uitdrukking steeds onder beleg is, ten spyte van die demokratiese ideale wat in ’n nuwe bedeling nagestreef word. En die monster van sensuur is gevaarliker as wat dit ooit voorheen was. In die verlede het dit ’n herkenbare gesig gehad in die onderdrukkende wetgewing van ’n bose regime. Die monster kon beveg word omdat dit kwylend en grotesk op die trappe van regeringsgeboue waggehou het. Nou is die monster tussen ons. En die monster lyk soos ek en jy. Enigiemand wat nie ’n snars van kuns verstaan nie en aanstoot neem om watter fundamentalistiese rede ook al, kan deur bloot ’n beswaar te opper, ’n kunstenaar- of skrywerstem stilmaak.

En dit mag eenvoudig nie.

Besoek die kunstenaars se webwerwe hier: Conrad Botes; Anton Kannemeyer.

  • 7

Kommentaar

  • 'n Goed geskrewe en insiggewende stuk. Jammer dat Anton Kannemeyer se webwerf uit net 'n voorbladtekening bestaan.

  • Avatar
    Johan Pieterse

    Melt, dit is so dat vryheid van uitdrukking sekerlik belangrik is. Maar soos met alles in die lewe moet daar perke en balans wees. Daar is banale en obsene maniere om iets uit te druk en sekere sg kunstenaars kruip weg agter sg kuns en vryheid van uitdrukking. Wie is hulle teikengehoor? Aan wie wil hulle hul sg standpunte oordra? Die samelewing in hierdie land het baie verander in die laaste 25 jaar. Wat probeer sg kunstenaars met skok-tegnieke bereik? Om die fokus van bespreking te wees? Daar is iets soos middelklas morele waardes en ja, toegegee, mens kan seker daelange debatte voer oor of dit werklik nodig is vir die staat om dit te beheer. Maar jy moet onthou, obsene en banale uitdrukkings is waarskynlik onaanvaarbaar vir meeste gewone mense in hierdie land. En more, oormore, wil sg kunstenaars ook kinderpornografie verdoesel as kuns. Daar is myns insiens nog 'n behoefte aan sensuur van obsene en banale uitdrukkings; dis n nie 'n oorlog tussen die staat en kunstenaars nie. Gewone mense verwag van die regering om die gemeenskap se waardes te beskerm. Hierdie land is alreeds 'n murasie, so as daar nog een baksteen op 'n ander oorgebly het, los hom daar. Daar is genoeg ander geleenthede en maniere vir mense en sg kunstenaars om hul obsene en banale uitdrukkings in relatiewe privaatheid te geniet.

  • Avatar
    Te dik vir 'n daalder

    Dis goed en wel om te beweer dat mnre Kannemeyer en Botes met pornografie as tema "vooroordeel en skynheiligheid ten opsigte van seks, godsdiens en politiek" aan die kaak stel. Dis natuurlik snert, net soos om te beweer dat dis soos om te wil hê apartrheid moet terugkom (wie wil dit hê ...?). Kannemeyer en Botes sit so hier en daar die pot mis. Dit gaan nie net oor beskerming van hulle reg op vryheid van spraak nie. Hulle beoefen hul kuns binne ’n samelewing waar daar sekere morele waardes en verwagtings is. Dis ook snert om te beweer dit gaan oor ’n dogma wat reëls neerlê oor wat mág en wat mag nié. In effek staan julle die oorboord gooi van alle reëls voor wat morele waardes en sedes beskerm in die SA samelewing onder die dekmantel van kuns en vryheid van spraak. Julle kan nie vir Zapiro hier inspeel nie want hy was weens ANC-politiek onregverdig behandel. Julle begeef julle op ’n terrein waar uitgewers en drukkers geld moet maak en ’n kliëntebasis het wat hulle moet respekteer. Dus moet julle volgens die reëls speel. Banale en obsene kuns het ’n beperkte plek binne die kunsgemeenskap en behoort nie vryelik binne ’n samelewing gepubliseer te word nie. Daarvoor is daar kunsgalerye. Is banale en obsene tekenprente werklik die enigste skok-kunstegnieke wat daar is? Volgense julle standpunte behoort pornografie vryelik en openlik op tv vertoon te word ...? Ek sou dink dat julle die hele bedryf en regering moet hof toe sleep en kyk wat die hof te sê het van julle ingesteldheid.

  • Avatar
    Betsie van der Westhuizen

    Kontroversiële/omstrede kuns bestaan al duisende jare. Waar en wanneer daar kuns is wat gaan oor politiek, geweld, seksualiteit en religie, kan debat ontstaan. Al is die sensuurwette in Suid-Afrika dekades terug al opgehef, behalwe die sensuurwette oor bestialiteit en kinderpornografie, sal daar steeds debat wees.

  • Avatar
    Anton Kannemeyer

    Vir Johan Pieterse wil ek net sê dat die artikel handel oor sensuur, nie die kwaliteit of morele inhoud van die werk nie. Dit lyk asof hy die boeke gelees het en beswaar maak teen die inhoud - maar ek betwyfel ten sterkste dat hy wel die boeke gelees het. Morele waardes wissel van tyd tot tyd en is nie op enige substansiële feite gebasseer nie, eerder op vooroordele van 'n gemeenskap. Ek staan krities teenoor enige gemeenskap se "morele waardes", veral wanneer almal in daardie gemeenskap 'n eiertjie te lê het oor iets wat hulle net van gehoor het, maar nie self besigtig en geevalueer het nie. Ek is verder my hele lewe lank vertel ek is 'n sg. kunstenaar. Die feit dat ek kuns dosseer het en 'n lewe maak van kuns, maak seker van my 'n sg. mens, ek voer 'n sg. lewe en sal seker uiteindelik sg. doodgaan. Is ek slegs 'n kunstenaar indien ek jou spesifieke morele waardes eerbiedig, Johan? Ek haal vir Bertrand Russell aan: "The opinions that are held with passion are always those for which no good ground exists; indeed the passion is the measure of the holder's lack of rational conviction. Opinions in politics and religion are almost always held passionately." Hy gaan voort om te sê: "Conventional morality does everything to suppress joy of life, love and art; and encourage competition, patriotism and war."

  • Avatar
    Die Land Van Tjank

    Ek vind dit ironies dat "vir 'n satirikus niks heilig is nie" en tog is die bepaling van 'n sogenaamde vrye mark wat nie hulle goed wil uitdruk nie 'n "uiterste vorm van ondraagsaamheid". En ons is nou in 'n "humorlose tyd", maar die feit dat aanvraag vir hulle grappies nie daar is nie, glad nie snaaks is nie! Is DIT nou 'n joke?

    En een oomblik gaan dit oor die Christene wat aanstoot neem en die uitdrukking van die boeke fnuik, dan die volgende oomblik word liberales, linkses en sommer mense met trauma (dis waarvoor trigger warnings daar is) skielik ook ingesleep. Nevermind die ironies ook nie - Trigger warnings is belaglik, maar 'n hele diatribe oor die ouens se gevoelens haal die nuus. As dit nie die top punt van siestog selfbelang is nie dan weet ek nie wat nie. Dis eintlik pateties hoe sogenaamde oopkop liberales deesdae die maklike teiken word vir dikbekkies wat wens alles in die lewe was makliker as wat dit toe eintlik is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top