Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke

  • 0

Foto’s van Albert de Vos, Izak de Vries en die Woordfees-kaartjie: https://woordfees.co.za/

............
Die lirieke van “Spierwit blues” gaan maar basies oor die vrese – dikwels oordrewe – van ons wit mensies. Dis ’n soort lawwe blues-liedjie en dus sou ek sê dis blou gemeng met oranje, en soos ek Hennie in sy boeke ook leer ken het, definitief nie onskuldige blou nie!
..............

Albert de Vos en Izak de Vries tree by die Toyota US Woordfees op in die produksie Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke. Naomi Meyer het met hulle gesels.

Izak en Albert, ek sien julle twee is met Spierwit blues op die Woordfeesprogram. Is dit net ’n ligte skakering van blou? Is dit ’n reine en onskuldige blou? Verduidelik asseblief vir my die titel van julle geleentheid. En wat het julle hierdie idee gegee?

Albert: “Spierwit blues” is die titel van een van my liedjies wat ek ongeveer twintig jaar gelede geskryf het en dit is ’n onderliggende tema van die vertoning. Die lirieke van “Spierwit blues” gaan maar basies oor die vrese – dikwels oordrewe – van ons wit mensies. Dis ’n soort lawwe blues-liedjie en dus sou ek sê dis blou gemeng met oranje, en soos ek Hennie in sy boeke ook leer ken het, definitief nie onskuldige blou nie!

Izak: Aucamp skryf soms oor die land wat “sienderoë na derderangsheid” terugsak, en daarvoor skryf hy vir homself ’n whiskey voor. Maar Aucamp tem sy eie blues met die opmerking: “Ek glo nie meer so vurig aan die lig wat die wit man na Afrika sou gebring het nie.” Albert gebruik sy slim lirieke om voortdurend met Aucamp in gesprek te tree. Aucamp was boonop gay in ’n ou Suid-Afrika, so ek dink daar is ook ’n stukkie pienk wat uitsteek onder die blues. Onskuldig is die stuk beslis nie, want Aucamp was te lief vir lekker leef en mooi manne om die blues te besweer. Ons raak egter nooit vulgêr nie.

Soos julle reeds duidelik gemaak het, is Hennie Aucamp die fokus van julle musiek- en voorlesingsitem. Hy het geweet dat mens nie te veel moes sê nie; hy was ’n meester van kortverhale. Maar julle interpreteer sy dagboeke, is ek reg? Hoe het die toonsettings hiervan gewerk? Verduidelik asseblief die proses van hierdie stuk se totstandkoming.

Albert: Ek sal dit beslis nie waag om Hennie Aucamp te toonset nie! So, wat my die idee vir die stuk gegee het, is dat ek met al die lees van Aucamp se dagboeke agtergekom het dat ek aanklank vind by baie dinge waaroor hy skryf. Ek het toe gedink om gedeeltes uit sy dagboeke wat aansluit by temas van sommige van my eie liedjies in ’n optrede te kombineer.

Izak: Dagboeke is baie persoonlik en Aucamp is brutaal eerlik. Egodokumente. Hulle ontbloot ’n lewe. Ek probeer Aucamp ’n stem gee, maar ek probeer nie Aucamp wees nie. Aucamp is die derde party op die verhoog, ek herhaal sy woorde.

...........
Dagboeke is baie persoonlik en Aucamp is brutaal eerlik. Egodokumente. Hulle ontbloot ’n lewe. Ek probeer Aucamp ’n stem gee, maar ek probeer nie Aucamp wees nie. Aucamp is die derde party op die verhoog, ek herhaal sy woorde.
............

Foto van Albert de Vos: Izak de Vries

As mense kaartjies vir die vertoning koop, wat kan hulle verwag?

Albert: By die vertoning gaan ek my eie liedjies sing, begelei deur kitaar en ‘n bietjie mondfluitjie, in die genre van blues/folk-musiek. My agtergrond is nie kabaret  nie; ek is nie ’n kenner van daardie genre soos Hennie Aucamp nie. Ek het in die negentigs begin om Afrikaanse lirieke te skryf, geïnspireer deur mense soos Koos Kombuis en Gert Vlok Nel. Izak gaan die gedeeltes uit Hennie se dagboeke voorlees – of ek moet eerder sê “voordra”, want Hennie Aucamp se woorde is so mooi dat ’n mens ’n goeie teaterstem daarvoor nodig het.

Izak: Ten eerste is Albert ’n baie goeie musikant. Andries “Roof” Bezuidenhout beskou Albert as veel beter as hy wat Roof is. Ten tweede het Albert dit reggekry om dele van ’n groot, groot gees in ons letterkunde weer blink te poets, uit die vergetelheid te haal. Dan lewer hy, soms heel ironiese, kommentaar op Aucamp met sy lirieke en sy musiek. Spierwit blues is eintlik ’n baie eenvoudige opvoering, maar toe Albert dit aan my stuur, was ek dadelik positief daaroor – om Aucamp weer ’n stem te gee is ’n besonderse voorreg. En, ja, Albert het die stuk aanmekaargesit. Ek is net die sidekick met die groot bek!

Hoekom inspireer Hennie Aucamp julle en hoekom moet mense by vanjaar se Woordfees nog van hom weet?

Albert: Hennie Aucamp is vir my nie net ’n uitstekende skrywer nie, maar ook ’n filosoof. Sy kortverhale is baie meer as blote fiksie; dit is studies van die menslike psige ook. As iemand een van sy kortverhaalbundels of een van sy dagboeke by die Woordfees raakloop, koop dit maar gerus!

Iets anders wat julle ook by die Woordfees gaan kyk of waarna julle op die program uitsien?

Albert: Ek moet die program nog behoorlik bestudeer, veral vir die teaterproduksies. Ek sal beslis Die moeder wil gaan kyk wat ek misgeloop het by KKNK – ek hou baie van teater. My vriendin Marcia Moon het ’n produksie Die heks: heavy metal wat ek ook wil gaan kyk. Marcia is ons eie gothic singer-songwriter. Soos Hennie Aucamp het ek in die laaste tyd lief geword vir klassieke musiek en sal graag ’n paar uitvoerings wil gaan luister en hoop ook om die skrywers Johann Rossouw en Eben Venter se optredes by te woon. Te veel om van te kies!

Izak: Jinne tog. Ek wil alles sien, maar het nie genoeg tyd of die geld nie. Mag ek aanbevelings maak? The king of broken things het jonk en oud, almal, totaal oorrompel by die Nasionale Kunstefees in Makhanda. Vir my ook. Dis nie (bloot) kinderteater nie, dis fantastiese teater, ook juis vir grootmense. Asseblief gaan kyk dit. Ditto met die ATKV se Tienertoneel-wenners. Gaan kyk. Daardie stukke is altyd puik. David Kramer se Vêr in die wêreld Kittie is fantasties. My kroon se krank, met Veronique Jephtas, is ’n baie indrukwekkend stuk. Mirakel deur Reza de Wet is klassieke teater, en sonder twyfel die geld en tyd werd. O, ek wil graag Droomkraankronieke sien, want ek het nog nie. En daar op die fringe is daar produksies wat ek nogal wil gaan ondersteun! Nou moet ek ophou!

Lees ook:

Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

Albert de Vos: "Ek is eintlik hééltemal onder die radar"

"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars

Bittereinder se laaste maal: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe, woordkunstenaar en kultuurbewaarder

Persverklaring: die Toyota US Woordfees 2023 skop af met ’n borrel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top