Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met komponis Kristi Boonzaaier

  • 0

Foto’s van Reghardt Kühn en Kristi Boonzaaier: verskaf

Kristi Boonzaaier praat met Naomi Meyer oor die produksie Windroos, wat eersdaags by die Toyota US Woordfees speel.

Kristi, jy is die komponis van die grootste gedeelte van die Wynlande Filharmoniese Orkes se Windroos-produksie by die Woordfees. Wanneer was die dag toe jy besluit het jy gaan ’n komponis word? Of vertel van die pad daarheen?

Ek het al van ’n jong ouderdom besef dat ek ’n musikant wil wees, maar oorspronklik was ek van plan om my te spesialiseer in klarinet in die uitvoerende kunste. Op universiteit het ek egter ’n groot liefde vir musiekteorie ontwikkel en het ek in my tweede jaar besluit om orkestrasie (een van die hoofvakke van die komposisiespesialisering) te studeer as ’n voorsmaak van wat ek kan verwag in die komposisiekursus. My dosente, Hans Roosenschoon en Izak Grové, het my bewus gemaak van my ware passie vir komposisie. Op daardie stadium het ek moeite gehad om 90 tot 120 minute per dag klarinet te oefen, terwyl ek gemaklik 6–8 ure aan musiekskryf bestee het. Ek is dankbaar vir die keuse om na komposisie oor te skakel, en ek is dankbaar vir die rol wat ander in hierdie besluit gespeel het.

Jy is ’n komponis en dis jou werk? Wat het jy studeer om daar te kom? En wat beteken jou alledaagse werk elke dag?

Ja, ek is ’n komponis en dit is my beroep. Ek het ’n BMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, wat ’n vierjaarprogram is wat twee jaar van algemene musiekstudie en twee jaar van spesialisering insluit. Daarna het ek nog twee jaar bestee om my MMus in komposisie te voltooi.

My daaglikse werk bestaan uit die gee van komposisieklasse aan my privaat studente, vergaderings met kliënte, administratiewe take vir projekbestuur, en die komponering van musiek vir projekte soos konserte en media (flieks, TV, videospeletjies, advertensies, produksies, ens). Ek probeer my dag gewoonlik afsluit met improvisasie, studie van partiture, of leeswerk.

Jy het musiek vir die produksie Windroos geskryf. Wil jy van jou verskillende kliënte en netwerke vertel, en hoe dit gekom het dat hierdie produksie en komposisies tot stand gekom het?

Ek en Reghardt Kühn, die dirigent van die WPO, het ’n lang pad saam gestap sedert ons saam gestudeer het en het al saam aan verskeie projekte gewerk. Ons werk goed saam en het ’n begrip vir mekaar as kunstenaars. Ek het Maria, een van die kore se lede, al van my koordae af geken, en sy is een van my belangrike kliënte vir wie ek gereeld koormusiek skryf en verwerk. Ek het die twee partye saamgebring deur ’n gemeenskaplike begeerte om ’n groot en interessante projek aan te pak. Ons het besluit om ’n program vir koor en orkes te skep, met Reghardt as dirigent, Maria as koorleier, en ek as die komponis. Ons span werk goed saam en ons almal het ’n positiewe interaksie. Soos hulle sê, driehoeke is die sterkste vorm in die natuur.

Jy speel self klarinet – so goed dat jy by gerekende klarinetspelers soos Maria du Toit les ontvang – en jy speel ook self in die WPO. Hoe kry jy dit reg om orkes te speel en die musiek te speel wat jy self gekomponeer het en te luister na die orkes se vertolking – sonder om te wil inmeng?

.............
Ek glo dat in alle kunsvorme daar ’n punt kom waar die kunstenaar die kunswerk moet laat los. Ek glo dat deur dit te doen, kan jy die kunswerk dieper betekenisse vir die gehoor  laat ontwikkel.
................

Ek glo dat in alle kunsvorme daar ’n punt kom waar die kunstenaar die kunswerk moet laat los. Ek glo dat deur dit te doen, kan jy die kunswerk dieper betekenisse vir die gehoor  laat ontwikkel. In die musiek moet jy as komponis vrede maak met die idee dat die klanke in jou kop nooit 100% presies op die verhoog sal klink nie. Dit beteken nie dat ek nie af en toe kunstenariese besluite neem nie, maar ek het die vertroue in my musikante om hulle werk te doen met insig en kundigheid. Ek glo vas dat hierdie vertroue die musiek iets veel meer betekenisvol maak as wat ek kan verbeel. Die WPO is nie ’n uitsondering nie, en ek is trots op die moeite en musikaliteit wat die orkeslede in ons musiek plaas.

Hoe werk die proses van om musiek te komponeer: die brood-en-botter-komposisies, versus die komposisies gebore uit inspirasie?

Die meeste van my werk is deesdae opdragkomposisies, wat beteken dat ek musiek skryf volgens die spesifieke vereistes van die kliënt. Ek het egter ook musiek wat ek louter vir my eie genot of as gevolg van persoonlike inspirasie skryf. Ek hoop om in die nabye toekoms meer van hierdie persoonlike werke te deel.

Watter instrumente in ’n klassieke orkes is die lekkerste as jy dit vir komposisies inspan? En moet elke instrument ’n plek hê, soos ’n koor met tenoor, sopraan, ens?

Ek hou daarvan om belangrikheid aan elke instrument te gee. Gemeenskap is ’n kernkonsep in my musiek, en dit beïnvloed my skryfstyl. Ek het ’n spesiale voorliefde vir die klarinet, maar ek het ’n waardering vir elke instrument in die orkes. Elke instrument het vir my verskillende sterk of swak karaktereienskappe, en ek hou daarvan dat hulle mekaar dan so kan aanvul of ondersteun.

Vertel van die woordkunskomponente van Windroos, byvoorbeeld Antjie Krog se “Geslote hek”. Hoe dit alles saamgekom het.

Ek het toevallig verlede jaar gesoek na tekste om vir koor te toonset, en het toe “Geslote hek” ontdek. Die gedig het dadelik met my begin gesels, maar die teksture wat ek gehoor het met die lyne van die gedig, het vir meer as net sopraan-alt-tenoor-bas-koor gevra. Dus het ek vir eers die komposisie gebêre. Toe die Windroos-projek ’n werklikheid word, was dit een van die eerste werke wat ek klaar geskryf het. Die ander twee oorspronklike werke, "Windroos" en "Weskuswind," is gebaseer op Lili Rademan se gedigte met dieselfde name. "Windroos" het toe die ouverture van die program geword, en "Weskuswind" is die afsluiting.

Die ander werke is oorspronklike verwerkings van bestaande populêre musiekstukke. Hierdie werke se temas lê naby aan my hart en vorm tematies mooi deel van die Windroos-program. Van hierdie werke spreek intens tot verskeie persoonlike omstandighede in my reis as mens en kunstenaar, en dit is spesiaal om dit hier te kan deel.

Wat was die eerste stuk musiek wat jy gekomponeer het?

“Geslote hek” was eerste klaar, daarna die verwerkings, en toe “Windroos” en “Weskuswind” laaste.

Na watter musiek luister jy graag? Populêr of klassiek?

Ek het ’n breë smaak in musiek en luister graag enigiets van klassiek tot jazz, pop, EDM, heavy metal, R&B, folk ... die lys stap aan. Dit is vir my belangrik om die musieksmaak van my gehoor te verstaan, omdat dit my help om ’n verbinding met hulle te maak.

Waarom musiek komponeer in ’n land soos hierdie? Wat is die betekenis en waarde daarvan?

Die natuurskoon van Suid-Afrika het ’n groot invloed op my musiek, en ek beskou dit as ’n eer en ’n voorreg om vanuit hierdie pragtige land te werk. Ek vind onuitputlike inspirasie in die Suid-Afrikaanse omgewing.

...........
Die natuurskoon van Suid-Afrika het ’n groot invloed op my musiek, en ek beskou dit as ’n eer en ’n voorreg om vanuit hierdie pragtige land te werk. Ek vind onuitputlike inspirasie in die Suid-Afrikaanse omgewing.
............

Wat was die lekkerste van die musiek op die Windroos-program vir jou om te komponeer?

"Weskuswind" was ’n besonderse ervaring om te skryf, omdat dit die afsluitingstuk was na ek al die ander komposisies voltooi het. Dit was ’n emosionele ontlading om die laaste noot neer te pen. Ek het dit ook geniet om "Eggo" te verwerk vanweë die verskeidenheid ritmes en teksture wat dit gebied het. Dit was ’n plesier om aan te werk.  

Praat jy en Reghardt oor interpretasie voordat die orkes die musiek speel?

Gereeld. Ek en Reghardt kommunikeer goed, en verstaan mekaar se styl al baie goed. Reghardt se insette en mentaliteit teenoor nuwe musiek is ook baie mooi, en ek respekteer sy bereidwilligheid en passie om die musiek tot lewe te bring.

As mense na Windroos by die Woordfees kom luister, wat kan hulle verwag? Wie is jou teikengehoor?

Ons teikengehoor is mense wat ’n liefde vir musiek en kuns het. As jy Windroos by die Woordfees kom luister, kan jy ’n program verwag wat ’n samevloeiing van musiek en poësie bied, met ’n unieke en meesleurende ervaring wat jou emosioneel sal aanraak.

Wat sal jy vir iemand sê wat ’n komponis wil word? Moet mens na alle soorte musiek luister?

’n Loopbaan in komposisie kan baie bevredigend en uitdagend wees. Ek glo dat om suksesvol te wees in die veld, dit belangrik is om ’n breë begrip van verskeie musiekstyle en mediums te hê. Dit vereis harde werk en bereidwilligheid om aan verskeie markte te voldoen. Daar mag verskille van mening oor hierdie punt wees, maar ek beskou myself as ’n diensverskaffer van vermaak, en my musiek weerspieël die behoeftes van my gehoor. Dit is belangrik om jou gehoor te verstaan en ’n musiekstuk te skryf wat betekenisvol en substansieel vir hulle is.

Gebruik mense van alle kulturele agtergronde (die Ooste, die Weste, Afrika) dieselfde soort notasie en neerskryf van musiekwyses?

Notasie in musiek is internasionaal gestandaardiseer en word universeel gebruik om musiek te skryf en te interpreteer, ongeag kulturele agtergrond.

Wat is die waarde van ’n fees soos die Woordfees (en ander feeste waar jou werk al uitgevoer is) om ’n platform vir komponiste te skep? Is die lewende uitvoering iets meer bevredigends as ’n stroomdiens? Of is musiek wat elektronies afgelaai kan word, skoner en helderder en meer volmaak?

Feesgebeurtenisse soos die Woordfees is van groot waarde vir komponiste, omdat dit hulle ’n unieke geleentheid bied om hul werk aan ’n lewende gehoor bekend te stel. Die interaksie tussen die musikant en die gehoor tydens ’n lewende uitvoering is ’n spesiale ervaring en dra by tot die rykdom van die musikale belewenis. Dit is egter nie direk vergelykbaar met elektroniese aflewering van musiek nie, omdat elkeen ’n unieke rol en doel het. Opnames maak dit moontlik om musiek op ’n breër skaal te versprei en toeganklik te maak vir ’n wye gehoor, terwyl lewende uitvoerings ’n intieme en persoonlike verbinding tussen die musikant en die gehoor skep.

Watter van die musiek op die Windroos-program geniet jy self die meeste? Om na te luister, of om self te vertolk?

“Windroos” en “Weskuswind” is vir my epies om na te luister, en die twee werk bevat verskeie narratiewe wat ek geniet, maar my geheime (of nie meer so geheim nie) gunsteling is "Say something".

Windroos is op 7 Oktober 2023 by die Endler te sien. Hier is nog besonderhede; kaartjies beskikbaar by Quicket.

Lees ook:

"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars

Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke

Toyota US Woordfees 2023: Stars – Iinkwenkwezi – Sterre-kinderteater, ’n onderhoud met Amelda Brand

Toyota US Woordfeesprogram 2023

Die hede van klassieke musiek: ’n onderhoud met Kristi Boonzaaier

The Winelands Philharmonic Orchestra: ’n onderhoud | an interview

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top