
Produksiefoto: www.woordfees.co.za; agtergrond: Pexels from Pixabay
Amelda Brand praat met Naomi Meyer oor die meertalige kinderteaterproduksie Stars – Iinkwenkwezi – Sterre by vanjaar se Toyota US Woordfees.
Amelda, ek sien daar is ’n meertalige produksie vir kinders op vanjaar se Woordfeesprogram. Waar kom die idee vir Stars – Iinkwenkwezi – Sterre vandaan?
..........
Stars – Iinkwenkwezi – Sterre spruit uit, ek vermoed, verwondering. Verwondering oor die grootsheid van die heelal. Die wonder van en oor die hemelruim – dit wat ons in die nag (en soms in die dag) kan sien.
............
Stars – Iinkwenkwezi – Sterre spruit uit, ek vermoed, verwondering. Verwondering oor die grootsheid van die heelal. Die wonder van en oor die hemelruim – dit wat ons in die nag (en soms in die dag) kan sien. My pa het geglo dat wanneer ’n mens met vakansie gaan, dit grootliks weg van mense en mensgemaakte liggies moet wees. Dit het ons vanselfsprekend nader aan die natuur en die helder nagtelike hemelruim gebring. My ma was (en is steeds) ’n storieverteller van formaat. Stories wat verbeelding verg, stories wat help om inligting oor te dra of stories wat ons help om die “waarheid”, soos dit aan ons bekendgemaak word, te verwerk, was deel van my grootwordjare. En dit is nou steeds onlosmaaklik deel van my lewe as teatermaker en navorser. Ek het ook ’n groot belangstelling in kollektiewe storievertelling en werkswinkelteater. Ek is deurentyd geïnteresseerd in hoe inligting oorgedra word. So het ek natuurlik ook ’n groot belangstelling in dit wat as “feite” voorgehou word (uit oorde wat gewoonlik verwyder is van stories/fiksie en verbeelding) en die onverwagse waarhede en insigte wat deur middel van sogenaamde fiktiewe en verbeeldingryke stories oorgedra kan word. Met Stars – Iinkwenkwezi – Sterre wou ek juis speel met wat ons weet, dink en voel wanneer dit by die sterre kom. Ook dít wat aan ons oorgedra is en wat ons moontlik nog kan ontdek. Ek wou speel met kennissisteme – mites, legendes, persoonlike ervaring, dit wat vasgevang word in simbole, metafore en populêre kultuur en wat die wetenskap ons vertel (wat al ontdek is oor ons heelal te danke aan wonderlike instrumente en deursettingsvermoë). Ek het ook geweet dat dit alleenlik deur ’n groep gedoen sal kan word en dat ek ’n geselskap bymekaar sal moet kry wat dieselfde belangstelling deel. Die oudisies het dus ingesluit dat studente self iets skep (’n eie teks of ’n samestelling van bestaande tekste/gedigte/liedjies) wat te make het met die sterre en dit aanbied as deel van hulle oudisie. Van die karakters en stories wat tydens die oudisies uitgespeel is, is uiteindelik by die produksie ingesluit.
Hoe meer ek oor die sterre in die suidelike halfrond gelees het, hoe sterker het die bewustheid geword dat dit deur die persepsies van die noordelike halfrond oorheers word. Ons wou dus juis speel met stories en mites uit die suidelike halfrond.
Wat kan mense verwag as hulle die produksie kom kyk, waaroor gaan dit en op wie is dit gemik?
...............
Elf performers met onder andere lere, besems en ’n kruiwa op die groot verhoog in die Adam Small-ouditorium. Omdat ons in die ouditorium speel, kan ons ook met die betowering van die teater werk.
.................
Elf performers met onder andere lere, besems en ’n kruiwa op die groot verhoog in die Adam Small-ouditorium. Omdat ons in die ouditorium speel, kan ons ook met die betowering van die teater werk. Sonder om te veel weg te gee, kan ek noem dat daar gebruik gemaak word van die valdeur op die verhoog en van die “fly bars” (katrolwielstawe). Hierdie werkswinkelproduksie het iets vir almal. Dit is juis so geskep dat dit gepas is vir kinders van alle ouderdomme en almal wat in die sterre en stories oor die sterre belangstel. Een ding wat ons gemeen het, is dat almal onder dieselfde naglug skuil. Reeds bestaande liedjies oor sterre en ’n hele aantal nuwe liedjies, geskep en gesing deur Masilo Silokazi, word ook met die storievertelling verweef. Ons maak gebruik van verskillende storievertelstyle en vertel ’n aantal stories oor die Suiderkruis, die Jagter-konstellasie en die Melkweg. ’n Paar persoonlike stories oor die sterre en feite wat ons oor die sterre kon vind, vorm ook deel van hierdie veeltalige produksie.
............
Dit is juis so geskep dat dit gepas is vir kinders van alle ouderdomme en almal wat in die sterre en stories oor die sterre belangstel. Een ding wat ons gemeen het, is dat almal onder dieselfde naglug skuil.
.............
Dis pret én dis moeilik om iets vir kinders te skep. En om dit meertalig te maak sorg vir lekkerte en uitdagings van sy eie. Hoe het julle die meertaligheidskwessies aangepak?
Hier in die Wes-Kaap (en op kampus) het ons drie amptelike tale en die lede van ons studentegeselskap is Engels-, Afrikaans- en isiXhosa-sprekend. Leerders in ons omliggende skole praat onderskeidelik een of meer van die bogenoemde tale. Die idee was om die produksie deur middel van ’n werkswinkelproses te skep waar al die lede van die geselskap bydraes lewer. Dit was dus vir ons vanselfsprekend dat die produksie meertalig gaan wees. Die fokus was ook dat die stories en inligting toeganklik vir almal moet wees. Musiek, fisikaliteit en hoe die dialoog aanmekaargesit word, was belangrike faktore om tydens die skeppingsproses in gedagte te hou. Ons het besef dat dit moontlik sal beteken dat almal in die gehoor nie ten alle tye alles sal kan verstaan nie, maar ons het so gewerk dat inligting nie verlore gaan indien daar ’n frase of twee in ’n taal is wat iemand nie verstaan nie. Tydens ons werksproses het ons ook agtergekom hoeveel meer daar tot ons beskikking is as net taal om stories uit te speel en oor te dra. Kinderteater laat ook baie ruimte vir verhoogde spel wat in hierdie konteks handig te pas kom. Dit is wel so dat die drie tale nie op hierdie stadium in gelyke hoeveelhede in die produksie teenwoordig is nie. Tans sou ek sê ’n groter deel is in Engels, dan redelike dele in Afrikaans, met isiXhosa teenwoordig in veral die bindingsteks tussen stories.
..............
Dit is wel so dat die drie tale nie op hierdie stadium in gelyke hoeveelhede in die produksie teenwoordig is nie. Tans sou ek sê ’n groter deel is in Engels, dan redelike dele in Afrikaans, met isiXhosa teenwoordig in veral die bindingsteks tussen stories.
...............
Waarom is daar plek vir kinderteater by ’n fees? Is dit van belang? Of is dit net om kinders besig te hou?
Kinderteater is immers teater en het vir seker plek by ’n kunstefees. My spesialiteitsveld is toegepaste teater en die groot fokus is op toeganklikheid van teater en kreatiewe prosesse. Ek is natuurlik van mening dat kinderteater vir almal is. Dit is goed dat daar spesifiek gefokus kan word op wat tot kinders sal spreek en gewoonlik vind almal dan iets waarby hulle aanklank vind. Natuurlik kan ontwikkelingsfases in ag geneem word, asook die baie belangrike rol wat teater en stories kan speel in die ontwikkeling van verbeelding, die oordrag van inligting en hoe ons lewensgebeure kan verwerk. Die idee is dat kunstefeeste toeganklik is en dat daar genoeg opsies vir almal moet wees om van te kies. By die Woordfees is dit wonderlik dat daar so ’n groot aanbieding van kinderteaterproduksies is. Dit beteken kinders kan meer as een produksie gaan kyk en ook self kies van watter tipe stories en produksies hulle hou. Van my gunstelingproduksies wat ek as volwassene bygewoon het, word as kinderteater gekategoriseer. Ek vermoed dit is die fokus op detail, verwondering en eenvoud wat maak dat dit tot die meeste teatergangers kan spreek. Dit is ook wonderlik as kinders gewoond raak aan verskillende aspekte van teaterpraktyke. Dit beteken dat hulle heel moontlik regdeur hulle lewe voordeel uit toegang tot teater sal kan trek.
............
Ek vermoed dit is die fokus op detail, verwondering en eenvoud wat maak dat dit tot die meeste teatergangers kan spreek. Dit is ook wonderlik as kinders gewoond raak aan verskillende aspekte van teaterpraktyke. Dit beteken dat hulle heel moontlik regdeur hulle lewe voordeel uit toegang tot teater sal kan trek.
...............
Watter teaterstukke onthou jy uit jou eie kleintyd? Wat het op jou ’n indruk gemaak, of wat kan jy uit jou skooljare van die teater onthou?
Toneelspel en stories was deel van my grootwordjare. Ek onthou hoe ons Liewe Heksie-tonele in ons huis uitgespeel het. My ma, in ’n swart kamerjas, het onderskeidelik die rolle van Liewe Hekse en die Geelheks gespeel. Die opwinding was dat ons nie altyd seker was of sy in die rol van Liewe Heksie of die Geelheks was nie, terwyl ek en my broer, Adriaan, al die ander rolle gespeel het. Ek was veel later as laerskoolleerder aan teater in ’n toegewyde gebou blootgestel. ’n Onderwyser, Mnr André Barnard, van Laerskool Totius het in die belang en waarde van teater geglo. Dit is hoe ek in 1986 as graad 6-leerder (destyds standerd 4) vir die eerste keer ’n amptelike teaterproduksie bygewoon het. Dit was Die proponentjie met onder andere Shaleen Surtie-Richards in die rolverdeling. Hierna het vele ander teateruitstappies gevolg, waaronder Boo to the moon (met Anna-Mart van der Merwe as deel van die geselskap – sy het nog met ons teatergroep kom gesels) by die Baxter en Measure for measure by Maynardville in 1987 (met oa Johan Esterhuizen en Mark Graham, by wie ek albei in die 90’s by die US se dramadepartement klas gehad het). Ek het as hoërskoolleerder my sakgeld verdien deur poppeteatervertonings (met selfgeskepte stories en poppe) aan te bied en het voortgegaan om soveel moontlik teaterproduksies by te woon. My verhouding met die teater in verskillende vorme het sedertdien verder ontwikkel en nooit gekwyn nie.
Klik hier om te sien op watter verskillende dae en tye Stars – Iinkwenkwezi – Sterre by die Toyota US Woordfees speel.
Hier is die volledige Easy Equities-skrywersfeesprogram by die Woordfees.
Hier is die volledige program van vanjaar se US Woordfees.
Lees ook:
"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars
Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach
Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke
Leon van Nierop oor Duiwelsroos by Momentum Beleggings Aardklop én Toyota US Woordfees 2023