Leon van Nierop oor Duiwelsroos by Momentum Beleggings Aardklop én Toyota US Woordfees 2023

  • 0

Duiwelsroos
Leon van Nierop
NB-Uitgewers
(Verskyn aan die einde van September 2023)

............
’n Goeie storie leen hom tot baie platforms, maar die roman is die een waarin die skrywer die diepste in sy/haar karakter se kop kan inkom.
............

’n Lekker bonus vir lesers in die noorde en suide van die land: Leon van Nierop gaan vanjaar by sowel die Momentum Beleggings Aardklop as by die EasyEquities-skrywersfees van die Toyota US Woordfees oor sy splinternuwe boek, Duiwelsroos, praat. Hy vertel vir Naomi Meyer van die boek – en gee ’n voorsmakie van wat feesgangers wat by enigeen van die feeste kom luister, kan verwag.

Leon, baie geluk met die verskyning van jou volgende boek, Duiwelsroos. Jou skep van stories kom al ’n lang pad. En ek kan nie help om te vra nie: Omdat jy so baie films en TV kyk en dit resenseer, sien jy baie visueel wat in jou geskrewe stories gebeur?

Uitgewers en redigeerders tel dit telkens op. My boeke is baie visueel geskryf, maar ook omdat ek glo dat die omgewing waar die verhaal afspeel uiters belangrik is. In Duiwelsroos se geval speel dit op ’n roosplaas af, want daar bestaan werklik ’n roosplaas ongeveer 5 kilometer van waar my tweede huis geleë is in Hazyview. Ek het altyd, wanneer ek Sabie toe ry op die R536, die roostonnels gewaar, toe draai ek eendag daar in en begin rondvra. En die rose het my gefassineer.

’n Sogenaamde whodunit, in hierdie geval is dit ’n howdunit, het nog nie eintlik tussen rose afgespeel sover ek weet nie. Boonop het ’n orkaan Hazyview en Kiepersol verlede jaar getref, en daardie kombinasie (rose en ’n orkaan) het die verhaal laat ontstaan waarby Moord op Lake Panic se speurder, Beer Henning, weer betrokke raak. En dan speel dit ook grootliks op Pelgrimsrus en in wildtuine af. Albei is stewig sigbaar wat plantegroei en atmosfeer betref. En ek geniet die navorsing en die daarstel van die inligting.  

Vertel asseblief waaroor Duiwelsroos handel, sonder om die intrige weg te gee.

...........
’n Grensgeval-outistiese seun, Marnus van Eck, sterf presies ’n jaar gelede, wanneer die roman begin, nadat die motor waarin hy gery het teen ’n boom bots. Was dit selfdood? Is hy vermoor? Of het iets anders gebeur?
............

’n Grensgeval-outistiese seun, Marnus van Eck, sterf presies ’n jaar gelede, wanneer die roman begin, nadat die motor waarin hy gery het teen ’n boom bots. Was dit selfdood? Is hy vermoor? Of het iets anders gebeur? Die speurder, Beer Henning, raak betrokke by die seun se familie wat uit drie formidabele vroue in ’n kasteel van ’n huis in die Laeveld bestaan. Gou besef Beer dat hulle hom eintlik wil gebruik om die smet van die selfdood-teorie die nek in te slaan. Sy ondersoek dwing hom egter in die oorlede geteisterde seun, Marnus, se kop in. En kort voor lank begin Beer, veral onder die vroue se invloed, Marnus word. Maar intussen moet hy nugter bly om uit te pluis wat werklik gebeur het. Sy bevindings lei hom na ’n verbysterende ontdekking wat hy nie verwag het nie.

Waar het jy die idee(s) gekry? Wanneer het jy besef dit moet ’n boek word?

Ek beantwoord dit gedeeltelik by vraag 1. En toe ek op die R536 na Sabie gery het en self byna van die pad afgedruk is deur ’n moedswillige taxi. (Of dan motoris.)

Hoekom skryf jy boeke? Dink jy mense lees nog en kyk nie die heeltyd net op skerms na TV, YouTube of films nie?

..........
Niks kom by ’n goeie boek nie.
...........

Niks kom by ’n goeie boek nie. Ek skryf natuurlik ook vir verskeie ander platforms, maar sommige verhale leen hulle absoluut tot die geskrewe woord en die gevoel van papier tussen jou vingers. Dit het Agatha Christie my geleer. Min van die films of TV-reekse oor haar boeke werk, want dit is haar styl en bedrewe manier van vals leidrade rondstrooi en met oplossings vorendag kom wat die perfekte slapenstyd-boek daarstel. En ná ’n roman kan die storie steeds in ander vorms gegiet word. Want dit is visueel en baie gebeur in die natuur en die omgewing, veral die roostonnels. ’n Goeie storie leen hom tot baie platforms, maar die roman is die een waarin die skrywer die diepste in sy/haar karakter se kop kan inkom.

Wat is die lekkerste vir jou om ’n boek te skryf? En die moeilikste?

Die lekkerste is omdat ek dit vir ’n spesifieke leser skryf en dan om woord-skaak met hom of haar te speel. Dis ook lekker om in die karakter se innerlike landskap rond te dolwe, want in hierdie geval beleef die nugtere Beer ’n identiteitskrisis wat hom aan homself en sy eie vermoëns laat begin twyfel. Dit het die skryfproses aansienlik bemoeilik, want ek breek al die “wie-het-dit-gedoen”- of “wat-het-regtig-gebeur”-reëls gedurig. Ek kon dus nie terugval op die gewone resepmatigheid van die speurgenre nie. Ek het ook clichés probeer vermy. Beer is heeltemal anders as die tradisionele alkoholis, rokende deursnee-speurder wat ek dikwels in romans teëkom. Ek moes die leser mislei, maar alle leidrade steeds dwarsdeur die intrige strooi en uiteindelik logiese sin uit die maskerade maak.

Hoe verskil dit om ’n storieboek te skryf teenoor ’n film. Wat moet vinniger beweeg, waar moet jy lesers help om te sien, waar moet jy woorde snoei?

Albei moet vinnig beweeg en tonele en dialoog/gebeure moet telkens die sogenaamde regte en ritmiese “beat” slaan. Elke sin moet dus betekenis hê en die storie dien. Selfs in ’n nuwe rigting stuur of die huidige gebeure behoorlik ontgin, maar gereeld uit nuwe hoeke. Ek snoei gedurig met ’n derde of vierde herlees van die manuskrip aan onnodige woorde, langsame ontvouing van gebeure of herhalende inligting. In daardie geval is my leuse: “Kill your darlings.” Ek probeer ekonomies en op die man af skryf, maar wil steeds my leser op genotvolle wyse mislei of vir die skerpes genoeg leidrade gee om die gebeure self te ontknoop.

............
Ek probeer ekonomies en op die man af skryf, maar wil steeds my leser op genotvolle wyse mislei of vir die skerpes genoeg leidrade gee om die gebeure self te ontknoop.
...............

Jy praat by Aardklop en by die Woordfees oor Duiwelsroos. Gaan jy tyd hê om iets anders ook te gaan bywoon by die onderskeie feeste? Waarna sien jy uit op elk van die twee se programme, wat lyk vir jou interessant?

Ek is tans besig met ’n ander projek wat baie tyd in beslag neem, en het nog nie kans gehad om werklik na feesprogramme te kyk nie. Boonop doen ek ook onderhoude met skrywers en akteurs op die Woordfees, wat beteken ek moet daardie boeke lees en vrae voorberei. En laastens skiet ek binnekort aan die vyfde episode van die reeks oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent, Daar Doer in die Fliek, in Kaapstad by Homebrew-films vir kykNET, en daardie teks met uittreksels, vrae en onderhoude is ’n allemintige werk. Ek bied ook intussen skryfskole aan. Dus sal ek nader aan die tyd teaterstukke uitsoek. Ek het egter reeds ’n kaartjie vir Mirakel gekoop, omdat my goeie vriendin Bettie Kemp daarin speel.

Wanneer kan mense by Aardklop en by die Woordfees na jou gaan luister?

By Aardklop om 10:30 op Dinsdag 3 Oktober, en by die Woordfees op Donderdag 12 Oktober om 15:00.

Lees ook:

Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

Momentum Beleggings Aardklop 2023: Silwerdoekdisse – an interview with Nathan Robinson

Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke

Momentum Beleggings Aardklop 2023: ’n onderhoud met kunskurator Dineke van der Walt

"Wees geduldig, maar wees braaf": Anton Kannemeyer se raad aan jong kunstenaars

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top