
Erkennings: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/07/aardklop-2023-logo-400.png, Skitter Photo op https://pixabay.com/photos/brushes-painter-work-shop-bowl-3129361/ en foto van Dineke van der Walt: JP Landman
Dineke van der Walt, die kunskurator van vanjaar se Aardklopfees, praat met Naomi Meyer oor die visuele kuns op Aardklop se program.
Dineke, jy is sedert ’n paar jaar gelede die kunskurator by Aardklop. Toe jy daar aangesluit het, was die land in die greep van die virus. Wat onthou jy van jou eerste jaar as kunskurator?
In 2021, toe ek aangesluit het by Aardklop as kunskurator, was die wêreld steeds in onsekerheid gedompel oor COVID-19. Daar was dus baie vraagstukke oor die pad vorentoe, veral wat sosiale byeenkomste betref. Terselfdertyd was dit ’n opwindende tyd, want die samelewing het gesmag na menslike konneksies en in-persoon aktiwiteite. Vir my was hierdie opwinding veral aangevuur deur Aardklop se kreatiewe aanslag tot die fees daardie jaar, en die uitdaging om uitstallings by die Voortrekkermonument aan te bied.
...........
Terselfdertyd was dit ’n opwindende tyd, want die samelewing het gesmag na menslike konneksies en in-persoon aktiwiteite. Vir my was hierdie opwinding veral aangevuur deur Aardklop se kreatiewe aanslag tot die fees daardie jaar, en die uitdaging om uitstallings by die Voortrekkermonument aan te bied.
.............
Ek sien jy is veral bekend vir kreatiewe uitstalruimtes. Hoe staan sake vanjaar – waar kan mense wat Aardklop toe kom, verwag om kuns teë te kom?
Die uitstallings vanjaar sal in drie ruimtes aangebied word: die NWU Hoofgalery, die Botaniese Tuin-galery, en ’n nuwe spasie vir die visuele kunste, die Daktuin. Terwyl die eerste twee gevestigde uitstalruimtes is in die Aardklop-kalender, bied hulle steeds unieke ervarings aan die kyker. Dink veral aan die spesiale geleentheid om ’n kunsuitstalling aan te tref in die middel van ’n botaniese tuin! Die Daktuin is weer ’n verfrissende oase in die middel van die NWU-kampus, wat sagte gefiltreerde daglig bied – ideale omstandighede vir kunsbesigtiging.
Op watter kunsuitstallings wil jy graag feesgangers se aandag vestig? Waarheen wil jy hulle spesifiek uitnooi en hoekom?
Tafadzwa Tega se Chisi hachieri musi wacharimwa – A seed will take its time to grow, in samewerking met Everard Read Gallery, beloof om ’n treffer in die Hoofgalery te wees in terme van grootte, inhoud en veral ook uitsonderlike kleurgebruik.
Gevolg, ’n uitstalling deur Peter Mammes, is veral indrukwekkend as gevolg van die kunstenaar se verrassende, kreatiewe medium wat hy self ontwikkel het: tekenkuns op rubber.
En soos die titel van Evert Esterhuizen se uitstalling, Helder oomblikke tussenin, getuig, speel dié kunstenaar met kleurryke oorvloed – ’n visuele element wat ook die inherente narratiewe in sy werke inkleur.
Ons is ook hierdie jaar bevoorreg om ’n BUST Sculpture Workshop, aangebied deur Sandro Trapani en Pieter Jooste, as deel van die visuelekunsteprogram te kan aanbied. Dit is ’n wonderlike geleentheid vir besoekers om dié kunsvorm vir hulself te ontdek en die dormante kunstenaar in hulself te voed. Kaartjies hiervoor is op Ticketpro beskikbaar.
Waarom is visuele kuns belangrik op ’n feeskalender?
Visuele kunste praat met kykers in ’n unieke, nieverbale taal. Die gesprekke, gedagtes, herinneringe en idees wat visuele kuns ontlok, strek dus oor kultuur- en taalgrense heen. Kunstenaars in hierdie genre dra ook daartoe by (telkens onwetend) om ons visuele opvoeding aan te vul – wat ons voorberei vir ’n toenemend visuele werklikheid. Dit is moeilik om die waarde van kontemporêre visuele kuns in woorde saam te vat, want dit is telkens ’n persoonlike ondervinding vir elke besoeker, maar ek dink dit help ons om dinge raak te sien en te besef wat ons andersins sou misgekyk het.
Hier is nog inligting oor die Aardklop-fees vanjaar.
Lees ook:
"Om te probeer verstaan hoe hulle die wêreld sien" – ’n onderhoud met Dineke van der Walt

