Kuns: die stiefkind van skoolvakke

  • 7
Lees Die uitwerking van mentorhulp op kunsonderrig in laerskole op LitNet Akademies.

 

jean_corlie

Kunsonderrig by skole speel dikwels tweede viool vergeleke met vakke soos wiskunde en wetenskap. Daar word van wiskunde- en taalonderwysers verwag om ʼn B-graad in die bepaalde vak te hê, maar kunsonderwysers wat slegs ʼn onderwysdiploma het, word aangestel om kuns te onderrig. Corlie de Kock, ʼn kunsonderwyseres wat gereeld as kurator van uitstallings optree, het aan Jean Oosthuizen gesê die belangrikheid van kuns as skoolvak word heeltemal onderskat.

Daar word groot klem gelê op die belangrikheid van syfervaardigheid in skole, maar selde word daar gepraat oor die minderwaardige status van kuns in veral die laerskool. Hoe belangrik is kuns as vak vir leerders, veral in hulle ontwikkelingfase?

Dit is uiters belangrik om te leer hoe om denke in beelde uit te druk en ook hoe om visuele beelde te verstaan. Ons leef in ‘n visuele wêreld en visuele geletterheid is belangrik om ‘n sinvolle bestaan te kan voer.

Daar is besorgdheid by talle wat belang het by kunsopvoeding in skole oor die onkunde wat heers ten opsigte van die belangrikheid van kunsopvoeding as deel van die skoolkurrikulum. Is hierdie besorgdheid geregverdig en geld dit vir laer- sowel as hoërskole?

Daar bestaan uiterste onkunde. Kuns het ‘n stopvak geword vir kinders wat geen ander vak kan deurkom nie. Dit maak van kuns ‘n minderwaardige vak. Daar bestaan die wanindruk dat enige mens kuns kan skep, terwyl kuns juis verwys na meesterlikheid – iets wat buitengewoon goed moet wees.

Op watter ouderdom behoort kinders blootgestel te word aan kunsonderrig?

Kinders moet vanaf ʼn jong ouderdom toegang hê tot visuele uitdrukking. Dit sluit aan by kleinmotoriese opvoeding sowel as emosionele ontwikkeling. Meer gestruktureerde onderrig kan vanaf 7, 8 jaar oud aangebied word.

Jy gee self kunsonderwys en tree gereeld op as kurator van uitstallings. Wat is die belangrikste eienskappe waaroor ʼn kunsonderwyser moet beskik?

ʼn Kunsonderwyser moet lief wees vir kinders en met mense kan werk, maar ook oor die nodige tegniese vaardighede en vakkennis beskik.

Maar dit lyk of juis daardie tegniese vaardighede ontbreek. Daar is onervare en onderopgeleide onderwysers wat nie vakspesialiste in kuns is nie, maar van wie daar verwag word om die vak in skole aan te bied?

Dit is inderdaad die geval. Kunshandboeke en kollege-opleiding omskryf die kunsmaakproses as ʼn soort resep en kuns is in wese juis die teenoorgestelde van ʼn resep. Kuns verg probleemoplossing en kreatiewe denke.

Daar is dus, met ander woorde, net soos in die geval van wiskunde, dikwels te min vakspesialiste en algemeen-opgeleide onderwysers wat verantwoordelik is vir die kunsopvoeding van kinders in hulle klas?

Ja, die gebrek aan spesialiskennis is die grootste probleem. Daar word van wiskunde- en taalonderwysers verwag om ʼn B-graad in die bepaalde vak te hê, maar kunsonderwysers wat slegs ʼn onderwysdiploma het, word aangestel om kuns te onderrig. Hierdie situasie het ʼn baie negatiewe uitwerking op veral die aanleer van tegniese vaardighede, sowel as op die skeppingsproses.

Gevallestudies in skole het getoon dat die meeste algemeen-opgeleide onderwysers wat nie kuns as ’n hoofvak gehad het nie, sukkel om betekenisvolle, gehalte-kunslesse aan te bied. Waarom is dit so?

Kuns het ʼn baie sterk tegniese komponent. Visuele kuns is ʼn vierjaargraad op universiteit waarin studente grondige opleiding in verskillende praktiese velde ontvang. Tegniek neem eenvoudig jare om aan te leer en iemand wat self nie kan skilder of teken nie, kan dit eenvoudig nie onderrig nie.

kunsklas650

Waarom het kunsopleiding by skole dikwels ʼn minderwaardige status teenoor byvoorbeeld vakke soos wiskunde?

Kuns word nie as noodsaaklik beskou nie. Ouers en kinders meet vakke se waarde aan materiële en finansiële maatstawwe en werksmoontlikhede na skool. Die algemene Suid-Afrikaanse publiek is onopgevoed wat die visuele kunste aanbetref. Daar is te min museums en galerye wat kwaliteitkuns vertoon. Slegs blootstelling aan die algemene publiek kan hierdie probleem oplos.

Watter rol kan mentorhulp speel om onderwysers se vermoë te verbeter om betekenisvolle gehalte-kunsonderwys aan te bied sodat die onderwysers professioneel kan ontwikkel en in hulle eie praktyk kan vorder?

Klasbesoeke en werkswinkels deur kunstenaars sal beslis help.

Die omstandighede en toestande by skole verskil, maar wat is die belangrikste behoefte by skole om gehalte-kunsonderrig te verseker?

Kunsgeskiedenis kan in groot groepe aangebied word. Kunsprakties verg individuele aandag – dit is soos musiek, en elke kind moet volgens sy bepaalde aanleg ontwikkel word. Die groot getalle in klasse is uiters problematies. Gebrek aan fondse is ook ‘n probleem, omdat kunsmateriale duur is om aan te skaf.

Kunsonderrig vorm vir ʼn groot deel van leerders se skoolloopbaan deel van die verpligte skoolkurrikulum. Waarom is dit so belangrik dat kunsonderrig verpligtend moet wees vir jong leerders?

Kuns bevorder kreatiewe denke en probleemoplossingsvaardighede en is ook belangrik as ‘n vorm van uitdrukking op ʼn sielkundige vlak.

Die meeste algemeen-opgeleide onderwysers ervaar ’n gebrek aan selfvertroue om kuns aan te bied, gevolglik is die lesse wat hulle aanbied, dikwels nie kunsonderrig van gehalte nie. Het dit nie ʼn baie negatiewe effek op veral kinders wat aangelê is vir kuns nie?

Ja, beslis. Kinders wat regtig kunstig is en ook denkend, sal baie gefrustreer word deur hierdie resepmatige benadering tot kreatiewe uitdrukking.

Maar wat is die nut van verpligte kunsonderrig as dit nie aan die nodige vereistes voldoen nie?

Daar is geen sin daarin nie. Dit is inteendeel skadelik, omdat dit die integriteit van die vak aantas.

Daar is al verskeie ondersoeke uitgevoer wat bewys dat gehalte-kunsopvoeding in arm en agtergeblewe gebiede ’n verbetering in kinders se akademiese werk teweegbring, omdat dit hulle bemagtig en ’n positiewe omgewing daarstel. Ervaar jy dit ook so?

Beslis. Ek het al in townships klasgegee. ‘n Geslaagde kunswerk is ‘n tasbare resultaat. Sukses help enige mens om te floreer en ‘n kunswerk is in wese sigbare sukses.

* Corlie de Kock gee kunsonderwys en tree gereeld op as kurator van uitstallings.

 

  • 7

Kommentaar

  • Christine Watters

    Baie waar woorde. Tog is die akademiese snobisme wat deurskemer 'n jammerte. Ek dink nie 'n 4-jaar-onderwysdiploma met kuns as spesialiteitsvak maak 'n onderwyser minderwaardig of onbevoeg nie.

  • Wat 'n wonderwerk! Iemand gesels oor iets wat my na aan die hart lê. Vir jare loop ek met die gedagte dat dit eers die kunsonderwysers is wat onderrig moet word voor hulle 'losgelaat' word om ons leerders enige iets oor die praktiese aspekte van die kunsproses te kan leer. Ek het die wonderlike ervaring gehad om die Visuele Kunste en Ontwerp studente in hulle PGCE jaar (heeeeeltemal te kort) aan UJ te onderrig. In my tyd daar was my grootste probleem dat hierdie (soms baie intelligente) studente NOOIT REGTIG GOEIE KUNSONDERWYSERS SAL WEES NIE. Die rede: hulle sit gewoonlik met Hoërskool Kunsonderrig en het hulself nie verder ontwikkel nie.
    Vir my is die proses (die Visuele Dagboek) die pad wat 'n leerder loop met sy/haar gedagtes om uiteindelik 'n hele stel probleme op te los om by die eindproduk uit te kom. Dis 'n belangrike reis - 'n baie, baie belangrike reis. As 'n onderwyser nie eers self bewus is van hierdie innerlike reis (wat enige kunstenaar onderneem - miskien nie altyd in 'n joernaal nie, maar beslis in jou beplanning) nie, hoe op aarde kan hulle hierdie belangrike proses aan leerders verduidelik?
    My grootste droom is om 'n 'organisasie' te stig waar bekwame kunstenaars (verkieslik kunsonderwysers wat self aktiewe kunstenaars is) onbeholpe onderwysers 'onderrig' in die praktiese proses van 'kuns maak'.
    Waar begin mens? Deur onderwysers te kry wat besef dat hulle nie bekwaam genoeg is nie (!) en hulp nodig het. Dit sal ook so 'n onderwyser bemagtig. Fondse: skenkings, skenkings, skenkings. Ek wens ek het die vermoë gehad om hierdie afdeling te doen, MAAR ek weet beslis dat ek oor die vermoë beskik om onderwysers te help wat hulp nodig het - en daar is BAIE.
    Rina Burger

  • Suzanne Lategan

    Ek wil net sê dat ek VOLKOME saamstem. Ek is tans 'n finalejaar-onderwysstudent met kuns as hoofvak. Ek begin volgende jaar werk as 'n kunsonderwyseres vir graad 1-7. Hoewel ek oor die nodige kennis beskik om dit met selfvertroue aan te pak, weet ek dat daar nog baie spasie is vir verbetering. Is daar enige kursusse wat julle as aanvulling sal aanbeveel in die Kaap-omgewing? Niemand kon my al regtig hiermee help nie.
    Dankie!

    • Georina Westraadt

      'Like' ATASA op fb. Die vereniging bied werksessies aan vir onderwysers wat verantwoordelik is vir Kunsopvoeding in laerskole. Die kunssentrum naaste aan jou behoort ook kursusse aan te bied.

  • Georina Westraadt

    Die grondslag van kunsopvoeding word in die laerskool gelê (Westraadt, 2015. Die onderrig van visuele kuns in die laerskool. Mowbray: Futuremanagers). Kunsopvoeding is 'n verpligte skoolvak in die laerskool. Die KABV (CAPS) verskaf riglyne hieromtrent. Sedert onderwyskolleges in 2001 deel geword het van Hoër Onderwys kwalifiseer alle onderwysers met 'n B Ed. Daar bestaan dus nie meer 'n Onderwysdiploma nie. Vir onderwysers vanaf Graad R - 9 beteken dit dat daar 'n algemene opleiding is. In die Intermediêre/Senior Fase (Graad 4 - 9) moet aspirant-onderwysers twee hoofvakke volg, waarvoor daar al hoe minder tyd toegestaan word. Daar word dus nie meer vakspesialiste opgelei nie. Hieroor het ek my kommer al in 2011 uitgespreek in: 'The endangered subject of quality visual art education' (South African Journal of Childhood Education 1(2): 1-10) en in 2012 in: 'Well-trained art educators - a dying breed' gepubliseer in Ebowu, P. (Ed). Africa and beyond: Arts and sustainable development. Algemeen-opgeleide onderwysers voel in baie gevalle onbekwaam. Om hulle by te staan het ek en my kollega ATASA (Art teachers association of South Africa) gestig. Hierdie vereniging bied kwartaallikse werksessies in die Noordelike en Suidelike voorstede van Kaapstad aan onderwysers aan. Gedurende die werksessies word praktiese werk gedoen, daar word aandag gegee aan lesbeplanning en visuele geletterdheid en die onderwysers deel idees met mekaar en smee bande ter ondersteuning en verryking van hulle kunsonderwys praktyk.

  • Jeanetta Groeneveld

    Ek besef die geweldige nut van kuns en musiek in die skool vir enige kind se grootwordfase.
    Dankie.

  • Charles Small

    Ek sal graag aan daai organisasie wil behoort, jammer ek is nie onderwyser nie, ek sal 'n onnie 'n ding of twee kan wys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top