Die hede van klassieke musiek: ’n onderhoud met Kristi Boonzaaier

  • 0
  • Op 4 Augustus gaan Kristi Boonzaaier se komposisie vir die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, naamlik Ode to Madiba, by die Winter Symphony Season 2018 Festival opgevoer word.

Klassieke musiek is nie besig om uit te sterf nie.

Só glo Kristi Boonzaaier, ’n jong Suid-Afrikaanse komponis. Met behulp van organisasies soos die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie en New Music SA is daar ’n blink toekoms vir opkomende komponiste in Suid-Afrika. Hy erken wel dat dit kunstenaars se verantwoordelikheid is om dié genre betekenisvol en relevant vir vandag se gehore te hou.

Kristi Boonzaaier (Foto: verskaf)

Kristi, jy het ’n komposisie vir die Kaapstadse Filharmoniese Orkes geskryf, Ode to Madiba, wat as deel van die Winter Symphony Season 2018 Festival opgevoer word op 4 Augustus. Wat behels 4 Augustus se program en hoe het jy betrokke geraak?

Ek is gekontak deur Louis Heyneman, die uitvoerende hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, om ’n werk te skryf ter huldiging van oudpresident Nelson Mandela. Die kommissie is deel van die orkes se bydrae tot Madiba se 100-jaar-feesvieringe. Die kommissie ondersteun ook die orkes se behoefte daaraan om meer nuwe musiek deur plaaslike komponiste uit te voer.

Vertel ons meer oor jou komposisie.

Ek het die werk verbind met die simfonie en hoofwerk van die aand se konsert, Mahler se 2de simfonie. Die tematiese materiaal is gebaseer op van Madiba se gunstelingliedjies, soos “The click song”. Die werk sluit ook oomblikke van die volkslied in en eindig af met ’n energieke afdeling wat Madiba se gees in die lewe suggereer.

Dit is nie die eerste keer dat jy saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes optree nie. Hoe het jy by hulle betrokke geraak?

Die eerste beweging van my klarinet-concerto is in 2015 by die Nasionale Musiekkompetisie deur die orkes uitgevoer. Dit is hier waar my paadjie met die orkes begin het. In 2017 het die orkes een van die werke in my meesterskomposisie- portefeulje, ’n Aand op Simonsberg, opgevoer. Dit was weer eens ’n besonderse geleentheid en het my bande met die orkes versterk.

Watter rol speel organisasies soos die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en ander organisasies soos die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie om vir jong komponiste geleenthede te gee?

Die orkes, met ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie, probeer om jong plaaslike komponiste aan te spoor om meer “new music” te skryf. Hulle ondersteuning is merkwaardig en word waardeer deur verskeie komponiste in ons land. Dit is goed om te sien dat die orkes probeer om sodoende bydraes te lewer tot die bedryf en komponiste se loopbane.

Is daar ’n toekoms vir komponiste in Suid-Afrika?

Ja, daar is. Met die ondersteuning van orkeste soos die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en organisasies soos die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie en New Music SA is daar beslis ’n toekoms.

Kristi, jy verwys na New Music SA. Wie is dit en wat doen hulle?

New Music SA (NMSA) is ’n organisasie sonder winsbejag wat daarop fokus om nuwe musiek in Suid-Afrika te bevorder.

Wat is jou mening oor die hedendaagse stand van klassieke musiek? Is klassieke musiek besig om uit te sterf? En hoe hou ’n mens hierdie genre aanloklik vir vandag se gehore?

Hierdie vraag is besonder moeilik en kan nie net sommer beantwoord word nie. Ek kan net kommentaar lewer uit die bietjie ervaring vanuit die bemarkingswêreld wat ek tydens my M-verhandeling se skryf opgedoen het. Klassieke musiek is nie besig om uit te sterf nie. Sekere orkeste kry swaar en ander nie. Prestige sal definitief ’n rol speel (BBC Proms is ’n goeie voorbeeld hiervan), maar ons lewe wel in ’n tyd waar inligting vrylik en teen lae kostes beskikbaar is (klassieke musiek op YouTube kos niks nie en daar is goeie opnames daar!). Organisasies sal wel nuwe maniere moet ontdek om die produk aan te pas en te herontwerp vir gehore se smaak en belangstellings. Klassieke musiek is ’n fantastiese medium van musiek wat ’n sterk impak op baie mense se lewens maak. As kunstenare is dit ons verantwoordelikheid om te verseker dat die musiek betekenisryk en relevant bly vir ons gehore.

Waaroor presies het jou verhandeling vir jou M gegaan?

My M het gegaan oor bemarking in klassieke musiek.

Van waar jou liefde vir musiek?

My hele familie het musikale talent en die liefde vir musiek is generasie na generasie oorgedra. Musiek vorm so ’n kerngedeelte van my wese dat ek besluit het om dit my roeping te maak.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Hopelik lê daar ’n lang en vrugbare toekoms vir my voor met orkeste soos die Kaapse Filharmoniese Orkes en sal ek met tyd met die ander ensembles en orkeste in die land te doen kry. Ek en my vrou trek ook in September China toe waar ons gaan Engels klas gee. Ek gaan egter hier ook probeer om vir orkeste en ensembles te skryf om sodoende my kontaklys te verbreed.


 

Kristi Boonzaaier het in 2018 sy meestersgraad in musiek voltooi nadat hy in 2015 sy BMus-graad cum laude verwerf het.

Kaartjies vir die eerste konsert van die Winter Symphony Season 2018 Festival, wat op 4 Augustus in die Kaapstadse stadsaal plaasvind, kan op Computicket se webtuiste gekoop word. Besoek Computicket se webtuiste vir verdere inligting oor die reeks konserte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top