Hoerkind by die Toyota US Woordfees: ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck

  • 0

Margit Meyer-Rödenbeck praat met Naomi Meyer oor Hoerkind by die Toyota US Woordfees.

Hoerkind is ’n teatervoorstelling van Herman Lategan se memoires met dieselfde naam en dit is vanjaar by die Toyota US Woordfees op die planke. Jy is die regisseur van hierdie teaterstuk. Hoe het die boek ’n toneelstuk geword?

Francois Toerien het my laasjaar Oktober gebel en gesê hy het lus om die boek te verwerk en ek moet dit vervaardig. Aanvanklik het ek gesê ek ken die boek, ek kon dit nie neersit nie, ja, dit sal goed werk, maar nee, ek is nou opgeshow vir die jaar. Toe ek die foon neersit, bel ek wel vir Herman en vra of ons die regte kan kry. Ek bel toe die Suidoosterfees en toe ek weer sien, begin die projek momentum kry.

Aanvanklik sou ek dit net vervaardig, maar het toe besluit ek is ’n lus vir ’n uitdaging en besluit om die regie ook te doen. Ek het nie besef hoe ’n groot uitdaging dit sou wees nie! Wat die skep van ’n toneelstuk uit ’n boek behels – eerstens doen Francois die seleksie en stuur dit aan vir kommentaar. Dan begin hy uitbou met ons voorstelle. Natuurlik verskil ons oor wat moet bly en gly, maar heeltyd hou jy in gedagte dat die produksie op sy eie bene moet staan. Jy skep basies ’n nuwe kunswerk met die oorspronklike boek as bron. Ons het baie van Herman se artikels, ander skrywes, Facebook, ens deurgewerk en ’n bietjie daarvan ook in die play ingewerk. Teen draft 4 het ons vloer toe gegaan en vir die eerste week van repetisie het ek, Geon en Jeanne Steenkamp (verhoogbestuurder en assistentregisseur) net aan teks sit en werk (teksanalise) en by draft 5 uitgekom. Hier het ons begin woorde oorsit in die eerste persoon, taal vergemaklik, oorgange beloer. En wanneer ons op die vloer is, eindig ons by draft 7 en 8, want dan kom die snoeiskêr in en alles wat nie die hoofstorie se momentum voortdra nie, word gesnipper. Ek dink dis die grootste uitdaging vir ’n verwerker – jy kan eenvoudig nie alles hou nie, en hoe besluit jy op ’n goue draad?

Hoerkind is ’n eerlike en ontstellende lewensverhaal. Hoe omskep mens so iets tot ’n toneelstuk? Hoe beeld jy ’n mens se binnewêreld na buite uit?

Die boek en die produksie is onthutsend en krap aan jou en bly nog lank by jou draal.

Die uitdaging was juis om memoires, wat groot dele soos ’n opsomming van iemand se lewe lees, teatermatig te maak en juis die binnewêreld vir die gehoor te ontsluit. Herman se boek is dig; daar is baie stories, feite en herinneringe en dit spring rond – nogal baie soos Herman se persoonlikheid. Dis boeiend om te lees, maar ons moes dit interpreteer vir die verhoog.

Die teater is “showing, not telling”, maar hoe nou gemaak met ’n eenmanvertoning van memoires? Dis toe ek besluit het om elke toneel basies as ’n eie klein drama te sien. Jy kry nie kans om aan die slaap te raak, gemaklik te raak of aan ander dinge te dink nie. Herman/Geon Nel vereis jou aandag.

........
Die teater is “showing, not telling”, maar hoe nou gemaak moet ’n eenmanvertoning van memoires? Dis toe ek besluit het om elke toneel basies as ’n eie klein drama te sien. Jy kry nie kans om aan die slaap te raak, gemaklik te raak of aan ander dinge te dink nie. Herman/Geon Nel vereis jou aandag.
........

Ek het fyn gaan sif om te bepaal wat vertelling kan bly en wat emosie en aksie kort. Wie speel almal in die toneelstuk en wie is andersins betrokke by musiek, en so aan?

Dis ’n eenmanvertoning, ’n helse taak wat op Geon Nel se skouers rus, en wat hy ongelooflik uitvoer. Geon lewer werklik ’n kragtoer – die karakter Herman Lategan is kompleks met baie teenstrydighede.

Die klankbaan deur Coenraad Rall is subtiel en eenvoudig, maar plaas jou in die tydsgees.

Die opdrag vir stelontwerp was dat dit minimalisties moes wees, maar Geon moet teenoor iets kan speel. Gerrit Snyman het dit reggekry met slegs ’n lang pienk lint, ’n tafel, bordkryt en een mikrofoon.

Daar is baie beligtingsaanwysings, want daar is baie tonele wat binne oomblikke dramaties verander. John B Swart doen die beligting, wat uiters noodsaaklik is in hierdie toneelstuk.

Wat die teks betref, dink ek ek het reeds genoeg oor Francois Toerien se geweldige taak gesê.

Die verhoogbestuurder en assistentregisseur, Jeanne Steenkamp, is die rots van die produksie. Dis ook sy en Geon wat die pad vat – hy is in baie veilige hande.

Wat is vir jou die belangrikste aspekte van goeie teater? Ongeag wat jy probeer uitbeeld. Wat moet teater dóén?

Teater is ’n “slice of life” – gedramatiseer en verskerp, maw meer intens, omdat baie dinge (in dié geval Herman se lewe) binne ’n kort tyd moet afspeel. Hopelik dring ons tot kykers deur, want dit maak nie saak hoeveel keer ons daaroor berig nie, mishandeling en misbruik gaan steeds voort. Dis asof die mensdom afgestomp raak teenoor die wrede werklikheid. Nuus is emosieloos, maar teater maak juis emosies wakker en die gehoor word daarmee gekonfronteer. Teater laat ons nie net ontvlug nie, dit plaas ons midde-in die situasie en hou die spieël op. Teater maak ’n verskil. Wat moet teater dóén? My betrokke kry! My laat dink, my laat voel, my laat reageer.

........
Dis asof die mensdom afgestomp raak teenoor die wrede werklikheid. Nuus is emosieloos, maar teater maak juis emosies wakker en die gehoor word daarmee gekonfronteer. Teater laat ons nie net ontvlug nie, dit plaas ons midde-in die situasie en hou die spieël op.
........

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste gedeeltes van regisseur-wees van die betrokke stuk?

Moeilikste:

Die persoon oor wie die produksie gaan, lewe nog. Dit maak ’n mens angstig om te weet jy moet met nog meer omsigtigheid werk – dis ’n groot verantwoordelikheid. Dis ook uitdagend om woorde om te sit in aksie en om te besluit wat om te hou en wat om te sny – ’n lewe gekondenseer tot 80 minute.

Lekkerste:

Die reuse-uitdaging. Om onder die vel van iemand te klim en te verken en verken en prentjies te maak. Ek sê altyd regie is vir my vreesaanjaend en opwindend, want jou “are sit vlak en is oop” as jy so delf. Alle sintuie word op die spits gedryf soos jy werk en verwerk om die woorde op die papier te transformeer vir die verhoog.

Wat kan gehoorlede wat nog nie hierdie boek gelees of stuk gesien het nie, verwag?

Die boek en die verhoogstuk (jy hoef nie die boek te lees om die verhoogstuk te waardeer nie) is onthutsend. Mense kan nie glo dat een persoon so baie moes deurmaak en dat hy dit oorleef het nie. Dis beslis ’n storie van hoop, maar sy reis op die kronkelpad is sonder vernis.

........
Mense kan nie glo dat een persoon so baie moes deurmaak en dat hy dit oorleef het nie. Dis beslis ’n storie van hoop, maar sy reis op die kronkelpad is sonder vernis.
........

Niel le Roux sê op sosiale media dis teater wat jou in die maag slaan.

Tog dink ek dis verteerbaar en soos Niel wil ek mense aanmoedig – wees braaf en kom kyk.

Het hierdie toneelstuk ’n doel? Soos om iemand se lewe te wys, sodat mense kan sien: hiervandaan is ek, en kyk waar is ek nou? Of watter storie het jy as regisseur in gedagte? Wat staan voorop?

Kollektief het die gemeenskap hom gefaal. Dis vir my belangrik dat anders as met die boek, waar jy as individu lees, jy hier as ’n groep met die waarheid gekonfronteer word. Kan jy werklik net op die kantlyn bly staan? Daar is so baie raakpunte in Herman se verhaal waarmee die gehoor kan identifiseer: verlies is universeel. Liefde, erkenning, geborgenheid, almal universele emosies

Val en opstaan – dit gebeur met ons almal tot ’n mindere of meerdere mate. Almal het nie die krag om op te staan nie, maar Herman het, so dis ’n verhaal van helse verlies en seer en terselfdertyd oorwinning.

Verder was dit vir my belangrik om te fokus op die seuntjie wat versaak is en verwerp gevoel het – Herman se oerwond – en daardie beeld baie sterk deur te trek, want dit het die res van sy lewe beïnvloed. Herman is eintlik steeds maar net ’n broos seuntjie in ’n grootmenslyf.

........
Ek dink dis ons almal se storie – jou kindwees word nie altyd gekoester nie en daai seer bly vir die res van jou lewe by jou en jy moet leer om daarmee saam te leef. Kinders se gemoed en koppies is so ontvanklik en al word jy groot en rasionaliseer wat gebeur het, is dit moeilik om jou oerwonde te dissekteer en vrede daarmee te maak.
........

Ek dink dis ons almal se storie – jou kindwees word nie altyd gekoester nie en daai seer bly vir die res van jou lewe by jou en jy moet leer om daarmee saam te leef. Kinders se gemoed en koppies is so ontvanklik en al word jy groot en rasionaliseer wat gebeur het, is dit moeilik om jou oerwonde te dissekteer en vrede daarmee te maak.

Wat wil jy nog by vanjaar se Woordfees beleef, sien of doen?

Sjoe, daar is baie: Fietsry vir dommies met Eldon van der Merwe, ’n Akkerboom en Braam en die engel met De Klerk Oelofse, Annelie Botes se Katvis, Boesak, My kroon se krank ... Ooo, daar is te veel om op te noem.

Besonderhede van wanneer die toneelstuk speel:

Momentum Beleggings Aardklop – Potchefstroom

Hoërskool Gimnasium

3 Oktober om 13:00; 5 Oktober om 20:00; 6 Oktober om 16:30; 7 Oktober om 13:00

Toyota US Woordfees – Stellenbosch

Hoërskool Stellenbosch

11 Oktober om 11:00; 12 Oktober om 20:00; 13 Oktober om 17:30

Windhoek Woordfees

4 November

Lees ook:

Toyota US Woordfeesprogram 2023

Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met komponis Kristi Boonzaaier

Toyota US Woordfees 2023: Stars – Iinkwenkwezi – Sterre-kinderteater, ’n onderhoud met Amelda Brand

Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke

Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top