Dan sien ons mekaar deur James Scott: ’n resensie

  • 0

Dan sien ons mekaar deur James Scott (Uitgewer: Protea Boekhuis)

Titel: Dan sien ons mekaar
Skrywer: James Scott
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485314288

James Scott is nie ’n bekende persoon wat sy memoires geskryf het nie, wel ’n kliniese sielkundige met meer as 30 jaar ervaring. Hy het veel waardevols te sê oor sy persoonlike lewensreis, die ervarings en wysheid wat dit meebring, en die aanpassing wat sy emigrasie van Suid-Afrika na Australië geverg het.

Sy memoires sluit aan by die publikasie Oorkant jou – ’n verhaal uit die binnekamer deur Juliana Coetzer, ook ’n psigoterapeut.

Die gepastheid van Scott se titel, Dan sien ons mekaar, val op. Sy kliënte kom om hom te “sien”. Op sy beurt kan hy vir elkeen wat oor sy drumpel trap, sê: “Ek ‘sien’ jou.”

Die sig-tema is deurentyd teenwoordig: Scott en sy broer, Dave, het ’n oorgeërfde sigprobleem waarvoor hulle kornea-oorplantings moes kry. Kort voor een van die operasies sê die oogspesialis: “Dan sien ons mekaar.” Nie net vir die ontmoeting nie, maar sekerlik ook omdat sy pasiënt dan verbeterde sig sal hê.

Jy lees dat Dave al van voor sy tienerjare af hartseer was, sonder ooglopende rede. Geen ingryping het standhoudende verligting gebring nie, selfs nie opname in ’n toepaslike tehuis nie.

Dekades lank kyk die familie magteloos toe hoe Dave teen die vlae melankolie steier. Hy was “die oupagrootjie van sensitiwiteit”, skryf Scott. “[V]an kleintyd af het hy vlindervlerk-ritselings in sy eie en ander se gemoed opgevang.”

........
Die gepastheid van Scott se titel, Dan sien ons mekaar, val op. Sy kliënte kom om hom te “sien”. Op sy beurt kan hy vir elkeen wat oor sy drumpel trap, sê: “Ek ‘sien’ jou.”
........

Die memoires bestaan uit kort hoofstukke, dikwels met enkeltitels. Elke vertelling, oftewel belewing, het ’n netjiese struktuur wat aan ’n essay of kortverhaal herinner. Dis veral in die slot van die verhale dat die trefkrag lê.

Ter wille van vertroulikheid word besonderhede waaraan kliënte geïdentifiseer kan word, verswyg. Waar nodig, het die skrywer toestemming gevra om die stories sonder dié beperking te publiseer.

Dit wat dié sielkundige daagliks in sy tuiskantoor beleef, gee hom nie net insig in die lewens van ander nie, maar ook die geleentheid om die lief en leed van sy eie lewensreis te deel.

Die Scott-gesin vorm ’n hegte eenheid waarin bloed nie so belangrik is soos die verhouding tussen hulle wat oor jare gesmee is nie. Sy vrou, Amunda, het hóm gevra om te trou.

Die skrywer vertel hy was ’n “geswore 32-jarige oujongkêrel”, maar binne ’n jaar was hy ’n getroude man met vier kinders. Die twee oudstes is gebore uit Amunda se eerste huwelik, terwyl sy en Scott saam ’n tweeling het. Vir die oudste twee is hy ook Pa, niks minder as wat hy vir sy biologiese kinders is nie.

Die Scotts het ’n besonderse en gelukkige verhouding. Hy skryf dat Amunda uiters sagmoedig, slim, snaaks, uniek, kreatief en opreg is. Dis opvallend dat sy ook wys is en daarom waarskynlik self ’n suksesvolle sielkundige kon gewees het.

Toe Amunda en Scott  ̶  hy was “netjies geklee”  ̶  die huwelikskontrak gaan teken, het hy gedink sy toekomstige vrou en haar twee jong kinders “lyk soos ’n spulletjie wat op verhoogde onderhoud by die prokureur kom aandring”!

........
Oor die liefde skryf Scott treffend, soos: “Ek vermoed dat as jy liefhet, sal jy vir jou maat sê: Wat kan ek doen om jou lewe makliker te maak?” Ook: “Deur vir ’n ander mens lief te raak, wend ons dalk ’n poging aan om onsself te vervolmaak.”
........

Oor die liefde skryf Scott treffend, soos: “Ek vermoed dat as jy liefhet, sal jy vir jou maat sê: Wat kan ek doen om jou lewe makliker te maak?” Ook: “Deur vir ’n ander mens lief te raak, wend ons dalk ’n poging aan om onsself te vervolmaak.”

Hy glo dat “wanneer twee mense meelewing met mekaar se binnekinders het, is dit onweerstaanbare balsem vir hul keintydverwondings, en dit plavei hul liefdespad”.

Scott se pa was ’n predikant; sy ma het die gawe gehad om uit niks iets mooi te maak – eienskappe wat sekerlik sy empatie met ander help vorm het. Hy skryf met insig oor sy pa se omgee vir, en werk onder alle lae van die gemeenskap. Maar hy skryf ook oor die dag toe oom Goggie, swaar van gebeente, in die doopbad geval het. Dan sien ons mekaar is vol humor, wat tot leesgenot bydra.

Wanneer die sielkundige sy kliënte aan lesers bekendstel, besef mens dat psigiese siektes nie van land tot land verskil nie. Die omgewing het egter wel ’n eiesoortige invloed.

As skrywer verstaan Scott dat vaal “karakters” nie vir goeie leesstof sorg nie. Nie al sy kliënte is aweregs nie, maar hulle hét eienskappe wat lesers nuuskierig sal laat omblaai. Hy self het ook sulke eienskappe. Sy een seun se rugbyspanmaat het oor Scott gesê: “Ek het jou pa daar buite raakgeloop. Hy lyk soos ’n ou wat boom kan rook.”

Scott werk met kliënte van alle ouderdomme, soos met die tienjarige Henry wie se pa verdwyn het. Henry se ouer broer, Bobbie, verkies ook videospeletjies en oorfone bo sy jonger broer se geselskap.

Tieners en ouers is ook kliënte. Baie van hulle het al ernstige verliese gely, soos om naasbestaandes aan die dood te moes afstaan en te moes leer om met die ingrypende effek daarvan saam te leef .

Scott self het persoonlike verliese gely, nog ’n eienskap wat vanselfsprekend ’n groot rol in sy empatie met kliënte speel. Hy identifiseer met ’n jong man wat koponderstebo voor hom in sy spreekkamer sit. Die man se verlies is so bekend aan Scott “soos die klank van die piet-my-vrou wat sy geliefde by Kommandodrif roep”.

Scott het self familielede en vriende aan die dood afgestaan. In sy memoires beskryf ’n vriend sý ervaring van ’n ouer se dood: “Daar is net drie tree tussen lewe en dood. Ek het dit self gaan afmeet. Dit is hoe ver my pa geloop het van die stoel na die televisie voordat hy inmekaargesak het.”

Op skool word Scott deur ’n meisie, Sonja, verwerp. So ’n verhouding is kalwerliefde, dink mens maklik. Tog durf ons nie die aard van trauma wat ’n jongmens tydens ’n liefdesteleurstelling deurmaak, onderskat nie. Ons behoort wel dankbaar te wees dat dit lewenservaring meebring. Jare ná Sonja sê Scott se Engels-onderwyseres daar is baie visse in die see. Scott steek sy hand op en antwoord: “Ja, juffrou, maar nie almal is forelle nie.”

........
n Mens se kinderjare is die kern van jou bestaan. Dié waarheid val weer op in Scott se boek. Jou kinderjare is waar sielkundiges eerste gaan krap. Ongelukkig word foute soms steeds van geslag tot geslag oorgedra, of probeer ouers dit ten alle koste vermy.
........

n Mens se kinderjare is die kern van jou bestaan. Dié waarheid val weer op in Scott se boek. Jou kinderjare is waar sielkundiges eerste gaan krap. Ongelukkig word foute soms steeds van geslag tot geslag oorgedra, of probeer ouers dit ten alle koste vermy.

Soms beur ons binnekind onwillekeurig stroomop teen die waardes wat ons aangeleer het, skryf Scott. Hy haal ook vir Carl Jung aan wat só oor kleintydverwondings geskryf het: “You either have complexes or they have you.

Daar is nie veel kritiek teen dié memoires nie. Dis net nie altyd duidelik met watter spesifieke probleem ’n kliënt worstel nie.

Soms word besonderhede verswyg en word lesers met vrae gelaat, soos: Hoe het Amanda du Toit haar suster vermoor? Vir watter tipe hofsaak is die skrywer vir sy telefoniese insette genader? Watter spesifieke misdaad het die bokser gepleeg om in die gevangenis te beland? Vir watter spesifieke probleem het die nutsman, ’n selferkende “malletjie”, die sielkundige besoek?

Inligting in die breë oor die tipe behandeling wat die onderskeie kliënte gekry het, en ook die geestelike groei wat hulle ondergaan het, sou eweneens welkom gewees het. Scott kon byvoorbeeld geskryf het: “Ek wou vir A lei om anders oor verlies te dink. Dís hoe ons dit aangepak het ...” Of wat ook al die geval was.

Die memoires is dig bevolk. In latere verhale kom van die mense uit die vroeëre verhale weer ter sprake. Dalk kon die skrywer mens net weer herinner het dat “Piet” die buurman is, of “Jan” een van sy vriende, of “Annie” ’n kliënt, en dat daar twee Daves is. Dit sou gekeer dat jy hoef terug te blaai.

Nogtans bevat die memoires vele waarhede waaraan jy kan herkou. Soos dat ’n gebrek aan innerlike geluk dikwels die kern van sielkundige ongemak is; dat innerlike geluk daarin lê om op ’n dieper vlak met onsself te bind; dat mense wat ’n einde aan hul lewe wil maak, nie ’n droom of ’n passie het nie.

........
Scott skryf: “Ons koppe is so bedraad dat ons die verlies nooit weer met dieselfde intensiteit aan ons lyf sal voel soos toe die ramp ons getref het nie. Seer gee skiet oor tyd en soos water vind ritselings in ons gemoed ’n balans.”
........

As jy ook met pyn worstel, is dit goed om herinner te word aan die feit dat niks, selfs nie emosionele pyn, permanent is nie. Nie eens as jy jou geliefde troeteldier verloor het, of al selfdood oorweeg het nie. Scott skryf: “Ons koppe is so bedraad dat ons die verlies nooit weer met dieselfde intensiteit aan ons lyf sal voel soos toe die ramp ons getref het nie. Seer gee skiet oor tyd en soos water vind ritselings in ons gemoed ’n balans.”

Die taalgebruik en insig is inderdaad bekoorlik. Só skryf Scott oor Ellen (80) wat reken dat haar gesig weens ouderdom “tuimel”: “My gedagtegang tas na waarom Ellen vir my mooi is, en ek weet dis nie fisieke skoonheid nie. Ek dink jonkheid en rypheid het in haar kop en hart getrou. Hierdie sprankeldeurleeftheid kweek ’n innerlike skoonheid wat tydloos is. As dit deurskyn, vervaag jou verrimpelde dop – selfs deur die oë van dié veel jonger as jy.”

In geheel gesien is Dan sien ons mekaar ’n goedgeskrewe versameling eg menslike stories, dikwels nostalgies of aangrypend, soms ook baie snaaks. Dit bied ’n eerlike blik op hoe sielkundige en kliënt mekaar se lewens raak.

Scott se memoires is ’n leersame en genotvolle leeservaring, meer nog as sielkunde jou interesseer. Mag nog soortgelyke leesstof, ewe toeganklik, oor dié onderwerp gepubliseer word, veral uit die terapeut se oogpunt.  

Lees ook:

Nuut by Protea Boekhuis: Dan sien ons mekaar deur James Scott

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top