Van vaders en vlugtelinge
SJ Naudé
ISBN: 9780798183949
Epub ISBN: 9780798183956
Uitgewer: Human & Rousseau
Wanneer daar reeds verskeie insiggewende resensies oor ’n teks verskyn het, raak dit moeiliker om iets oorspronkliks of relevants tot die gesprek toe te voeg. ’n Mens voel dikwels lus om net te tik: Ditto.
Net toe ek dink ek het ’n invalshoek, ontdek ek Melvyn Minnaar se artikel “Romans geanker in wêreld van visuele kunste” (Boekevat, 30 Oktober 2023). Hy verwys onder meer na die twee romans wat “vernuftig gekrui [is] met verwysings na die wêreld van die visuele kunste”. Ek wil verder ingaan op sy stelling dat in Van vaders en vlugtelinge die visuele kuns “die sentrale karakter Daniël se wêreldwysheid en kulturele nous” suggereer, maar ook dui op sy “vervreemding van Afrika”.
........
Naudé is een van die outeurs wat in hulle romans telkens die leser se verwysingshorison verbreed met intertekstuele invlegtings.
........
Veral twee kunstenaars staan sentraal in Daniël se lewe, naamlik Agnes Martin en Kichio Suga. Elkeen word gekoppel aan ’n ruimte waarin Daniël leef: eersgenoemde in Londen en laasgenoemde die mediese sentrum in Tokio wat hy besoek. Naudé is een van die outeurs wat in hulle romans telkens die leser se verwysingshorison verbreed met intertekstuele invlegtings. Dink ook aan die romans van Ingrid Winterbach en Marlene van Niekerk.
1. “Beauty is in your mind”
Agnes Martin (1012–2004) het, nes Georgia O’Keeffe, in Nieu-Meksiko gewoon en is ook bekend as ’n abstrakte-ekspressionistiese skilder. Maar waar daar by laasgenoemde skilder herkenbare tekens uit die omgewing voorkom, bv skedels, ’n leer teen ’n muur, berge en skeure, lyk Martin se werk op die oog af soos meetkundige tekeninge. Strepe, lyne, eenderse vorme wat met presisie soos Kurosawa se kolle simmetries gerangskik word. Op YouTube is daar ’n paar kort video’s wat Martin se werkswyse uitbeeld: Sy sit in haar wiegstoel, mediteer, en dit wat in haar gedagtes opkom, teken sy in haar notaboek en begin dat met behulp van wiskundige berekeninge die werk presies te beplan. Vergelyk byvoorbeeld haar With my back to the world (1997); volg die skakel: Agnes Martin, With My Back to the World, 1997
Martin skilder inderdaad met haar rug op die werklikheid gekeer. Daar is die storie wat herhaal word in die profiele oor haar: Sy wys vir ’n dogtertjie ’n roos en vra of dit mooi is. Ja, dis mooi, sê die meisie. Martin hou die roos agter haar rug en vra: Is die roos steeds mooi? Ja, hy is. Waarop Martin antwoord: “Beauty is in your mind.” En dit is wat sy vasvang in haar abstrakte kuns.
Naudé begin sy roman met ’n beskrywing van een van Martin se werke soos volg: “Die skildery se skaal is beskeie. Die uitgewaste kleurstroke – of eerder, die lig wat déúr die haas afwesige pigment straal – hou Daniël nietemin gevange” (9).
In teenstelling hiermee is die twee Slawiese vlugtelinge nie baie beïndruk met die “photocopies” sonder helder kleure nie. Hulle is trouens verveeld met die uitstalling, in teenstelling met hom, wat met afwagting uitgesien het na die uitstalling in die Tate-galery:
Hy is ’n koorsagtige aanhanger van Martin se reeks met die skaars merkbare variasies; van die kleure en doekgroottes wat elke paar jaar met net ’n skakering of paar sentimeter verander; van die stilte, die wegdrywing en verdwyning (10).
Met hierdie insig karakteriseer Daniël homself en plaas homself teenoor die ander, die vreemdelinge in sy sfeer. Jugo en Oliver is eweneens vervelig, veral as mens kyk na hulle optrede in die roman, hulle houding teenoor Daniël en hul reëlmatige bestaan in Belgrado – wat natuurlik verklaar hoekom hulle die abstrakte minimalistiese kuns veroordeel. Selfs tydens die staptog in Duitsland is hulle ooglopend verveeld met alles en teer parasities op Daniël.
Die Serwiese vlugtelinge in die roman fassineer my. Benewens hul parasitiese gedrag is hulle ook xenofobies teenoor hul landgenote (vergelyk ook Mirko se afkeer), maar ook teenoor vreemdelinge. Hulle speel ook ’n interessante spel met Daniël deur sy seksuele begeerte uit te buit. Die beste voorbeeld van hierdie spel sien ons seker by die Serwiër onder die stort wat “Terwyl hy Daniël nou reguit aankyk, ... sy Adidas-broekie [laat sak]. Hy los dit net daar op die vloer en stap na die stort toe, sy blik steeds op Daniël, die penis glad en blas en onbesny ... Daniël kyk stip na sy teerswart pubishare ...” (29) Later lyk dit vir Daniël of hy een van die jong Serwiërs is wat hulle dae op straat verwyl met sokker speel. Ten spyte van sy vriende se waarskuwing oor die homofobie in die stad, is dit tog die “blikke van begeerte”(40) van die jong mans wat hy op hom voel.
Hierdie sluimerende begeerte herinner my aan die jeugdige Daniël en sy neef Theon se intimiteit op die plaas, maar roep ook in herinnering die onvervulde begeerte van die twee se pa’s – soos wat afgelei word uit die brief wat Theon ontdek (131–2). Ironies dat die pa vanuit sy straight perspektief verwys na warmbloedige mans wat “hul hande dan sommer op die naaste vlees lê” (132) – soos geïllustreer in die seksuele verhouding van Daniël en die twee Serwiese vlugtelinge.
........
’n Mens wil amper selfs hierdie roman gelykstel aan ’n Agnes Martin-skildery oor onvervulling.
........
’n Mens wil amper selfs hierdie roman gelykstel aan ’n Agnes Martin-skildery oor onvervulling.
In kontras met die lawaaierige Serwiese seuns op straat, die groot groep mense in die plaashuis saam met Malefu, kies Daniël ’n stil bestaan wat geïllustreer word in die roman wanneer hy en Theon besluit om saam as bywoners op die plaas te gaan bly (138). Dit is trouens die stiltes en die meditatiewe leegheid van die Vrystaat wat byvoorbeeld aantreklik is vir Hein, maar nie vir Shelley nie. Hein wil “oplos in die stilte en die self verloor” (150), terwyl dit vir haar “in die middel van fucking nowhere” is. Selfs Daniël verwys na “die tronk van gras” (154) waarin hulle vasgevang is.
2. “Om alleen en ongemerk dood te gaan”
Aangesien hy beoog om ’n essay te skryf oor Japannese argitektuur, onderneem Daniël staptogte en gaan kyk hy na ’n uitstalling van Kishio Suga in ’n galery in Sjibuya (118). Vergelyk sy beskrywing van die video’s:
In elkeen is dit asof [Suga] iets konstrueer, werk om iets tot stand te bring. Hy is konstant besig met objekte of materiaal van ’n aard, en met arbeid, of iets verwant daaraan ... Hy pas en meet en vou en bind en merk en saag en plak en stapel en pak en sny en skuif. Dit is asof hy iets sinvols doen, ’n doelwit voor oë het. Hy is nie kompulsief nie, eerder sistematies en gefokus.
Maar met die uiteinde:
Niks kom tot stand nie. Geen struktuur neem vorm aan nie. Alles word ongedaan gemaak, selfs terwyl dit uitgevoer word. Alles begin en eindig by nul. (118)
Kichio Suga (1944) is volgens sy biografie op die webblad van die Blum-galery in Los Angeles ’n kunstenaar wat in verskeie media werk, wat installasies, optredes en werk op papier insluit:
Suga describes his approach as an ongoing investigation of mono (things/materials) and the jōkyō (situation) that binds them. This "activation of existence" focuses as much on the interdependency of these various elements and the surrounding space as on the materials themselves.
Suga maak gebruik van natuurlike en industriële elemente in sy werk om ’n tipe verbondenheid tussen hulle te illustreer. Dit is ook wat Naudé in sy roman doen met die skakeling tussen toevallighede om die lewenslope van die verskillende karakters in die roman aan mekaar te koppel. Uit Daniël se weergawe van die video kan die werkswyse van Suga afgelei word. Dié beskrywing dien ook as selfrefleksiewe kommentaar deur SJ Naudé oor die skryfproses, waarna op verskeie plekke in die roman verwys word:
Maar hoofsaaklik het hy [Daniël] gereken – gehoop – dat hulle sou kleur aan sy dae kon verleen en sy fiksie in ’n nuwe rigting skok. Dat hy hulle uiteindelik sou kon rondskuif soos pionne of rekwisiete. (47)
Na die dood van die jong Motlale, noem Daniël teenoor Theon dat hy ’n nuwe woord geleer het in die katalogus oor Kishio Suga se werk, naamlik Kodokushi. Dit beteken “om alleen en ongemerk dood te gaan” (126).
Dit is nie net Motlale wat alleen en ongemerk in die vreemde Ooste sterf nie; daar is ook die skreiende dood van sy naamgenoot in die buitekamer (183). Die twee Serwiërs pleeg selfdood en hang hulself met Daniël se gordels op (45), maar die mees fassinerende dood in die roman kom aan die einde voor, wanneer Daniël ’n besoek bring aan die plaas Eenzaamheid: “Dan, sonder waarskuwing, gee sy heup mee. Of sy knie of voet. Wat dit ook al is, hy sak in die gras weg. Hy gaan sit. Hard, sonder beheer. Hy gryns, sy oë toe, dink die pyn weg” (190). Die tronk van gras het nou ’n see van gras geword en mettertyd sal hy ver-plant en een word met die natuur.
Vroeër, nadat Hein die baba in die buitekamer gelaat het en hy wegstap, beleef hy iets soortgelyks: “Hy loop weer agterom die populierbos. Teen ’n meditatiewe pas ... Dan kyk hy na sy skoene. Dieselfde kleur as die stof. En sy moue? Dit lyk nes die aarde en die gras. Hy word onsigbaar” (175).
Die mens staan nie meer sentraal nie. Dit sluit aan by die deurlopende stroping en aflegging wat die kern vorm van Naudé se roman.
........
Daniël se gevoel van nutteloosheid het die aanvaarding van die dood vergemaklik.
........
Enkele dae na die herdenking van Deleuze se selfdood op 4 November 1995 is dit beslis gepas om Daniël se dood ook as ’n gelukkige dood te beskryf. Janning (2013:36) haal Deleuze soos volg aan:
Every event is like death, double and impersonal in its double. It is the abyss of the present, the time without present with which I have no relation, towards which I am unable to project myself. For in it I do not die. I forfeit the power of dying. In this abyss they die – they never cease to die, and they never succeed in dying.
Net soos Deleuze wat van sy balkon af gespring het, so aanvaar Daniël dat niemand hom kan kom red waar hy in die gras lê nie. In aansluiting by Janning (2013:36) is hier ook sprake van die wil om te wil doodgaan; die beliggaming van doodgaan. Daniël se gevoel van nutteloosheid het die aanvaarding van die dood vergemaklik.
3. Kunsflieks
In Naudé se roman Die derde spoel (2017) speel films, soos die titel reeds suggereer, ’n sentrale rol. Dit is veral die verwysings na Tarkofskij se films wat ’n intertekstuele gesprek aktiveer.
In Van vaders en vlugtelinge is Oliver ’n kenner van Serwiese kunsfilms en verwys hy onder meer na Jan Švankmajer se Klein Otik, “’n film waarin ’n kinderlose egpaar ’n boomstomp as kind aanneem” (15) – wat vooruitkyk na die stryd wat Daniël en Theon het om toesig te verkry oor Malefu se kleinkind. Švankmajer (1934–) is ’n Tsjeggiese filmmaker en kunstenaar, bekend vir sy animasiefilms met ’n surrealistiese botoon. Volgens die George Eastman Museum het sy werk ’n groot invloed op Tim Burton. Die YouTube-kanaal https://www.youtube.com/channel/UC8VpAhdFhYnsaIdubkjILSA word gewy aan sy kortfilms en daar is ook verskeie onderhoude met hom. Klein Otik is gebaseer op ’n volksverhaal en in ’n snit word gewys hoe snoep die boomstompbaba is.
Adam Whybray skryf in sy MA-verhandeling, “I, Object: Jan Švankmajer and the Dream of the Thing” (2010), oor die werk van dié filmmaker en beskou hom onder meer as ’n stil filmmaker, omdat hy nie van woorde gebruik maak nie. Švankmajer se werk is gesensor deur die kommunistiese bewind in Tsjeggo-Slowakye, wat hom mettertyd in ’n militante surrealis (sy eie benaming) verander het. Ingeperktheid is een van die temas in hierdie films en Naudé se tekening van ruimtes, veral in die eertydse Oosbloklande, gee vir ons ’n blik hierop. Wanneer Daniël besoek aflê aan Jugo en Oliver se woonstel in Belgrado, gee hy sy eerste indrukke soos volg weer: “Daar is net een slaapkamer. Daniël kry die bank in die beknopte woonkamer ... Daniël moet deur die slaapkamer loop om in die badkamer te kom” (32–3).
Die feit dat Jugo en Oliver in hul kamer bly en nie aanbied om vir hom die stad te gaan wys nie, versterk hierdie gevoel van inperking. Die verklaring van die eerste afdeling van die roman, “Waar die wolwe paar”, word uitgelê wanneer Jugo (à la Trump) verwys na die stad as “’n shithole” (37) wat niks met hulle te doen het nie. Ewe vreemd is hulle versoek dat hy, wanneer hy alleen is, vir niemand die deur moet oopmaak nie (39).
Daniël en Theon se lewe in die bywonershuisie op Daniël se geboorteplaas staan ook in die teken van ingehoktheid. Hulle ritueel om saans vroeg na die kamer te gaan en agter die toe deur elk op ’n eie enkelbedjie te sit en praat (154), skakel weer met Jugo en Oliver in hulle Belgrado-woonstel. Die kliniese, liefdelose versorging van die baba gee ’n surrealistiese dimensie aan die twee mans se lewe op die plaas en Hein vind dit aanstellerig en Europees (153).
4. Slotsom
In hierdie digverweefde roman van SJ Naudé is daar nog heelwat ander aspekte wat toegelig kan word. Ek stem egter, ter afsluiting, saam met Elzanne Coetzee (Klyntji, 5 Oktober 2023), wat soos volg oor dié roman skryf:
Die woorde gaan sit ongemaklik en jeukerig onder jou vel. Die storie bly jou by; ’n vae verlange kom neem sy plek in na mense wat nooit bestaan het nie. Dog is geen deel [sic] van die roman sentimenteel-gedrewe nie; ’n slim gebruik van affektiewe taal sonder oordrewe emosionaliteit.
Bibliografie
Janning, F. 2013. Happy death of Gilles Deleuze. Tamara. Journal for Critical Organization Inquiry, 11(1):29–37. https://philarchive.org/archive/JANHDO (6 November 2023 geraadpleeg).
Whybray, A. 2010. I, Object: Jan Švankmajer and the Dream of the Thing. MA-verhandeling. York Universiteit.
Lees ook:
Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay