Van vaders en vlugtelinge
SJ Naudé
ISBN: 9780798183949
Epub ISBN: 9780798183956
Uitgewer: Human & Rousseau
“’n Predatoriese pampoenplant het die ander groente verswelg, die werf oorgeneem. Dit begin by deure en vensters inrank, sal mettertyd die murasie self verwurg en plattrek.” Die natuur word hier en ook in ander dele van die roman [...] aangebied as ’n soort ewige toevlug – iets wat sal bly voortbestaan lank na die mens se afsterwe en vernietiging.
SJ Naudé se skryfwerk spreek nou reeds vir ’n geruime tyd die tema van modernewêreldvervreemding aan. In Die derde spoel byvoorbeeld word die soeke van die hoofkarakter, Etienne, te midde van ’n toenemend vervreemdende wêreld op aangrypende wyse aangebied. In daardie roman sien ons ook die ontsettende gevolge en uitwerkinge – op psigiese vlak – van wêreldvervreemding op diegene wat betekenis en nabyheid probeer soek te midde van ’n wêreld wat gekenmerk word deur verlies, verwydering en vlietende tydelikheid. In Van vaders en vlugtelinge sit Naudé sy ondersoek na die aard van wêreldvervreemding voort via die wel en wee van die hoofkarakter, Daniël.
Om egter die voortsetting van hierdie ondersoek behoorlik te verdiskonteer in die konteks van die roman, stel ek voor dat ons eers ondersoek instel na die presiese aard van modernewêreldvervreemding. Die werk van Hannah Arendt is onontbeerlik in hierdie verband. In haar magnum opus, The human condition, skryf Arendt breedvoerig oor wêreldvervreemding in die konteks van ’n moderne wêreld. Trouens, die werk open met ’n verwysing na die lansering in 1957 van ’n mensgemaakte satelliet na die buitenste ruimte – die eerste keer in die geskiedenis dat so iets gebeur het. In die lig van hierdie sprong in die mens se tegniese vermoë skryf Arendt dat die onmiddellike reaksie ’n soort matelose verligting was oor die eerste tree wat die mensdom gegee het in sy soeke na ontsnapping uit die gevangenis van die aarde. Arendt beskryf hierdie soeke na ’n ander plek en bestaan as gegrond in ’n rebellie teen die voorwaardes van die mens se bestaan op aarde, en by wyse van haar boek vra sy wat dit is wat die menslike bestaan op aarde so ondraaglik gemaak het dat die mens nou soek na ’n plek of punt waar hy van hierdie aardse bestaan kan wegkom. Arendt se antwoord kom by wyse van haar konsep van modernewêreldvervreemding wat sy as twee momente beskryf. Eerstens is daar die reeds genoemde soeke na maniere om van die aarde na die heelal te verskuif, en tweedens die waarskynlik meer algemene ontvlugting vanuit die wêreld na die Self.
.....
Lank voor die huidige denke oor die Antroposeen en die mate waartoe menslike mag ’n vernietigende natuurkrag geword het, het Arendt al oor die gevolge van aardse vervreemding nagedink.
.....
Wat die eerste aanbetref, skryf Arendt oor die onherroeplike gevolge van die Kopernikaanse revolusie, wat sy beskryf as die ontdekking van die “astounding human capacity to think in terms of the universe while remaining on earth”. Vir Arendt het hierdie kapasiteit van die mens die geboorte van die moderne wetenskap ingelui, en dit is ’n wetenskap wat ons verhouding met die natuur dramaties omkeer: “Instead of observing natural phenomena as they were given to him, [man] placed nature under the conditions of his own mind, that is, under conditions won from a universal, astrophysical viewpoint, a cosmic standpoint outside nature itself.” In wese, sê Arendt, word die natuur en alles wat daarmee gepaard gaan, in die moderne tyd beskou as bloot ’n uitvloeisel van die menslike intellek. Saam met hierdie gewaarwording van die essensiële konstrukmatigheid van die natuur kom die enorme toename in die mens se mag om te vernietig, “that we are able to destroy all organic life on earth and shall probably be able one day to destroy the earth itself”. Lank voor die huidige denke oor die Antroposeen en die mate waartoe menslike mag ’n vernietigende natuurkrag geword het, het Arendt al oor die gevolge van aardse vervreemding nagedink.
In Van vaders en vlugtelinge kom aardse vervreemding (en dan veral verset daarteen) as ’n aspek van modernewêreldvervreemding telkens aan bod. In die eerste plek is daar die mate waartoe die Vrystaatse landskap as ’n soort ewige teenvoeter funksioneer in die latere gedeeltes van die roman, veral in die gedeeltes waarin Naudé herhaaldelik die beskrywing van die Vrystaatse gras so mooi verwoord. Dit is asof die roman te kenne wil gee dat die natuur die enigste konstantheid bied, die enigste element is wat nié sal vergaan nie, maar alle menslike handelinge daarin uiteindelik sal absorbeer en omvorm tot die groter planetêre geheel. Hierdie idee word tot ’n hoogtepunt gevoer in die toneel waarin Daniël na die ruïnes van die plaas Eenzaamheid terugkeer aan die einde van die boek tussen die pampoenplante gaan sit en dan mateloos sukkel om weer orent te kom. Aan die einde van die episode skryf Naudé: “’n Predatoriese pampoenplant het die ander groente verswelg, die werf oorgeneem. Dit begin by deure en vensters inrank, sal mettertyd die murasie self verwurg en plattrek.” Die natuur word hier en ook in ander dele van die roman (byvoorbeeld in Theon se beheptheid met die fyn kalibrering van die Japannese seisoene) aangebied as ’n soort ewige toevlug – iets wat sal bly voortbestaan lank na die mens se afsterwe en vernietiging.
.....
Dit is asof die roman te kenne wil gee dat die natuur die enigste konstantheid bied, die enigste element is wat nié sal vergaan nie, maar alle menslike handelinge daarin uiteindelik sal absorbeer en omvorm tot die groter planetêre geheel.
.....
Hierdie aspek van die natuur as durende krag staan op ander plekke in die boek weer in skrille kontras met die mens se vernietigingsdrang en die vermenigvuldiging van die tegnologiese maatskappy, so deeglik verwoord in die besinnings oor Tokio as ’n soort eindelose stad van verdorwenheid wat aan die aardsheid van ons bestaan probeer ontkom. Van vaders en vlugtelinge bied oorwegend inherente weerstand teen Arendt se idee van aardse vervreemding; dit kom in opstand daarteen en dra die idee oor dat die natuur ons, ten spyte van ons kosmiese uitgangspunt, sal oorleef.
Die ruimtes in hierdie werk, daarenteen, word egter deurlopend gekenmerk deur die tweede aspek van modernewêreldvervreemding naamlik ’n soort verlatenheid van die wêreld en ’n inkering na die Self. Hierdie aspek van modernewêreldvervreemding beskryf Arendt as “innerworldly alienation” en sy sien dit as die “innermost spring of the new capitalist mentality”. Hierdie vervreemding bestaan in ’n eksklusiewe gemoeidheid met die Self en die eie, ’n soort ekstreme solipsisme waarin alle ondervinding en gebeure – in die wêreld, maar veral tussen mense onderling – gereduseer word tot ’n ervaring van die mens met homself. Saam met hierdie solipsisme kom ’n verwydering tussen die mens en die wêreld waarin ander bestaan, optree en funksioneer. Mens moet hier verstaan dat Arendt die wêreld gelykstel aan pluraliteit (of veelheid – die feit dat mense en nie die mens nie die aarde bewoon en bewerk) en dat die proses wat sy beskryf, gelykstaan aan ’n soort likwidasie van veelheid ten gunste van die vermindering en afplatting wat gepaard gaan met én neerkom op, die eendimensionele Self. Vir Arendt was een van die grootste sosiopolitieke gevolge van hierdie vervreemding van pluraliteit-as-wêreld die ontneming van sekere groepe mense van hul plek in die wêreld en die gevolglike naakte blootstelling aan slegs die mees dringende behoeftes van bestaan. (Hierdie aspek word treffend verwoord in die roman, terwyl daar terselfdertyd ruimte gelaat word vir teenkanting, hoofsaaklik via die karakter van Hein.) Hierdie twee gevolge vorm die basiese voorwaardes van die kapitalistiese ekonomie. “The process can continue,” skryf Arendt, “only provided that no worldly durability and stability is permitted to interfere, only as long as all worldly things, all end products of the production process, are fed back into it at an ever-increasing speed. In other words, the process of wealth accumulation, as we know it, stimulated by the life process and in turn stimulating life, is possible only if the world and the very worldliness of man are sacrificed.”
.....
Dit is veral in die hoofkarakter, Daniël, dat ons ’n naakte blik kry op die soort mens wat deur modernewêreldvervreemding opgelewer word. In die eerste plek is Daniël ’n vlugteling wat nie tot enige van die twee wêrelde wat hy besoek, behoort nie.
.....
In Van vaders en vlugtelinge staan hierdie tweede aspek van modernewêreldvervreemding voorop. Dit is veral in die hoofkarakter, Daniël, dat ons ’n naakte blik kry op die soort mens wat deur modernewêreldvervreemding opgelewer word. In die eerste plek is Daniël ’n vlugteling wat nie tot enige van die twee wêrelde wat hy besoek, behoort nie. Hy verlang soms na Kaapstad, maar op ander plekke in die roman het hy oor Kaapstad nie ’n goeie woord te uiter nie. Uiteindelik, na verskeie gebeure in die roman, verkoop Daniël beide sy woonstel in Londen en die een in Kaapstad en trek hy terug in die Engelse platteland in. Hier “het hy die lewe van verhoudings afgesweer. Hy is op sy eie, in beheer van sy eie emosionele grafiek [...] Dit voel [...] asof hy in ’n soort deursigtige borrel rondbeweeg, of vasgevang is in ’n ysblok.” Teen hierdie solipsistiese bestaan dien sy kontak met Theon as ’n soort teenvoeter, ’n ontwrigting van die vervreemding, en so besluit hy dan ook aan die einde van die hoofstuk om hom weer by Theon (wat hom op ’n stadium verwyt oor hoe Daniël hóm in hul kinderjare vervreem het) aan te sluit op die plaas Eenzaamheid. Daar leef hy saam met Theon – in ’n soort uitsondering op sy vervreemding – as ’n bywoner wat terselfdertyd van die eienaars van die plaas (die voormalige werkers) vervreem is. Daniël se vervreemding bestaan dus uit grade en fases, maar dit is ’n bestaan wat by uitstek aan vervreemding geken kan word.
Naudé as skrywer verwoord nie bloot vir ons die toestand van modernewêreldvervreemding nie – hy laat sy karakters ook toe om in opstand daarteen te kom. So kan die eerste hoofstuk – die gebeure met die Serwiërs – gelees word as ’n desperate poging aan Daniël se kant om aan vervreemding te ontkom, om ’n konneksie te maak, intimiteit te vind (die Serwiërs word ongelukkig die letterlike slagoffers van die kapitalistiese masjien). Wanneer die verhaalfokus van Daniël na Hein verskuif in die voorlaaste hoofstuk, bied Naudé ’n blik op die ongenaakbaarheid van ’n wêreld wat deur vervreemding gekenmerk word – oral waar Hein met die baba gaan, word hy die deur gewys, geïgnoreer of weggejaag. Trouens, die kliniese hantering van die baba deur Daniël en Theon waarop Hein so krities is, kan gesien word as ’n simptoom van ’n fundamentele vervreemding by die karakters. In die roman bied Naudé vir ons ’n wêreld aan wat nie meer ’n wêreld is nie, waarin dinge soos gemeensaamheid, intimiteit, solidariteit en empatie ontbreek. Dit is ’n somber prentjie, maar ’n akkurate portret van die luim waarin so baie van ons vandag moet voortleef.
Lees ook:
Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay