LitNet Akademies-resensie-essay: Dol heuning deur SJ Naudé

  • 0

Dol heuning deur SJ Naudé
Umuzi (2021) [Penguin Random House]
ISBN: 9781415210796

SJ Naudé (fotobron: https://www.litnet.co.za/sj-naud-1970/)

I

Met Dol heuning (2021) keer SJ Naudé nie net terug na sy “groot liefde”,[i] kortverhale, nie, maar verower hy ook vir die tweede agtereenvolgende keer die Hertzogprys vir prosa.[ii] Soos die sewetal verhale in sy gerugmakende debuutbundel, Alfabet van die voëls (2011), is die meeste verhale in Dol heuning langer-as-gewone kortverhale wat die indruk van kompakte novelles eerder as tradisionele kortverhale skep. Opvallende uitsonderings in dié verband is “Twee libretto’s”, wat skaars twee bladsye beslaan en “Daar is mans” wat binne die omvang van ses bladsye tot ’n roerende slot gevoer word. Ongeag die lengte daarvan bevat elke vertelling – selfs die drieluik “Landskappe met figure” wat meer as 50 bladsye beslaan – die kenmerkende onmiddellikheid van ’n kortverhaal wat jou uitnooi om dit tydens ’n enkele sitting deur te lees.

Volgens Cilliers van den Berg (2011) lê die trefkrag van die verhale in Alfabet van die voëls by uitstek “in die saamlees daarvan”. In sy resensie wonder hy selfs of die impak van sekere verhale dieselfde sou wees indien hulle in isolasie gelees word. Hoewel die verhale in Dol heuning enersyds heeltemal afsonderlik van mekaar gelees kan word, wen hulle andersyds ook aan betekenis vanweë die verbande wat hul naas mekaar plasing in bundelverband tot gevolg het. ’n Mens moet egter fyn lees om die subtiele skakels tussen die verhale in dié bundel te raak te sien.

............
Wanneer ’n mens Naudé se nuutste kortverhaalbundel in die hand neem, val veral twee dinge jou op: die aanvanklik raaiselagtige bundeltitel en die buitengewoon helderkleurige omslag (veral in vergelyking met dié van sy vorige twee boeke).
................

Wanneer ’n mens Naudé se nuutste kortverhaalbundel in die hand neem, val veral twee dinge jou op: die aanvanklik raaiselagtige bundeltitel en die buitengewoon helderkleurige omslag (veral in vergelyking met dié van sy vorige twee boeke).

Boekomslae-erkenning: https://www.penguinrandomhouse.co.za/

 

II

“Dol heuning” (’n vernuftige vertaling van die Engelse “Mad honey”, die titel van die bundel in Engels) verwys na ’n tipe heuning wat deur reusebye (Apis laboriosa) van die nektar van die blomme van die bergroos (rhododendron) gemaak word. Dié heuning, met ’n kenmerkende rooi kleur en effens bitter smaak, is veral gewild omdat bergrose grysnotoksien bevat, ’n stof wat dramatiese fisiologiese reaksies by mense en diere kan veroorsaak.[iii] Afhangende van die hoeveelheid heuning wat geëet word, kan die simptome wissel van hallusinasies en ’n verlaagde harttempo tot tydelike verlamming en selfs bewusteloosheid. Hierdie simptome duur egter selde langer as 24 uur.

In Nepal en Turkye word dol heuning (in klein dosisse) medisinaal aangewend om, onder meer, hoë bloeddruk te verlaag, energievlakke te verhoog en ereksies aan te help. Dit word beskou as ’n liefdesdwelm of seksstimuleermiddel (afrodisiakum) wat seksuele probleme oplos en slaapkamerprestasie verbeter. Aangesien dit allerlei vitamines, kalsium en aminosure bevat, hou dol heuning ook ander gesondheidsvoordele in, soos die oplos van maagsere en spysverteringsprobleme, die verligting van hoes en keelseer en die verbetering van die immuniteitstelsel. Voorts bevat dit ook antibakteriële en antifungale bestanddele wat kanker en hartprobleme kan voorkom.

.............
Meestal is dit dus veel gevaarliker om dol heuning uit te haal as om dit in matige hoeveelhede te verbruik.
..............

Meestal is dit dus veel gevaarliker om dol heuning uit te haal as om dit in matige hoeveelhede te verbruik. In Nepal bestyg sogenaamde dapper byemanne van die Gurung-stam die steil bergkranse met “bamboeslere van honderde meter lank” (43) om die bye uit hul halfronde korwe te rook en die heuning te versamel. In Turkye trotseer byeboere woude met gevaarlike bere in die Kaçkar-berge bokant die Swart See om dié gesogte heuning in die hande te kry.

Tog is dit nie soseer die dol heuning self nie, maar veel eerder die assosiasies wat daardeur opgeroep word, wat as skakel tussen van die verhale in die bundel funksioneer: die simptome wat die inname van dol heuning kan veroorsaak; die gebruik van dol heuning as ’n “wapen” tydens oorlogvoering (Harissis en Mavrofridis 2013:730) om niksvermoedende vyande onskadelik te stel,[iv] maar ook die uiterstes waartoe iemand moet gaan om dol heuning in die hande te kry.

In sy bekentenis “What it’s like tripping on mad honey” beskryf die Russiese joernalis Niko Vorobyov sy reaksie op die inname van ’n paar lepels dol heuning soos volg:

A light, gently pleasant buzz flowed over my whole body. I felt slightly dizzy and relaxed, and had a mild sense of lightness and euphoria, even though my head felt a little heavy. Feeling lazy, I didn’t want to stand up from my chair, and things did seem slightly slower and dreamlike.

Ofskoon dit slegs by uitsondering deur dol heuning veroorsaak word, speel droombelewenisse en -toestande ’n deurslaggewende rol in die bundel. Soms verbeel karakters by wyse van dagdrome meer aanneemlike realiteite en/of oplossings vir hul probleme. Voorbeelde hiervan is Frans se voorneme in “Fawzi al-Junaidi” om hulle huis in die mark te sit en kommervry in die Tsitsikamma-woud te gaan woon (24–5) en Marcus se droom van die aanbreek van  ’n “nuwe seisoen” (87) terwyl hy doel- en rigtingloos deur die sneeu voortstrompel aan die einde van “Wonderwerk”. Ander kere bring drome vir karakters helderheid en insig, of spoor dit hul tot doelgerigte handeling aan, soos Laura se nagmerrie oor haar besoek aan platform 14 op Parkstasie (132) in “Die dal van doodskaduwee” of Mark se laaste droom in “Warm kompos”, waarin sy rou uiteindelik ’n duideliker objek vind en hy oplaas van sekere spoke uit die verlede ontslae raak (164–5).     

III

Die omslag van Dol heuning bevat ’n afdruk van die landskapskildery Ottoline VI deur die Britse kunstenaar David Wightman. Dié skildery, asook die voorbereidende skets daarvoor (wat Wightman “Cartoon for Ottoline” noem), is by die katalogus van Wightman se eerste solotentoonstelling getiteld Empire in 2016 ingesluit.

Ottoline VI, akriel- en muurpapiercollage op (skilder)doek, 80 x 120 cm

As kunstenaar is Wightman veral bekend vir sy helderkleurige, fiktiewelandskapskilderye en -afdrukke. Die oppervlakke van sy akriellandskappe bestaan uit ’n collage van handgesnyde, getekstureerde muurpapier wat op skilderdoek of -bord aangebring word deur middel van ’n tegniek soortgelyk aan inlegwerk (marquetry).

Oor Wightman se kleurvolle landskappe skryf Sarah Long (2016) die volgende in die katalogus wat die Empire-uitstalling vergesel:

The intricate collaged wallpaper and unusual colour choices are compelling: they function as abstract compositions as well as imaginary vistas. His paintings offer a glimpse of another world – seemingly real yet entirely fictional.

Dié gedagte van ’n blik op ’n “ander” wêreld – oënskynlik werklik, maar terselfdertyd heeltemal fiktief – kan uiteraard ook op Naudé se verhale van toepassing gemaak word. Lesers van die verhale in Dol heuning kan beslis ook ag slaan op Cherie Frederic, redakteur van Aesthetica Magazine, se raad aan die besigtigers van Wightman se landskapskilderye: “You must spend time with Wightman’s paintings; on the surface they are beautiful and intricate and like the layers they are made from, there is so much depth.”

Soos in die geval van Wightman se skilderye, is dit veral die gelaagdheid, die opeenstapeling van betekenisvlakke, wat Naudé se verhale so boeiend en onthutsend maak (vergelyk ook Myburg 2021). Agter die “glashelder” oppervlak van elke verhaal is daar allerlei donker skadu’s aan die roer. Enersyds blyk dit uit die herhaalde gebruik van beelde waarin oënskynlik onskuldige oppervlakke mettertyd verontrustende kerne/dieptelae onthul – die beeld van die Maagd en Suigeling wat na “jare in die duisternis” (77) in “Wonderwerk” uit ’n afgekapte boomstam verskyn; die “rimpeling van onderaardse vuur” deur die koue bos waarin Mark en Chloë in “Warm kompos” vakansie hou; die skielike roerings van die “siel van die wese” (194) in die diervel waarin Thomas hom in “Berg” (die eerste deel van “Landskappe met figure”) toewikkel; en die gloeiende palings wat telkens onder die kalm oppervlak van die poel verskyn wanneer Christophe hulle in “Vallei” (die tweede deel van “Landskappe met figure”) voer. Andersyds raak die leser ook bewus van allerlei simboolvelde en bewussynstoestande wat in elke verhaal op verwikkelde wyse oor mekaar skuif en die leser se soeke na sluitende interpretasies bemoeilik. In hierdie opsig ervaar die leser van Naudé se kortverhale ’n soortgelyke gewaarwording as die karakter Frans in “Fawzi al-Junaidi”[v]:

[H]y probeer, terwyl hy rondrol, die indrukke van die afgelope paar dae by mekaar uitbring. Om een of ander voorlopig singewende verband te trek tussen die sambokaanval, die hadidas en die snelgroeiende riete. Iewers moet ’n verborge patroon begin vorm … (15)

Een van die merkwaardigste aspekte van Naudé se verhale is egter dat daar nie sprake is van ’n enkele verborge patroon wat uiteindelik vorm aanneem nie, maar eerder van voortdurend verskuiwende betekenislae wat hulle met elke lees (of herlees) van die verhale in nuwe patrone rangskik.

IV

Wat oorhoofse tematiek betref, kan daar ’n subtiele fokusverskuiwing ten opsigte van Naudé se opeenvolgende prosawerke aangetoon word. In al drie – Alfabet van die voëls; Die derde spoel (2017) en Dol heuning – staan intiem persoonlike verhoudings (en veral ouer-kind-verhoudings) sentraal. Die fokus val egter in elke teks op ’n ánder figuur in die triade: moeder, vader en kind.

Teenoor Erika Terblanche erken Naudé dat sy terugkeer na Suid-Afrika ná ’n verblyf van 16 jaar in die buiteland hom die geleentheid gegee het om nader aan sy ouers te wees. Sy ma is egter kort na sy aankoms in Suid-Afrika met kanker gediagnoseer en nie lank daarna nie oorlede: “Mens kom terug na die moederland en saam daarmee is ’n verlies van ’n moeder. Dan projekteer jy die een op die ander […] ’n komplekse soort ervaring.” Iets hiervan vind neerslag in Alfabet van die voëls, ’n bundel wat Naudé aan sy oorlede moeder opdra en waarin daar talle spore/tekens van die moederfiguur, maar ook die moederland en -taal is.

Wanneer Sandrien Gouws, die hoofkarakter in “Die mobile”, met borskanker gediagnoseer word, begin sy haar gesin (en veral ook haar eie bejaarde ma) afskeep ten koste van die armes, siekes en vigslyers in die streek vir wie sy op bykans verbete wyse ’n reddende en vertroostende plaasvervangerma probeer wees. In “’n Meester uit Duitsland” sien die hoofkarakter sy ma kort voor haar kankerdood vir die eerste keer in sy lewe naak. Hoewel hulle albei verleë wegkyk en maak of dit nie gebeur het nie, merk die hoofkarakter later op:

Die retina laat die beeld tóg nie los nie, […]. Dit bly hom by. Hy wonder wat dit beteken, die draling daarvan. Ja, dit dra wel iets daarin van toe en nou, die man vóór die tyd en ná die tyd. Hoe hy die onderskeie selwe behoort te konstrueer, sal hy nooit weet nie. Maar hy weet dit is ’n skeidslyn, ’n ligflits waarin alle beskerming weggeruk word. (79)

Die hoofkarakter in “Oorlog, bloeisels” vergelyk die versorging van sy sterwende ma met ’n oorlogstryd – ’n voortslepende veldslag waarin hy as volwasse kind “die instinkte en trots van sy terminaal siek ouer moet teenstaan” (Olivier 2012). En in “Moederskwartet” lei die besoek wat Ondien om die beurt aan haar sibbe in die buiteland bring, tot ’n herbesinning oor haar verhouding met haar ma (wie se begrafnis sy nie eens bygewoon het nie), maar ook oor haar ambivalente band met haar moederland (Suid-Afrika) en moedertaal (Afrikaans).

In Naudé se debuutroman, Die derde spoel, verskuif die moederfiguur na die agtergrond, terwyl dit veral die vader (en by implikasie ook die vaderland) is wat ’n lang, dreigende skadu oor die verhaalgebeure gooi. In hierdie opsig merk Smith (2012:202) heeltemal tereg op: “Ná sy ingenieurstudie in Pretoria ontsnap die protagonis, Etienne Nieuwenhuis, na Londen, ooglopend om diensplig te ontduik, maar in essensie om weg te kom van ’n verdrukkende patriargale bestel waarvan sy politikus-pa die versinnebeelding is.” Etienne doen inderdaad alles in sy vermoë om sy vaderland – “daardie Republiek van Stof” (48) – agter hom te laat. Daar is gewis véél meer as net dienspligontduiking op die spel; dit is eerder “’n opstand teen die patriargie, teen gesag as sodanig – en teen sy eie fascistiese vader in die besonder”. Etienne kom veral in opstand teen die droom wat sy pa ten opsigte van sy toekoms in Suid-Afrika uitspreek: “’n [M]an moet sowel ’n gesin kan onderhou as waardevol wees vir sy land. Die tyd breek aan om die kinderdinge af te skud” (17). Tog is Bernard-Naudé (2017) van mening dat “die beeld van (verlore) kindskap” dwarsdeur die roman by Etienne bly spook.

............
In Dol heuning staan die ouer-kind-verhouding weer eens sentraal, maar nou word dit – anders as in Alfabet van die voëls en Die derde spoel – hoofsaaklik vanuit die perspektief van ’n ouerfiguur (of altans ’n volwasse karakter wat baie graag ’n ma of pa sou wou wees) aangebied.
..............

In Dol heuning staan die ouer-kind-verhouding weer eens sentraal, maar nou word dit – anders as in Alfabet van die voëls en Die derde spoel – hoofsaaklik vanuit die perspektief van ’n ouerfiguur (of altans ’n volwasse karakter wat baie graag ’n ma of pa sou wou wees) aangebied. Ontredderde fokaliseerders besin in verhaal na verhaal oor aspekte van die lewe soos huweliksontrou, kinderloosheid (onvrugbaarheid, miskrame), surrogaat-ouerskap en die uitgelewerde posisie van kinders in ’n onherbergsame, gewelddadige wêreld. Hoewel die kinderfigure in heelparty verhale as slagoffers van hul omstandighede uitgebeeld word (byvoorbeeld Sebastian, Patience se seun en Fawzi al-Junaidi in die openingsverhaal; Xavier/Juliette in “Die dal van doodskaduwee”; en Cian in “Daar is mans”), vertoon hulle in baie gevalle ook buitengewone veerkragtigheid wat vir die volwasse hoofkarakters in die onderskeie verhale tot voorbeeld is.

V

Indien die beskrywing kosmopolities verstaan word as “nie beperk tot slegs een deel van die wêreld nie”, kan ’n mens Bibi Burger (2021:177) en Francois Lion-Cachet (2021) gelyk gee dat Naudé se nuutste versameling kortverhale, net soos sy debuutbundel, kosmopolities van aard is. Die verhale speel inderdaad af in ruimtes so uiteenlopend soos Suid-Afrika, Namibië, Ysland, Engeland, Amerika, België, Oostenryk, Frankryk en Japan, terwyl heelwat van die karakters van een vasteland na ’n ander beweeg.

In ’n artikel getiteld “Perspektiewe op die kosmopolitisme en transnasionalisme in SJ Naudé se Alfabet van die voëls” toon Louise Viljoen (2014:31–47) egter oortuigend aan dat alhoewel ’n mens inderdaad ’n kosmopolitiese bewussyn in die bundel aanvoel “in die wyse waarop die kontemporêre wêreld beskryf word en waarop daar ondersoek ingestel word na die waardes, psigiese konfigurasies en ook estetiese praktyke wat dié nuwe kontekste verg”, die verhale terselfdertyd ook meedoënloos is “in die wyse waarop hulle bepaalde veronderstellings in verband met die kosmopolitiese instelling toets en aan die kaak stel” (Viljoen 2014:46).

Sou daar met kosmopolities bedoel word “tuis op enige plek in die wêreld”, is die meeste karakters in Dol heuning juis nié kosmopolities nie. In feitlik elkeen van die verhale raak die leser bewus van karakters wat op een of ander manier uitgelewer is aan die land- of stadskappe waarin hulle hul bevind. Soos Wightman se landskapskildery op die omslag, is dit dikwels oorweldigende landskappe wat die karakters verdwerg en nietig laat voel. In die drieluik “Landskappe met figure” verwys Thomas veelseggend daarna as sublieme landskappe – “iewers waar die natuur sy uiterste vorm of toestand bereik” (178). Van ekstreme natuurverskynsels is daar heelwat voorbeelde in die bundel: die “kolossale, slingerende bane blou en groen” (45) van die noorderligte in “Dol heuning”, die lewensgevaarlike sneeustorms in “Wonderwerk” en “Berg” (“Landskappe met figure”), die smeulende teenwoordigheid van ondergrondse vure (grondvure) wat baie stadiger uitbrand as bosbrande bo die grond in “Warm kompos”, en die woestynwinde wat elke vier, vyf jaar “tonne sand uit die Sahara” (184) na Griekeland en Turkye oorwaai, waar dit in die atmosfeer opgesuig en dan saam met die sneeu oor die Alpe uitsak in “Berg”. Thomas beskryf laasgenoemde as ’n “toksiese landskap, onwêrelds: Woestyn en sneeutoendra in een” (184).   

Prent ter toeligting (fotobron: https://pixabay.com/photos/aurora-northern-lights-1197753/)

VI

Die verhale in Dol heuning kan ook gelees word as “droewe liefdesverhale”[vi] wat uiteindelik ’n sonderlinge hoogtepunt in “Landskappe met figure” bereik. Maar dan moet ek onmiddellik byvoeg dat dit hier oor liefde en begeerte in die ruimste sin van die woord gaan en dat die aanslag allesbehalwe romanties is. Verhoudings word eerder in ál hul fasette, en soms in morsige en ontstellende besonderhede, belig.

In die openingsverhaal, “Fawzi al-Junaidi”, probeer Frans sy “grensloos geliefde” seun, Sebastian, ten alle koste teen ’n wêreld van geweld (en meer spesifiek die wreedheid van sekere mans) beskerm. Daarom hou hy hom doelbewus weg van die komposhoop waar Sebastian se ander pa, Johannes, van die “veragtelike” hadidakuikens ontslae raak en probeer hy sy ore toedruk wanneer Patience vertel wat met haar seun gebeur het. Anders as in baie ander Afrikaanse verhale waarin stedelike huiswerkers figureer,[vii] is Patience nie die toonbeeld van lydsame geduld en deemoedigheid wat haar eie gevoelens sublimeer en slegs praat wanneer daar met haar gepraat word nie. Aan die begin van die verhaal draai sy haar rug veelseggend “op die wasbak vol skottelgoed” (9) en konfronteer sy vir Frans (en by implikasie dus ook vir Sebastian) met die verhaal oor die mans wat haar seun tydens ’n gewelddadige homofobiese aanval by ’n sjebien met sambokke verrinneweer het. Haar vertelling is ’n aanklag, aangesien haar seun voor Sebastian se geboorte vir Frans en Johannes “soos hul eie kind” (met ander woorde soos familie)[viii] was. Wat vir Frans veral soos ’n “skuldlem” (18) in sy borskas voel, is die bewustheid dat hy hierdie seun se naam nie kan onthou nie:[ix]

Dié kind, die een wat hulle jare lank amper elke dag gesien het, wat hulle soveel honderd male geroep en aangespreek het, wat ’n tyd lank soos hulle eie was, lê nou tussen hospitaallakens met bloedhale oor sy rug, sy vel oopgebreek. En Frans weet nie wat hy hom moet noem nie. (18)

Soos familie deur Ena Jansen (erkenning: https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-soos-familie-deur-ena-jansen/)

Ten spyte daarvan dat hulle getroud is, is daar in “Dol heuning” sprake van ’n onoorbrugbare kloof  tussen die hoofkarakters, Ellen en Andrew. In die verhaalhede rig Andrew, soos etlike jare vantevore, ’n uitnodiging aan Ellen om hom by die Borg-hotel in Reykjavik te ontmoet. Hoewel Ellen Andrew se beweegredes met agterdog bevraagteken, blyk dit mettertyd dat hy – bykans op desperate wyse – eintlik net die een of ander emosionele reaksie by Ellen probeer ontlok: die eerste keer was dit met sy bekentenis dat hy ontrou is aan haar; dié keer aan die hand van die potjie dol heuning wat hy vir haar gekoop het. By Andrew is daar die hoop dat die dol heuning, benewens liefdesdwelm, ook ’n geneesmiddel vir die gapende kloof tussen hulle sal wees. Ongelukkig is ook die uitwerking van sy dol heuning net tydelik, en boonop nie naastenby kragtig genoeg om die hart van iemand te verower wat “temperamenteel eenvoudig nie geskik is vir saamwees met enigiemand nie” (35).  

In “Wonderwerk” ontstaan daar weldra ’n uiters verwikkelde driehoeksverhouding (liefdesdriehoek?) tussen Lev Brackmann, senior vennoot en hoof van samesmeltings en oornames in ’n vooraanstaande New Yorkse regsfirma, die hooffokaliseerder van die verhaal, Marcus, “een van Lev se ratsste en mees produktiewe assosiate” (54) en die Kastiliaanse kunstenaar Guillermo, wat om den brode as posafleweraar by die regsfirma werk. Wanneer Marcus ’n verhouding met Guillermo aanknoop, maak hy voorbrand vir sy kunswerke by Lev “met sy geraffineerde smaak en klaarblyklik vlymskerpe aanvoeling vir die kunsmark” (68). Dit wil egter voorkom asof Lev se groeiende belangstelling in Guillermo min met kuns te doen het. ’n Beduidende deel van Marcus se wonderwerk (bespiegeling) in die verhaal het te make met Lev se skielike belangstelling in Guillermo: “Marcus vind Lev se belangstelling in Guillermo moeilik om te verklaar (…) Dis asof Marcus se verbintenis met die Spanjaard spesifiek Lev se interesse dryf” (68). Later merk hy bykans verras op dat Guillermo die interaksie tussen hom en Lev buite die kantoor “lubriseer” (73). Uiteindelik kom daar bloedweinig tereg van die “wonderwerke” waaraan Marcus en Guillermo hulle harte gehang het (bevordering tot vennoot en opgang in die kunswêreld onderskeidelik), terwyl Lev op uiters geslepe wyse ’n (dodelike) wig tussen die “bloedbroers” indryf.

“Twee libretto’s” kan gelees word as die kort, liturgiese liefdesverklaring deur ’n moeder aan haar pasgestorwe seun (in altstem) en die seun se aangrypende antwoord daarop (in kontratenoor). So beskou, roep dié verhaal onwillekeurig die moeder-en-kind-beeld wat in die vorige verhaal so wonderbaarlik uit ’n ou boomstam bevry is, in herinnering.

Kort na haar verhuising van Kaapstad na Johannesburg moet Laura, die hoofkarakter in “Die dal van doodskaduwee”, haar motor op Parkstasie gaan afhaal. Haar besorgde buurvrou, Jenna, wat met sovéél sekerheid weet uit watter oorde bedreiging verwag kan te word, waarsku haar: “Jy begeef jou in ’n dal van doodskaduwee, angel” (90). Op platform 14 raak Laura bewus van ’n dolende jong seun oor wie sy haar onmiddellik ontferm. Jenna se kamstige besorgdheid oor Laura se veiligheid word op so ’n wyse teen Laura se opregte ontferming oor Xavier/Juliet afgeteken dat die verhaal uiteindelik ’n waarskuwing word teen die oorhaastige, oningeligte wyse waarop daar soms tussen welwillendheid en kwaadwilligheid in dié wye en droewe land onderskei word. Wanneer Laura aan die einde van die verhaal op platform 14 van Xavier afskeid neem en sê “ek is lief vir jou”, weet sy ook dat niks wat sy doen ’n verskil aan Xavier se situasie kan maak nie. Op die reis deur die dal van doodskaduwee is elkeen uiteindelik op slegs hom-/haarself aangewese. Daarom is dit uiters gepas dat die geluid van Ansel se weeklaag nie net opstyg na die plafon van die stasie en die massiewe ruimte van die hoofsaal vul nie, maar stadigaan ook uitsypel na die res van die stad.

In “Warm kompos” verlaat Mark se vrou, Chloe, hom tydens hul vakansie in ’n houthuis naby die see. Hoewel Mark Chloe se vertrek aanvanklik as onverwags en skielik ervaar, besef hy egter soos wat hy aan hul lewe saam terugdink dat dit in ’n sekere sin heeltemal onvermydelik/onafwendbaar was. Net soos die woud waarin hulle nou tuisgaan, was hulle huwelik nog altyd ’n “koue bos” (148) wat uit die staanspoor besonder “broos” was. Sonder dat hulle dit besef het, en ten spyte van al hulle pogings om die verhouding tussen hulle te versterk en te versier, het ’n “onderaardse vuur” stadig maar seker begin versprei en die vlak boomwortels doodgebrand. “Behalwe dalk vir ’n bietjie stomerige rook en gifdampe” (155) het alles bogronds min of meer dieselfde gelyk, totdat die bome hulle blare begin verloor en geleidelik begin wegkwyn het: “’n Onsigbare vuur. Stille verwoesting” (155). By haar vertrek snou Chloe Mark die volgende woorde toe: “Laas nag het ek wakker geword en besef: Jy het die blik van die kadawer wat ek ’n jaar lank op Universiteit moes dissekteer. Tot daar omtrent niks van hom oor was nie” (156). Hierop antwoord hy veelseggend: “Gaan kyk maar in ’n spieël. Jy kyk met daardie selfde oë vir die kadawer terug” (157). Dat die doodsheid wat hulle hier op mekaar projekteer, onlosmaaklik verbind is met Chloe se miskraam en die gedagte dat die sorgvuldig ingerigte babakamer oornag “die koudste kamer in ’n koue kasteel” (163) geword het, blyk veral uit die drome wat Mark na Chloe se vertrek droom. Dit is veral tydens sy “laaste droom in die boswoning” (164) dat sy rou ’n duidelike objek vind en daar ’n gevoel van berusting by hom begin daag. 

Die titel “Daar is mans” roep Patience se verwysing na “[d]aardie mans” (10) wat haar seun so gewelddadig in die openingsverhaal aangerand het, op ironiese wyse in herinnering. Dié verhaal suggereer dat daar wel mans is vir wie geweld nie die antwoord of die finale uitweg is nie. Jacob, wie se vrou hom verlaat het, onder meer oor sy “afsydigheid” teenoor sy eie dogters, ontwikkel ’n toegeneentheid teenoor Cian, ’n hawelose jongman wat deur sy ouers verstoot is as gevolg van sy homoseksualiteit. Wanneer Jakob aan die einde van die verhaal nie net die toegedraaide present aan Cian oorhandig nie, maar ook die oorgroot oopknooptrui om hulle hang met die gedagte “[s]oos ’n saamgegroeide tweeling, sal hulle kort voor lank snoesig teen mekaar insluimer”, slaag hy daarin om iets te doen wat Laura so graag in “Die dal van doodskaduwee” vir Xavier wou doen.

Die drieluik “Landskappe met figure” bevat drie opeenvolgende tydsnitte uit een van die interessantste persoonlike verhoudings wat ek die afgelope tyd in fiksie teëgekom het, naamlik dié tussen Thomas, wat as assistent by ’n uitgewer van niefiksie werk, en sy vriendin Mio, wat ’n pos by ’n Europese beleggingsbank beklee. Die verhaal karteer die komplekse landskap van die verhouding tussen hulle, wat aanvanklik as “onwrikbaar nieseksueel” (178) beskryf word. Tydens sowel die skivakansie in die Italiaanse Alpe as die besoek aan Mio se vriendin, Ngako, in Auvergne (Frankryk) voel Thomas diep gekwel oor die skeiding waarvan hy tussen hom en Mio bewus is. Wanneer Mio Thomas in die laaste verhaaldeel in Namibië besoek, merk sy ook by geleentheid verwytend op: “Ek dink nou terug aan die berge, daardie naweek in die Alpe ... Daar waar jy my so skielik verlaat het” (226–7). Na ’n uiters onbeholpe (en uiteindelik ook onsuksesvolle) poging tot erotiese samesyn in ’n tentjie in die woestyn, staan Thomas en Mia die volgende oggend “los van mekaar” (231). Op die oog af lyk hulle na “’n paartjie: loslittige verliefdes, minnaars. Maar in werklikheid is die verhouding iets heel anders – meer intens, en met vaer grense” (231). En dit is uiteindelik juis hierdie onvaspenbaarheid wat vir Thomas troos bring:

Daar is troos in vreemdheid, besef Thomas. Hierdie volstrekte nuwe afstand tussen hulle, die onoorbrugbaarheid daarvan, paai hom, stel hom gerus. Nou, vir die eerste keer, terwyl hy rondkyk, maak die vreemdheid van hierdie plek ook vir hom sin: al die teenstellinge en onbestaanbaarhede van die dorp met sy Duits-koloniale geboue en duine en golwe. Hy berus in die manier hoe alles hom hier wegstoot en afwys. Dis waaruit hy betekenis kan konstrueer, uit die afwysing. En uit die vergeet – hy wat die plek amper vergeet het, die plek wat amper van hóm vergeet het. Dit is wat hom vorm gee, of minstens, hom sy eie vormloosheid help aanvaar. Hy dink aan al die duine, soos ’n reuse-vel papier. Selfs sy kinderjare wat hy nie kan aanskou nie, kan hy nou daar in groot letters in die sand skryf en dan behoorlik uitvee. Teen die weidse woestyn maak alles sin, kan alles langs mekaar geskryf word. En dan waai die wind oornag en is daar die volgende oggend weer ’n skoon bladsy. (231)

VII

Ek weet van min kortverhaalbundels waarin uiterlike én innerlike landskappe op so ’n genuanseerde, geloofwaardige en uiteindelik ook aangrypende wyse gekarteer word soos in Dol heuning.

 

Bronne geraadpleeg

Barnard-Naudé, J. 2017. Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay. https://www.litnet.co.za.

Burger, B. 2021. Dol heuning. (Resensie). Tydskrif vir Letterkunde, 58(1):177–8.

Harissis, HV en G Mavrofridis. 2013. “Mad honey” in medicine from antiquity to the present day. Archives of Hellenistic Medicine, 30(6):730–3.

Hess, P. 2020. Mad honey: What to know before eating hallucinogenic honey from Nepal. https://www.inverse.com.

Jansen, E. 2015. Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste. Pretoria: Protea Boekhuis.

Lion-Cachet, F. 2021. In gesprek met SJ Naudé oor sy kosmopolitiese skryfwerk. Klyntji. https://www.klyntji.com.

Long, S. 2016. Introduction: David Wightman. Empire. Londen: Long & Ryle.

Myburg, J. 2021. Boek van die maand: Dol heuning deur SJ Naudé. Maroela Media, 25 November. https://wwwmaroelamedia.co.za.

Naudé, SJ. 2011. Alfabet van die voëls. Kaapstad: Umuzi.

—. 2017. Die derde spoel. Kaapstad: Umuzi.

—. 2021. Dol heuning. Kaapstad: Umuzi.

Olivier, F. 2011. Die skrywer as voëlwiggelaar. https://www.slipnet.co.za.

Opperman, AJ. 2021. SJ Naudé keer terug na sy groot liefde: kortverhale. Die Burger, 26 Mei.

Smith, F. 2018. Die derde spoel. (Resensie). Tydskrif vir Letterkunde, 55(1):202–4.

Terblanche, E. 2017. SJ Naudé (1970–). ATKV/LitNet-Skrywersalbum. https://www.litnet.co.za.

Van den Berg, C. 2011. Onder skuil dieper, donker worstelings. Beeld, 30 Oktober.

Viljoen, L. 2014. Perspektiewe op die kosmopolitisme en transnasionalisme in SJ Naudé se Alfabet van die voëls. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 21(1):31–47.

Vorobyov, N. 2022. What it’s like tripping on mad honey, the hallucinogenic that (maybe) is an aphrodisiac. Salon. https://www.salon.com. 10 April.

 

Eindnotas

[i] Die woorde wat AJ Opperman in die titel van sy bekendstellingsartikel oor Dol heuning in Die Burger gebruik.

[ii] SJ Naudé ontvang in 2019 die Hertzogprys vir prosa vir sy debuutroman Die derde spoel en dieselfde toekenning in 2022 vir sy kortverhaalbundel Dol heuning.

[iii] Grysnotoksien is ’n neurotoksiese verbinding wat simptome kan veroorsaak wat verband hou met die Engelse toksologiese akroniem daarvoor, naamlik sludgesalivation, lacrimation, urination, defecation, gastrointestinal distress (spysverteringsprobleme) en emesis (braking)

[iv] Reeds in 401 vC het Xenophon, ’n Atheense skrywer en krygsman, beskryf hoe sy manskappe deur dol heuning vergiftig is tydens hul terugkeer van ’n stryd in Turkye. In 67 vC het Romeinse soldate, onder aanvoering van generaal Pompey, die Swart See-gebied ingeval met die doel om Turkye te beset. Hulle is egter vergiftig deur heuningkoeke vol dol heuning wat die ondersteuners van koning Mithridates op hulle pad geplaas het. Hulle het, volgens oorlewering, opgegooi en soos “mal mense” opgetree, maar die volgende dag reeds beter gevoel.

[v]  Fawzi al-Junaidi is die sestienjarige Palestynse seun wat op ’n persfoto verskyn het wat wêreldwyd voorgehou is as bewys van magsmisbruik deur die Israeliese weermag. In die openingsverhaal sien Frans een aand op BBC News hoe dié tenger Palestynse seun met ’n wit lap as blinddoek oor sy oë hardhandig deur swaargewapende soldate gesleep-dra word.

[vi] Francois Smith (2017:203) bestempel die tweede deel van Die derde spoel as ’n “droewe liefdesverhaal”.

[vii] Ek dink hier veral aan die verhale “Agterplaas” en “Telefoon” deur Elsa Joubert en “Season’s Greetings” deur Rachelle Greeff.

[viii] In haar boek Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (2015) besin Ena Jansen krities oor die diskoers waarin stedelike huiswerkers deur hul werkgewers as “soos familie” beskryf word.

[ix] Deur hierdie verwysing word Mark Behr se Die reuk van appels (1993) in herinnering geroep, en meer spesifiek die besoek wat Marnus saam met sy ma en suster aan Klein-Neville in die hospitaal bring. Tydens hierdie besoek blyk dit dat Marnus se ma nie weet wat Doreen en Klein-Neville se van is nie, ten spyte daarvan dat Doreen al jare lank in hulle huis werk.

 

Lees ook:

SJ Naudé (1970–)

Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Alfabet van die voëls – ’n Intertekstuele labirint

Alfabet van die Voëls stel hoë eise

Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top