Titel: Alfabet van die voëls
Skrywer: S.J Naude
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415201459
Prys: R153.95
Klik hier om Alfabet van die voëls te koop by Kalahari.com.
Naudé se debuutbundel kortverhale stel hoë eise aan die leser. Dit beloon eweneens daardie leser met ’n voorkeur vir verhale wat minder antwoorde as vrae bied: hoogstens ’n spoor, ’n bekoorlike moontlikheid van wat alles in hierdie digverweefde teks opgesluit lê.
Dié soort kortverhaalbundel, wat onder verskillende benamings bekend staan – roman in schuifjes / roman à tiroir / kortverhaalroman / miniroman – is nie nuut nie, maar het ná Alexander Strachan se Wêreld sonder grense (1997) onlangs in Afrikaans weer oplewing begin toon in onder andere Anna Kemp, Willemien Brümmer, Corlia Fourie en Christine Barkhuizen-Le Roux se werk. Alfabet van die voëls bestaan uit net sewe lang kortverhale (236 bladsye).
Naudé se karakters keer in ’n herkenbare milieu (bykans altyd op reis) terug, omgewe van veranderings in ’n eens bekende wêreld waaruit daar dan opnuut sin gemaak moet word. Die stryd teen kanker loop deur drie verhale. Dié siekte, so onwelkom soos ’n ongenooide en ontydige gas, word ironies ’n onvermydelikheid wat sin aan die lewe gee.
In bykans al die verhale is seksualiteit die uitkoms in ’n vyandige omwêreld, ’n kinderwêreld wat volwassenes moet herinterpreteer, ’n veranderde politieke bestel.
In verskeie verhale blyk kostumering so ontblotend as naaktheid te wees.
Ook eietydse diaspora is ’n sterk deurlopende bewustheid.
Deurgaans is daar ’n liriese bewustheid van voëls, nie noodwendig in hulle bekende simboliese hoedanigheid as draers van vryheid nie, maar as vertolkers, as oervertalers en draers van ’n alfabet wat vir die mens verborge is: “Sy enigste gespreksgenote is swerms duiwe wat op sinkdakke neerdaal. Hy roep hulle, fluister intiem na hulle wanneer die honger sy ledemate swaar begin maak”; “Voëlmis bly soos krom letters op die binnemure agter. Soos Oosterse kalligrafie. Miskien is dít die einde. Laat die voëls dit skryf”; “Die tuinvoëls sal invlieg en oor hul koppe kom woer, ’n einde op hulle kom skryf.”
In sowel “Die mobile” as “VNLS” figureer die eksentrieke Mrs Nyathi (sigaarrokend, worshondjies) nie as die verwagte oermoeder van Afrika nie, maar as ’n verbete gastehuiseienaar met min mededoë vir haar landgenote. Die vroulike hoofkarakters in hierdie twee verhale is wit en bevind hulle al twee in Mrs Nyathi se gastehuis in soortgelyke omstandighede. Die een is ’n verpleegster, die ander ’n musikant, maar in hierdie wyd uiteenlopende beroepe is hulle een in hul soeke na identiteit in die kontinent van hulle geboorte, asook in hulle ontnugtering. Die fonetiese ooreenkoms van hulle name, Sandrien en Ondien, is kennelik nie toeval nie.
“Die mobile”, die eerste van die sewe verhale, is nie net (vir my) die hoogtepunt in die bundel nie, maar dien ook as ’n sleutel vir die ontsluiting van die daaropvolgende temas en ’n sterk individuele styl wat dikwels – maar nooit oordrewe nie – ’n liriese kwaliteit verkry. Hierdie buitengewoon briljante verhaal berig oor sake waarvan ons daagliks in koerante kan lees as ons dit nie persoonlik al waargeneem het nie: die hartelose selfverryking en korrupsie wat so kenmerkend geword het van die huidige politieke bestel – maar sonder die argwaan en snydende menings wat skrywers in briewerubrieke se kommentaar kenmerk. Net die gegewe. Juis. Maar so treffend omdat Naudé elke gebaar en spreekbeurt afweeg, elke paragraaf so vernuftig saamvoeg dat dit meer sê as enige goed-beredeneerde en uitgesponne sosiale kommentaar.
In ’n paragraaf waarin Sandrien haar tweeling by die koshuis gaan haal en hulle afgetrokkenheid – weens haar toenemende betrokkenheid by die gemeenskap in nood – blyk, word Sandrien, ’n kankerlyer, se soveelste sonar byna terloops ingevoeg.
Ewe karig, en daarom so treffend, is beeldende passasies wat die leser ’n glimp in Sandrien se belewing gee van haar man wat al hoe verder van haar af wegdryf. Om net ’n paar voorbeelde te noem: “In die skagte son wat deur die ruite inval, het sy voetstappe veselfragmente laat opfladder wat lank bly dryf en glinster het. Sy probeer vertroud [...] raak met die teksture van verlies. En snags span blitse senunetwerke oor die hemele.” (Maar hoe het ’n onsierlike anglisisme soos “geluidjies onder my asem” (“under my breath”) in plaas van “sag, binnensmonds” ingesluip?)
Ook ruimtelike inkleding is so noukeurig geplaas dat dit telkens betekenis verruim. Direk nadat Walter, ’n man met te veel testosteroon, se oë op Sandrien se borste rus, lees ons: “’n Mot met vals oë gaan sit op Walter se kop. Dit vlieg op toe hy na haar oorleun.”
Só word Naudé se sosiale kommentaar op die vergryp in ons huidige samelewing kragtiger as enige vorm van niefiksie. Hy bekoor en fassineer en ontstel tegelyk sy leser. Daarom bly dit so helder by. Nie net omdat stories harder as feite praat nie, maar veral omdat Naudé reeds in sy debuut so geslyp kommunikeer. Diegene wat moet toesien dat die mediawet-in-wording behoorlik nagekom word, sal beslis ’n streng oog op hierdie talentvolle skrywer moet hou. ’n Buitengewone debuut, wat beskryf kan word met ’n passasie uit die bundel: “Dit bevat ’n ganse tuin, dink hy, hierdie nat blom.”