Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

  • 3

...
Naudé het ’n wye en gekultiveerde verwysingsraamwerk en daar is vele verwysings na kuns en letterkunde. Ook het hy die vermoë om alles, goed en kwaad, te skryf in poëtiese taal wat verruk.
...

Titel: Dol heuning
Skrywer: SJ Naudé
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415210796

SJ Naudé is ’n regsgeleerde wat ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder die skrywer Marlene van Niekerk aan Stellenbosch-universiteit verwerf het. Sy eerste bundel kortverhale wat daaruit gebore is, was die bekroonde Alfabet van die voëls.

Hierdie tweede bundel kortverhale staan geensins vir die eerste een terug nie.

Naudé het elders in die wêreld gewoon, wat sy horisonne verbreed het en hom ’n kosmopolitiese aanslag gee. Hy het aan universiteite in Engeland en die VSA gestudeer en 16 jaar lank in die Noordelike Halfrond gewoon, in New York en Londen. Nou is hy terug in Suid-Afrika. Sy agtergrond, ervaring en kennis van die wêreld en ander kulture rus hom goed toe om gesofistikeerde verhale te kan skryf. Die meeste daarvan speel in die Noordelike Halfrond af, maar ook in plekke dwarsoor die wêreld: New York, Ysland, die Belgiese platteland, die Italiaanse Alpe, Kaapstad, New England, Johannesburg.

Die kleurryke omslag waarop die skildery Ottoline deur David Wightman pryk, en die interessante titel is aanduidings dat hier iets ongewoons is. 

Die bundel bevat agt verhale, die laaste een in drie dele, ses langerig en twee kort. Naudé skryf meesterlik oor uiteenlopende onderwerpe, soos die soeke na identiteit, begeerte, herinneringe, verskillende kulture, rykdom en begeerte, liefde in verskillende gedaantes, gebroke verhoudings, gayverhoudings en -ervarings, die korporatiewe lewe, ouerskap en die verhoudings met kinders, eensaamheid en verskillende kunsvorme.

...
Die verhale is sekerlik bedoel om die leser ongemaklik en selfs geskok te laat. Dit is nie goedvoelstories nie, daarom sal nie almal dit geniet nie. Vir die leser wat iets dieper soek, is dit egter onvergeetlike werk uit die pen van ’n uiters vaardige skrywer.
...

Die eerste verhaal is “Fawzi al-Junaidi”, wat vertel van gegoede mense in Kaapstad wat hulle seuntjie koester terwyl die swart huiswerker se kind ongeregtigheid moet verduur. Twee mans in ’n selfdegeslagverhouding wat ’n seun aangeneem het, word hier gekontrasteer met hulle huiswerker, wie se seun in ’n sjebien met ’n sambok geslaan is omdat hy gay is. Ras en gender word teen die agtergrond van politieke ongeregtighede bespreek.

Die titelverhaal “Dol heuning” speel in Ysland af, waar ’n vrou heuning wat dol maak, saam met die man eet wat haar verlaat het. Dit laat haar vreemd optree. Hulle bring ’n onthutsende aand in die ysige Rejkjavik saam met ’n gewelddadige Rus deur.

In “Twee libretto’s” is die moeder-kind-verhouding onder die vergrootglas. Die moeder weeklaag in die een oor haar gestorwe seun, en in die ander een weeklaag die seun uit die dood.

“Wonderwerk” is ’n ontstellende verhaal.  Lev, wat nie “testosteroondampe” afgee nie en ’n ysige blik het, is die boosaard. Marcus die regsgeleerde en Guillermo die kunstenaar en proefleser vind mekaar. Lev nooi hulle na sy huis in New England waar hy wonderlike kunswerke vertoon. Alles is hipergesofistikeerd, onheilspellend. In dié mooi en kunstige omgewing broei onheil uit. Die leser vermoed die einde sal nie goed wees nie.

In “Die dal van doodskaduwee” moet Laura haar weg vind in die vreemde Parkstasie in Johannesburg. Treine is vertraag, maar sy moet betyds by die huis in die Kaap aankom – die kinderoppasser gaan weg, haar kind moet versorg word. As leser stres en bekommer jy jou saam met die karakter en haar paranoïese bestaan, waar dinge skeefloop en buite beheer lyk.

In “Warm kompos” rafel Mark en Chloe se steriele verhouding uit. Hy is ontwortel toe hulle van oorsee af terugkeer om in Suid-Afrika aan te pas. Sy is die verdiener, hy die tuisblyer wat nader aan die aarde lewe en tuinmaak, wat soekers na die Heilige Gees en spiritualiteit teëkom. Hy hunker na wat was, maar sy beweeg aan.

“Landskappe met figure” is ingedeel in “Berg”, “Vallei” en “Woestyn”.

In “Berg” is die karakters vasgevang deur sneeu. Die kabelkar werk nie; hulle skuil in ’n berghut en moet gered word. Daar is ’n verwysing na die liggaam van Ötzi, ’n man van 3 300 of wat voor Christus. Hy is in die vroeë 1990’s in die ys gevind en sy liggaam het behoue gebly weens die koue. Wat gaan met die mense op die berg gebeur? Sal iemand doodvries?

In “Vallei” beland Thomas en Mio in ’n kloustrofobiese kasteel waaruit hy wil ontsnap. Mense tree vreemd op. Een van die eienaardige verskynsels by dié plek is ’n dam vol glimmende palings. In hierdie en elke ander donker verhaal is daar eensaamheid, ’n soektog, ’n sensasie van vasgevang wees.

Naudé is afkomstig van Namibië en in sy beskrywings in “Woestyn” wys hy die houvas wat so ’n heimat op ’n mens het: “Hoeveel groter is hierdie onmoontlike ruimte nie as ’n sameflansing van letters nie. Hoe laat dit sy bors toetrek; hoe is dit in elke vesel van hom ingebrand ... Hy is aan hierdie plek vasgeketting soos ’n honger en gehawende hond.”

Naudé het ’n wye en gekultiveerde verwysingsraamwerk en daar is vele verwysings na kuns en letterkunde. Ook het hy die vermoë om alles, goed en kwaad, te skryf in poëtiese taal wat verruk.

Voorbeelde:

(Vlinders ...) “vliet onsubstansieel in die lug rond. Asof hulle uit papier gesny is …”

(Priesters het) “met hul naakte hande geboue opgerig wat kranse duiselend aankleef.”

“Na ’n paar jaar weg van mekaar het hulle uiteindelik daardie kamer van versweë verwagtinge binnegetree.”

Die bundel mag dunnerig lyk, maar dit is ’n ryk leeservaring, uitdagend, met ’n goeie skeut melankolie. Die verhale is sekerlik bedoel om die leser ongemaklik en selfs geskok te laat. Dit is nie goedvoelstories nie, daarom sal nie almal dit geniet nie. Vir die leser wat iets dieper soek, is dit egter onvergeetlike werk uit die pen van ’n uiters vaardige skrywer.

Lees ook:

Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n resensie

Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Alfabet van die Voëls stel hoë eise

LitNet Akademies-resensie-essay: Alfabet van die voëls – ’n Intertekstuele labirint

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 3

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Naudé is afkomstig van Namibië? Sover my kennis strek, is hy gebore in Pretoria.

    Vir my is hy soos Willem Anker en Ingrid Winterbach, skrywers wat jou voortdurend uitdaag en meesleur. Net soos Hans Pienaar in sy roman Kaap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top