Foto: Joanne Olivier
|
Sêgoed van SJ Naudé “Om in Engeland of New York te studeer en te werk, word ’n soort vertalingsproses. Jy vertaal wat jy beleef in jou eie emosionele en kulturele raamwerk. Jy bewoon ’n soort tussenwêreld, nie heeltemal van daar nie en geleidelik nie meer heeltemal van hier nie. Daar’s baie opwinding, maar ook ontreddering.” (Rapport, 17 Junie 2012) “Skryf kan ’n poging wees om deur verlies te tas. Maar mens moet natuurlik ook nie die outobiografiese oorskat nie. Dit gaan oor verdraai en verraai van die werklikheid op elke denkbare manier; jy gebruik allerlei gegewens vir jou eie bose doelwitte.” (Rapport, 17 Junie 2012) “As mens skryf – vir my in elk geval – ondersoek jy nuanses van menslikheid. Dis heeltemal ’n ander soort waardestelsel as dié waar dit gaan oor geld.” (Rapport, 17 Junie 2012) “Ek skryf vir die mense wat na Die Antwoord luister. En ek protesteer teen die idee dat Afrikaans en skryf in Afrikaans ’n al hoe kleiner gehoor kry. Daar moet maniere wees om verby dit te beweeg.” (Rapport, 17 Junie 2012) “Die aanpassing na sestien jaar weg was nie maklik nie. In ’n mate is ’n mens weer ’n immigrant in jou eie land. Jy kyk met vervreemding na die ommuurde bestaan, met afstand na jou moedertaal.” Oor resensente se mening dat die Afrikaner-diaspora as “selde so onherbergsaam” in sy boek uitgebeeld word, en die verwysing na ’n byna apokaliptiese sfeer in een van die stories: “Dink jý ook so? Want dit was nie of ek dit vooraf beplan het nie. Jy skryf omdat jy wil uitvind wat jy wil sê.” Oor die verskil tussen roman- en kortverhaalskryf: “Veral in die afgelope 80 jaar is die grense van prosagenres dikwels getoets. My eie gepubliseerde verhale is nie juis tradisionele moderne kortverhale nie. ’n Ervare romanskrywer sou meer genuanseerde gedagtes hieroor hê, maar lang prosa neig natuurlik om met ’n langer tydlyn en meer karakters te werk. Dit maak gewoonlik voorsiening vir ’n meer geleidelike en fasetryke ontwikkeling van karakters, verhoudings en intrige. Goeie romans volg ook dikwels ’n sterk dialogiese/polifoniese benadering – ’n meerderheid stemme of lewensbeskouings wat in prekêre ewewig gehou word. Soos ’n vriend en ervare romansier onlangs teenoor my opgemerk het, neem kompleksiteit waarskynlik eksponensieel toe, eerder as proporsioneel, wanneer mens langer prosa skryf.” (Aan Naomi Meyer op LitNet) “Ek voel gemakliker met die kortverhaal (as die roman). Dis natuurlik nie noodwendig kommersieel die beste ding nie. In Amerika is die mense nog lief vir kortverhale. In Suid-Afrika en Brittanje het mense die afgelope 20, 30, 40 jaar minder kortverhale begin lees. So uitgewers is nie eintlik baie lief daarvoor nie. En dikwels is dit oorskietstukkies prosa wat mense nie elders ingepas kon kry nie. En dan word dit in ’n kortverhaalbundel ingepas. Ek wil eintlik bietjie protesteer teen daardie benadering. Ek dink dis baie rigied om al die fokus op romans te plaas.” (Netwerk24, 26 Mei 2021) Aan Murray la Vita: “Deur te skryf probeer ek naby kom aan al die goed wat ek wil doen, maar nié kan doen nie.” (Netwerk24, 5 Julie 2017) Oor sy gebruik van “eienaardige” woorde in sy boeke (bedolwe, pees, erker, verslibte bene, debiele glimlag of sloom skoffelaar): “Ek weet nie altyd waar die woorde vandaan kom nie; seker maar uit ’n mens se Afrikaanse leeswerk. Maar dit is interessant wat met taal gebeur wanneer ’n mens dit nie praat nie, soos ek wat Afrikaans vir so lank nie gepraat het nie. Dis snaaks as die Afrikaans so dormant lê dan gebeur daar tóg iets daarmee.” (Netwerk24, 5 Julie 2017) |
Gebore en getoë
SJ (Fanie) Naudé is in 1970 gebore, die derde van vier kinders, kleinseun en naamgenoot van Fanie Naudé, een van die stigtersdirekteure van Volkskas Bank. Hy het twee ouer susters en ’n jonger broer.
Hy word groot in Pretoria, in Lukasrand, wat eintlik ’n Joodse woonbuurt was. Hulle was die enigste Afrikaanse gesin in die buurt. “Dit was die spreekwoordelike groen voorstad: pragtige tuine, jakarandas langs die strate, rooi grond en rotse,” vertel Fanie aan Elmari Rautenbach. (Die Burger, 18 November 2011)
Sy pa, Stef, was ’n bekende regsgeleerde wat vandag afgetree is en in Waterkloof woon. Sy ma, Santjie, was ’n wiskunde-onderwyseres en is in 2010 aan kanker dood. Fanie se aangetrokkenheid tot taal en die “ryk, menslike nuanses” daarvan het sy oorsprong in sy ouerhuis gehad waar hy in ’n geborge omgewing grootgeword het.
Toe hy agt jaar oud was, het Fanie voor ’n boekrak in sy ouerhuis gestaan en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins uitgetrek. “Ek het min daarvan verstaan, maar ek het die drang gevoel om dit te lees,” vertel hy in 2012 aan Hanlie Retief. “En die boek het beslis op ’n manier sy merk gelaat.”
Die jong Fanie het die Sestigers een vir een in die boekrak ontdek. “Daar was iets opwindends aan hulle, Leroux en Barnard en Aucamp. Die Sestigers het ’n reuse-invloed op my gehad. Van: Dís hoe mens opwindend kan skrywe. Dis die eerste keer dat ek adrenalien ervaar het by die lees van boeke.”
Sy kinderjare was ’n lewe van min onmin. “Ek het goed met my ouers oor die weg gekom, was heel verbaal en het die swemspan gehaal. Nietemin het ek dit as ’n vreemde, afgeslote bestaan ervaar. As hoërskoolkind in die laat tagtigs het ek van die begin af aan my ontsnappingsprojek gewerk.”
Hy onthou wintersmiddae se witgerypte grasperke, Sondagmiddae se doodse stilte. En: patologiese verveling. Die wêreld van sy kinderdae was die “benouende sosiaal-kulturele een van die 70’s en 80’s”.
Hy het die Afrikaanse skoolpad geloop van Pretoria se oostelike voorstede en was by Afrikaans Hoër “waarskynlik ’n redelike standaard-produk,” vertel hy aan Hanlie Retief (Rapport, 16 Junie 2012). “Maar ek het nie heeltemal tuis gevoel nie, daar het altyd iets gehaper, van life is elsewhere.”
Verdere studie en werk
Ná skool is Fanie na die Universiteit van Pretoria, waar hy in die regte gestudeer het. Tuks was egter net sy “ontsnappingsprojek”, sy kaartjie wég. Ná sy regsgraad aan Tuks word die Prokureursorde se beurs aan hom toegeken om aan die Universiteit van Cambridge in Engeland sy LLM te doen. Met sy vertrek was hy vas van plan dat sy verblyf oorsee permanent sou wees.
By Cambridge was hy in St John’s College. “Dit was verstommend anders en enorm stimulerend. Cambridge was ’n miniatuurwêreld, die soort plek waar ’n mens ’n formele driegangete twee maal per week by jou kollege sou geniet, of op die ingewing van die oomblik vir ’n naweek na vriende se berghut in die Italiaanse berge gaan.
“Ek het soos ’n vis in water in die sosiale lewe ingeglip; my ingegrawe in die kulturele omgewing. As regstudent het ek deelgeneem aan die jaarlikse skynhofwedstryd. Ons het die Britse afdeling gewen en uiteindelik aan die eindronde in New York deelgeneem, wat in die Verenigde Nasies se gebou gehou is.”
’n Jaar by ’n regsfirma in Johannesburg het gevolg, waarna Fanie met ’n Fulbright-beurs vir ’n tweede meestersgraad in die regte na die Columbia-universiteit in New York is. “Daar is ’n rede hoekom mense vertel Columbia was oorspronklik ’n gebou wat sielsiekes gehuisves het. Ná die genteel afrondingskool van ’n Cambridge was hierdie ’n fabriek vir die korporatiewe regswêreld van Amerika – mededingend, hard. Geen kultuur van ’n medestudent help nie. Maar dit was ’n waardevolle jaar. Veral omdat die lewe op Columbia amper ’n oordrewe, ’n cartoon-weergawe van die regte wêreld is.
“Amerika maak jou oë oop. Dit is by tye oppervlakkig, ja, maar dit was eufories om deel te wees van wat toe die middelpunt van die wêreld was en ’n komplekse, aggressiewe en veral gedrewe sakewêreld. In vergelyking daarmee het Londen amper half stowwerig oorgekom.”
Fanie het ingeval by die internasionale regsfirma Shearman en Sterling, waar hy twee jaar gewerk het voordat hy na die firma se Londense kantoor is.
Sy spesialisgebied was die onderhandeling en boekstawing van multimiljardrand-transaksies. In die laat 1990’s het hy as jong regsgeleerde in New York aan die Daimler-Chrysler-samesmelting gewerk.
Voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy in Londen gewerk aan ’n transaksie wat sewe Deense openbare en private vervoerinstellings betrek het. Hy het gereeld tussen Londen en Kopenhagen gereis en het dae van 15 uur lange onderhandelings gelei met die bestuur van regslui op verskillende plekke. Van sy ander transaksies het komponente in tot 60 lande ingesluit.
Dit was ’n gedissiplineerde soort rol. “Jy moet geweldig baie inligting en mense bestuur; dit vra ’n mengsel van gestruktureerde sjarme en gestruktureerde konflik. Mensekennis. Intellektuele dissipline. En verál uithouvermoë.
“My werkdae het bestaan uit 15 uur per dag in konferensie-kamers in ’n staat van beheerste konflik. Ek was ’n huursoldaat.
“Die frekwensie van ’n werkdag was van so ’n aard dat dit vir my amper onmoontlik was om te skryf; om ’n wêreld te betree wat vereis dat ek my moet oopstel. Londen die afgelope twee, drie jaar was ’n slagveld. Kataklisme in die lug; ’n gevoel van groot angs. Dit was ’n druk wat in my begin opbou het; ’n begeerte om uit te breek.”
In Londen het Fanie eers in Soho gewoon en toe ’n plekkie gekoop in SE1, of Bankside. “Dit is suid van die Teemsrivier en oorkant die City of London, naby die Tate Modern-kunsmuseum. Die gebou is deels deur bomme verwoes en eers in die vroeë 2000’s, tydens die eiendoms-boom, deur eiendomsontwikkelaars beetgekry. Aan die een herstelde muur van die gebou is ’n kunsinstallasie aangebring. Dit behels ’n mooi en geheimsinnige aanhaling in letters van staal uit Charles Dickens se The Pickwick Papers. Ek het dit lank daagliks gelees: ‘There are dark shadows on the earth but its lights are stronger in the contrast. Some men, like bats or owls, have better eyes for the darkness than for the light. We, who have no such optical powers, are better pleased to take our last parting look at the visionary companions of many solitary hours, when the brief sunshine of the world is blazing full upon them.’
“Europa is ’n wêreld waar die siklusse van veroudering, verwoesting en herstel en die spore daarvan maar heeltyd rondom ’n mens is.”
Met sy terugkeer na Londen was dit die tyd van die internet-oplewing en Londen het geblom. “Toe ek in SE1 koop, het heelparty yuppies daar begin intrek, maar die ou leerlooiery het steeds daar bestaan, die prostitute en asynfabriek tussen die nuwerwetse kroegies en eetplekke, die ou Shakespeare-teater langs die sjiek solderwoonstelle. Ek het baie gereis. Wat ’n groot indruk op my gemaak het, was hoe opvallend die letsels van die verlede steeds in ’n post-Tweede Wêreldoorlog Europa is. Die fisieke landskap is ’n laslapwerk van littekens – Italië, Berlyn, waar ek ook baie tyd spandeer het. Dis in die weefsel van die geboue om jou en jy voel dit.”
En toe, einde 2009, na dertien jaar in Londen, het Fanie sy beroep as internasionale regspraktisyn by Hewlett-Packard in Londen gelos en teruggekom na Suid-Afrika. Hy het hom ingeskryf vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch. “Ek wou nog altyd skryf. Het toe ek jonger was selfs gepubliseer in Tukkies se studentetydskrif en De Kat. Toe ek in Londen gewoon en dikwels tussen lande gereis het vir werk, het ek soms wel gevind die afgeslotenheid en anonimiteit van hotelkamers is om die een of ander rede bevorderlik vir die kreatiwiteit.
“Ek het begin dink aan terugkeer, met Marlene van Niekerk se meestersgraad in kreatiewe skryfwerk as my doel. Die stuk skryfwerk wat ek moes ingee om gekeur te word – die eerste 40 bladsye van ’n roman – het my ook oortuig ek kan onmoontlik skryf met Engeland as die agtergrond.
“In Amerika en Engeland is daar mos ’n hele industrie van dié soort skryf-meestersgrade. En by heelparty word dit uitgespel: Hierdie is nié psigoterapie-sessies nie ...”
Hy verduidelik sy besluit aan Hanlie Retief: “Ek het my oor ’n lang tyd ingeburger in ’n ander leefwêreld. Mens het gedink daardie tekstuur gaan jou eie word, jy gaan dit internaliseer. Maar saans as jy in die Londense winter sit, dan was die fragmente wat spook in jou kop eintlik maar fragmente van stories en skryfwerk.”
En dan was die behoefte aan skryf soos iets wat plek gesoek het om uit te bars, “soos ’n verstopte pyp wat mens oopmaak”.
Die ekonomiese ineenstorting in Europa was ’n verdere oorweging en die ontnugtering met sy leef- en werkwêreld het gegroei. “Toe besef ek: Daar is nog ’n plek om heen te gaan en daar ís iets anders wat ek lankal wou doen.”
Sy vriende en kollegas was stomgeslaan, want hier gaan doen hy iets wat reëlreg teenoor sy vroeëre lewe en werk gestaan het. “En jy gaan doen dit op ’n marginale plek, in ’n gemarginaliseerde taal. En selfs binne daardie raamwerk skryf ek toe boonop iets marginaals: ’n kortverhaalboek eerder as ’n roman.”
Aanvanklik was sy twee grootste probleme nadat hy hom by Marlene van Nierkerk se kursus ingeskryf het, om hom eerstens oor te gee aan die vertrouensverhouding wat so ’n graad vereis, en tweedens, om op ’n struktuur, of genre, vir sy skryfwerk te besluit.
Hy het amper koorsagtig begin skryf. “Tientalle idees het opgeborrel, te veel en te uiteenlopend vir ’n roman. Ek is waarskynlik te onvolwasse om veeltakig te wees, want ek het aanhou dink te veel sal verlore gaan as ek ’n roman sou skryf. My skryfwerk was eerder van ’n aard waar my energie en tema hulle oor ’n sekere lengte uitwoed. Vandaar die langer-as-gewone kortverhale.”
Marlene het op ’n stadium aan Fanie gesê dat hy moet dink wat hy wil skryf. Hy het oor die kortverhaal gelees en verhale van Edgar Allan Poe en ander Amerikaanse meesters van die kortverhaal, soos Raymond Carver en Tobias Wolff, gelees, asook van die jonger generasie Amerikaanse kortverhaalskrywers, soos Dave Eggers en ZZ Packer, Tsjechof, ook Hennie Aucamp en Koos Prinsloo. “Ek het die premoderne kortverhale gelees, die miniromans van DH Lawrence en begin wonder is dit wat ek is? ’n Miniaturis?”
Sy ervaring van die meestersklas was “ekstaties”. “Om ná soveel jaar die vryheid te kon hê om ernstig oor skryf te praat, om met ander krities oor jou eie skryfwerk te praat ... dis ’n voorreg. Marlene en Willem Anker, haar assistent in die kursus, het ’n manier om wat jy doen, waar jou instinkte lê, as ’t ware uit jou te terg. En as jy hulle eers vertrou, hulle outentisiteit en oordeel, leer jy in die proses jou eie moontlikheidsgrense versit. Ek struwel om dit onder woorde te bring ...”
Fanie het die oorgang tussen steriele regstaal en literatuur “so natuurlik soos die gly in ’n bad vol warm water” gevind. Maar omtrent al die verhale van sy eerste bundel, Alfabet van die voëls, is in die onderste laai gegooi voordat hy eers daaraan gedink het om dit vir iemand te wys. “Jou posisie wanneer jy skryf, is heeltemal ongedetermineer, twyfel lê aan die kern daarvan.”
Maar mettertyd ontwikkel jy wel ’n gevoel vir iets wat werk, wanneer jy jou verras. Dit is ’n proses van vals beginne en valse leidrade en uitvee en oorbegin en dan kom jy op ’n plek waar dit self gebeur, vertel Fanie.
Ná 16 jaar se langafstandverhouding met sy ouers was sy terugkeer ook om nader aan hulle te wees en dit was uit daardie perspektief swaar dat sy ma weg is, aangesien hulle verhouding ’n nabye een was. Fanie is getroud en hy en sy man het ’n seun.
En toe Alfabet van die voëls eindelik in 2011 gepubliseer is, was dit alles die moeite werd, want die resensies was deurgaans oorweldigend positief en André P Brink het dit beskryf as “onder die bestes in Afrikaans ... onmisbaar”. Die Jan Rabie-Rapportprys vir vernuwende literatuur vir 2012 is ook aan Alfabet toegeken. Die toekenning en al die lofpryse het Fanie verras, maar dit is ’n groot blydskap.
Daar is sewe verhale in die bundel en vier daarvan handel oor konfrontasie met siekte en dood, met verlies. Aangesien sy ma kort na sy terugkoms met kanker gediagnoseer is en oorlede is, kom die vraag van hoe outobiografies sy verhale is, by ’n mens op. “Mens kom terug na die moederland en saam daarmee is ’n verlies van ’n moeder,” sê hy. “Dan projekteer jy die een op die ander. Dit was ’n komplekse soort ervaring.”
André P Brink het as volg oor Alfabet van die voëls geskryf: “Die verbysterende verskeidenheid verhale in SJ Naudé se merkwaardige bundel Alfabet van die voëls tel onder die bestes in Afrikaans, gebou op terugkerende motiewe en gegewens soos musiek; vertrek en reis; sprokies en mites; siekte, aftakeling, sterwe en dood; stede; ’n soek na herkomste en oorspronge; vergeet en onthou; instink en rede; dit wat beskryf of gesê is teenoor dit wat vir altyd onuitgespreek of onbeskryfbaar bly; of die plek en gedaantes van die liefde in menslike verhoudings ... dit alles vorm op ’n manier ’n herbesoek aan Willem van der Berg se Reisigers na nêrens (1946) in die post-apokaliptiese toonaard van die 21ste eeu. Vir enige leser wat wil bybly by wat op die voorpunt van die Afrikaanse literatuur gebeur, is hierdie bundel werklik onmisbaar.”
Die uitgewer, Umuzi, het Alfabet van die voëls as volg bemark: “Dit is ’n boek oor ontheemding, terugkeer, die saamleef met verlies. In ‘Die mobile’ raak ’n vrou, self sterwend aan kanker, obsessief betrokke by die lot van vigslyers, verwaarloos alle verhoudings met geliefdes, en skaar haar, in haar verbete stryd teen korrupte en ellendige amptenare, by die geledere van die dooies.
“‘Die lawaaimasjien’ en ‘VNLS’ is albei verhale oor die saamleef met die verlies aan bande met ’n kultuur en ’n kinderverlede. Dikwels word daar in hierdie verhale ’n spanningsveld geskep tussen die bevryding van die verlede en die terughunkering daarna. Die verhale is wyd leesbaar met prikkelende stories, ideeryk met nuwe ruimtes, gebeure en karakters.”
In Rapport (5 November 2011) skryf Louise Viljoen dat die sewe verhale in Alfabet van die voëls langer is as gewone kortverhale, “soos die onlangse verhale van Marlene van Niekerk (’n mentor aan wie Naudé erkenning gee deur enkele kopknikke in die rigting van Agaat en Die sneeuslaper) en internasionale skrywers soos Alice Munro en WG Sebald.
“Naudé se verhale is liries, maar onsentimenteel en presies gefokus op die tersaaklike, dig gelaai met detail en verwysings, maar gestroop van enigiets wat oortollig is. Die verhale word ligweg met mekaar geskakel deur die wyse waarop bepaalde temas en karakters hulle in die bundel herhaal.
“Die bundel gee ’n indringende beeld van die opwinding én ontreddering wat die kontemporêre mens se beweeglikheid binne ’n globale omgewing veroorsaak. Maar nog selde het die Afrikaner-diaspora so onherbergsaam gelyk soos in die twee verhale waarin Ondien die hooffiguur is.
“‘VNLS’ vertel van haar mislukte pogings om saam met die Zoeloe-meisies Beauty en Nungi ’n soort musiek te maak wat op ironiese wyse (hul naam is immers die Victorian Native Ladies’ Society) musikale elemente uit Afrika en Europa vervleg.
“In ‘Die moederskwartet’ besoek Ondien, ná die mislukking van haar band, haar broer en twee susters wat onderskeidelik in Londen, Phoenix en Dubai woon. Elkeen van hulle hunker na die moeder by wie se begrafnis hulle nie kon wees nie. Maar Ondien se lot wanneer sy terugkeer na Johannesburg wys dat die moederland ook geen veilige heenkome bied nie.
“Verwysings na taal, musiek, geluide en geraas stroom in ’n ryk aar deur die bundel. Die taal van voëls word in verskillende mitologieë en kulture beskou as ’n geheimtaal wat die sleutel tot kennis en insig inhou. Om die ‘alfabet van voëls’ te beheers, sou dus ’n teken van groot wysheid wees en ook insae kon gee in die toekoms (soos wat die hooffiguur in ‘’n Meester uit Duitsland’ momenteel ervaar).
“In ’n sekere sin vorm die verhale ’n geheime alfabet wat die leser moet ontsyfer. Die verhale vertel ook van die momente waarin taal ophou om te funksioneer, soos wanneer die seun moet luister na die ‘geluidlose taal’ van sy moeder se pyn.
“Die sterk fokus op die diaspora en kulturele vermenging suggereer ook dat tale hulle in ’n smeltkroes bevind. Dit het besondere implikasies vir die moedertaal wat in dié bundel so vlot hanteer word. Waar lê die grens tussen die moedertaal en ander tale, tussen moederland en aangenome land, tussen verlede en hede? Dit is die soort vrae wat hier ondersoek word.”
Viljoen meen dat dit selde is dat ’n mens ’n debuut met hierdie graad van rypheid en afronding te lese kry.
Ronel Scheffer (Huisgenoot) was beïndruk met die titel van die bundel en dit het haar gemotiveer om dit te lees, en die bundel het al haar verwagtinge oortref. “Soos jy in die eerste storie begin lees van Mrs Edith Nyathi, afgetrede matrone en gastehuiseienaar van Vloedspruit, word dit gou duidelik hier is iets vernuwends en opwindends aan die gang.
“Van ’n terminale kanker- en vigssituasie op dié fiktiewe Vrystaatse dorpie verskuif ons in die daaropvolgende verhale na Berlyn, Pretoria, Japan, Londen en Parys, Dubai, terug na die Vrystaat en uiteindelik na Milaan. Die hoofkarakters is Afrikaners, party met uitsonderlike name soos Sandrien en Ondien.
“Hulle is onpretensieuse wêreldburgers, onsentimenteel, onbeskaamd homoseksueel en onbehep seksueel. Hulle is op die voorpunt van musiek, dans, die argitektuur, die sakewêreld, maar kwesbaar en gekonfronteer met verganklikheid. Dis nie lekkerlees-stories nie, maar ook nie ontoeganklik en humorloos nie. ’n Baie relevante boek. Die bundel is tot dusver uit alle oorde oorweldigend positief ontvang, en as mens na die groot opkoms by die geleentheid kyk, lyk dit of lesers en resensente ewe positief oor die boek voel.”
Tydens die bekendstelling van die boek het Louise Viljoen met Fanie gesels en is hy, volgens Scheffer, tot verskeie kostelike aanhaalbare uitlatings gedryf, soos dat sy Afrikaans (wat in die buiteland in onbruik verval het) “soos ’n oermuskiet in die barnsteen was. Naudé het die oermuskiet nou, tot ons almal se wins, in hierdie bundel op die Suid-Afrikaanse literêre landskap losgelaat.”
Cilliers van den Berg (Beeld, 30 November 2011) beskou die nadenkende en soms byna poëtiese atmosfeer wat die beskrywings kenmerk, as dié aspek wat die verhale in Alfabet van die voëls saambind en onderling met mekaar laat resoneer.
“Waarna hier verwys word, is ’n gevoel vir die onpeilbaarheid van die menslike bestaan, wat soos die baslyn van ’n musiekstuk in die verhale teenwoordig is. Dit bring ooglopende winste, maar ook gevare mee: soos genoem, dra dit by tot die eenheid van die bundel. Maar dit beteken ook dat die trefkrag van die verhale eerder lê in die saamlees daarvan, en nie in die lees daarvan as afsonderlike stories nie. Dit hoef natuurlik nie noodwendig as ’n leemte gesien te word nie, ’n mens wonder net by een of twee van die verhale wat die impak daarvan sou wees as dit in isolasie gelees word.
“Dit is egter ’n bundel van oop eindes en oop betekenisse hierdie en daarom ’n werk wat nie net een keer gelees kan word nie. Dit vra ’n lees, ’n herlees en die trek van onderlinge verbande.
“As daar in die teks ’n appèl aan die leser gerig word, is dit om ontvanklik te wees vir die onverstaanbare, want daardeur kom nie sekerheid nie, maar wel begrip. Soos wat van een van die karakters geskryf word: ‘Alle weë word oopgelaat, alle onsekerhede in ewewig gehou … Alles wat onberymbaar is, mag vir eers maar bymekaar. Sy kan so lank wag as wat dit neem vir die verbindinge om hulself bloot te lê.’ Alfabet van die voëls word sterk aanbeveel vir die ernstige leser van die kortverhaalgenre.”
Op LitNet skryf Jeanette Ferreira dat Alfabet van die voëls hoë eise aan die leser stel, maar dat die leser wat verhale verkies waarin daar minder antwoorde as vrae voorkom (“hoogstens ’n spoor, ’n bekoorlike moontlikheid van wat alles in hierdie digverweefde teks opgesluit lê”), wel beloon sal word.
“Naudé se sosiale kommentaar op die vergrype in ons huidige samelewing word kragtiger as enige vorm van niefiksie. Hy bekoor en fassineer en ontstel tegelyk sy leser. Daarom bly dit mens so helder by. Nie net omdat stories harder as feite praat nie, maar veral omdat Naudé reeds in sy debuut so geslyp kommunikeer. Diegene wat moet toesien dat die mediawet-in-wording behoorlik nagekom word, sal beslis ’n streng oog op hierdie talentvolle skrywer moet hou. ’n Buitengewone debuut, wat beskryf kan word met ’n passasie uit die bundel: ‘Dit bevat ’n ganse tuin, dink hy, hierdie nat blom.’”
Alfabet van die voëls is ook bekroon met die Universiteit van Johannesburg se debuutprys in 2012, asook met ’n SALA-toekenning (2012).
Vir Fanie is daar sekere skrywers wie se werk inderdaad ’n mens se adrenalien laat vloei en die onstuitbare drang ontketen om self te skep:
- The Master of Petersburg– JM Coetzee: Hier kom mens naby aan die kernaard van kreatiewe instink – skryf as oopstelling vir die onverwagse, as ’n epileptiese val. Jy begryp ook: die teks en skeppingsproses herberg altyd hardnekkige restante van misterie.
- Extinction– Thomas Bernhard: Hier leer mens hoe die woordritme van diep woede klink, en leer jy weiering ken – die onwrikbare weiering om selfs ’n enkele bourgeois leuen te internaliseer. Skryf is weerstand.
- Rings of Saturn– WG Sebald: Die skrywer kan uiteenlopende dinge hipnoties vir lesers inmekaar laat vloei bloot omdat dit in sy eie gedagtes saamhoort.
- Embers– Sandor Marai: Alles in die teks is relatief; geen punt van sekerheid bestaan nie.
- Last Evenings on Earth– Roberto Bolaño: Só maak jy elke paragraaf – elke woord – ’n verrassing vir die leser. En by terugskoue lyk die verrassings onafwendbaar!
- Die boek van toeval en toeverlaat– Ingrid Winterbach: Wanneer verlies deur ’n verwoording van onverwoordbaarhede gedeel word, wyk ontroosbaarheid.
- Agaat– Marlene van Niekerk: Oopstelling vir eie broosheid kan genialiteit kataliseer.
“Lees oor die tradisionele sieninge van die moderne kortverhaal,” is Fanie se raad aan voornemende kortverhaalskrywers (LitNet). “Die idee dat dit ’n ‘slice of life’ verteenwoordig – iets wat uit die hoek van die oog gesien word, in die verbygaan; die gedagte van ’n enkele of unieke effek; ’n vertelling wat die eienskappe van ’n sprokie of allegorie aanneem; ensovoorts. Wanneer jy genoeg geoefen het met die tradisionele vorme van ’n kortverhaal, oorweeg hoe mens daarmee kan eksperimenteer.”
Tweedens voel hy dat “reg in die verhaal ingeval moet word, dat die handeling dadelik laat loop moet word. Die eerste sin moet reeds die spanningsopset daarstel en die leser intrek. Spanning word dikwels geskep deur wat weggelaat word, eerder as deur wat gesê word. Oorweeg onheil. Onheil werk goed in die kortverhaal.
“Derdens moet jy jou karakters by die deur inkry. Jou karakters se definiërende eienskappe moet heel gou wys. Daar is min ruimte vir karakterontwikkeling in die kortverhaal. Karakters kan wel ’n epifaniese insig of lewensveranderende oomblik ervaar.
“Die vierde vereiste wat vanselfsprekend belangrik vir die kortverhaalskrywer is, is ekonomie en konsentrasie. Algemene stylreëls, soos stroping van onnodige adjektiewe en beskrywing, geld des te meer.
“Vyfdens moet, terwyl daar geskryf word, aan eenheid gedink word, wat betref die storie en die tema. Probeer onder andere die titel, openingsin en slotsin aan mekaar koppel. Laat die verhaal oor ’n redelik kort tydperk afspeel.
“Skryf die soort verhaal wat jy graag self sou wou lees, is Fanie se sesde vereiste. Jy hoef nie noodwendig te skryf oor wat jy ken nie, maar skryf oor iets wat jy kan verbeel aan die hand van wat jy ken.
“En in die sewende plek hoef jy nie presies te weet waarheen die verhaal gaan wanneer jy begin nie. Moenie ná die tyd wegskram daarvan om te slyp en (soms diep) te sny aan die verhaal nie.
“Laastens is dit belangrik om na jou eie stem te luister. Moenie wegskram van jou weerloosheid nie. Moet egter nooit sentimenteel raak nie – ’n kortverhaal is nie ’n opgaarbak vir eie emosies nie.”
Fanie het intussen Kaapstad toe getrek, waar hy as redakteur by sy uitgewery, Umuzi, werk, en het vir hom ’n woonstel in Tamboerskloof gekoop. Sy plan was om aanvanklik net vir twee jaar in Suid-Afrika te bly en dan na Londen terug te keer, maar nou het hy besluit om te bly, want hier het hy ruimte kom kry vir sy skryfwerk “en baie menslike warmte en gulhartigheid en goeie nuwe vriendskappe”.
“Vir die eerste keer vandat ek hier is, voel ek ... mens moet nooit sê gevéstig nie – jy moet maar jou wortels vlak hou en jou voete fiks – maar dit maak my gelukkig om hier te wees.”
Sentraal-Kaapstad het iéts van Londen se hip ’n’ happening in Bankside, waar hy gebly het, vertel hy aan Hanlie Retief. “Maar in Kaapstad, as jy jou gesig boontoe draai, is daar ten minste son op jou wange. Kaapstad is ’n baie leefbare plek. Dis natuurlik ’n illusie, daardie klein enklave, met die see van armoede buite.”
Intussen is Fanie se Alfabet van die voëls in Engels, Frans en Nederlands vertaal en het hy ’n bekende naam oorsee geword. Hy het self die Engelse vertaling behartig en dit het in 2015 die kortlys van die internasionale Frank O’Connor-kortverhaalbundelkompetisie gehaal.
Fanie vertel op Into the open sea dat hy sy kortverhale in Engels vertaal het omdat hy sy werk aan ’n groter wêreld as net Suid-Afrika en Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse lesers wou blootstel.
Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy gevind dat hoewel hy tydens sy verblyf oorsee uit die aard van die saak hoofsaaklik in Engels gekommunikeer het, hy met sy skryfwerk outomaties teruggekeer het na Afrikaans: “Afrikaans was ultimately reduced to a few ghost movements of the tongue, then became like a code silently pulsing under the skin. But it turned out it had remained preserved, like an ancient mosquito in amber. When I started writing years later, the stone simply cracked open and the Afrikaans resurfaced intact. It was, it turned out, the language that demands to be written in: the language of one’smother, embedded in the bones. It has proven impossible to escape” (Into the open sea).
Oor die vertaalproses vertel Fanie verder: “Not having to consult an author naturally gave me extensive freedom as a translator. Even so, the translation remained quite faithful to the Afrikaans. As I have explained above, achieving a decent level of equivalence generally did not seem too hard, but a number of changes were nevertheless made. Occasionally, sentences were merged or reshuffled for purposes of rhythm and flow. In particular, the last sentence of ‘Mother’s Quartet’, which more explicitly spelled out the violence against the protagonist that would ensue, was deleted – the English text somehow called for a subtler ending. In ‘A Master from Germany’ some of the phrases and sentences that are in German in the Afrikaans text were translated into English in the English version. Whereas German is accessible for Afrikaans readers due to the language’s recent Germanic roots, it would have presented more of a stumbling block for many English and American readers. To the extent German phrases and lines of dialogue were retained, English explanations were embedded in the text.
“Given that the English edition is to be published in South Africa, the UK, and US, it was also necessary to navigate between South African, British, and American English. The South African usage was usually retained for local flavour, except where it would be confusing for a British or American reader.”
In 2013 wen Naudé die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir sy projekvoorstel vir ’n beoogde roman wat “afspeel teen die agtergrond van diaspora en binne ’n kosmopolitiese wêreld, wat daarop afgestem is om ongekaarte gebiede vir die Afrikaanse taalwêreld oop te skryf” (LitNet).
Hy vertel aan Naomi Meyer dat hy baie verras en ook bly en dankbaar was oor die beurs wat hy ontvang het. “Dit is ’n seldsame geleentheid, en nie net in Afrikaans en Suid-Afrika nie. Behalwe dalk vir ’n handjievol gevestigde internasionale skrywers, is dit ongewoon in enige taal en land om ’n kans te kry om vir ’n lang tyd – ononderbroke en ongesteurd deur die daaglikse sleur – aan ’n ernstige roman te werk. Dit is natuurlik ook ’n verantwoordelikheid. Ek ervaar ’n gesonde graad van ontsag in die aangesig van die taak wat voorlê, veral as ’n mens Jan Rabie en Marjorie Wallace se kulturele nalatenskap en hul gulheid van gees in gedagte hou. ’n Mens sal ook graag die vertroue wat die UWK en die beurskomitee in ’n mens stel, waardig wil wees.”
Hy meen dat hy nie weet of hy sonder die Jan Rabie en Marjorie-Wallace-beurse “sommer ’n roman sou aangepak het wat soveel navorsing verg nie. Papier is natuurlik geduldig, en my projekbeskrywing vir die beursaansoek was ambisieus. Enkele dinge verander soos mens aan die roman skryf, maar eintlik het ek verbasend naby aan my plan gebly.”
Naudé sluit sy gedenklesing na aanleiding van die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs so af: “Waaraan ’n mens bly vashou, te midde van al die verwringende kragte, is die idee dat kuns maak – hetsy skryf of ander modusse – ’n laaste manier van weiering is van alles wat kras en brutaal en onmenslik is, dat dit die laaste soort arbeid verteenwoordig wat onverminderbaar spesifiek is aan die individu. Die enigste manier om nog nee te sê.
“Voorlopig, ten minste, hou jy dus verbete aan om die Groot Geheime déúr Afrikaans te probeer benader. Afrikaanse sinne hou halsstarrig in die holtes van jou beendere skuil. Hulle verander pal van vorm, probeer jou ontglip. Jou taak is om ’n greep daarop te kry, om nuwe sonoriteite hoorbaar – of nuwe vibrasies voelbaar – te maak met ou woorde. Watter ander uitweg is daar? Jy pers die sinne moeisaam deur die breinlobbe, filtreer dit deur die skedel. Stadig styg die taalwolk bokant jou kroontjie. Dan wag jy in stilte vir die storm.” (LitNet)
As redakteur by Umuzi moes Fanie hom verdiep in ander skrywers se “kreatiewe strome”, met die gevolg dat dit vir hom moeilik was om self te skryf. En hoewel hy steeds as vryskutredakteur gewerk het, het die beurs hom in staat gestel om twee jaar lank voltyds te skryf en ook om die navorsing wat so nodig was, te kan doen. Die resultaat van die twee jaar lange navorsing en die beurs was Fanie se eerste roman, Die derde spoel, wat in 2017 by Umuzi verskyn het. Dit is ook dadelik in Engels uitgegee onder die titel The third reel.
Op LitNet vertel Naudé aan Naomi Meyer dat Die derde spoel ontstaan het nadat hy enkele jare gelede met ’n dosent in filmteorie van Londen oor spookfilms gesels het. Dit is films van die 1920’s en 1930’s wat verlore geraak het en waarvan slegs fragmente of beskadigde negatiewe oorgebly het: “In daardie tyd is films gesien as vlietende vermaak, en nie die moeite werd om te bewaar nie. Nou is daar filmargiewe en lyste van sulke films, en mense wat hul daarop toespits om dit te probeer vind. Nou en dan kom daar wel ’n afdruk van ’n film wat as verlore geag was aan die lig in ’n ou stoorkamer of solder. My protagonis is obsessief op soek na ’n spookfilm (weliswaar ’n fiktiewe een) in Londen en Berlyn, ’n soektog wat hom in die gevaar in en deur Oos-Duitse doolhowe lei.”
Vir Willie Burger (Vrouekeur, 14 Augustus 2017) voldoen Die derde spoel aan die verwagtinge wat Naudé met sy bundel kortverhale Die alfabet van voëls geskep het: “Talle van die temas uit die kortverhaalbundel word weer ontgin, waarvan die opvallendste waarskynlik ’n aansluiting by die belewenis van globalisering is. Die ekonomiese, politieke en kulturele veranderings wat die wêreld oor die afgelope paar dekades ’n veel kleiner plek gemaak het, met die ongebreidelde uitwisseling van geld, arbeid, politieke invloed en kulturele produkte, raak elkeen van ons. Naudé se werk is ten nouste hiermee gemoeid.
“Ná ’n stadige begin, lees Die derde spoel byna soos ’n speurriller met die spanningslyn van ’n koueoorlog-spioenasieroman. Dit is die verhaal van Etienne, ’n Afrikaanse student uit Pretoria wat, kort voordat hy die graad wat sy ouers wou hê hy moet voltooi, in 1986 uit die land vlug om diensplig te ontduik. Hy beland in Londen en woon saam met ’n klomp jongmense in leë geboue. Hy begin filmkuns studeer. Hy leer talle jongmense van oor die wêreld ken – idealistiese kunstenaars, musikante en aktiviste wat in opstand teen die kapitalisme van Thatcher en die korporatisering van die wêreld is en wat ’n soort hippiebestaan met seks, dwelms en musiek voer.
“Etienne geniet die vryheid wat hy nie in die gemilitariseerde en paternalistiese Suid-Afrika van die 1980’s kon vind nie. Hy raak op ’n Duitse kunstenaar, Axel, verlief en die verhouding neem sy lewe op ’n hele paar kinkels. By die filmskool begin hy met ’n navorsingsprojek oor rolprente wat voor die Tweede Wêreldoorlog gemaak is. Onder vreemde omstandighede vind hy twee spoele van ’n rolprent wat op die Joods-Duitse filosoof Walter Benjamin se herinneringswerk oor die Berlyn van sy jeug gegrond is – ’n Berlyn wat tydens die maak van die rolprent in die 1930’s nie meer bestaan het nie.
“Etienne soek oral na ‘die derde spoel’ van die rolprent – ’n soektog wat hom uiteindelik tot in Oos-Berlyn lei en waar hy kort voor die val van die muur spanningsvolle situasies en verraad beleef. Hy maak vriende met Wes-Berlynse musikante en sluit as tromspeler by hul band aan. Hulle help hom soek na sowel die derde spoel, as na Axel, wat spoorloos verdwyn het. Terwyl die eerste deel van die roman in Londen afspeel en die tweede in Berlyn, speel die laaste derde van die roman ‘elders’ af, onder meer in Suid-Afrika. Etienne keer na Suid-Afrika terug om sy sterwende moeder te besoek. Sy het reeds haar geheue begin verloor, wat by die roman se bemoeienis met die verlede aansluit.
“Die filosoof Benjamin se werk het oor ’n onherwinbare Berlyn van sy jeug gegaan. Die rolprent was ’n poging om iets daarvan vas te vang, maar selfs dit is nou verlore. Ons kan die verlore tyd nooit herwin nie. Hoewel die speurrilleragtige spanning die leser op die spoor van die verlore filmspoel meesleur, is die roman uiteindelik ’n liefdesverhaal oor mense wat deur hul verledes (hetsy deur staatsmasjinerie of die gesin, deur seksuele en politieke onderdrukking) geskaad is. Elkeen dra swaar aan ’n verlede, wat hulle soms eerder sou wou vergeet of anders nie kan of wil onthou nie, en waarna hulle op soek gaan, wat hulle ook nodig het om te onthou. Tussen al hierdie teenstrydighede is begrip moeilik. Ook kuns, musiek, argitektuur en rolprente speel ’n belangrike rol in die roman. Seksuele aantrekking is dikwels oorrompelend en maak intimiteit moontlik, terwyl dit ook soms afstand skep.
“Breyten Breytenbach gebruik die begrip ‘middelwêreld’ om na mense te verwys wat nêrens tuis is nie. (...) Naudé se roman ondersoek bestaan in die middelwêreld. Die prosa is opvallend vars. Die hele verhaal word vanuit die ervaring van Etienne aangebied en al kry die leser fyn besonderhede oor sy sintuiglike waarnemings van die stede, die beton, die staal, die lug, word geen toegang gebied tot Etienne se oorwegings, sy motiverings en volledige emosionele reaksies op alles wat hy ervaar nie. Dit skep ’n bevreemdende gevoel van tegelyk naby wees aan Etienne, en ver, en dit laat die leser ook met ’n ervaring van ontuisheid in ’n oorrompelende wêreld waarin aktivisme nie veel vermag nie en liefde broos is.”
Oor sy belangstelling in die filmbedryf vertel Fanie aan Naomi Meyer (LitNet) dat hy ’n lang ruk al in die kuns van filmmaak belangstel, maar dat hy nog nooit ’n film gemaak of probeer maak het nie. Hy het gemeen dat wanneer hy sy regstudie voltooi het, hy by ’n filmskool sou inskryf, maar dit het ongelukkig nooit werklikheid geword nie.
Hy verduidelik verder: “Ek skram wel ook weg van die logistieke kompleksiteit van die filmmaakproses en die feit dat markkragte grootliks bepaal watter soort films gefinansier en gemaak kan word. Dis sekerlik ’n glibberige taak. Ek dink die maak van films het ten minste ewe veel met onderhandeling en die bestuur en sjarmering van mense te make, en met die opbou van ’n netwerk verbintenisse, as met visuele insig. Om nie te praat van die tegniese vaardighede wat vereis word nie. Dis darem maar veel veiliger om as romanskrywer agter ’n rekenaarskerm te sit en jou films te verbéél as om inderdaad ’n film gemáák te probeer kry. Dit gee jou vrye teuels om films te bedink sonder om die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan te oorweeg of die praktiese kompleksiteite in ag te neem.”
Op haar blog, Woorde wat weeg, sluit Joan Hambidge haar resensie van Die derde spoel as volg af: “Die beskrywing van Axel se siekte word so pynlik-eerlik vertel met ’n kopknik na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe. Ook die moeder se siekte gryp aan die keel.
“Dit is ’n boek oor verlies en die soektog na dit wat behoue gebly het in die drie spoele. Maar met die refrein dat kuns (musiek, beeldende kuns, films, skryf) ons enigste behoud is. Soos die bevrore paddas wat kan oorleef in die winter met harte wat ophou klop, bloed wat vries, organe wat stop ... (261).
“Die kommentaar op Oos- en Wes-Berlyn, die geskiedenis van toe, die vlymskerp analise van die Afrikaanse patriarg, is eweneens boeiend. Nes die bestaan in kommunes en road trips. Soos die woord vuurvliegie in die naaldprik van fosfor in ’n Berlynse muur. So is hierdie roman. Dit is kosmopolitiese roman wat verskillende ruimtes verken: Londen, Berlyn, Buenos Aires, Suid-Afrika ...”
Op Netwerk24 skryf Dewald Koen dat Die derde spoel die leser se aandag tot op die laaste bladsy gevange hou en dat die roman se filmiese kwaliteite enige regisseur se droom is.
Koen gaan voort: “Die verskeie verwysings na post-punk en die kinematografie bied ’n wye perspektief op die ryk Europese kulturele lewe vanaf die 1930’s tot die 1980’s en bied ’n jonger generasie lesers ’n insiggewende blik op ’n tydperk in die wêreldgeskiedenis waarvan hoofsaaklik in geskiedenisboeke gelees word.
“Naudé beskik oor ’n fyn aanvoeling vir die geskrewe woord. Met hierdie roman doen hy sy reputasie as talentvolle skrywer gestand. Die derde spoel is myns insiens een van 2017 se literêre hoogtepunte.”
Met Die derde spoel ryg Fanie weer die pryse in. Nie net is dit op die kortlys van sowel die Sunday Times se Literêre prys, asook die kortlys van die Helgaard Steyn-prys vir Skryfkuns nie, maar hy wen ook die UJ-prys in 2018 en die grote, die Hertzogprys, in 2019.
Op LitNet som Bibi Burger die beoordelaars se commendatio vir die UJ-prys soos volg op: “In aansluiting by Fisher, dink ek dat die uitbeelding van die squats, die industriële musiek, Tarkofski se film, die Brutalistiese argitektuur, ens, so fassinerend is vir ons as lesers vandag omdat die drome van die toekoms en van alternatiewe maniere van leef wat daardeur verteenwoordig word, steeds by ons spook. Die derde spoel bevat egter nie net baie wat deur akademici ontgin kan word nie, dit is ook op só ’n spannende wyse geskryf dat die leser nie anders kan as om meegevoer te raak deur Etienne se soektog na die derde spoel nie, en deur sy soeke na betekenisvolle kuns, aktiwiteite en maniere van bestaan. Om hierdie redes is dit vir my ’n groot plesier om die UJ-prys aan SJ Naudé te oorhandig vir Die derde spoel.”
In 2021 word Naudé se volgende bundel kortverhale onder die titel Dol heuning deur Umuzi uitgegee. En weer verower dit die UJ-prys (2022), asook die Hertzogprys vir prosa. Fanie vertaal dit self in Engels en daarmee palm hy ook die UJ-vertaalprys in. In 2023 wen hy die CL Engelbrecht-prys van die Akademie. Hierdie prys word toegeken aan een teks uit ’n reeds uitgelese groep, en dit is duidelik dat dit hier gaan oor tekste wat as groot literatuur bestempel kan word. (LitNet)
Amanda Marais skryf in haar huldigingswoord vir die CL Engelbrecht-prys op LitNet: “Dol heuning deur SJ Naudé is so ’n teks waarin menslikheid deurgaans vooropgestel word, maar dan in die besonder kwesbare menslikhede in die verskillende verhale wat die leser konfronteer met pyn, eindigheid en afgeslotenheid.
“Eerder as om Naudé se teks met abstraksies te probeer beskryf, wil ek graag fokus op die teks, die kreatiewe woord self, en dus kortliks stilstaan by twee van die verhale, naamlik die titelverhaal en die baie kort ‘Twee libretto’s’, wat juis hierdie temas baie konkreet verwoord. In ‘Dol heuning’ word vervreemding tussen ’n egpaar, tesame met hulle vergeefse pogings om ’n kind te hê, in ‘beelde van onontvanklikheid geformuleer’. Daar volg ’n uitnodiging deur die eggenoot om ’n naweek in Ysland deur te bring. Tydens die reis bring hy ’n flessie heuning uit Nepal te voorskyn, wat blyk ’n hallusinogeen te wees. Ten spyte van hulle kortstondige saamwees wat volg, bly sy oor met ’n blik op ’n toekoms waarin sy die man sal agterlaat, en sy alleen sal wees in haar ‘emosionele [on]vermoë ... om met ’n verhouding vol te hou’.
“In ‘Twee libretto’s’ is die stem van ’n pas gestorwe jong man, asook sy moeder, aan die woord. Die moeder vra hoe dit moontlik is dat die natuur skynbaar onaangeraak is deur die seun se dood: ‘Hoe kan takke nog boontoe wys, die voëls bly sing in die oggendlumier?’ Tog wil sy ’n roete vind om hom met kos en wyn en ’n mantel teen die koue te vertroos. Die jongman ervaar egter hoe hy ontliggaam raak en voortbeweeg na ’n nog onsekere bestemming, maar roep op sy beurt na die moeder om hom warm te hou. Nietemin bly elk afgesonder in hulle eie sange, en word die leser aangeraak deur die boodskap van die mens se uiteindelike eenlingskap.”
Met die oorhandiging van die UJ-prys vir 2022 sê SJ Naudé in sy dankwoord: “Baie dankie aan die Universiteit van Johannesburg, professor Karen de Wet en die ander beoordelaars. Dankie ook aan Sonja Loots vir haar gul commendatio. Ek sien daarna uit om ’n volgende roman uit Sonja se pen te lees ná ’n betreklik lang stilte. Ek wil ook my medepryswenners gelukwens: Frederik de Jager, wat my eerste uitgewer was. En Ashwin Arendse. Ek voel geraak daardeur dat iemand van Ashwin se ouderdom inderdaad skrýf – gedigte, in Afrikaans, in Suid-Afrika, nóú. En veral as dit sulke elektriese verse is as wat uit sy pen te voorskyn kom.
“Teen die agtergrond van die laaste paar jaar – die isolasie van die pandemie, die chaotiese geopolitiese strominge, die oorlog in Europa en die ontstemmende plaaslike politiek op beide makro- en mikrovlak – is hierdie ’n prys wat vir my baie beteken. Ek het ’n dringende behoefte om my aandag terug te wend en om, in soverre ’n mens kan, ander se aandag te probeer terugrig na dit wat eintlik vir ons almal hier van belang is: die taal, nie van diskoers en ideologiese instink of kulturele kontestering nie, maar van literêre aktiwiteit, van die diep menslike arbeid van skryf. Die taal van stories, eerder as die taal van polemiek. Om stories of gedigte te skryf – en te lees – voel dalk na iets klein en nietig, na vergeefse merke teen die wye doek waarteen ons lewens geprojekteer word. Dis nie iets nuttig nie, nie iets wat meetbaar produktief of funksioneel is nie. Maar juis. Wat ’n manjifieke nutteloosheid, hoe wonderlik om iets te doen wat ’n mens nie hoef te meet en te regverdig nie, wat ons almal instinktief wéét is belangrik. Om stories te maak en stories in te neem – dít, voel skrywers en toegewyde lesers in hul murg, bring ons nader aan mekaar, bring ’n soort saamheid, skep ’n onsigbare gemeenskap van vreemdelinge. Een wat gekenmerk word deur begrip en oopgesteldheid teenoor ander skrywendes en lesendes. ’n Gemeenskap waarvan die lede mekaar oor afstande heen aan hul harte herken.
“Ek het nooit aan die UJ studeer nie. Tog voel dit na ’n soort tuiste. Dit het te make met die mense in die taalruimte by hierdie universiteit, en met hierdie pryse, met die suiwerheid en direktheid van die benadering wat die beoordeling en toekenning daarvan onderlê. Ek het netnou gepraat van literêre werk; die UJ praat tradisioneel van ‘bellettristiese’ werk. Nogal ’n outydse woord, nie een wat juis deel is van die eietydse Afrikaanse spreektaal nie. Maar hoe lieflik om daardie woord op te eis. Of dit te ontruk aan een of ander soort 21ste-eeuse vergetelheid. Om dit in te smyt teen die omringende chaos. Teen hierdie agtergrond voel ek vanaand gemaklik en ontspanne genoeg om iets te doen wat dalk nie so ortodoks is by hierdie soort funksie nie. Om die terugkeer na die taal van die storie te probeer uitvoer, eerder as net daarvoor te betoog.” (En hierna lees hy voor uit sy volgende roman Van vaders en vlugtelinge.)
In sy bedankingstoespraak vir die Hertzogprys het Naudé vir professor Hennie van Coller oor die vingers getik nadat Van Coller in ’n rubriek homoseksualiteit in kinderboeke ’n “maatskaplike probleem” soos verkragting of molestering genoem het, skryf AJ Opperman op Netwerk24 (21 Julie 2022).
Hierdie rubriek het op 7 Mei 2022 op Netwerk24 verskyn en nadat Fanie van die rubriek bewus geword het, het hy sy oorspronklike toespraak vir die prys opsy geskuif en besluit om te reageer op Van Coller se rubriek. In sy toespraak het hy “kwessies rondom inklusiwiteit en Afrikaans” aangespreek.
Fanie Naudé het aan AJ Opperman gesê: “Die inhoud van die skrywe verraai helaas ’n paar onthutsende vooroordele en wanopvattinge. Om byvoorbeeld homoseksualiteit te lys, saam met verkragting en molestering, as ’n ‘maatskaplike of persoonlike probleem’, en dit amper 50 jaar ná die verwydering van homoseksualiteit uit Diagnostic and statistical manual in Amerika, is skokkend.
“Dit val my op dat homoseksualiteit opgestel word as die teenoorgestelde van gewoonheid. Maar by implikasie eintlik normalitéit, wat dan gedefinieer word as, en ek haal aan, ‘funksionele gesinne […] met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot […] hul bes doen om eties en sinvol te lewe’.”
Hierdie repliek op Van Coller se rubriek het tot ’n polemiek in dagblaaie en op die internet gelei waarna Van Coller as voorsitter van die Akademie se Letterkundekommissie bedank het.
Die meeste verhale in Dol heuning speel in die noordelike halfrond af. Naudé het 16 jaar in die noordelike halfrond gewoon en hy vertel aan AJ Opperman (Netwerk24, 26 Mei 2021): “Dis dikwels ruimtes (in my verhale) wat ek betreklik goed ken. En dis soort van waar my ervaring was. ’n Mens kan ook nie wegkom van die self nie. Die self bly daar in al die verskillende ruimtes. En dan maak die ruimtes minder saak. Al is dit ’n literêre soort self. (…)
“Ek glo ’n mens verstaan iets van eensaamheid deur te skryf en jou eie lewenservaring in ag te neem. Die handeling van skryf word gebore uit daardie plek van eksistensiële alleenheid. Dit het vir my ook met gemeenskap te doen. Die idee van skrywers en lesers en ’n soort saamwees in daardie proses van skryf en lees.
“Die geestesverwantskap tussen skrywers en lesers – en onder lesers – is vir my ’n roerende gedagte. Dis wat my betref die mees outentieke kommunikasie wat ’n mens kan bewerkstellig.”
Oor die UJ-vertaalprys laat Naudé hom as volg uit teenoor AJ Opperman (Netwerk24, 30 Julie 2022): “Dis ’n ongewone plesier om ’n prys te wen vir die vertaling van my eie verhale, veral omdat so ’n lang bemoeienis (skryf, vertaling en redigering) met ’n teks nogal uitdagend kan raak. Ek laat myself toe om my amateur-vertaalwerk met ’n groter graad van instink en vryheid te doen as wat ’n skrywer dalk ’n eksterne vertaler sou gun, dink ek.
“En om vertaalstrategieë soms af te wissel, ooreenkomstig die eise van individuele verhale. En dis bevredigend om bevestiging van sulke formidabele taalpraktisyns te kry dat dit tóg werk.”
Joan Hambidge (Woorde wat weeg, 1 Maart 2021) skryf oor Dol heuning: “In hierdie uitdagende kortverhaalbundel staan daar die volgende woorde opgeteken: ‘Toe hy ’n slag opkyk, bemerk hy in een van die mure se houtpanele ’n deur. ’n Soort geheime opening waarvan die oppervlak die reliëf voortsit, en sonder ’n handvatsel. Hy gaan druk daarteen en dit klik oop.’ En dit is presies wát van die leser verwag word in ’n boek met vele verwysings en toespelings. Jy moet fyn kyk agter die geheime openinge in. In een verhaal is daar ’n verwysing na die camera obscura.
“Verhale speel in op mekaar met uiteenlopende temas soos rykdom, die soeke na identiteit, die korporatiewe lewe, begeerte, teisterende herinneringe, mense wat verdwyn op ski-vakansies, verskillende kulture wat mekaar nie begryp nie en hoe rykdom jou inperk, eerder as bevry. Verder word verhale gelaai met subteks en interteks. In ’n liefdesverhaal ‘Die wonderwerk’ bly ’n man in ’n ryk apartment in New York waar Julia Roberts vertoef. So aktiveer hy die film Pretty woman (1990) en natuurlik ook La Traviata. Die leser weet die einde gaan sleg afloop; tog tref die ónafwendbaarheid van alles jou steeds in die maag. (...)
“Hierdie bundel bewys hoe verkeerd diegene is wat dink die kortverhaal se tyd is verby. Ons lees immers steeds Tsjekof, Alice Munro en Hennie Aucamp. En wonder oor hierdie kortetjie van Hemingway: For sale: baby shoes, never worn.
“Verruklik, uitdagend, melancholies; ’n leeservaring wat jou ontstem én begeester. Dis ’n boek wat die verborge verbande saamsnoer en die fabels van toe en nou interpreteer oor rituele vernederings en bestaanswoede. Sublieme ambag.”
Op LitNet (22 Maart 2022) skryf Malene Breytenbach as volg oor Dol heuning: “Die bundel bevat agt verhale, die laaste een in drie dele, ses langerig en twee kort. Naudé skryf meesterlik oor uiteenlopende onderwerpe, soos die soeke na identiteit, begeerte, herinneringe, verskillende kulture, rykdom en begeerte, liefde in verskillende gedaantes, gebroke verhoudings, gayverhoudings en -ervarings, die korporatiewe lewe, ouerskap en die verhoudings met kinders, eensaamheid en verskillende kunsvorme. (…)
“Naudé het ’n wye en gekultiveerde verwysingsraamwerk en daar is vele verwysings na kuns en letterkunde. Ook het hy die vermoë om alles, goed en kwaad, te skryf in poëtiese taal wat verruk. (…)
“Die bundel mag dunnerig lyk, maar dit is ’n ryk leeservaring, uitdagend, met ’n goeie skeut melankolie. Die verhale is sekerlik bedoel om die leser ongemaklik en selfs geskok te laat. Dit is nie goedvoelstories nie, daarom sal nie almal dit geniet nie. Vir die leser wat iets dieper soek, is dit egter onvergeetlike werk uit die pen van ’n uiters vaardige skrywer.”
Anne-Marie het haar belewing van Dol heuning op LitNet (3 Mei 2021) met ander lesers gedeel: “Tussen die omslag en buiteblad van Dol heuning is ’n kunsgalery. Dit is hoegenaamd nie ’n fraai uitstalling van die skool se kunsstudente, die blommeskool se rangskikkings of die VLV se voorskote, gehekelde tafeldoeke en teepotmussies nie. Hierdie uitstalling is abstrak, skrikwekkend, uitdagend, bloedstollend – en beeldskoon. Die eerlikheid van die karakters is tasbaar. Net sodra jy dink jy verstaan waarheen hierdie storie lei, breek ’n stofstorm om jou los waarin jy niks kan sien nie, en waarbinne jy uiteraard nie die vaagste benul het van waar jy is nie.
“Die kortverhale is elk heilig. Dit raak mens op die diepste vlak moontlik onomkeerbaar aan. Terwyl ek hierdie lesersindruk skryf, voel ek bitter klein, en ek gaan vreeslik versigtig met my woorde om. Daar moet nie geneuk word met hierdie manjifieke kunswerk nie. Die ervaring wat ek beleef het, en steeds beleef, is amper soos ’n radikale bekering. Die kortverhale is geensins aan mekaar verbind nie, maar dit sou verraad wees om een uit te sonder. Dit is ook onmoontlik om op te hou lees as jy eers begin het. As jy gaan weerstand bied, gaan jy beslis verdrink. (…)
“SJ Naudé is ’n veelbekroonde skrywer. Dol heuning lees baie makliker as waarvoor ek my gestaal het. Dit is ’n letterkundige lykskouing van menswees: Laag vir laag word jy aan jouself ontbloot. Dit is nie pynloos nie – inteendeel. Maar as jy dit kan regkry om deur te druk, gaan jy hierdie boek meer as een keer lees.”
Met sy volgende boek, Van vaders en vlugtelinge (2023), keer SJ Naudé terug na die roman as genre. Die vertaling Of fathers and fugitives is deur Michiel Heyns gedoen en hierdie vertaling verower die UJ-vertaalprys vir 2022. En weer eens is die resensente deur die bank baie opgewonde oor Van vaders en vlugtelinge.
In ’n onderhoud met Jean Meiring wou hy meer weet oor die titel. Hierop het Naudé geantwoord: “Die temas in die boek kom reeds duidelik uit die titel na vore. Die roman vra die vraag is dit moontlik om vir ’n seun ’n pa te wees in ’n gebrutaliseerde samelewing. Elke karakter dui op ’n afwesige vader of op ’n problematiese verhouding met sy vader.”
In Rapport (20 Augustus 2023) is Louise Viljoen baie beïndruk met Van vaders en vlugtelinge: “SJ Naudé se vierde boek tref ’n mens op al die plekke waar dit werklik saak maak, ook dieper en pynliker as waarop jy voorbereid is. Want waar daar vaders is, is daar dikwels ook klein kinders en babas. Dit is veral hul teenwoordigheid in die boek wat jou hart breek.
“Elkeen van die roman se vyf dele vertel ’n afgeronde verhaal, maar dit is in hul samehang dat die betekenis van die roman werklik ontplooi. Dit is veral in die netwerk van karaktergroeperings, herhalende motiewe en veelseggende beelde wat die meesterlike struktuur en ritme van die roman na vore tree. Wat dit nog meer besonders maak, is dat dié strukturele samehang byna ongemerk sy werk doen. In hierdie opsig herinner die roman aan die werk van JM Coetzee, wat dieselfde helder vertel-oppervlak het waaronder die roering van groot temas mettertyd sigbaar word.”
Die storie word vertel in vyf afdelings en vir Jean Meiring kan veral deel een en twee as twee kortverhale gelees word. Maar saam met die lees van die ander drie afdelings word dit later ’n roman. Naudé het verduidelik dat die eerste vier dele op hul eie gelees kan word, terwyl die vyfde afdeling ’n soort van epiloog is wat al die dele saambind.
Daniël is die hoofkarakter en deur hom ontmoet die leser die ander karakters soos Daniël se pa, sy neef Theon, Malefu wat sy pa versorg en dié se tienjarige seun. In die vierde deel tree Hein, ’n randkarakter, na vore wat op die plaas beland waar Daniël en Theon Malefu se dogter se baba versorg.
Viljoen skryf verder: “Die vaders in die roman het elkeen sy eie verhaal. Daniël en Theon se vaders het eens ’n aangetrokkenheid tot mekaar gevoel wat hulle nie kon uitleef nie, maar hulle kon ook nie ’n band bou met hul seuns nie. Daniël en Theon is beide kinderloos en vreemdelinge in hul eie lewe totdat hul as ’t ware geaard word deur die pyn wat vaderskap van Motlale en die baba hulle besorg.
“Ook Hein probeer op onbeholpe en fatale wyse sy idee van ’n lyflike vaderskap uitleef omdat sy eie vader hulle verlaat het. Daar is ook Motlale se Japanse dokter, wat sy vrou en twee kinders in ’n aardbewing verloor het, maar daarin slaag om die toestand van verwoesting (hy gebruik die woord hankai, gewoonlik van toepassing op ruïnes) te oorleef.
“Hiernaas teken die roman ook vegtende, verbete moederfigure, soos die Serwiër Oliver se ma en Malefu, wat tot in die dood bly klou aan haar kleinkind.
“Die roman bestryk dus ’n besonder breë emosionele spektrum. Nie die minste daarvan nie is die lesse oor die liggaamlike wat die karakters leer wanneer hulle siekes en kinders moet versorg. Die taalgebruik is helder, maar ook ryk en resonant aan beelde (kyk maar na die skepe, vliegtuie, voëls, watervlakke, grasvelde, spinnerakke, ruïnes en termiete).
“Van vaders en vlugtelinge is ’n verbysterende en diep ontroerende roman. Daar is skynbaar geen einde aan Naudé se kragte as skrywer nie.”
Elzanne Coetzee (Klyntji, 5 Oktober 2023) skryf oor Van vaders en vlugtelinge: “Die woorde gaan sit ongemaklik en jeukerig onder jou vel. Die storie bly jou by; ’n vae verlange kom neem sy plek in na mense wat nooit bestaan het nie. Dog is geen deel van die roman sentimenteel-gedrewe nie; ’n slim gebruik van affektiewe taal sonder oordrewe emosionaliteit.”
Coetzee sluit af: “SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge is ’n pelgrimstog oor die lewe en psige heen van ’n komplekse, delikaat-verbeelde karakter; die perfekte balans tussen chaos en stilte.”
Op Netwerk24 (9 Oktober 2023) skryf Thys Human: “Ten spyte daarvan dat die roman deur ’n diep gevoel van melancholie onderlê word, het ek dit alles behalwe uitsigloos en fatalisties gevind. Myns insiens lê die roman veral klem op die dapper pogings wat karakters te midde van ’n verworde wêreld as surrogaatpa’s aanwend om ’n mate van gemeensaamheid, intimiteit, solidariteit en empatie met ander te bewerkstellig. Aangesien hulle almal op die een of ander wyse deur hul biologiese vaders in die steek gelaat is, kom daar op verhaalvlak nie altyd iets van dié pogings om bestaande (uitgediende) opvattings oor vaderskap en manlikheid te herverbeel en herontwerp nie.
“Onder die glashelder oppervlak van Naudé se prosa – waarin eggo’s van JM Coetzee, Eben Venter, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach opgevang kan word – is daar allerlei skadu’s aan die roer en voortdurend nuwe patrone wat vorm aaneen. Eenvoudige uitsprake en afleidings word genadiglik vermy.
“Naudé is ’n wêreldklas skrywer wat bestaande leesverwagtings fnuik en doelbewus nuwes inspireer. In die proses maak hy van ons hopelik fyner en noulettender lesers. Van vaders en vlugtelinge is ’n roman wat ’n mens met nuwe, verwonderde, oë na die bekende laat kyk.”
Tydens 2023 se Woordfees gesels Louise Viljoen met SJ Naudé oor Van vaders en vlugtelinge en som Joan Hambidge die gesprek as volg op: “Onderhoude met skrywers is dikwels onbehaaglik. Of die vraesteller praat te veel of die skrywer is verdedigend, want ander skrywers sit en luister. In die gesprek tussen Louise Viljoen en SJ Naudé was daar ’n besondere balans. Viljoen was voorbereid en Naudé het elke vraag duidelik en intellektueel beantwoord.
“Hy het dadelik gereageer op die spanning tussen die roman versus die kortverhaal. Naudé beoefen albei genres. Romans in ons moderne tyd word deur die media en die uitgewers as die groot kuns beskou. Ofskoon, soos ons weet, van die grootste skrywers in Afrikaans het die kortverhaal (kortkuns) meesterlik beoefen: Aucamp, De Vries, Koos Prinsloo…
“Viljoen het ook gevra oor vaderskap. En hierop het hy briljant geantwoord oor hoe ons vaderskap dalk anders kan bedink. Telkens is ’n mens bewus van die skrywer se siening dat die lewe deur die mag van die fantasie ánders beskou kan word.
“Die tekstuur van ruimtes en landskap het eweneens aan die bod gekom. Die Vrystaat se landskap (die plaas) teenoor die Noordelike Halfrond. Lokaliteit speel in Van vaders en Vlugtelinge ’n uiters belangrike rol. Viljoen as kenner van kosmopolitiese letterkunde en hoe grense verander het, kon hierop reageer. Die outeur het lank gewerk in die Noordelike Halfrond en ken dus daardie wêreld goed. (…)
“Ook leë ruimtes is betrek en die kuns van Agnes Martin (1912-2004). (…)
“Die plaas, verlatenheid, Eenzaamheid, die testament en bepalings is eweneens bespreek. Die vader wat die seun dwing om terug te keer plaas toe wat dan ’n ander spanning skep. En die neef wat dan weer op sy beurt Daniël dwing om die jong siek kind Japan toe te neem vir mediese behandeling. Hier in Japan word ’n nuwe verbintenis geskep, wat komplekse vrae stel oor gay-identiteite en maskuliniteite. Die vader was aangetrokke tot sy familielid, maar dit is nooit uitgeleef nie. Kinders wat dan ouers se drome en versugtinge kan beleef.
“Viljoen wys op die dun vlies tussen wêrelde: liminaliteite. Hoe ironies, merk sy op, dat die neef se vrou hom verlaat vir die slagter op die dorp.
“Verlatings, verliese, verdriet – verder uitgewerk in die mediese spesialis se lewe wat sy kinders verloor het in die tsoenami in Japan.
“Die figuur, Hein, wat die kind steel en die leser met die ongelooflike ellende laat, aktiveer ’n taboe in die moderne letterkunde, aldus Naudé: ’n kind mag nie doodgaan nie. Britse uitgewers veral hou nie daarvan nie.
“Die teks gee ’n pynlike blik op demensie en eindes. (…) Louise Viljoen vra hom dan ook om passasies te lees uit sy boek. En daardie kragtige slot.
“Wat hierdie gesprek in die besonder uitwys: ’n Mens moet nogmaals weer hierdie uitmuntende teks lees. In dit ’n roman? Of dalk verskillende kortverhale wat apart gelees kan word? Die boek word wel as roman bemark. Daar is vele kuns en filmverwysings. En Musiek. Vol sub-teks. Beelde wat herhaal word bykans geskryf met ’n digterlike hand. Daniël en Theon en Hein en Motlale … Vaders wat vlugtelinge word.
“’n Meestersklas was dit oor ’n boek wat geweld, kinderdiefstal, gay-identiteite, verskillende landskappe en ’n veranderde wêreld karteer.” (https://woordfees.co.za/easyequities-skrywersfees/louise-viljoen-en-s-j-naude/)
Fanie Naudé vertel aan Murray la Vita (na aanleiding van sy roman Die derde spoel) op Netwerk24 dat hy baie geïnteresseerd is in visuele kuns: “Dis eintlik ’n soort jaloesie, dink ek. Eintlik, eintlik … Daar is baie ander kunsvorme wat ek eerder sou bedryf as om te skryf; skryf voel vir my na die arm nefie, as ’t ware. Soos installasiekuns; iets wat daai onmiddellikheid het wat ’n mens in ’n oogopslag kan inneem. Of musiek. En ek dink dit is een rede waarom hierdie goed so figureer in die roman. Dit is ’n soort poging om met woorde naby aan die grens te kom van iets anders doen, soos musiek of dans of installasiekuns of videokuns. Ál daardie dinge sal ek eerder doen. En selfs in my eie belangstelling … ek lees, natuurlik lees ’n mens want jy kan nie skryf as jy nie lees nie, maar ek is meer geïnteresseerd in ander kunsvorme as in letterkunde.”
Publikasies
Artikels oor SJ Naudé
- Coetzee, Carli: Q&A: SJ Naudé in conversation with Carli Coetzee. Africa in Words, 9 Julie 2015
- Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik
- Fanie Naudé wen Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2014. LitNet, 29 November 2013
- La Vita, Murray: ’n Verlede en ’n taal wat by jou spook. Netwerk24, 5 Julie 2017
- Lion-Cachet, Francois: In gesprek met SJ Naudé oor sy kosmopolitiese skryfwerk. Klyntji, 21 Julie 2021
- Meiring, Jean: Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé. LitNet, 24 Februarie 2022
- Meyer, Naomi: Onderhoud met Fanie Naudé, beurshouer van die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2014. LitNet, 4 Desember 2013
- Opperman, AJ: SJ Naudé kap na Van Coller, vra vir ruimheid in Hertzogprys-toespraak. Netwerk24, 21 Julie 2022
- Rautenbach, Elmari: ’n Marginale taak in ’n marginale taal op ’n marginale plek. Die Burger, 18 November 2011
- Retief, Hanlie: Skryf soos pyp wat bars: Hanlie Retief gesels met Fanie Naudé. Rapport, 16 Junie 2012
- SJ Naudé
- SJ Naudé
- SJ Naudé and Ivan Vladislavić in conversation
- Van Coller, Hennie: Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé. LitNet, 22 Julie 2022
- Van Zyl, Johan: Fanie Naudé: Om ’n goeie pa te wees. Rapport, 20 Augustus 2023
Artikels deur SJ Naudé
- Fanie Naudé gee raad aan voornemende kortverhaalskrywers. LitNet, 20 Julie 2011
- Hertzogprys 2022: Aanvaardingstoespraak
- Leë wit ruimtes en die politiek van nostalgie. LitNet, 23 Augustus 2016
- Lendetaal: normaal of queer? [resensie van Lendetaal]. LitNet, 13 Januarie 2012
- “Liefdeloosheid kan Afrikaans laat leegloop” [toespraak by aanvaarding van Hertzogprys]. LitNet, 22 Julie 2022
- Red dog [Willem Anker] en die illusie van skande. LitNet, 29 Januarie 2020
- SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys. LitNet, 22 Julie 2022
- UJ prize for literary translation 2022: SJ Naudé’s acceptance speech. LitNet, 28 September 2022
- UJ-prys 2022: SJ Naudé se toespraak by die bekroning van Dol heuning. LitNet, 27 September 2022
SJ Naudé se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2017-12-07 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
'n Uiters boeiende resensie wat mens 'op reis' neem. Ek het dit oneindig interessant gevind.
Dankie
S J Naude:
in 'n laai op
die ruim vlak onder
die blad 'n Luger
aan sy knaldemper.