Akademiepryse 2023: CL Engelbrechtprys vir Letterkunde – Fanie Naudé

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Amanda Marais se huldigingswoord hier onder.

Die CL Engelbrechtprys word toegeken aan een teks uit ’n reeds uitgelese groep, en dit is duidelik dat dit hier gaan oor tekste wat as groot literatuur bestempel kan word. Ek sou wou argumenteer dat ’n groot literêre teks nie noodwendig aan die hand van die een of die ander “objektiewe” rubriek te eien is nie, maar dat die gemene deler van groot literatuur daarin setel dat dit vrae stel oor die menslike bestaan – wie ons is, binne watter netwerke ons ons bevind, wat die vernaamste bepalers van ons lot is, en hoe daar van dít alles sin te maak is.

Dol heuning deur SJ Naudé is so ’n teks waarin menslikheid deurgaans vooropgestel word, maar dan in die besonder kwesbare menslikhede in die verskillende verhale wat die leser konfronteer met pyn, eindigheid en afgeslotenheid.

Eerder as om Naudé se teks met abstraksies te probeer beskryf, wil ek graag fokus op die teks, die kreatiewe woord self, en dus kortliks stilstaan by twee van die verhale, naamlik die titelverhaal en die baie kort “Twee libretto’s”, wat juis hierdie temas baie konkreet verwoord. In “Dol heuning” word vervreemding tussen ’n egpaar, tesame met hulle vergeefse pogings om ’n kind te hê, in “beelde van onontvanklikheid geformuleer”. Daar volg ’n uitnodiging deur die eggenoot om ’n naweek in Ysland deur te bring. Tydens die reis bring hy ’n flessie heuning uit Nepal te voorskyn, wat blyk ’n hallusinogeen te wees. Ten spyte van hulle kortstondige saamwees wat volg, bly sy oor met ’n blik op ’n toekoms waarin sy die man sal agterlaat, en sy alleen sal wees in haar “emosionele [on]vermoë ... om met ’n verhouding vol te hou”.

In “Twee libretto’s” is die stem van ’n pas gestorwe jong man, asook sy moeder, aan die woord. Die moeder vra hoe dit moontlik is dat die natuur skynbaar onaangeraak is deur die seun se dood: “Hoe kan takke nog boontoe wys, die voëls bly sing in die oggendlumier?” Tog wil sy ’n roete vind om hom met kos en wyn en 'n mantel teen die koue te vertroos. Die jongman ervaar egter hoe hy ontliggaam raak en voortbeweeg na ’n nog onsekere bestemming, maar roep op sy beurt na die moeder om hom warm te hou. Nietemin bly elk afgesonder in hulle eie sange, en word die leser aangeraak deur die boodskap van die mens se uiteindelike eenlingskap.

Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u nou om die CL Engelbrechtprys vir Letterkunde aan Fanie Naudé te oorhandig.

Stellenbosch
1 September 2023

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

LitNet Akademies-resensie-essay: Dol heuning deur SJ Naudé

Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

UJ-prys 2022: Commendatio vir SJ Naudé se Dol heuning

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top