Die 2022 UJ-prys is toegeken aan SJ Naudé vir sy bundel kortverhale Dol heuning (Umuzi). Die prys is op 22 September by die Universiteit van Johannesburg aan die wenners oorhandig. Sonja Loots het die commendatio gelewer. ’n Video-opname van die geleentheid is op UJ se Facebook-blad beskikbaar.
Veel is al geskryf en gesê oor waarom Dol heuning deur SJ Naudé so belangrik, besonders en verbluffend is. Daarom dus vanaand slegs twee klein voorbeelde ter illustrasie.
In “Woestyn”, een van die “Landskappe met figure”-verhale in Dol heuning, leun die karakter Thomas met sy wang teen ’n busruit en kyk na buite. Hy is op reis van Windhoek na Swakopmund en hy dink dat die landskap “onbenoembaar” is deur “flou” woorde.
“Hoeveel groter,” peins hy, “is hierdie onmoontlike ruimte nie as ’n sameflansing van letters nie.”
In die volgende paragrawe vervloei uiterlike en innerlike landskappe soos volg:
Die landskap is deurtrek van alles wat hy in sy afwesigheid nie geweet het hy mis nie. Dis ’n struikelblok tussen wie hy wil wees en wat hy noodgedwonge is. Dis leegheid en afwesigheid, woede en frustrasie. Dis ’n tronk sonder mure, die mees weidse gevangenis wat enige god kon bedink het. En dis eintlik veels te gou, begryp hy nou, vir hom om terug te wees.
Hy voel sy hart ’n ou vorm aanneem, voel ’n wurggreep soos dié van ’n tronkbewaarder moeiteloos versterk. Dis asof sy ma se reusepalm sy skedel so styf druk dat dit kraak.
Beste Fanie: As dít is hoe dit klink wanneer iets onbenoembaar is, is ons diep onder die indruk en buig ons spreekwoordelik die knie. Ag, en bloot die woord “knie” stuur klaar weer die gedagtes in die rigting van nog een van jou virtuose beskrywings van ruimte (en ja, knieë)! Dit kom ook uit “Woestyn”, en handel oor die soort heilige plekke wat Thomas graag besoek:
Thomas was geïnteresseerd in ’n bepaalde sóórt heiligheid, een wat leegmaking en swymeling behels. In ruimtes waar die bewakers van stilte tydens hul meditasies, of ná gebede op beëelte knieë, in die wit lug kon opstaar. Waar ’n mens, wanneer jou werk in die groentetuine afgehandel was, oor die wye see sou kon uitkyk. Waar swyendes op ’n barre eiland oor eeue heen voetpaaie uitgetrap het, geklee in swaar, krapperige klede en selfgemaakte sandale. Waar hulle met hul naakte hande geboue opgerig het wat kranse duiselend aankleef.
Ons sien uit na al die wêrelde wat jy nog met woorde gaan karteer.
Dit is ’n eer en plesier om vanjaar se UJ-prys te oorhandig aan SJ Naudé vir Dol heuning.
Lees SJ Naudé se aanvaardingstoespraak by die ontvangs van die UJ-prys hier:
UJ-prys 2022: SJ Naudé se toespraak by die bekroning van Dol heuning
Ook vir jou leesplesier:
Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik