UJ-prys 2022: SJ Naudé se toespraak by die bekroning van Dol heuning

  • 0

Die 2022 UJ-prys is toegeken aan SJ Naudé vir sy bundel kortverhale Dol heuning (Umuzi). Die prys is op 22 September by die Universiteit van Johannesburg aan hom oorhandig. Naudé het die volgende aanvaardingstoespraak tydens die seremonie gelewer. ’n Video-opname van die geleentheid is op UJ se Facebook-blad beskikbaar.

Baie dankie aan die Universiteit van Johannesburg, professor Karen de Wet en die ander beoordelaars. Dankie ook aan Sonja Loots vir haar gul commendatio. Ek sien daarna uit om ’n volgende roman uit Sonja se pen te lees ná ’n betreklik lang stilte. Ek wil ook my medepryswenners gelukwens: Frederik de Jager, wat my eerste uitgewer was. En Ashwin Arendse. Ek voel geraak daardeur dat iemand van Ashwin se ouderdom inderdaad skrýf – gedigte, in Afrikaans, in Suid-Afrika, nóú. En veral as dit sulke elektriese verse is as wat uit sy pen te voorskyn kom.

Teen die agtergrond van die laaste paar jaar – die isolasie van die pandemie, die chaotiese geopolitiese strominge, die oorlog in Europa en die ontstemmende plaaslike politiek op beide makro- en mikrovlak – is hierdie ’n prys wat vir my baie beteken. Ek het ’n dringende behoefte om my aandag terug te wend en om, in soverre ’n mens kan, ander se aandag te probeer terugrig na dit wat eintlik vir ons almal hier van belang is: die taal, nie van diskoers en ideologiese instink of kulturele kontestering nie, maar van literêre aktiwiteit, van die diep menslike arbeid van skryf. Die taal van stories, eerder as die taal van polemiek. Om stories of gedigte te skryf – en te lees – voel dalk na iets klein en nietig, na vergeefse merke teen die wye doek waarteen ons lewens geprojekteer word. Dis nie iets nuttig nie, nie iets wat meetbaar produktief of funksioneel is nie. Maar juis. Wat ’n manjifieke nutteloosheid, hoe wonderlik om iets te doen wat ’n mens nie hoef te meet en te regverdig nie, wat ons almal instinktief wéét is belangrik. Om stories te maak en stories in te neem – dít, voel skrywers en toegewyde lesers in hul murg, bring ons nader aan mekaar, bring ’n soort saamheid, skep ’n onsigbare gemeenskap van vreemdelinge. Een wat gekenmerk word deur begrip en oopgesteldheid teenoor ander skrywendes en lesendes. ’n Gemeenskap waarvan die lede mekaar oor afstande heen aan hul harte herken.

SJ Naudé lewer sy aanvaardingstoespraak by die ontvangs van die 2022 UJ-prys in Johannesburg (Foto: UJ Kantoor vir Meertalige Taaldienste)

Ek het nooit aan die UJ studeer nie. Tog voel dit na ’n soort tuiste. Dit het te make met die mense in die taalruimte by hierdie universiteit, en met hierdie pryse, met die suiwerheid en direktheid van die benadering wat die beoordeling en toekenning daarvan onderlê. Ek het netnou gepraat van literêre werk; die UJ praat tradisioneel van “bellettristiese” werk. Nogal ’n outydse woord, nie een wat juis deel is van die eietydse Afrikaanse spreektaal nie. Maar hoe lieflik om daardie woord op te eis. Of dit te ontruk aan een of ander soort 21ste-eeuse vergetelheid. Om dit in te smyt teen die omringende chaos. Teen hierdie agtergrond voel ek vanaand gemaklik en ontspanne genoeg om iets te doen wat dalk nie so ortodoks is by hierdie soort funksie nie. Om die terugkeer na die taal van die storie te probeer uitvoer, eerder as net daarvoor te betoog.

Ek wil naamlik iets voorlees, en dis vir my ’n vreugde om die vrymoedigheid te voel om dit hier te doen. Die stuk wat ek lees, kom uit ’n manuskrip van ’n roman wat nog nie gepubliseer is nie.  Vergeef my as dit lank raak. Ek het ’n tweede spreekbeurt later en sal dan bondiger probeer wees.

Die titel van die roman waaruit ek voorlees, is Van vaders en vlugtelinge.

Toe Daniël onder die trae waaierlemme wakker word, in die helder oggendlig, is dit amper nege-uur. Hy luister by sy pa se deur. Geen geluid nie, steeds aan die slaap. Daniël gaan sit by die eetkamertafel, druk ’n sleutel op die toetsbord, maak die rekenaar wakker. Hy vee hier en daar iets uit, verander die orde van ’n sin of twee. Sy aandag word voortdurend afgetrek deur vlieë wat alreeds so bedwelmd is deur die hitte dat mens hulle met jou handpalm kan papdruk. Hy skryf nie ’n enkele nuwe woord nie.

Hy staan op, gaan klop aan sy pa se deur. Geen reaksie nie. Hy maak oop en stap in. Sy pa slaap agteroor met sy mond oop. Daniël gaan nader. Hy buig oor, luister met sy oor digby sy pa se neus, sit sy hand op die hart, voel die pols. Al hierdie dinge doen hy asof hy ’n waardige en objektiewe geneesheer is. Die hart klop nie meer nie. Sy pa se liggaam is al koud, die pols wat hy nog in sy hand hou, reeds stram.

Daniël gaan sit ’n ruk lank in die woonkamer op die bank, bewus van sy asem. Hy luister vir ’n geluid uit sy pa se kamer, al weet hy daar sal niks wees nie. Hy gaan terug na die kamer toe, neem sy pa se elektriese skeermes. Hy skakel dit aan; dit klink luid en onbeskof. Dan skeer hy sy pa se gesig. Met twee vingers beweeg hy die ken heen en weer terwyl hy die masjientjie rig – eers een wang, die nek en ken, die ander wang. Die vel is koel onder sy vingerpunte. Hy is versigtig en deeglik. Die skeermes volg gehoorsaam die kontoere van sy pa se gesig. Hy trek die laken netjies oor sy pa se bors, tot onder sy ken. Hy maak die blinder oop sodat die lig instroom en ’n mens Leeukop vanaf die bed kan sien.

Hy gaan uit, sluit sy voordeur. Hy neem die hysbak tot onder, gaan haal die seekajak uit sy motorhuis. Hy staan vir ’n oomblik stil in die koel ruimte onder die gebou, probeer die beeld van sy pa se liggaam daarbo uit sy gedagtes weer. Hy maak die kajak op sy motor se dak vas, ry uit en in Kloofstraat af sonder om terug te kyk na sy woonstel se vensters.

Hy laat homself te water by Drieankerbaai. Vir die eerste keer in jare beplan hy om regoor Valsbaai te roei, tot in Milnerton. Skeepsverkeer het toegeneem in die jare sedert hy dit laas gedoen het, besef hy toe hy by Mouille Punt verby is: vragskepe nader hom vanuit die diep see, swaargelaai met veelkleurige houers, op pad na die hawe. Wanneer dit lyk of een sy pad gaan kruis, skat Daniël die vektore. Hy roei stadiger, plaas homself reg in die skip se pad. Dan wag hy. Wanneer dit amper te laat is, begin hy dan teen ’n vale roei om die sleurstrome – en die dreigende romp – te ontsnap. Wie ook al die skip stuur het geen benul hy is hier onder nie, sou in elk geval nie van rigting kon verander nie. Die skaduwee val oor sy nietige bootjie. Dis soos ’n wolkekrabber wat hier langs hom verrys; hy kan water teen die boeg hoor rammel.  Sy arms pyn, sy spiere kan skaars meer. Hy roei nou om die tonne staal – skaars twintig meter weg, onwrikbaar naderend – te ontsnap. Dan is hy veilig, terug in die son, waar hy swart vorms onder die water kan sien vliet.

Oor en oor ontsnap hy skeepskaduwees met net sekondes te spaar. By Milnerton aangeland, sit hy op die warm sand tot sy longe ophou brand. Sweet stroom uit sy oksels. Die lug is kobaltblou. Hy kyk na die vaag omlynde berg daar oorkant. ’n Halfuur later begin hy terugroei. Hy is nog ’n ent weg van die skeepsroetes; hy kan vir eers ontspan. Soos hy oor die water gly, dink hy aan die uitsig vanuit sy pa se kamer, aan die dosyne kopliggies van stappers wat vanaand teen Leeukop sal blink. En nou sien hy, voor sy geestesoog, ’n voël wat sy swerm hoog bo Kaapstad verlaat, wat afduik na die ruit waaragter sy pa lê. Wat vir die ou man ’n boodskap wil bring: ’n silindertjie vasgebind op die rug, ’n rolletjie perkament binne-in. Daarop staan álles – alles wat sy seun al ooit vir hom wou sê. Maar die venster is toe. En dit help die voël nie om teen die ruit te pik nie.

Daniël maak sy oë toe terwyl hy roei, luister na die ritme van die spane in die water. En dan, met sy oë steeds gesluit, sien Daniël Valsbaai van bo af, asof in ’n lugfoto, geneem vanuit ’n vallende vliegtuig. ’n Eskader swaar skepe vaar in vanaf die diep see. Tussen die skepe en die hawe dryf Daniël en sy kano, ’n geel spikkel op die water wat wyd en so helder soos breinvog onder hom lê.

 

Lees Sonja Loots se commendatio by die oorhandiging van die UJ-prys hier:

UJ-prys 2022: Commendatio vir SJ Naudé se Dol heuning

Ook vir jou leesplesier:

SJ Naudé (1970–)

LitNet Akademies-resensie-essay: Dol heuning deur SJ Naudé

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top