Die Hertzogprys vir Prosa is vanjaar toegeken aan SJ Naudé vir Dol heuning. Hy deel sy toespraak by ontvangs van die prys met LitNet.
Ek moet die Akademie eerstens bedank vir hierdie belangrike prys. As mens na die lys van groot Afrikaanse skrywers kyk wat die Hertzogprys al gewen het, is ’n mens bly om ook ’n staanplek te kry in daardie ry. Prystoekennings behels, moet ‘n mens erken, noodwendig ‘n element van subjektiwiteit, en daar is ander skrywers wat die prys netsowel kon gewen het. Ek moet dus ook aan hulle erkenning gee. ’n Prys soos hierdie dien inderdaad ook as ’n nuttige aansporing. Dit kan nie ’n storie optower in ’n mens se onderbewuste nie, maar dit kan jou na jou lessenaar toe terugdryf, jou help om te gaan sit voor ’n leë bladsy.
Ek sou graag hierdie prys sonder voorbehoud wou vier. Ek het, moet ek noem, aanvanklik ’n ander dankwoord voorberei, een waarin ek ’n voorlesing doen uit ’n roman wat nog kom. Dit is wat ek eintlik graag sou wou doen, naamlik die fokus plaas op kreatiewe werk, waaraan daar reeds, te midde van die geruis van politieke diskoers, te min aandag gegee word. Ek voel jammer om daarvan afstand te doen en noodgedwonge te moet praat oor kwessies rondom inklusiwiteit en Afrikaans.
Die katalisator hiervoor is ’n rubriek wat in Mei vanjaar uit die pen van die voorsitter van die Akademie se Letterkundekommissie verskyn het, hoewel geskryf in sy persoonlike hoedanigheid. Ek het dit eers onlangs te lese gekry, en van die sentimente wat dit onderlê het my verbaas en ontstem. Dit handel op die oppervlak oor die beoordeling van Afrikaanse kinderboeke vir ’n bepaalde prys, en die skrywer spreek dan spyt daaroor uit dat daar te veel oor bepaalde maatskaplike kwessies geskryf sou word in sulke boeke en te min aandag gegee word aan sogenaamde “gewone” gesinne.
Die inhoud van die skrywe verraai helaas ’n paar onthutsende vooroordele en wanopvattinge. Om byvoorbeeld homoseksualiteit te lys, saam met verkragting en molestering, as ’n “maatskaplike of persoonlike probleem”, en dít amper 50 jaar na die verwydering van homoseksualiteit as geestesongesteldheid uit die Diagnostic and Statistical Manual in die VSA, is skokkend. En as mens begin dink dis dalk net ’n ongelukkige formulering, lees jy voort, en dan word onder andere homoseksualiteit opgestel as die teenoorgestelde van gewoonheid, maar by implikasie eintlik normalitéit, wat dan gedefinieer word as, en ek haal aan, "funksionele gesinne […] met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot [...] hul bes doen om eties en sinvol te lewe". Die verskyning van ’n selfde-geslag egpaar en bruin en swart karakters in ’n bepaalde boek word dan ook vergelyk met die opwagting van – en ek haal met huiwering aan – “’n gestremde Chinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling”.
Nou, hierdie kwessies gaan nie oor my persoonlik nie, maar laat ek begin by my eie gesin. Ek het ’n man as eggenoot en ons het ’n vierjarige seun. Die rubriekskrywer se soort klassifikasie sluit ’n gesin soos myne, en duisende soortgelyke gesinne, wat gebuk gaan onder die “probleem” van homoseksualiteit, kategories uit die sfeer van normaliteit uit.
..........
Ek het ’n man as eggenoot en ons het ’n vierjarige seun. Die rubriekskrywer se soort klassifikasie sluit ’n gesin soos myne, en duisende soortgelyke gesinne, wat gebuk gaan onder die “probleem” van homoseksualiteit, kategories uit die sfeer van normaliteit uit.
..........
Wat dan voorts in genoemde skrywe as die eintlike norm van manlikheid en normaliteit gestel word, is ’n rolmodel wat nie, soos homoseksuele, of die slagoffers van molestering of verkragting, “versukkeld, gekweld of paranoïes” sou wees nie. Wat eerder soos Tarzan van ouds die vuis teen die bors slaan, of soos Rooi Jan die barbare die hoof kan bied.
Dan verwys die berig na onverwante – en inderdaad ernstige – politieke probleme soos korrupsie en beurtkrag as sake wat blykbaar verdring word in kinderboeke weens die oordadige aandag wat gegee sou word aan normafwykende karakters. Die logika hiervan, dit wil sê die verband tussen hierdie politieke probleme en die teenwoordigheid van verskillende soorte karakters in kinderboeke, word nooit duidelik nie.
Soos ek sê, hierdie kwessies gaan nie oor my nie. Maar laat ek nietemin vir ’n oomblik terugkeer na my eie gesin. Hoe sou my kind, as die telg van twee pa’s, kon floreer in sy ontwikkeling as hy deur ‘n kultuurwêreld sou moes beweeg waarin sulke soort sentimente sy gesinstruktuur stigmatiseer? As genoeg Afrikaanse kinders hierdie soort onderliggende sieninge en aannames ingegee word, naamlik dat die machismo van ’n Rooi Jan of Tarzan eintlik die gewone of normale of regte manier is om ’n man te wees, sou dit ’n mens laat huiwer, of dalk sidder, selfs as ’n Afrikaanse skrywer, om jou kind in ’n Afrikaanse skool te sit.
.............
As genoeg Afrikaanse kinders hierdie soort onderliggende sieninge en aannames ingegee word, naamlik dat die machismo van ’n Rooi Jan of Tarzan eintlik die gewone of normale of regte manier is om ’n man te wees, sou dit ’n mens laat huiwer, of dalk sidder, selfs as ’n Afrikaanse skrywer, om jou kind in ’n Afrikaanse skool te sit.
.............
Gelukkig dink ek – hóóp ek – daar is min mense wat werklik hul kinders wil laat hunker na die kragdadigheid van 70, 80 jaar gelede. Ek dink die meeste sprekers van Afrikaans sou goed verstaan dat, as sulke sentimente vir iemand soos ék, as ’n skrywer en Hertzogpryswenner, wat in die binnekamer van die Afrikaanse huis toegelaat word, so vervreemdend is, en so nadelig sou kon wees vir my kind se welsyn, dan sou dit ander nog soveel meer afskrik. Dit wil sê die mense wat hulle in die buitekamers van die Afrikaanse woning bevind, of in die kille betonjaart. Of heeltemal buite die Afrikaanse ruimte.
In die sielkunde is daar ’n konsep genaamd “constructive alternativism”, wat die vermoë is om te verstaan dat ’n mensself, jou eie posisie, nie die norm verteenwoordig nie. Vir die oorlewing van Afrikaans, spesifiek, is dit krities dat die taal ’n verwelkomende ruimte bied, dat daar begrip bestaan by die sprekers daarvan dat hul eie lewe maar een modus verteenwoordig. Dat daar ander geldige, produktiewe, morele en eties-verantwoordelike bestaanswyses is. En die waarheid is dat die meeste moderne Afrikaanssprekendes wat ek ken, dit goed verstaan, en nie al misgissend reken hulle verteenwoordig die maatstaf nie. Die feit dat die Akademie my werk, wat sekerlik uitdagend is op allerlei vlakke, so gulweg erken, getuig byvoorbeeld hiervan.
............
Dit het my ontstem die afgelope paar jaar om te sien hoe Afrikaans vergruis word as akademiese taal. Dit is ongetwyfeld ’n historiese fout. En ironies genoeg kan ek so duidelik sien watter geldige progressiewe argumente gemaak sou kon word vir ’n inklusiewe Afrikaanse wêreld, waarin Afrikaans en die mense wat dit praat geassosieer word met empatie, medemenslikheid, vooruitgang, inklusiwiteit, ope gesprek, intellektuele nuanse, deurdagtheid en omsigtige etiese denke.
.............
Dit het my ontstem die afgelope paar jaar om te sien hoe Afrikaans vergruis word as akademiese taal. Dit is ongetwyfeld ’n historiese fout. En ironies genoeg kan ek so duidelik sien watter geldige progressiewe argumente gemaak sou kon word vir ’n inklusiewe Afrikaanse wêreld, waarin Afrikaans en die mense wat dit praat geassosieer word met empatie, medemenslikheid, vooruitgang, inklusiwiteit, ope gesprek, intellektuele nuanse, deurdagtheid en omsigtige etiese denke. As steekproef is dit seker skaars verteenwoordigend, maar die meeste Afrikaanssprekendes wat ék ken verpersoonlik hierdie waardes en benaderings by uitstek.
Maar dan stem dit my soms ook moedeloos dat sulke gevalle van onnodige kwetsing vanuit Afrikaanse geledere die taal net verder benadeel. ’n Seker manier om mense ontuis te laat voel in Afrikaans, en om die taal in haar weerlose posisie skade aan te doen, is om onsensitiewe sentimente uit te druk rondom wie normaal of gewoon sou wees al dan nie, wie in die hoofstroom mag swem en wie in die systrome, wie in die kern hoort en wie maar op die rande moet bly beweeg. Dit is ’n gesindheid wat die huis van Afrikaans kan laat leegloop. Liefdeloosheid wen niemand vir ’n taal nie.
.............
’n Seker manier om mense ontuis te laat voel in Afrikaans, en om die taal in haar weerlose posisie skade aan te doen, is om onsensitiewe sentimente uit te druk rondom wie normaal of gewoon sou wees al dan nie, wie in die hoofstroom mag swem en wie in die systrome, wie in die kern hoort en wie maar op die rande moet bly beweeg. Dit is ’n gesindheid wat die huis van Afrikaans kan laat leegloop.
............
Die leefwêreld van Afrikaans is die rykste wanneer dit liefs geassossieer kan word met die soort benadering wat Marlene van Niekerk eens ’n “sagte, kommunikatiewe universalisme” genoem het. Baie hiervan gaan oor gesindheid. Lyftaal. Maar dis ook leesbaar in die nuanses van die taal self. Wat smalend of oogrollend bestempel word as politieke korrektheid is wat die meeste mense sou sien as basiese respek, ’n oopheid in taal vir wie iemand anders is. ’n Oopheid om jou medemense hulself te laat definieer, om nie negatiewe stereotipes in taal op hulle af te dwing nie. Dit gaan uiteindelik oor verdraagsaamheid, insluiting, omarming, en ja, selfs liefde. Meeste van ons wil hê soveel as moontlik mense moet volledig tuis voel in en rondom Afrikaans en Afrikaanssprekendes, nie net wit gesinne met ’n pa en ’n ma en twee kinders nie. Dit is ironies dat my eie gesin, behalwe natuurlik nou vir die blykbaar fatale feit dat daar twee vaders is, eintlik baie naby aan die gewaande norm beweeg. Maar dit beteken nie dat ek nie alle ruimte gun aan, of diepe medemenslikheid kan voel teenoor, wie ook al nie by hierdie formaat inpas nie. En is dit nie wat ons ons kinders liewers moet leer nie?
Die meeste Afrikaanssprekendes verstaan gelukkig reeds goed, hoop ek, dat die wêreld kompleks en veranderend is, dat Afrikaans in daardie wêreld sal sterf as die sprekers daarvan nie vir almal ’n ruime en gulle staanplek bied nie. Met ’n benadering van respek, ’n oopgesteldheid vir begrip en voortdurende pogings om jou in ’n ander se posisie in te verbeel.
Daar is per slot van sake baie verskillende maniere van wees in die wêreld, en al daardie maniere verdien ’n plek in die taal waarin ek skryf.
Lees ook:
Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik
Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé
Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic
Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek
PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur
SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller
Kommentaar
Dat 'n senior persoon in enige paneel van letterkundige 'deskundiges' steeds in hierdie tye sulke uitgediende en kwetesende vooroordeel openbaar teenoor ander, is tekenend van 'n ou generasie wat totaal uit voeling is met die jonger geslag.
Onderliggende probleem is dat ons nie lees nie. Lees net dit wat ons wil lees. Wil tog nie iets tegenkomen en lees wat my vooroordeeltroontjie net 'n bietje gaan versteur nie. Verstommend dat 'n pleidooi vir "gewone mense" so 'n ongewone reaksie kunnen ontlokt en 'n Hertzogpryswenner so in zy koktyltjie kan laat verstikt. Prettig. Ai toch, mense ...
Ek begryp nie watter sin dit hoegenaamd het om hierdie ontbinde ou koei uit die sloot te grawe nie.
Die onvermoë van 'n klomp hooggeleerde letterkundiges om iets na behore in konteks te lees, slaan die asem weg.