Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek

  • 2

Hennie van Coller (Foto: verskaf)

Die Afrikaanse akademiese omgewing het behoorlik vlamgevat. Hennie van Coller (emeritus professor aan die UV asook voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekomitee) se artikel in Meimaand op Netwerk24 het ’n reeks reaksies ontketen. Dit weens sy kernargument dat maatskaplike kwessies, bepaald rondom inklusiwiteit en identiteite, die inhoud en storielyne van eietydse Afrikaanse jeugletterkunde sou oorgeneem het. Volgens hom word “gewone” bestaanswyses nie meer in kinderboeke uitgebeeld nie, bepaald dan heteroseksuele en cisgender gesinsamestellings en karakters wat nie aan sekere “maatskaplike kwellinge” sou ly nie.

Dit was die nuwe Hertzogpryswenner SJ (Fanie) Naudé se bedaarde aanvaardingstoespraak wat by uitstek daarin geslaag het om vooroordele, halfkennis en onkunde, in ’n afwysende toon geskryf, in Van Coller se artikel fyn uit te sonder. Die beskrywing “tweeslagtige Oekraïense vlugteling”, Van Coller se hiperbool om die verruiming van karakters en hul bestaanswyses in die jeuglettere uit te druk, is nou ná Naudé se toespraak alombekend en berug onder die volgers van die debat. Van Coller het ’n repliek gelewer waarin hy probeer aandui dat die hiperboliese beskrywings en sy skynbare intrekking van “homoseksualisme” by die begrip “maatskaplike probleme” nie die geval is nie, en dat hy bloot teen ’n tikboksiebenadering tot letterkundige karakters en temas geargumenteer het. Jean Meiring het ’n baie sterk uitdopping van hierdie repliek geskryf deur daarop te wys dat die afwysende toon van Van Coller se skrywe tóg saak maak sover dit sy poging tot oordele oor verteenwoordiging in Afrikaanse jeugwerke aangaan. Verder wys Meiring oortuigend daarop dat die sogenaamde maatskaplike probleme en randidentiteite in Van Coller se skrywe vanuit ’n hoogdrawende “gewoon”-posisie aangekyk word, asof sekere identiteite en belewenisse nie ook deel van die aanvaarde samelewing kan word nie.

SJ (Fanie) Naudé (Foto: verskaf)

Hierdie eerste groot substantiewe punt van die debat was dan juis oor die kritiek teen Van Coller se benadering. Van Coller is gekritiseer dat sy argument onkundig en kwetsend is, sover hy uit sy “gewone” geplaastheid beswaard kyk na die inkruip van die “ongewone” Ander. Hoe is hy dus in die posisie om geloofwaardig die waarneming te maak dat daar nou ’n oorverteenwoordiging van sekere temas en karakters in Afrikaanse jeugboeke is?

Die verdere substantiewe punt is sover minder geredelik aangespreek, en dit is presies die geldigheid van Van Coller se kernpunt oor die uitskuif van die “gewone” (heteroseksuele en cisgender Afrikaanse) belewenisse. Ís dit die geval?

Ek meen ’n redelik eenvoudige antwoord kan Van Coller ook op hierdie punt verkeerd bewys. Vir talle generasies is die Afrikaanse letterkundige ervaring reeds ’n hoofsaaklik heteroseksuele, cisgender Afrikanerweergawe. Dit was die “gewoon”-verteenwoordiging. As Van Coller op sy weergawe met die verruiming van Afrikaanse bestaanswyses geen probleem het nie, waarom dan die eerste werklike intreding van die Afrikaanse Ander tot hoofstroomkinderliteratuur met alarmistiese en afkeurende drif as oorverteenwoordiging beskou?

Dit is dikwels die geval dat toetreding van voorheen uitgeslotenes tot ’n ruimte, tot die gevestigdes se oorreaksie en apokaliptiese verskrikking lei. Toetreding en insluiting word onnodig opgeblaas tot ’n soort verdringingsangst Boonop is letterkundige tematiese opbloeifases nie vreemd aan die Afrikaanse letteregeskiedenis nie: Van Coller sal tog sekerlik kennis dra van die tematiese opbloeisels van die Dertigers en Sestigers? En wat van die meer onlangse opbloei van Afrikaapse literatuur?

Dit nou eers daar gelaat.

Beskermde en onbeskermde uitdrukking

’n Ander steurende verskynsel het my aandag van meet af oor hierdie debat, asook oor die “debatte oor die debat”, getrek. Daardie verskynsel is die afskopreaksie van talle stemme uit die Afrikaanse intellektuele wêreld wat daarop aandring dat die Akademie standpunt moet inneem en Van Coller moet sensureer of van hom moet ontslae raak.

Uit die gemeenskappe wat Van Coller se aanslag as ontstellend en kwetsend beleef het, en as ’n “onwelkom”-teken vanuit die hoogste range van georganiseerde Afrikaanse lettere beskou, is die woede heeltemal geldig en begryplik.

Die vraag moet egter dringend gevra word of ’n kragtige aandrang op bedanking, veral gegewe die eietydse tendens in die intellektuele, vermaak- en korporatiewe wêreld van die globale Weste om mense ná openbare druk af te dank, ’n verantwoordelike en volhoubare reaksie is. Veral vanuit die akademiese en intellektuele geledere, wie se tradisionele rol dit is om die onderhouers van die openbare gesprek te wees.

In ons samelewing, geskoei op die oppergesag van die reg, is die Grondwet ons beginpunt wat die openbare gesprek betref. Dit is nie ’n oorbodig legalistiese posisie nie, maar eerder ’n basiese menseregtelike voorwaarde vir ons ganse same-lewing en openbare lewe. Artikel 16, wat vryheid van uitdrukking erken, omsoom die openbare gesprek met drie uithoeke van onbeskermde uitdrukking. Die uithoeke is haatspraak, oorlogspropaganda en die aanhitsing tot geweld. Hierdie onbeskermde kategorieë kan gevolglik deur wetgewing soos Pepuda (die Gelykheidswet) verbied en strafregtelike maatreëls voor voorgeskryf word.

Betreffende onbeskermde spraak dans maatskaplike behoeftes en juridiese gesag hand aan hand. Dit is kernbelangrik om te verstaan dat ’n mens nie verantwoordelik aan openbare gesprekvoering kan deelneem sonder ’n basiese begrip van die omsoming van die openbare gesprek deur artikel 16 nie. Binne daardie drie uithoeke het ons die bokskryt van beskermde uitdrukking. “Beskermd” beteken nie noodwendig moreel, of korrek, of wetenskaplik onkreukbaar nie. Dit beteken wel ons het ’n gespreksomgewing waar selfs kwetsende en krenkende spraak geoorloof is, net soos die kritiek en veroordeling daarvan geoorloof sal wees.

Pierre de Vos argumenteer dat ’n “vryemark van idees” nie die beste manier is om aan die beskermde spraakomgewing te dink nie. Magsverskille tussen sprekers beteken dat sommige stemme kan oorheers en sterker kan oorkom as ander, wat weer gevolge inhou vir die volhoubare voortbestaan van die uitdrukkingsmarkplein self. Die samelewing moet bemagtig word om misleidende nonsens, fopnuus en kwetsende taal te herken en vreesloos aan te vat. Ons moet goedopgevoede debatteerders en kritici wees, maar nie sensors en kanselleerders nie.

Moenie die beskermd/onbeskermd-onderskeid laat vervaag nie

Dit is so dat Van Coller die voorsitter van die Akademie se Letterkundekomitee is en daardeur ’n belangrike posisie beklee. Maar in soverre sy artikel nie op haatspraak, oorlogpropaganda of geweldaanhitsing neerkom nie, is sy opmerkings beskermd. Toe ek hierdie punt met Jean Meiring bespreek, het hy daarop gewys dat Van Coller se voorgesette bekleding van sy pos bevraagteken moet word, gegewe die onwetenskaplike en halfgebakte, neerhalende benadering van die artikel. Iemand in sy posisie behoort tog van beter te weet, beskermde spraak of nie?

Dit mag so wees, en ons het die reg om as deelnemers aan ’n demokratiese en verantwoordbare Afrikaanse intellektuele omgewing ons amptenary oor hul stellings aan te vat en te kritiseer. Dit gebeur egter steeds binne die perke van beskermde spraak, en wat is die punt van beskermde spraak as daar wesenlike negatiewe gevolge vir die spreker kan wees weens ongewilde dog beskermde stellings? Die standpunt dat druk om ’n pos weens beskermde dog ongewilde stellings te ontruim geskei kan word van ’n persoon se reg om beskermde stellings te mag uiter, maak nie sin nie, want openbare bedankingsdruk kalwe juis weg aan daardie beskerming.

Ons instellings moet juis nie onder openbare druk swig om mense eensklaps weg te jaag wat ongewilde, selfs neerhalende maar beskermde, spraak uiter nie. As ons dit doen, vernietig ons die grondwetlike skans tussen beskermde en onbeskermde spraak en ontrafel ons die grondwetlike beginselvastheid wat ook deur ons instellings moet weef. So open ons die deure van ’n onsekere, arbitrêre openbarediskoersomgewing .

Magspele tussen die amptenary en die vurige passies van die Afrikaanse intellektuele publiek word juis getemper en gemedieer deur prosedures binne instellings soos die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Van Coller behoort nié summier weggejaag te word vir beskermde spraak nie, maar dit beteken allermins dat die prosedures van die Akademie nie ruimte mag laat vir die beoordeling van ’n amptenaar se openbare bydraes wanneer posaansoeke oorweeg word nie. Interne prosesmatigheid bied minstens ’n stelsel van wigte en teenwigte waarbinne beskermde spraak nie die enigste faktor is nie. Dit verskil grondig van ’n stelsel waar openbare verontwaardiging en druk die sneller vir afdanking en sensuur is.

As dit wel de facto die praktyk raak dat akademici hul poste summier kan verloor, van aansien en platforms gestroop word en onder openbare druk via die sosiale loopplank die see in gedwing word vir ongewilde dog beskermde stellings, is daar eintlik nie meer veel verskil tussen onbeskermde en beskermde uitdrukking nie. Kanselleringskultusse wat parallel met die beskermd-onbeskermd-dinamika van artikel 16 ontspruit, is teenstrydig en gevaarlik, want dit skep ’n arbitrêre omgewing wat spraakvryhede betref. In so ’n kille omgewing sal mense eerder minder wil sê en waag weens die vrees dat daar geen wesenlike sosiale verskil tussen die gevolge van “onbeskermde” en “beskermde” uitdrukkings meer is nie, en waar jy as spreker glad nie gister kon geweet het wat môre die perke sal oorskry nie.

Laastens sal komplekse en diverse menslike belewenisse altyd tot skerp verskille lei, soos hierdie debat bewys het. Die beskermde gespreksomgewing gee die geleentheid dat hierdie kwessies bespreek eerder as uitgedoof word. ’n Dwangbuis van uniforme denke en die uitverkiesing van diegene wat nie waag om ongewilde dog beskermde stellings te opper nie, skep weersin en verdeeldheid. Ons sal moet aanvaar dat almal nie dieselfde sienings oor maatskaplikegeregtigheidskwessies sal huldig nie, en daaroor kan en moet ons vurig binne die grondwetlike raamwerk verskil.

’n Mens hou dalk nie van Van Coller nie. Sy houding soos in sy artikel weerspieël is miskien hoogdrawend, nalatig onkundig, neerhalend en selfs kwetsend. Maar in soverre die artikel op beskermde spraak neerkom, is hy binne die bokskryt van vurige beskermde kritiek en kwalifiseer hy nie vir die duisternis van kansellering nie. Dit behoort so te bly.

Lees ook:

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik

Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

’n Nuwe klimaat

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic

US se Afrikaans en Nederlands-departement rig ope brief aan Akademie: Onthef Van Coller van sy pligte

SASNEV-persverklaring: Van Coller moet verskoning vra

Van Coller – storm in ’n espressokoppietjie

PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur

SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller

  • 2

Kommentaar

  • Marianne de Jong

    Die grondwetlike beskerming van meningsuitdrukking/spraak is, soos die skrywer uiteensit, noodsaaklik. Dis egter nie voldoende nie. Dis 'n alombekende feit dat feitlik alle werkgewers deesdae regulasies het waarvolgens onwelkome seksuele aandag ook in taalgebruik tot sanksionering en afdanking kan lei - na my mening tereg as intensie bewys kan word. In meer algemene terme: "injurious speech", soos Judith Butler dit noem, kan tot afdanking lei. S.F. Naudé se verwysing na sy eie huwelik en ouerskap kan verduidelik waarom Van Coller se opmerkings "injurious" is. Dis die grondwetlik verskanste reg op menslike waardigheid wat hier aangetas word.

  • Net omdat iemand geaffronteerd voel maak dit nie waar nie. En vir my het Judith Butler so min gesag soos die Bybel. "Injurious speech" is 'n troefkaart wat tjankboelies met graagte kan speel om hul sin te kry. Soos sommige tjankboelies hier hul sin gekry het. En al wat hulle as maatstaf gebruik het was Don Quixoteaanse projeksie op 'n skadelose windmeul. Dit is om van skaam te kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top