......
"Van Coller sê onomwonde dat, sou hy homoseksualiteit saam met verkragting en molestering gelys het, dít skokkend sou wees ... Van Coller doen ... twee keer presies wat voor sy deur gelê is: hy lys homoseksualiteit 'saam met verkragting en molestering' ... Om Van Coller se eie woorde aan te haal: Dit is skokkend."
......
Ten geleide
Die bakleiery oor ’n onskuldige ou rubriekie van prof Hennie van Coller wat op 7 Mei vanjaar op die webblad van die Volksblad-koerant verskyn het, wil net nie gaan lê nie.
Knap voor die naweek laat Van Coller ’n ope brief aan SJ Naudé, vanjaar se Hertzogpryswenner, die lig sien. Heel gemoedelik rig hy dit aan “Beste Fanie”. Die toon en strekking daarvan is egter: goed, dít was nou genoeg; kom nou tot bedaring en hou op om jou vader se huis te bevlek.
In die eerste paragraaf van die ope brief maak Van Coller vir Naudé daarop attent dat hý ’n groot rol in albei Naudé se Hertzog-bekronings gespeel het. By sy eerste bekroning was hy wat Van Coller is, die man wat, synde “verkenner” (’n Akademie-begrip, blykbaar), die commendatio voorgedra het; ook met die onlangse bekroning was hy lid van die letterkundekommissie wat die prys toegeken het.
Van Coller sluit die eerste paragraaf in sy ope brief só af: “Dit maak daarom seer as jy my van homofobie beskuldig.”
Die implikasie hiervan is dat Van Coller homself gevrywaar ag teen aantygings dat hy daarná homofobies sou kon optree, omdat hy per geleentheid meriete in die boek deur ’n gay skrywer met ’n gay tema gesien het en meegedoen het aan hulle bekroning.
Dis natuurlik nie so nie.
Tirade
In kleurryke taal maak Van Coller dan die aantyging: “Jy steek van wal met ’n hele tirade …”
In Philippa et al se Etymologisch Woordenboek van het Nederlands (2003–9), word tirade só omskryf:
“tirade zn. ‘theatrale woordenstroom’
Nnl. tirade ‘theatraal geheel van woorden’ …
Ontleend aan Frans tirade ‘lange monoloog in het theater’ [1672; TLF] … De herkomst van tirer is omstreden; verondersteld is wel dat het een verkorting van Oudfrans martirer, martirier ‘martelaarschap ondergaan’ is, dat afgeleid is van martyrie, martyre ‘martelaarschap, het lijden’ < Laatlatijn martyrium ‘martelaarschap, getuigenis’, dat ontleend is aan Grieks martúrion ‘id.’, een afleiding van mártur ‘martelaar, bloedgetuige’, zie → martelen.”
Iedereen wat Naudé se aanvaardingstoespraak gesien het, sou weet dat dit presies die teendeel van ’n tirade was. Naudé het uiters onteatraal, trouens kalm en beredeneerd, sy beswaar teen Van Coller se rubriek argument vir argument opgebou. Hy het die rubriek geanaliseer, daaruit aangehaal en telkens sy beswaar in sober taal verwoord.
Natuurlik moes dit vir Van Coller ’n pyniging gewees het, maar om dit ’n tirade te noem, is gewoon verkeerd.
Maar dié woord is versigtig gekies. Van Coller is ’n paterfamilias wat gravitas verpersoonlik en van wie se lippe die wyshede afpêrel. Naudé, die jong gay man, is iemand wat tot warm gloede en tirades geneig is. Nés die lesbiese joernalis Elsabé Brits, wat hy op 18 Mei in ’n brief in Volksblad en Beeld van “venynigheid” beskuldig het.
Soos hy uitdruklik van Brits gesê het, is die subteks hier: tweekerige Hertzogpryswenner Naudé, jy lees vrot of verdraai my woorde moedswillig. (Laat ons hieronder sien wie verdraai woorde.)
Skok
Dan maak Van Coller pertinent die beskuldiging dat Naudé die inhoud van die rubriek verdraai het:
“[Jy] sê onder meer dat ek homoseksualiteit lys ‘saam met verkragting en molestering’ en dat dit ‘skokkend’ is. Dit sou inderdaad die geval gewees het as ek dit gesê het. In my rubriek skryf ek: dat daar geen “maatskaplike of persoonlike probleem is wat nie deur die boeke onder oë geneem word nie”, verwysend na kinder- en jeugliteratuur. En dan lys ek inderdaad ’n klomp voorbeelde van maatskaplike en persoonlike probleme. Voorbeelde van laasgenoemde is “dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate of sintuie [en] homoseksualiteit.” [onderstreping my nadruk]
Van Coller sê onomwonde dat, sou hy homoseksualiteit saam met verkragting en molestering gelys het, dít skokkend sou wees.
Dán voer hy ’n danspassie uit waarop Fred Astaire trots sou gewees het.
- Hy suggereer so skalks-skalks dat die lys in sy rubriek twee onderskeibare onderdele had, waaruit dit vir die gewone leser duidelik sou wees dat hy homoseksualiteit konsuis as ’n persoonlike – en nie ’n maatskaplike nie – probleem kategoriseer.
- In sy ope brief wil hy dus aan die hand doen dat sy rubriek ’n lys van vier persoonlike probleme bevat. Hulle is: “dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate of sintuie [en] homoseksualiteit”.
- Maar die lys in die rubriek lees anders (dit eindig nie met “homoseksualiteit” nie): “Daar is geen maatskaplike of persoonlike probleem wat nie deur die boeke onder oë geneem word nie: molestering, verkragting, owerspel, siekte, dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate of sintuie, homoseksualiteit, rasseprobleme en dergelike.”
- Dié sin in die rubriek toon dat Naudé presies reg gelees het. Van Coller lys ’n aantal van wat hy as maatskaplike en persoonlike probleme tipeer sonder aansiens. Rasseprobleme, wat ná homoseksualiteit in die enkele eenheidslys kom, is duidelik ’n maatskaplike probleem. Merk ook op die gebruik van “en dergelike”, wat suggereer dat die gelyste probleme almal tot dieselfde genus behoort.
- Dis boonop merkbaar dat, in sy brief van 18 Mei in reaksie op Brits, Van Coller ook nog nie die fyn onderskeid wat hy in sy ope brief verwoord, in gedagte gehad het nie. Daar sien hy maatskaplike en persoonlike probleme as een kategorie: “Dié genoemde probleme word duidelik in my rubriek genoem: onder meer molestering, verkragting, homoseksualisme [sic] en rasseprobleme.”
- Dus: in Van Coller se eie opsomming van hierdie deel van sy rubriek in sy brief van 18 Mei lys hy in ’n nog duideliker formaat gaywees saam met verkragting en molestering.
- Van Coller doen dus twee keer presies wat voor sy deur gelê is: hy lys homoseksualiteit “saam met verkragting en molestering”.
- Die sofistiese onderskeid wat nou nuut in die ope brief opduik, is ’n nagedagte. Dit hou geen feitelike verband met Van Coller se rubriek en hoe hy dit self op 18 Mei verstaan het nie.
- Om Van Coller se eie woorde aan te haal: Dit is skokkend.
Van Coller gaan dekades lank al professioneel met tekste om. Hy weet presies hoe sy lys deur die deursnee leser geïnterpreteer sou word. Hy weet wat die toon van die geheel is. Dis daarom dat hy in sy ope brief net ’n deel van die lys uit konteks aanhaal. Het ’n eerstejaarstudent in die Afrikaanse letterkunde dít gedoen, sou hy of sy van onakademiese gedrag beskuldig gewees het.
Wie lees nou “vrot” en haal “vrot” aan?
Dit behoort die einde van die saak te wees.
Maar, nee, in die volgende paragraaf gaan Van Coller voort. Op grond van sy herordening van die deel van sy rubriek wat pas genoem is, neem hy aan die leser het nou darem al aanvaar dat hy homoseksualiteit as slegs ’n persoonlike probleem getipeer het.
Soos ek hierbo aantoon is dit feitelik verkeerd. Maar, selfs al het hy gewoon gesê homoseksualiteit is ’n persoonlike probleem, sou dit uiters bedenklik wees. Soos Naudé in sy toespraak sê, dis al vyftig jaar sedert homoseksualiteit as geestesafwyking van die Diagnostic and Statistical Manual in die VSA gehaal is.
Maar, nee, ook hiervoor het Van Coller ’n gewaande uitkoms bedink. Sagkens werp hy die woorde “maatskaplike en persoonlike probleme” van hom af weg en sê dat hy in die afgelope jare al honderde kinder- en jeugboeke gelees het en dat hulle almal homoseksualiteit as ’n persoonlike probleem tipeer.
Kortom: “Dis nie ék wat gesê het dat homoseksualiteit ’n probleem is nie; dis die kinderboekskrywers. Ek’t hulle maar net geëggo.”
Dit is ’n hermeneutiese slenter wat die asem wegslaan.
Sodoende bereik Van Coller die punt waar hy dink hy sy skouers kan ophaal en aan Naudé kan sê, weer in die sonore bariton van die paterfamilias: “Ek begryp jou verontwaardiging dus glad nie.”
Naudé se verontwaardiging, prof Van Coller, is omdat u presies gedoen het wat u self gesê het skokkend is.
Boksies tik
Voorts kla Van Coller omdat Naudé kapsie gemaak het teen hierdie paragraaf in sy rubriek:
“Een boek oor grootword se hoofpersoon is ’n meisie met voorbeeldige ouers wat die droom is van elke feministiese sosioloog of teoloog. Boonop was haar oupa ’n pro-struggle-joernalis, haar beste vriendinne swart en bruin en leer sy om ’n egpaar, bestaande uit twee mans, “te omhels”. ’n Mens verwag die hele tyd dat ’n gestremde Chinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling hul opwagting moet maak; dan is alle ‘boksies getik’.”
In sy ope brief, merk Van Coller op:
“Verder sê jy [sc. Naudé] ‘[d]ie verskyning van ’n selfdegeslag-egpaar en bruin en swart karakters in ’n bepaalde boek word dan ook vergelyk met die opwagting van – en ek haal met huiwering aan – ’n gestremde Chinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling’. Wat jy waar kry? Ek praat van ‘boksies wat getik word’. Boksies veronderstel losstaande, selfgenoegsame eenhede. In my idiolek ‘tik jy boksies’ as jy bv. jou motor pak: noodwiel, trektou, brandblusser, domkrag, ensovoort. Of – as jy soos ek – ’n geesdriftige beskuitbakker is: meel, suurdeeg, suiker, anys, sout en lou water. Dit impliseer nie dat hierdie eenhede met mekaar gelykgestel word nie of selfs met mekaar vergelyk word nie; dis jou vinding.”
Hierdie verweer van Van Coller hou egter nie water nie. Uit die voorbeeld wat hy in sy rubriek noem en die twee voorbeelde wat hy in sy ope brief aanwend, is die volgende duidelik. Al die items in al drie lyste – in die boek, die motorlys, en die beskuitbaklys – behoort per definisie tot dieselfde kategorie of klas dinge.
- In die motorlys is al die items wat gelys is, bybehore wat nodig is voor jy die langpad kan vat.
- In die beskuitbaklys is die items almal dinge wat benodig word om beskuit mee te bak.
- In die lys wat op die boek betrekking het, is al die items freaks - die vlugteling wat tweeslagtig is (’n pejoratiewe woord; hoekom dan nie sommer “trassie” nie?) en die Chinees, wat natuurlik van ’n Oosterse ras en gestremd is, die prisma waardeur die ander figure gelees word: die dogterkarakter se vriende is nie wit nie; die oupa het nie apartheid ondersteun nie; die ouers is feministe; en nog ’n egpaar is gay.
Al behoort dit nie as iets negatiefs gesien te word om van ’n ras anders as wit (byvoorbeeld Chinees) of gestremd of ’n vlugteling uit die Oekraïne of van onsekere seksualiteit te wees nie, roep Van Coller deur sy verbindings vir die deursnee leser iets gedrogteliks op, iets waarvoor “gewone” mense gril.
Vir die deursnee leser is dit presies hoe hierdie deel van die rubriek lees. Ook is dit van ’n terloopse rassisme en seksisme deurweek. Twyfel ’n mens hieraan, hoef jy alleen maar die kommentare onderaan die ope brief, byvoorbeeld, op Facebook te lees.
In die volgende paragraaf, lê Van Coller uit wat die betekenis van sy rubriek sou gewees het. Daar is immers so baie “vrot” lesers binne en buite die Akademie: Brits, Naudé, Visagie, Crous, Marais, Loots.
Etiese en hardwerkende ouers
Laastens, skrywe Van Coller in sy ope brief:
“My verwysing na ‘liefdevolle ouers wat […] hul bes doen om eties te lewe’ is slegs ’n verwysing na die representasie van (veral) Afrikaanse gesinne in bepaalde kinder- en jeugverhale. Dikwels is die gesinne disfunksioneel en molestering, drankmisbruik, aanranding kom voor; ek wys op die teendeel.”
Maar die argument in sy rubriek as geheel gesien wil iets anders laat deurskemer. Vollediger sou hierdie sin, om getrou aan Van Coller se oorhoofse argument te wees, moes lees: “Dikwels is die gesinne disfunksioneel en molestering, drankmisbruik, aanranding, homoseksualiteit, veelrassige vriendskappe (ensovoorts) kom voor …”
Die paragraaf in die rubriek lees:
“Geen regdenkende mens kan beswaar maak teen die representasie van die genoemde maatskaplike of persoonlike probleme nie; wel teen die feit dat dit so oorheersend raak dat die vraag met reg geopper kan word of daar êrens darem nog funksionele gesinne bestaan, met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot soos honderdduisend ander gewone mense hul bes doen om eties en sinvol te lewe.”
Die teenstelling wat Van Coller in sy eie betoog maak, is alte duidelik: Op die een pool is die gesinne wat met probleme – onder meer homoseksualiteit – te kampe het; op die ander pool is die gesinne wat funksioneel is, met hardwerkende, liefdevolle ouers wat hul bes doen om eties en sinvol te lewe.
Slot
Daar is nog baie wat ek sou kon sê. ’n Mens staan verstom oor hoe baie uitverkoping-vooroordele Van Coller ter vermaak van sy leespubliek in ’n enkele klein rubriekie kon inpas.
Ook natuurlik sal ’n wetenskaplike oudit aangevra word van die boeke waaroor hierdie uitspraak gemaak is. Laas toe ek gekyk het na die werk van Jaco Jacobs en Fanie Viljoen – om maar twee van baie staatmakers as voorbeelde te noem – was die inhoud van hulle baie boeke allermins soos Van Coller die Afrikaanse kinderboeksterrehemel skets.
Ons is dit aan die openbare diskoers in Afrikaans – en in die land in die geheel – verskuldig om woorde, sinne en toon ernstig op te neem. Om nie die woorde van ander of ons eie woorde van eerder te verdraai nie.
Iets is nie meer maar net so nie omdat ’n vaderfiguur dit streng en vanuit ’n hoogte sê.
Ek kán lees.
Jean Meiring
Lees ook:
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik
Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek
Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic
Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek
PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur
SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller
Kommentaar
Om in dispute betrokke te raak, is nie iets waarvan ek hou nie, maar daar is tog enkele opmerkings wat ek wil maak oor hierdie debat rondom ’n rubriek en ’n toespraak.
Waaraan ek dadelik gedink het, by die lees van die rubriek en die latere reaksies daarop, is dat die gesprek oor die tematiek van kinder- en jeugliteratuur ’n baie ou en baie wye gesprek is. Self het ek dit meermale by kongresse en skrywersgesprekke meegemaak in Nederland en Amerika, sekerlik vanaf al meer as twintig jaar gelede. Die navorsing daaroor sal boekdele en -rakke vul. Daar is ook altyd sterk opponerende standpunte daaroor, altyd. Darryl David verwys ook na onlangse koerantberigte in die buiteland daaroor. Hierdie gesprekke sluit ook aan by die navorsing oor die Europese en Afrika-sprokies en die Griekse mitologie, want in hierdie ou verhale word die hele spektrum van menslike belewenis vir kinders weergegee, weliswaar in verskuilde vorms sodat die kind as ’t ware onbewus leer dat daar allerlei dinge oor sy of haar pad mag kom. Maar hierdie gesprekke is nie nuut nie en ook nie eie aan Afrikaans nie. En debatte oor moeilike kwessies en opvattings in die samelewing kom ook op ander terreine voor as in die letterkunde. Daarom is dit werklik nie nodig om die dood van Afrikaans te sien in menings en redenasies en meningsverskille rondom die tematiek van jeugboeke nie.
Dit is ook seker ’n kwessie van aanvoeling of styl of smaak, maar om die geleentheid wat jy kry om te antwoord op ’n baie groot en prestigieuse toekenning, te gebruik om ’n ander byltjie te slyp, maak my ongemaklik. Daar is ’n groot gehoor, jy staan verskans op die verhoog en die gehoor is in hierdie omstandighede absoluut hoflik (ongeag watter onaanvaarbare ideologiese breuke daar in hulle verborge samestelling mag wees). Soos dit hoort sal die spreker dus aangehoor word en dit is sy prerogatief om te praat hoe en waaroor hy wil.
In die reaksies op die rubriek (’n rubriek, nie ’n verklaring of selfs ’n artikel of studiestuk nie) sien mens hoe die lesers vergrootglase rig en analitiese skalpels gebruik. Eintlik dekonstruktief lees: daar is ’n breuk of kraak in die teks (soos in enige teks) en die leser plaas die dun punt van die wig daarteen, wig in en beur totdat hy ’n koevoet kan inskuif en die teks oopbreek. Dan bevind die leser sigself in die ruimtes agter en om die woorde van die teks en kan ’n vrye kreatiewe interpretasie maak. Dis ’n wonderlike vrye ruimte waarin op skerpsinnige manier dinge raakgesien kan word wat die teks self moontlik mag verberg, maar dis ook ’n gevaarliker ruimte van bespiegeling en persoonlike klemplasings. Die leser kan volgens sy eie aanvoeling verbande lê en maak dan afleidings, wat honderd persent reg kan wees, maar wat op sigself ook weer bevraagteken kan word omdat niemand die skrywer se ware intensies maar absoluut presies kan vaspen nie. Die rubriek waaroor dit hier gaan, het natuurlik breuke en die humor help nie (hoewel ek moet toegee dat ’n rubriek dikwels humor gebruik om die onderwerp sagter of vermaakliker te maak), maar as gans verderflik kan dit werklik nie beskou word nie, want dan moet al hierdie gesprekke internasionaal verbied word. En die oop gesprek daaroor dan?
Die hewigheid van reaksies op die rubriek hang saam met gevoelighede waaroor dit onder meer gaan, maar die debat self kan ook ’n probleem word, veral oor die sensitiewe onderwerp van homofilie, wat in die rubriek sydelings ter sprake gekom het. Om te protesteer teen werklike of vermeende onverdraagsaamheid op ’n besonder onverdraagsame en selfs venynige of vergeldingsgesinde manier (soos in reaksies in opvolgende rubrieke) doen die saak self geen goed nie.
Ek weier om te dink dat ’n rubriek oor kinder- en jeugliteratuur Afrikaans finaal ten gronde sal rig. Alle oneffenhede wat in Suid-Afrika voorkom, kan nie die Afrikaanse taal en sy sprekers ten laste gelê word nie en dit is blykbaar nou die algemene opvatting om dit so te sien. Vir my, iemand vir wie die Afrikaanse letterkunde een van die wêrelde is waarin ek leef, is hierdie soort redenasies en gevolgtrekkings gewoon pynlik en dikwels gans onnodig.
Ek gaan dus nou ver langs die strand stap met eindelose oop lug en water en ’n stewige wind as metgesel om te kyk of ek so die onverkwiklikheid uit my sisteem kan kry.
Ek stem 100% saam met jou Heilna. Ek wou in my artikel praat oor "the intentional fallacy" - maar jy is heeltemal reg. Mens kan nie die intensies van 'n outeur agterhaal nie. (Hoop dis die regte woord.) Wat my oor al die kritiek oor Van Coller pla is die idee dat almal se mening in die "anti-Van Coller-kamp", reg is. Kommentaar soos "ons kan lees" sien nie die moontlikheid nie dat "all readings are misreadings". Frases soos "enigiemand met 'n halwe brein" sluit die deur vir verdere dialoog. Mens sou dink mense wat resensies vir 'n lewe skryf, oop sou wees tot die multiplisiteit van betekenis. Ongelukkig was dit nie die geval nie.
Deeglike analise, Jean. Dankie.
Al wat skokkend is, is die skynbare onvermoë van die gebelgdes om die konteks van Van Coller se stuk behoorlik in ag te neem en dan aanstoot te neem as iemand dan nie na hulle oordeel polities korrek is nie.