US se Afrikaans en Nederlands-departement rig ope brief aan Akademie: Onthef Van Coller van sy pligte

  • 10

Die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands rig ’n ope brief aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns:

Ope brief aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Teen die agtergrond van die onlangse gebeure tydens die bekroningsplegtigheid van die SA Akademie en die daaropvolgende media-aandag, kan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US nie anders nie as om sterk standpunt in te neem téén prof Hennie van Coller se uitsprake in sy meningsartikel van 7 Mei op Netwerk24.

Binne die Universiteit Stellenbosch word alle aktiwiteite onderlê deur die volgende waardes: uitnemendheid, verantwoordbaarheid, billikheid, respek en deernis. As Departement is ons ten diepste aan hierdie waardes verbind, en is die daadwerklike uitleef daarvan deel van ons daaglikse aktiwiteite – in ons klaskameronderrig, ons navorsing en ook ons gemeenskapsdiens. Deernis en respek is volgens ons besonder nodig in die konteks waarin ons ons bevind, omdat die Departement ’n saamkomplek is van personeel en studente wat op geen manier homogeen is nie. Diversiteit is dus deel van ons alledaagse werklikheid, en kurrikula word onder meer saamgestel met die oog daarop om die héle Afrikaanse gemeenskap se taalgebruik, ervarings en literêre produkte as waardevol en geldig te erken en ook te bestudeer. Afrikaans is binne ons Departement inderdaad ’n huis met baie wonings.

Teen hierdie agtergrond vind ons prof Van Coller se betoog téén diversiteit in Afrikaanse kinder- en jeugboeke onhoudbaar, en is ons bekommerd oor die skade wat sy uitsprake Afrikaans as taal, maar ook as vakdissipline, kan berokken. Dekades se werk om van Afrikaans ’n inklusiewe ruimte te maak, kan hierdeur omgekeer word.

As beoefenaars van Afrikaans as dissipline in die een en twintigste eeu reken ons dat kinder- en jeuglesers deur literatuur as kritiese lesers en denkers gevorm moet word, en juis die geleentheid moet kry om boekkarakters te ontmoet wat meer is as eendimensionele, uitgediende rolmodelle wat in ’n ouer patriargale opset tuishoort en uit voeling is met die volle Suid-Afrikaanse samelewing en werklikheid. Ons beleef daagliks in ons klasse die waarde van tekste waarmee ons studente kan assosieer – hetsy deur karakters, konteks of ervarings.

Indien die SA Akademie met prof Van Coller se mening geassosieer word – soos blyk wel die geval is, te oordeel aan verskeie opinies op sosialemediaplatforms, ten spyte van die Akademie se distansiëring van sy uitsprake – sal dit vir ons moeilik wees om beurse van die Akademie aan ons studente as opsie voor te hou, en ook om hulle aan te moedig om byvoorbeeld aan die jaarlikse studentesimposium deel te neem. Ons is ook besorg oor die feit dat prof Van Coller meer as twee maande later steeds nie gevra is om verantwoording te doen of verskoning te vra nie, en daardeur die integriteit van die hele SAAWK aantas. Uitsprake deur vooraanstaande letterkundiges en ander intellektuele in die openbare domein dui aan dat die integriteit van die SAAWK tans wél op die spel is.

Dus wil ons ons graag as Departement van hierdie menings van prof Van Coller distansieer. Ons doen ’n beroep op die SA Akademie om hom van sy pligte op die Letterkundekommissie te onthef.

Ons versoek ook dat prof Van Coller onvoorwaardelik en openbaar om verskoning vra vir die dreigemente wat volgens mediaberigte aan kollegas gerig is of, indien hy weier om dit te doen, dat die Akademie as oorhoofse liggaam dit namens hom doen.

Lees ook:

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

Van Coller – storm in ’n espressokoppietjie

PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur

Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic

Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

’n Nuwe klimaat

Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

SASNEV-persverklaring: Van Coller moet verskoning vra

SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller

  • 10

Kommentaar

  • Andries Bisschoff

    Die politiek korrekte mafia het gepraat! Stem net met ons saam of hou jou bek. Al gehoor van vryheid van spraak?

  • Sou graag wou weet wat Van Coller gesê het maar die skakel vat my na News24 toe en daar's geen manier wat ek R100 'n maand gaan betaal om een koerant te lees nie, die toegang tot honderde ander ten spyt.

  • Dit is interessant hoeveel invalshoeke hierdie gesprek oor Van Coller se homofobiese uitsprake reeds het.
    1) Vanuit die gay gemeenskap is daar uiteraard verontwaardiging dat, soos Van Coller impliseer, bestialiteit enigsins vergelykbaar is met 'n man of vrou se gay seksuele oriëntasie.
    2) Du Toit wys daarop dat Van Coller dit vir hom as monogame man in 'n monogame gay verhouding wat hul seun insluit, bitter moeilik maak om sinvol eendag met hom oor hierdie vooroordeel te kan praat.
    3) Die feit dat dit enigsins vandag moontlik is dat mense met sulke uitgediende vooroordele tot senior poste in 'n openbare organisasie soos die Akademie verhef kan word.
    4) Ook die byna histeriese maar tog onoortuigende terugkap van die behoudendes dat Van Coller se opponente kwansuis hom probeer 'kanselleer'.
    5) En dan daardie religieuse segment in veral die Afrikaanse susterkerke wat steeds hul narratief van 'sonde' koppel
    aan homoseksualiteit.
    Gelukkig is daar begrip vir homoseksuele mense vandag, veral onder die jonger geslag, en word ouer mense se vooroordele uitgewys as vernederend teenoor ander en ook teen die Grondwet.

  • Die verwaandheid van die US se Dept Afrikaans en Nederlands om aan 'n ander liggaam, die Akademie, te wil voorskryf wat hy moet doen en dit bowendien aan 'n dreigement te koppel, gaan die verstand te bowe. 'n Senior lid van die Dept Afrikaans en Nederlands is ook ondervoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Indien die tradisie van die SA Akademie voortgesit word, sal daardie persoon die Akademie se volgende voorsitter word. Sy staan dus met een voet wel deeglik in die Akademie en met die ander in die departement wat aan die Akademie wil voorskryf en hom dreig met boikotstappe as hy nie die dreigement gehoor gee nie.

    Wie moet 'n mens nou glo? Daardie professor wat die Akademie waarvan sy ondervoorsitter is, dreig of daardie selfde persoon wat waarskynlik juis daardie gedreigde Akademie as voorsitter gaan dien?

    En wie moet 'n mens nou glo: Die departement wat dreig dat "dit vir ons moeilik [sal] wees om beurse van die Akademie aan ons studente as opsie voor te hou, en ook om hulle aan te moedig om byvoorbeeld aan die jaarlikse studentesimposium deel te neem" of daardie selfde departement wat eis "dat Prof Van Coller onvoorwaardelik en openbaar om verskoning vra vir die dreigemente wat volgens mediaberigte aan kollegas gerig is of, indien hy weier om dit te doen, dat die Akademie as oorhoofse liggaam dit namens hom doen"?

    Hoekom is een dreigement meer aanvaarbaar as vermeende ander dreigemente?

    Die personeel van daardie departement bestaan uit mense wat hulle op die een of ander wyse met Afrikaans besig hou. Daarom is die benepe manier waarop hulle Van Coller se artikel lees en die haas histeriese reaksie daarop nogal verbasend. As Van Coller in die gewraakte sin byvoorbeeld "kwessies" of "aangeleenthede" gebruik het i.p.v. "probleme", sou hulle ewe sterk gereageer het?

    Bedoelde senior dosent en Akademie-ondervoorsitter sal moet fyn trap op die spandraad van die toekoms sodat haar departement nie straks eendag eis dat sy ook van haar pligte onthef word nie.

    Onthou glashuise en blinde swepies ...

  • Andries van der Walt

    Ag-ja. Tipies Afrikaner. Ons kan tog so lekker met mekaar baklei. Amper al 'n nasionale Afrikaner sport. Wat US se Afrikaans departement betref, wil ek amper op Engels sê: "So what". Ons ken tog almal US se standpunt teen Afrikaans. En uiteindelik is hierdie een van daardie "Much ado about nothing"-debatte. Wonder of Van Coller se boek met seks of taal te doen gehad het. Ek het Tarzan-boeke gelees en flieks gekyk en ek is nog hy soos Bart Nel.

  • Adriaan Oosthuizen

    Ek sal graag ook my stuiwer in die armbeurs wil gooi. Dis vir my pateties dat wat iemand sê gekoppel kan word aan die taal waarin hy dit sê. Die twee dinge is totaal onverwant.

  • Marinus Schoeman

    Prof Ilse Feinauer van die departement Afrikaans en Nederlands by die US is inderdaad ook onder-voorsitter van die Akademie, en as sodanig klaarblyklik deel van die drukgroep teen Prof Van Coller en die onbetaamlike haas om Van Coller se bedanking te aanvaar en dit in die openbaar bekend te maak. Die Akademie-raad het kennelik 'n Trojaanse perd in hulle midde, en mens wonder watter ander raadslede, benewens Feinauer, is hierby inbegrepe. Daarby is Feinauer veronderstel om volgende jaar, soos dit gebruiklik is, die huidige voorsitter op te volg. Eish, dit wil voorkom of ons nog nie naastenby die einde van hierdie Akademie-debakel gesien het nie.

  • André Badenhorst

    Het my alma mater, eiland van hoop by SU, nou ook verval in 'n waak-en-kanselleerkultuur van misplaaste arrogansie? Sou dit dalk meer gepas wees om die kop van die "multitalige" Stellies se rektor te eis?

  • Goed so. Dié wat kommentaar lewer, verstaan nie hoe eksklusief dit soms voel om as queer persoon in jou eie taal verjaag te wees nie. Hoekom is dit dan dat daar so min Afrikaanse spasies is vir gay mense? Daar is tog net soveel Engelse mense wat nie daarmee “saam stem” nie. Ons het ‘n skokkende Afrikaanse kultuur gekweek waar dit oukei is om queer mense te verstoot en van hulle te praat asof hulle pedofiele is. Niemand wat dit doen behoort in ‘n posisie van mag oor die Afrikaanse taal te wees nie. Selfde as iemand wat openlik rassisties is.

    “En wat het die uitlate van ‘n persoon met hul taal te doen?” Die geleenthede wat hulle bereid is om goed te keur vir die groep mense wat hulle as onderdanige sondaars beskou. Die manier waarop hulle met gay kollegas praat. Die manier waarop hulle oor mense met gestremdhede/inperkings praat… as jy nog steeds nie verstaan nie, is daar iets fout! Taal is absoluut belaai met konteks, subteks en affek.

    KLOP OP DIE SKOUER aan die Universiteit Stellenbosch wat nie bereid is om net stil te bly hieroor nie… trots om te sien dat ons nuwe generasie Afrikaners steeds Kerkorrelvuiste ophou teen dié wat Afrikaans ‘n eksklusiewe ruimte wil maak. Laat daai man bedank. Ek het hom op skool ontmoet en soveel respek vir hom gehad maar sy uitlatings walg my. Ek wil nie eers meer in die publiek sê ek’s Afrikaans nie, want ek moet dit altyd opvolg met “…maar nie dááí tipe Afrikaans nie.”

  • Andries van der Walt

    It is strange that in this whole debate, if on can call it that, nowhere any mention is made about the authors of the books. They are after all the ones who created the content that Van Coller was writing about.
    If he is guilty of being "woke" do the authors not qualify to be equally to blame?

    How many of the people in the US and PEN can name all the pseudonyms that FA Venter, one of our referred Afrikaans authors, used in writing soft cover books?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top