Vir Marius Crous en Amanda Marais
Na bewering is dit altyd lente in Stellenbosch. Met klimaatsverandering en die gepaardgaande droogtes en hitte wat die eens lieflike groen hel teister waar prof Bernardus Visser vir sy suur-verdiende croissants werk, woed vanjaar ’n brand op die Helderberg midde in die winter.
Terwyl hy ’n gay vlugteling uit Kameroen bystaan met sy asielaansoek, flits ’n literêre rubriek van prof Callie Steenkamp op sy Samsung Galaxy A50-selfoon verby. Tot sy blywende skaamte het hy maande lank aangeneem dat Dominique N maar net nog ’n onwettige immigrant en fortuinsoeker is. Nou weet hy van beter.
Maar dit is seker maar die aslug wat hom laat stik in sy karige ontbyt van ciabatta en caffè lungo. Hy besluit om eers die jong man wie se partner voor sy oë in Kameroen deur ’n woedende homofobiese skare vermoor is, te help met sy aansoek voordat hy verder stik.
Later die dag lees hy eers die rubriek van Steenkamp oor marginale figure wat glo weens ingryping deur uitgewers die norm geword het in die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur en dus besig is om verhale oor lentegelukkige jeugdiges binne “goed funksionerende” en “regdenkende” gesinne te vervang. Sy eerste gedagte is om die rubriek elektronies te deel met ’n student wat onder sy leiding oor die jeugliteratuur werk. Maar die betaalmuur van die betrokke nuusplatform verhoed hom om dit te doen. En toe raak hy onbedaarlik krapperig oor die rubriek. Dis dalk die rooklug of sy oorsensitiewe geaardheid wat sy voelspriete omhoog laat staan. Hoe dit ook al sy, rustige nadenke en die aansprake van Microsoft Outlook is vir eers gebiedend.
Prof Callie Steenkamp is ’n veelsydige literatuurwetenskaplike, vertaler, en kol-kol ook digter en rubriekskrywer saam met wie Visser dien op die Letterkundekommissie van die Azaniese Akademie vir Wetenskap en Skone Rechtvaardige Kunste (AAWSRK). Steenkamp se onlangse publikasies sluit in die kortverhaalbundel Boom en ander walms asook ’n versameling literêre opstelle Queensland blues.
“Ai toggie, toggie,” kla Visser teenoor sy huismaat Blaine van Wyk.
“Steenkamp wat altyd die vertroulike aard van ons AAWSRK-Letterkundekommissievergaderings so sterk beklemtoon, haal hier sommer die ironiese opmerking van ’n ander kommissielid aan dat die jeug steeds na verhale soos Tarzan en Die swart luiperd sou verlang.”
“Wat is Die swart luiperd? Is it like Black Panther by Ta-Nehisi Coates?” vra Blaine van Wyk en Visser verduidelik dat dit Afrikaanse storieboekies uit die vorige eeu is oor ’n jong wit man met ’n swart luiperdmasker wat dames uit die kloue van wilde diere en mensvreters in Midde-Afrika red. Hy merk verder op dat Tarzan mos as ’n taalgestremde oerwoudmens as randfiguur begin het omdat hy as vondeling deur ape grootgemaak is.
“OK cool,” sê Van Wyk verveeld en keer terug na sy Sony Experia L3 waarop hy kyk na ContraPoints op YouTube wat die vloer vee met JK Rowling se uitsprake oor transmense.
Met die eerste goeie winterreën word die bergbrand geblus en die skoner lug laat Bernardus Visser moedig genoeg voel om ’n distansiëring van Callie Steenkamp se rubriek te skryf wat hy rig aan die AAWSRK. Die koue nat weer is ’n ellende vir Visser se stram wintervingers, maar hy gee sy skootrekenaartjie gas soos hy tik. Hy voel beswaard en bevloge, sien ... LOL en LMAO.
Metodies gaan Bernardus Visser te werk en deeglik bly hy in sy argwaan. Hy woeker voort met sy kritiek op die rubriek wat verwys na sogenaamde probleme wat in die kwansuis polities-korrekte jeugliteratuur voorkom. Dit sluit volgens prof Steenkamp “probleme” in soos “homoseksualisme” (sorgeloos gelys saam met kriminele verskynsels soos molestering en verkragting). Dit laat Visser sy mediese woordeboeke asook sy oudste woordeboeke in ’n verskeidenheid Indo-Germaanse tale nadersleep. Maar wat sal hy tog skryf oor die siniese grap dat Steenkamp in sy lees van ’n onlangse “woke” jeugroman net gesit en wag het dat daar nog ’n Zimbabwiër-karakter in ’n rolstoel en ’n “tweeslagtige” Siriese oorlogsvlugteling-karakter ook moet opdaag? Is die Siriese vlugteling ambivalent oor haar vlugpoging of is sy dalk transseksueel of ’n intersekspersoon? Dalk niebinêr? Heerlik kapitaliseer Callie Steenkamp op die leed van ander ten einde sy lesers te vermaak (LOL en LMAO)!
Om sy senuwees te kalmeer, skink prof Beswaardus vir hom maar nog ’n glas Poolse Żubrówka. In ’n waas van alkoholiese bisongras oorweeg hy dit kortstondig om ’n snedige aanmerking oor “Great Replacement Theory” in die jeugliteratuur by te voeg. Maar hy bedink hom en stuur sy brief tuimelend die kuberruim in vir aflewering by die kantoor van die AAWSRK in Centurion.
’n Week later is Dominique N se aansoek vir asiel verwerk. Maar ook prof Steenkamp staan gereed met sy respons op prof Visser se beswaarskrif. Druppend van sarkasme beweer prof S dat prof V van Stellenbosch swak en oppervlakkig lees. (Overgeset synde: Vat so, prof Literatuurhistrionikus! Ek dink in elk geval jy lees die bellettristiese erfgoed van Afrikaans bra bolangs in jou literêr-kritiese skryfseltjies! Hehehe. LMGA.)
Steenkamp dreig fel en uitgebreid met ’n lasteraksie en gebruik geleerde uitdrukkings soos dolus eventualis. In sy toringkamer gaan grawe Bernardus Visser in ’n ou kis met ivoorinlegsels (glo van die laaste olifant wat in Franschhoek geskiet is) na sy ou tweedehandse Latyn-regswoordeboek met voorin ’n verbleikte inskripsie, “Vir André, met liefde en baie soentjies van Zelda en Joan”.
Prof Bernardus Visser is sprakeloos en ge-dolorosus. (Maar ag, dit verg minder as ’n storm in ’n Noritake-teekoppie om die nerveuse en o so fyn-besnaarde hoogleraar nagte te laat wakker lê, koesterend aan ’n met smarag versierde kris in sy hart.) Hy vis maar die halm bisongras uit die reeds leë Żubrówka-fles en herkou aan Steenkamp se eis dat hy sy distansiëringsbrief summier moet terugtrek en onvoorwaardelik verskoning moet aanteken ten einde die swaard van die gereg te ontkom. Wild en hulpeloos starend na die afgebrande Helderberg, gee Bernardus Dolorosus hom oor aan visioene van wit duiwe met olyftakkies en “Get out of Jail Free”-Monopolykaarte.
*
Tog te ougat lyk Visser met sy poeierblou strikdassie tydens die MS Teams-vergadering saam met die touleiers van die AAWSRK. Vir die geleentheid leen hy die booglig (van Home Impex) wat Blaine van Wyk vir sy TikTok-opnames gebruik.
En toe is dit sus en so, hierdie kant toe en daardie kant toe, slangetjies en leertjies ... Die oppertouleier van die AAWSRK, ’n ingenieur wat diep modderspore getrap het toe hy ’n brug in die toe nog ongeskonde Knysnawoud ontwerp het, meen opreg dat Bernardus Filius Meus veel beter daaraan toe sal wees as hy vir prof Steenkamp bied wat hy eis. Maar, ag, hy en sy medetouleiers stem 1000% saam met die distansiëringsbriefie. En tog, werklik jong, ’n lastersaak kan tog so onaangenaam word. Hoekom skryf Bernardus nie liewer ’n opiniestukkie vir publikasie in De Azaniër nie? Glimlaggende gesiggie-emotikon, drie pienk hartjies-emotikon.
Rooi kolle van ontsteltenis slaan uit op Visser se gelaat.
“Maar e ... e ... ek sal in ’n opiniestukkie tog nie meer weet wat ek mag kwaak nie, en hoe ek mag kwaak en in watter rigting ek mag kwaak nie,” piep Verwardus swakkies. Hoe sal hy enigsins op so ’n manier kan ontkom aan ’n verdere steniging van prof Callie Steenkamp? Edvard Munch-Die skreeu-emotikon.
“Jesus, take the whole car. Retract and let there be peace in Rome. Vir wat moet jy so skop teen die karre?” sê Blaine later die aand vir sy huisgenoot. Hy neurie dan verder saam met Lorde wat “Stoned at the Nail Salon” sing op ’n bed van rose op YouTube op Bernardus Visser se Samsung Galaxy A50.
Die professor gee gehoor aan Blaine van Wyk. Hy gee gehoor aan die oppertouleier se vaderlike aanbeveling. Hy gee gehoor aan prof Callie Steenkamp se ystereis. Werwelend stuur hy sy terugtrekking, sy onvoorwaardelike jammerlappie, sommer ook sy bedanking uit die Letterkundekommissie die überruim binne allie pad na Centurion. Nagtegalus sing sag: “My voete loop na Wellington, maar ek gaan Worcester toe.”
Hierna berei Bernardus Visser sy uittog en finale reiniging van die Steenkamp-latrine sorgvuldig voor. Poedelkaal klim hy die trappe op, op, op na sy toringkamer. Hy skuif die vensters oop en spalk hom oop in die vier hoeke van die wye vensterraam.
“Tiete uit!” skree Blaine êrens in die nag. Die aandliggies en sowaar ook die dowwe sterre lonk aanmoedigend ssspring, sssspring, ssspring. Effe huiwerend gee Bernardus gehoor. Hy tuimel af, af, af tot waar die yskoue swembadwater hom ontvang.
Net ’n uil kyk onverskillig toe hoe Blaine sy gesel se boudjies met die soom van ’n Glodina-handdoek afdroog. In die dowwe lig blink ’n goue borduursel net-net sigbaar: “Met komplimente van die Azaniese Akademie vir Wetenskap en Rechtvaardige Kunste.”
Kommentaar
Plesierig. Waar is Etienne Leroux noudat ons hom nodig het? En waar is die formidabele Gert Garries?
Welgedaan, Andries. Jy het nou die saadjie geplant vir ons eie Afrikaanse prof dr dr Moritz-Maria Von Iglefeld-romanreeks. Alexander McCall Smith, staan links: Jy het kompetisie! Hier kom prof dr Bernardus Visser(-Van Wyk?) ...
Ek stem saam, Gerhard! Ja, ja!