PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur

  • 3

Foto van Hennie van Coller: verskaf

..........
PEN Afrikaans betreur verskeie sentimente vervat in Hennie van Coller se veelbesproke rubriek van 7 Mei 2022, “’Gewone mense’ word al hoe meer randfigure”. Daarin het hy skerp kritiek gelewer op die, volgens hom, oordrewe voorkoms van “maatskaplike probleme” en “randfigure” in kinder- en jeugliteratuur.
...........

PEN Afrikaans betreur verskeie sentimente vervat in Hennie van Coller se veelbesproke rubriek van 7 Mei 2022, “’Gewone mense’ word al hoe meer randfigure”. Daarin het hy skerp kritiek gelewer op die, volgens hom, oordrewe voorkoms van “maatskaplike probleme” en “randfigure” in kinder- en jeugliteratuur.

Daar is intussen wyd gereageer op die inhoud van Van Coller se rubriek, onder andere deur die skrywer SJ Naudé wat sy aanvaardingstoespraak vir die Hertzogrpys hieraan gewy het. Die bestuur van PEN Afrikaans vereenselwig ons met die strekking van, byvoorbeeld, Naudé se repliek en onderskryf by uitstek ’n inklusiewe Afrikaans en Afrikaanse letterkunde. Insluiting van minderheidsgroepe is ’n wesenskenmerk van die etos van PEN International, die internasionale organisasie waarvan PEN Afrikaans deel vorm.

Dat die rubriek bepaalde vervreemdende en kwetsende beskouings weerspieël, bedoeld al dan nie, blyk duidelik uit die genoemde openbare reaksie daarop – iets wat uiteindelik daartoe gelei het dat Van Coller bedank het as voorsitter, asook lid, van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie. Dit was verder verdagmakend van die rol van uitgewers wat moeite doen om diversiteit weerspieël te sien in die Afrikaanse boekbedryf. ’n Opname sal aantoon dat wit, heteroseksuele, cisgender karakters duidelik steeds die norm in die Afrikaanse letterkunde is. Verder is heteroseksuele, monogame verhoudings ook steeds die norm in die Afrikaanse letterkunde. Teen hierdie heersende norm in, is daar wel uitgewers wat moeite doen om minderheidstemme verteenwoordig te help kry. Om hulle werk dan te bevraagteken deur te suggereer dat daar implisiete of eksplisiete aanmoediging blyk te wees daarvan om iets anders as die uitbeelding van ’n sogenaamde “funksionele gesin” na te streef, is nie aanvaarbaar nie. PEN Afrikaans wil dit duidelik maak dat ons steun verleen aan uitgewers wat boeke wil publiseer waarin lesers verteenwoordigend van die verskeidenheid identiteite wat die Suid-Afrikaanse samelewing vorm, hulleself gereflekteer kan sien.

.........
PEN Afrikaans wil dit duidelik maak dat ons steun verleen aan uitgewers wat boeke wil publiseer waarin lesers verteenwoordigend van die verskeidenheid identiteite wat die Suid-Afrikaanse samelewing vorm, hulleself gereflekteer kan sien.
...........

PEN Afrikaans onderskryf ook vrye meningsuitdrukking en het derhalwe tot dusver nie op die inhoud van die rubriek kommentaar gelewer nie. Die inligting wat egter sedertdien openbaar gemaak is oor hoe mede-letterkundiges en -lede van die SA Akademie se Letterkundekommissie deur Van Coller met regstappe gedreig is na aanleiding van hul standpuntinname teen die strekking van dele van sy rubriek, was egter beslis onversoenbaar met die ruimte van oop diskoers wat die SA Akademie juis nastreef. Nie net skrywerkollegas nie, maar ook letterkundiges wat ’n rigtinggewende rol in die Afrikaanse literatuursisteem te speel het, is daadwerklik of by implikasie geïntimideer deur Van Coller as gesaghebbende literator wat, luidens beriggewing, op onvoorwaardelike verskonings deur die kritieklewerende letterkundekommissie-kollegas aangedring het om regstappe teen hulle te voorkom.

Wêreldwyd is die PEN-netwerk daarop ingestel om protes aan te teken en te reageer wanneer skrywers, joernaliste, akademici en uitgewers op grond van hul werk of andersins stilgemaak of te na gekom word. Die stilmaak en verdagmakery van kritiese stemme behoort geen plek in die Letterkundekommissie te hê nie. Vandaar hierdie standpuntverklaring deur PEN Afrikaans.

Talle PEN Afrikaans-lede ken Van Coller as ’n literator wat enorm baie vir ons letterkunde beteken het. Tog kan ons nie anders nie as om krities te staan teenoor sekere strekkings van sy rubriek asook teen sy beweerde optrede in reaksie op kollegas se bekritisering van sulke strekkings in sy rubriek nie.

Teen hierdie agtergrond doen ons ’n beroep op die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns om te verseker dat die Letterkundekommissie-lede wat geoorloofde griewe oor Van Coller se skrywe van 7 Mei ingedien het, nie verder geviktimiseer word nie. ’n Ope uitnodiging deur die SA Akademie aan diesulkes om weer die taak as kommissielede op te neem sou ver gaan om hierdie ongelukkige insidente se negatiewe impak te versag.

Lees ook:

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik

Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

’n Nuwe klimaat

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic

US se Afrikaans en Nederlands-departement rig ope brief aan Akademie: Onthef Van Coller van sy pligte

SASNEV-persverklaring: Van Coller moet verskoning vra

Van Coller – storm in ’n espressokoppietjie

SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller

Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek

  • 3

Kommentaar

  • Die sentiment van die woke-beweging van Amerika is besig om stadig maar seker vir Suid-Afrikaners druppel vir druppel ingegee te word. Stadigaan word ons gebreinspoel met hulp van die media en die literatuur vir jong kinders en die jeug onder andere word gebruik om die woke idees en doelwitte te bevorder.

  • Doen aansoek dat Akademie Prof Coller nie verder vertrap nie. Julle aksies het sy doel gedien, dis volbring.

  • Tom McLachlan

    En daar spring nog een op die anti-Van Coller-lawaaiwa. Daar is veral twee redes waarom hierdie een vir my enigsins vreemd is.
    (1) Ek is onder meer 'n teksredigeerder van beroep wat veral met akademiese en wetenskaplike/tegniese tekste werk. In my werk kom ek dit BAIE dikwels teë dat 'n skrywer weet wat hy/sy wil sê en dink dat hy/sy presies net dit sê. 'n "Vars" buitestandersoog sien egter dikwels iets daarin wat die skrywer nooit bedoel het nie of wat verskillende interpretasies toelaat. Male sonder tal moes ek al outeurs vra of hulle X dan wel Y bedoel, en of my redigeerwysiging van wat geskryf is, op die bepaalde punt wel is wat hy/sy bedoel het.
    Kan die lede van PEN Afrikaans, ʼn skrywersvereniging, werklik eerlik sê dat hulle nog nooit iets geskryf het wat, agterna beskou, beter gestel moes gewees het en dus vir meer vertolkings vatbaar was as wat die bedoeling met die oorspronklike was nie?
    ʼn Mens sou darem ʼn soepeler verstaan van die gewraakte teks van PEN Afrikaans verwag het.
    (2) Hoe skryf ʼn mens oor iets as jy dit nie mag noem nie, as jy die baba nie op sy naam mag noem nie, as jy uit vrees dat iemand iewers dalk aanstoot gaan neem, deurgaans eufemistiese eierdanse moet uitvoer?

    Een van die besware wat Naudé geopper het, is dat Van Coller van “gewone gesinne” gepraat het. Naudé se verstaan daarvan is dat Van Coller daarmee selfdegeslag- en gemengderashuwelike “kategories uit die sfeer van normaliteit” uitsluit. Regtig? Bitter min woorde, indien enige, is ooit eenduidig. Van die betekenisonderskeidings van “gewoon” in die WAT is “4a Wat algemeen versprei, oral te vinde is; b Wat die meeste voorkom, van die bekendste soort — soms in 'n sekere streek” en “6 ... mees voorkomende, alledaags; wat tot die gros of die groot hoop behoort.”
    Ek doen aan die hand dat dit eerder die betekenis is wat Van Coller in gedagte gehad het, en nie “kategoriese” uitsluiting uit “normaliteit” nie. Wil Naudé cum suis werklik aanvoer dat selfdegeslag- en gemengderashuwelike statisties gesproke, soos bogenoemde betekenisonderskeidings te kenne gee, die mees voorkomende is en dus “gewoon” is?

    Hennie van Coller het self toegegee dat hy sekere stellings beter kon geformuleer het, maar ʼn rubriek is darem nie ʼn hoogs literêre gedig waaraan dae of weke lank getimmer en geskaaf en gepolys word nie. As ʼn mens byvoorbeeld in jou kop het dat die “probleme” wat jy noem, die probleme is waarmee pubers en tieners in hulle lewens te kampe het, dan is dit wat jy bedoel; dis nie waardeoordele oor dinge wat in die breë maatskappy voorkom nie. Geen normale mens (mag ek “normale” sê?) kan ontken dat sulke jongmense dikwels worstel met die sake wat Van Coller noem nie – nie almal altyd met alles nie, maar “gewoon”-lik. Seksualiteit is seker een van die mees voorkomende van sulke “probleme”.
    Is dit ʼn aanval op enigiets of enigiemand?

    Dit is ook opvallend dat die meeste skote wat so venynig op Van Coller se rubriek afgevuur word, die verskynsel behels waarin selfdegeslaghuwelike voorkom. Maar hoekom so ʼn hipersensitiwiteit?
    Wit Afrikaanse mense gaan nie op moordtogte as swart mense hulle neerhalend “Boere” noem nie, en nog minder breek die Anglo-Boereoorlog weer uit as Engelse “Rooinekke” en Afrikaners “rockspiders” of “hairy-backs” genoem word, of as besoekende Britse sportspanne in die pers “Bleekbene” word. As die DA of die VF+ of ʼn koerant die ANC-regering as onbevoeg bestempel, word hulle 180 dae sonder verhoor aangehou? Die gay gemeenskap, deur hierdie soort heftige reaksie, maak hulself as ʼn groep juis “anders” as die res van die samelewing – presies wat hulle Van Coller ten laste lê.
    In die hedendaagse Suid-Afrika leef ons onder ʼn Grondwet waarin ʼn Handves van Regte vervat is. Daarvolgens mag niemand “regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte” (Grondwet, 1996, a. 9(3)). Dit is ʼn gegewe, en hopelik aanvaar die meeste Suid-Afrikaners dit.
    Dit het egter ook meegebring dat mense meestal besonder versigtig is om hulle nie aan ʼn oortreding van iets in hierdie Grondwetlike bepaling skuldig te maak en onder die MRK deur te loop of in die gelykheidshof te beland nie. Dit het m.i. weer tot ʼn buitengewoon hoë mate van politieke korrektheid gelei. Menige mens het al op dié oordrewe politieke korrektheid gewys. Die twee frases wat Naudé sidderend “met huiwering [aanhaal] – ‘’n gestremde Chinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling’”, het immers niks met die werklikheid te doen nie, behalwe om die absurditeit van oordrewe politieke korrektheid te belig. Van Coller kon net so wel gesê het “Atilla die Hun in ʼn pienk tutu” of “ʼn Bergskot wat ʼn onderbroek by sy kilt dra”. En net sodat ek nie van oneerbiedige rassisme beskuldig word nie: ʼn tutu het niks met die Arch te doen nie.
    Die omvang, venyn en bitsigheid van hierdie aanval op Van Coller – om nie van die eiegeregtigheid van baie aanvallers te praat nie – het alle perke van redelikheid oorskry. ʼn Mens moet soms maar hand in eie boesem steek. En fyn trap opdat jy nie ook eendag iets skryf wat verskillende lesers anders interpreteer as wat jy bedoel het nie.
    Weereens: Indien Van Coller dan omtrent die erfsonde teen die bekroonde gepleeg het, sou die eerbare reaksie gewees het “Dankie, maar nee dankie”. Nou het dit “Sies, maar dis lekker” geword.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top