
Foto van Hennie van Coller en Sulette Bruwer: verskaf; foto van Apocalypse Now se plakkaat: YouTube
Een van die belangrikste lesse wat ek as ’n nagraadse letterkundestudent by prof Van Coller geleer het, is: oppas om te gou te oordeel; daar skuil ’n duister kant in my ook wat in dieselfde omstandighede, my dieselfde kon laat optree het. Die vraag is nie hoe goed of sleg hierdie karakters is nie, maar wie ek is as ek alleen voor die spieël staan. Hierdie boodskap is tuisgebring met die opdrag om Jung te bestudeer en na die film Apocalypse Now te kyk as agtergrond vir die bestudering van Alexander Strachan en Eben Venter se boeke wat ons gelees het.
Die idee was dat daar ’n opstel geskryf moes word oor die tema. Die opstel is nooit geskryf nie, want toe ek daar in die universiteitsbiblioteek sit en kyk na Apocolypse Now, en die karakters van die boeke wat ek sopas gelees het, voor my opdoem, slaan dit my met ’n hamer voor die kop, hééltemal om: “As ek in presies dieselfde omstandighede was, het ek dalk presies dieselfde gedoen.”
Ek vermoed half prof Van Coller het die pap ekstra dik aangemaak daardie jaar om my ’n bietjie wakker te skud. Voor hom het ’n jong student gesit wat van Griekwastad, ’n klein plattelandse dorpie, af kom waar daar in dié tyd ’n beperkte aantal waarhede geleef is. Ek was op pad Nederland toe vir tien maande. Hy het geweet as my waarhede almal gelyk geskud word, dit rampsalige gevolge kan hê.
.........
Wanneer mag ons as ’n samelewing moontlik polities-onpopulêre menings begin lug? Daar is goed wat in die samelewing gebeur wat onregverdig is. Nou word iemand wat die moed het om die gesprek op ’n baie intelligente wyse in openbare kringe te probeer voer, summier stilgemaak!
..........
En geskud was my waarhede ná die blootstelling aan hierdie tekste in hierdie kombinasie. Maar dit het gebeur in ’n bekende, veilige omgewing, waar ons oor die ontnugtering dat mense se lewenswaarhede maar bra relatief is, met rustigheid en empatie en baie wysheid van Prof se kant af, gepraat het. Die diepgang van daardie gesprek, wat uiteindelik uitgekring het na die wanhoop en hoop van ons as mense, is nog altyd ongeëwenaar in my belewing.
So vermoed ek is ook wyle Richard Miles, wat van Postmasburg af kom en die jaar voor my na Nederland vertrek het as uitruilstudent, voorberei op sy reis. Richard, wat as bruin, homoseksuele student ’n tuiste in Prof en “tannie Elsa” (in Richard se woorde) se huis gevind het, beide in Bloemfontein en later in die Lae Lande.
As die persoon – wat my en baie ander studente geleer het om onsself en ander te aanvaar as wesens met goed en sleg in ons, om ons eie norme te bepaal, ruimdenkend en wys te probeer wees, empaties te wees – van eng, rassistiese en homofobiese denke beskuldig word, skry die onregverdigheid daarvan ten hemele.
Prof Van Coller het in daardie selfde letterkundeklasse gesê dat vooruitgang geskied soos wat ’n pendulum beweeg: van die een kant na heeltemal die ander kant, voordat dit in die middel tot stilstand kom. Die artikel probeer ons dalk net aanpor om nou van oordrewe politieke korrektheid tot ’n gebalanseerde middelpunt aan te beweeg. Wanneer mag ons as ’n samelewing moontlik polities-onpopulêre menings begin lug? Daar is goed wat in die samelewing gebeur wat onregverdig is. Nou word iemand wat die moed het om die gesprek op ’n baie intelligente wyse in openbare kringe te probeer voer, summier stilgemaak!
Lees ook:
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik
Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé
Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic
PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur
Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek
Kommentaar
Baie dankie, Sulette, vir dié blik wat jy verskaf op professor Van Coller as dosent en mens. So het ek, 21 jaar lank sy departementele kollega, hom ook ervaar: 'n uitdager van al te geykte en gemaklike beskouings. 'n Aanspoorder tot diepte-ondersoek en -nadenke soos min. Wat talle kritici uit daardie rubriek van hom aflei, weerspieël nie die volle mens soos ek (en jy) hom leer ken het nie.
Pragtig gestel. Hoop daar kom 'n M-student vorentoe en skryf 'n verhandeling oor politiek in kinderliteratuur met verwysing na Afrikaanse kinderliteratuur.
Ja, iemand wat nie homofobe en politiek-korrekte snert agter elke bossie uitskop nie. M.a.w. navorsing wat die moeite werd is. As daar werklik macho, homofobiese, paternalistiese, anti-heteroseksuele en al die ander issues in toentertyd se kinderboeke ingeskryf is, weerspieël dit die tydsgees van die tyd, iets wat lankal verander het (!), ten goede of nie, maar wat sekere professore en pryswenners nog net nie agtergekom het nie; hulle is klaarblyklik te besig om ongegronde kritiek uit te ryg en sinlose navorsing te doen. En as diesulke kinderboeke nog vreugde en genot bring, dan basta met politiek-korrekte randeiers.
Ek is nie by magte om kommentaar of uitsprake namens enige persoon te maak nie. Ek het nie die nodige insig of agtergrond oor wat die professor gedoen het nie, behalwe dat hy agv sy mening in die openbaar/sosiale en ander media verguis en gegesel is. Ek het 'n eenvoudige les in my lewe geleer. Elke saak het drie kante: myne, joune en die waarheid. Die waarheid het tog die neiging om gewoonlik te seëvier ... Wat my egter tot kommer strek is die "leidende partye/minderheid" wat die meeste lawaai maak en daarmee ook as slagoffers die simpatie en meegevoel van die massa kry. Stilbly is partkeer 'n baie beter antwoord.
Ek is nog steeds toe vrek bang om by die skool se Erfenisdag-boekverkoping op 23 September 2022 in die saal te gaan vra, "Um. Het julle kinderboeke met gay karakters?" Terwyl my hart in my maag klop. Ek in sweet begin uitslaan. Sy sê toe vir my: "Daai spul!" Toe skrik ek my gat af en toe vervies ek my in my glorie in vir die boekverkoper en met my hande wat al hoe meer bewe, sê ek vir haar: "Ek is gay. Ek is gay." 'n Paar kinders het my geskok aangestaar. Sy het toe diplomaties omgeswaai en gesê daar is 'n Engelse storieboek met vrolike prente van 'n outjie wat van glitter hou. As prof al self keer op keer disrespekvol in die gesig verwerp is oor mens sê jy is gay, of vra vir gay boeke, sal hy nie sulke nonsens geskryf het nie.