Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

  • 5

Marius Crous en Andries Visagie (Foto’s verskaf)

Twee lede van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie, onder voorsitterskap van Hennie van Coller, het in Junie uit dié liggaam bedank weens die onaangenaamheid rondom die menings wat Van Coller op 7 Mei 2022 in ’n Netwerk24-rubriek oor randfigure in kinder- en jeugverhale gelug het.

Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, het bevestig dat Marius Crous en Andries Visagie, onderskeidelik van die Nelson Mandela Universiteit en Universiteit Stellenbosch, as lede van die kommissie wat onder meer gemoeid is met die toekenning van literêre pryse wat deur die Akademie geadministreer word, bedank het.

“Ek kan bevestig dat prof Visagie op 21 Junie en prof Crous op 22 Junie skriftelik as lede van die Letterkundekommissie bedank het,” het sy gesê. Sy het ook bevestig dat Crous en Visagie aangedui het dat hulle bedanking verband hou met kwellinge oor die inhoud van Van Coller se rubriek.

Distansiëring

Op 19 Junie vanjaar het die Akademie ’n verklaring uitgereik waarin die liggaam sigself distansieer van Van Coller se rubriek. “Die Akademie het daarop gewys dat Van Coller se rubriek nie die SA Akademie se siening verteenwoordig nie, maar wel dié van die rubriekskrywer wat hy in sy eie naam geskryf het,” sê Beukes.

Op Woensdag 20 Julie is Akademiepryse tydens ’n aanlyn seremonie toegeken, waaronder die Hertzogprys aan SJ Naudé vir sy kortverhaalbundel Dol heuning. Tydens sy aanvaardingstoespraak het Naudé skerp kritiek gelewer op Van Coller se rubriek. In sy bedankingswoord het Naudé gesê dat hy afgewyk het van die toespraak wat hy aanvanklik voorberei het om “noodgedwonge te moet praat oor kwessies rondom inklusiwiteit en Afrikaans.”

Van Coller se rubriek wat hy in sy persoonlike hoedanigheid geskryf het, was die katalisator vir dié besluit. Naudé het daarop gewys dat die sentimente wat Van Coller se rubriek onderlê, hom by die lees daarvan “verbaas en ontstem” het. In die rubriek het Van Coller sy spyt uitgespreek omdat daar in kinder- en jeugboeke te veel oor bepaalde maatskaplike kwessies geskryf en te min aandag aan sogenaamde “gewone” gesinne gegee word.

“Vooroordele en wanopvattinge”

SJ Naudé (Foto: verskaf)

Volgens Naudé verraai die inhoud van die rubriek “onthutsende vooroordele en wanopvattinge” en hy meld dat sake soos homoseksualiteit as die teenoorgestelde van gewoonheid, “maar by implikasie eintlik normalitéit” opgestel word. Van Coller se verwysing in die rubriek na “’n gestremde Chinees en ’n tweeslagtige Oekraïense vlugteling” in dieselfde asem as ’n “selfde-geslag egpaar en bruin en swart karakters in ’n bepaalde boek” is vir Naudé veral problematies.

“Ek het ’n man as eggenoot en ons het ’n vierjarige seun,” het Naudé gesê. “Die rubriekskrywer se soort klassifikasie sluit ’n gesin soos myne, en duisende soortgelyke gesinne, wat gebuk gaan onder die ‘probleem’ van homoseksualiteit, kategories uit die sfeer van normaliteit uit.”

Sentimente soos dié, het Naudé gesê, is vir hom as ’n skrywer en Hertzogpryswenner “wat in die binnekamer van die Afrikaanse huis toegelaat word,” vervreemdend. In die lig daarvan dat Afrikaans die afgelope paar jaar as akademiese taal vergruis word – “’n historiese fout” – vind hy die sentimente in Van Coller se rubriek skadelik.

Oor die Akademie se siening van SJ Naudé se kritiek teen Van Coller se rubriek tydens sy ontvangstoespraak vir die Hertzogprys, het Anne-Marie Beukes as volg gereageer: “Die Akademie verwelkom SJ Naudé se aanvaardingstoespraak. Trouens, ons het hom die geleentheid gegun om sy aanvanklike toespraak te wysig nadat hy van prof Van Coller se rubriek verneem het.

“Laat my toe om weer te beklemtoon, soos verwoord in ons verklaring van 19 Junie, dat oop gesprek en debat aan die wese van intellektuele diskoers lê en dat ons, in die gees en letter van konstruktiewe intellektuele interaksie, altyd daadwerklik dit nastreef.”

Beswaarskrif

Crous en Visagie se bedanking uit die Letterkundekommissie is voorafgegaan deur ’n beswaarskrif aan die Akademie oor Van Coller se rubriek. Amanda Marais, ook ’n lid van die Letterkundekommissie, het dié beswaar saam met Crous en Visagie onderteken. Sy is steeds ’n lid van die kommissie.

Anne-Marie Beukes het bevestig dat die Akademie dié beswaar ontvang het en dat dit verband gehou het met Van Coller se rubriek. Beukes het daarop gewys dat die SA Akademie daarna streef “om voortdurend ons pryse se integriteit en die prestige van al ons gesogte toekennings te beskerm en te handhaaf. Dit geld ook vir ons literêre pryse soos byvoorbeeld die Hertzogprys vir Letterkunde wat reeds sedert 1914 toegeken word en allerweë as een van die heel belangrikste pryse in Afrikaans beskou word.

“Ons Letterkundekommissie se status word onderstreep deur al sy uitstekende aanbevelings in hierdie verband aan die Akademieraad, ons hoogste besluitnemende liggaam.”

 

Lees SJ Naudé se toespraak by die ontvangs van die Hertzogprys hier op LitNet:

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Lees ook:

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic

Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik

’n Nuwe klimaat

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

SASNEV-persverklaring: Van Coller moet verskoning vra

US se Afrikaans en Nederlands-departement rig ope brief aan Akademie: Onthef Van Coller van sy pligte

Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek

Van Coller – storm in ’n espressokoppietjie

PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur

SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller

  • 5

Kommentaar

  • Dit ontstem my dat twee gesiene literatore, naamlik proff Crous (NMU) en Visagie (US), hulself genope gevoel het om uit die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie te bedank. Twee belangrike 'stemme' word hierdeur stilgemaak – die einste stemme wat alternatiewe sienings (indien ek dit eufemisties kan stel) in die kommissie teweeg (kon) bring. Terselfdertyd haal ek my hoed af vir beide professore. Jul optrede getuig van jul integriteit en dat jul daad by die woord voeg. ’n Groot verlies vir die Letterkundekommissie en die SA Akademie.

  • Hopelik sal die kundigheid en ervaring van spesifiek proff Crous en Visagie weer beskikbaar wees vir die Letterkundekommissie in 'n volgende termyn.
    Dat dit nodig is vir drie gerekende, gerespekteerde senior literatore om 'n beswaarskrif in te dien, dat dit nodig is vir 'n gerekende, bekroonde skrywer om die saak aan te spreek, dit is kommerwekkend. Waar is die res van die Letterkundekommissie? As swyg 'n antwoord is, watter antwoord swyg hier?

  • Selwyn Milborrow

    Twee stemme wat ‘stil gemaak’ word deur hul heldhaftige optrede, maar stemme wat luidkeels opklink!

  • Johann de Lange

    Net om alle verwarring te vermy: ek is nié die Johannes de Lange wat hierbo kommentaar gelewer het op Crous en Visagie se bedanking uit die Akademie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top