Die volgende LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel het onlangs die tonge van LitNet se lesers los gehad:
Teen die agtergrond van hierdie lewendige gesprek oor die Trompie-reeks op LitNet en die sosiale media, praat Anke Theron met Naomi Meyer oor Anke se navorsing rondom kinder- en jeugboeke. (Sy beveel ook ’n paar boeke aan vir jong lesers wat wonder hoe om die laaste paar dae van die wintervakansie te spandeer.)
Anke, jy weet baie van kinder- en jeugboeke – en nie net omdat jy ’n groot leser is nie. Wat is jou agtergrond?
Ek sou nie sê ek is ’n groot leser nie, ek het net jonk begin. My ma het my op drie biblioteek toe geneem en ek dink sy bedink haarself partykeer, want vandag het ek genoeg boeke om my eie biblioteek te begin. In 2012 het ek my BA in Afrikaanse en Engelse literatuurstudies aan die Universiteit van Kaapstad behaal. In 2013 het ek my Nasionale Onderwyssertifikaat voltooi met die doel om ’n onderwyser te word. Een van die Afrikaans-metodiek-opdragte, die jaarprojek, was om ’n omvattende dog bondige opstel van 2 000 woorde oor die Afrikaanse kinderliteratuur te skryf. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (2005) is vir ons as hoofbron gegee en die navorsing wat ek daarvoor gedoen het, was die begin van ’n uiteenlopende reis met kinderliteratuur. Daarna het ek ’n honneursgraad oor kinderpoësie en kognitiewe toerie voltooi. Uit daardie navorsing vir my honneurs het ’n MA in kinder- en jeugliteratuur en psigoanalise, spesifiek Alice Miller se teorieë, onder Joan Hambidge gevolg. Ek het ook tydens my meestersgraadstudie deeltyds klas gegee aan die Universiteit van Kaapstad in die Skool vir Tale en Letterkundes.
Ek was betrokke by die kommunikasiekursusse vir gesondheidswetenskapstudente en nagraadse onderwysstudente. Sedert my studies tutor ek ook Afrikaans op ’n deeltydse basis. Ek was nog altyd aangetrokke tot wat die genre-etikette in die biblioteek genoem het "kinder- en jeugliteratuur". Ek het in 2014 my eerste resensie by LitNet gepubliseer en dit was lekker om te kon skryf oor wat ek tussen die reëls en karakters en in kinderboeke kon raaksien en dit met literêre teorieë kon verbind. Onlangs het ek ’n baie interessante ondersoek van Peter Pan as transgressiewe figuur voltooi as deel van ’n referaat vir die USAN 2020-kongres, en daar is ook ’n artikel in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans gepubliseer wat uit die referaat gevloei het. Dit het my net weer laat besef daar is soveel interessante dinge in kinder- en jeugliteratuur versteek.
Daar het onlangs ’n artikel oor gendertemas in die Trompie-reeks in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn. Kom ons praat gou oor die tyd waarbinne die Trompie-boeke verskyn het. Dit was kort nadat Enid Blyton se Secret Seven- en Famous Five-reekse die lig gesien het. Wat is jou herinneringe en indrukke van hierdie reeksboeke uit daardie tye? Het jy daardie boeke self gelees en dit geniet?
Ek het beslis baie goeie herinneringe aan Trompie, Saartjie en natuurlik die Maasdorp-reeks. Ek kan ook bieg en sê ek het beide die oorspronklike reekse en hersiene uitgawes onder oë gehad, en ek het nogal meer van die hersiene uitgawes gehou – dit was aangepas om ’n klein bietjie moderner te lees en het nader aan my daaglikse ervarings gevoel. Niks teen die ouer weergawes nie – die stories is nog steeds net so lekker. My herinneringe aan Enid Blyton is wel meer met die Noddy-reekse en die Faraway Tree. Wat die Secret Seven-en Famous Five-reekse betref: Ek het dit teëgekom met my MA-navorsing en dit nogal met Trompie, Saartjie en veral die Keurboslaan-reeks verbind. Die avonture en die wegvoer na ’n ander wêreld waarmee mens tegelyk kan assosieer en verbeel, is beslis ’n belewenis wat ek sal onthou en ook eendag aan my eie kinders sal wil oordra. Dit omsluit my eie ervaring en herinneringe van hierdie leeservarings.
Wat die feit betref dat reeke soos Trompie, Saartjie en Maasdorp tussen 1939 en 1960 verskyn het en in heel ander milieus afspeel, wil ek glo dit word deur ’n jong leser in ag geneem. Ék het beslis, want my ouma het dit gelees en my ma, natuurlik; ook my pa was ’n regte fan van Trompie. Indien dit wel die geval is dat ’’n jong leser nie weet dat die boeke uit ’n ouer mileu dateer nie, behoort dit hulle nie te erg te pla nie. Vandag weet kinders tog dat hulle nie in genderrolle vasgevang hoef te word nie en dat hulle keuses het oor waar hulle hul plek in die wêreld kan vind.
Miskien kan jy gedagtes deel oor reeksboeke – in die algemeen; resepte vir die skryf van reeksboeke; gewildheid van reeksboeke en die belang daarvan (of nie)?
............
Reeksboeke het interessante wortels en risome in terme van hulle herkoms, ooreenskomste met en verskille van mekaar. Reeksboeke is baie gewild is en het die potensiaal om van ’n nieleser ’n boekwurm te maak.
............
Reeksboeke het interessante wortels en risome in terme van hulle herkoms, ooreenskomste met en verskille van mekaar. Reeksboeke is baie gewild is en het die potensiaal om van ’n nieleser ’n boekwurm te maak.
Kom ons kyk na die alombekende bildungsroman, ’n genre wat ek ondersoek het tydens my MA. Dit gebruik ʼn vertelmodus wat herkenbaar is in verskeie jeugverhale. Dis ʼn genre wat by kinders van ongeveer 12 jaar en ouer, asook volwassenes aanklank vind. Die lewe van ʼn enkele hoofkarakter word episodies vertel en in elke aflewering leer die hoofkarakter ʼn lewensles of vind iets nuuts oor hom- of haarself uit (Theron 2017:62).
Ons kan sê reeksboeke het hulle oorsprong so ver terug as Charles Dickens se Oliver Twist en David Copperfield, dalk selfs verder terug in die literatuurgeskiedenis. Nie net is hierdie jeugverhale bildungsromans nie, maar dit is ook in opeenvolgende gedeeltes as ’n reeks in tydskrifte en koerante uitgegee. Beslis reekse oor dieselfde hoofkarakters.
Nog ’n aspek wat gereeld opgehaal word wanneer reeksboeke ter sprake kom, is dat dit nie goed vir kinders is om dit te lees nie. Dit is resepmatig en hulle leer nie om behoorlik te lees nie. Dit is nie ’n ongegronde argument nie. Lydia Snyman-Pienaar, ’n gerekende kenner oor kinderliteratuur, skryf in verskeie van haar boeke (Die kind en sy literatuur (1968), Die kind en sy literatuur (1983), Die Kinderleser en Kinderlitertuur en die Jeugboek (1987)) dat reeksboeke nie die kind se leesvaardigheid bevorder nie. Dit is in wese resepmatig, voorspelbaar en maak die kind gewoond daaraan om ’n patroon te verwag. Dis waar tot ’n mate, maar die eintlike doel van ’n reeksboek is nie om ’n jong leser se leesvaardigheid voortdurend uit te daag nie, maar om daardie jong leser aan die lees te kry.
............
Nog ’n aspek wat gereeld opgehaal word wanneer reeksboeke ter sprake kom, is dat dit nie goed vir kinders is om dit te lees nie. Dit is resepmatig en hulle leer nie om behoorlik te lees nie. Dit is nie ’n ongegronde argument nie. Lydia Snyman-Pienaar, ’n gerekende kenner oor kinderliteratuur, skryf in verskeie van haar boeke (Die kind en sy literatuur (1968), Die kind en sy literatuur (1983), Die Kinderleser en Kinderlitertuur en die Jeugboek (1987)) dat reeksboeke nie die kind se leesvaardigheid bevorder nie. Dit is in wese resepmatig, voorspelbaar en maak die kind gewoond daaraan om ’n patroon te verwag. Dis waar tot ’n mate, maar die eintlike doel van ’n reeksboek is nie om ’n jong leser se leesvaardigheid voortdurend uit te daag nie, maar om daardie jong leser aan die lees te kry.
...............
As lees vir jou ’n uitdaging is en jy vind ’n boek met ’n karakter waarvan jy hou, en jy gaan op verskillende avonture saam met dieselfde karakter, bou die leser vertroue op. Daardie klein leser begin hou van lees en vind dan sy pad oop om lees met genot te assosieer. Dit is ’n belangrike ding waarmee kinders al vir baie lank worstel. Vir hoe lank al is lees as ’n huiswerktaak uitgekryt? Jy doen dit omdat jy moet, nie omdat dit vir jou lekker is nie. Interessant genoeg noem De Wet dit in haar artikel – Hanno Breedt wat hou van lees word as ’n enigma beskou deur Trompie omdat hy lees en ook goed is in sport. Hy word uitgebeeld as minder "manlik" en minder cool as Trompie se Boksombende. Ek sal ’n toffieappel op ’n blok sit dat daar seuns en meisies was wat daarmee kon identifiseer en Trompie gelees het omdat hulle lesers was en omdat hulle hou van lees. Hier kan mens reeds verwys na die assosiasies wat lesers met ’n karakter kan maak.
Sou reeksboeke geen ander doel hê as om iemand (’n kind of selfs volwassene) aan die lees te kry nie, is hulle om daardie enkele rede is hulle reeds beslis geslaagd. Dink maar aan die reeksboeke wat superpopulêr geraak het en selfs tot films gelei het – Trompie en Saartjie was beslis gewild genoeg; daar was TV-reekse. Meer onlangs kan mens kyk na How to train your dragon, Harry Potter en wat van Twilight ... almal was gaande oor die vampierpaatjie van Edward Cullen and Bella Swan. Ek vermoed die geheim lê in die karakters.
Die artikel wat rondom die Trompie-boeke verskyn het, wys gendertemas uit en ook die feit dat daar nie in die boeke ruimte is vir kinders of mense op die rand nie. In die boeke het mans ’n sekere rol, en vroue ook. Die heersende groep is wit en die samelewing bestaan kerngesonde gesinne. Geen ruimte vir mense wat anders dink of is nie. Onlangs het ’n gesprek in letterkundekringe oor randfigure in die letterkunde plaasgevind, en ’n reaksie hierop. Sien jy kans vir ’n kortlikse bestekopname van jeugboeke en reeksboeke (nie dieselfde ding nie!) van vandag?
Kom ons onderskei eers tussen hierdie twee genregroeperings: Jeugboeke word tradisioneel volgens ouderdom, hoofsaaklik deur uitgewers en onderwyskenners, gedefinieer as enige boek, roman of novelle wat geskik is vir kinders tussen 12 en 18 jaar. Verskillende uitgewers en instansies sal verskillende ouderdomme hiervoor gee, sommige selfs tot 21 jaar. Daar is natuurlik ook die nuwe genregroepering wat veral oorsee posgevat het: Young Adult literature of YA, in Afrikaans bekend as jongvolwasseneliteratuur. Sommige tekste wat voorheen as jeugliteratuur geklassifiseer sou word, val nou in hierdie jongvolwasseneliteratuurgroepering. Ek self is nie ’n aanhanger daarvan om ouderdomme te koppel aan boeke nie, want ek het self as kind "ver bo my ouderdom" gelees. Ek dink as ’n kind ’n boek wil lees omdat dit vir hom of haar interessant lyk, geld die gesegde van "Ondersoek alle dinge en behou die goeie." Natuurlik binne perke – ek sê beslis nie ’n kind van 12 moet byvoorbeeld sielkundige rillers lees en dan nagmerries daaroor kry nie.
Reeksboeke is weer enige boeke wat dieselfde hoofkarakter volg, gewoonlik op ’n reis of avontuur. En hier moet mens in gedagte hou dat nie net kinder-, jeug- en jongvolwasseneliteratuur betrek word nie – daar is ook volwasseneliteratuur wat in reekse voorkom. Die dubbele goud is dat kinder-, jeug- en jongvolwasseneliteratuur wat gewild is, gewoonlik ook deel vorm van ’n reeks.
Die derde kwessie wat hier ter sprake kom, is dié van randfigure. Randfigure is bloot karakters wat anders as die norm is. Dit beteken geensins dat alle randfigure noodwendig sleg is nie, maar net dat “anders” beteken “anders”. Die vraag is eintlik hoe ons ons begrip van randfigure konstrueer.
............
As mens Afrikaanse jeugboeke met ’n uitgezoemde lens beskou, sal jy sien dat daar beslis ’n tendens was sedert die vroeë 1990’s om meer sogenaamde randfigure in jeugboeke uit te beeld.
..............
As mens Afrikaanse jeugboeke met ’n uitgezoemde lens beskou, sal jy sien dat daar beslis ’n tendens was sedert die vroeë 1990’s om meer sogenaamde randfigure in jeugboeke uit te beeld. Ons kan hier dink aan byvoorbeeld Barrie Hough, Leon de Villiers, George Weideman, Elsabe Steenberg, Maretha Maartens en Marita van der Vyver se boeke. Onderwerpe soos egskeiding, tienerswangerskap, egbreuk, enkelouergesinne, gayverhoudings, karakters met donker verledes en, om die waarheid te sê, die onaangename werklikheid vir die oorgrote meerderheid van die samelewing. ’n Kerngesonde gesin soos jy hier noem, is ongelukkig ’n rariteit en ’n absolute seën as jy in die bevoorregte posisie is om so ’n gesin te hê. Dit moes ek self uitvind toe ek op hoërskool was en met ’n oueraand uitgevind het dat uit ’n klasgroep van 96 leerders slegs 12 kinders se ouers nog getroud is, en nie met ’n tweede vrou en gesin of stiefbroers of -susters of deel is van ’n kinderhuis of in pleegsorg by familie, of by iemand bly wat die staat aangestel het nie. Daar was net 12 sogenaamde kerngesonde gesinne in my graad. Jeugverhale is nie sprokies nie, en selfs sprokies het wrede stiefma’s wat jou wil vergiftig en dan moet jy by sewe dwergies in ’n woud gaan bly, of vlug vir jou lewe.
Kom ons spring vorentoe: na vandag. Die Trompie-boeke was uiters suksesvol, soos ook blyk uit die feit dat daar ’n TV-reeks daaruit ontstaan het, soos jy reeds genoem het. Die Boksombende is by baie bekend; die meeste (wit) Afrikaanse volwassenes sal die name van die Boksombende ken. Die vraag is: Sal die ouers se nostalgie dalk meebring dat die boeke nog verkoop? In jou navorsing rondom jeugliteratuur: Wie is die kopers van boeke, meestal?
Kom ons begin by jou eerste vraag. Ja, ek dink dit is juis die nostalgie en emosionele waarde wat ouers en veral ’n spesifieke generasie aan so ’n boekreeks heg wat boeke help verkoop. Mens moet darem ook nie vandag se tieners en jong lesers onderskat nie. As ’n jong leser een boek uit ’n reeks optel en begin lees, dan is dit gewoonlik neusie verby. Daardie kind gaan nog van daardie boeke soek. So of ouers se nostalgie ’n motiveerder vir jong lesers is om ’n boek of reeks boeke te lees of aan te skaf, is eintlik om ’t ewe.
.............
As ’n jong leser een boek uit ’n reeks optel en begin lees, dan is dit gewoonlik neusie verby. Daardie kind gaan nog van daardie boeke soek. So of ouers se nostalgie ’n motiveerder vir jong lesers is om ’n boek of reeks boeke te lees of aan te skaf, is eintlik om ’t ewe.
............
Om te kom by die vraag oor wie nou eintlik boeke koop: Verskeie studies is al gedoen, maar dit bly ’n wisselende besigheid. Met die grendeltyd in 2020/2021 was daar tot ’n mate ’n oplewing van boekverkope, maar in daardie geval sou dit beslis ouers gewees het wat boeke koop. Die ander faktor is ouderdom – vir jonger kinders sal dit grootliks ouers, vriende en familie wees wat boeke koop, maar iets wat nie buite rekening gelaat moet word nie, is biblioteke en skole. Hierdie is die groot aankopers van boeke. Alhoewel meestal vir skooldoeleindes, word hier ook deur grootmense keuses gemaak vir kinders. Ek wil tog glo dat biblioteekpersoneel aansienlik meer sensitief sal wees vir waarvan hul lesers hou. Hulle is immers die voorste linie as dit kom by versoeke om boeke aan te koop of wanneer ’n boek gesoek word. Ek het persoonlik al vriende gemaak met ’n handvol biblioteekmense (tannies en ’n paar cool dudes) in my plaaslike biblioteek. Hulle sal vra of jy die boek geniet het, of jy ’n soortgelyke boek al gelees het, ens. Hierdie inligting moet tog iewers ’n bepalende invloed hê op die keuses wat die aankopers van boeke vir biblioteke uitoefen.
Laastens is daar in Maritha Snyman se studie van 2006, wat reeds gevind het dat ’n boek se omslag ’n groot impak maak op ’n jong leser en dat hulle juis ’n boek sal kies op grond van hoe die omslag lyk. Om ’n boek uit te soek en te besluit of jy dit wil koop het per slot van rekening met bemarking te doen. Daarom die interessantheid van ouer reekse wat heruitgegee word met baie mooi stofomslae en nuwe voorblaaie. Indien die produk (boek) aanloklik lyk, sal iemand dit wil koop, hetsy ’n volwassene of kind. Die volwassene sal heel mootlik eers die agterblad lees om te kyk of dit geskik is en die kind sal waarskynlik sommer net inklim en lees. Daarom is dit eintlik moeilik om definitief te sê dit is ouers wat boeke koop terwyl kinders se eie keuse en belangstelling nie onderskat moet word nie. Wat om te lees bly ’n individuele saak – wat ek sal lees en wat jy sal lees, verskil, want ons voorkeure en smaak verskil.
Goed, ek dink dis duidelik dat daar ’n mate van resepmatigheid aan enige topverkoper moet wees. Lesers het ’n sekere leesbehoefte en verwagtinge. Dit geld misdaadfiksie, romanses en jeugboeke. Of hoe? Ten spyte hiervan (die "resep") is ’n skrywer van ’n topverkoper-misdaadboek of topverkoper-kinderboek beslis besonder kundig om daardie boek te kon skryf – die boek wat mense laat lees. Tog is daardie topverkoper-boeke en -skrywers nie onaantasbaar nie – wat dink jy? Wat is die belang van ondersoeke en akademiese artikels soos hierdie een, juis oor boeke wat mense ontstel as daar navorsing omtrent gendertemas gedoen word en mens reaksies hoor soos "Los die boeke uit en fokus op iets belangriks"?
..............
As daar iets is wat ek in my kort tydjie in die akademie en oor die algemeen geleer het, is dat mens nooit dit of dié wat voor jou gekom het, moet onderskat of afmaak as onbelangrik nie. Jy en jou werk staan op die skouers van ander se werk, bewustelik of onbewustelik.
.................
As daar iets is wat ek in my kort tydjie in die akademie en oor die algemeen geleer het, is dat mens nooit dit of dié wat voor jou gekom het, moet onderskat of afmaak as onbelangrik nie. Jy en jou werk staan op die skouers van ander se werk, bewustelik of onbewustelik. Miskien is ek dalk nou weer te postmodernisties, maar niks is regtig, werklik en waarlik nuut nie. Tekste beïnvloed mekaar en verwys baie keer selfs na ander tekste – al sien mens dit dalk net met ’n bietjie fyner lees. Iemand het eenkeer ’n baie waar ding gesê oor skryf en eintlik enige kreatiewe werk wat geskep word: Sodra daardie "werk" – teks, kuns, boek, sklidery of wat ook al – jou hande verlaat, is die interpretasie daarvan en die betekenis wat daaraan geheg word, nie meer die skepper se eiendom nie. Jy kan nie vir ander sê of beveel wat om te dink oor jou werk nie. Daarom is geen teks werklik onaantasbaar of enige skrywer se werk onaantasbaar nie. Die eintlike vraag lê eerder waar word die streep getrek van wat as van waardevol geag moet word en wat nie.
Wanneer ons dan kyk na sulke sterk reaksies op navorsing, wat in hierdie geval verwys na slegs een lens waardeur ’n spesifieke teks beskou kan word, is dit juis van belang dat hierdie artikels geskryf moet word. Dit is net een manier om na ’n teks te kyk – niemand het iewers gesê dit is die enigste, enkele korrekte manier om na ’n teks te kyk nie. In alle eerlikheid is dit nie die lens wat ek sou kies om na Trompie te kyk nie, maar daar kan beslis deur hierdie lens só na Trompie gekyk word. Dit maak sin en al die bewyse en voorbeelde is daar om die stellings wat gemaak word, te staaf. Soveel siele, soveel menings en net soveel perspektiewe en is dit werklik so erg as iemand anders dink oor ’n aspek soos gender in ’n bepaalde teks? Die akademie sal tog daarna streef om met ’n verskeidenheid lense na dieselfde teks te kyk. Sodoende kan daar bepaal word of ’n teks sy toets van die tyd kan deurstaan. Die genderrolle wat deur die artikel uitgewys word, is regtig nie iets nuuts nie. Dit was wel interessant om die artikel te lees en die voorbeelde te volg.
’n Vraag oor reeksboeke: Watter boeke dink jy is nog steeds geslaagd - boeke uit vroeëre tye en ook meer onlangse reekse? Dalk kan jy die naam van die reeks noem en vir jong lesers of hul ouers iets van elke reeks vertel, sodat die kinders wat hierdie vakansie nog lus het vir lees, by die biblioteek kan uitkom voordat die derde kwartaal begin?
Moeilik beslis, want hoe maak ’n mens nou ’n keuse tussen al die opsies? Reeksboeke is steeds geslaagd in dié opsig dat dit kinders aan die lees kry, en die keuses is legio.
As ons kyk na ouer reekse, is Keurboslaan is goeie roep. Daar is ook die Uile-reeks deur Cor Dirks wat tussen 1949 en 1971 verskyn het, met omnibusse in die 1990’s. Ook hierdie reeks het herleef met ’n heruitgawes sedert 2011. Dié reeks handel oor die verskeie avonture van nog ’n bende skoolseuns. Die vyf skoolseuns van die Genootskap van die Uile (Philip die leier, die slim Jorsie, die ronde Vaatjie, die sportiewe Berrie en die hakkelende Hennie) is gefokus op reg en geregtigheid.
Wanneer ons kyk na vertaalde reekse uit Engels, is daar:
Hoe om jou draak se toorn te tem deur Cressida Cowell. Hierdie is nou vir jou ’n lekker storie. Dink jy ’n viking kan ’n draak tem en hom as troeteldier aanhou? Wel, Harwarrus Horribalus Heldehelm die Derde kan en saam met sy vriende gaan hulle op reise, red drake en red die vikings van Grombaard die Gruwelike. Sien, Harwarrus Horribalus pas ook nie eintlik in in sy dorp nie. Hy is anders en deur al die avonture saam met sy draak maak hy vriende, leer ’n paar lewenslesse en leer hy ook vir ’n paar grootmense ’n paar lesse. Beslis die lees werd voor jy die filmreeks kyk.
Diary of a Wimpy Kid, in Afrikaans Dagboek van ’n Wimp (2016) ? [daar is enkeles wat Wimpy Kid het ...? ] handel oor ’n seun, Greg, wat ’n joernaal begin op sy eerste skooldag, maar dan maak hy ’n nuwe vriend, sy beste vriend, Rowley. Hulle wedervaringe van skool, boelies, verpligte sport en ander dinge is iets waarmee 9- tot 14-jariges kan identifiseer en episodes word vertel asof dit in ’n dagboek geskryf word.
Die Harry Potter-reeks oor ’n seun wat op sy 11de verjaarsdag uitvind hy is ’n towenaar, het amper geen bekendstelling nodig nie. Dit was, is, uiters gewild en word steeds wêreldwyd gelees in meer as 79 tale. Harry woon by sy oom en tante omdat sy ouers in ’n motorongeluk oorlede is, wat hy later sou uitvind maar net die "cover-up" was. Sy neef is verby naar met hom en wanneer hy sy aanvaardingsbrief van Hogwarts, Skool vir Heksery en Towenkuns ontvang, gaan hy op ’n avontuurryke reis deur sewe boeke. Daar is gevaar, hy maak twee boesemvriende en ontdek nuwe familielede. En ja, daar is films, maar lees eers die boeke.
Van die bekendste Engelse reekse vir jong volwassenes sluit in die Hunger Games-, Divergent- en Mazerunner-reekse. Hierdie boeke het ook tot filmreekse gelei – mens kan klaar sien die invloed wat reeksboeke het.
Eietydse Afrikaanse jeugverhale sluit in titels soos die Thomas@-reeks deur Carina Diedericks-Hugo, die Nova-reeks, die groeiende Wêreld van Wolwe-reeks deur Fanie Viljoen en die Dr Fungus en Zackie Mostert-reekse deur Jaco Jacobs.
Hierdie is slegs enkele opsies wat beskikbaar is vir kranige lesers.
Die beste raad wat ek kan gee, is lees wat vir jou lekker is. As dit ’n lekker storie is, wat maak dit saak as die wêreld waarin dit afspeel nie jou eie werklikheid is nie? Die punt van ’n lekker storie is dat dit jou kan wegneem van jóú werklikheid. Dit is soms presies wat mens nodig het en kinders het tog ook hierdie behoefte om van hul werklikheid te ontsnap. As jy iets kan wegneem uit daardie storie, bonus!
Lees ook:
Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans daarop gerig om meerstemmigheid te bestendig
Kommentaar
Ek het 'n boekwinkel. Waar kan ek van die Afr. jeugboeke te koop kry?
Jy kan boeke aanlyn koop by Graffiti Boeke.
Wil net byvoeg die Huppelreeks en Liewe Heksie-reekse is ook baie goed. Ou Kuifje en sy kaskenades lees ook lekker.
Jare gelede het ek die Grillers-reeks ook gelees, ek glo nie dit bestaan meer nie. Die Afrikaanse weergawe van Goosebumps.