"Die heruitreiking van Die Uilereeks in die 21ste eeu is 'n anachronisme. Die leefwêreld van die Uile is 'n idilliese, vergange tydperk. In 'n era waar skoolkinders per WhatsApp kommunikeer en skooltake op tabletrekenaars doen (en nie perskes steel nie) is Die Uile se vlerke helaas vandag geruisloos."
Hierdie aanhalings kom uit 'n resensie van Proteaboeke se heruitgawe van Die Uile-reeks, en 'n mens kan seker aanvaar dieselfde afwysende kritiek sal geld vir die heruitgawes van die Trompie- en Saartjie-reekse van Nasionale Boekhandel.
In albei gevalle sal dit foutiewe aannames wees.
Talle lesers van die resensie op Netwerk24 het dit afgeskiet. Hier is net twee van hulle aan die woord :
♦ My seun is 10 jaar oud en verslind hierdie boeke. Watter kind droom nie daarvan om avonture te beleef wat jou na jou asem laat snak nie?
♦ Volgens hierdie logika het Asterix en Kuifie dus ook nie bestaansreg nie.
Maar die sterkste argument kom van Nicol Stassen, direkteur van Proteaboeke, uitgewer van hierdie en ander ou reekse. Hy sê hul suksesvolste reeks nog is Die Uile, wat beter verkoop as die moderne jeugreekse, waarvan hulle baie uitgee. Daar is tans omnibusse van Die Uile op die mark.
"Sewe van ons toptien e-boeke is Die Uile-boeke en twee van die ander is jeugboeke van CJ Langenhoven."
Trompie en Saartjie is reeds in 1950 deur Topsy Smith geskryf (hy het die bynaam Bettie Naudé vir sy Saartjieboeke gebruik) en hulle vaar net so goed. Hulle was tot 1995 in druk en is in 2006–7 deur Human & Rousseau heruitgegee. Omnibusse van die reekse het in 2013 verskyn en omnibus 5 verskyn later vanjaar. Die tekste is effens vernuwe deur Kobus Geldenhuys.
Met die binnekoms van die internet met sy speletjies, WhatsApp, verstedeliking en dies meer verskil die leefwêreld van 2016 se jong lesers darem hemelsbreed van 'n dekade of twee gelede. En tog sê Simoné Hough van Human & Rousseau
"Trompie en Saartjie is – nes Die Uile – steeds relevant vir moderne jong lesers en verkoopsyfers bewys dit".
Die aankopers is vermoedelik ouers wat daarmee bekend is en omdat die reekse 'n goeie reputasie het. Hulle verkoop jaarliks ongeveer 60 kinder- en jeugboeke, amper 'n kwart van die hele maatskappy se publikasielys. (In die geval van Protea is dit 55%.) Van die nuwer verhale vaar reekse soos Die speurhond Willem en Speurder Kwaaokofski ook baie goed.
Carla Lang van Protea voel dat ouers gemakliker voel met bekende reekse wat hulle self gelees het. Die Uile was destyds gemik op tieners van tot so 18 jaar, maar sy dink dis nou meer geskik vir kinders tot so 14 jaar.
Stassen sê die meeste nuwe skrywers van jeugboeke is nie baie goeie skrywers nie en net sowat 5% van die aangebode manuskripte slaag die toets. Eintlik is daar 'n tekort aan nuwe jeugboeke van gehalte.
"Die meeste nuwe skrywers van jeugboeke is nie goeie skrywers nie. Die pryse word jaarliks gewen deur miskien drie van die 'nuwe' skrywers, waarvan sommige ook al na hul veertigs op pad is."
Dis dan seker ook van die redes waarom stokou reekse soos Stella Blakemore se Maasdorp-reeks (1932) met tussenposes van ongeveer 20 jaar tot 1995 vier heruitgawes beleef het. Haar reeks oor Keurboslaan (1941) is ook steeds gewild.
Ou bekendes soos Karl Kielblock se Lafras Cuyper-reeks en CF Beyers-Boshoff se Jasper-reeks (1959) het ook nog hul aanhang.
Reekse soos Die Uile is oor die laaste 60 jaar keer op keer uitgegee in nuwe uitgawes met nuwe voorblaaie wat met die tyd tred hou en bly steeds 'n wenresep. Dieselfde word oorsee gesien en Enid Blyton se reekse The Famous Five en The Secret Seven is al ontelbare kere herdruk, om nie eers te praat van die fabels van Lafontaine, Anderson, Grimm en vele ander nie.
Stassen dink nie dat ou mense Die Uile lees of herlees nie, wat beteken al die nuwe lesers is jonk. Dit is wel moontlik dat die aankope deur ouer mense vir hulle families gedoen word. Die feit dat so baie van Die Uile se e-boeke verkoop, is vir hom 'n verdere bewys dat hulle deur jong lesers gelees word.
Carina Hanekom, bemarker by Protea, sê die verkope van "ou" reekse is deurgaans stabiel, terwyl ander/nuwe jeugboeke 'n bietjie meer bemarking nodig het. Protea gee tans ook weer die Jasper-reeks van CF Beyers-Boshoff (wat van 1959 dateer) uit en die boeke vaar baie goed.
Dis goed om te weet dat Trompie se kouse steeds oor sy skoene hang en dat Blikkies nog grassies kou en dat Saartjie steeds sukkel met die weerbarstige krul op haar voorkop. En dat Die Uile se vlerke in 2016 nog saam met baie ander ou en ook nuwe jeugboeke klap.
♦ Die volledige resensie waarna hier bo verwys word is by http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/uile-bring-goeie-herinneringe-terug-20160418.
Kommentaar
Ek vind twee stellings in hierdie artikel aanvegbaar:
'Stassen sê die meeste nuwe skrywers van jeugboeke is nie baie goeie skrywers nie en net sowat 5% van die aangebode manuskripte slaag die toets.'
Wie se norme bepaal of 'n jeugboekskrywer goed of sleg is? Word 'nuwe skrywers' aangemoedig, byvoorbeeld deur wenke vir verbetering van hul manuskrip, of word dit summier afgewys? Ek ken persoonlik skrywers wat manuskripte ingedien het en dit, na talle navrae, duidelik ongelees teruggekry het.
'Die pryse word jaarliks gewen deur miskien drie van die 'nuwe' skrywers, waarvan sommige ook al na hul veertigs op pad is.'
*geen kommentaar*
Let wel, ek is 100% ten gunste van heruitgawes sodat dié boeke ook die jonger geslag laat lees. Waarteen ek skop, is die feit dat 'nuwe skrywers' bitter min kans kry in die uitgewersbedryf.