Corene de Wet se navorsingsartikel “Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke” het opspraak verwek toe dit onlangs in LitNet Akademies se Opvoedkunde-afdeling verskyn het. Die artikel plaas stereotipes en die patriargale gesin onder die soeklig. Op LitNet se Facebook-blad het lesers uitgevaar teen die artikel. Estelle Kruger gesels met Corene en met Dewald Koen van Nelson Mandela Universiteit se Opvoedkundefakulteit.
Vir my is dit ’n raaisel hoe ’n geskiedenisonderwyser by die Trompie-boeke uitgekom het, ook hoe ’n kenner van opvoedkunde en Afrikaanse jeugliteratuur die aanslae teen die negatiewe kommentaar hanteer ...
Corene: Om te lees is vir my soos om asem te haal. As plaaskind van die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu het ek my vakansies verwyl deur Afrikaanse boeke soos die Trompie- en Saartjie-reekse, Patrys-hulle (EB Grosskopf) en Mikro se Ruiter in die nag en Kaptein Gericke, en die gewilde Reader’s Digest Condensed Books te lees. Op universiteit het ek kennis gemaak met die Sestigers. Ek het sedertdien nog nie opgehou om te lees nie. As eerstejaarstudent op Potchefstroom was ek van een ding seker: Ek gaan geskiedenis en Afrikaans swot. Die res van my kursussamestelling was toevallig. Na etlike jare as geskiedenis- en Afrikaans-onderwyser en daarna dosent in vergelykende opvoedkunde behaal ek my PhD in geskiedenis 1998. Die titel van my proefskrif is “Blank-swart-verhoudinge soos weerspieël in die Vrystaatse historiografie, 1800–1910”. Hierdie studie het my geleer om krities-vergelykend met literatuur om te gaan. My navorsing oor die Trompie-boeke kan dus as ’n samevloeiing tussen twee liefdes, die Afrikaanse boeke waarmee ek grootgeword het en my liefde vir geskiedenis, gesien word.
Dewald: Ek doseer Afrikaanse letterkunde en vakmetodiek in die Nelson Mandela Universiteit se Opvoedkundefakulteit. Ek besoek daagliks LitNet se webwerf en lees altyd interessante resensies, gesprekke asook navorsingsartikels in die opvoedkunde sowel as die geesteswetenskappe. Die Afrikaanse letterkunde is my passie. Ek het vroeër vanjaar my doktorale proefskrif vir eksaminering ingedien waarin ek Marlene van Niekerk se digbundel Kaar (2013) vanuit ’n ekokritiese paradigma ondersoek het. Ek lees soveel as moontlik Afrikaanse romans, dramatekste en digbundels. Ek was voorheen Afrikaansonderwyser en moes dus op hoogte bly van verwikkelinge in die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur. Corene se artikel oor die Trompie-reeks op LitNet Akademies het dadelik my oog gevang en ek was nuuskierig om haar bespreking van die gewilde reeks te lees. Op Facebook het ’n broehaha oor die genderaspek van die artikel uitgebreek en ek het kommentaar gelewer op van die onsinnighede wat sommige lede van die publiek omtrent die artikel kwytgeraak het.
Dit is vir my duidelik dat ’n hele paar universele temas in hierdie navorsing aangespreek word.
Corene: My navorsing as vergelykende opvoedkundige is toegespits op struikelblokke op die weg van die bereiking van gehalte-onderwys in Suid-Afrika. In my navorsing skenk ek onder andere aandag aan rasse- en gendervooroordele, geweld, boeliegedrag tussen kinders, maar ook tussen kinders en onderwysers, asook onderwysers onder mekaar (werksplekboeliegedrag), en vandalisme. Navorsing het getoon dat hierdie nie tipies Suid-Afrikaanse nie, maar internasionale onderwysaangeleenthede is. Suid-Afrika se sosio-ekonomiese en politieke milieu het tot gevolg dat moontlike oplossings vir hierdie probleme die eiesoortigheid van ons land in ag moet neem.
Dewald: Estelle, ek is dit met jou eens dat Corene se navorsing inderdaad belangrike universele temas aanspreek. Ek het eerstehands ervaar hoe boeliegedrag, gendervooroordele asook homofobiese gedrag in skole steeds daagliks voorkom. Dit is belangrik dat ons openlik oor hierdie kwessies gesels om bewusmaking daaromtrent te skep. Literatuur is ’n praktiese en toeganklike wyse vir onderwysers, maar veral vir ouers of voogde, om belangrike gesprekke met hul kinders te hê oor die uitdagings wat ons as Suid-Afrikaners in die gesig staar.
Dat hierdie studie fokus op skoolgeweld, afknouery by skole en werksplekke en die ontgroening van leerders dui vir my aan dat daar ’n duidelike verband tussen dié onderwerpe en hierdie boeke is.
Corene: Ek het ’n artikel geskryf en twee referate gelewer oor die moontlikheid dat biblioterapeute jeugverhale gebruik in die aanspreek van onder andere boeliegedrag.1 Dit spreek vanself dat hierdie boeke uitstekend sal pas in biblioterapie en ’n rol sal kan speel in die voorkoming van hierdie soort afwykende gedrag in skole.
’n Opsomming van die kern van hierdie deeglike navorsing dui aan dat daar nie net by navorsers nie, maar ook by die breë publiek en onderwysowerhede ’n bewuswording van moontlike oorsake van, vergestalting van en oplossings vir ernstige en minder ernstige vorme van onderwyser- en leerderwangedrag geskep moet word.
Corene: Urie Bronfenbrenner se sosio-ekologiese teorie staan sentraal in my navorsing, en ondersteun die noodsaak van ’n multidimensionele vertrekpunt wanneer navorsing oor komplekse onderwysaangeleenthede onderneem word.
Dit is interessant hoe ’n hele aantal stereotipes in die Trompie-boeke uitgewys word en ek wonder hoeveel dit steeds ’n invloed op ons hedendaagse samelewing in Suid-Afrika het.
Corene: Ten spyte van ons Grondwet wat gelykheid tussen mans en vrouens, ongeag hul seksuele oriëntering, waarborg, is genderstereotipering nog algemeen in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die volgende is enkele voorbeelde van genderstereotipering wat ek in die Trompie-boeke geïdentifiseer het wat nog algemeen in ons hedendaagse samelewing voorkom:
- Meisies is boekwurms en pligsgetroue leerders.
- Meisies moet maer en mooi wees om aantreklik vir seuns te wees.
- Vrouens met beroepsaspirasies word steeds negatief beoordeel. Onderwys word steeds as ’n “vroueberoep” gesien. Vrouens hoef nie beroepsgedrewe te wees nie; hulle mans sal vir hulle “sorg”.
- Seuns, daarenteen, speel graag in die buitelug, is dapper en avontuurlustig.
- Seuns se aggressie is ’n toonbeeld van hul manlikheid.
- Die seksuele oriëntering van seuns wat eerder in die kunste as sport en buitelugaktiwiteite belangstel, word aan die groot klok gehang.
- Seuns wat niegewelddadig optree en vredeliewend is, is dikwels die teiken van boelies.
Dewald: Dit was vir my besonder interessant om Corene se bespreking van genderstereotipering in die Trompie-boeke te lees. Dit het my weer eens laat besef dat die samelewing nog ’n lang pad het om geslagsongelykheid uit te wis. Dit is verblydend om te sien hoe meer onlangse skrywers van kinder- en jeugliteratuur nie huiwer om kontroversiële onderwerpe te takel nie. Dit dui daarop dat skrywers van jeugverhale stadig maar seker wegbeweeg van stereotipes en vooroordele wat voorheen in talle Afrikaanse letterkundige tekste voorgekom het. (Ons moet wel die historiese konteks waarin die tekste gepubliseer is, in ag neem.) Soms is ons as lesers geneig om hierdie stereotipes te ignoreer omdat dit die norm in veral ouer Afrikaanse tekste was. Corene se artikel het my daarop bedag gemaak om daarop te let wanneer ek enige literêre teks, ongeag die taal waarin dit geskryf is, lees.
Ek wonder of die sestigerjare se geslag lesers wat hierdie boeke gelees het – wat later weermag toe is (of tuis gebly het en vir die “troepe” gewag het) – dalk hierdie stereotipes versterk of deurbreek het. Wat dink julle?
Corene: Ek is tans besig om Maretha Maartens en Magda Slabbert (2022) se Klankgrens – ’n oorlog teen geloof en hoop te lees. Klankgrens lees soos ’n handboek vir die verskillende vergestaltings van hegemoniese manlikheid.
Dit is moeilik om met absolute oortuiging te sê die Trompie-boeke het hegemoniese manlikheid onder Suid-Afrikaanse, of eerder Afrikaanse mans wat aan die Grensoorlog deelgeneem het, gevestig en versterk.
Een ding is egter seker, na aanleiding van Jo van Klankgrens se belewenisse: dat weermagvroue van die 1960’s tot die hede dikwels in die skadu van hulle mans (ge)leef (het). Rang bepaal nie net die magsverhouding tussen lede van die weermag nie, maar ook tussen die vroue van die lede van die Suid-Afrikaanse Weermag. Ten spyte van hierdie ongelykhede het die weermagvroue staande gebly.
Dewald: Boeke soos die Trompie-boeke (om maar één voorbeeld te noem) het definitief bygedra tot die bevordering van hegemoniese manlikheid. Ons kan egter nie noodwendig die skrywer hiervoor blameer nie. Dit was en is steeds ’n wêreldwye tendens en heers vandag nog in die meeste lande. Ek het onlangs Christiaan Olwagen se film Kanarie(2019) met my derdejaarklas behandel. Een van die verskynsels wat hulle uitgelig het, is die nostalgie wat talle pa’s rondom gebeure soos die Grensoorlog koester. Hulle is egter ook bewus van die trauma wat talle oudsoldate steeds in die gesig staar. Dit is duidelik dat die ouer generasie wel deur boeke soos die Trompie-boeke beïnvloed kon gewees het – net soos wat hedendaagse jeugliteratuur seker ook die denke van kinders en tieners beïnvloed.
Ouers en onderwysers en ook ander lesers wat met die boeke bekend is, is waarskynlik die “teikenmark” van die artikel (behalwe ook hedendaagse akademici wat die boeke krities lees)?
Dewald: Ja, en hierby kan ons ook onderwys- en letterkundestudente voeg. Die doel van ’n akademiese artikel soos hierdie is juis om die teks vanuit verskillende perspektiewe te betrag. Dit bevorder kritiese denke en moedig debat aan. Dit is jammer dat die debat in ’n moddergooiery ontaard het.
Daar was lanklaas ’n boekereeks wat soveel kommentaar en kritiek opgelewer het as ’n mens kyk na die kommentare op Facebook nadat die kort inleiding tot die navorsing op LitNet (8 Junie 2022) gelaai is. Voorheen het daar met die Harry Potter-reeks dosyne selfoon- en e-pos-boodskappe die ronde gedoen. Ek kan nie anders as om te wonder wat die ooreenkoms is nie ...
Dewald: Ek het die kommentare op Facebook gelees en op heelwat daarvan gereageer bloot omdat ek van mening was dat die hoofsaaklik oningeligte, subjektiewe en bevooroordeelde opmerkings ongevraagd was. Dit bekommer my dat dít die vlak van openbare gesprekvoering is. Met dié artikel kon ek aflei dat die kritiek en selfs beledigings teenoor die navorser hoofsaaklik uit Afrikanergeledere kom.
Die Trompie-reeks is sinoniem met die tipe Afrikanerskap van die sestiger- en sewentigerjare. Baie Afrikaners kon eenvoudig nog nie aanbeweeg ná 1994 se veelrassige demokratiese verkiesing nie. Soos in die geval van soldate wat in die Grensoorlog geveg het, verlang baie Afrikaners terug na die sogenaamde goeie ou dae. Dit is ’n tipe nostalgie waarna gekoester word. Ja, ons het wel nie beurtkrag in Suid-Afrika gehad nie, maar die meerderheid Suid-Afrikaners deel nie die sentiment van die “goeie ou dae” van apartheid nie.
Daar is steeds onderliggende woede en ongeloof wat in Afrikanergeledere broei. En hiermee wil ek nie alle Afrikaners oor dieselfde kam skeer of verkleineer nie. Waar daar in Harry Potter se geval grootliks kritiek uitgespreek is weens godsdienstige sentimente, word ’n onderwerp soos gender in die Trompie-reeks deur die ouer geslag as ’n aanval op Afrikanerskap en die tradisionele heteronormatiewe samelewing beskou. Ons sien dit daagliks in kommentare op Netwerk24. Ras, geloof, geslag, gender, seksuele oriëntasie, taal en kultuur is gereeld die onderwerp van aanlyn debatte. Ongelukkig ontaard hierdie debatte soms in persoonlike aanvalle op die skrywer of die gebruik van kru taal om hul mening uit te druk. Dit steek my dwars in die krop.
Dink julle daar is reeds plekke in die kurrikulum waar hierdie inligting geïntegreer sou kon word?
Corene: Temas wat tydens my data-ontleding geïdentifiseer is, sal gebruik kan word tydens die bespreking van die volgende Lewensoriënteringonderwerpe:
- selfontwikkeling in die samelewing
- grondwetlike regte en verantwoordelikhede
- die wêreld van werk.
Gedurende hul graad 8-jaar maak leerders kennis met temas soos geslagsgelykheid en kulturele diversiteit in Suid-Afrika. ’n Bespreking van die uitbeelding van vrouens as randfigure en die rol wat swart mans in die Trompie-boeke gespeel het, bied aan onderwysers die geleentheid om gender- en rasstereotipering aan die kaak te stel.
Deur die kritiese lees van die Trompie-boeke kan kinders tot die besef gebring word dat die werksplek van die 1950’s anders as dié van die 2020’s lyk. Alle leerders – ongeag ras of geslag – kan groot hoogtes in uitdagende beroepe bereik.
Die Trompie-boeke, wat in die 1950’s verskyn het, kan dus jongmense van die 2020’s motiveer om ’n kritiese standpunt teen genderstereotipering, -ongelykheid en -geweld in te neem.
Dewald: Die taalonderwyser is in ’n ideale posisie om deur middel van literêre tekste onderwerpe soos geweld, gender, seksuele oriëntasie ens in die klaskamer te bespreek. Dit is een van die redes waarom ek so van letterkunde hou. In my Afrikaans-metodiek-lesings plaas ek ook heelwat klem op die gebruik van literêre tekste vir opvoedkundige doeleindes. Wie sou kon gedink het dat ’n jeugroman soos Fanie Viljoen se Uit (2014) of Anzil Kulsen se Zita (2006) in ’n Afrikaanse klaskamer gelees sou word? Daar is nog skole waar sekere temas taboe is. Dit spruit hoofsaaklik uit die konserwatiewe sienings van sommige onderwysers. Ek dink byvoorbeeld aan François Bloemhof se Slinger-slinger (1997) en Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch (2002) wat talle Afrikaanssprekende ouers en onderwysers die harnas ingejaag het. Sommige skole het selfs geweier dat leerders Barrie Hough se Skilpoppe(1998) lees.
Ek lees dat Topsy Smith, wat in 1914 gebore is en in 1985 oorlede is, sy jeugjare in ’n Engelse huis in Pretoria deurgebring het. Hy verloor albei sy ouers op vyftienjarige leeftyd en “verhuis dan na Koppies in die Vrystaat. Hier is alles Afrikaans en hy lees alles wat hy in die hande kan kry. Hy matrikuleer op die dorp en in sy matriekjaar speel hy rugby vir die skool se eerste span en ook vir die dorpspan.” Het julle enige hipotese (gedagte) hoeveel hierdie ervarings op hom ’n invloed gehad het in sy skryfwerk?
Corene: Topsy Smith ken die Suid-Afrikaanse platteland van die 1950’s en 1960’s deur en deur. Hoewel die Trompie-boeke in Kwaggaberg in ’n fiktiewe Transvaalse dorp afspeel, beskryf dit ’n geïdealiseerde Vrystaatse platteland. Diegene wat belangstel om deur ’n ander lens na die Vrystaatse platteland van die 1950’s en 1960’s te kyk, kan gerus Jennifer Freedman se Queen of the Free State: A Memoir (2017) en Zakes Mda se The Madonna of Excelsior(2002) lees.
Dewald: Topsy Smith was naas skrywer en onderwyser ook ’n kranige sportman. Hy was ’n ruk lank organiseerder van liggaamsopvoeding aan Randse skole en kon sodoende die gedrag van kinders en tieners binne die tydvak waarin hy geleef het, waarneem. As skolier is hy heel waarskynlik aan lyfstraf blootgestel. Hy was ook skoolhoof van Sandringham Laerskool, waar hy dissipline moes handhaaf. Sy ervarings en waarnemings van kinders en tieners in die tydvak waarin hy geleef het, word op geloofwaardige wyse in sy skryfwerk vergestalt.
Is daar ander ouer reekse wat ook met dieselfde lens bestudeer kan word om te sien wat hulle invloed op vandag se samelewing is?
Corene: Ek oorweeg dit om ’n vergelykende studie van Nerine Ahlers se Rietrotte-, Topsy Smith se Trompie- en Jeff Kinney se Diary of a Wimpy Kid-reekse te onderneem. Terwyl die Rietrotte- en Trompie-reekse oor die wel en wee van Afrikaanse seuns gedurende die 1950’s en 2020’s handel, handel Kinney se boeke (2007–2021) oor ’n Amerikaanse nieheld van die 21ste eeu. Beide Smith en Ahlers se boeke speel in ’n tipies Suid-Afrikaanse milieu af. Kinney se boeke het ’n universele aanslag en is in 56 tale beskikbaar (oa ook in Afrikaans).
Dewald: Definitief! Dit sal interessant wees om te sien hoe genderrolle in die Saartjie- en Maasdorp-boeke uitgebeeld word. Vergelykend kan daar selfs na Carina Diedericks-Hugo se Thomas@-reeks gekyk word om te bepaal hoe genderrolle in onlangse reeksboeke uitgebeeld word.
Ek is bewus van heelparty akademiese artikels wat fokus op geweld in skole – wat sou moontlik die oorsprong daarvan wees in die uitbeelding van karakters in die sestigerjare se jeugliteratuur?
Corene: Skoolgeweld is ’n uiters komplekse, multidimensionele aangeleentheid. Daar is nie ’n enkele oorsaak daarvan of oplossing daarvoor nie (vgl Urie Bronfenbrenner se sosio-ekologiese teorie). Beskrywings en die uitbeelding van geweld in boeke en op sosiale media en televisie en in flieks kan as moontlike, maar nie die enigste oorsake nie, van geweld beskou word. Om die skuld vir skoolgeweld slegs op die uitbeelding van karakters van jeugliteratuur wat dekades gelede verskyn het, te plaas sou naïef wees.
Dewald: Geweld is universeel en deel van die mens se kollektiewe onderbewussyn. In hedendaagse jeugliteratuur verskil die tipe geweld wat deur die karakters ervaar word, egter van die tipe geweld wat karakters soos Trompie en Jasper (in CF Beyers-Boshoff se Jasper-reeks) in die sestigerjare ervaar het. Hier dink ek aan voorbeelde soos Jasper se pa wat hom gereeld met die rottang bygekom het of Rooies van Trompie-faam wie se vuiste vir niks verkeerd gestaan het nie.
Die geweld in onlangse jeugliteratuur is dikwels meer grafies van aard, soos in byvoorbeeld Fanie Viljoen se Offers vir die vlieë (2020). ’n Tema soos lyfstraf word deur baie ouers en onderwysers as onbenullig afgemaak, maar dit kan wel psigologies bydra tot gewelddadige gedrag in sommige tieners. Ja, seuns sal altyd baklei, maar volwassenes se optrede kan hierdie tipe gedrag verminder deur ’n goeie voorbeeld te stel. Ons moet ook nie rites soos ontgroening en die bydrae wat dit gelewer het (en steeds lewer) ten opsigte van geweld in skole en koshuise onderskat nie. Gewelddadige gedrag manifesteer in die meeste gevalle tydens ontgroeningsrituele.
Baie dankie, Corene en Dewald. Ek dink dat ons deur middel van hierdie weldeurdagte gesprek universele betekenis aan Corene se artikel gegee het.
Lees ook:
Ontgroening in skole: ’n ondersoek na gewilde diskoerse. https://www.litnet.co.za/ontgroening-in-skole-n-ondersoek-na-gewilde-diskoerse (Eduard Potgieter, Lynette Jacobs, Corene de Wet 2021).
Ontgroeningspraktyke in uitgesoekte Vrystaatse hoërskole en skoolkoshuise: ’n verkennende studie.https://www.litnet.co.za/ontgroeningspraktyke-in-uitgesoekte-vrystaatse-horskole-en-skoolkoshuise-n-verkennende-stu (Eduard Potgieter, Corene de Wet, Lynette Jacobs, Kevin Teise 2014).
Rapport se beriggewing oor skoolgeweld 1994–2011: ’n multidimensionele sosiale probleem. https://www.litnet.co.za/rapport-se-beriggewing-oor-skoolgeweld-1994-2011-n-multidimensionele-sosiale-problee(Corene de Wet 2013).
Ouers is medeverantwoordelik vir die bekamping van afknouery. https://www.litnet.co.za/ouers-is-medeverantwoordelik-vir-die-bekamping-van-afknouery (Corene de Wet 2012.)
Om verby skoolgeweld te kyk – die rol van geïntegreerde helende onderwys in die verandering van skoolkultuur as ’n antwoord op skoolgeweld. https://www.litnet.co.za/om-verby-skoolgeweld-te-kyk-die-rol-van-geintegreerde-helende-onderwys-in-die-verandering-van-skoolkultuur-as-n-antwoord-op-skoolgeweld (Danie Kloppers en Dirk Postma 2022).
In die greep van geweld! https://www.litnet.co.za/in-die-greep-van-geweld (Seymour Bothma 2018).
Onderwysers as slagoffers van geweld deur leerders in Suid-Afrikaanse skole https://www.litnet.co.za/onderwysers-as-slagoffers-van-geweld-deur-leerders-in-suid-afrikaanse-skole (Nico Botha 2021).
Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate. https://www.litnet.co.za/suid-afrikaanse-skole-so-onveilig-soos-suid-afrikaanse-strate (Danie van Wyk 2019).
Basiese onderwys vir volwassenes as teenvoeter vir geweld teen vroue en kinders. https://www.litnet.co.za/basiese-onderwys-vir-volwassenes-teenvoeter-vir-geweld-teen-vroue-en-kinders (Danie Kloppers en Geesje van den Berg 2018).
Eindnota
1 Artikels deur Corene de Wet:
De Wet, C. 2016. The portrayal of bullying in contemporary South African young adult fiction. Child abuse research: A South African Journal, 17(2):49–63.
—. 2017. Reading Partridge’s “The Goblet Club” as an integral part of a secondary school’s anti-bullying programme. In Poplov, N, C Wolhuter, J Kalin, G Hilton, J Ogunleye, E Niemczk en O Chigisheve (reds), Current business and economics driven discourse and education: perspectives from around the world. BCES Conference Books, Vol 15, ble 115–21. ISBN: 978-619-7326-00-0. 15th Annual International Conference of the Bulgarian Comparative Education Society, Borovets, Bulgaria, 20–23 Junie 2017.
—. 2022. Gender themes in Jeff Kinney’s Diaries of a Wimpy Kid. In Poplov, N, C Wolhuter, L de Beer, G Hilton, J Ogunleye, E Achinewhu-Nworgu en E Niemczyk (reds). Kongresboek: Towards the next epoch of education, ble 130–6. XX Jubilee Annual International Conference. ISSN 2534-8426 (aanlyn) ISBN 978-619-7326-12-3 (aanlyn). 20th Annual International Conference of the Bulgarian Comparative Education Society. Virtuele Kongres, 20–24 Junie 2022.
Kommentaar
Dankie julle, dis nogal baie insiggewend en interessant. Het ook in my jongdae daardie boeke gelees. Toe het ek gedink dis vol pret en avontuur. Maar ek ervaar dat dinge vandag nog nie veel verander het nie.
Ek het ook Trompie- en Saartjie-boeke verslind, maar nooit nagedink oor hoeveel dit ons nageslag se houdings sou kon beïnvloed nie. Totdat ek hierdie deeglike navorsing gelees het. Dit het my oë oopgemaak vir baie mans en vrouens se houdings teenoor ander geslagte en ander rasse wat ek as volwassene leer ken het - ek het dikwels gewonder: waar kom hierdie houdings vandaan?
Onthou tog maar wat enige historikus weet – dat jy nie die verlede aan ons huidige waardes kan meet nie. Nietemin is dit goed dat navorsing oor jeugliteratuur gedoen word. Ons moet weet waarvandaan ons kom. Die Europese samelewings is al verby hierdie woke-kultuur en daar word gereeld op TV en in boeke die gek daarmee geskeer.
"Dit is moeilik om met absolute oortuiging te sê die Trompie-boeke het hegemoniese manlikheid onder Suid-Afrikaanse, of eerder Afrikaanse mans wat aan die Grensoorlog deelgeneem het, gevestig en versterk." My eerste reaksie is om te skryf: "MfM." Maar ja, as redelik resepmatige stories het die bende-boeke (Jasper, Trompie, Uile, Blou Tartare, Vistermanne, ens), die tydgees van destyds weerspieel, hoe dan anders? Die krimi's van vandag doen dieselfde, maar jinne meerminne, ek was daai tyd, en is steeds 'n boekwurm, skryf self ook al jarelank, en was op die Grens, maar wou nooit soos die boekkarakters wees nie, inteendeel, ek het ook geen enkele tydgenoot gehoor se dat hy soos hulle wil wees nie. NOOIT. Daardie boeke was afleiding, nie handboeke vir "manlikheid" nie. Ek sou eerder soos die Rooi Ridder of Fritz Deelman wou wees, en watter swak gedragslesse het HULLE by ons ingeprent? Nee, genade tog, spieëlbeelde dalk, en van kinders oraloor, maar spaar tog nou maar die arme Afrikaanse man, dis nou al afgesaag. Hoekom knetter niemand oor mans van ander kulture nie ons land, of elders nie? Hoe word vroue deur hulle behandel? Vergelykenderwys beter?
Lees gerus nog 'n siening hieroor: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/trompie-is-gn-heilige-koei-ons-sal-dit-met-nuwe-oe-moet-lees-20220717
Ek dink, soos ek ook op Facebook opgemerk het, dat verskillende mense verskillende reaksies lewer omdat verskillende aspekte van die debat hulle raak of interesseer. Trompie was is steeds geen faktor in my lewe nie en in die omgewing waar ek gewoon het en nou ook woon ook nie. Ek het ander helde gehad, baie nou al deur die kollig van die tyd verbleik. Nie Trompie nie, ook nie Jasper nie. Om hom 'n heilige koei te noem is vir my skaars begryplik. Dis asof iets hier totaal uit verhouding en konteks geruk word. So wat mense van hom dink traak my en duisende ander mans min, dis eerder die beterwetige en onregverdige aanslag wat pla, en wat my regtig keelvol maak, is die snuifgetrapte aanvalle op die sg Afrikanerman. En dan word 'n jeugverhaal met blote vermaaklikhiedsdoelwitte sowaar ook nog ontleed asof dit 'n veelkantige weergawe van 'n hele sosio-politiese omgewing moet wees. DIT is onregverdig en onewewigtig.