Danie van Wyk reageer op die Teaching and Learning International Survey (TALIS) se bevindinge oor veiligheid in Suid-Afrikaanse skole.
Dit blyk uit die verslag dat skole in Suid-Afrika meer sukkel met probleme soos afknoeiery, dwelm- en alkoholmisbruik, diefstal en vandalisme as enige van die ander 47 lande.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshega, het onlangs soos volg op die bevindinge in die verslag gereageer: “Ons het reeds begin om die verslag te bestudeer en leer ons lesse daaruit.”
Die Suid-Afrikaanse onderwyssisteem is die afgelope paar jaar in ’n geweldige krisis. Die TALIS-verslag en ander voorafgaande studies moes die minister en haar raadgewers reeds lankal laat wakker skrik het.
Dit is alombekend dat daar in slegs 20% van Suid-Afrikaanse skole sinvolle onderrig kan plaasvind. Gewelddadige voorvalle het ’n uiters nadelige effek op die onderwyssisteem as geheel en dra grootliks tot die onderprestasie van vele skole by.
Die agteruitgang van gemeenskappe se omstandighede vind ook in ons skole neerslag. Daar word gereeld in die media oor onderwysers wat deur leerders aangerand en selfs vermoor word, berig. Voortdurende bendegeweld op die Kaapse Vlakte en op ander plekke het ’n verwoestende effek op die onderwys van daardie gemeenskappe. Lede van die publiek word aanhoudend getraumatiseer sonder dat ’n oplossing vir die geweldskrisis in die vooruitsig gestel word.
Alkoholmisbruik en dwelmverslawing laat ouers én onderwysers met hul hande in hul hare. Kriminele aktiwiteite is aan die orde van die dag en vorm die basis vir ’n kultuur van geweld. Die vraag is dus: hoe gaan die minister van basiese onderwys en haar raadgewers hierdie krisis aanspreek?
Die antwoord op hierdie vraag is nie eenvoudig nie. Faktore wat met geweld verband hou, probleme wat as gevolg van disfunksionele omstandighede ontstaan en dissiplinêre probleme in skole móét aangespreek word.
Dit wil voorkom asof die onderwysowerhede die gewelddadige omstandighede in skole ignoreer. Die gebrek aan dissipline onder leerders is ’n kwessie wat besonderse aandag behoort te geniet. Daar is ’n behoefte aan ’n geïntegreerde plan waarin ouers, onderwysers, gemeenskappe én die onderwysowerhede ’n rol speel. Skoolgemeenskappe sal eienaarskap van hul skole en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan moet aanvaar. Aandag aan maatskaplike probleme sal uiteindelik ’n positiewe effek op gemeenskappe se waardesisteme hê.
Hoe kan ons as gemeenskappe betrokke raak en met praktiese oplossings vorendag kom? Ek wil die volgende beskeie voorstel maak om die minister se hand te versterk:
- Grootskaalse intervensieprogramme is nodig om probleme wat met geweld verband hou, hok te slaan. Die tyd vir wag en sien, is verby. Daadwerklike ingryping is nodig.
- ’n Geïntegreerde aksieplan, soos saamgestel deur onderwysowerhede, maatskaplike- en sekuriteitsdienste, is nodig.
- Religieuse instellings moet deel vorm van die plan, want hierdie stryd vereis dat soveel moontlik rolspelers in gemeenskappe op die idee inkoop.
- Dit is dus van noodsaaklike belang dat mense vanuit verskillende gemeenskappe betrokke raak. Ons kan nie meer gedweë toekyk hoe ons onderwyssisteem en die toekoms van ons kinders vernietig word nie.
- Ons moet waardes soos respek, verantwoordelikheid, dissipline, etiese optrede, en so meer beklemtoon.
- Ontwikkelingsprogramme vir jongmense moet in plek gestel word wat hul in staat sal stel om bo die siklus van geweld en onderprestasie te styg.
- Skole moet waardegedrewe instellings word.
- Onderwysers se mag moet ontsluit word.
- Ouers, skoolhoofde en hul personeel moet hande neem en mekaar ondersteun.
- Basiese beginsels kan nie geïgnoreer word nie. Die implementering van bewese opvoedkundige begrippe is die enigste manier waarop onderwys in ons gemeenskappe weer suksesvol kan wees. Ons kinders verdien dit.
- Ons moet met praktiese en volhoubare oplossings vorendag moet kom.
Ek het nie al die antwoorde nie. My boodskap aan die minister van basiese onderwys is om die erns van bogenoemde kwessies te erken en aksie te neem.
Moet nie die advies vanuit die samelewing gering ag nie. Ons land se onderwyssisteem is uiteindelik ons almal se verantwoordelikheid; die minister s’n inkluis. Kom ons hoop dat rede sal seëvier en dat verandering en verruiming sal plaasvind. Suid-Afrika verdien ’n beter onderwyssisteem!
Kommentaar
Baie dankie vir hierdie pos. As lid van die gemeenskap is ek ook erg besorg oor die toekoms van ons kinders. Waar begin mens ... en hoe pak jy dit aan? Ek het gedink aan ’n naskoolse program waar kinders onder toesig hul skoolwerk en take kan doen en gewillige onderwysers wat bereid is om een keer per week kinders dan uit te help met vakke waarin hul sukkel om te verstaan. Ook om kinders uit die strate te hou. By skole omgaan en die kinders bewus maak van dwelm- en drankmisbruik. Die hoofde gaan sien oor kinders wat dwelmverwante probleme het en dan hul huise besoek en kyk in watter omstandighede hul bly en waaraan hul blootgestel word om dan vandaar te begin met berading. Wat dink u van hierdie plan? Dis iets wat ek graag wil aanpak ... Ook kinders asook ouers geestelike leiding gee sodat ons waardes weer kan terugbring in ons huise en skole. Ons sit met globale dwelm- en drankprobleme by ons skole. En iets moet begin doen word. Enige advies sal ten seerste waardeer word.
Danie
Mag jou soeke na oplossings en jou voorstelle die onderwysowerhede se ore bereik.
Dis tragies dat sommige onbevoegde en lui amptenare asook skoolhoofde sonder leierskap-ondersteuning geen duit verskil maak in die verbetering van ons kinders se opvoeding nie.
Indien bestaande kundigheid en passie aangewend en benut word is daar steeds hoop dat die massiewe vermorsing van belastingbetalers se swaarverdiende geld nie langer in 'n nimmereindigende put van mislukte skole gaan eindig nie. Slegs effektiewe skoolbestuur lei tot suksesvolle onderwysinstellings.
Dit is my wens dat elke leerder en onderwyser veilig vanuit sy eie huis kan presteer. ‘n Skolestelsel waar alle Suid-Afrikaanse Curriculum gevolg kan word. Ons is n tegnologiese era en verskeie “LMS” gebruik kan word waar leeders d.m.v hul webkamera’s kan inlog volgens hulle klasroosters (netsoos in ‘n gewone skool). Die onderwyser van oor die hele land log in en kry kind ‘n uitnoding om vir daardie klas in te log. Elke kind kam gesien word, met interaksie met mekaar. ‘n Virtuele klas wat soos n gewone klas voel is geskep. Die onderwyser deel sy skerm en gee klas aan sy virtuele klas op dieselfde wyse as in ‘n gewone Klas. Geleenthede is daar soos om klasse in “breakout rooms” in te deel soos groepwerk in, gewone klas. Ander interaktiewe opsies is ook beskikbaar om leerders betrokke te hou in ‘n klas. Dissipline word of gerapporteer aan die skoolhoof of die kind se webkamera word uitgesluit en gerapporteer. Register word deur die platform gehou ook. Hierdeur leer die kind en die ouer verantwoordelik gehou vir die kind se bywoning en geleerdheid. En dit alles vanuit jou eie huis en veiligheid.
'n Gebrek aan dissipline by die huis lei tot ongedissiplineerde en onaangename kinders in die huis, samelewing en dus die skool. Met die afskaffing van lyfstraf is niks in die plek daarvan geplaas nie en die spreekwoord van 'sagte heelmeesters maak stinkende wonde' oral 'n werklikheid geword.
Ek is getroud met 'n vrou wat ernstige aanranding in die skool deur 'n ouer van een van die kinders hierbo beskryf, oorleef het en nou nog aan die nagevolge ly. 'n Aanrandingsaak is by polisie aanhanig gemaak, wat op niks uitgeloop het,want alhoewel die adres van die aanrander bekend was,was die verskoning: 'no resources available' gewoonweg geen petrol in voertuie nie.
Geen ondersteuning van skool, beheerliggaam of onderwys departement nie. Uiteindelik is siviele vervolging ingestel en is 'n groot bedrag vir pyn en lyding ens aan my vrou toegeken.Dit was ook tevergeefs want die skuldige persoon het soos 'n meerkat van een gat na 'n ander vlug as gevaar dreig, van een dorp na 'n ander en was om een of ander rede altyd 'n stappie voor die balju.
En die mediese koste, gelukkig het 'n mediese fonds 'n groot deel gedek, ander soos bybetalings ens uit eie sak. En die oorsaak van alles? 'n Totale gebrek aan dissipline by die huis en 'n ma wat probeer het om beide rolle te vervul en onderwysers wie se hande afgekap was.
Baie mense vergeet dat dit veral onderwyseresse is wat vir matrieks klasgee veral as die meerderheid seuns is, dikwels fisies verdwerg word deur groot seuns, wie se grootste prestasie die saai van 'wild oats' op die stadium is en as hul saamspan 'n intimiderende eenheid vorm.
Ek weet al die 'bleeding hearts' gaan nou weer hul hande in die lug gooi maar die dag toe die skrywer van Spreuke 13 vers 24 geskryf het:'Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is,'het hy geweet waarvan hy praat,
Nice woorde, want dis waar.
Die woorde is waar.