| Corene de Wet lewer kommentaar op Estelle Roodt en Awie Greeff se LitNet Akademies-artikel "Ma’s se persepsies van hoe afknouery gesinne beïnvloed". |
Afknouery is ’n algemene probleem by skole, en weinig kinders is nie tydens hulle skoolloopbane deur maats afgeknou nie (Berger, Karimpour en Rodkin 2008:297). Opvoeders, ouers en navorsers erken meer geredelik as vroeër dat afknouery ’n ernstige probleem by skole is. Voorts is die kernboodskap van die meeste afknoueryvoorkomings- en intervensieprogramme: “Praat met iemand.”
Olivier en Candappa (2007:71) het bevind dat die slagoffers eerder familie en vriende as opvoeders van hul viktimisering vertel. Dit was dus verontrustend dat ouers wat aan Roodt en Greeff (2012:8) se studie deelgeneem het, “magteloos” gevoel het. Verskeie redes is vir die magteloosheid aangevoer: opvoeders bevraagteken die ouers wat kom kla het se integriteit; die opvoeders se hande is “ook afgekap”; vrees dat daar nou op hul kind “gepik” gaan word; en opvoeders se onvermoë om meer subtiele vorme van afknouery te identifiseer. Ouers wat nie optree nie, dra onbewustelik die boodskap aan hulle kinders oor dat hulle die ander wang moet draai.
Ouers moet egter onthou dat opvoeders ’n oorspronklike plig, gebaseer op hul professie, sowel as ’n gedelegeerde in loco parentis-plig het om na die beste belange om te sien van diegene wat onder hulle sorg geplaas is en om orde te handhaaf (Joubert en Prinsloo 2008:145). Opvoeders is dus verplig om die nodige stappe te doen om te voorkom dat afknouery in skole plaasvind. As hulle hierdie plig versaak, is ouers verplig om in te gryp.
Roodt en Greeff (2012:1) maak daarop aanspraak dat hul navorsingsbevindinge “sinvol aangewend [kan] word in die ontwikkeling van afknoueryvoorkomings- en intervensieprogramme”. Hoewel hulle weinig, indien enige, suggesties bied oor hoe hulle navorsingsbevindinge aangewend moet/kan word om sodanige programme te ontwikkel, gee hulle navorsing erkenning aan die noodsaaklikheid van ’n multidimensionele benadering tot afknoueryvoorkoming. In so ’n benadering moet alle rolspelers – die leerders, opvoeders, ouers en lede van die gemeenskap – betrek word.
Ouers moet bewus wees van die invloed van hul optrede en ouerskapstyl op afknouery. Ouers van boelies is dikwels koud, outoritêr en onbetrokke by hul kinders. Hulle praat geweld goed en gebruik emosioneel afbrekende strategieë of lyfstraf om hul kinders te dissiplineer. Afknouery is vir hulle deel van die grootwordproses (Baldry en Farrington 2000:18). Ouers van slagoffers van afknouery, daarenteen, is dikwels oorbetrokke en oorbeskermend. Ouers van boelies en slagoffers moet dus nie die skuld vir hul kinders se negatiewe gedrag of viktimisering net by die skool en/of maats soek nie, maar moet hul eie ouerskapstyl en/of persoonlikheidseienskappe onder die loep neem. Hulle moet bereid wees om te verander.
Cowie en Jennifer (2008:18) het bevind dat die volgende faktore “beskermende faktore” binne gesinsverband is:
- ’n Sterk band, wat gekenmerk word deur stabiele, warm en liefdevolle verhouding, tussen die kind en een of beide ouers.
- Ouers moet opreg in hulle kinders se onderwys belangstel.
- Ouers moet voldoende, effektiewe toesig, duidelike reëls en konsekwente dissipline toepas.
- Ouers moet positiewe ingesteldheid teenoor die gemeenskap openbaar en navolgenswaardige rolmodelle wees.
- Ouers moet erkenning verleen aan hul kinders se prestasies en met empatie luister na hulle mislukkings en hartseer.
- Omdat kinders opvoeders inlig oor afknouery eers as alle ander opsies uitput is, is dit die plig van ouers, as primêre opvoeders, om die viktimisering van hul kinders onder die aandag van die skool te bring. Indien die skool nie optree nie, kan die hoof en beheerliggaam regtens verantwoordelik gehou word (Joubert en Prinsloo 2008:145).
Deur die woorde van die ma’s gee Roodt en Greeff (2012:7–8) die leser ’n kykie in die lewens van kinders wat as gevolg van fisieke en emosionele treitering onder andere hul belangstelling in hul skoolwerk en maats verloor het, ernstige psigosomatiese probleme ontwikkel het en negatiewe gedragspatrone openbaar. As primêre opvoeders het ouers dus ’n verantwoordelikheid om saam met hul geviktimiseerde kinders te soek na redes waarom hulle geteiken word. Dit is te simplisties en gerieflik om die blaam slegs op negatiewe karaktereienskappe van die boelie of op die skool te plaas. Olweus (2001:11) tref ’n onderskeid tussen passiewe en uittartende slagoffers en noem dat passiewe slagoffers “simply fell easy prey to aggressive, powerful bullies”. Die uittartende slagoffer stem nie ooreen met die geykte beeld van die slagoffer as ’n wanaangepaste, tingerige, huilende, brildraende introvert nie. Sy/haar gedrag is irriterend en uitlokkend, en dikwels in stryd met die heersende sosiale konvensies (Olweus 2001:11). Die ouers moet dus bewustelik poog om hul geviktimiseerde kind se selfbeeld en sosiale vaardighede te verbeter. Dit is soms wenslik om van die dienste van professionele persone gebruik te maak.
Daar bestaan verskeie navorsingsgebaseerde afknoueryvoorkomings- en intervensieprogramme. Programme met ’n multidimensionele benadering waarin alle rolspelers betrek word, kan afknouery met tot die helfte verminder (Cowie en Jennifer 2008:119; Olweus 2001:11). Roodt en Greeff (2012) se navorsing skep ’n bewustheid van die rol wat ouers in die stryd teen afknouery moet en kan speel. Ouers moet hulleself nie reduseer tot magtelose toeskouers nie, maar hulle plig aanvaar as mede-ontwerpers, -implementeerders en -evalueerders van afknoueryvoorkomings- en intervensieprogramme.
Bibliografie
Baldry, AC en DP Farrington. 2000. Bullies and delinquents: personal characteristics and parental styles. Journal of Community and Applied Social Psychology, 10:17–31.
Cowie, H en D Jennifer. 2008. New perspectives on bullying. Berkshire: Open University Press.
Joubert, R en S Prinsloo. 2008. The Law of Education in South Africa.Pretoria: Van Schaik.
Juvonen, J en S Graham (reds). 2001. Peer harassment in schools. The plight of the vulnerable and victimized. New York: The Guilford Press.
Olivier, C en M Candappa. 2007. Bullying and the politics of “telling”. Oxford Review of Education, 33(1):71–86.
Olweus, D. 2001. Peer harassment. In Juvonen en Graham (reds) 2001.
Roodt, E en AP Greeff. 2012. Ma’s se persepsies van hoe afknouery gesinne beïnvloed. LitNet Akademies, 9(2).

