In die greep van geweld!

  • 0

Die onrusbarende voorvalle van geweld in skole en in gemeenskappe skok Suid-Afrikaners daagliks tot in hul diepste wese. Mense is geweldig getraumatiseer en diep hartseer oor die wyse waarop Gadimang Daniel Mokolobate, ’n onderwyser aan die Ramotshere Moiloa Hoërskool naby Zeerust in Noordwes, gesterf het. In ’n ander tragiese voorval is die negejarige Miguel Louw in KwaZulu-Natal deur iemand in die gemeenskap ontvoer en vermoor.

Met hierdie afgryslike gebeure wat in my gedagtes maal, gaan kyk ek en my gesin na die rolprent, Ellen: Die storie van Ellen Pakkies. Dis die aangrypende verhaal van ’n moeder wat ondanks groot ontberinge slegs die beste vir haar seun wou hê. Ellen se seun verlaat die skool as ’n tiener – die seun wat in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte grootgeword het en later deur die euwel van dwelms meegesleur is. Sy aanvalle op sy ma en pa nadat hy tik gebruik het, het van hom ’n "monster" gemaak wat al sy ouers se klere, juweliersware en persoonlike besittings verkoop het. Ellen het talle instellings in die gemeenskap genader vir hulp, maar het geen tasbare ondersteuning ontvang nie. Ná vele probeerslae om haar seun te help, besluit sy om hom te vermoor omdat sy dit nie meer kon “vat” nie. Dit was ook een van die uitsprake wat in die hof gemaak is.

Toe ek die aand huis toe gaan, besef ek opnuut dat niks vir sommige skole en ouerhuise verander het sedert dié tragiese gebeure in Lavender Hill nie. Die vraag is steeds: Waar kry ouers hulp as hulle met sulke sosiale euwels te kampe het?

Geweld in Suid-Afrikaanse gemeenskappe is niks nuut nie. Dié dade van geweld in gemeenskappe spoel dikwels oor na die skole, waar die vetes tussen bendes en dwelmbase voortgesit word. Dit gebeur in Lavender Hill, Elsiesrivier, Worcester, Westbury en op talle ander plekke in ons land.

’n Studie deur Burton en Leoschut, School Violence in South Africa. Results of the 2012 National Schools Violence Study, waarby 5 939 leerders, 121 skoolhoofde en 239 onderwysers betrokke was, toon dat geweld in skole groter afmetings begin aanneem. Die kernbevindings in die verslag is soos volg:

  • 12% van die respondente is al met geweld gedreig by die skool
  • 6,3% van die respondente is al aangeval
  • 4,7% van die respondente is al seksueel aangerand
  • 4,5% van die respondente is al beroof by die skool
  • 20% van die respondente is al deur middel van die kuberruimte geboelie.

Onderwysers het aangedui dat hulle mondelinge geweld (52%), fisieke geweld (12%) en seksuele geweld (3,3%) ervaar het. Een uit sewe leerders het aangedui dat hulle maklik toegang tot alkohol het; een uit tien het maklik toegang tot dwelms. Bykans ’n tiende van die leerders het maklik toegang tot ’n vuurwapen by die skool verkry, en een uit vyf leerders het aangedui dat hulle maklik toegang tot messe of wapens by skole het. Sowat ’n kwart van diegene wat aan die steekproef deelgeneem het, weet van mense wat wapens skool toe bring; een uit ses weet wie by kriminele aktiwiteite betrokke is; ongeveer ’n tiende weet van mense wat dwelms by die skool verkoop.

Gepaardgaande hiermee is die feit dat geweld in skole nie net die slagoffers affekteer nie, maar ook diegene wat die geweld waarneem. Verder is dit volgens die verslag waarneembaar dat dié omstandighede in skole die leerproses van leerders nadelig beïnvloed.

Die huidige situasie ten opsigte van skolegeweld was een van die punte op die sakelys van 16 September 2018 van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) by die onlangse September 2018-vergadering vir die nasionale ministerie en alle provinsiale ministers van onderwys. Die DBO onderneem om ’n simposium met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS), die Departement Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) en die skoolbeheerliggaamorganisasies te hou om die uitdagings in dié verband te takel. Dit is opmerklik dat onderwysers, skoolhoofde en gemeenskapsorganisasies wat geweld in skole ervaar, nie in die proses ingesluit is nie. Die hou van ’n simposium is moontlik ’n stap in die regte rigting, maar ’n voetsoolvlakbenadering gaan beter vrugte afwerp.

Die onderwysafdeling van die ATKV het in 2014 ’n program in samewerking met Quinton Adams, ’n opvoedkundige sielkundige, van stapel gestuur. Gedurende die sessies word daar met ouers, leerders, onderwysers en skoolbeheerliggame gesels om vas te stel watter uitdagings daar is, en watter rol ouers en gemeenskapsleiers kan speel. Ouers het begin om die boodskap “Dissipline begin in die ouerhuis” onder ouers in woonbuurte te verkondig. Ouers het van plakkerhut tot plakkerhut of huis tot huis gegaan. Hierdie boodskap is oor die Kaapse Vlakte, Namakwaland, die Weskus, die Boland en ook Umlazi en die noordelike voorstede van Port Elizabeth versprei. Ouers het ook in kerke en moskees geleentheid verkry om oor die saak te praat.

Die ATKV se onderwysafdeling het met die hulp van projekorganiseerders ’n blik op die problematiek in skole verkry. Daar is skoolhoofde wat in dwelm- en bendegeteisterde omgewings goeie bestuurspraktyke toepas om dié uitdagings die hoof te bied. ’n Skoolhoof op die Kaapse Vlakte het aangedui dat dissipline uiters belangrik is. Dit word elke dag deur onderwysers en leerders uitgeleef. Alle leerders moet gehalte-onderwys ontvang ongeag hul sosio-ekonomiese omstandighede. Met besoeke aan die skool was dit duidelik waarneembaar dat elke personeellid ’n goeie etos en ’n verbintenis tot goeie onderrig en leer handhaaf, en respek aan almal betoon, en dat dié gedrag aansteeklik op die leerders inwerk. Daarby verseker die skoolhoof ook dat daar altyd goeie kommunikasie met die ouers en gemeenskapsorganisasies is, en hy het ’n leidende rol gespeel in die totstandkoming van die prinsipale-forum. Met ’n besoek aan die forum het ek ervaar dat skoolhoofde baie van mekaar leer om uitdagings by hul skole aan te spreek en reg te stel.

Sedert die bekendmaking van die resultate van bogenoemde 2012 nasionale studie oor skoolgeweld was daar talle voorvalle van geweld met noodlottige gevolge vir onderwysers en leerders. Dit blyk dat talle van die voorstelle nie daadwerklik in skole toegepas is nie. Enkele van die voorstelle was:

  • Die daarstelling van ’n moniteringsplan om die vordering en stand van geweld in skole vas te stel.
  • Prioritisering van die omgewingsfaktore wat tot geweld in skole bydra en hoe om dit te bekamp.
  • Die daarstelling van ’n betroubare stel veiligheidsaanduiders om die stand van skoolveiligheid te bepaal.
  • Integrasie van hierdie beplanning en implementering by die plaaslike ontwikkelingsplanne.

Proaktiewe optrede is nog nie ingebed in ons strukture nie en dit blyk dat reaktiewe optrede onskuldiges se lewens eis. Kon Gadimang Daniel Mokoloabate se tragiese dood verhoed gewees het? Is skole barometers van wat in gemeenskappe plaasvind en dat sommige leerders die asosiale gedrag naboots? Is onderwysers nog die positiewe rolmodel vir leerders, of is dit die bendeleiers of smokkelbase? Volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet (1996) kan daar by skole gereelde deursoeking van leerders plaasvind om te verseker dat onderwysers hul onderrigtaak in ’n veilige omgewing kan uitvoer en leerders ongestoord hul leertake kan voortsit. Skoolkinders behoort nie toegelaat te word om messe of wapens by die skoolhek in te bring nie.

Onderwys kan nie meer uit ivoortorings bedryf word nie. Daar moet nader aan die kern van die probleem beweeg word om sodoende werkbare, konstruktiewe en kontekstuele oplossings te vind. Daar moet ook na die stem van onderwysers, leerders en ouers geluister word.

Die DBO is egter nie al rolspeler wat ’n veilige skoolgemeenskap moet bevorder nie. Daar is ook ander staatsinstellings wat rolle in dié verband moet speel. Dit is egter belangrik dat daar aktiewe en deelnemende leierskap moet wees om te verseker dat die veiligheid van skole deurlopend aandag geniet. Daar moet ook erkenning gegee word aan gemeenskappe waar gesamentlike pogings van stapel gestuur word om die euwels van geweld in skole en buite die skoolomgewing te bekamp. Kom ons skep veilige omgewings vir leerders en onderwysers!

Bronnelys

Burton P en L Leoschut. 2013. School Violence in South Africa. Results of the 2012 National School Violence Study. Kaapstad: Centre for Justice and Crime Prevention.

South African Council for Educators (SACE). 2011. School Based Violence Report – An overview of School-based Violence in South Africa.

 

Seymour Bothman

Seniorbestuurder: Onderwys, ATKV

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top