Aankondiging: 2022 se wenners van SA Akademiepryse

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kondig met groot genoeë die gesogte Akademiebekronings vir 2022 aan. Die pryse sal by twee virtuele bekroningsplegtighede in Julie vanjaar oorhandig word. Hierdie verklaring bevat die besonderhede van die bekronings vir 2022.

HERTZOGPRYS VIR PROSA

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys vir Prosa gaan vanjaar aan SJ Naudé vir Dol heuning.

SJ Naude

Die kortlys vanjaar was soos volg:

Ronelda Kamfer: Kompoun – Kwela
Etienne van Heerden: Die biblioteek aan die einde van die wêreld – Tafelberg
Ingrid Winterbach: Voorouer. Pelgrim. Berg – Human & Rousseau
SJ Naudé: Dol heuning – Umuzi
Zirk van den Berg: Ek wens, ek wens – Kwela; en Tweegevreet – Kwela
Jan van Tonder: Die verevrou – Human & Rousseau; en Grootgeluk – Human & Rousseau

Die prysgeld word geborg deur Rapport.

EUGÈNE MARAISPRYS

Die prys word toegeken vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ’n persoon toegeken word.

Die Eugène Maraisprys vir Poësie word toegeken aan Ashwin Arendse vir Swatland.
Die Eugène Maraisprys vir Prosa word toegeken aan Frederik de Jager vir Man op ’n fiets êrens heen.

Ashwin Arendse (Foto: Jakes Gerwel Stigting) en Frederik de Jager (Foto: Protea Boekhuis)

Die kortlys was soos volg:

Jaco Alant: Is mos Oos – Protea Boekhuis
Ashwin Arendse: Swatland – Kwela
Frederik de Jager: Man op ’n fiets êrens heen – Protea Boekhuis
Carié Maas: Die miskruier en die maan – Protea Boekhuis
Hilda Smits: mag die diep slaap jou dan – Protea Boekhuis

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur Rapport.

SCHEEPERSPRYS VIR JEUGLITERATUUR

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n jeugboek in Afrikaans in enige genre.

Die prys word toegeken aan Fanie Viljoen vir Offers vir die vlieë.

Fanie Viljoen (Foto: LitNet-argief)

Die kortlys was soos volg:

Elrien Scheepers: Donkerbloed – Human & Rousseau
Jan Vermeulen: Baster – Lapa Uitgewers
Fanie Viljoen: Brand – Tafelberg
Fanie Viljoen: Offers vir die vlieë – Lapa Uitgewers

ALBA BOUWERPRYS VIR KINDERLITERATUUR

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n Afrikaanse kinderboek in enige genre. Alleen boeke wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is, kwalifiseer vir bekroning.

Die prys word vanjaar toegeken aan Jaco Jacobs vir Die boekwinkel tussen die wolke.

Jaco Jacobs (Foto: LitNet-argief)

Die kortlys was soos volg:

Jaco Jacobs: Die boekwinkel tussen die wolke – PanMacmillan
Jaco Jacobs: Oupa Zombie – PanMacmillan
Adeline Radloff: Die skandalige susters Smit – Tafelberg
Fanie Viljoen: Pieksel – Lapa Uitgewers

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur die ATKV.

HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK

Die prys word driejaarliks toegeken aan enige persoon wat op die gebied van klassieke musiek presteer het: Sangers, komponiste, instrumentaliste wat klawerinstrumente, blaasinstrumente of strykinstrumente bespeel kom in aanmerking.

Die prys word toegeken aan die sopraan Emma Renzi.

Emma Renzi

Muse en musiek in Suid-Afrika is enorm verryk deur die teenwoordigheid van Emma Renzi, ’n sopraan wat in die fleur van haar loopbaan van die beroemdste wêreldverhoë betree het, maar tot vandag toe ook eweneens haar buitengewone talente as sangpedagoog met ’n jonger geslag deel.

Die prys word geborg deur die Rupert Musiekstigting.

DIE EREPENNING VIR GEESTESWETENSKAPPE EN DIE KUNSTE

Die Erepenning word toegeken aan Emma Willemse vir haar bydrae tot visuele kunste in Suid-Afrika.

Emma Willemse

Emma Willemse is ’n konseptuele kunstenaar, kurator en kunsopvoeder wat in Riebeek Kasteel in die Wes-Kaap woon en werk. Emma is ’n multimedium kunstenaar wat reeds vir vier dekades lank ’n impak in die Suid-Afrikaanse kunswêreld gemaak het. Haar kuns is in Florence, Dakar, Johannesburg, Stellenbosch, Parys en Londen uitgestal.

Emma Willemse se kinetiese kunstenaarsboeke-installasies het die estetiese interaksie tussen ‘leser’ en teks geherdefinieer en dit word vandag wêreldwyd met lof besing.

DIE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE SE FAKULTEIT NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Die Erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van ’n besondere vakgebied in die natuurwetenskappe.

Die prys word toegeken aan prof AR Coetzee, emeritus professor en uitvoerende voorsitter, Departement Anestesiologie en Intensiewe Sorg, Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch, Tygerberg.

André Coetzee

Prof André Coetzee geniet nasionale sowel as internasionale erkenning as wetenskaplike en as klinikus. Prof Coetzee is ’n spesialisnarkotiseur met subspesialisregistrasie in Intensiewe Sorg. Hy het ’n baie besondere rol in die ontwikkeling van die veld van Anestesiologie in Suid-Afrika gespeel. Sy bydraes, gegrond op hoogstaande laboratorium en kliniese studies, het ’n blywende uitwerking op hedendaagse narkosepraktykvoering gehad, beide nasionaal sowel as internasionaal.

NP VAN WYK LOUWMEDALJE

Die prys word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe, wat as ’n wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die geesteswetenskappe beskou kan word.

Die prys word vanjaar toegeken aan prof HP van Coller, emeritus uitstaande professor en navorsingsgenoot aan die UV en buitengewone professor (NWU).

Hennie van Coller

Prof Hennie van Coller het deur die gehalte van sy wetenskaplike artikels en boeke ’n impak in die literêre wêreld in Suid-Afrika én internasionaal gehad. Hy is ’n veelsydige en deeglike vakman wat werk van hoë gehalte lewer. Prof Van Coller het akademiese skryfwerk in Afrikaans nie net gedien deur sy eie lys publikasies nie, maar ook deur sy talle boeke (soos Perspektief en profiel) waarin vir ander (jong) akademici die kans gegee is om te publiseer. Boonop het hy ’n mentorsrol vervul teenoor verskeie kollegas en oudstudente.

MT STEYNPRYS VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband soos in landsbelang. Die prys word gesien as ’n kroon op 'n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan prof Lise Korsten, verbonde aan die Departement Plant en Grondwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.

Lise Korsten

Prof Lise Korsten se navorsing is toegespits op die behandeling en voorkoming van plantsiektes en op voedselveiligheid van verskillende landbougewasse. Sy was van vroeg af baie nou betrokke by verskillende industrieë in die produksie van plante. Haar navorsing het ’n groot effek gehad op die produksie van baie landbougewasse.

Die prys word geborg deur Sanlam.

GUSTAV PRELLERPRYS VIR LITERATUURWETENSKAP EN LETTERKUNDIGE KRITIEK

Die prys word toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks sodanige publikasies wat wetenskaplike werk van die hoogste gehalte verteenwoordig.

Die prys word vanjaar toegeken aan prof WJ Henderson, emeritus professor, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Universiteit van Johannesburg.

WJ Henderson

Prof Bill Henderson het hom oor ’n tydperk van ses dekades intellektueel indringend, maar ook kennelik met hartstog, gewy aan navorsing oor die klassieke Griekse en Romeinse literatuurskatte, asook aan die bevordering van daardie vakgebiede in Suid-Afrika. Laasgenoemde blyk nie net uit die rol wat hy as inspirerende dosent en studieleier (hier te lande, op ’n ietwat esoteriese vakterrein) gespeel het nie; ook in akademiese bestuursverband en as (dikwels leidende) bestuurslid van professionele verenigings en as (eweneens dikwels leidende) redaksielid van vaktydskrifte was sy bydrae beduidend. Sy aanwysing as erepresident van die Klassieke Vereniging van Suid-Afrika sedert 2003 getuig van bostaande.

Die prys word geborg deur NB-Uitgewers.

CHRISTO WIESEMEDALJE VIR BEDRYFSLEIDING

Die medalje word driejaarliks toegeken vir bedryfsleiding. Die volgende geld by die oorweging van ’n kandidaat: Skeppende bydrae tot die Suid-Afrikaanse bedryfslewe; volgehoue uitbouing oor ’n lang tydperk van die terreine waarop die kandidaat hom/haar begewe; leiding op bepaalde terreine en die besieling wat daar van die persoon uitgegaan het om die gebied verder te ontwikkel. Die prys word as die kroon op ’n lewenstaak beskou en kan slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan Hendrik du Toit, stigter en hoof- uitvoerende beampte van Ninety One.

Hendrik du Toit

Hendrik du Toit het die batebestuursbedryf in 1988 betree en het in 1991 by Investec Groep aangesluit en Investec Asset Management gestig wat in 2020 na Ninety One verander het. Hy het ook gedien as gesamentlike hoof- uitvoerende beampte van Investec Groep vanaf 1 Oktober 2018 tot die splitsing van Investec Groep en die notering van Ninety One op 16 Maart 2020 in Londen en Johannesburg, die 117e grootste derdepartybatebestuurder ter wêreld.

Die medalje word geborg deur dr Christo Wiese.

PROTEA BOEKHUISPRYS

Die prys kan jaarliks toegeken word en roteer tussen ’n gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans. Dit word vanjaar toegeken aan die beste gepubliseerde werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans in die afgelope drie jaar.

Die prys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen.

Carel van der Merwe

Hierdie biografie dra daartoe by om die onderstrominge in Afrikanergeledere en Afrikanernasionalisme in die eerste paar jaar ná die oorlog te belig en nog ’n venster op hierdie traumatiese tydperk in die Afrikaner se geskiedenis oop te maak. In die geheel beskou is hierdie biografie ’n herbeskouing van die lewe van ’n Boeregeneraal en heersende sienings oor hoe die Boereleiers by die naoorlogse bestel aangepas het. Dit ondersoek dus ook die strategieë wat Viljoen gebruik het om hom in die Zuid-Afrikaansche Republiek, Mexiko en die Verenigde State van Amerika te vestig en opgang in daardie lande te maak.

Die skrywer het werklik uitstekende en deeglike navorsing gedoen. Dit was ’n uiters geslaagde speurtog. Soos met sy werk oor Eugène Marais is dit verstommend hoe en waar hy oral sy inligting verkry het. Tot in die fynste detail val die goeie navorsing op.

Die prys word geborg deur Protea Boekhuis.

HAVENGAPRYS VIR FISIESE WETENSKAPPE

Die Havengapryse is ’n jaarlikse prestigeprys wat vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied toegeken word. Die prys kan net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan prof HC Swart, verbonde aan die Departement Fisika, Universiteit van die Vrystaat.

Hendrik Swart

Prof Hendrik Swart het ’n belangrike rol gespeel in die verkryging van talle navorsingsapparate vir die ontledinge van die dun lagie fosfor, en die halfgeleiertoestelle wat uit sodanige materiale gemaak kan word. Sy werk en ywer het gelei tot die stigting van die “Nano-Oppervlakte Karakteriserings”-fasiliteit wat gehuisves word in ’n gebou wat spesiaal vir dié doel opgerig is. Die huidige navorsing fokus op die degradering van die fosfortoestelle, en om toestelle wat liggewend vir lang tye sal wees, te ontwikkel.

DOUW GREEFF-PRYS

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is.

Die prys word vanjaar toegeken aan KT Mwepu, SJ Lubbe en PL Crouse van die Departement Chemiese Ingenieurswese, Universiteit van Pretoria vir hulle artikel “Litium-ontginning uit Zimbabwiese petaliet met behulp van ammoniumbifluoried” wat verskyn het in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie Jg 40(1), 2021.

JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Dierkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige en plantkundige wetenskappe).

Die medalje word toegeken aan Amoré Malan van die Universiteit Stellenbosch vir haar verhandeling “Marine mammal speciation: the role of oceanic distance and historical climatic change on the evolutionary divergence of brown fur seals”.

Amoré Malan

POORTPRYS

Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in grade 10, 11 en 12 wat aan die Poortkompetisie deelgeneem het.

Die prys word toegeken aan:

Poësie: Mikayla Pretorius van Windhoek High School, Namibië vir haar gedig “Die diagram van die hart”.

Prosa: JD Carr van die Hoërskool Upington vir “Wabi sabi”.

BESTE ONTWERP VIR DIE POORT-BOEKIE SE VOORBLAD VIR 2022

Janke Labuschagne van die Hoërskool Reitz.

 

• Tensy anders vermeld, is alle foto’s deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns verskaf.

Lees ook:

Frederik de Jager: ’n Herd wat knetter met stories

Skrywersonderhoud: Carel van der Merwe oor Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen

Die boekwinkel tussen die wolke deur Jaco Jacobs: ’n boekresensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n onderhoud

Swatland deur Ashwin Arendse: ’n resensie

Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top