LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

  • 0

Offers vir die vlieë
Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639601779

(Bederfwaarskuwing vooraf: LitNet waarsku dat hierdie resensie-essay nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie.)

’n Lesergerigte indruk

 

1. Inleiding

As leser van Offers vir die vlieë beweeg ek van algemene faktore wat te make het met die skrywer en eksterne (buitetekstuele) elemente van jeugletterkunde as subgenre van literêre tekste, na spesifieke interne tekstuele en literêre stylmiddele wat die betrokke jeugverhaal ondersteun.

Hierdie leesproses plaas ek binne die kader van hoofagente in die literêre kommunikasieproses soos deur Rosenblatt (1995) aangaande die resepsie-estetika (ook genoem responsbenadering)1 uiteengesit. Waar daar in die verlede veral gekonsentreer is op teksstudie, blyk dit uit die bespreking van die funksies van jeugliteratuur duidelik dat die ervaring van die leser tydens die leesproses baie belangrik is. Daarom is ’n nuwe paradigma nodig, waarvolgens die leser ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en die skrywer ’n (aktiewe) aandeel daarin het, terwyl die literêre vorming en ontwikkeling van kommunikasievaardighede ook baie belangrik is.

Die responsbenadering – wat dus my lens as leser is – is ’n tweerigting kommunikasieproses waarin die leser herskeppend reageer op die skrywer se weergawe van ’n bepaalde seining van hoe dit die teksproduksie en teksresepsie van jeugliteratuur (moontlik kan) beïnvloed. Met teksproduksie word bedoel die daarstelling van ’n geskrewe teks, en teksresepsie behels die proses van (aktiewe) teksrealisering deur die leser. Omdat die jeugdige leser betrokke is as agent in die literêre kommunikasieproses, is dit nodig om te bepaal wat die funksies van jeugliteratuur is. Rita Ghesquiere2 meen dat die spesifieke funksies van jeugletterkunde dit onderskei van die gewone roman. Dit sluit aan by wat ’n vroeë kenner (en bekroonde skrywer) van Afrikaanse jeugletterkunde, Elsabe Steenberg3, meen, naamlik dat jeugverhale oorgangsliteratuur genoem word omdat die jeugdige steeds vooruit reik na volwassenheid in die proses van sy groei uit selfgenoegsaamheid en dat dit gereflekteer word in hierdie subgenre.

 

2. Die skrywer van Offers vir die vlieë

Fanie Viljoen (Foto: Facebook)

’n Vinnige blik na Fanie Viljoen se webtuiste4 toon duidelik aan dat sy oeuvre bestaan uit nie-fiksie (Doendinge), sowel as feitlik elke fiktiewe tekssoort wat hy met sy unieke styl bemeester het – fantasie, kinder- en jeugverhale, grafiese romans en selfoonverhale, spookverhale, wetenskapfiksie – selfs ook poësie wat in Nuwe stemme 5 opgeneem is. Die feit dat hy voltyds skilder, illustreer en skryf maak die leser bewus daarvan dat ook die visuele ’n belangrike faktor in sy tekste is – hy kry ook die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke.

Trefferboeke soos Betower, Spring en Dromers, asook reekse soos Nova, Slym, Lulu en Aksieheld Austin het van Fanie Viljoen ’n huishoudelike naam gemaak.

Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is albei onderskeidelik met die goue en silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon.

Betower en Afkop was naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie en hy wen 2019 se kompetisie met Offers vir die vlieë.5

Op sy webtuiste word gemeld dat Viljoen veral kinder- en jeugboeke skryf omdat “daar nie grense is aan kinders [jong adolessente] se verbeelding nie”. Om hierdie rede sal dit duidelik blyk waarom Offers vir die vlieë lesergerig is.

 

3. Lesergerigtheid van Offers vir die vlieë

Die verhaal is ’n tipiese psigologiese roman wat ressorteer onder distopiese fiksie en grensliteratuur en is beslis toepaslik vir die teikengroep van jeugdiges aan die einde van hulle skoolloopbaan of daarná. Dit is selfs moontlik dat jeugdige lesers iemand in hulle familie het (of gehad het) aan wie die skrywer die boek (in teksinterne periteks – sien bespreking onder intertekstualiteit) opdra heel voor in die verhaal:

Vir hulle wat nie van ’n oorlog af teruggekom het nie.

Die hoofkarakter in Offers vir die vlieë (Eliam) en die 5 ander saam met hom is ongeveer 18 jaar oud, is op dieselfde dag gebore en is die enigste 6 wat nie uitgeval het van ’n groep van 30 troepe in hulle opleiding om na die Front te gaan nie. Toe hulle 10 jaar oud was, het hulle by hulle ma’s houtgewere gekry, op 13 jaar gasgewere, op 16 jaar S13-karabyngewere, en “[o]p agttien, toe ons by Opleidingskamp Alfa rapporteer, het ons elkeen ons eie S13 gekry” (57).

Die verhaal handel primêr oor Eliam worsteling met brutaliteit, geweld, marteling, vernedering, verlies van self en ’n eie identiteit wat eers net ’n nommer was – 11.35.02.01 (16) totdat hy weet: “Ek is nie meer wie ek was nie: Die seunsoldaat is nou ’n man” (245) – alles gevolge van ’n troep se belewenisse op pad na die Front. Tienerlesers wat ’n soortgelyke probleem met selfkennis het sal hiermee kan identifiseer:

“Ek is die een wat dink. Wanneer jy dink, wil jy vrae vra. Maar dit beteken nie jy kry die antwoorde nie” (194);

“Geluide en beelde [van Victoria se noodkrete wanneer sy verkrag word], genoeg om die vrae verder in jou los te torring. Om jou in alles wat die Mag voorskryf, te laat twyfel. Sodat jy jou begin afvra: Is ons werklik nog die Mag? Of het ons die AntiMag geword? Is ons die goed? Of is ons deel van die Vrot?” (208).

Dat meisies van hierdie ouderdom in die roman sal belangstel, is wel moontlik, omdat ek dink hulle sal kan identifiseer met die selfondersoek van karakters in psigologiese jeugromans. Uit jare se ervaring met tieners en hulle belangstellings weet ek die meerderheid seuns verkies fisiese aksie en spanning in hulle leesstof, waarvan daar in die intrige van hierdie roman ’n oorvloed is. In Offers vir die vlieë is daar egter Eliam en Cali se liefdesverhouding wat met baie teerheid uitgebeeld word – dit kan dalk meisies se belangstelling aanwakker. Deesdae is daar ook meisies wat kies om weermag toe te gaan, al is hulle nog ’n klein minderheid.

Tog is daar ook ander sake wat beide meisies en seuns se belangstelling kan prikkel in Offers vir die vlieë: Daar is die primêre konflik wat Eliam se selfondersoek is, dat hy dink en vrae vra: “Jy was van jongs af ’n nuuskierige kind. Wou alles van alles weet. Jy het vrae gevra oor elke klein dingetjie. ’n Bietjie van ’n handvol ...” (172). Dan is daar as sekondêre konflik sy verhouding met sy vyf makkers (Diesel, Jethro, die tweeling Victor en Victoria, en Cypher) en outoritêre militêre magsfigure (Torsten, Verdoorn en Krux).

Eliam se verlange na menslikheid en liefde (Cali), moederlikheid (Suster) en vaderlikheid (Krux) word van hom weggeneem en Eliam voel bedrieg en verraai as Krux se houding verander en hy agterkom dat hulle almal Suster se “gunsteling” was (233).

Uiteindelik is daar die oorkoepelende konflik van mens-teen-mens-geweld in oorlogsituasies, en troepe teen offisiere. Al offer hulle hulself op vir die Mag – “Jy doen wat die Mag van jou vra. Jy offer jou lewe. Jy gee jouself. Selfs al is die prys hoog, die beloning is groter” (71) – kan niemand eintlik wen nie en Eliam weet dit reeds vroeg (in die verhaal): “Die dag toe ek die gebrande man ontmoet, het die bietjie wat van daardie sekerheid oor was, soos ’n kaartehuis ineengestort” (24).

Uiteindelik word die leser genooi om, soos Eliam, verder te kyk as sy omstandighede om hoop en vrede te vind: “‘Daar’s ’n groter prentjie wat jy móét sien,’ het die gebrande man destyds by my gepleit. ‘As jy die antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek’” (251).

Die karakters se belangstellings word nie dikwels genoem nie. Ons weet wel dat Eliam ’n kritiese denker is, vrae vra en antwoorde soek vir die probleme wat hy raaksien en ervaar, en seksueel aangetrokke is tot Cali – ook “Daar was toe nog ’n hele paar meisies in ons groep, in die Residensie. Ons het hulle ook dopgehou. Anders dopgehou as onsself. Nooit het dit egter verder gegaan nie. Die Boek – waar en rein is die woorde – verbied dit” (167). Verder is daar sprake van homoseksualiteit (Torsten en Victor, Victor en ’n ander troep), geweld en aggressie (brutaliteit van Torsten in die opleidingsprogram, onrus tussen die troepe), die verkragting van Victoria deur Torsten (209), en ook die tienerdogter deur die vier mans in uniform (33) – alles tipiese kontensieuse sake wat in die hedendaagse lewe aan die orde van die dag is en waarmee tieners gekonfronteer word – tuis, by die skool, op TV, in films en in videospeletjies – en waarmee sekere lesers sou kon identifiseer.

Ook sal lesers kan assosieer met gebeure wat in distopiese romans (waarvan sommige vir film of TV verwerk is) voorkom – The hunger games, The handmaid’s tale, Fahrenheit 451, Nineteen eighty-four, Brave new world). Offers vir die vlieë kan die leser se verwagtingshorison uitbrei en verbeelding ontwikkel omdat hulle in die fiktiewe teks meer inligting oor distopiese verhale en deernis vir die karakters daarin kan vind.

Wáár die verhaal afspeel, is eers die plek waar hulle groot geword het (Kolonië), daarna waar hulle opgelei is by Opleidingskamp Alfa, op die onherbergsame pad na die Front toe, die barakke en menasies, die mediese kliniek – waar die wolke heeldag in die lug is en daar geen son is nie, bome verbrand is en net silhoeëtte daarvan oorgebly het.

 

4. Potensiaal van die jeugverhaal om met die bedoelde leser te kommunikeer

Tolkien6 onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit wat hy die primêre wêreld noem. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en die leser in Offers vir die vlieë dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie. Die transformasie van die skrywer se fantasieë (fiksie) tot storielyn, simbool en karakters verskil van die leser se aktiwiteit wat sy eie verbeelding laat aansluit by wat in die teks voorkom. Gesien in die lig daarvan dat Offers vir die vlieë se hoofkarakter Eliam (en dus die bedoelde leser) in die laat-adolessente fase van ontwikkeling is, is dit gepas om te let op die volgende kenmerke van hierdie lewensfase (omdat die bedoelde leser7 ’n lesertipe in ’n buitetekstuele kategorie is wat tegelyk sy neerslag ook in die teks vind), en hoe hierdie kenmerke deur die karakters uitgebeeld word:

  • Adolessente is gewoonlik in ’n aktiewe introversie-fase, wat lei tot die ontdekking van die ek, met sy wêreld van gedagtes, gevoelens, stemminge, drange, strewes en begeertes. Dit word in Offers vir die vlieë uit Eliam se perspektief uitgebeeld en dit lei tot die ontdekking van Eliam, en daarmee saam ook die leser se unieke individualiteit, wanneer hy antwoorde soek op die vrae in sy gemoed.
  • Omdat die jeugdige gedurig met homself besig is, is hy geneig tot selfkritiek, veral van sy eie uiterlike voorkoms. Dit manifesteer in Offers vir die vlieë in Eliam se siening van homself: “Voor die gekraakte spieël skeer ek, sonder seep, maar darem met warm water. Ek vermy my bewegende weerkaatsing, hou my oë op die gespierde voorarm, die hand wat die skeermes vashou, die bietjie baard wat die water wegspoel. ’n Melkbleek vel wat nooit die son sien nie ... Hande, hard van die Mag se opleiding” (17). Die ontwikkeling tot volwassenheid en aanvaarding van homself bring egter begrip vir homself, die troepe se ervarings, die groen boek wat alles aangaande die Program verduidelik, en sy eie en ander se optrede.
  • Die jongmens is baie bewus van tyd, naamlik die hede, verlede en die toekoms, die verganklikheid van die lewe en die betekenis van die dood. Dit hang saam met die ontwikkeling van sy waardesisteem. In Offers vir die vlieë is daar duidelike voorbeelde hiervan:
    • Eliam se waarneming van die ontvangsarea by die AntiMag: “Grys mure omgrens die droewige ontvangsarea ... Ek het gehoop dit sou anders lyk by die AntiMag. Groen gras, bome, ’n blou hemel, son – soos op die prent van die wêreld voor die Verdonkering waarop ek destyds in die Residensie afgekom het” (249).
    • Die proses van vergeesteliking in Eliam se groei tot aanvaarding en volwassenheid word sterk beïnvloed deur die waardes van die Boek en mense in sy omgewing, bv sy vyf maats in die span, die weermagoffisiere, Suster en sy ma by kleintyd.
    • Verder dink Eliam baie oor tyd na as hy dink aan die ou en nuwe tyd:
      • “Dis moeilik om dit werklik te verstaan. Ek en my makkers ken niks anders as hierdie wêreld, hierdie tyd nie ... Jy moet net weet: Die wêreld van daardie tyd was ’n bose plek” (20);
      • Soos dag en nag verskil, so verskil die ou en die nuwe tyd. Moet jou nie laat mislei deur profete wat die ou tyd ophemel nie, hulle wat hunker na misplaaste vryhede wat die mens vasketting nie. Ware vryheid lê in die nuwe tye ... Dan sal die lig deurbreek en sal jy die kentering van die ou tyd ten volle begryp” (147, kursiewe woorde uit die Boek).
  • In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte na geesgenote, veral na iemand met wie jy één kan word en wat jy kan liefhê. Verhoudings met dieselfde en die teenoorgestelde geslag in Offers vir die vlieë word dus ook uitgebeeld in terme van Eliam se toegeneentheid tot sy makkers en diep aangetrokkenheid tot Cali. Kenmerkend van die jeugdige se ontwikkelingsfases is die stryd om saam te leef met sy ontwikkelende geslagsdrang, wat ook bydra tot die ontwikkeling van sy persoonlikheid, geestelike kragte en funksies. Eliam is in Offers vir die vlieë toenemend bewus van sy eie seksualiteit en sy verlange na intieme liefde word besonder teer uitgebeeld te midde van die dood:
    • “Een is die meisie wat ek nie mag liefhê nie. Cali ... Swart hare en olyfkleurige vel. Groot donker oë wat my binnekant sagmaak sonder dat ek probeer, dit gebeur net. Ek wil die heeltyd aan haar raak, maar ook dit mag nie gebeur nie, tensy dit deel van die opleiding is” (89);
    • “Cali is reg langs my. Ek hoor haar asemhaling. Voel die misterieuse aantrekkingskrag tussen ons. Dit bring ’n vrede in my, al is die spanning aan die oplaai ...“ (90);
    • “Ek gee Cali se skouer vinnig ’n drukkie. Voel haar arm teen myne skuur ... Cali sit haar kop by myne toe ons asemskep. Net ’n oomblik lank. Dis genoeg ...” (92);
    • “Een troos vind ek in daardie oomblik: Cali wat haar pinkie sag om myne krul onder die gasmasker in haar hand. Ek maak my oë toe en drink die oomblik in. Hoor hoe sy my naam sag fluister ... Dis mooi, so op haar lippe” (93);
    • Wanneer Torsten op Eliam skiet: “Dan kom dit. Op dieselfde oomblik toe Cali, my liefste Cali, haar lyf oor myne gooi en die koeël in haar rug vat” (94);
    • Cali nooi hom ook roggelend uit: “‘Tussen hier en die anderkant. Blink glas.’ Bloed stort oor haar lippe. Ek vee dit met my hand af. ‘Jy moet die spieël sien, Eliam. Dis so ... mooi.’” (95);
    • Eliam vind toenemend rus in sy herinnering aan haar: “Ek het die trane weggebyt, oor haar geleun en haar sag, sag gesoen. Haar bloed proe ek soms steeds op my lippe. In my mond. Haar naam dra ek steeds aan die kettinkie om my nek, langs my eie naamplaatjie” (96).
  • In hierdie lewensfase worstel die jeugdige met ’n strewe na selfuiting, wat gestalte vind in Eliam se éénwording met die ander vyf troepe in sy span: “‘Ons is elkeen op ’n manier anders. Met ander gawes toevertrou,’ sê Priester. Eliam dink: ‘Maar wanneer dit egter om oorlewing gaan, gebeur iets: Dis soos ’n ding wat in jou kop aanskakel. Jy voel dan anders, jy doen anders. Ses word een. Die perfekte getal’” (23).
  • ’n Ander kenmerk van die jeugfase is die tiener se rebelsheid. Hy/sy8 word nie meer opgevoed deur woorde alleen nie, maar kom veral in opstand teen die mense in sy omgewing se voorbeeld. Een manier waarop Eliam sy verset in Offers vir die vlieë toon, is om hom uiteindelik openlik teen sy offisiere te verset: “Wat het jy gedink, Victor? Wat het jy gedink toe jy vir Torsten nee sê? Want toe hy nie vir jou kon kry nie – soos daardie aand toe ek julle twee saam gesien het – toe vat hy vir Victoria” (206). Die gebruik van kragwoorde is ’n verdere subtiele vorm van die karakters se rebelsheid – ek noem later voorbeelde wanneer ek die register van die roman bespreek.

 

5. Funksionaliteit van die jeugdige ontwikkelingsproses

Die jeugletterkundekenner Rita Ghesquiere (1993:113–21) dui aan dat jeugverhale drie funksies het, naamlik die psigologies-emosionele, die informatiewe (intellektuele) en maatskaplike funksies. Laasgenoemde hang myns insiens ook saam met die ontwikkeling van (inter-)kulturele geletterdheid en kontekstuele oriëntasie, veral in ’n diverse maatskaplike landskap en ’n besoedelde en ekologies-bedreigde land soos Suid-Afrika. Offers vir die vlieë is ook op hierdie terrein ’n uitstekende voorbeeld van ’n jeugletterkundige teks.

Die psigologies-emosionele funksie hou veral verband met die identifikasieproses waardeur die leser insig verwerf in sy eie gevoels- en ervaringswêreld.

In Offers vir die vlieë is dit veral Eliam deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid vir verskille tussen mense (verskillende geslagte en ouderdomme) en sy eie gedrag en intensies ontwikkel. Hy leer mettertyd om sy eie gedrag en die gevolge daarvan te interpreteer.

Ook bied jeugliteratuur vir die tienerleser kompensasie vir die gebreke en onvolkomenheid van die werklikheid waarin hy leef. In Offers vir die vlieë kry die leser kans om daarvan te ontsnap (deur Eliam se ervarings, sienings, herinneringe) en sy eie emosionele pyn te vergeet. In hierdie opsig is Offers vir die vlieë bevredigend, omdat Eliam se posisie en wedervaringe die leser help om te identifiseer deurdat hy die gebreke en onvolkomenheid in die Mag uiteindelik verstaan en aanvaar, en dat net hy oorbly.

Verder is jeugliteratuur vir die tienerleser ’n middel waarmee hy homself kan handhaaf en sy eensaamheid en verveling kan verminder. Om te lees help om sy spanningsvlakke te reguleer, want deur die proses van biblioterapie (terapie van lees) kry hy onbewustelik insig in sy eie probleme. Omdat lees in Offers vir die vlieë ontvlugting, ontspanning, identifisering en begrip vir die tiener bied, is hy nie daarvan bewus dat hy intellektueel ontwikkel en emosioneel en selfs sosiaal groei nie (omdat die leser saam met Eliam en met sy medetroepe kan empatie hê soos wat Eliam geleer het om begrip te hê vir sy situasie en hulle saamspan om vir Torsten te vermoor).

Jeugliteratuur het ook ’n informatiewe (intellektuele en estetiese) funksie, waar die leser inligting kry, sy denke en sienings uitgedaag word en hy dit lees soos dit in estetiese taal verwoord word.

In Offers vir die vlieë is Eliam se verhouding met sy offisiere en medetroepe die hooftema en hy leer algaande meer van homself (soos wat hy sintuiglik en emosioneel gewaarword deur wat hy sien en voel oor die gebeure – dít is wat hy in sy innerlike monoloog en dialoog uitdruk) en van sy afkoms en inligting oor die Program.

Verder dra die lees van literatuur ook spesifiek by tot taalverwerwing – in Offers vir die vlieë is die leser bewus van verskillende tipes taalgebruik en kognitiewe ontwikkeling gebeur in die algemeen. By die lees van hierdie jeugroman is die leser bewus van spesifiek weermagtaalgebruik en kragwoorde, waar eersgenoemde verwys na die informele nie-standaardvariante wat deur mense in die weermag gebruik word.

Die adolessente leser van hierdie verhaal se analitiese denke word geoefen omdat die lees van so ’n ongewone teks hom stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse, die lewe, emosionele wonde en dood (al is dit van dié van die offisiere en amptenare), so ook die optrede van verskillende karakters (sowel Eliam as die ander troepe wat soos jong volwassenes is en presies dieselfde ouderdom het).

Ook word die tienerleser se verbeelding aangewakker deur die proses waarin hy hom inleef in die lewens van ander (Eliam en sy medetroepe) asook die herkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Letterkunde het dus ook ’n estetiese funksie – dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te voorkom. Dit gebeur in Offers vir die vlieë wanneer die tienerleser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word.

Op hierdie manier word die tienerleser se verbeelding gestimuleer en só raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Ook hierin slaag Offers vir die vlieë uitstekend, want hierdie leser kon nie hierdie jeugroman neersit nie agv die hoë spanning en intriges, asook die estetiese taalgebruik.

Voorbeelde van laasgenoemde in Offers vir die vlieë is die volgende metafore, vergelykings, herhalings en kontraste as jukstaposisionering in Eliam se innerlike monoloog: “Goed en kwaad. Saliges en afvalliges. Mag en AntiMag” (21). Dit is vir my as leser asof Eliam se intense gevoelens van pyn, agterdog, vrees en woede geïntensiveer (en dalk gebalanseer) word deur hierdie kreatiewe (soms ironiese of spottende) taalgebruik – dit kan selfs ’n soort postmodernistiese dekonstruksie van die (fiktiewe) wêreld op pad na die Front wees: Daar is talle voorbeelde van metafore, vergelykings, personifikasie, motiewe met bybelse (slang, toring van Babel, die swart boeke wat mense gehad het, Armageddon) en eietydse Suid-Afrikaanse geskiedkundige assosiasies (Dingana en Bloedrivier), simbole (veral die spieël, boeke, geroffel van tromme), en treffende naamgewings met dieper betekenis.

Die maatskaplik-sosiale funksie behels dat die adolessent gehelp word om te sosialiseer deur kontak met jeugliteratuur, want hy maak keuses sonder die invloed van sy portuurgroep.

Deur die lees van Offers vir die vlieë maak die leser kennis met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme (spesifiek die optredes van die ses troepe se ma’s toe hulle klein was, en verder ook wat in die Boek vereis word sedert die Nag van Verdonkering en later blyk uit die groen boek aangaande die Program) – veral met betrekking tot verskillende geslagte (manlik, vroulik), homoseksualiteit, offisiere (sersant, sersant-majoor, kommandant, korporaal, luitenant, Militêre Polisie), die Priester en amptenare in die mediese tente (Suster, die verpleegster Maria, Mediese Ordonnanse).

Die individu word begelei om homself te sien as deel van ’n geheel (troepe by Opleidingskamp Alfa, die wêreld sedert die Nag van Verdonkering wat onder beheer van die Mag is). Dit pas by wat Carlsen (aangehaal in Ghesquiere 1993:120) se argument aangaande literatuur is:

Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for himself. At the best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see himself as a part of an ongoing history.

Deur Eliam se lewe en sy selfondersoek en optredes word die leser bygestaan in die proses van aanpassing en leer watter rolle hy in die samelewing moet kan speel. Spesifiek kan in Offers vir die vlieë verwys word na Eliam se worsteling met wie hy is, hoe hy is, waar hy vandaan kom, wat die waarheid en die leuen is en waar hy hoort om sodoende volwaardig sy plek as troep op pad na die Front in te neem, selfs nadat hy self nou ook gehelp het om ’n moord te pleeg (al was dit as deel van die groep). Só vind kultuuroordrag plaas en die leser leer ken (deur kennismaking met Eliam) ’n troep se vryheid, regte en verpligtings in die weermag onder fascistiese beheer in ’n distopiese bedeling.

Indien die leser blootgestel word aan die betrokke (“engagement”) en multikulturele elemente van jeugliteratuur, kan ook sy etiese standpunt ontwikkel word in die ontginning van die probleme van menswees. Dit gebeur egter nie ooglopend in Offers vir die vlieë nie, omdat die karakters uit verskillende kulture en samelewingsgroepe afkomstig ’n minderheid is, maar wel uitgebeeld word.

  • “Op pad na die afgekampte veldtoilette, keer een van die ander troepe my voor. Dis ’n ou met ’n donker vel en oë, ’n vriendelike glimlag” (148).
  • Sersant Senzele se van klink asof hy nie ’n “bleek vel” soos die ander (Eliam, Cypher, Verdoorn) het nie.
  • Cali het waarskynlik nie ’n bleek vel nie, want sy het “Swart hare en olyfkleurige vel. Groot donker oë wat my binnekant sagmaak ...” (89).
  • Daar is wel, ten spyte van die oorgrote meerderheid mans, ook enkele vrouens wat genoem word: Cali, die tweede Priester, Suster en Maria, die verpleegster. Die leser word dus met karakters (uit verskillende bevolkingsgroepe en geslagte) se optredes (wat anders as sy eie is) gekonfronteer.

In Offers vir die vlieë is duidelike uitings van kulturele kwessies, gemeet aan die volgende kriteria/vereistes vir kulturele geletterdheid in jeugliteratuur9:

  • Die teks en veral Eliam se karakter se effek op die leser kan lei tot ’n verbeterde selfbeeld en selfrespek.
  • Soos hier onder aangetoon, is die literêre kwaliteit (tema, karakterisering en agtergrond) van hoë gehalte.
  • Die teks lig universele waarhede uit – oplossing van emosionele probleme, aanvaarding van die self en ander, die karakters se soeke na eie identiteit (Eliam wat baie oor homself in die omgewing dink en tog uiteindelik vry raak van sy selfbeheptheid, soos dit blyk uit sy innerlike monoloog waar hy twv oorlewing sy groep help om ’n aksie teen Torsten te kies en hulle van sy brutaliteit en geweld te bevry).
  • Die taalgebruik is werklikheidsgetrou en nie kunsmatig of vol stereotipe dialek (van anderstaliges) nie. Eliam en die ander troepe en offisiere gebruik dikwels kragwoorde om uitdrukking te gee aan hulle vernedering. Eliam se kreatiewe taaluitings dmv vergelykings en metafore, asook Jethro se humor (sarkasme, hy onderdruk ’n lag, oordrywing, bv hy sal ’n perd kan eet) gee die verhaal ’n veelvlakkigheid – humor en die estetiese is ’n manifestasie van kultuur in Offers vir die vlieë.
  • Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie voor as sedelesse of preke nie – eerder kritiek wat in Eliam se innerlike monoloog manifesteer wanneer hy die geheime plan van die heersers in die Program herken in die boek met die groen omslag by Cypher.
  • Ontwikkeling van kulturele geletterdheid vind plaas wanneer die jeugverhaal aandag gee aan kontekstuele, omgewings- of kontensieuse kwessies. In Offers vir die vlieë word dit gemanifesteer in Eliam se psigologiese stryd as lid van ’n weermag – hy ontwikkel deur die traumatiese konfrontasie met die brutaliteit van Torsten, Verdoorn en Krux, die keelafsny van hulle hondjies en die moord op Torsten begrip en aanvaarding, wat verder lei tot deernis met homself en die ander vyf in sy span.
  • Eliam se perspektief is betroubaar binne die konteks en sy innerlike monoloog en dialoog verstaanbaar omdat hy nie sy pyn en twyfel oor ander mense en die situasie openlik kan kommunikeer nie: “Hoekom die geheime, die saam grootword, gereelde mediese ondersoeke, die verwoestende afbreek tydens die weermagopleiding? Wat is die Program regtig? Soveel vrae” (194). Hy kan nie daaroor praat nie, want ’n mens “vertrou niemand behalwe jou span nie – met die opleiding is hulle gekondisioneer om mekaar te vertrou. Jy versaak die Self, tree op soos ’n span, veral in moeilike omstandighede” (15). Hy kan selfs nie vir Krux vertrou nie, al lyk hy aanvanklik vriendelik en selfs vaderlik: “Moet hom nie vertrou nie, Eliam, waarsku ’n binnestem, soos ’n hond wat te veel geslaan is. Onthou, hy is deel van die Mag” (133). Verder moet hulle in die openbaar vir mekaar fluister agv die hommeltuie wat hulle oral afluister.
  • Die leser kan in Eliam se skoene staan en sodoende kan die leser se empatie gewek word vir die soort maatskaplike probleem wat aan die orde van die dag is (nl oorlogvoorbereiding en -voering), Eliam se worsteling om te weet wie hy is en waar hy vandaan kom, wat die waarheid en die leuen is, en wat goed en wat boos is. Die leser se verbeelding kan ontwikkel omdat die verhaal oop en met vraagtekens eindig – is dit ’n droom of is hy die perfekte een wat voortkom uit die eksperiment? Sal Eliam hierna dit regkry om homself te wees met die “gawes” wat aan hom toevertrou is?
  • Dwarsdeur die verhaal is daar ’n dekonstruksie van óf ’n pessimistiese óf ’n optimistiese (eensydige) verdraaiing van die werklikheid deur een van die karakters.
  • ’n Leser wat die ouderdom, ervaring, agterdog, belewenis en uiting van pyn van die hoofkarakter(s) deel, sal met ten minste een van hulle kon identifiseer.

 

6. Literêre teksgehalte

6.1 Genre

Soos vroeër genoem, is Offers vir die vlieë ’n jeugletterkundige werk wat ’n subgenre van literêre fiksie is. Die skrywer se styl in Offers vir die vlieë is tipies van die psigologiese roman (ook genoem traumaroman). Alhoewel hier nie veel romantiese verhaalelemente is nie, kan dit ook ressorteer onder ontwikkelingsromans (bildungsromans), ook genoem die adolessenteroman, waar die groei na volwassenheid, soeke na eie identiteit, verwerking van trauma en die gevolge daarvan sentraal staan.

Hoewel kritici – wat nie bekend is met die narratiewe elemente van soortgelyke verhale soos die outobiografie en memoire nie – dikwels hierdie soort prosa afmaak as selfbeheptheid (met die eie ek/ego) en selfbejammering (dus ’n soort narsisme) vind ons hierin ’n ontdekking en verkenning van die psige, terwyl die binnelandskap van die hoofkarakter die oorheersende ruimte is. Laasgenoemde elemente is wel waar van Offers vir die vlieë en sal in besonderhede hier onder bespreek word.

As sodanig kan hierdie psigologiese adolessenteverhaal in dieselfde asem genoem word as ander bekende Afrikaanse jeugverhale met die belewing en verwerking van trauma as hooftemas. Offers vir die vlieë kan dus netjies saam met ander Afrikaanse (psigologiese) jeugverhale10 wat oor die gevolge en verwerking van trauma handel op die rak staan, naamlik:

  • Die pro (1997) deur Leon de Villiers handel oor ’n adolessente seun wat sy boesemvriend in ’n fratsongeluk (verdrinking) verloor en hom voorneem om nooit weer branderplank te ry nie.
  • In Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough word die hoofkarakter deur die homoseksualiteit van sy broer en later sy selfdood gekonfronteer.
  • In BreinBliksem (2005) skok Viljoen met die realistiese uitbeelding van ’n metakognitiewe verkragting en moord.
  • In ’n ander jeugverhaal deur Viljoen, Pleisters vir die dooies (2014), beplan die hoofkarakter hoe hy sy skoolmaats met sy pa se geweer gaan afmaai.
  • Die selfdood van ’n broer word deur Derick van der Walt in Bambaduze (2015) belig.
  • In Asem (2016) deur Jan Vermeulen dagdroom die adolessente hoofkarakter oor hoe hy sy pa vir dae lank gaan laat krul van pyn met die rottegif wat hy in sy tas versteek.
  • Lien se lankstaanskoene (2008) is Derick van der Walt se deernisvolle vertelling van die stryd van die hoofkarakter Lien, wie se ouers se fisieke en psigiese afwesigheid haar dwing om verantwoordelikheid vir die huishouding oor te neem; uiteindelik moet sy bedel om hulle gesin te laat oorleef.
  • In Dis ek, Anna (2004) en Die staat teen Anna Bruwer (2012) het Anchien Troskie (skuilnaam: Elbie Lötter) lesers geskok met die realistiese beskrywings van molestering en verkragting. Alhoewel hierdie twee verhale nie as jeugverhale getipeer kan word nie, word dit as gunstelingleesstof deur veral adolessente meisies aangetoon.
  • Die traumanovelle Blou is nie ’n kleur nie van Carin Krahtz (2018).

Bogenoemde jeugnovelles word gekenmerk daardeur dat die verhaal in die eerste persoon vertel word, ook dat die gebeure gewoonlik sentreer rondom probleme soos trauma en die aanwesigheid van ’n ondersteunende vriendegroep. Hierdie verhale lyk soos vertellingsromans (waar ’n derde persoon die verhaal vertel), maar dit is eintlik ’n karakterroman (met ’n ek-verteller). In Offers vir die vlieë kry die leser insig in die innerlike monoloog11 en die indirekte dialoog van Eliam met diegene in sy omgewing en dikwels met homself.

Tog meen ek dat hier ook iets van ’n bieg- of vertellingroman is, want ek kry dikwels die gevoel dat die eerstepersoonsverteller met my as leser praat, bv waar Eliam ’n verduideliking (vir die leser) aanbied vir hoekom hulle almal van “ons ouens” praat terwyl Victoria daarby ingesluit is, want “sy is soos een van die ouens” (37). Ek vind ook tekens van ’n speurverhaal, omdat dit enersyds vol sg “cliff hangers”12 is om spanning te skep, en andersyds voel of ek nuwe inligting by die verteller kry, waar dit duidelik blyk dat Eliam dit gewéét en (in die vertelde tyd) verswyg het. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die ouens se plan om vir Diesel die sondebok te maak (173) en Diesel as die skuldige aangewys word, terwyl almal presies weet hoe Torsten vermoor is en saam sit en rook (234), maar Eliam steeds “skuldig [voel en bieg aan die leser] oor die sondebok-ding” (176).

Ek meen dat Offers vir die vlieë ’n jeugroman en nie ’n novelle is nie, veral agv die dig verweefde tydsgrepe, motiewe en simbole soos bo genoem, en genuanseerde karakteruitbeelding en intrige. Verder ressorteer hierdie roman onder beide die genres van grens- en distopiese literatuur.

Grensliteratuur is volgens Van Coller (2013)13nie ’n willekeurige versameling tekste nie, maar kan eerder as diskoerse gesien word. Om hierdie rede kan Offers vir die vlieë alleen in kontekstuele verband bestudeer word.

Dit impliseer dat dit literatuur in ’n bepaalde kulturele konteks is – as (sub)sisteem – en voortdurend ontwikkel in samehang met ander sisteme, bv sosiale en religieuse sisteme (vgl die motiewe en simbole vroeër genoem). Volgens Van Coller (2013) het hierdie literatuurbeskouing ’n noue verwantskap met ’n resepsiegerigte benadering (hier bo genoem responsbenadering of resepsie-estetika), want Iser (1975) se begrip repertoire verwys na alle relevante kontekstuele aspekte van ’n teks. Grensliteratuur is enersyds werke wat verband hou met die landsgrense, maar wil andersyds deur die woord “grens” self juis ’n doelbewuste verruiming van die begrip daarstel – teks-, woord- en taalgrense. 

In Offers vir die vlieë staan die gewapende konflik tussen die Mag en die AntiMag in die plek van ’n belangrike grens soos wat kenmerkend is van grensliteratuur – hier spesifiek in jukstaposisie, waar daar vóór die Dag van Verdonkering géén grense was nie en boosheid soos ’n slang deur die wêreld geseil het.

Van Coller (2013) se bespreking van grensliteratuur in Afrikaans dui daarop dat dit gekenmerk word deur die wyse waarop dit die aktualiteit van oorlog en geweld verken by wyse van momentopnames in joernalistieke verslagstyl – dit was aanvanklik net korter tekste (novelles) en kortverhale. Volgens Van Coller verskyn die kernwerke binne hierdie (sub)genre binne minder as 15 jaar, terwyl Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein (1963) – wat vir matriekleerders in die sewentigerjare voorgeskryf is as letterkundige teks – as die vroeë voorloper van hierdie genre beskou word. PJ Haasbroek se Heupvuur (1974), Roofvis (1975) en Skrikbewind (1976) bevat van die vroegste grensverhale hoewel dit dikwels in buurlande afspeel. Brutaliteit en wreedheid staan voorop in hierdie verhale. Die wyse van vertelling dien as 't ware as bloudruk vir ’n hele geslag skrywers na Haasbroek, waar geweld die trefwoord van die prosa in die jare sewentig geword het – voorbeelde is werke van John Miles (Blaaskans), JC Steyn (Op pad na die grens), Harry Kalmer (Die waarheid en ander stories), Alexander Strachan (’n Wêreld sonder grense), Etienne van Heerden (My Kubaan).

Distopie is volgens Wikipedia14 ’n (denkbeeldige) samelewing met uiters negatiewe eienskappe waarin die deursnee mens beslis nie sou wou lewe nie. ’n Distopie is dus die teenoorgestelde van ’n utopie (voorstelling van ’n besonder positiewe samelewing).

Distopiese politieke situasies word in Engelse fiksie uitgebeeld in romans soos genoem in die afdeling oor lesergerigtheid.

’n Voorbeeld van ’n distopiese roman in Afrikaans is Stof deur Alettie van den Heever (2018) wat bemark as word as “toekomsfiksie vir vandag” (Steenkamp 2018).15 Dit sluit aan by die groeiende genre van Afrikaanse distopiese spekulatiewe en futuristiese fiksie, wat onder andere insluit: Eben Venter se Horrelpoot (2006), Lien Botha se Wonderboom (2015), Deon Meyer se Koors (2016), Jaco Botha se Miskruier (2005) en jeugromans van Die eiland van Jen Minkman (2015) en Rouxnette Meiring se Kraak (2018).

Distopie is toenemend ’n gewilde onderwerp in werke van fiksie – selfs in Afrikaans – waar die outeur gewoonlik daarmee ’n beeld bied van die toekoms soos deur hom/haar voorgestel en/of om die mensdom te probeer waarsku teen die moontlike gevolge van sekere optredes en beleidsrigtings. Enkele populêre distopiese onderwerpe sluit in (met enkele voorbeelde uit Offers vir die vlieë):

  • ’n Samelewing wat gekontroleer word deur robotte en/of rekenaars – in Offers vir die vlieë is dit hommeltuie wat die kamp bespied, wat mense se gesprekke afluister en beeldmateriaal berg om as bewyse te dien vir die offisiers, en mortiere en missiele uitskiet om mense op hulle plek te sit.
  • Die totale oorheersing en skending van persoonlike privaatheid deur owerhede en instellings – in Offers vir die vlieë is dit die mense met verskillende militêre range (sersant, sersant-majoor, luitenant, kommandant) – ook Suster en Priester, Militêre Polisie en Mediese Ordonnanse.
  • ’n Samelewing waarin alles en elkeen dieselfde is (elke troep het ’n nommer en name is nie belangrik nie) en waar uitinge van kultuur en emosies verbode is – in Offers vir die vlieë is alle boeke (behalwe die Boek en, soos dit later blyk, ook die gebrande man se boek oor die Program) verbrand tydens die Nag van Verdonkering.
  • Oormatige besoedeling wat die natuur vernietig en skend, wolke wat die aarde bedek en geen sonskyn – in Offers vir die vlieë: “’n Enkele dooie boom staan in die water. Sy hoekige takke lyk soos ’n kraak in die landskap ... Dam van Trane” (62).
  • Die gesin bestaan nie, kinders word kunsmatig gereproduseer en die konsepte “moeder” en “vader” word as obseen beskou. In Offers vir die vlieë is beide voorbeelde aangaande biologiese voortplanting en moederskap ook ter sake – Eliam en sy vyf makkers het almal ma’s wat eintlik net broeikaste en versorgers was (228).
  • Distopieë word dikwels gevul met pessimistiese sienings van die regerende klas of ’n regering wat brutaal is of nie omgee nie en met ’n ystervuis regeer. In Offers vir die vlieë manifesteer dit in die protes van Eliam en sy vriende wat uitloop op moorde van offisiere.
  • Distopiese regerings word soms deur ’n fascistiese regime beheer in ’n samelewing waarin geen vryheid meer bestaan nie en wat bestuur word deur ’n totalitêre regering – in Offers vir die vlieë is dit die Mag.
  • Distopiese regeringsinstellings het dikwels protagoniste of groepe wat “weerstand” bied om verandering in hul samelewing teweeg te bring. In Offers vir die vlieë is dit uiteindelik die ses troepe wat op dieselfde dag gebore is, saam in die Alfa Opleidingsprogram was en saamwerk om enkele van die gewelddadige offisiere se lewens te beëindig. Vier van hulle dring deur na die Front om deel van die AntiMag te word – dus téén die Mag wat hulle opgelei het. 

6.2 Intrige en spanning

Offers vir die vlieë bevat verskeie intriges (“plots”) wat deur die verhouding tussen karakters en die tydruimte manifesteer. Verder is die skrywer se “cliff hanger”-tegniek (draaipunte of sg “plot points”) aan die einde van sekere hoofstukke en dele van hoofstukke tekenend van misdaadfiksie en ander spanningsverhale16. Hierdie literêre stylvorm veroorsaak spanning wat maak dat die leser nie die boek kan neersit nie.

Die vertelling word dikwels onderbreek deur terugflitse, waar die eksposisie of kennismaking gebeur soos wat ons as lesers Eliam aan die begin leer ken tydens die opleiding by Opleidingskamp Alfa, met sersant Torsten en sammajoor Verdoorn as brutale leiers. Daarna is daar aanhoudend stygende handeling/gebeure wanneer ander konflikte uit die verlede deur middel van terugflitse bekend gemaak word.

Elemente van emosionele spanning kom na vore wanneer gebeure veroorsaak dat Eliam aanvanklik dink aan die insident aan die begin van hulle opleidingsprogram – sy agterdog duur voort dwarsdeur die verhaal: “Dit was die dag toe ’n fyn stemmetjie in my agterkop gevra het: Is dit wat hier gebeur het, reg? Ek het daardie stemmetjie onderdruk. Wie is jy, Eliam, om so iets te durf vra?” (12).

Ek meen dat daar verskeie klimakse (hoogtepunte) in Offers vir die vlieë is en dat die fisiese klimakse telkens gepaardgaan met gelade emosies. Daarna is daar telkens dalende gebeure, tot die volgende klimaks:

  • Een van die klimakse wat vir Eliam ’n intensiewe emosionele moment is, is wanneer Torsten na hom skiet, hy vir Cali verloor en sy twyfel en agterdog toeneem. Dit laat die leser tegelyk wonder wat die betekenis van die einde is:
    • “Torsten laat hom nie voorsê of vermaak nie. Ek sien die haat in sy oë brand. Hoe sy vinger stadig boontoe krul. Vreesloos wag ek vir die skoot, wonder ek of hy dit regtig sal deurvoer. Dan kom dit. Op dieselfde oomblik toe Cali, my liefste Cali ...” (94);
    • “Ek sal haar nooit vergeet nie. Ek sal Torsten nooit vergewe nie. Daardie een, enkele dag bly vir ewig in my brein se donker kant geëts. Het ek uit weerwraak my kans afgewag ... Die eenvoudigste verduideliking vir gebeure is gewoonlik die beste verduideliking” (95).
  • Nog ’n klimaks is wanneer dit bekend word dat Torsten vermoor is. Hierdie verhaalmoment beeld telkens ’n katarsis (ontlading van opgekropte emosionele sowel as fisiese geweld) uit: Almal is verdagtes, maar Diesel (wat nie kan swem nie en bang is vir water) word uitgemaak as die sondebok en word in die Dam van Trane gemartel. Cypher probeer vir Diesel aanmoedig:
    • “‘Jy is iewers in daardie veld waar dit mooi is,’ sê Cypher nou vir Diesel. ‘Alles is groen. Daar is blomme en ’n blou lug. Bome. Die mooiste, grootste bome wat jy al ooit gesien het. Hulle takke roer in die wind, Diesel. Voel jy die wind op jou gesig?’” (102);
    • “Almal is in die dam om vir Diesel te help om Torsten se lyk omhoog te hou: ‘Ons haat Verdoorn en ons haat Torsten wat ons selfs deur die dood folter en pynig’” (103).
  • Die insident waar die span hulle honde moet keelaf sny nadat hulle vir hul honde elkeen ’n troetelnaam moes gee, is ’n intense fisiese klimaks met intense gevoelens van al die troepe (behalwe Cypher – “hy het geweet. Dit besef ek nou. Dis hoekom Halo nooit by hom op die bed geslaap het nie. Dit was ’n manier om afstand te probeer hou” (124), en weer raak Eliam agterdogtig:
    • “Was dit op daardie dag dat die saadjie vir sy moord geplant is? Of dalk vóór dit, dalk ná dit?” (119);
    • “Binne jou gaan staan iets stil as jy sulke woorde hoor. Kan dit wees? Ek rol die woorde om en om in my kop en soek ’n uitkomplek” (123);
    • “Dis nie meer my hond nie. Iets binne my het doodgaan toe ek die mes gebruik. Dis mos wat die Mag wil hê. Om ’n soldaat te wees, moet jy ’n dood binne-in jou dra. ’n Vreesloosheid vir daardie dood in jou” (127);
    • “Van die ses van ons was daardie dag vir Jethro die moeilikste. Daardie dag het iets in hom doodgegaan. Hy wou nie praat oor wat in die bos tussen hom en Torsten gebeur het nie, maar ek kan net raai. Dit sou genoeg wees om wraakplanne aan die broei te sit” (129).
  • ’n Verdere klimaks is die gebeurtenis waar Victoria verkrag en verniel word en dit weer eens lei tot Eliam se twyfel en agterdog:
    • “Ek, Jethro, Cypher, Diesel en Victor kyk hoe [hy] vir Victoria neerpen ... haar uniform skeur ... haar verniel. Ons kan niks doen nie. Ons mag niks doen nie. [Hy] is op haar soos ’n verskrikking ... Hoe meer Victoria die aand geskree het, hoe gewelddadiger het [hy] geraak. Uiteindelik, toe hy klaar was, het die eggo’s van haar noodkrete hulself in die diepste dele van my brein kom plant saam met beelde van die bloed op haar kaal vel. Geluide en beelde genoeg om die vrae verder in jou los te torring. Om jou in alles wat die Mag voorskryf, te laat twyfel. Om jouself af te vra: Is ons werklik nog die Mag? Of het ons die AntiMag geword? Is ons die Goed? Of is ons deel van die Vrot?” (208).
  • Nog ’n klimaks is wanneer die troepe besef dat Krux nie die vriendelike persoon is wat hulle gedink hy is nie:
    • “Krux se mondhoek roer. ‘Jethro, jy is onder my topdrie-verdagtes. Ek sou my gladde bek hou as ek jy was.’ Die woorde is soos geweervuur wat jou neervel in die stryd. Die vaderlikheid van gister is totaal weg” (157), en ook as hy die slagspreuk van Camus in sy gebou verander na een van sy eie: “Die mens is ’n monster wat sal moor om te wees wat hy is – Krux” (158, kursivering deur verteller in die boek);
    • “Agter hulle spoed kommandant Krux in ’n Gorgon vier-by-vier nader. Kai storm voor die gevegsvoertuig uit. Hy jag vir Victor-hulle. Dis soos ’n hallusionêre visioen. ’n Fosforgranaat skiet die lug in, sprei oop soos ’n vloek, verlig die omgewing, verblindend, wit. Deur die modderige sneeu strompel ons deur die niemandsland. Van agter af skiet van ons eie mense op ons. Hulle wat nog glo aan die Mag. Wat nog nie ontnugter is nie. Ek sien hoe troepe om my val. Hande gryp na niks. Sweepslae bloed skiet uit gebreekte lywe. Mortiere maak vuur in vleis” (237).

Dan begin die krisis van die verhaal wanneer die span Front toe gaan, en besluit om oor te gee aan die AntiMag (met die wit sakdoek wat Eliam by Suster gekry het), sonder Victor en Victoria, wat nie wou saamgaan nie.

  • “Oor die niemandsland, tussen ons en die vyand. Jethro, Cypher en Diesel storm agter my aan. Ontwapen. Dan ’n horde troepe wat hulle wapens neergooi en skreeuend volg. Tussen hulle verskyn Victor en Victoria. Ontwapen. Hulle uniforms is geskeur. Hulle lywe oortrek met bloed” (236–7);
  • “Voor ons is die vure van die AntiMag. Dis waarheen ons op pad is. Ek strek my arm bo my kop, lug my wapen en die vredesvlag hoër. Dan ruk ’n koeël van agter af deur my boarm. Een van ons eie mense het my geskiet. Hulle wil keer dat ons oorloop. ‘Verraaiers!’ hoor ek hulle skree ... Met elke tree sterf nog een en nog een en nog een. Uiteindelik word die niemandsland ’n plek waar elkeen van ons kaal voor onsself staan” (237–8);
  • “Jethro is die eerste een van ons ses wat val. Al wil ek ook, durf ek nie omdraai om hom te gaan help nie. ‘Eliam!’ roep hy my naam. ‘Eliam!’ Sy stem word sagter en sagter ...” (242).

Met die laasgenoemde moment begin die einde van die verhaal. Eliam kry herinneringe van die gebeure wat die moord op Torsten uitbeeld (239 vv).

Eliam verduur alles vir die groter waarheid. “‘Daar’s ’n groter prentjie wat jy móét sien,’ het die gebrande man destyds by my gepleit. ‘As jy die antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek’” (243–4, kursivering in die oorspronklike teks).

Hy is egter nie meer wie hy was nie: “Die soldaatseun is nou ’n man. Die spieël van leuens splinter om my. Dit kletter grond toe in verblindende lig. In daardie oomblik flits ’n lewe voor my verby ...” (245).

Die einde van die verhaal is oop en (volgens my as leser) een wat die leser self uit verskeie moontlikhede moet ontrafel. Keuris (2013)17 meen omdat die literêre werk ’n tydgebonde lineêre orde besit (en dus in een rigting verloop), word die gebeure met die leesproses telkens gedateer as verlede/hede/toekoms. Die leser in Offers vir die vlieë is afhanklik van sy geheue/verbeelding en ontledingsvermoë om ’n rekonstruksie van die gebeure te maak en om die onderlinge verbande of kruisverwysings edm met mekaar te verbind.

Die vraag (vir die leser, as medeskepper van die literêre teks) is dus wat die verband is tussen Eliam se woorde: “Die dag toe ek die gebrande man teëkom, het alles wat oor was van daardie sekerheid soos ’n kaartehuis ineengestort” (24), en hierdie man se gesprek met Eliam aan die einde wanneer die opskrif “Die gebrande man” is (246) en daar is iemand wat hy hoor praat oor sy arm wat gebrand is, iemand wat hom sag aanraak.

Die kringloop is voltooi – hy is terug waar hy was: “By die Mag” (250) om weer ’n inspuiting by Suster te kry, “want jy weet jy was altyd my gunsteling, nè”, en dalk is hy die perfekte soldaat of die gebrande man ... Hy sien weer vir Torsten – hierdie keer nie in ’n droom nie (is dit ’n herinnering?) – wat, as Eliam vra: “Wat ... wat gaan aan?” hom antwoord: “Werk dit self uit. Jy wou mos dink.” Dan hoor Eliam weer die tromme wat roffel – ’n dodemars, sy dodemars (251). 

6.3 Karakterbeelding en dialoog

Offers vir die vlieë bevat uiteenlopende karakters van min of meer dieselfde sosiomaatskaplike agtergrond en verskillende geslagte (mbt ouderdomme en seksuele oriëntasie). Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld met meer en minder aangename lewens en uiteenlopende persoonlikhede.

Omdat die jeugroman handel oor Eliam se ervarings, gewaarwordinge, emosies, optrede, gedagtes, woorde en sy verhouding met Cali, sal ek hom en haar nie in verdere besonderhede hier bespreek nie. Eliam se naam beteken “God se mense” in Hebreeus, ’n kombinasie van die Hebreeuse el (“God”) en em (“mense/volk”). Eliam was ook die naam van ’n bybelse karakter in die boeke van Samuel as een van “die dertig” – hier in die verhaal een van 6 uit 30 wat die opleiding geslaag het. Cali se naam se betekenisse is “she-bear” en “most beautiful” – dit is dan ook presies hoe sy in die verhaal uitgebeeld word. 

Die volgende kan gemeld word van sy vyf makkers (en die betekenisse van hulle name) soos gesien deur Eliam se oë:

  • Diesel is die sterk maar sagmoedige een “wat nie die einde van sy krag ken nie … stil … ‘My geweer doen my praatwerk’” (37), sy “kop is soos ’n mynveld” (38), die een wat vir Eliam help deur die teerpaal van sy rug af te lig (42). Tog is hy ook die dader wanneer daar moeilikheid met ander troepe is: “Weer is Diesel regop. Geweer in die hand. Hierdie keer gaan niemand hom keer nie. Hy storm nader. Klap twee ouens se kos uit hulle hande en daal soos die Dood op die moeilikheidmaker neer” (59). Hy word tog uitgebeeld met ’n sagte hart as hy vir Cali optel en haar in Eliam se arms sit (95). “As kind het hy met klippe gespeel” (122). Later – in die Dam van Trane – hoor Eliam dat Diesel huil (98). Die redes waarom hy die een sou wees om hulle seksieleier te vermoor, is omdat laasgenoemde “hom met ’n harde vloerborsel geskrop het tot die bloed loop. Hom in ’n watergevulde toilethokkie gemartel en byna versuip het” (209). Diesel se naam beteken “goedhartige persoon wat die belange van vriende op die hart dra”18.
  • Jethro is “die ou wat so maklik kan glimlag en soms ’n motiverende woord in my rigting kan gooi as ek naby aan moed opgee is” (15), ook die terggees (30), die makker wat ’n sarkastiese/ironiese opmerking oor die administrasiegebou maak: “Lekker snoesig hier binne, nè?” (26). As almal later sien hoe Diesel wakker word, onderdruk Jethro ’n lag. “Dis nie sy gewone lag nie” (43). Eliam kan sien die woorde oor Victor se waarskuwing dat Jethro keelafgesny en stokstyf in ’n loopgraaf sal lê, vir Jethro ruk (47). Die makkers spot met “sy vreemde kop-in-die-wolke-geaardheid” (121). As kind het Jethro “sy vinger natgespoeg en prentjies van honde op die houtvloere geteken” (122). Die rede waarom hy hulle seksieleier sou doodmaak, is omdat laasgenoemde “hom gedwing het om die hond wat hy liefgehad het, keelaf te sny” (209). Jethro is die een van hulle wat uitmunt in tegniese take – “sy vingers kan meer verrig as net ’n sneller trek” (221). Dit lyk asof hy die enigste een is wat ’n rookgewoonte het (35, 47, 176, 234). Jethro se naam is afgelei van die Hebreeuse naam Yitro, wat “oorvloed” beteken.
  • Victor word uitgebeeld as ’n moeilikheidmaker met baie kragwoorde, ook met sy eie geheim: homoseksualiteit (149–50). Terwyl hulle ontbyt in die menasie eet en Cypher sy bord kos nie kan eet nie, gryp Victor “die varkpan en grawe die oorblywende kos in syne. Gierig sloeg hy daardeur” (25). Eliam vang Victor se oog – “Dis kil, grys, selfs in die vae lig … [hy] glimlag smalend” (31). Sy openlike aggressiwiteit blyk wanneer hy vir Eliam vra: “Soek jy moeilikheid? … Ek sal jou kop van jou lyf afruk en in jou keelgat spoeg” (37). Wanneer die groep by die Dingana-basiskamp aankom, is Victor “soos altyd … die een wat beheer wil neem” en sê hulle moet hulle sakke aflaai (48). As kind was hy lief vir vuurpeloton speel en die ander moes dit ontgeld (122). Uiteindelik is sy rede om die seksieleier te vermoor dat laasgenoemde sy lyf vir homself toegeëien het – “[o]mdat die front van manlikheid wat hy voorhou, in die hande van ’n monster verbrokkel het” (209). Victor en Victoria se name beteken albei “oorwinnaar” – hulle is die eerste twee wat omdraai en wegstap, maar tog later terugkeer en saam na die AntiMag wil gaan (236–7). 
  • Victoria is Victor se tweelingsuster en ons leer haar ken waar sy waarskynlik weer ’n koekie grys seep gevat het – sy steel dit as kind by hulle ma’s en gaar dit op (16, 165) – en sy het graag rympies gemaak (122). Sy is die enigste een van die “skoner geslag” (37). Sy dink Jethro is “vieslik” as hy sê hy sal ’n perd kan eet (46), wat wys dat sy gril vir hierdie gedagte. Wanneer hulle die rugsakke aflaai, vat Victoria “dit van die grond af by my aan, sonder oogkontak of ’n aks van dankbaarheid” (48), wat wys dat sy net so gehard soos die ander is. As Eliam sien “hoe Victoria nie óór Torsten se lyk trap nie. Maar óp hom. Tussen die bene. Sy kap haar hak dáár in” (106), besef die leser wat daar gebeur het. Op die trok is oorblyfsels van lyke, ook ’n meisie se hand wat Jethro in Victoria se rigting gooi, en dan antwoord sy makaber, maar snaaks: “Hou dit maar. Dis die naaste wat jy aan ’n meisie sal kom” (199). Daarna dink Eliam aan die verskriklike aand waar hy vir Victoria hoor skree (200), ook dink hy weer later daaraan hoe sy in die vliegtuigloods geskree het: “Rou. Seer. Bitter” (206). En Eliam wonder of dit ’n aand was wat vir Victoria rede “vir ’n moord, vir vergelding sou gee” (208).
  • Cypher se naam beteken “geskenk van God” en hy is die een in die verhaal wat ontsyfer wat die waarheid en leuen aangaande die Program is. Hy is die karakter wat die gebeure fisies (dieper en op ’n manier meer emosioneel) ervaar sodat sy neus telkens bloei (25, 42, 130, 232) – wanneer vyf makkers gedwing word om na die teikens te skiet, vind hulle vir Cypher ongedeerd. Eliam “pluk die band van sy mond af. Dan die band by sy oë. Al sy ooghare waai. Dit laat hom soos ’n buiteaardse wese lyk. In sy oë lê iets dieper as wat daar ooit was. En ’n druppel bloed loop by sy neus uit” (186). Ook sien Eliam hoe hy gespanne en bekommerd in die trok saam met hulle ry, sy kneukels wit om sy wapen. “Dáár is nou iemand wie se kop vol slangneste is” (36–7). As kind het hy gedagdroom (122), en aan die einde kies hy om saam na die Noorde, die gevegsfront, te gaan: “Cypher knik. ’n Bloedstreep loop weer uit sy neus, onder die kopbeen uit. ‘Ek ... ek staan by Eliam,’ sê hy stotterend. Dis asof hy weet wat kom. Hy het dit al gesien” (224). Hy was die siener, die een wat die boek met die groen bandomslag van die gebrande man ontvang het (229) en vir die makkers die ontnugterende nuus vertel wat hy in die boek ontdek het – dat hulle lewens alles deel van die Program was (228). Eliam wonder of Cypher se rede om hulle seksieleier te vermoor was “oor die vasmaak aan ’n skietbaanteken en ons ander se manipulasie om die baan te kies waar hy gestaan het” (209).

’n Karakter waaroor ’n groot deel van die roman gaan, is sersant Torsten, die troepe se seksieleier – ek vind dit dus gepas om in meer detail na hom te kyk as wat ek die ander offisiere sal bespreek:

  • Ons maak kennis met Torsten in die eerste afdeling wat handel oor die Verdonkering – ’n offisier sonder menslikheid wat op die troepe skree en sarkasties meld dat hulle hulle “slapgatgeit” moet los, want hy het nie lus “om ’n diep en betekenislose gesprek” met die troepe te voer nie (9). Sy taktiek om te motiveer is hoofsaaklik verkleinering, kragwoorde en dreigemente. Vir Eliam skreeu hy: “Hoekom lê jy dan daar en hyg soos ’n inkontinente os? Is jy ’n swakkeling? Ek verbrysel ’n vrotterd. Op jou pote … Moet ek jou uit die Program gooi? Idioot! Lig jou skelet, vat daai donnerse paal en hardloop … Ou beesblaas, jou gat gaan ek vandag op meer as twee maniere skop … Help tog hierdie poephol”. Dan dreun sy spotlag oor die veld (10, 11). Wanneer Eliam van desperaatheid met sy kop in die modder braak, word hy gedwing om sy eie “moddergeel vloeistof” te drink (12).
  • Hy het ’n gruwelike grynslag in die gekraakte spieël wanneer hy vir Eliam verneder en met sy eie handdoek probeer verwurg en daarna met die “punt van die nat handdoek tref soos ’n sweepslag tussen die blaaie” en die pyn tot in Eliam se hart skiet (19).
  • Later, wanneer die troepe saam met Torsten vir die kommandant wag, “stamp [hy] met sy vinger teen Victor se bors”, krap met sy vegmes onder sy naels, begin dan “vir sy eie vermaak … die mes na ons voete gooi om te sien wie wegdeins”. Dan glip die mes uit sy hande, of “dalk doen hy dit met opset. Die mes skiet uit sy hande. Tol deur die lug. Dring deur ’n stewel” – Diesel s’n (27).
  • ’n Paar keer word sy “yl snor … bo sy dun lippe” gemeld, en daarmee saam Eliam se gedagtes: “As hy weet hoeveel haat daar vanaand om hom is, sou hy nie só geslaap het nie” (41).
  • Nadat hulle verby die Dam van Trane gery het, beveel Torsten Diesel se makkers om vir Diesel te skrop en dan sis hy deur sy tande: “‘Laat ek julle pissies wys hoe’ … Sy vingers het wit om die houthandvatsel gespan toe hy die borsel vat. Spiere in sy arms, skouers en rug het in bondels saamgetrek soos hy sy kragte bymekaarskraap … ’n Oomblik het die lang opgehewe littekens op sy rug my geskok. Soos sweepslae?” (63). Hier is een van die gevalle waar die leser ’n ander kant van Torsten sien, maar nie die volle prentjie kry nie. Later, wanneer Torsten saam met hulle om die vuur sit en ervarings van hulle kinderjare deel, luister hy laggend na die ses se stories. Dan sê hy met ’n helderheid in sy stem: “Ek moet julle van my kinderdae vertel” (122). Hy kom nie verder nie, want skielik val daar ’n hartseer oor sy gesig. Dit pluk aan ’n spiertjie by sy wang en laat sy mondhoek onverwags ruk. Wanneer Victoria vra of hy “oukei” is, kyk Torsten “byna onsiende na haar. Ek kan sweer ek sien ’n waterigheid in sy oë, maar hy kyk af. Hy sit lank so, sy skouers geboë … hy trek Jethro se hond nader … vryf gemoedelik oor sy kop. Soen hom tussen die ore” en sy stem is sag as hy weer praat en die opdrag gee dat hulle hulle messe en honde moet kry. Eliam se reaksie is dat dit soos ’n skokgranaat is wat tussen hulle val (122).
  • Vir Cypher verneder Torsten by die skietbaan, wanneer sy vyf makkers nie weet agter watter teiken Cypher is nie, en hulle moet skiet. Cypher is met toue vasgemaak en het ’n kappie op. “Sy oë is toegeplak. Maar twee oë is met ’n swart pen op die kleefband geteken. En ’n derde oog op sy voorkop. Torsten lag uitbundig.” Wanneer hulle sien wie die persoon is wat doodgeskiet is, sê Torsten en sy makabere persoonlikheid blyk duidelik: “Lyk of ons ’n dooie Priester het … Foei tog. Wat ’n onvoorsiene … ongeluk” (186).
  • Ek hoef nie hier aan te toon hoe Torsten vir Victoria verneder (selfs vernietig) het nie, want dit blyk wel uit my bespreking van haar hier bo.

Die uiterlike dialoog is oral funksioneel en outentiek aangebied om te by die onderskeie karakters pas. Wat veral opvallend is van die dialoog, is Eliam se innerlike monoloog, ook sy innerlike dialoog met sy spieëlbeeld. Die register in Offers vir die vlieë is kenmerkend van grensliteratuur, waar die dialoog van verskillende weermagkarakters uitbeeld wat die sosiolek van hulle spesifieke sosiomaatskaplike agtergrond is – hier spesifiek ’n paar (herhalende) sagte en erger kragwoorde wat funksioneel is in grensliteratuur, veral agv die konflik en spanning wat toeneem. Hier is die volgende voorbeelde van karakters se woorde ter sake:

  • Torsten: “Help tog hierdie poephol [Eliam]” (11), “slapgatgeit” (9), “donnerse dodemars” (30), “donnerse idioot” (36);
  • Eliam: “Asof ek jou nie sal terug donner nie” (141), “Is jy donners blind?” (216), “Ek ís donnerswil wakker” (250);
  • Jethro: “Kom, jou pissie” (30), “Liewe donner” (62), “wat de donner” (104), “Donner, ek het daarop gesit” (199);
  • Verdoorn: “donnerse oorlog” (80), “Daar is nie ’n donnerwetterse verhoor vir niemand nie. Ék is die verhoor. Ék is die gereg” (84), “Weet jy nie waar donnerse regs is nie?” (176);
  • Een van die MP’s: “donnerse misbaksels” (100);
  • Victor: “Eliam kan bly wees ek het hom nie gedonner nie” (141), “Ek sal vir jou so hard donner dat jy na jou kinderdae verlang” [vir Jethro] (191).

Scholz (2013)19 verwys na J Schramke (1974) wat die funksionaliteit van die innerlike monoloog vir veral die moderne prosakuns soos volg omskryf: “Die wese van die monologue intérieur is egter onafskeidbaar van die wyse waarop dit histories bepaald voorgekom het: die betekenis daarvan kan net ontsluit word binne die raamwerk van die problematiek van die moderne roman, waartoe dit as belangrike uitdrukkingsmiddel behoort.” Myns insiens kan Offers vir die vlieë as distopiese en grensliteratuur hieronder ressorteer.

Eliam se innerlike monoloog (ook innerlike dialoog) kan gesien word as een van die tegnieke wat Viljoen in Offers vir die vlieë gebruik “om die illusie te skep dat die verteller verdwyn en alles die direkte weergawe is van die gebeure wat afspeel in die bewussyn van die karakter terwyl hy gebeure en indrukke beleef soos dit in ’n dramatiese hier-en-nou deur sy bewussyn ‘stroom’ ... Grammatikaal, sintakties en tipografies is die innerlike monoloog herkenbaar aan die eerste persoon teenwoordige tyd sonder die gebruikmaking van aanhalingstekens” (vgl Scholz 2013).

6.4 Agtergrond/milieu (tyd en ruimte)

Tyd is reeds bespreek onder die afdeling “Potensiaal van die jeugverhaal om met die bedoelde leser te kommunikeer”, so ook onder “Intrige en spanning”, waar verskeie klimakse en terugflitse genoem is. Ek gaan dus nie in verdere diepte hierop in nie.

Volgens Keuris (2013) 20 is die vertelde tyd die tyd wat in die literêre werk / fiksionele wêreld gedek word, maw die tyd-binne-die-werk, die tydsduur. Daarteenoor is die verteltyd die tyd wat geneem word om die literêre werk te lees, maw die tyd-van-realisasie. Wat van toepassing is in Offers vir die vlieë is dat die vertelde tyd oor baie jare strek, maar in ’n kort verteltyd (die verhaal van 255 bladsye) vertel word. Dit het ’n oorwegend vinnige tempo omdat die verteller se styl om gebeure uit te beeld treffend kort en bondig is. Dit word egter deur middel van terugflitse onderbreek en skep dus die illusie dat die verteltyd verleng word. Op hierdie manier kan die leser die opeenvolging van gebeure self rekonstrueer.

Ook meld Keuris (2013) dat die verteller in die verhaal die tydruimtelike oriëntasie vir die leser verskaf. Daar is “dus ’n wisselwerking tussen die verteller en die tyd: die verteller bestaan in ’n spesifieke fiksionele tyd, maar hy manipuleer ook hierdie tyd vir die doeleindes van sy vertelling, nl om die gebeure óf te vertel óf direk voor te stel.” Die leser word in Offers vir die vlieë aktief by die skepping van die vertelde tyd betrek en kom wel agter (op analitiese en verbeeldingsvlak) wat die situasie van die troepe was toe hulle kinders was, in die opleidingstyd, en tydens verdere gebeure wat een na die ander afspeel maar nie in chronologiese volgorde vertel word nie.

Verder is daar ’n verhouding tussen die tyd en karakter: Die fiktiewe karakter is ’n skepping deur die medium van die taal, ’n medium wat self tydgebonde is (Keuris 2013). Hierdie karakter leef in ’n bepaalde tyd – die tyd-binne-die-werk – en hy ontwikkel ook daarbinne. Die karakters in Offers vir die vlieë is tydgebonde (soos hulle ook ruimtegebonde is).

Ten opsigte van die karakter en sy tydsbelewing maak Keuris (2013) twee onderskeidings: die objektiewe tyd en die subjektiewe tyd. Die objektiewe tyd waarteen die gebeure (en dus ook die karakter se belewing daarvan) in Offers vir die vlieë afspeel, kan vergelyk word met die fisiese tyd in die buite-literêre wêreld (dus die wêreld van die leser) en word dikwels genoem klok-/kalendertyd. Subjektiewe tyd / psigologiese tyd / innerlike tyd is dan Eliam se individuele en unieke belewing van die objektiewe tyd. In die subjektiewe tyd is dit veral die wisseling in die tyd se tempo wat opval, sodat die kloktyd gewoonlik korter of langer ervaar word as wat fisies aangedui word.

Viljoen gebruik bogenoemde tegnieke om op ’n vernuftige manier die leser se verbeelding, geheue en ontledingsvermoë uit te daag om te probeer agterkom wat die einde van die verhaal is, en hoe dit kan wees dat die verbrande man uiteindelik afkyk op Eliam en met hom praat (251) – hy sien duidelik ses soldate wat hom “in sy sukkelgang stuit” – sy dodemars. Eliam verstaan (saam met die leser) nie wat aangaan nie en hoor dan by die gebrande man: “Ek weet. Want jy moet nog by die waarheid uitkom, Eliam … Daar is ’n groter prentjie wat jy moet sien … As jy antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek.” Die verwarring vergroot as die man meld dat hy vir Cali geken het en hy “die naamplaatjie” teen sy bors druk (252). Dan sê hy dat die spieël “[t]ussen die einde en die begin is”, dat Eliam iemand (vir Torsten) moet doodmaak (saam met sy makkers as hy dit nie alleen kan doen nie), omdat “hy die een is wat alles begin het”, wat vir Eliam laat wonder het of dit wat hier gebeur reg is, wat dus die groter dink in hom losgemaak het. Dan gee die verbrande man die verbode boek vir Cypher, wat ook nadergekom het (253).

Volgens Du Plessis (2013)21 is ruimte (Burger 2018:10 noem dit “fiksiewêreld”) “binne die skryfkuns een van die sogenaamde skeppingselemente wat tot die kreatiewe skrywer se beskikking is. Die vier vertelkategorieë van die narratologie is ook die vier skeppingselemente van die skryfkuns, naamlik karakter, tyd, ruimte en gebeure.” Dit gaan in ’n jeugverhaal om die “vertel” van die lewenstorie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van Offers vir die vlieë is dan per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na lokaliteite van opleidingskampe met grensdrade en barakke in die weermag, ook die onherbergsame pad na die front, wat in die werklikheid net so (sou kon) bestaan.

Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte. Plekke en objekte bestaan in Offers vir die vlieë nie ter wille van hulleself nie (waarskynlik bestaan daar nie ’n plek soos Opleidingskamp Alfa en die pad na die Front waar die verhaal afspeel nie), maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speel- of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit. Onder epiese ruimte kan ons, ter wille van die bespreking, praat van die fiktiewe plekke in Offers vir die vlieë waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur. Dit moet onderskei word van die (moontlike) werklike ruimte waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Daar is in hierdie roman epiese ruimtes, met die volgende verwysings na plekke en items wat met die karakters en gebeure te make het en (sou kon) ooreenstem met die nie-fiktiewe werklikheid:

  • Plekke: Verloorderskop, Opleidingskamp Alfa, Dam van Trane, torings, wagtorings, rooi gebied Dingana, paradegrond, Residensie, nagmerrieland, boeketeke, barakke, menasie, administratiewe kantore, kapel, mediese tente, kliniek, Vaderland
  • Belangrike mense: offisiere van die Mag, Suster, Priester, Militêre Polisie, Mediese Ordonnanse
  • Belangrike tekste: die Program (eksperimentprogram), die Boek (met rein en waar woorde), Kronieke (elkeen met ’n teksvers soos in die Bybel) van Verdonkering, Oordeel, Vergelding, Offers, Saligmaking, ’n lêer van elke troep, ’n mediese verslag oor Eliam en ’n foto van Cali se naakte lyk in Eliam se lêer.
  • Items: sponsmatrasse, enkelbeddens met metaalpote, gekraakte spieël, lemmetjiesdraad, driekoppige hond Kerberos, RegiMog-trok, sensors, slaggate, S13-karabyn, grensdrade, boeliebief, rantsoenpak, rolle doringdraad, ammunisiekiste, hout- en gasgewere, granaatlanseerder, Dixie-metaalbak, weermagvoertuie (Charon, Gorgon, Cronus), Keplar-baadjies, vegmes, gasmasker, Achilles-antitenk-missiel, vuurpyle, projektiele
  • Virtuele elektroniese apparaat: hommeltuie, selfdrywende RegiMog, die towerkrag van tegnologie toe daar nie grense was nie (vóór die Nag van Verdonkering).

Die skrywer van Offers vir die vlieë skep dus ’n narratiewe ruimte wat fisiese, emosionele, sosiale en denkruimte letterkundig uitbeeld. Verder gee die skrywer aan intieme ruimtes betekenis wat identifikasie as abstrakte ruimte aan iets soos plekke in die (fiktiewe) weermag en op pad na die Front toe belig. Die vernaamste ruimte in die verhaal is uiteindelik die (intieme) binnelandskap van Eliam se waarnemings, ervarings, emosies en herinneringe dmv sy innerlike dialoog (soos wat gebeur in die psigologiese, vertellings- en traumaroman, outobiografie en memoire).

Verder is daar in hierdie verhaal oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap (Coetzee, in Du Plessis 2013) – soos die tente, barakke, Opleidingskamp Alfa, Dingana-kamp, Krux se kantoor, kliniek, mediese tente, weermagvoertuie en die gevegsfront. Dit alles beperk fisiese, psigiese of sosiale beweegruimte vir genoemde karakters en skep spanning.

Gesien in die lig van bogenoemde bespreking met betrekking tot agtergrond, is dit vir my duidelik dat die skrywer in Offers vir die vlieë ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid skep wat deur al die karakters en gebeure in ’n bepaalde tydruimte bevolk word.

6.5 Intertekstualiteit

Hoewel alle epiese verhaalsoorte vir die adolessente leser toeganklik is (roman, novelle en kortkuns), word veral die novelle in jeugverhale verken en ontgin (Steenberg 2013). Tog meen ek Offers vir die vlieë is ’n roman (sien ook bespreking oor genre). As karakters is jeugdiges gebruik en soos bo genoem, kan jongmense met so ’n personasie identifiseer; volwassenekarakters is ook gebruik. Die karakters in Offers vir die vlieë is hoofsaaklik troepe in die adolessente fase, en volwassenes is offisiere en amptenare.

Oor die algemeen is dit waar dat hoe interessanter die persoonlike of individuele geval was, hoe belangriker die tema van konflik tussen die individu en sy milieu geword het. Daarom kan ’n mens sê dat die element van konflik die fundamentele en mees belangwekkende gegewe in die moderne Afrikaanse distopiese en grensliteratuur is. In Offers vir die vlieë is die primêre konflik dié van Eliam met homself en van hom en sy makkers met die offisiere. Uiteindelik is die tydruimte waarbinne die verhaal afspeel – nl die onherbergsame roete na die Front – die sekondêre konflik.

Dit is duidelik dat Offers vir die vlieë as distopiese- en grensliteratuurgenre handel oor die rol van ’n persoonlike lotsbestemming wat toegeneem het in dieselfde verhouding as wat maatskaplike verbande verander het. Die adolessente leser is waarskynlik bewus van oorloë wat regoor die wêreld toeneem, en ook dat die besoedeling in die atmosfeer en natuur toenemend ’n bedreiging vir oorlewing is.

In Offers vir vlieë vind die leser subtekste wat eerstens afdelings (in hoofletters gedruk) is, wat veral die rol van belangrike persone/items in die verhaalgang uitbeeld. Tweedens het elkeen ’n aanhaling (kursief gedruk) uit die Kronieke (wat vir die leser assosiasies van Bybelhoofstukke kan hê), en dit strek oor enkele hoofstukke met die volgende opskrifte:

  • Torsten: Kroniek van Verdonkering – hoofstukke 1–6
    • Die een ding wat aan jou alleen behoort
    • Verdonkering
    • Die aand van modder
    • Oor die swart rivier
    • Torsten het nog nooit so goed gelyk nie
    • Die Mag is een, die Mag is alles
  • Verdoorn: Kroniek van Oordeel – hoofstukke 7–9
    • Stilbly maak nie van jou ’n moordenaar nie
    • Cali en die spieël
    • Saamstaan
  • Krux: Kroniek van Vergelding – hoofstukke 10–13
    • Die honde
    • Krux en Kai
    • Nié so ’n monster nie
    • Van goed en kwaad
  • Suster: Kroniek van Offers – hoofstukke 14–17
    • Leuens, geheime en dit wat ons saambind
    • Suster se gunsteling
    • Die verraad in ’n naam
    • Ek wil nie hier wees nie
  • Spieël: Kroniek van Saligmaking – hoofstukke 18–21
    • Die losmaak van knope
    • Modder en sneeu
    • Front
    • Die gebrande man 

In Offers vir die vlieë is daar verder twee duidelike intertekstuele verwysings as metatekste – ’n teks-binne-’n-fiksieteks – aan die begin van die verhaal, dus werklikheidstekste binne ’n fiktiewe teks22:

Die eerste metateks is ’n aanhaling uit die werk van Frederik die Grote wat bevestig dat dit in die weermag of oorlog daaroor gaan dat ’n troep moet doen en nie dink nie. Frederik word as ’n verteenwoordiger van die verligte absolutisme beskou wat die administrasie van sy koninkryk doeltreffender gemaak, sy ekonomie bevorder en ’n verskeidenheid hervormings van stapel gestuur het. Na homself het hy as die “eerste dienaar van die staat” verwys23. Hy het ’n strenge opvoeding ontvang wat deur outoritêre en godsdienstige beginsels volgens die presiese instruksies van Frederik Willem gekenmerk was. Frederik is aan ’n vreugdelose dagroetine blootgestel wat deur sy pa voorgeskryf is. Wat kontrasterend is ten opsigte van die offisiere en gebeure in Offers vir die vlieë, is dat Frederik as die “filosowekoning” beskryf is, en dat hy die marteling van aangehoudenes verbied het, die Pruisiese strafreg gehumaniseer het, sensuur verlig het en ’n kultuur van verdraagsaamheid teen minderhede in die Lutherse kerk gevestig het. Frederik het stygende voedselpryse bekamp sodat brood vir al sy onderdane bekostigbaar was en die verbouing van aartappels geforseer om hongersnode te voorkom. Vir my as leser lyk dit asof hierdie boek ’n soort alternatief kan wees vir Viljoen se teks.

Die tweede metateks is ’n aanhaling van Erich Maria Remarque24 – ’n Duitse veteraan uit die Eerste Wêreldoorlog – in sy werk All quiet on the western front. Hierdie boek beskryf die Duitse soldate se uiterste fisieke en geestelike spanning tydens die oorlog, en die losmaking van die burgerlike lewe wat baie van hierdie soldate gevoel het. Die hoofkarakter, Paul, maak kennis met Katczinsky, ’n ouer soldaat met die bynaam Kat, wat Paul se mentor word. Daar is ooglopende ooreenkomste tussen hierdie teks en Offers vir die vlieë wat ek aandui deur dit te onderstreep. Dit lyk vir my asof hierdie teks ’n belangrike invloed op die ontwikkeling van die roman gehad het – dit is dalk ’n subtiele uitdrukking in jukstaposisie van dít wat nie hoef te wees nie.

  • Die uitdrukking “op die westelike front is alles stil” het ’n samelewing se uitdrukking geword wat stagnasie of gebrek aan sigbare verandering in enige konteks beteken.
  • Aan die begin van die boek skryf Remarque: “Hierdie boek is nie ’n beskuldiging of ’n bekentenis nie, en die minste van alles ’n avontuur, want die dood is nie ’n avontuur vir diegene wat daarmee te make het nie. Dit sal eenvoudig probeer om te vertel van ’n generasie mans wat, selfs al het hulle van geweerskote en skrapnel ontsnap, deur die oorlog vernietig is” (my vertaling).
  • Remarque se boek fokus nie op heldhaftige verhale van dapperheid nie, maar gee eerder ’n oorsig van die omstandighede waarin die soldate hul bevind. Die eentonigheid tussen gevegte, die voortdurende bedreiging van artillerievuur en bombardemente, en die oorkoepelende rol van ewekansigheid om te oorleef in die lewens en dood van die soldate word in detail beskryf.
  • Remarque verwys dikwels na die lewende soldate as oud en dood, emosioneel gedreineer en verneder: “Ons is nie meer jeugdiges nie. Ons wil nie die wêreld stormagtig binnedring nie. Ons vlug van onsself, van ons lewe af. Ons was agtien ...”
  • Korporaal Himmelstoss was ’n magshonger korporaal met spesiale minagting vir Paul en sy vriende, en geniet sadistiese plesier om die geringe oortredings van sy leerlinge te straf tydens hul basiese opleiding ter voorbereiding van hul ontplooiing. Paul het later gesê dat die opleiding wat Himmelstoss gegee het, hulle “moeilik, agterdogtig, onbarmhartig en taai” gemaak het, maar die belangrikste is dat dit hulle kameraadskap geleer het. Paul en sy kamerade het egter ’n kans om op te staan teen Himmelstoss as gevolg van sy straf, en hom die nag voordat hulle met treine aan boord gaan, genadeloos te sweep.
  • In wanhoop kyk die hoofkarakter toe terwyl sy vriende een vir een val. Dit is die dood van Kat wat veroorsaak dat Paul uiteindelik sonder hoop laat leef. In die laaste hoofstuk sê Paul dat daar binnekort vrede gaan kom, maar hy sien nie die toekoms as helder en blink van hoop nie. Paul voel dat hy geen doelstellings in die lewe het nie.

Genette (1997:4-5)25 onderskei tussen twee paratekstuele kategorieë, naamlik die periteks en epiteks. Die periteks is al die paratekstuele elemente wat by die boek self ingesluit is, soos omslae, notas en hoofstuktitels. Die epiteks is daardie paratekstuele elemente wat verwyder is van die boek, soos resensies en bemarkingsmateriaal. In navolging van Genette fokus Greyling (2009:210–11)26 op die parateks in jeugliteratuur en die moontlikhede wat dit aan die skrywer bied om die fiksionele wêreld te skep. Volgens Greyling behels paratekstuele elemente peritekste wat nie primêr deel van die teks is nie, maar as ’n uitbreiding van die primêre teks beskou word – dit het te make met die aanbieding van ’n boek en by implikasie met die manier waarop die boek gelees word. Die verhouding tussen die teks en die parateks is inherent aan betekenisvorming.

Deur middel van die sub- en metatekste vestig die verteller-skrywer-karakter die leser se aandag op die aanbiedingswyse as sodanig, verlewendig so ook die karakters en suggereer ’n fiktiewe wêreld wat omvattender as die betrokke teks is. Die karakters bestaan as’t ware ook buite die teks.

In hierdie verband kan in Offers vir die vlieë gelet word op die metatekste (peritekste in skuinsdruk wat visuele koderingsoriëntasie vir die leser is) wat oa moontlike verwysings is na belangrike herinneringe van gebeure en karakters se gedagtes en woorde, ook die aanhalings uit die Boek (147) en buite Krux se bunker: “Die mens is die enigste wese wat weier om te wees wat hy is – Camus” (110, 152) wat verander na “Die mens is ’n monster wat sal moor om te wees wat hy is – Krux” (158). Eliam weet nie wie Camus is nie, want sy werke is waarskynlik ook tydens die Nag van Verdonkering saam met alle ander boeke vernietig omdat dit boos was: “Mense het nie hierdie vuil idees en boeke nodig nie. Net die een Boek – waar en rein is die woorde” (146). Dit is tog interessant dat dit as aanhaling bly bestaan het totdat Krux dit laat vervang het, wat suggereer dat hy geleerdheid buite die weermag ontvang het. Nog so ’n metafiksionele opmerking is Krux se woorde “A luta continua, vitória é certa ... Die stryd gaan voort, maar die oorwinning is seker” (134).

’n Paratekstuele element wat my as leser opgeval het en laat wonder het, was die spatsels in die boek. Omdat ek dit gelees het in die grendeltyd tydens die COVID-19-pandemie, was alles wat ons gekoop of per pos ontvang het, met ontsmettingsmiddels bespuit. Dit het my laat wonder of hierdie spatsels die gevolg daarvan is – totdat ek agtergekom het dat daar ’n definitiewe patroon is: op en ná elkeen van die Kronieke is daar dieselfde spatsels op die linker- en regterkantste bladsye. Dit het my vermoede bevestig dat dit waarskynlik ’n metatekstuele element is wat dui op al die bloed wat vergiet is gedurende die verhaal wat handel oor die weermag, moord en die oorlogsfront. Die skrywer se vermoë om visuele tekste te skep as skilder en illustreerder – soos in die inleiding genoem – het hom (en die uitgewer) in staat gestel om hierdie parateks betekenisvol in te voeg.

Ook die voor- en agterblad van Offers vir die vlieë is buitenste peritekste wat die effek van die assosiasie met bloed versterk – ’n donkerrooi agtergrond. Binne-in hierdie rooi is die lang swart pad deur die modder, met ’n prentjie van ’n toring wat lyk asof dit ontplof (uit die tyd voor die Verdonkering dus) en ’n troep met sy wapenuitrusting. Daarmee saam verskyn Kerebos (die hond van Hades27), die driekoppige hond, in swart op die voorblad en spierwit op die agterblad (en ook in die verhaal in swart tussen momente en voor hoofstukke). Hierdie assosiasie met die hel bevestig ook subtiel die betekenis wat deur hierdie peritekste geskep word. Volgens Oosthuizen (2017)28 is rooi die kleur van bloed, passie en emosie en sluit beide positiewe (helderrooi) en negatiewe (donkerrooi) simboliek in. Oosthuizen meen die keuse om donkerrooi op die voorblad te gebruik sluit aan by die atmosfeer van onheil en gevaar, en donkerrooi word simbolies gebruik as waarskuwing, dui op die dood en lei dikwels tot ’n gevoel van angstigheid. In Offers vir die vlieë sluit swart, wit en grys aan by die ruimtelike atmosfeer en dreigende, onbekende gevaar. Rooi beklemtoon dus die ruimtelike gevaar (oorlog, bloed) terwyl dit ook visueel by die angs van die karakters aansluit.

’n Simbool kan gesien word as ’n ’n woord, frase, beeld of teken as voorstelling van ’n bepaalde begrip wat herhaaldelik voorkom “sodat die beeld telkens ’n hele reeks betekenisse en emosies oproep”29 – dus ’n woord- en/of klankprent. Dit kan gepaardgaande betekenisse hê en het ’n inherente waarde in die werklikheid. Volgens Oosthuizen (2015:304) bied Genette (1997) ’n “breë spektrum van tipes notas ... wat simbole [as teksinterne periteks] insluit”.

In Offers vir die vlieë is die spieël myns insiens só ’n simbool. Die spieël speel dwarsdeur die roman die rol van verval, selfondersoek, -kritiek en -insig, waarheid aangaande die eksperiment van die Program waarvan Eliam (ook Cali en die gebrande man) deel was, dat hy nie meer die Mag se invloed oor hom hoef te dra nie, en dit alles bring vrede:

  • “By die gekraakte spieël skeer ek, sonder seep, maar darem met warm water” (17);
  • “Ek keer net betyds met my hande voordat my gesig die spieël verder versplinter” (17);
  • “In die spieël sien ek hoe my gesig rooier word. Nog rooier. Dan pers. Torsten bring sy kop nader aan myne. Ek ruik sy asem in my nek. Sy gruwelike grynslag weerkaats in die spieël” (18);
  • Wanneer Cali sterf: “In haar oë flikker haar magsnommer. ‘Daar’s ’n spieël,’ roggel sy ... ‘Tussen hier en die anderkant. Blink glas. Jy moet die spieël sien, Eliam. Dis so ... mooi’” (95);
  • Opskrif en verwysing na Die Kroniek van Saligmaking 6:9 (201);
  • Eliam doen selfondersoek: “As jy antwoorde soek en deur die dowwe spieël van waarheid wil kyk, kry jy dalk ’n rede om moord te pleeg” (209);
  • “Uiteindelik word die niemandsland ’n plek waar elkeen van ons kaal voor onsself kom staan. Asof ons voor ’n dowwe spieël beland het waar ’n enkele lig, swaaiend aan ’n elektriese koord bo ons koppe, ons skadu’s van onsself maak” (238);
  • “Jy besef daar is geen omdraaikans nie. Jy is in die dowwe spieël – die een waarvan Cali gepraat het. Voor jou flits ’n lewe verby.” Eliam kry insig: Hy is ’n vleisgeweer “met ’n nommer gebrand in jou oë en op jou vel”. Ook kry hy ’n antwoord op sy vraag “Waarvoor sterf troepe in oorloë regtig? ... Jy sterf om ’n offer vir die vlieë te word” (239);
  • “Ek is alleen ... ’n laaste weerkaatsing in die dowwe spieël van knetterende brande en vernietiging.” Dan sien Eliam hoe hy die reënjas dra “soos ’n bebloede kleed” (242);
  • Daar’s ’n groter prentjie wat jy móét sien,” het die gebrande man destyds by my gepleit. “As jy die antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek” (244);
  • “Ek is nie meer wie ek was nie: die seunsoldaat is nou ’n man. Die spieël van leuens versplinter om my. Dit kletter grond toe in verblindende lig” (245).

Benewens die spieël as woordprent, vind ek ook enkele klankprente in Offers vir die vlieë, waar Eliam gedurig bewus is van die trom se geroffel (waarvan ek voorbeelde noem by die bespreking van sy sintuiglike waarnemings). Hy hoor saam met die ander ’n “simfonie van skote en ontploffings “ (141), “’n [s]imfonie van koeëls weerklink in die verte” (203), “[s]agter en sagter word sy stem, verdoof deur die kakofonie van oorlog. Maar dit laat nietemin ’n beeld voor my geestesoog opdoem” (239), waarna hy sien hoe die blokkies die aand van die moord op Torsten een na die ander val, soos die gebrande man voorspel het (243). Eliam se intense gewaarwording en herinnering van Victoria se krete nadat sy verkrag is, is ander klankprente (200, 206, 208).

6.6 Verteller en dialoog

In Offers vir die vlieë is ’n duidelike element van interne karaktergebonde fokalisasie wanneer die eerstepersoonsverteller se fokalisering wissel van Eliam na die newekarakters (en ook vanuit Eliam se oogpunt) en dit die leser ’n goeie beeld van die oorsake van die konflik tussen die verskillende karakters gee. Ten opsigte van die karakterisering in Offers vir die vlieë kan dus gemeld word dat die fokalisering nie ekstern is nie, omdat dit nie ’n derdepersoonsverteller is nie; dit is intern omdat daar van vrye indirekte rede – innerlike monoloog en dialoog – gebruik gemaak is (vgl Burger 2018:118), omdat dit dinamies (deur Eliam se fokus) beweeg tussen karakters (Eliam, sy medetroepe en die offisiers en amptenare) en dinamies verskuif van buite (die gebeure na die opleiding en op pad na die Front) na die binnekant van Eliam se eie gedagte- en gevoelslewe.

Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom in Offers vir die vlieë wanneer die ruimte of atmosfeer (sien ook afdeling oor Agtergrond) uitgebeeld word. Ruimtelike fokalisering versterk dikwels die fokalisering van Eliam se gemoedstoestand of situasie, terwyl sy sintuiglike waarneming asook emosionele en intuïtiewe gewaarwording van ander karakters en die ruimte dien as beklemtoning van sy verwarring en konflik oor watter waardes hy in homself kan integreer om sodoende sy identiteit te bevestig. Voorbeelde hiervan is die volgende:

  • “Totdat die gewig van die paal my uiteindelik neervel en my op pad ondertoe nog ’n laaste vernederende hou teen die rug gee sodat ek in die swart modder neersyg” (10);
  • “Sy [Torsten se] stewel land op die paal op my rug. My gesig druk dieper die modder in. Van die koue natheid druk in my neus op. My mond val oop soos ek na asem hyg. Dis ’n fout, want nog modder peul verby my tande in my keel af. Meteens stik ek. Desperaat lig ek my kop. My bors ruk. Ek probeer die modder uitspoeg. ’n Boog braaksel skiet geel saam met die modder en slym uit. Van die surigheid spat oor my gesig. Dit brand oor my vel” (11);
  • “Die reuk van vloerpolitoer, nat leerstewels en slaaplywe hang in die lug” (15);
  • “Uiteindelik tree ek die stroom water binne en probeer om my hele lyf nat te maak. Stoom styg in wolke van my vel af” (16);
  • “Ek bly so staan en probeer my emosies binnehou. Maar dit kook in my” (17);
  • “Asemnood laat druk in my kop opbou. In die spieël sien ek hoe my gesig rooier word. Nog rooier. Dan pers ... My kop swem. Smeek om suurstof. Om neergesit te word” (18);
  • “Klippe rol by die bande verby en tol ondertoe. Jy kan hoor hoe hulle kap-kap-kap en dan die grond tref” (57);
  • “Reën drup streperig van die seil af en tik-tik-tik in die plasse modder” (57);
  • “Swart hare en olyfkleurige vel. Groot donker oë wat my binnekant sagmaak sonder dat ek dit wil. Dit gebeur net. Ek wil die heeltyd aan haar [Cali] raak, maar ook dit mag nie gebeur nie, tensy dit deel van die opleiding is” (89);
  • “Dit verg durf om jou kaalbas uit te trek in die koue oopte van die stortplek. Maar dis óf dit óf jy ruik naderhand soos ’n kadawer-derm. Tydens ons opleiding het ons geleer hoe ver jy jou lyf verby koudkry, pyn en swaarkry kan druk. Maar steeds steek elke druppel water uit die tenk bo my kop soos ’n naald in my vel. Die seep is so hard dit maak nie eens ’n bolletjie skuim nie. Onder my voete trap ek my vuil uniform op die sementblad. Ek probeer dit inseep …” (75);
  • “Ons laat sak Torsten. Hoor hoe die modder hom vassuig asof die aarde hom terugeis. Hy stink nou al soos die hek van die onderwêreld” (105);
  • “Krux se hand is koud in myne. En sweterig” (131);
  • “Die sjokolade het weggesmelt, besef ek met ’n tikkie teleurstelling. My tong wriemel tussen my tande en in elke sagte plekkie in my mond op soek na ’n laaste stukkie soet, maar kry dit nie” (194).

Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se optrede, voorkoms en woorde in Offers vir die vlieë deur Eliam se perspektief, gedagtes en emosies gefokaliseer. Dit sluit in kennis (bewussyn/wete/besef) dat almal deur Suster bedrieg is, dat daar ’n boek met inligting oor die Program is, die vermoede (gissing en veronderstelling) dat die gebrande man eintlik sy beeld in die spieël is (mi), die mening (geloof/oortuiging) aangaande die praktyke wat in die Mag gehandhaaf word nadat hy die boek met die groen omslag by Cypher gesien het, en geheue (herinneringe aan sy lewe in die Presidensie by sy ma).

Meestal is die verteller met Eliam se woorde in die emosionele (gevoelens) en ideologiese (wat reg en verkeerd is) komponente van die teks implisiet betrokke – die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van die karakters (die troepe, wat die offisiere en amptenare sê en doen, wat in die Program is) en ook vanuit Eliam se kritiek teen hierdie fossilering van standaarde sedert die Nag van Verdonkering en brutale indoktrinasie. In Offers vir die vlieë is dit dus Eliam se belewing van die momente van spanning en konflik in die verhaal wat intense emosionele en ideologiese ladings dra (aangaande Eliam se waarneming en interpretasie daarvan).

Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in Offers vir die vlieë sowel implisiet (wat betref die fokalisering van Eliam en ander karakters) as eksplisiet (soos gefokaliseer deur Eliam). Dikwels gebeur dit in vroeëre sowel as hedendaagse Afrikaanse jeugtekste se ideologiese konteks dat hierdie narratiewe stem die ideale geleentheid bied om waardes oor te dra sonder dat die leser die gevoel kry dat daar gepreek word. Offisiere wat in Offers vir die vlieë na die Mag verwys om hulle brutaliteit en sadisme te verdedig en motiveer, se houding, woorde en ideologie word deur Eliam se ervaring en gedagtes gedekonstrueer: “Ek voel soos ’n luis. Die res van die nag maak ek nie ’n oog toe nie. In my kop draai die woorde om en om. Hoe kan ek verduidelik wat Diesel gedoen het? Hoe het hy glo vir Torsten vermoor? Met hoeveel waarheid en hoeveel leuens kan ek my storie peper?” (193), en “Ek dink aan die paaie wat my tot hier gebring het, na dié donker tent naby die Front. Is daar dalk meer aan ons ses as wat die Mag laat blyk? Hoekom is ons, en die ander vier-en-twintig wat voorheen ook in die Program was, almal op dieselfde dag gebore? Hoekom die geheime, die saam grootword, gereelde mediese ondersoeke, die verwoestende afbreek tydens die weermagopleiding? Wat is die Program regtig?” (194).

Terwyl die narratief in die roman meestal ’n streng epiese vloei van begin tot einde het, het die skrywer van Offers vir die vlieë verkies om die sentrale konflik nie op ’n Grieks-dramatiese wyse aan te bied nie – die verhaal begin met die middel en loop na die begin (deur terugflitse) en die oop einde. Die sintaksis en dialoog (sowel as Eliam se interne gedagtegang) word benut om die konflik te beklemtoon.

Ten slotte is die epiese doelstelling van die skrywer van Offers vir die vlieë primêr dié van die verhouding van Eliam met homself, waarin die konflik lei tot al die traumatiese gebeurtenisse in hulle opleiding by Opleidingskamp Alfa, Torsten, Verdoorn en Krux se brutaliteit, asook op die onherbergsame pad na die Front en insig oor sy verlede.

Die beweging tussen die begin, die einde en die sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee stu die hoofhandeling in die rigting van momente van selfinsig en insig in die bose Program – dit eindig uiteindelik oop wanneer Eliam bevry word van die houvas wat sy offisiers en amptenare van die Mag op hom gekry het: “Nou het ons die Boek – waar en rein is die woorde – wat ons lewens rig en die grense stel. Van die Boek is die Mag die uitvoerende gesag, en van daardie gesag is ons troepe net ’n onderdeel, so is ons geleer. Maar ’n belangrike deel. Ons is die verdedigers van hierdie Nuwe Orde.” Priester sê: “Ons sal met óns bloed ook daarvoor betaal. Ons sal keer dat die AntiMag dit inneem en die afvalliges ’n bose plek daarvan maak” (21). Uiteindelik het net die gebrande man (Eliam?) oorgebly.

6.7 Universele tema

Die vraag wat in hierdie onderafdeling gevra kan word, is: Wat is die waarheid en is dit soos dit in Offers vir die vlieë verbeeld word, of nie? Fiksie het met ’n bepaalde beeld of siening van die werklikheid te make, maar is nie in die gewone sin van die woord “waar” nie30. Oor die waarde van fiksie as iets wat onwaar is en oor die verhouding tussen waarheid en fiksie word baie gefilosofeer. Die feit bly staan dat die maak of skryf van fiksionele jeugromans ’n belangrike en gewilde vorm van kommunikasie met tieners en adolessente is, waarin ’n siening van die werklikheid op ’n kreatiewe maar konkrete wyse uiteengesit, weergegee en aangebied word.

Vir my as leser is die waarhede wat in Offers vir die vlieë uitgebeeld word die volgende:

  • Vóór die Nag van Verdonkering was die wêreld boos: “Daardie torings en die goed wat mense daarin gedoen het, was boos. Die slang en boeke in al die vorme was boos. Daarom is dit vernietig ... Want teenoor die Mag, staan die AntiMag ... Só is ons van kleins af geleer: Ons is deel van die Mag. Ons is Goed. Hulle – die gesiglose mense oorkant die Front – is die AntiMag, die Kwaad” (21).
  • Eliam-hulle is geïndoktrineer om teen die AntiMag te veg deur hulle ma’s (wat nie biologiese ma’s was nie), die offisiere en amptenare van die Mag: “Elke bom, elke koeël en elke lyk is ’n tree nader aan ’n vrye Vaderland” (195).
  • “‘Dis hoe verdraaide idees jou in kanonvoer verander,’” sê Cypher toe ’n sarsie koeëls oor ons koppe vlieg en ons dekking slaan. Ek staar na Cypher van onder my staalhelm se rand. ‘Verdraaide idees?’ ‘Ideologieë. En leuens,’ voeg hy by. Nog rondtes kletter voor ons neer. Modder en sneeu spat. ’nie eens ons ma’s sal ons mis nie’” (228).
  • Die Boek wat Cypher by die gebrande man gekry het – die Program – wys die inligting aangaande die troepe se afkoms en doelwit: ’n “Boek met ’n groen voorblad. Die kante is effens geskroei. Ek skrik. Dis moet wees waarna hy so naarstigtelik gesoek het nadat ons tent omgekeer is. Natuurlik. Hy sou in ’n malhuis vol moeilikheid gekom het as die Mag dit daar by hom gekry het. Hy druk dit in my hande. Ek wil nie daaraan vat nie, maar Cypher vou my hand daarom. Ons mag geen ander boeke behalwe die Boek hê nie. Ek lees die verbode titel: Die Program. ‘Dit staan alles daarin,’ sê Cypher. ‘Hoe die Mag die genetika van embrio’s verander. Babas se gene redigeer’” (229).
  • Eliam en sy medetroepe was dus deel van ’n eksperiment om die perfekte soldaat te vind. Cypher, die siener, sê: “Die perfekte een wat hulle kan kloon sodat hulle vir hierdie verdomde oorlog honderdduisend perfekte soldate kan maak. Maar daar is nie so iets soos die perfekte enige iets nie. Ons menslikheid lê juis in ons onvolmaaktheid” (232).

Daar word algemeen aanvaar dat jeugfiksie gemaak word en op ’n bepaalde manier aangebied word om te vermaak, om die ontvanger of leser te laat dink en te laat ervaar, om die leser te boei, hom te interesseer, hom mee te voer en tot meelewing met karakters en verhaal te bring (sien afdeling oor die funksies van jeugfiksie).

Uiteindelik word daar dus wel in Offers vir die vlieë universele temas uitgebeeld – die belewing en verwerking van brutaliteit, vernietiging, verkragting en ander trauma in die weermag, onverwagte hulpbronne en steun (die gebrande man wat vir Cypher die Boek gegee het waarin inligting oor die Program en die eksperiment is) in moeilike omstandighede, die ontwikkeling van Eliam sowel as sy medetroepe se eie identiteite, ideologiese oorheersing deur die offisiere en amptenare van die Mag, groei tussen karakters in verhoudings (Eliam en Cali en die ander medetroepe) en uiteindelik ook Eliam se groei tot volwassenheid.

 

7. Slotopmerking

As leser van Offers vir die vlieë het ek dikwels gevoel dat ek – soos Eliam – “in ’n doolhof sonder uitkoms beland het”. Maar ek het geïdentifiseer met sy woorde: “Selfs dit sal ek ... te bowe kom” (97). Anders as hy het ek dit nie as ’n “emosionele moegheid” ervaar nie; vir my was dit ’n intellektuele uitdaging, want Viljoen het telkens nuwe padwysers gegee in die intrige. Dit was asof ek ook deur ’n spieël in ’n raaisel moes ingaan. Al het dit gelyk na doodlooppaaie, was dit vir my inderwaarheid asof ek deur ’n labirint stap – soveel keer kom ’n mens by dieselfde plek uit, maar die pad kronkel steeds vanaf die begin na die einde, hede en verlede vleg deurmekaar en vorm ’n digverweefde netwerk van oorsaak en gevolg. Wat ’n stimulerende leesavontuur!

 

Eindnotas en bibliografie 

1 Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.

2 Ghesquiere, R. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.

3 Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM Literêr. http://www.literaryterminology.com/index.php/j/78-jeugliteratuur.

4 www.fanieviljoen.co.za

5 Agterste binneblad van Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen, LAPA, 2020.

6 Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86(7,8,9).

7 Rossouw, MA. 2013. Lesertipes. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/19-l/108-lesertipes.

8 Ek gebruik die manlike voornaamwoord wanneer na die bedoelde leser verwys word, omdat die hoofkarakter manlik is. Dit sou ook van toepassing kon wees indien die lesers vroulik is.

9 Combrink, L. 1996. Kulturele geletterdheid en multikulturele onderwys. Tydskrif vir Taalonderrig, 30(1):1–16.

10 https://www.litnet.co.za/n-selfgerigte-leesproses-traumabelewing-en-verwerking-in-die-jeugroman-blou-is-nie-n-kleur-nie-deur-carin-krahtz

11 http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog

12 Meyer, D. 2005. ’n Praktiese ondersoek na die speur- en spanningsroman met spesifieke verwysing na die werk van Michael Connelly, John le Carré, Ian Rankin, Lee Child en Frederick Forsyth. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. Beskikbaar by: https://core.ac.uk/download/pdf/37320492.pdf.

13 Van Coller, HP. 2013. Grensliteratuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/14-g/56-grensliteratuur.

14 https://af.wikipedia.org/wiki/Distopie

15 Steenkamp, E. 2018. Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay. https://www.litnet.co.za/stof-deur-alettie-van-den-heever-n-litnet-akademies-resensie-essay.

16 Meyer, D. 2005. ’n Praktiese ondersoek na die speur- en spanningsroman met spesifieke verwysing na die werk van Michael Connelly, John le Carré, Ian Rankin, Lee Child en Frederick Forsyth. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. Beskikbaar by: https://core.ac.uk/download/pdf/37320492.pdf.

17 Keuris, M. 2013. Tyd in die literatuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/t/255-tyd-in-die-literatuur.

18 https://www.names.org

19 Scholz, MG. 2013. Innerlike monoloog. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog.

20 Keuris, M. 2013. Tyd in die literatuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/t/255-tyd-in-die-literatuur.

21 Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61. https://www.litnet.co.za/die-skep-van-ruimte-in-n-roman-met-verwysing-na-die-drie-koepelromans-van-hans-du-plessis.

22 Johl, R. 2013. Verwysing in die literatuur. In Cloete, TT. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/28-v/265-verwysing-in-die-literatuur.

23 https://af.wikipedia.org/wiki/Frederik_II_van_Pruise

24 https://en.wikipedia.org/wiki/All_Quiet_on_the_Western_Front

25 Genette, G. 1997a. Paratexts: threshold of interpretation. Translated by Jane E Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.

26 Greyling, F. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209–26.

27 Betekenis van die naam van Kerebos, die hond https://translate.google.com/translate?hl=af&sl=en&u=https://en.wikipedia.org/wiki/Cerberus&prev=search&pto=aue.

28 Oosthuizen, MM. 2017. ’n Ondersoek na die parateks (Gérard Genette) as ’n narratiewe strategie in geselekteerde Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur. DLitt & Phil-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

29 Pereira, E. 2013. Beeldspraak. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/b/19-beeldspraak.

30 Du Plooy, H. 2013. Fiksie. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/13-f/42-fiksie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top