Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Stof
Alettie van den Heever

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801594

To read a novel is a difficult and complex art. You must be capable not only of great fineness of perception, but of great boldness of imagination if you are going to make use of all that the novelist – the great artist – gives you. – Virginia Woolf

Om met ’n “moeilike” boek te worstel is soos om te leer wals, lees ek iewers raak. Eers vind jy maar moeilik jou ritme en jou dansmaat moet bontstaan om te keer dat haar tone nie te erg betrap word nie. Dan, eendag, is dit asof daar iets sy plek vind en jou kop en jou lyf begin saamwerk. Jy word meegesleur deur die musiek, jou voete gehoorsaam in perfekte pas met jou maat en skielik besef jy jy wáls.

Alettie van den Heever se debuutroman, Stof, is nie ’n wals nie. Dit is ’n tango. ’n Wilde vaart van ’n dans met ’n veel meer ervare maat wat jou dán die pas aanwys, dán uitlewer aan jou eie genade en per slot van rekening nie regtig omgee of jy byhou of nie.

Stof word bemark as “toekomsfiksie vir vandag” en die roman sluit aan by die groeiende genre van Afrikaanse distopiese spekulatiewe fiksie, wat onder andere insluit: Eben Venter se Horrelpoot (2006), Lien Botha se Wonderboom (2015), Deon Meyer se Koors (2016) en Rouxnette Meiring se futuristiese jeugroman Kraak (2018).

Die jaar is 2081. Twintig jaar ná ’n katastrofiese gebeurtenis wat in die volksmond as die Hardskip (hardship) bekend staan, is die Kaapse Skiereiland ’n dorre, onbegaanbare landskap. Al die oeste het misluk en diegene wat die honger en die dodelike siektes met kreatiewe name soos Dikvel en Leegskytkiem oorleef het, moet met die giftige stof en die onuithoubare gluur van die son rekening hou.

In hierdie gevaarlike nuwe wêreld is plantsaad soos poeiergoud. Alle saad word deur Meconium, ’n tegnologies gevorderde enklawe in die ou Kaapstad, beheer. Volgens ’n ooreenkoms tussen Meconium en die omliggende nedersettings, moet alle plantsaad verklaar word en die besit van onwettige saad word streng gestraf.

Nou hoe gemaak as jou erfenis ’n handvol kosbare saad en ’n kop vol ou saadstories is?

Dit is die las wat ons protagonis, die sestienjarige Ampersand van die Kylemor-nedersetting, moet dra. Ná haar ouma se dood is daar nie veel wat Amper in Kylemor, oftewel Kiefmor, hou nie. Boonop het Wakinyan, die jong man wat skielik in Kiefmor opgedaag het en haar hart kom omkrap het, spoorloos verdwyn.

Met haar hond en saaderfenis sit Amper vir Wakinyan agterna. Maar haar soektog lei haar tot op Meconium se voorstoep, die einste groep teen wie sy ten alle koste haar ouma se saad moet beskerm.

Amper se verhaal word afgewissel met die ervarings van ander enigmatiese karakters soos Jemima Jafta die konioloog (stofkundige); Dick Jones, ’n lid van Meconium se Saadbeskermingseenheid; Foos, ’n Meconium-weeskind; en Sias Arendse, ’n hustler wat alternatiewe bronne van energie in bedryf stel ter wille van oorlewing.

Amper se reis is ’n moeilike een, en daar is nie veel wegswysers nie. Ook die leesreis is besaai met struikelblokke. Die leser word plotseling in Van den Heever se vreemde toekoms gedompel en moet sonder kompas die andersoortige taalgebruik, vreemde nuutskeppings en komplekse politiese landskap van die nuwe, nuwe Suid-Afrika navigeer. Wat is ’n Majoër? ’n MecSec? ’n Shitesaver? Hoe presies het dit gebeur dat die mensdom hulself in hierdie kritieke oomblik bevind?

Reguit antwoorde is maar min en die enigste manier úit is déúr. Terugflitse help om die legkaart stukkie vir stukkie aanmekaar te flans, maar dié kan jy eers ongeveer na ’n derde van die boek verwag.

Boonop het Van den Heever blykbaar by Julia Kristeva gaan leer van die abjekte. In ’n wêreld waar menslike ontlasting die nuwe betaalmiddel is, kan mens nie effentjies wees oor ekskrement nie. Ons word sommer vroeg in die roman al ingewy in die kru taalgebruik van Kiefmor se inwoners: “Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas ... akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion” (bl 11). Lesers met swak mae moet maar liewer sorg dat hulle nie eet terwyl hulle Stof lees nie.

Vir dié wat mooi kophou en volhou, is die beloning wel groot. Stof is ’n besonderse, vernuwende roman wat ingewikkelde temas rondom die mens en sy verhouding met die natuur ondersoek.

Distopiese wetenskapfiksie en die tema van ekologiese verval

In ’n era van klimaatsverandering (en natuurlik klimaatsverandering-ontkenning), waterskaarste, onvolhoubare tegnologiese vooruitgang en vrese rondom die grootskaalse uitwissing van dierespesies is dit nie verrassend dat ons fiktiewe uitbeeldings van die toekoms meer en meer apokalipties van aard is nie.

Wetenskapfiksie (WF), en veral distopiese en spekulatiewe WF, word gekenmerk deur ’n sterk verhouding met ekologiese kwessies en omgewingsbewustheid. Na die publikasie van Rachel Carson se Silent spring (1962), ’n geskiedkundige werk wat gelei het tot die opbloei van die omgewingsbeweging, het WF-skrywers hulle aandag begin toespits op die impak van menslike ontwikkeling op die omgewing.

Frank Herbert se Dune (1965) word dikwels uitgewys as een van die eerste ekologies-gerigte WF-romans. Sedertdien het skrywers soos Ursula le Guin, Kim Stanley Robinson en Margaret Atwood bekendheid op hierdie gebied verwerf .

Die barre, gebroke wêreld wat in Van den Heever se Stof uitgebeeld word kan as ’n ekologiese distopie beskryf word. Die verwoestyning van Amper se Wes-Kaap kan gelees word as ’n uiterste ekstrapolasie van die huidige globale ekologiese krisis, en spesifiek plaaslike omgewingskwessies soos waterskaarste en die dreigende Dag Zero in die Wes-Kaap en GMO-saadpatente en die houvas wat multinasionale korporasies soos Monsanto, Syngenta and Pioneer op ons saadvoorraad het.

Stof ondersoek ’n verskeidenheid ekologiese ideologieë. Van den Heever se karakters bied elk ’n unieke manier van dink oor die natuur en die mens se verhouding met die natuurlike omgewing.

Die twee teenstrydige ekologiese faksies in die roman, Meconium en Aiag (Gaia omgekeer), herinner aan Samuel R. Delany se idee dat WF deur die lens van WH Auden se konsep van vier modernistiese wêreldsieninge gelees kan word.

In ’n onderhoud opgeneem in Science Fiction Studies verduidelik Delany hierdie vier wêreldsieninge. Die eerste is wat Auden die Nuwe Jerusalem genoem het. Nuwe Jerusalem is “the technological super city where everything is bright and shiny and clean, and all problems have been solved by the beneficent application of science”. Gesien vanuit ’n ander oogpunt, is Nuwe Jerusalem ook die “Brave New World”:

That's the city where everything is regimented and standardized and we all wear the same uniform. The two may just be the same thing, looked at from different angles. It's not so much a real difference in the cities themselves as it is a temperamental difference in the observers. (Delany 1990: aanlyn-onderhoud, geen bladsynommers)

Die landelike teëbeeld van New Jerusalem / Brave New World is Arkadië:

Arcadia is that wonderful place where everyone eats natural foods and no machine larger than one person can fix in an hour is allowed in. Throughout Arcadia the breezes blow, the rains are gentle, the birds sing, and the brooks gurgle. But the underside of Arcadia is the Land of the Flies. In the Land of the Flies, fire and flood and earthquake – as well as famine and disease – are always shattering the quality of life. (Delany 1990: aanlyn-onderhoud, geen bladsynommers)

Delany brei verder uit op Auden se vier sieninge en voeg hierby die beeld van “Junk City”, die vervalle tegnologiese superstad as die postmodernistiese weergawe van Brave New World.

Vir Delany is dit die tussenspel tussen hierdie vier wêreldsieninge wat verhoed that wetenskapfiksie ooit regtig utopies of distopies kan wees. Afhangende van jou voorkeur en sienswyse kan die landelike en stedelike óf utopies óf distopies wees:

[W]e have a temperamental split here. Those people who are attracted to New Jerusalem will always see rural life as the Land of the Flies, at least potentially. Those people who are attracted to Arcadia will always see urban life as some form of Brave New World. (Delany 1990: aanlyn-onderhoud, geen bladsynommers)

Meconium, met sy “high-tech shit”, oorvertroue in wetenskaplike vooruitgang en streng regulasies, kan gesien word as ’n weergawe van New Jerusalem / Brave New World. Meconium se ideologie word gebou op die idee van ’n nuwe begin uit die as van die vorige beskawing. Diversiteit is die sleutel tot vooruitgang:

We have proven that humanity’s strength lies in the fact that we can always start again, however insignificant that start may seem. We have proven that diversity can strengthen any beginning and that it is the difference between life and death. We have proven that the ultimate alchemy was under our noses the whole time – that humanity can use its own waste to prosper. (Stof, 176)

Meconium se missie, “uniting science and nature and promoting diversity”, dui op ’n antroposentriese uitkyk op die verhouding tussen die mens en sy omgewing – die fantasie van beheer, meesterskap en restourasie. (177)

Die onvolhoubaarheid van die Meconium enklawe is duidelik. Die idee van “diversiteit vir almal” is inherent gebrekkig en sluit nie die “phayas” (buitestanders) in wat slegs een keer ’n jaar binne die stad se nanopex-mure toegelaat word nie.

Verder word die Meconiete se beheptheid met diversiteit verhef tot geloof, en die Divusiete  ’n sekte binne Meconium wat glo diversiteit is God, begin al hoe meer steun onder die gemeenskap geniet. Alle tekens is daar dat Meconium afstuur op ’n teokrasie wat die genetiese “suiwerheid” van inwoners streng polisieer.

Voeg hierby ’n dreigende voedseltekort en moontlike interne sabotasie wat die saadbank bedreig en dit is duidelik dat Meconium diep in die stof is.

Alhoewel Aiag en die Ikabod-nedersetting in skerp teenstelling met die stedelike Meconium staan, verwerp hierdie ideologie die utopiese ideaal van die landelike Arkadië.

Die Aiag-ideologie word net kortliks in enigmatiese gesprekke opgesom en dit is moeilik om die kloutjie by die oortjie te bring. Ons kan aflei dat die Aiag-filosofie gebaseer is op Timothy Morton se konsep van dark ecology, wat ’n drastiese heroorweging van die mens se verhouding met die natuur voorstel. Morton dui aan dat antroposentriese logika vervang moet word met ecognosis, ’n vreemde tipe ekologiese bewustheid wat die kunsmatige onderskeid tussen mens en natuur bevraagteken.

Dus dui die Aiag-filosofie op ’n “plat” ontologie waarin alles gelyke bestaansreg het. In hierdie sin het die mens ’n verantwoordelikheid teenoor haar omgewing, juis omdat sy onlosmaaklik deel is daarvan, maar nie noodwendig in die rol van meester oor die natuur nie. Engela verduidelik aan Amper:

Ons het geglo dat die mens saam met die leeu en die slymslak en die kernafval deel uitmaak van ’n omgewing wat ons beïnvloed en waarop ons ’n groot impak het. En dat ons ’n verantwoordelikheid het teenoor hierdie omgewing. Nie noodwendig om dinge reg te maak nie – ons regmaak was te dikwels ’n verdere skeeftrek – maar om te bly. (366)

Engela en die Aiag-groep verwerp die Meconium-idee van ’n nuwe begin – dit wil sê die herstel van die menslike meesterskap oor die natuur deur middel van wetenskaplike vooruitgang en die verafgoding van diversiteit.

Amper se ouma, Bettina Molooi, se verhouding met die omgewing word uitgeleef deur die plante se oorsprongstories wat sy in haar “saadboek” opteken. Hierdie mitiese stories, wat herinner aan Khoisan orale tradisie, dra by tot die tekstuur van die verhaal en blaas lewe in Amper se woestynlandskap.

Die roman speel met die idee dat stories, die narratiewe en metanarratiewe wat die mens vir homself vertel, die krag het om ’n daadwerklike impak op die hede te hê:

Bettina het geglo dat dit die stories is wat die mens vir homself vertel het wat die aarde uitgeput het. Stories van meesterskap of bewaring of wetenskap. Sy’t geglo ons kan die aarde se lot weer met ánder stories verander. Jemima het die menslike aard blameer, en jy verander nie die aard van ’n spesie met ’n paar klanke nie, het sy geglo. (367)

Jemima Jafta se verwerping van die idealistiese nosie dat stories die menslike aard kan verander, dui ook op haar distansiëring van die Aiag-groep se ideologie. Jemima se obsessie met stof strek ver verder as haar beroep as konioloog. Dit dien ook as ’n manier om te ontvlug van die politiek van haar ma se saad:

Haar ding met stof maak nou sin. Sy’t dit gekies om die politiek van haar ma se lewende saad te vermy. Stof het geen skaarsheid nie, geen geheime om te hou nie, geen versamelaars om te dodge nie. Dis oral en almal s’n en niemand wil dit hê nie. (352)

Vir Sias Arendse, die plastiese chirurg wat sy “empire” bou met die opbrengste van verskeie alternatiewe energieprojekte, soos Fat-to-fuel, CookingOil! Feces-to-fuel en AlchemyNow, is die soeke na alternatiewe energiebronne nie ’n edele nastrewing nie. Hier gaan dit bloot om winste en oorlewing, en veral die oorlewing van sy jong dogter.

Sias se “moral ground” is dalk “onder seevlak” maar in die dorre tye is ’n morele kompas ’n luukse wat niemand kan bekostig nie.

In teenstelling met die ouer geslag verteenwoordig Ampersand die “Hardborn”-generasie, die kinders wat na die Hardskip gebore is en nie verstrengel is in die politiese intriges van die ou wêreld nie.

Amper kom tot die besef dat haar lot nie noodwendig aan haar ouma se saadstories gekoppel is nie en dat sy vry is om haar eie manier van omgang met die stowwerige landskap te kies:

Amper het gedog die saadskieter was haar ouma se manier om die saad die begin en einde te maak en haar wat Amper is aan die saad te verbind. Nou is sy bly dit was ’n leidraad eerder as ’n profesie. Profesieë verbind; leidrade kan verder loop. (372)

Engela benadruk:

Ampersand, wanneer jy vry is van die saad, kan jy jou eie lot bepaal. Jy kan die stories kies soos Bettina, of jy kan die einde inwag terwyl jy taaikop daarteen baklei, soos Jemima, of jy kan die saad kies én teen die begin baklei, soos ek. Maar moenie jou eie keuse sidestep nie. (371)

Die begin of die einde. Die stof of die saad. Amper kan kies hoe sy haarself in verhouding met haar natuurlike omgewing sien. Maar van die keuse self kan sy nie ontsnap nie.

Links bo: 'n gedeelte van die omslag van Virginia Woolf se The Common Reader. En links onder: 'n gedeelte van die omslag van Triton, deur Samuel Delany.

Slot

Stof is ’n uitdagende, dikwels onpeilbare roman. Die komplekse narratief loop draaie wat jy selfs na die tweede lees nie heeltemal kan ontknoop nie. Van den Heever se gebruik van nuutskeppinge en verwronge woorde en haar skynbaar doelbewuste onwilligheid om die leser aan die hand te neem maak van Stof ’n baie ingewikkelde boek.

Hiermee bedoel ek nie om lesers die skrik op die lyf te jaag nie. Om ’n roman te lees, het Virginia Woolf geskryf, is ’n moeilike en komplekse kunsvorm en die onverwagte ontdekkinge wat goeie fiksie bied kan net deur aansienlike moeite gewen word. Vir diegene wat bereid is om hulle moue op te rol en aan die werk te spring, bied Stof ’n werklik unieke leeservaring wat beslis die moeite werd is. 

Bibliografie

Delany, Samuel R. 1990. On Triton and other matters: an interview with Samuel R Delany. Science Fiction Studies, 52:17 deel 3 (November 1990). https://www.depauw.edu/sfs/interviews/delany52interview.htm (10 November 2018 besoek).

 

Van den Heever, Alettie. 2018. Stof. Kaapstad: Queillerie.

Woolf, Virginia. 2015. The Common Reader: Second Series. Adelaide: Universiteit van Adelaide https://ebooks.adelaide.edu.au/w/woolf/virginia/w91c2/chapter22.html (11 November 2018 besoek).

 

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Stof deur Alettie van den Heever

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top