LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Alettie van den Heever
Alettie van den Heever is ’n boorling van Springbok en tans ’n doktorale student in die Afrikaanse letterkunde aan die US, waar sy ook voorgraads studeer het. Sy het in Kaapstad skoolgehou en woon tans in Bellville. Stof (wat deels afspeel in ’n toekomstige Bellville) is haar eerste roman.
Opsomming
Stof
Alettie van den Heever
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801594
Twintig jaar ná die Hardskip. Dié wat oor is gelooi deur die groot honger toe al die oeste misluk het, deur die stof en die gluur van die son.
Op Kiefmor wonder Ampersand wat geword het van Wakinyan, die swarthaarman wat als kom deurmekaarroer het. Hier’s min vir haar oor ná haar ouma se dood, so sy vat die pad – met haar saad. Sy moet vir Wakinyan vind, en sy moet sorg dat die saad nie in Meconium – die enklawe wat alle saad wil beheer – se hande val nie, want onverklaarde plantsaad is in 2081 ’n streng taboe en Amper se grootste las.
Maar juis in en om Meconium moet sy gaan soek, waar high-tech shit en high-shit tech vennote is. Amper en haar unieke neus wat die groot stof kan deurtas moet haar pad voel-voel baan deur die stank van dié regime.
Stof, Alettie van den Heever se debuutroman, is toekomsfiksie vir vandag.
Uittreksel
Saad 1
Dinsdag – Woensdag, 1 – 2 Julie 2081
Dit is ’n platstof onwintersdag. Juliemaand het verloor nog voor hy begin het. Haar ouma sou gesê het die son is drie desembers sterk. As ’n mens te lank kyk, sal die Banghoekberge se gebewe jou die floute gee. Glare Gone-lense of te not.
Amper kyk anderpad. Links oorkant is die ou wasplek. Een van die min geboue in die nederset met heel vensters. Godliness. Keep your heart clean and your laundry cleaner, staan dit in vier uit elke vyf letters.
Die man voor haar draai sy mummiekop en sien waarna sy kyk. “Hou jou gat skoon en jou dunderm skoner,” sê hy.
Amper ignoreer hom. Laventel. Jasmyn. Sitroengras. Sy het dit nie self geruik nie, maar uit haar vals geheue kom dit uit die kaalgesteelde wasmasjiene aangesweef. Die ry beweeg vorentoe. Sewe mense tussen haar en Weigh In. In ’n glasbrok regs van die ry verskyn haar duikbril, haar skilferlippe wat aan ’n dread suig, en haar kappie met die bruin boskaas wat daaronder uitsteek. By haar haarlyn staan die hare donsies – die vingers wat die dreads gedraai en gehekel het, is dood. Amper kyk weg. Die dread proe soos stof maar dis afwisseling – nog net haar linkerhand se duim- en wysvingernael het ’n stukkie wit oor.
Die skren links van Meshitium se Weigh In-venster gaan aan. Jolige musiek. Noag rem aan sy leiband en blaf vir drie dansende blare op die skren. Die man voor haar buk by Noag en vryf aan sy lang oor, trek die geriffelde punte van die halwe oor na. Die kwyl drup by sy mond uit op Noag se snoet. Amper trek te diep aan die lug. Die reuk van abses en drogies kom deur haar brilfilters. Sy blaas drie keer uit deur haar neus en katrol die hond in, maak die leiband korter waar dit aan haar belt vas is. Net liggies intrek, sodat die lug nie van verder as die streepsel aalwynsalf onder haar neus kom nie. Verdomde neus. Verdomde man wat Noag se vel met sy oë afslag. Kan hy nie die ribbebene ruik nie? Hy kyk steeds agtertoe en steek sy arm uit om die mense te tel.
“Vyf, tien, vyftien, twintig, een-en-twintig. Meshitium het slim geraak met die skrens vir peak hour,” sê hy en wys daarna.
Sy knik en probeer haar mondhoeke lig. Dis nie slimgeit nie; hulle het nie ’n keuse gehad nie. Drie MecSecs het seergekry in die chaos van Januarie se Leegskytkiem. Sy kou aan ’n velletjie langs haar duim. Sy kan nie onthou hoeveel sy geskyt het en of sy in die rye was met die bakleiery nie.
Sy onthou die dag van die inentloting. Die hele Kiefmor op die pêtse teerstraat tussen die tentedorp en die biogastenke agter Meshitium. Amper se naam is dertiende getrek. Net na een van die Jafta-mans s’n. Haar ouma se naam het in die emmer gebly. “Bettina Molooi!” het Amper geskree. “Bettina Molooi!” Niemand het gehoor nie. Baie name is uitgeroep deur desperates. Afgekoude kneukels. Sonsteek wat onder ’n skedel inkruip. Mensvleisasem. Die reuke het haar huis toe laat hol. Daarna onthou sy haar ouma se skedelgesig agter die kliniek se kwarantynvenster en haar laaste preek- en trooswoorde: “En jy bewaar jou innebor, en jou tongkennis, en die dooigoed vir die volgende lewe, en jou hare,” – Ouma het haar voorkop teen die venster gedruk – “die lokke, dis die drade, die drade wat jou aan my verbind.”
Sy’t op ’n stoel gaan sit. “Jy moet weet, kindjie, ek sal lag soos wat ek my annerkant uitskyt. En wanneer ek by die gooie aankom, sal jou oupa vir my wag en saam met my lag. Want om só te dood in hierdie tye – jy maak wins en jy maak komedie en die geweld kom uit jou eie lyf.”
Daar’s ’n gejeuk waar die duikbril bo haar oog vassuig. Sy krap rondom die jeuk – die gluur is te erg vir afhaal. Wakinyan het gesê sy lyk soos ’n ruimtewese uit ’n pre-Hardskip comic-boek wat hy iewers gesien het: met die grys dungaree, die duikbril wat donker raak in die gluur en die seekatarms in ’n poniestert.
“Hi there, Kiefmor kids,” sê ’n groen monster op die skren. “I am Div and I am your friend. Together we will learn everything there is to know about diversity and how Meconium, together with all the div enthusiasts from the settlements, wants to protect it.”
“Ek kan nie sien nie,” hoor Amper agter haar. ’n Meisiekind trek aan haar rugsak. Noag lek die kind se wang en sy lag. Sy lyk nie ouer as drie nie, maar sy dra twee vol Shitesavers soos ’n baba in haar arms. Amper tel haar op. Sy’s waarskynlik ligter as die Shitesavers.
“Did you know that Kiefmor is the settlement where we’ve seen the most animals and plants come back after the Hardship?” vra die monster. “In the first half of 2081 alone, you have rediscovered three species in this area. Keep your eyes open and report anything you find to one of the Meconium security guards at your biogas facilities. What’s in it for you? You and your mom or dad can win a trip to Meconium!”
Die man kyk weer om. “In die kakgaslorrie, ja. Daai’s ’n belangrike ding om by te sit.”
Hy grinnik. Die tande wat sit, sit agtertoe.
’n Reeks video’s begin: ’n tier en ’n hond wat saam speel, ’n kat wat toertjies doen.
“Kom, Ulet,” sê ’n vrou langs Amper en steek haar arms na die kind uit. “Dankie,” sê die vrou. “Dis drol van jou.”
Amper knik en sit weer ’n dread in haar mond. Haar maag kramp van leeg en onlekker wees – sedert Wakinyan twee dae tevore verdwyn het, het sy en Noag saam twee Shitesavers volgemaak.
“Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas.” Die professor kom jillend om die hoek van die gebou gehuppel. Sy’t hom lanklaas gesien.
’n MecSec stap in sy rigting.
“Akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion!” Die MecSec haal sy laserstok uit. Amper kyk weg en op. Weerskante van die Meconium hoog teen die gebou is twee ewigheidstekens met cob uitgebou. Sy volg ’n teken met haar oë. Die enigste een wat vir die prof tyd gehad het, was haar ouma. Haar ouma kon enige reuk uitstaan. Sy het ’n hand op die professor se skouer gesit en gevra waar hy laas sy besigheid gedoen het. Na haar ouma mooigepraat het, het die MecSecs opgehou om hom toe te sluit as hy nie in Meshitium geskyt het nie – hulle het haar kom roep. Dan is sy met ’n Shitesaver na sy skytplek en sy’t dit kom inruil en vir hom Staple en water gaan haal.
“Is daai nie Bettina Molooi se kleinkind nie?” hoor sy die MecSec sê. Die stywe lap van sy weathergear kraak nader. Noag grom.
“Kyk jý nou na die malle?” vra die MecSec. Sy roer nie.
“Hey, ek praat, meisie. Kyk jý nou na die malle?”
“Nee,” sê sy sonder om die dread uit haar mond te haal.
Sy het genoeg om na te kyk. Die dooigoederfnis, die hond, haarself. Sy beter vir Wakinyan kry: Vir hom is sy nie net ’n etterse oppasser nie.
“Next,” roep die man agter die venster. “Gas number?”
“One-three-five-eight-eight-nine-five-eight,” antwoord Amper. Sy stoot die vol Shitesavers onderdeur die tralie op die skaal.
“Eight hundred and fifty grams,” sê die man. “Can I have five Shitesavers,” sê sy.
“That’s worth a hundred grams.” Hy wys na ’n plank bo die venster: Cheaper to number two at a Meconium loo.
“Yes. I want five Shitesavers.”
Hy tel haar koeponne af en gee dit saam met die Shitesavers aan.
“Standaardpakket?” vra die vrou agter die Supplies-venster toe
Amper die koeponne, ’n bakkie en leë bottels ingee.
“Nee. Nie gas nie. Een porsie Staple mix, een hempklomp en die orige vir water.”
Toe die bakkie kos, een liter water en een hempklomp voor haar op die toonbank lê, skrik sy. Sy’t vergeet hoe duur die klompe is.
“Hoeveel kred oor op die . . . family account?” vra Amper. “Vyf-en-sewentig BioG’s.”
“Nog twee hempklompe en water. Asseblief.” “Vir die hele lot?”
Amper knik.
“Wag.” Die vrou loop uit die hokkie en skree iets na agter.
Amper kou aan haar duimnael. Die laaste van haar Leegskyt-erfporsie daarmee heen. Die vrou kom terug met ’n houer vol hempklompe. Sy kry twee daarvan en nog ses liter water.
Die son jaag die skadu’s net wes van Meshitium – daar’s tyd vir ompad Solamalgia toe loop. Sy’t die winkel vroeg gesluit. Niemand gaan dringend ’n skildery of ’n sybloes nodig hê nie. Behalwe vir Jafta se besoeke was haar laaste koper in Mei daar. ’n Tentelaait wat vir sy meisievrou ’n ring kom koop het. Hy’s weg met die cheapste en blinkste een – ’n plastiekring met ’n pienk kristal. ’n Kierang-ring met ’n kierang-kristal. “Want kierang is nodiger as ’n los maag in hierdie ekonomie,” het haar ouma gesê.
By die koorsboomlaning maak sy vir Noag aan die tyre-swaai vas. Sy klim teen die hoogste van twee peperbome in die hoek van die oop erf op en gaan sit in die skadu van die blare wat nog klou.
Die humanure-lande en die hemplande lyk naby. ’n Ent verder loop ’n groen skeur bergop na die dunblou lug. Daar waai haar ouma tussen die aalwyne en die bergsoutseepbos. Vyf maande het die mayonnaise-bottel langs die music box in die winkel gestaan. Tot Wakinyan haar die moed gegee het om die deksel in die wind oop te maak.
Een laatmiddag vroeg in Junie het sy uit hierdie selfde boom gesien hoe hy hom aan die koorsbome verkyk. Sy’t met haar lippe gefluit – kort-kort-lank, kort-kort-lank – totdat hy opgekyk en gewaai het.
“Het jy ontsnap?” het sy gefluister toe hy nader stap. Sy’t hom maar nog ’n week of wat in Solamalgia gesien.
Hy’t gelag en die voorkant van sy leerhoed met sy wysvinger boontoe gedruk. “No, I got permission to wander around. But only for an hour or so.” Hy’t met sy elmboog teen ’n koorsboom geleun, een been gekruis oor die ander. “You better come down and show me around.”
Skielik was daar agt geure in haar neus. Sy’t gesweer sy kap om as sy beweeg.
“Jy moet eerder klim. Van hier af kan jy die hele Kiefmor sien. Hoe hoër jou uitkykplek, hoe beter lyk alles.”
Sy’t hom gewys. Eers die bakens: die Sienhomsberge waarvandaan mens soms barbarfeeste hoor, Meshitium waar almal behalwe die solastalgia-pasjente en die accountless hulle Biogrands loop maak, die humanure-lande tussen die groentetonnels waarvan die groente Meconium-gaaie in besigheid hou, die hemplande waarin Kiefmor se bargaining powers met Meconium lê, en die Banghoekberge.
“Wat gebeur daar?” het hy gevra.
“Niks.” Sy’t hom nog nie vertrou nie. “Anderkant hulle lê die see, sê hulle.”
Die Saterdag van sy derde week in Solamalgia is hy saam met haar teen die Banghoekberg op en sy’t nie haar fluitjie en darts saamgeneem nie. Sy’t hom gewys hoe om die stof met seepbos van jou lyf af te skrop en dan jou vel met aalwynblaar in te smeer. Hy het drie aalwynkoppe gepluk en daarmee toertjies gedoen wat hy in die sirkus geleer het. Sy wou nie hê hulle moet te veel pluk nie, maar hy was so opgewonde en het ’n ekstra blaar saam met die parfuumbottel in sy rugsak gebêre.
Dit was die eerste dag wat hy haar teen hom vasgedruk het. Sy kon nie die reuk in sy nek plaas nie – dit was anders as die geure in haar houertjies. Amper het die storie van die Kanniedoodaalwyn vertel terwyl sy haar ouma se as laat waai het en hy het haar weer vasgehou.
Die aand was daar ’n klop aan die winkelvenster en die kort-kort-lang fluit.
“Hoe het jy uitgekom?” het sy gevra.
“No worries. They won’t let the real malles out. The MecSec knows I’ve got a thing for this girl in town.” Sy’t gegiggel. “He turned a tight ass.”
Binne die winkel het hy iets uit sy sak gehaal.
“For Noag. Some protein.” ’n Palm vol rou vleis in ’n lap toegedraai. Meer as wat Noag in jare gehad het.
“Waar het jy dit gekry?” wou sy weet.
“Konkok.” “What! How?”
“Paying up. Konkok can arrange stuff at the right price.” “Oh.”
“But she doesn’t sell info. I’ve been skimping for information about a certain dread-haired girl, but she gets tight-lipped and snaky-eyed when I mention you.”
Sy het geglimlag. “Jy kan mý vra wat jy wil weet.”
“Can I?” Hy’t na haar gekyk totdat sy weggekyk het. “You’re a closed book,” het hy gesê. “I like it.”
Vir haar het hy ’n grasring gevleg en met sy parfuum bespuit. “Dis drol,” het sy gesê.
Hy het op haar ouma se bed geslaap. Snaaks en hartseer. ’n Man in haar ouma se bed. Haar ouma se reuk flouer as vantevore. Sy het die langwerpige pilhouer onder haar kopkussing uitgehaal en dit vir hom gewys en laat ruik. Twee rye van sewe vierkante. M, T, W, T, F, S, S. Veertien dae waarin haar ouma parfuum of plantolies in ’n mengsel van plantbotters, -olies en was ingelê het.
“Vir Ampertjie Stampertjie met die neus van ’n mol. Vir Amper-lekamper wie se verneuklonge saam met die grootstof hol.”
Bo in die peperboom besef Amper dat sy haar ouma se rympie hardop gesê het. Noag blaf vir haar.
“Ek kom, Noag-honne!” Sy begin afklim.
Wakinyan kon niks in die pilhouer ruik nie. Dit was orraait; haar ouma, Bones en Konkok het lankal gesê dit het vir hulle ook te flou geraak. Maar Wakinyan het gesê sy verbeel haar. Hoe verduidelik jy vir ’n stofneus hoe die wêreld anderkant die stof ruik? Sy was vies vir hom. Buiten die boek met saadstories was dit haar kosbaarste besitting. Die volgende oggend het sy daarvan vergeet: Sy gesig was oor haar gebuk en hy’t ritmies in haar nek geblaas. Mensasem. Onharde swart hare op haar voorkop. Die reuk van ondergrondse water en ’n leerhoed. Die ring aan haar middelvinger.
Sy knyp ’n peperboomblaar af en vryf dit onder haar neus om die skimreuk te verwiller. Herinneringe vleg ’n mens vas. Sy moet hier weg.
Noag blaf toe hulle verby die Jaftas se toringhuis loop. “Ruik jy kat?” vra Amper.
Daar loop stories oor Mevrou Jafta en ’n kat waarvoor sy skelm kos gee. Honde is orraait as jy belasting betaal en oppit is, maar katte is onwettig: rondlopers en voëlvangers. Amper vat haar gewone pad oor die oop stuk veld na Solamalgia – só dat Mevrou Jafta haar nie uit haar kantoor by die kliniek kan sien nie. Sy weet nie hoekom nie, maar dit voel altyd of die vrou haar dophou.
Teen die kliniekgebou gekom, beweeg sy weer straat se kant toe, na die voorkant. Toe sy om die hoek kom, loop sy haar byna in ’n leer vas.
“Sal jy –” roep iemand van bo af.
“Helsem!” kap Amper terug. Dis Bones. Jafta is ’n kuttel in vergelyking met Bones as dit by ’n dophouery kom. Noag blaf-blaf-blaf en bly by die leer.
“Amper. Kleinkind van Bettina Molooi.”
Haar ouma se naam laat haar terugtrap. Bones kom met die leer af, kalkverfemmer in die hand. Dis een van sy bone pickings, soos hy dit noem. Hy lyk soos ’n maanman. Een van die knappes in die tentedorp het van stukke ou weathergear vir hom ’n oorpak gemaak. Die sirkel van sy gesig wat uitsteek, is bedek met ’n stofmasker en ’n paar ou MecSpecs. Hy trek die masker af.
“Ja?” sê Amper.
“Hoekom het jy nie gister gepitch nie? Ek het jou gesê: As jy –” “Wat het jy laas Saterdag bo by die aalwyn-pêts gesoek?” Sy moet meer afgepis as hy klink.
Hy vroetel met die masker.
“Ek het jou ouma belowe ek sal ’n oog hou.” “Ek kan na myself kyk. En Wakinyan was by.”
“Dis oor hy by was wat ek gekom het. ’n Tentelaait het gesien hoe jy en die mansmens die MecSec by Hemp 3 dods.”
“Dis gross, man. Om ander mense so af te loer.” Hy kom nader en praat sagter.
“Wat gross is, is dat jy jou ouma se loopsaad so loop en afshow aan ’n Meconite.”
“Hy’s nie ’n Meconite nie!” kap sy.
“O nie? En wat het hy gemaak in ’n Meconium-kliniek waar net
Meconites behandel word?”
“Dis nie so nie. Sy baas het ’n hoë contact in Klein China en dié het weer ’n hoë contact in Meconium. Hy’t –”
Bones skud sy kop.
“Wat dink jy gaan hy met daai aalwynblaar doen wanneer hy in Meconium kom?”
Wakinyan het ’n blaar gepluk, dit in sy rugsak gesit en haar vasgehou en gesoen toe sy wou klaarpraat dat hulle dit nie so doen nie.
“Wat het jy als gesien?” vra sy, haar gô ’n bietjie minder.
“Ek het geloop toe ek die skade sien, kleinkind van Bettina Molooi.” Etter!
“Nou hoef jy nie meer spy te speel nie. Hy’s weg. En niks het iets oorgekom nie.”
Sy begin omdraai, maar Bones is nog nie klaar met haar nie. “Wat hoor ek dat jy hom wil loop soek? Met die biogaslorrie van alles. Dis ’n toegatidee. Jou ouma –”
“Ek weet. Ek weet.” Dis haar eie skuld. Dis oor sy eergister – met die skrik van Wakinyan se wegwees in haar maag – elke pasjent en elke werksmens na hom kom vra het. Dié dat almal weet. “Ek gaan nie meer nie.”
Hy bekyk haar agterdogtig.
“Vanaand. Doerstryt voor donker. Konkok se tent.” Sy stem laat geen keuse nie.
Dit voel of haar kake verby haar ore rem. “Ek kort nie meer jou vervlakste –” Sy bedink haar. Hy moet glo sy’s van die plan af. Anders staan en wag hy haar môreoggend by die biogaslorrie in.
“Fine.”