Die boekwinkel tussen die wolke deur Jaco Jacobs: ’n boekresensie

  • 2

Wolke in die agtergrond: Mint_Foto, https://pixabay.com/photos/clouds-sky-atmosphere-blue-sky-7050884/; boekomslag: https://www.panmacmillan.co.za/authors/jaco-jacobs/die-boekwinkel-tussen-die-wolke/9781776250783

Die boekwinkel tussen die wolke (2021)
Jaco Jacobs
Pan Macmilian
ISBN: 9781776250783

.........
Die boekwinkel tussen die wolke? Dit is ’n ongewone titel vir ’n ongewone storie, en ongewone stories is lekker stories. Hierdie boek neem jou op ’n verbeeldingsvlug wat jy sommer op ’n gewone dag kan raakloop. Daar is avontuur, wolke, hope boeke en dalk ’n paar lewenslesse te leer.
..........

Die boekwinkel tussen die wolke? Dit is ’n ongewone titel vir ’n ongewone storie, en ongewone stories is lekker stories. Hierdie boek neem jou op ’n verbeeldingsvlug wat jy sommer op ’n gewone dag kan raakloop. Daar is avontuur, wolke, hope boeke en dalk ’n paar lewenslesse te leer.

Die skrywer

Jaco Jacobs het geen bekendstelling nodig by Suid-Afrikaanse kinders nie. Hulle ken sy trefferboeke, soos Oupa Zombie (2020), Kan ’n walvis winde los? en ander gruwelike en grillerige vrae oor diere (2020), ’n Goeie dag vir Boomklim (2015), en natuurlik die lekker reekse soos Zackie Mostert en Professor Fungus, om net ’n paar te noem. Die lys stories is eindeloos – meer as 180 om presies te wees. Verskeie van Jacobs se boeke is al oorsee vertaal. Hy vertaal ook self verskeie kinderboeke in Afrikaans, soos Willemien en die geel kat (2008) van Chris Riddel. ’n Goueveer in sy hoed was sy nominasie in 2019 vir die Hans Christiaan Andersen-toekenning, die grootste eer wat ’n kinderboekskrywer kan ontvang.

Het jy geweet Jaco versamel Pez-houers? Sulke oulike karakterhouers wat lekkertjies “spoeg” as jy hulle van onder druk. Hy het ’n hele muur vol van hulle en sy gunstelingsuperheld is Batman.

Die storie

Ella Kriek is mal oor boeke en sy besoek gereeld (ekskuus, ek bedoel elke dag) na skool die Kop In Die Wolke-boekwinkel. Dit is ’n tweedehandseboekwinkel en die tannie wat daar werk is nogal vreemd – sy het pers hare. En dan gebeur ’n doodgewone-ongewone ding: Ella steel ’n boek.

Sien, Ella en haar ma het dit nie breed nie en elke sent word gerek. Dan het sy ook ’n kleinboetie wat aan alles kou – en ek bedóél alles. Van tannie Mona se hond tot die rusbank se poot in hulle woonstel.

.........
Dit is juis dié gesteelde boek (oor uile as jy wou weet) wat alles begin het.
...........

Dit is juis dié gesteelde boek (oor uile as jy wou weet) wat alles begin het. Snaakse dinge begin gebeur: Boeke begin byt, hulle ontwikkel pote of snotterige tentakels en Ella vind uit sy is ... sy is ’n boekfluisteraar! Boekfluisteraars kan boeke hoor en met hulle praat. Het jy nie geweet boeke het ook siele en persoonlikhede nie? Ella vind baie gou uit dat boeke nie sommer net boeke is nie. Veral wanneer sy as straf by Kop In Die Wolke-boekwinkel begin werk.

Al die paaseiers

Die konsep van ’n paaseier in ’n film, veral in Disney-films, behels dat daar klein leidrade gelaat word op strategiese plekke sodat verwysings na ander films of boeke opgeroep word. Dit is net een element wat Die boekwinkel tussen die wolke (2021) so interessante maak. Hier het ons ’n hele mandjie vol paaseiers, maar ongelukkig is dit nie die eetbare soort nie.

As jy regtig mooi lees, sal jy ’n paar Harry Potter-elemente raaklees, asook The Little Shop of Horrors. Maar voor jy dink hierdie boek met sy pragtige voorblad en interessante karakters is te wreed, hou in gedagte dat daar net saadjies van hierdie ander tekste daar te vinde is. Dit is net ’n knipoog wat vir jou sê: “Kyk, hierdie boek weet van daardie ander boeke waar daar ook sulke dinge gebeur.”

Hier kan jy byvoorbeeld dink aan die Boggart uit die derde Harry Potter-boek. Boggarts is kreature wat op jou diepste, donkerste vrese teer, en die enigste manier om hulle uit te roei is om histeries vir hulle te lag. Want Boggarts hou van donker, stowwerige plekke, nes die solder van Kop In Die Wolke – die boekwinkel tussen die wolke. Ella ontdek ’n boek wat nes ’n Boggart jou grooste vrees teen jou gebruik. Jy sal maar self moet lees om te sien waarvoor Ella bang is. Sodra Ella lief word vir die boekwinkel en al sy ongewone en eienaardige dinge, kom dit aan die lig dat die boekwinkel in gevaar is, en al Ella se vriende help haar om ’n plan te beraam en Kop In Die Wolke te red, want sy is mos ’n boekfluisteraar.

Nóg ’n element wat Jacobs lief is om in sy boeke te gebruik, is voetnote. Daar word nie verklarings soos in gewone handboeke of akademiese boeke gemaak nie. Nee, dit is die verteller wat vir jou nou en dan so ’n ekstra ietsie in jou oor fluister. Dit kan vir sommige lesers, veral jonger lesers, ’n bietjie steur, maar ek vind dit maak die storie soveel interessanter.

.........
Hierdie boek kan maklik vir enige kraninge leser aanbeveel word, veral dié lesers wat hou van avontuur en ’n verbeeldingsvlug waar enigiets moontlik is.
...........

Hierdie boek kan maklik vir enige kraninge leser aanbeveel word, veral dié lesers wat hou van avontuur en ’n verbeeldingsvlug waar enigiets moontlik is. Daar is interessante karakters en onverwagse wendings en nog meer. Ek het tog ’n bietjie slaap verloor, want ek kon nie die boek neersit nie.

Dié tussen-die-wolke-boek is ideaal vir enige avontuurlustige tiener of volwassene wat lief is vir boeke. Wie weet, dalk is jy ook ’n boekfluisteraar ... Koop die boek en vind uit. Wees gewaarsku: As dit ’n boekvloek is, moet jy self die vraag beantwoord.

Verwysings

Jaco Jacobs. 2020. Aanlyn beskikbaar: www.jacojacobs.co.za.

Terblanche, E. 2017. Jaco Jacobs (1980–). ATKV-LitNet-Skrywersalbum. Aanlyn beskikbaar: https://www.litnet.co.za/jaco-jacobs-1980.

  • 2

Kommentaar

  • Ek koppel nie graag ouderdomme aan boeke nie, want elke kind se leesvaardigheid behoort die bepalende faktor te wees wanneer hulle ’n boek uitkies en nie hulle ouderdom nie. Die kort antwoord is 9 jaar en ouer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top