Frederik de Jager: ’n Herd wat knetter met stories

  • 0

Die verskyning van Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens heen word wyd met lof begroet. In sy resensie in Rapport van dié “55 stories van mense onderweg”, wys Jean Meiring op hoe “meesterlik en individueel” De Jager se skrywerstem opklink, deurspek van “sonderlikheid, varsheid en skalkse humor”.

Die entoesiastiese ontvangs van Frederik se debuut is nie heeltemal onverwags nie. As ouduitgewer en redakteur was hy immers betrokke by boeke wat die grense in Afrikaans – en menige skrywers se loopbane – verskuif het. Dink maar net aan huishoudelike titels in die Afrikaanse letterkunde, en jy het ’n idee van hoe omvangryk Frederik se hand strek: Triomf, Griet skryf ’n sprokie, Die dao van Daan van der Walt, om enkeles te noem.

Maar hoe voel dit om nou, ná jare as uitgewer en boekmaker, in jou vroeë sestigs as skrywer te debuteer? “Vreemd, om die minste te sê,” antwoord Frederik sonder omhaal. “Ten spyte van die talle kere dat ek debuterende skrywers deur hul onsekerhede help stuur het, voel ek net so uitgelewer en onseker, maar ook so opgewonde en skaamtrots soos soveel van hulle.”

Frederik de Jager (Foto: Naomi Bruwer)

Die skryfwerk in Man op ’n fiets êrens heen getuig van die gehalte waarmee Frederik sy skrywers ’n generasie lank bedien het. Op Netwerk24 verwys die resensent Jonathan Amid na die “woordekonomiese onmiddellikheid, gevoeligheid en presisie” wat die verhale kenmerk. Amid beskryf die bundel tereg as “’n aandoenlike, toevallige, gestroopte biografie”. Die skryfstukke, waarvan die oorgrote meerderheid oorspronklik as rubrieke in Vrouekeur verskyn het, speel af in die ruimtes wat Frederik bewandel het, en lesers sal baie karakters herken as mense wat De Jager se wêreld bevolk het. Jy lees vir Annari van der Merwe, ’n uitgewer-kollega van Frederik, raak in ’n verhaal oor ’n besoek aan Zimbabwe se boekebeurs. Elsa Joubert, Klaas Steytler en Gert Vlok Nel is enkele skrywersname wat in die verhale opklink, en ook ’n aangrypende herinnering aan Jan Rabie in die pylvak van sy lewe:

’n Ander keer het iets gebeur wat my laat huiwer om daaroor te skryf. So stokstyf soos hy daar langs my in die motor gesit het, het hy begin oorhel na my kant. Later is sy kop op my skouer, en die spoeg loop teen my hemp af. En ek wil huil, want hy is my held. En ek is dankbaar dat hy iemand het om teen te leun wat weet wie hy is.

Oor die spel tussen werklikheid en fiksie sê Frederik: “In my boek is of was al die mense en diere oor wie ek skryf werklike mense en diere. In een geval gaan ek met opset en uitdruklik op ’n verbeeldingsvlug om ’n storie te versin oor twee mense wat ek uit my verbygaande motor opgelet het. En soms borduur ek ’n bietjie, maar meer in styl as in substansie. Die opset van die rubriek waaruit die meeste stukke kom, was in ieder geval nooit dat dit fiksie sou wees nie.”

Man op ’n fiets êrens heen kan as “verhalende nie-fiksie” geklassifiseer word, juis omdat die instrumente van fiksie in die skryfwerk aangewend is. Maar Frederik is versigtig vir etikette: “Ek sou verkies dat dit nie geklassifiseer moet word nie, want ek begaan ook dikwels paragrawe lank dinge waarteen ek fiksieskrywers ’n leeftyd lank gemaan het, soos bespiegelende passasies.” Die jare in die uitgewersbedryf het hom boonop deeglik bewus gemaak van boekverkopers se behoeftes. “Ek weet uit ondervinding bemarkers en boekwinkels wil dinge in ’n kategorie hê sodat hulle weet hoe om ’n boek te promoveer en op watter rakke om dit uit te pak.”

Tuis tussen boekmense – Frederik in 2020 by die Toyota US Woordfees (Foto: Menán van Heerden)

Die biografiese inslag waarna resensente verwys, word bevestig deur die treffende omslagfoto van die bundel. Nina Swart het die portret van Frederik wat so lekker staan en rook in Griekeland geneem. En in die bundel is “Hy was ’n huis met ’n herd” ’n pragtige ode aan die ongesonde gewoonte. “Ek was bang mense sou sê ek promoveer rook, maar die reaksie sover was baie gunstig,” vertel hy wat jare gelede die gewoonte opgegee het, maar so af en toe op spesiale geleenthede ’n sigaret opsteek. “Ek vat net nou en dan ’n trek by iemand vir die lekkerte, as daar goeie geselskap en te ete en te drinke is. Buitendien is een sigaret in ’n maand soveel lekkerder, en ek skat dis ooglopend op die foto.”

In “Hy was ’n huis met ’n herd” beskryf Frederik hoe ’n sigaret-in-die-hand geneesheer hom jare gelede in Pretoria behandel het:

Die operasie om die groeisel onder lokale verdowing uit my rug te sny, het net daar in sy spreekkamer gebeur. Hy het gehoes, sy hand het gebewe, en daar is nou ’n agbare merk op my rug. Maar ek gee nie om nie. Sou ek ’n ou merkie wat ek nie kan sien nie wou verruil vir die ervaring van so ’n kleurryke karakter?

Hy was ’n huis met ’n herd, swart verbrand van binne van ’n leeftyd se vuur, se warmte.

In Man op ’n fiets êrens heen is die karakters inderdaad kleurryk. Dié “woordprente wat die uitsonderlikheid van gewone mense vasvang”, soos Protea Boekhuis se bemarkers die bundel beskryf, put uit die skrywer se kinderjare, sy skoolhoudae in Natal, ’n briljante uitgewersloopbaan, en natuurlik mense en diere wat sy pad gekruis het op die eiland Lesbos, waar hy deesdae woon as hy nie in Suid-Afrika is nie.

Die lys van karakters oor wie Frederik die “woordportrette” oorspronklik vir Vrouekeur geskep het, “was later byna uitgeput, dan moes ek my geheue goed hamer om iets daaruit te kry. Dus het daar nie soveel berekening gegaan in die keuse van die inhoud nie. By die deurlees van die hele versameling kon ek egter tot my verbasing ’n sekere aantal deurlopende temas eien, party daarvan intens persoonlik, en dié goed is seker maar die uitdrukking van waarmee die onderbewuste stoei.

“Dié boek was regtig die lui man se manier van skryf,” sê hy. “Ek moes net een keer ’n maand ’n rubriekstukkie indien, en het maar geskryf oor wat my ook al in daardie tyd bygeval het.” Maar dié skrywery was ook “’n manier om sin te maak van die lewe, en om insig te verwerf van (my) menswees op aarde.”

Frederik skryf nie net oor mense nie; die stukke wat handel oor diere word deur Elna van der Merwe in hierdie onderhoud as hoogtepunte uitgewys. “’n Prins van vlam en grasie”, oor die begrafnis van ’n rondloperkat op Lesbos, begin met dié poëtiese paragraaf:

Ons het hom in ’n terras teen die hang begrawe waar hy vir altyd op die mooiste lentedag ’n uitsig oor die vallei ondertoe sal hê. Olyfbome wat sonlig uitsif oor groen gras met geel madeliefies en die rooi vuur van papawers. Ons het mirre in sy graf gestrooi en onder die silwer klank van ’n silinderbel sy gees aan die absolute natuur gegee. Daar was ’n klip met ’n plat skuins vlak en dié het ons oor sy graf geskuif sonder om sy naam daarop uit te krap. Hy was anderkant skrif, en meer as taal.

Die poëtiese waarnemings in Man op ’n fiets êrens heen gryp aan die hart en stem lesers letterlik tot ’n plek verby skrif en taal. En om dit reg te kry, moet ’n skrywer sekuur kan waarneem. In “Meesters van vermommingskuns” – ook oor diere – besin Frederik juis oor die manier waarop mens die wêreld bekyk:

Hoenders vorm agtergrond soos die berge en bome dit doen, jy neem dit waar sonder om te kyk. Donkies mag ook soos ’n cliché pas in ’n pastorale skildery, maar as jy in die straat verby loop en daar staan ’n donkie teen die draad, voel jy hom roep. Jy wil nader staan. Hy maak ’n appèl op jou, hy stel ’n vraag.

Kyk hy deesdae, nou dat hy verby die 60-kerf is, anders na die wêreld as toe hy jonger was? En hoe verloop die proses tussen sien en skryf? “Ek dink amper nie mens neem beter waar wanneer jy ouer is nie, maar jy het wel die voordeel dat jy ’n leeftyd se waarneming versamel het en ’n spesifieke waarneming beter teen hierdie agtergrond kan deurskou.”

Hennie Aucamp het definisie help gee aan die manier waarop Frederik waarneem. “As ek op ’n sekere manier om my kyk, het ek dit aan Aucamp te danke. Toe ek onderwysstudent was, was hy ons Afrikaansdosent en sy klasse was ewegoed lesse in skryfkuns as wat dit didaktiek was. Waarneming, waarneming, waarneming was sy mantra. Ek het dit ter harte gehou deur al die jare toe ek met skrywers gewerk het.”

Uit die argief: ’n Jong Frederik de Jager saam met Marita van der Vyver, Anna M Louw en Rona Rupert (Foto: verskaf)

As debutant is Frederik beskeie. Hy staan byvoorbeeld verwonderd oor hoe ’n digter soos Marlene van Niekerk ’n waarneming tot in die buitenste ruimtes van die gees kan laat resoneer – “In ’n gedig kan sy van ’n meeldraad af ’n atoomreaksie van uitkringende konkrete waarneming ontketen. Ek kan my goed voorstel dat party skrywers op ’n meditatiewe manier in die sone insink om hul waarneming te verryk. Ek is heeltemal te oppervlakkig daarvoor. Ek skat ek is bloot lief vir die tasbare wêreld en ek hou die hele tyd ogies op steeltjies, sodat wanneer ek iets skryf, die gepaste waarnemings hulleself aanmeld.”

Om ’n lewe lank intiem met woorde om te gaan, bring uiteraard ’n bepaalde ingesteldheid teenoor taal mee. Frederik staan ook nie onbetuig teenoor onlangse ontwikkelinge rondom die status van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch nie. Maar ’n “taalstryder” is hy nie. “Ek sit ver in die wêreld en vererg my net af en toe vir onsin, pretensie, oneerlikheid en oneerbaarheid, en dan gryp ek ’n lans – die pen – en bestorm die windmeul soos ’n dwaas,” sê hy.

“Daar is ’n swak plek in die mondering van mense wat hulle besorg oor Afrikaans in die algemeen, maar spesifiek op plekke soos die Universiteit Stellenbosch: Jy kan nie altyd jou geselskap kies nie. Mens se opponente weet dit en buit dit uit deur jou sonder meer te groepeer by mense wat na die ou Suid-Afrika verlang, wat Afrikaans weer bo-op die hoop wil hê, en daarmee saam hul eie (gewaande) meerderwaardigheid en magsposisie herstel wil hê.”

In Man op ’n fiets êrens heen hengel Frederik met ’n wye vangnet uit die Afrikaanse taalskat. Lesers kom soms woorde teë wat nie meer algemeen in die omgang is nie: “hoeke”, “kalfater”, “duffel”, en so meer. Deel hy Marlene van Niekerk se benadering met haar digbundel Kaar dat woorde wat nie algemeen in gebruik is nie, heraktiveer moet word sodat dit nie vergete raak nie?

“Ek sal my nou nie eens naastenby in die geselskap van Marlene van Niekerk plaas met die gebruik van woorde uit die taalargief nie, maar ek is lief vir baie ou woorde en uitdrukkings omdat hulle vir my mooi klink en omdat hulle help om fyner onderskeidings te tref, om kleur en nuanse te help gee aan wat mens wil sê. Daardeur sou ek wou hoop dat hulle net ’n bietjie langer in omset bly, hoewel ek weet die stryd teen ‘wow’, ‘amazing’, ‘like’ en dies meer is lankal verlore.”

In “Die man wat ’n seun gebly het” neem Frederik bestek op van die invloed wat veral die Sestigers op sy perspektief van die Afrikaanse letterkunde gehad het:

Hulle het elke vorm gebreek en nuwe lig laat skyn oor ons begrip van onsself en van ons land. André P. Brink was in daardie kring, Bartho Smit, Chris Barnard, Breyten Breytenbach, Adam Small, Etienne Leroux, Uys Krige, Abraham de Vries, Hettie Smit, Ingrid Jonker. Gesamentlik was hulle soos ’n blom wat deur die harde woestynkors gebreek het. Hulle was ’n fontein, hulle was ’n hamer, hulle was hoë bome, hulle was ’n ontploffing van die vreeslose nuwe.

As uitgewer het hy dié groot geeste goed geken en saam met baie van hulle gewerk. Hoe vergelyk die literêre landskap vandag met dié waarin die Sestigers ’n klompie dekades gelede gewoeker het? Dink hy daar sal weer ’n impetus-periode kom soos met die Sestigers?

“Onder druk, soos vir die Sestigers onder staatsensuur en samelewingskonserwatisme, gedy ’n letterkunde blykbaar. Hoewel daar nie juis ’n gedeelde projek is in die mate dat dit met die Sestigers die geval was nie, het ons vandag darem ’n hele paar topklas, epogmakende skrywers. Dink maar aan Marlene van Niekerk, Eben Venter, Etienne van Heerden, Willem Anker, Fanie Naudé, Francois Smith, Ingrid Winterbach, en ’n nuwe geslag swart Afrikaanse skrywers wat nou uiteindelik hulle stem begin verhef … Ek is bang oor wie ek almal uitlaat, maar vat net die werk van hierdie klompie in ’n klein taaltjie soos ons s’n. Dis werklik verstommend.”

Soos alle skrywers wat hulle sout werd is, staan Frederik krities oor sy eerste pogings. In “’n Lied uit volle long” korswel hy oor sy vroeë skryfwerk, spesifiek oor die plekke uit sy jeugjare op die platteland: “In my strewende jonkmansdae, toe ek so veel moontlik tyd daar deurgebring het as ’n kontrapunt tot my stadslewe, was die stukke wat ek oor daardie plek geskryf het ’n bietjie te bloemryk.”

Hoe lank het dit geneem om van dié bloemrykheid gesuiwer te raak? Wanneer meld ’n volwasse skrywerstem aan waarmee jy die wêreld kan aandurf sonder om te bloos?

“Daai is ’n stryd wat in my ervaring nooit gewonne is nie,” antwoord hy. “Mens beskik net nie oor die objektiewe oog om jou eie hebbelikhede en pretensies raak te sien nie. Die lesse wat ek hieroor geleer het, was hard, dit was soms fel kritiek deur mense wat naby genoeg aan my was om seer te maak, maar jy kom nie vorentoe met ’n dun vel nie.

“Ek het die geclichéde liefde vir skoolopstelskryf gehad en was na skool maar altyd aan die skryf aan iets. Die meeste daarvan het op die ashoop gebly lê. Daarbenewens was daar ’n klomp stukkies wat ek in my jong werkslewe om den brode geskryf het. Daar was ’n tyd toe R200 vir ’n artikeltjie in die koerant die verskil tussen ’n dak oor jou kop en ruïnasie beteken het. Iewers langs hierdie ongelyke weg het ek seker ’n bietjie van ’n kern ontwikkel, of ten minste ’n losse samehang.”

Die reis tussen daardie eerste skryfsels en ’n produk soos Man op ’n fiets êrens heen jare later, is lank en tydsaam. Maar die opwinding om jou eerste boek in die hand te hou, is nie ’n aks minder nie. Frederik vertel hoe hy sý uitgewer, Nicol Stassen, tydens die Woordfees op Stellenbosch in die straat sien loop het nadat die manuskrip vir publikasie aanvaar is: “Ek loop hom storm om dankie te sê vir die aanvaarding van my boek. Maar ek dag hy steier agter die naaste eikeboom in. Hy het naamlik die publikasiebesluit aan Deborah Steinmair oorgelaat (wat spreek van groot vertroue), en die laaste ding wat hy seker verwag het, was so ’n aanval van ’n rasend opgewonde debuutskrywer.”

’n Mens kan dit nie verhelp om met die lees van Man op ’n fiets êrens heen aan Frederik de Jager te dink as ’n herd waarin ’n storievuur knetter nie. En wanneer jy die boek lees, verstaan jy waarom die publikasie met lof begroet word. En jy hoop dat hierdie die begin is van ’n luisterryke publikasielys uit die hand van ’n woordmeester.

 

Lees Frederik se “Skoon wasgoed”-rubrieke op LitNet hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top