Frederik de Jager skryf op Facebook:
https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/us-koshuis-se-net-engelse-liedjies-vir-ser-toegelaat
Hierdie soort benepenheid sou nie voorgekom het indien die visekanselier, soos hy onderneem het teenoor ’n goedgelowige gemeenskap – een wat hom grotendeels ter wille was – ’n kultuur van taaldiversiteit, -inklusiwiteit en -verdraagsaamheid aktief bevorder het by dié instelling wat te goeder trou in sy sorg oorgegee is nie. In plaas daarvan moet sy eie Afrikaans-Nederlandsdepartement (en blykbaar die media) hom wys op ’n bestaande kultuur van mikroaggressie teenoor Afrikaanssprekende studente. En ook nie altyd so mikro nie. Dit lyk my na ’n groot aggressie om ’n jong mens - dalk nog ’n tiener - te skrobbeer omdat sy Afrikaans oor die foon met haar ouers praat.
Kommentaar
Net een raad: Moenie kwaad word of wild reageer nie. Glimlag. My eie niggie is in die Nederlande op universiteit en weier prontuit om met haar ouers Hollands te praat. En haar Engels is maar redelik vrot; nee, beroerd. Ek terg haar daarmee, dat ek haar dan met hoë Engelse terme "gooi" en heel onskuldig van haar wil weet wat dit beteken. Ek wil mos leer, sien! Aai, hoe kan mens tog so wreed wees!
Net 'n rewolusie gaan Afrikaans beskerm. Die "woke"-kampvegters haat Afrikaans en met haat kan jy nie redeneer nie.
Die universiteit, en veral die rektor, het met hierdie besluit meer as 100 jaar agteruit beweeg. Afrikaans as inheemse volwaardige taal, ook vir die akademie, is reeds in 1918 bevestig en van toe af uitgebou. Ek dog universiteite strewe na nuwe, innoverende denke? Geen wêreldklas universiteit kan sulke outydse bekrompe waardes bekostig nie.