Remona Voges gesels met Carel van der Merwe oor sy boek Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen.
Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Carel van der Merwe
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310563
Carel, baie geluk met jou boek. Dit is ’n lywige stuk navorsing!
Jy het nog altyd ’n fassinasie met die Anglo-Boereoorlog gehad. Die boek, Donker Stroom – Eugene Marais en die Anglo-Boereoorlog, kom byvoorbeeld ook uit jou pen. Wat is dit omtrent hierdie tydperk in die geskiedenis wat jou so fassineer?
Ek het nie ’n fassinasie met die Anglo-Boereoorlog as sulks nie, eerder met spesifieke karakters. My romans wat ek voor Donker Stroom geskryf het, handel dan ook geensins oor die Anglo-Boereoorlog nie. Wat Donker Stroom betref, het dit ontstaan uit my belangstelling in Eugène Marais, en spesifiek dit waarmee hy hom besig gehou het in die sowat vyf jaar (1897-1902) wat hy in Londen gewoon het. Hierdie jare oorvleuel die tydperk (1899-1902) waarin die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het. Tot my verbasing het ek met my navorsing uitgevind dat Marais ’n groot rol in die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog gespeel het, sowel as tydens en in die nasleep van dié oorlog. Vanselfsprekend moes ek toe navorsing oor die Anglo-Boereoorlog doen.
Kansvatter daarenteen handel oor die lewe van Ben Viljoen, en slegs drie uit die 20 hoofstukke handel oor sy rol in die Anglo-Boereoorlog. Ek het juis in die subtitel – Die rustelose lewe van Ben Viljoen – hom nie generaal Ben Viljoen genoem nie, om aan te dui dat Kansvatter nie net nog ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog is nie, maar oor ’n hele lewe, van wieg tot graf.
Wat is dit van Ben Viljoen wat jou verbeelding so aangegryp het dat jy ’n hele boek oor hom geskryf het? Hoe het jou Ben Viljoen-reis begin?
My belangstelling in Ben Viljoen het geleidelik ontstaan en dit was die gevolg van verskeie prikkels. In my navorsing vir Donker Stroom het ek bewus geraak van die aanvanklike vriendskap en latere vyandskap tussen Ben en Eugène Marais in die voormalige Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in die dekade voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Ben het selfs sy eersgebore kind Wynand Eugène gedoop toe hy en Marais nog vriende was.
Die basiese feite oor Ben se lewe het ek op daardie tydstip in die verbygaan ingeneem: die arm trekboerseun uit die destydse Transkei wat eers ’n polisieman aan die Wes-Rand was, toe ’n joernalis en koeranteienaar in Krugersdorp, daarna op 30-jarige ouderdom militêre kommandant van Johannesburg, asook dié stad se verteenwoordiger in die ZAR se Tweede Volksraad. Binne ’n jaar ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is hy bevorder tot veggeneraal en daarna assistent-kommandant-generaal van die Transvaalse magte onder kmdt-genl Louis Botha; hy is gevange geneem in die laaste maande van die oorlog en na St Helena verban en emigreer ná sy vrylating na Mexiko en toe Amerika waarna hy uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdwyn. Reeds tóé was hy ’n interessante karakter uit daardie tydperk wat in my kop vasgesteek het.
’n Ander belangrike prikkel was Sonja Loots se roman Sirkusboere wat ek gelees het in die tyd toe ek met navorsing oor Marais besig was. Hierin is Ben een van die hoofkarakters en skets Loots Ben se deelname aan die Boereoorlogskouspel by die 1904 St. Louis World’s Fair in die VSA. Haar uitbeelding van Ben was boeiend: sjarmant, flambojant, impulsief, losbandig en rusteloos. Loots het ook vlugtig verwys na Ben se latere deelname aan die Mexikaanse revolusie en sy aanstelling as Mexikaanse konsul in Duitsland. Definitief nie jou tipiese tradisionele en familievaste, godvresende Boer van sy tyd nie – soos die stereotipe in my kop dit wou hê. Maar alhoewel Sirkusboere ’n feitelike onderbou het, bly dit fiksie. Die saad vir verdere navorsing was egter hierna geplant: Wie was die ware Ben Viljoen, en hoe het dit gebeur dat ’n Afrikaner uit daardie era by sulke uiteenlopende gebeure in soveel verskillende lande betrokke geraak het?
Daar is baie lesers wat nog nooit van Ben Viljoen gehoor het nie. Beskryf sy karakter in ’n neutedop.
Ben was ’n veelsydige figuur, ’n joernalis en skrywer, politikus en Boeregeneraal, kansvatter en pierewaaier, avonturier en showman, vrymesselaar en vrybuiter, rebel en individualis. Toe hy 34 was, het hy homself in ’n outobiografiese artikel verbasend goed beskryf: “[A] man of restless spirit, with an ever-present desire to do something better.” In die wyse waarop hy sy ambisie nagestreef het, was hy aweregs en opportunisties. Hy het ook ’n sterk streep narsisme gehad.
In jou boek vergelyk jy Viljoen met die argetipiese Hermes-figuur. Waarom?
In die Griekse mitologie was Hermes ’n mindere god wat in ’n grot gebore is en van kleins af die ambisie gehad het om tot die kring van die groter Griekse gode toegelaat te word. Hy was ’n buitestander wat van alle middele, geoorloof en ongeoorloof, gebruik gemaak het om ’n gevestigde groep binne te dring en as gelyke erken te word. Hermes is dan ook die argetipe van die sogenaamde truukster, ’n vabond en bekoorder wat in die mites en volksverhale van baie kulture voorkom. Van die kenmerke van truuksters is hul welsprekendheid, geslepenheid, rondswerwery en amoreuse avonture.
Ben was ’n buitestander toe hy op 18-jarige ouderdom in die ZAR aangekom, en hy het ’n brandende ambisie gehad om opgang in die lewe te maak. Sy eienskappe en werkswyse herinner aan die van die mitologiese Hermes. En soos Hermes is Ben ook in ’n grot gebore! In die Griekse mitologie is Odysseus die ander bekende truukster, ’n veelkantige figuur wat sy karakter na gelang van omstandighede verander het om te oorleef. Odysseus was nie aan ’n vaste identiteit gebonde nie en het met die verhale van sy avonture sy karakter in die oë van ander gevorm, iets wat Ben veral in sy jare in die buiteland gedoen het.
Jy skryf, soos ’n ander navorser oor Viljoen ook uitwys, dat hy nooit ’n volksheld geword het nie, hoewel hy al die eienskappe van een besit het. Hoekom dink jy is dit die geval?
Ben was ’n dapper en prominente jonger generaal in die Boeregeledere; dit was juis hierdie volkshelde wat ná die Anglo-Boereoorlog die nuwe politieke elite van die Afrikaners gevorm het. Vir nasionalistiese Afrikanerhistorici in die vorige eeu was Ben egter ’n problematiese figuur om in die destydse heersende narratief van die Anglo-Boereoorlog en sy nasleep te plaas, en is hy na die kantlyne rangeer. Tekenend hiervan is dat sy oorlogsherinneringe ná die Anglo-Boereoorlog in Nederlands, Duits en Engels uitgegee is, en in 1973 in Engels herdruk is, maar nooit in Afrikaans vertaal is nie.
Ek glo daar is ’n paar redes hoekom Ben nooit ’n volksheld geword het nie. Eerstens het Ben reeds sedert ná die val van Pretoria in Junie 1900, amper twee jaar voor die einde van die ABO, begin bepleit dat die Boerepublieke met Brittanje vrede moet maak. Hy was baie uitgesproke hieroor, iets wat in leidende Boerekringe nie goed afgegaan het nie. Die omstandighede van sy gevangeneming in Januarie 1902 was vir heelwat Boereleiers dus verdag: kmdt-genl Louis Botha was oortuig dat Ben eenvoudig oorgegee het. Ben se na-oorlogse politieke uitsprake in die Transvaalkolonie en Brittanje het hom ook vervreem van Boereleiers soos genls Botha, Smuts, De la Rey en De Wet. Hy het homself onder meer uitgebeeld as baie meer versoenend teenoor Brittanje as hulle, en ’n breë Suid-Afrikanisme bepleit, eerder as ’n fokus op Boerebelange. Die bekendmaking aan die einde van 1903 van sy buite-egtelike verhouding met May Belfort het sy aansien in die destyds grotendeels Calvinistiese Boeregemeenskap baie skade aangedoen, so ook sy deelname aan die Boereoorlogskouspel by die 1904 St Louis wêreldtentoonstelling. Laastens het sy emigrasie in 1904 na die VSA hom ook uit die volksoog verwyder.
Wat was vir jou van die mees fassinerende ontdekkings wat jy oor dié veelbesproke figuur gemaak het?
Ek was verbaas oor hoe ernstig Ben se buite-egtelike verhouding met donkerkop Ierse variété-arties May Belfort werklik was. Dit was nie net ’n kortstondige flirtasie nie, maar ’n lang verhouding wat Ben se lewensloop verander het. Toe Ben haar aan die begin van 1899 in Johannesburg ontmoet het, was May reeds ’n vrou met ’n reputasie weens haar gewaagde vaudeville-vertonings op die verhoë van Londen en Parys se variété-teaters en nagklubs. In Parys het sy gereeld opgetree in die nagklub Le Cabaret des Décadents, waar een van die gehoor se gunstelinge haar liedjie “Daddy wouldn’t buy me a bow-bow” was. In dié nommer het sy op die verhoog verskyn met ’n swart katjie in haar arms en aangetrek soos ’n baba. Terwyl sy die katjie saggies gestreel het, het sy dan in ’n miaau-stemmetjie gesing: “I’ve got a pussy cat, I’m very fond of it.” Die dubbelsinnige betekenis hiervan het haar waarderende mansgehoor nie ontsnap nie. Haar private lewe was selfs in hierdie dekadente kringe berug en onder haar bedmaats was ook talle vroue. In Parys het sy ook die oog van Henri de Toulouse-Lautrec gevang, wat haar in verskeie van sy werke uitgebeeld het. ’n Meer onwaarskynlike verhouding kan jy jou kwalik voorstel – die Boeregeneraal en die biseksuele buitelandse verhoogkunstenares.
Of hul verhouding al in 1899 begin het, kon ek nie vasstel nie, maar volgens May se latere mededelings lyk dit of dit wel het. May is terug na Brittanje voor die uitbreek van die ABO. Kort ná sy terugkeer uit sy krygsgevangeskap op St Helena in Julie 1902 het Ben, toe nog steeds getroud, na Brittanje gereis en haar daar weer ontmoet. Hul verhouding het tot aan die einde van 1903 geduur, en hulle het twee lang skeepsreise saam onderneem, eers van Brittanje na Suid-Afrika, toe later weer terug na Brittanje. Sy en Ben het ook met tye in Londen en Johannesburg saamgewoon. Soos ek in Kansvatter aantoon, was die rede hoekom Ben ná die afloop van die Boereoorlogskouspel by die 1904 St Louis wêreldtentoonstelling nie na Suid-Afrika teruggekeer het nie, die ontydige bekendmaking van hierdie verhouding, eerder as sy openbare uitsprake dat hy nie onder Britse heerskappy wou lewe nie.
In die Britse staatsargiewe het ek ’n geheime verslag ontdek wat lord Kitchener, die Britse bevelvoerder in Suid-Afrika in die laaste fase ABO, aan die Britse oorlogsminister geskryf het. Hierdie was na aanleiding van ’n gesprek wat hy en Ben in Pretoria gehad het kort na Ben se gevangeneming in Januarie 1902. Die inligting in hierdie verslag het my regtig onkant gevang, om die minste te sê.
In Mexiko het ek in verskeie argiewe die uitgebreide korrespondensie tussen Ben en die destydse Mexikaanse president Francisco Madero opgespoor. Die omvang van Ben se betrokkenheid in die Mexikaanse revolusie en latere politieke lewe van dié land het my verras. Madero het ’n baie goeie vriend van Ben geword het nadat Ben hom gehelp het om die bewind van Mexikaanse diktator Porfirio Díaz om te werp, en hom sodoende in staat gestel het om die nuwe president van Mexiko in 1911 te word. Dit is Madero wat Ben as vredeskommissaris onder die Yaqui-Indiane aangestel het, en ook later ’n pos vir hom as Mexikaanse konsul in Duitsland bewerkstellig het. Daar is nog baie ander fassinerende ontdekkings wat ek gemaak het, soos Ben se betrokkenheid in Hollywood en ’n mislukte opstand in Mexiko, maar ek sal maar hier ophou.
Die subtitel van die boek is Die rustelose lewe van Ben Viljoen. En hoe waar is dié woorde nie. Hy was altyd aan die beweeg, altyd soekend, altyd aan die reis en verken. Kan jy ’n bietjie meer vertel oor die plekke wat Viljoen in sy tyd bewoon het?
Ben is in 1868 gebore, in ’n grot in die destydse Temboeland, naby waar die Oos-Kaapse dorpie Elliot vandag is. Hier het Ben, sy ouers, en sy drie ouers susters vir twee jaar gewoon terwyl sy pa besig was om vir hulle ’n eenvoudige huisie op hul huurplaas te bou. Toe Ben vier was, het die Viljoen-gesin na ’n ander huurplaas getrek, hierdie keer verder oos na die Umtata-distrik van Temboeland, waar hulle vir sowat ses jaar gewoon. Kort ná die uitbreek van die Negende Grensoorlog in 1877 het die Viljoens vir sowat vyf jaar teruggekeer na Robertson, waar sy ouers voor sy geboorte geboer het. Die Viljoens het teruggekeer na hul plaas in die Umtata-distrik toe Ben omtrent 15 jaar oud was.
Met die ontdekking in 1886 van belowende goudneerslae op die Witwatersrand het Ben se pa besluit om sy fortuin daar te gaan soek, en die 18-jarige Ben en sy jonger broer Chris saam met hom geneem. Hier het Ben aanvanklik in Johannesburg gewoon, daarna in Roodepoort, en toe vir sowat tien jaar in Krugersdorp. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899, en ná Ben as tweede volksraadslid vir die Johannesburg-kiesafdeling verkies is, het hy in Pretoria gewoon. Tydens die Anglo-Boereoorlog het Ben was Ben met sy manne aktief in Noord-Natal, sowel as Noord-en Oos-Transvaal. In die laaste paar maande voor sy gevangeneming in Januarie 1902 het hy etlike maande in die relatief rustige Pelgrimsrus gewoon.
Ná sy gevangeneming is Ben vir vyf maande op St Helena aangehou. Met sy vrylating het hy vir ’n kort ruk na Suid-Afrika teruggekeer. Daarna het hy vir die volgende drie jaar voortdurend gereis, eers van Suid-Afrika na Brittanje en Nederland, toe na die VSA en Mexiko, weer terug na Brittanje en Suid-Afrika, toe na St Louis in die VSA, waar hy omtrent die hele 1904 en ’n gedeelte van 1905 gewoon het.
In 1905 het hy geskei van sy vrou wat hy in Suid-Afrika agtergelos het, en met ’n Amerikaanse vrou getrou. Hulle het toe vir ’n paar maande op ’n Boerekolonie in die noordelike Mexikaanse deelstaat Chihuahua gewoon, voor hulle hulle in die Mesillavallei in die suidwestelike Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko gevestig het. Hier het hy grotendeels gewoon tot sy dood twaalf jaar later, maar onderbreek deur ’n drie jaar-verblyf in Kalifornië toe hy vir twee Amerikaanse magnate gewerk het, ’n drie- maande verblyf in Europa toe hy ’n Mexikaanse erekonsul in Duitsland was, asook ’n ses-maande verblyf in die westelike Mexikaanse deelstaat Sonora, toe hy ’n vredeskommissaris onder die Yaqui-Indiane was.
Jy het Suid-Afrika en die buiteland letterlik plat gereis al op die spoor van Ben Viljoen. Kan jy asseblief uitbrei oor die plekke wat jy besoek het?
Ek het al die plekke besoek wat ek in die vorige antwoord genoem het, insluitende Wrocław in Pole (destyds bekend as Breslau, toe nog deel van Duitsland) waar Ben in 1912 ’n ruk lank ’n Mexikaanse ere-konsul was. Ek was ook in Karlovy Vary in die Tjeggiese Republiek (destyds bekend as Karlsbad, en toe ook nog deel van Duitsland), asook Bad Reichenhall in Duitsland, by die rusoorde waar Ben probeer verligting kry het vir sy chroniese asma terwyl hy Mexikaanse ere-konsul in Duitsland was. Verder het ek afstammelinge van Ben op Roodeport en Oos-Londen besoek, asook op verskeie plekke in die Amerikaanse deelstate New Jersey, Nevada en Kalifornië.
Hoe skryf ’n mens só omvattend oor iemand wat jy nog nooit eers ontmoet het nie? Waar begin ’n mens? Wat is die grootste struikelblokke of uitdagings waarvoor jy te staan gekom het tydens die navorsingsproses? Hoe lank het dit jou geneem om die biografie te voltooi?
Die navorsing van Kansvatter het my ongeveer twee en ’n half jaar geneem, en die skryf so agtien maande. Ek het begin deur alles te lees wat al oor Ben Viljoen geskryf is, en omrede hy self ’n joernalis en skrywer was, ook alles wat hy self geskryf het. Daarna het ek alle historiese werke nagegaan waarin Ben se naam moontlik kon genoem wees. Ek het ook so wyd as moontlik gelees oor die gebeure waarby hy betrokke was, die tydperk waarin hy geleef het, en die plekke waar hy gewoon het, asook lewensverhale en werke van tydgenote van hom. Dit het my in staat gestel om ’n basiese begrip te vorm van wie Ben was en die tydsgees waarin hy geleef het.
Die volgende stap was primêre navorsing. Een aspek hiervan was om waar ek dit nodig geag het vorige skrywers se primêre bronne weer na te gaan, en soms te herinterpreteer. Uit my navorsing vir my Donker stroom het ek besef dat historici en biograwe soms onbewustelik ongemaklike feite oorsien, of selfs doelbewus ignoreer, wanneer dit ongunstig op hul onderwerp reflekteer, of nie inpas by die geheelbeeld wat hulle wil skep nie. In talle gevalle het hierdie proses dan ook nuwe leidrade en primêre bronne na vore gebring wat ek met vrug kon verder navolg. Onder andere het ek daarvan bewus geraak dat in argiewe in Nederland, Brittanje, die VSA en Mexiko daar inligting moet wees wat ander navorsers nog nie ontgin het nie, of slegs gedeeltelik ontgin het.
’n Ander aspek van my navorsing was om al die plekke te besoek waar Ben noemenswaardige tyd deurgebring het, of waar belangrike goed in sy lewe gebeur het. Ek het gevind dat dit op ’n manier my laat voel het dat ek deur Ben se oë kyk, en dat dit my gehelp het om myself in sy kop te verbeel. Soms het ek met hierdie besoeke ook inligting opgediep wat ek nie andersins sou nie. Afstammelinge was ’n ander belangrike bron – hul stories, alhoewel soms aangedik oor die jare, het my ’n goeie idee gegee van hoe Ben deur hulle onthou word. Persoonlike briewe en foto’s in familieversamelings het gehelp om insae in Ben se private lewe te gee. ’n Belangrike vonds in die VSA was ’n dagboek van Ben wat hy gehou het toe hy Mexikaanse ere-konsul in Duitsland was. Natuurlik het hy dit nie vir publikasie geskryf nie, en sy ongesensorde gedagtes het my insig in sy karakter gegee. Die grootste struikelblok waarvoor ek te staan gekom het, was om feit van fiksie te onderskei in wat Ben self geskryf het, en in wat tot dusver oor hom geskryf is.
Daar is al baie hieroor geskryf, maar wat dink jy maak van ’n skrywer ’n goeie biograaf?
Ek twyfel of ek bevoeg is om ’n behoorlike mening hieroor uit te spreek, aangesien Kansvatter my eerste volwaardige biografie is. Ek kan wel sê dat ek met die skryf van Kansvatter tot ’n groot mate Hans Renders, die Nederlandse deskundige oor die skryf van biografieë, se riglyne vir die skryf van ’n ideale biografie probeer volg het:
[It] is well written, with a form that owes to journalism. It must make it also clear that a life can only be understood in its relation to a whole historical context. The research methodology must include use of all available resources, with oral sources approached in an even-handed way, and every assertion substantiated by a source, which is the norm both in journalism and history. The subject’s private life should be used to explain and provide context for what is public.
Verder glo ek ’n skrywer het nuuskierigheid en deursettingsvermoë nodig om ’n volledige biografie te skryf. Jy moet elke moontlike leidraad opvolg, want soms kry jy nuwe inligting in die mees onverwagse plekke. ’n Biograaf moet ook die versoeking probeer weerstaan om ongemaklike feite te ignoreer en sy onderwerp te verheerlik. Aan die ander kant moet hy of sy ook nie onnodig krities wees nie. Ek het probeer om met empatie oor Ben te skryf, en om myself in sy skoene te plaas en te verstaan hoekom hy opgetree het soos hy opgetree het, maar sonder om van sy meer problematiese handelinge te probeer goedpraat.
In hoe ’n mate dink jy stem die beeld van die huidige generasie Afrikaners ooreen met dié van Ben Viljoen, indien enigsins? Dink jy jonger lesers sal aanklank by die boek vind juis as gevolg van sekere ooreenstemmings?
Ben was ’n vrydenkende wêreldburger en nou nie juis baie godsdienstig nie. Volk en vaderland was vir hom minder belangrik as eiebelang. Hy was nie plekgebonde nie; waar hy ’n geleentheid gesien het, het hy gegaan. Hy het hom nie gesteur aan tradisie of die kerk se voorskrifte nie, en was aanpasbaar en bereid om nuwe uitdagings aan te pak. Hy het ook geredelik met ander etniese en taalgroepe oor die weg gekom. Ek glo dit beskryf ’n beduidende deel van die huidige jonger generasie Afrikaners, en dat hulle moontlik hieroor meer geredelik by Ben Viljoen sal kan aanklank vind eerder as by een van die meer tradisionele figure uit daardie era.
Jy tree op by vanjaar se Toyota US Woordfees. Wil jy ’n bietjie meer daaroor vertel?
Ek praat op Maandag, 9 Maart 2020 om 09:30 in die Boektent met Fransjohan Pretorius, een van Suid-Afrika se bekendste geskiedkundiges en skrywer of redakteur van agt boeke oor die Anglo-Boereoorlog. Ons gaan gesels oor hoe ek Ben se spore gevolg het van Suid-Afrika na St Helena, Europa, Mexiko en die VSA, en wat ek daar uitgevind het. Ons sal onder meer doen aan die hand van foto’s wat ek in die argiewe en familieversamelings gevind het, asook foto’s wat ek self geneem het.
|
Kyk ook:
Kommentaar
Dankie ... 'n briljante nuwe perspektief ...goed nagevors ...!!