Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kondig met groot genoeë die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aan. 

Die pryse sal by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig word. 

Hierdie verklaring bevat die besonderhede van die bekronings vir 2023. Die bekroondes is waar moontlik reeds mondelings daaroor ingelig. 

Hertzogprys vir poësie

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie. 

Die Hertzogprys vir Poësie gaan vanjaar aan Antjie Krog vir Plunder.

Antjie Krog (Foto: Izak de Vries)

Die kortlys vanjaar is soos volg: 

  • Loit Sols – Moerstaal 
  • Antjie Krog – Plunder 
  • Nathan Trantraal – Oolog 

’n Gedeelte van die prysgeld word geborg deur Rapport. 

NP Van Wyk Louwmedalje

Die prys is een van die toppryse van die Akademie en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word. Dit word toegeken vir ’n betekenisvolle bydrae in die geesteswetenskappe, maar kan ook toegeken word aan persone wat werk van die hoogste gehalte gelewer het ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Gerrit van Wyk Kruger, emeritus professor in die Klassieke van die Universiteit Stellenbosch. 

Gerrit van Wyk Kruger (Foto: verskaf)

Gerrit van Wyk Kruger is een van die produktiefste akademici wat in Afrikaans publiseer. Hy word vereer teen die agtergrond van sy totale ouevre en besondere bydrae tot Klassieke studies in die Suid-Afrikaanse konteks, in Afrikaans, maar spesifiek en konkreet op grond van sy magnum opus, Die verhaal van die Griekse taal oor 35 eeue heen in Afrikaans. Nie net vereis dit besondere gespesialiseerde kennis van die ses hooffases van die Griekse taal (van oer-Grieks tot vandag) wat op sigself uniek is nie, maar word hierdie kennis ook op toeganklike wyse in Afrikaans gepubliseer. 

MT Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband soos in landsbelang. Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word. 

Die prys word vanjaar toegeken word aan Andreas Roodt, tans buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat. 

Andreas Roodt (Foto: verskaf)

Andreas Roodt se persoonlike akademiese prestasies blyk duidelik uit sy curriculum vitae. Sy voortgesette ondersteuning van en entoesiasme vir die bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal verdien erkenning. 

Die prys word geborg deur Sanlam. 

SA Akademieprys vir Drama

Die SA Akademieprys vir Drama is een van die toppryse van die Akademie en word toegeken vir ’n lewenslange bydrae tot drama in Afrikaans en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Chris van Niekerk. 

Chris van Niekerk (Foto: verskaf)

Chris van Niekerk is ’n bekende verhoog- en TV-akteur, maar dit is as woordkunstenaar wat hy genomineer is vir die prys. Dit is nie net sy onfeilbare aanvoeling vir register en melodielyn nie; hy gee lewe aan verskillende karakters op ’n manier wat hulle groter as lewensgrootte in die verbeelding van die luisteraar maak, wat die persoonlikheid, aksent, sosiale klas en menslike drama van elkeen vasvang soos wat geen TV-reeks of film ooit sou kon nie, want die eenvormigheid van stem in al sy wonderlike variasies is soos ’n spreekbuis vir die skrywer self. Chris van Niekerk het ’n stem, ’n instinktiewe begrip van die teks en hoe dit gelees moet word wat herinner aan ’n musikus se bladleesvermoë. Dit is ’n talent wat net so skaars is soos ’n buitengewone stem by ’n sanger/es en waarmee hy sy moedertaal en die Afrikaanse en vertaalde letterkunde dien op ’n manier wat miskien nie weer geëwenaar sal word nie. 

Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste draaiboek in Afrikaans, om die beurt vir ’n TV-drama, dokumentêre program of rolprent. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Nico Scheepers vir Donkerbos Episode 8. 

Nico Scheepers (Foto: verskaf)

Televisiedraaiboeke het lankal ’n versadigingspunt bereik wat speurdramas betref. Maar Nico Scheepers, in sy beskrywende, meelewende en onthutsende draaiboek, vernuwe die plaaslike draaiboeklandskap. Die teks is so kundig gekonstrueer, dat selfs die leser reeds op papier die beeld kan sien vorm. Hy ontwikkel sy veelvlakkige tema behendig en die dialoog is volkome praatbaar. Selfs die draaiboekaanwysings het ’n poëtiese, visueel-beskrywende kwaliteit wat aansluit by die tragedie wat met elke toneel verdiep. Hier word ekonomiese beskrywings en metafore gebruik om die storie selfs meer ambivalent te maak. Scheepers ontmasker eietydse probleme wat daagliks in ’n geplunderde land afspeel sonder om politiek-korrek te wees of op effek-bejag staat te maak. Hy is skrynend eerlik en laat die kyker verbysterd en gelate, maar met ’n sprankie hoop. 

LW Hiemstraprys vir Niefiksie

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie. 

Die prys word toegeken aan Eunice Visser vir Die Kaapse slawe 1652–1838. 

Die kortlys is soos volg: 

  • Dan Sleigh – Retoervloot 
  • Nicol Stassen – Van Humpata tot Upingtonia 
  • Francois Durand – Die menslike dieretuin 
  • Eunice Visser – Die Kaapse slawe 1652–1838 

Die prys word geborg deur die Hiemstra Trust. 

SA Akademieprys vir Vertaalde Werk

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir vertalings in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal. By die beoordeling van die vertaling word onder andere ook gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne die eie letterkunde geniet. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Fanie Olivier vir Wanneer gode slaap.

Fanie Olivier (Foto: verskaf)

Die kortlys is soos volg: 

  • Daniel Hugo – Die verdriet van België 
  • Fanie Olivier – Wanneer gode slaap 
  • Wium van Zyl – Diereplaas 
  • Robert Schall – Wat ek van klippe weet 

Eugène Marais-prys vir prosa

Die prys word toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans. Sedert 2023 word die prys jaarliks om die beurt toegeken vir prosa die een jaar en vir poësie en drama die volgende jaar. 

Die Eugène Marais-prys vir Prosa word toegeken aan Kirby van der Merwe vir Eugene.

Kirby van der Merwe (Foto: verskaf)

Die kortlys is soos volg: 

  • Ruan Kemp – Wit leuen 
  • Kirby van der Merwe – Eugene 
  • Carien Smith – Bot 
  • Dianne Du Toit Albertze – Bottelnek breek bek 

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur Rapport. 

CL Engelbrechtprys vir Letterkunde

Die prys word om die beurt vir letterkunde en vir taalkunde toegeken. Elke afdeling kom elke vyfde jaar aan die beurt. 

Die prys word toegeken aan SJ Naudé vir Dol heuning.

SJ Naudé (Foto: verskaf)

Protea Boekhuistoekenning

Die prys kan jaarliks toegeken word en roteer tussen ’n gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans. Dit word vanjaar toegeken aan die beste gepubliseerde werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans in die afgelope drie jaar. 

Hetta van Deventer-Terblanche ontvang vanjaar die prys vir haar M-verhandeling met die titel: “Die koskultuur en geskiedenis van die Westpalm-reseptemanuskrip (Manuskrip SB 522), circa 1719–1888”. 

Hetta van Deventer-Terblanche (Foto: verskaf)

Die studie getuig van uitgebreide primêre en sekondêre navorsing. Die navorser toon besondere insig in die onderwerp en deeglike ondersoek is gedoen om die reseptemanuskrip te dateer en die samestellers daarvan te identifiseer. Ook is die historiese en sosiale konteks waarbinne dit ontstaan het deeglik aangedui. Die studie lewer ’n oorspronklike bydrae tot die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse kookkuns en is van kultuurhistoriese belang. 

Die prys word geborg deur Protea Boekhuis. 

Erepenning vir Kuns

Die Erepenning word toegeken vir prestasie in die kunste (visuele- of uitvoerende kunste wat die kunslied insluit). 

Vanjaar word die prys toegeken aan Franco Prinsloo, musiekkomponis van Pretoria. 

Franco Prinsloo (Foto: verskaf)

Prinsloo het hom in minder as twee dekades as een van die voorste, opwindendste, en stellig aktiefste komponiste in Suid-Afrika gevestig. Hy word vandag as spesialiskomponis van koor- en vokale musiek geag wat hom veral toespits op die uitbouing en bevordering van die Afrikaanse kunslied en Afrikaanse kinderkoormusiek. Dit is noemenswaardig dat Prinsloo reeds opdragwerke vir van die wêreld se (letterlik) topkore en -musici gelewer het, onder meer The King’s Singers (Engeland), Kammerchor Vocalisti (Duitsland), die Universiteitskoor Stellenbosch (Suid-Afrika), die Duitse botoonsanger Anna-Maria Hefele, en die Collegium Musicale-kamerkoor (Estland). 

Benewens sy meer ernstige klassieke musiek kan sy kontemporêre klassieke musiek nie buite rekening gelaat word nie, veral die klankbane wat hy reeds vir die groot- en kleinskerm geskryf het, insluitende onder meer die rolprente Wonderlus (2016), Meisies wat fluit (2020), en die treffer-televisiereekse Nêrens, Noord-Kaap (2021) en Donkerbos (2022). 

Erepenning vir Geesteswetenskappe

Die Erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. 

Vanjaar word die prys toegeken aan Corine de Maijer, vorige bibliotekaris en informasiedeskundige in die biblioteek van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam. 

Corine de Maijer (Foto: verskaf)

Corine de Maijer was twintig jaar lank (1999–2019) bibliotekaris en informasiedeskundige in die biblioteek van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam. Sy het tydens dié twee dekades uitstekende werk verrig om die Suid-Afrikaanse letterkunde, spesifiek die Afrikaanse taal- en letterkunde, in Nederland en België en in Europa in die algemeen te bevorder. 

Jacques van der Elstprys

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste artikel wat in ’n bepaalde jaar in die Tydskrif Vir Geesteswetenskappe verskyn het. 

Die redaksie beveel aan dat die prys vanjaar toegeken word aan Johann Beukes vir die volgende twee artikels: 

  • Hendrik van Harclay (ca.1270–1317) se kritiese Skotisme, afgelei uit sy Quaestiones Ordinaire (1312–1317), Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 2021, 61(1):259–281 
  • Sintuigmetaforiek in die Summa Aurea (ca.1220) van Willem van Auxerre (ca.1140–1231), Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 2021, 61(3):633–654. 

Johan Beukes (Foto: verskaf)

Havengraprys vir Lewenswetenskappe

Die Havengapryse is ’n jaarlikse prestigeprys wat vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied toegeken word. Die prys kan net een maal aan ’n persoon toegeken word. 

Die prys word vanjaar toegeken aan Gideon Malherbe Wolfaardt, professor in Mikrobiologie by die Universiteit Stellenbosch. 

Gideon Malherbe Wolfaardt (Foto: verskaf)

Wolfaardt het gedurende sy loopbaan fundamentele en toegepaste navorsing binne verskeie omgewingsvolhoubare temas gedoen, insluitende waterbehandeling en waterbronbestuur, die impak van mikrobesoedelstowwe, mikrobiese omskakeling van biomassa, bestuur van mynafloop en radioaktiewe kernafval, asook die interaksies van mikroörganismes met hul fisies-chemiese en biologiese omgewings. 

Sy samewerking met die Universiteit van Bath op mikrobesoedelstowwe het Wolfaardt op die voorgrond vir die identifisering van mikrobesoedelstowwe en water- en afvalwater epidemiologie geplaas. 

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Plantkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige en plantkundige wetenskappe). 

Die prys word vanjaar toegeken aan Chanel Pretorius vir haar verhandeling “Metabolomic Analysis of Oat (Avena sativa) Plants: A Strategy for Cultivar Identification and for the Characterisation of Host Responses to Pathogen Infection”. 

Chanel Pretorius (Foto: verskaf)

Douw Greeffprys vir die beste artikel wat in 2022 in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gepubliseer is

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is. 

Die prys word vanjaar toegeken word aan L Boardman en TC de Klerk vir hulle artikel: ’n Multinavorsingsmodel toegerus met sagteware-instrumente vir die afstandanalisering van rotskunsdata: Bosworth-plaas gevallestudie, SATNT, 41(1), 2022. 

Poortprys

Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in grade 10, 11 en 12 wat aan die Poortkompetisie deelgeneem het. 

Die pryse word vanjaar toegeken aan: 

  • Poësie: JD Carr van die Hoërskool Upington vir sy gedig v-e-r-l-i-e-f
  • Prosa: Mila van Niekerk van die Hoërskool Outeniqua vir My grootste vrees

Beste ontwerp vir die Poort-boekie se voorblad vir 2023

Marlize Theron van die Hoërskool Sentraal, Beaufort-Wes

Lees ook:

Persverklaring: Wenners van die 2023-UJ-debuutprys en die 2023-UJ-prys

Om nadenkend te leef: kantaantekeninge by ’n paar gedigte van Antjie Krog

Donkerbos: ’n TV-resensie

Donkerbos en Menseregtemaand: ’n onderhoud met Nico Scheepers

Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief by Eunice Bauermeester: book review

"Wanneer gode slaap": Fanie Olivier deel sy ervaring van vertaalwerk aan ’n groot Belgiese Eerste Wêreldoorlog-roman

Wanneer gode slaap deur Erwin Mortier: ’n FMR-resensie

Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking

LitNet Akademies-resensie-essay: Dol heuning deur SJ Naudé

Poëtiese taal: Dol heuning deur SJ Naudé, ’n resensie

Dol Heuning deur SJ Naudé – ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top