Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking

  • 1

Eugene
Kirby van der Merwe
Human & Rousseau

ISBN: 9780798182645

Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap. In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.

Lees ook ander besprekings in Chris se leeskringreeks: 

Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck: ’n leeskringbespreking

Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking

Kompoun deur Ronelda Kamfer: ’n leeskringbespreking

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking

.............
Dit titel van Kirby van der Merwe se roman Eugene gee met een woord die sentrale tema aan. Dit gaan om die aard en die ontwikkeling van die hoofkarakter – ’n “gentleman-skollie” (22), ’n geleerde en gesofistikeerde man, maar gevorm deur die rowwe buurt waarin hy grootgeword het.
.............

Dit titel van Kirby van der Merwe se roman Eugene gee met een woord die sentrale tema aan. Dit gaan om die aard en die ontwikkeling van die hoofkarakter – ’n “gentleman-skollie” (22), ’n geleerde en gesofistikeerde man, maar gevorm deur die rowwe buurt waarin hy grootgeword het. Veral twee faktore speel ’n rol in sy lewe: die “kampong” waarin hy as kind gebly het, en die politieke opstande waarby hy as volwassene betrokke geraak het. Sy naam, Eugene, hou verband met ’n lied van Pink Floyd: “Careful with that axe, Eugene” (98). Eugene het in ’n gewelddadige omgewing grootgeword, en dit het sy merk op hom gelaat. Daar is geweld oral om hom en gewelddadigheid in hom; hy moet oppas vir die gevaar van die byl.

Daar is twee stukke vooraf, voordat die storie begin, wat heenwys na sentrale aspekte van Eugene se lewe. Die eerste een is ’n vertaling van ’n gedig van Bertolt Brecht. Die spreker in die gedig, Brecht, kom uit die “swart woude”, en iets van die “kilte van die woude” het in hom oorgebly. So ook kom Eugene uit ’n donker agtergrond van geweld, waar primitiewe drifte dikwels hoogty vier; dit het ’n “kilte” in hom gelaat, ’n gebrek aan warm medemenslikheid en deernis. Baie van die onheile in Eugene se kampong vind in die bloekombos plaas, sy eie variasie op Brecht se swart woud. Tussen mense sit Brecht ’n “harde keil” op, want dit is wat almal doen – hulle is “diere met ’n eienaardige reuk”. So ook moet Eugene hard word in ’n harde omgewing, waar mense soos diere optree, en hy merk ’n gevaarlike “bobbejaan” om hom en in hom. Dis ’n verraderlike wêreld, en hy self is ook “iemand op wie julle nié kan staatmaak nie”. Hy is “verwek in die swart woude” en hy het “verval in die asfaltstede” – dit is kortliks sy verhaal.

Die tweede voorafstuk kom presies ooreen met ’n vertelling van die polisie se marteling van iemand om inligting uit hom te kry (176). Die leser weet hier nog nie wie martel en wie die gemartelde is nie, maar ’n belangrike tema word reeds aangedui: die opstand teen die apartheidsregering en die wreedhede wat die polisie teenoor die “terroriste” gepleeg het. Op hierdie tema word uitgebrei in die derde afdeling van die roman, “Pondok – 1980”.

Die storie van Eugene word nie chronologies vertel nie. Dit begin in 2017, dan volg ’n afdeling oor die lewe in die kampong (1960–1976), daarna twee afdelings wat tydgewys ná aan mekaar is (1980 en 1980–1981), en die roman word afgesluit met twee dele wat albei (weer) in 2017 afspeel. Die begin en die einde vorm dus as ’t ware ’n raam vir die vertelling: Vanuit die hede word van die verlede vertel, van die gebeurtenisse wat ’n bepalende invloed op die vorming van Eugene gehad het. Hede en verlede is verstrengel; die Eugene van die hede (2017) kan nie begryp word sonder om die verlede te ken nie.

...........
Daar is nie ’n eksterne verteller in die roman nie; alles word deur Eugene se oë waargeneem. Dit is sy subjektiewe weergawe – hy vertel wat hy wil vertel en wat vir hom belangrik is om mee te deel. Die leser vermoed, wanneer die roman klaar gelees is, dat Eugene nie net openbaar wat gebeur het nie, maar miskien ook dinge wegsteek wat hy nie graag wil onthou of bekendmaak nie.
............

Daar is nie ’n eksterne verteller in die roman nie; alles word deur Eugene se oë waargeneem. Dit is sy subjektiewe weergawe – hy vertel wat hy wil vertel en wat vir hom belangrik is om mee te deel. Die leser vermoed, wanneer die roman klaar gelees is, dat Eugene nie net openbaar wat gebeur het nie, maar miskien ook dinge wegsteek wat hy nie graag wil onthou of bekendmaak nie.

1. Vierde laan – 2017

Die afdeling begin met Eugene wat in ’n kafee sit en wag op Alan. Dis ’n spanningsvolle gewag wat allerlei raaisels bevat en allerlei vrae oproep. Alan of Jenny het hom verraai “om hom so kniediep in die kak te kry” (17), word gesê. Wie van die twee het hom verraai, en in watter moeilikheid het hy beland? Het een van die twee hom werklik verraai, soos wat hy dink? Waarom hou Alan nie by die afspraak dat hulle mekaar in die kafee moet ontmoet nie – vertrou hy dalk nie die vrede nie? Daar is inderdaad sprake van weerwraak by Eugene – sy “teenskuif is die boek met die ziplock-sakkie binne-in voor hom op die tafel” (17). In die sakkie is daar ’n geskrif wat kennelik van groot belang is – dit begin so: “Bella, ek weet ek gaan nooit weer jou mooi gesig sien nie. Maar ek hoop jy kry my afskeidsbrief. Ek is gisteroggend opgetel ...” (16 – skuinsdruk in die roman). Wie is Bella? En wie het die “afskeidsbrief” geskryf? Op watter manier kan Eugene dit gebruik om wraak op Alan te neem? Die antwoorde op hierdie vrae word eers aan die einde van die roman gegee, en die raaiselagtige begin is ’n uitstekende strategie om die leser se belangstelling te wek.

Baie van die dinge wat skynbaar terloops genoem word, blyk later van wesentlike belang te wees. Die getatoeëerde vrou wat vir hom ’n bier bestel en dan die kafee verlaat sonder dat hulle met mekaar gesels, blyk later die vrou te wees wat vir hom (moontlik) die liefde kan gee wat hy nodig het. Dis ’n verrassende moontlikheid, want die eerste beskrywing van haar laat die leser nie so ’n verwikkeling verwag nie: “Sy’s groot, mannerig, breë skouers en getatoeëerde, gespierde arms, nou heupe in jeans” (20). Eugene se lewe word deur onverwagte wendinge gekenmerk.

Die boek wat Eugene in die moeilikheid laat beland het, sê hy, is Pulp fiction, die roman-weergawe van die film van Quentin Tarantino. Dit is Jenny se boek; hy het dit voos gelees en toe die plastieksakkie met die afskeidsbrief aan Bella daarin in die boek gesit. Die boek is wat hom “indirek in hierdie gemors laat beland het”, dink hy (20). Waarskynlik het Jenny se boek hom herinner aan “hulle moerse, ineengestrengelde back story” (66) en hom tot wraak teen Alan aangespoor. Maar daar is ook ’n tweede interpretasie van die Pulp fiction-verwysing moontlik: Dit is hierdie “voos geleesde” boek wat aan die skrywer, Kirby van der Merwe, die idee gegee het vir die roman. Soos Pulp fiction, is Eugene ’n verhaal vol misdaad, geweld en verraad, met die suggestie van ’n moontlike verlossing aan die einde. Soos in Pulp fiction word verskillende verhaaldrade ineengevleg en word die storie nie chronologies vertel nie. Die skrywer het dus as ’t ware sy eie “plastieksakkie” ingevoeg in Pulp fiction, die model waarop die roman Eugene ’n oorspronklike variasie is. Van der Merwe se roman moet minstens twee keer gelees word om die sin van al die verwysings en die ineengestrengelde verbande te snap.

Twee verdere vertellinge kom in die eerste afdeling voor: die vertelling van hoe hy ’n man doodgemaak het in die Walter Sisulu Botaniese Tuin in Witpoortjie, en die vertelling van die kortstondige verhouding met Helena. Eugene herbeleef die gebeure in die Botaniese Tuin met homself as die sterk man wat twee mans verslaan en wat heeltemal onskuldig is aan moord – hy het homself immers net verdedig. Dit laat die leser wonder of hy nie met hierdie weergawe homself probeer verontskuldig nie – veral in die lig daarvan dat hy nou van moord aangekla word op grond van wat gebeur het. Die episode is ook van belang omdat dit met die sentrale tema van geweld en gewelddadigheid verbind word – geweld in Eugene se buurt en gewelddadigheid in homself. Eugene onthou dat hy van kleins af geleer het om sy man te staan – “hy was altyd ’n bakleier en klipgooier van formaat” (28) – en verder: “So klein soos hy was, was hy game vir ’n fight” (29).

...........
Die verhouding met Helena, ’n getroude vrou, loop op ’n totale mislukking uit. Dit bring ’n verdere tema na vore: die afwesigheid van ’n bestendige, liefdevolle verhouding in sy lewe. Helena verwyt hom, waarskynlik tereg, sy gebrek aan deernis, en voeg by: “Jy wil my my humanity laat verloor. Jy wil my verander, my hard maak soos jy” (56). Sy huwelik was ook ’n mislukking – dit het op ’n egskeiding uitgeloop, en die herinnering daaraan is soos uitwerpsel wat hy in die toilet wil afspoel (42). Eugene het ’n geskiedenis van mislukte verhoudings, miskien ten dele veroorsaak deur die hardheid wat deel van hom geword het.
.............

Die verhouding met Helena, ’n getroude vrou, loop op ’n totale mislukking uit. Dit bring ’n verdere tema na vore: die afwesigheid van ’n bestendige, liefdevolle verhouding in sy lewe. Helena verwyt hom, waarskynlik tereg, sy gebrek aan deernis, en voeg by: “Jy wil my my humanity laat verloor. Jy wil my verander, my hard maak soos jy” (56). Sy huwelik was ook ’n mislukking – dit het op ’n egskeiding uitgeloop, en die herinnering daaraan is soos uitwerpsel wat hy in die toilet wil afspoel (42). Eugene het ’n geskiedenis van mislukte verhoudings, miskien ten dele veroorsaak deur die hardheid wat deel van hom geword het.

Eugene onthou die besering wat Ben Kabounie, ’n swart man in hul kampong, opgedoen het, waarskynlik toe hy aan ’n lewende kragdraad geraak het. “Sy kop en lyf is oortrek met ’n netwerk blink swelsels, hale [...] asof hy met ’n witwarm draad geslaan is” (21). Dit bly Eugene by, want “as ’n klein klonkie al was Eugene gefassineer deur die lewe se moedswillige mote, merke en insnydings op mense se lywe” (21). Sy eie verhaal is inderdaad ’n verhaal van verwonding, van “merke en insnydings op mense se lywe”.

2. Kampong – Boland, 1960–1976

Kirby van der Merwe is ’n knap verslaggewer, en in hierdie afdeling kry die leser as ’t ware ’n geloofwaardige “verslag” van die mense en die leefwyse van die kampong. Die armoede en geweld, die drank en die dwelms maak die lewe bitter, en tog word daar met ’n tikkie nostalgie teruggedink aan die wêreld van sy jeug – hoe die mense aangetrek het, wat hulle gedoen het, watter vriendskappe gesluit is.

Binne die konteks van die roman is dit egter veral van belang watter invloed sy jeugjare op hom gehad het. Eugene kry sy eerste “merke en insnydings” in die kampong waarin hy grootgeword het. Sy pa het twee erwe op skuld gekoop “in een van die krotbuurte in die gebied gereserveer vir Kaapse Kleurlinge ingevolge die Groepsgebiedewet van 1950” (69). Mettertyd het sy pa ’n gerieflike drieslaapkamerhuis op die een erf gebou, sodat Eugene in relatiewe gerief kon grootword, maar agter hulle huis, op sy pa se tweede erf, was daar afdakke en bousels wat sy pa verhuur het wat van groot armoede en ellende getuig. Uiters plasties is die beskrywing van die bousels en rommel op die erf:

Verder agtertoe, op die ander erf, is die eintlike jaart, ’n klein kampong van sinkhokke, bousels en kasarms afdakke vol sakke droë sopbene, hope empties, skrootmetaal, kartonbokse, stapels karton, paraffienblikke vol skroewe, moere en geroeste spykers, konkas vol ou motorolie en ratkasolie. Plus ’n hoenderkamp, varkhok en beeskraal wat aan die ander straat grens. (69)

Die Groepsgebiedewet het die bruin mense afgekamp in ’n krotbuurt, en in so ’n omgewing moet jy vernuftig wees om die armoede te ontduik en die geweld te oorleef. Dit is hierdie tipe rassistiese wetgewing wat tot die opstande lei waarvan later in die roman vertel word.

Eugene se ouers is die hele dag weg van die huis, en hy word deur Meisie opgepas. Sy neem hom elke dag saam na die smokkelhuis, waar sy lekker met die manne gesels en saam met hulle drink en dagga rook. Meisie lyk ordentlik voor Eugene se ouers, maar sy voer ’n gevaarlike bestaan waarin geweld dikwels uitbreek. Wanneer sy na ’n dansparty gaan waar rowwe elemente aanwesig is, kom sy onherkenbaar terug: “Haar gesig en kop is opgeswel, haar kop letterlik rond soos ’n pampoen, sodat die oë en mond splete daarin is” (86). Uiteindelik blyk haar totale verwording as gevolg van die lewe wat sy gelei het: “Die misvormde gesig, oortrek met kepe en mote van jare lange abuse en fights” (230). Dit is die vrou in wie se teenwoordigheid Eugene die meeste van sy kinderjare deurbring.

Gesins- en ander geweld is nie ongewoon in die kampong nie. Beauty, ’n vrou met ’n pragtige stem, is getroud met ’n besitlike man wat haar dikwels met sy kierie slaan en haar uiteindelik doodslaan (95). In die nag gebeur daar verskriklike dinge in die omgewing:

Snags hoor jy dikwels die hulpkrete van ’n vrou wat verkrag word in die donker. Maar niemand gaan haar help nie. Wag tot ligdag. Gaan kyk dan na die lyk in die gras, of die lyk van ’n vroeggebore kindjie, pap en swart-blou, halfpad in ’n blou plastieksakkie vasgespoel in die waai van die stroompie op ’n eilandjie van fyngespoelde sand. (122)

Dit is ’n omgewing waar oorlewing ’n kuns is. Die vertoning van die man op die motorfiets teen die Wall of Death, waarna Eugene gaan kyk (105), is vir hom ’n opwindende voorbeeld van hoe uitdagend ’n mens kan leef – maar daar is baie valstrikke.

Wanneer die ma van Alan, Eugene se latere boesemvriend, met haar kinders by die kampong aankom, is hulle in ’n haglike toestand. “Hulle is maer, uitgedroog en tam [...] Die kinders is verslae van honger” (78). Maar die ma weet hoe om te oorleef. Sy trek by Ben Kabouni in en kry sodoende blyplek en geld. Wanneer Ben die spoor byster raak en vir ’n maand verdwyn, verruil sy haar blyplek en gaan woon by “Mister Holletjies”, die “paymaster by die grootste fruit-canning factory” (97). Nou het sy ’n woonplek by iemand met nog meer geld, maar “bedags naai hy die factory-meide agter in die gangetjies tussen houtkratte en hout-pallets”. Alan se ma weet wat sy moet doen om te oorleef – sy gee haar liggaam vir die man wat sekuriteit aan haar en haar kinders kan bied – en Eugene kry nêrens ’n voorbeeld van ’n bestendige liefdesverhouding tussen man en vrou nie.

In sy kinderjare is Meisie die vrou wat sy lewe rig; as student is Pinky en Ginger sy rolmodelle. Hy en Alan “is in awe van die ouer Pinky en Ginger” – “hulle is die twee girls se gewillige skoothondjies en bodyguards” (108). Die twee meisies steur hulle aan geen reëls van fatsoenlikheid nie. Hulle leef in ontug en drink mateloos; hulle het respek vir niemand nie en manipuleer die mans in hul lewe. Pinky deel ’n kamer en slaap met ’n man wat sy beskryf as ’n “fokken lelike skoolhoof-onderwyser” (115). Ginger en ’n onderwyser maak trouplanne, hoewel sy geen teken van liefde toon nie en hy nie ’n betroubare persoon is nie. ’n Verlowingsparty word gereël wat in chaos ontaard. Wellustige gay mans daag op wat Eugene in ’n motor laat skuiling soek; Ginger verdwyn spoorloos; haar verloofde gaan, in ’n onderbroek geklee, by die een kar in en kom later by ’n ander kar uit. Die volgende oggend is al die mans wat na die party genooi is, nie meer flambojant soos die vorige aand nie; hulle is “vuil, babbelas en vulgêr” (120). Dit is die omgewing waarin Eugene as jongman verkeer.

Eugene is ’n tipe reisende karakter deur wie die leser sy omgewing leer ken. Eugene en Alan gaan op soek na Mandy, Alan se penvriendin wat ’n halfkaal foto van haarself aan hom gestuur het. By die plek aangekom wat Mandy as haar adres gegee het, ontmoet hulle net ’n groot vrou “in ’n blou overall en gumboots, hare wat in alle rigtings staan”, wat hulle in die grofste taal uitskel (129). Dan besluit hulle om Alan se niggie, wat daar naby woon, te besoek, maar dit lei tot nog ’n teleurstelling – dis ’n “triestige huis, triestige niggie, triestige hond” wat hulle teenkom (132). Vir ’n kort tydjie ontsnap Eugene na twee meisies wat drie huise verder woon, maar net wanneer hy dit begin geniet in hulle geselskap, roep Alan hom terug na sy niggie se huis. “Die stank in die huis is soos ’n soliede muur” (133), en hulle kry droë groen-blou opgewarmde lewer om te eet (134).

Hierna word Eugene en Alan se treinreis na Johannesburg beskryf. Daar is ’n groot verskil tussen die treinwaens waarin die blankes mag ry en dié wat vir ander rasse gereserveer is. Laasgenoemde se waens is oorvol, en diefstal en geweld is algemeen. Eugene ry net vir geselskap saam met Alan; hy keer ’n dag later terug na die Kaap. In hierdie gedeelte word die struktuur van die roman taamlik los. Dit bied wel ’n insiggewende verslag van die toestande van die bruin mense in die jare van apartheid, maar die gebeure is nie altyd van belang vir die uitbeelding van Eugene se karakter nie en dit lei soms nêrens heen in die intrige nie – die treinreis na Johannesburg is ’n voorbeeld.

Die afdeling sluit af met ’n gedeelte wat wel deeglik met die geheel geïntegreer is: die vertelling van die studente-opstande van 1976. Dit is voorberei deur die vertelling van die Paarlse onluste van 1962 (87 ev) en dit berei voor op die volgende afdeling, waarin die opstand teen die regering ’n sentrale tema is. Alan se ouer broers, Joe (die oudste) en Huey, is politieke aktiviste, en Joe dwing Eugene om aan hul aktiwiteite mee te doen. Eugene is onwillig en doen nie wat van hom gevra word nie, maar later sal die politieke aktivisme van Alan en sy broers wel ’n bepalende invloed op sy lewe hê.

Die opstand van 1976 word deur geweld gekenmerk: geweld deur die opstandelinge, maar veral geweld deur die polisie. Hulle skop en slaan die betogers; hulle gebruik traangas en donshael; selfs teenoor kinders is hulle gewelddadig. Terwyl Eugene niks meer doen as om na die betogings te kyk nie, ly hy swaar onder die knuppels van die polisie. Hy onthou, terwyl hy geslaan word: As hulle jou slaan, moet jy net sorg dat jy nie val nie, want as jy val, slaan hulle jou dood (145–6). Dit is ironies dat wanneer Eugene na die skokkende film Earthquake kyk, die bioskoop vir hom veiligheid bied – die optrede van die polisie is veel meer skokkend as die dinge wat in die film vertoon word (148). Hierdie ervaring van polisiegeweld sal ’n blywende invloed op Eugene hê: “die lyf onthou” hoe hy deur die polisie geslaan is (149). Beteken dit dat hy later bang sal wees om weer so ’n lyding te ondergaan?

3. Pondok – 1980

Vier jaar het verby gegaan, en hierdie afdeling begin met Eugene se aankoms in Hillbrow, waar hy Alan en Huey ontmoet, met wie hy vir ’n tyd lank onwettig in ’n woonstel saam met ander aktiviste en haweloses plak. Joe en sy meisie Bella, die twee voorste politieke aktiviste, is nie daar nie, en dit is ’n misterie wat van hulle geword het – dié raaisel sal eers heelwat later opgelos word. Dit is daar in Hillbrow, onthou Eugene, waar hy en Jenny, Alan se meisie, mekaar die eerste keer werklik ontmoet het (153). Al gou is hy smoorverlief op haar, en daar ontwikkel ’n vuurwarm verhouding sonder dat Alan daarvan weet – of so dink hulle. Hiermee kom die tema van verraad na vore – ’n tema waarop later uitgebrei sal word en wat die politieke aktiviste sal insluit.

Alles verander wanneer die veiligheidspolisie ’n klopjag op die woonstel uitvoer en die inwoners aanrand en arresteer. Eugene slaan op die vlug en kies koers na die Kaap. Op pad, in die Vrystaat, beland hy in groot moeilikheid. ’n Swaar hand val op sy skouer, en ’n man sê, baie beleef, vir hom: “Kom, jou fokker!” (170). Die man blyk later ’n dominee te wees, maar hy is eintlik ’n terroristejagter. Hy laai Eugene in sy motor, waar drie fris boere sit, en ná ’n besoek aan die aanklagkantoor, waar geen aanklag gelê word nie, ry hulle met hom op ’n verlate pad en slaan hom met die vuis teen sy kop en rug en ribbes. Daarna neem hulle hom na ’n plaas en sluit hom in ’n buitekamer toe. Die volgende dag kom die beleefde dominee hom haal en neem hy hom na die huis van die vrou waar die dominee ’n “seksuele huisbesoek” doen en waar die vrou se kinders hom met ’n tuinslang natspuit vir die pret.

Hierdie gedeelte is veral belangrik omdat dit toon hoe Eugene die kluts kwyt raak ná die marteling wat hy ondergaan het. Op die vraag van die vrou aan die dominee waar hy die persoon kry, vertel die dominee hoe die man gemartel is. Dit is presies dieselfde vertelling wat aan die begin van die roman staan. Dit slaan duidelik op wat met Eugene gebeur het, maar hy dink: “Van wie praat die ou?” (176). Hy wonder of dit oor Huey gaan, “wat dieselle pad as hy gevat het”. Eugene is nou heeltemal verward, want hy weet immers nie wat van Huey geword het nie, en hy weet hoegenaamd nie dat Huey dieselfde pad as hy gevat het nie. Moontlik het hy breinskade opgedoen, soos wat hy later dink wanneer sy oorlede pa en ma saam met hom begin stap op pad na die Kaap: “Skade, dink hy, breinskade van die moerse klomp houe vandat daai donners hom in die dominee-Mercedes begin moer het. Sy kop raas, of hy’s op ’n crazy trip” (190). Dit is ook moontlik dat hy die tipiese nagevolge van ’n intense trauma vertoon: Die rasionele deel van die brein word onderdruk, sodat dit wat te pynlik is om te onthou, uit selfbeskerming verdraai en vergeet word.

In hierdie gedeelte kom die bobbejaanmotief sterk na vore. Die bobbejaan verteenwoordig die irrasionele skadukant van die psige wat die mens bedreig maar ook kan bevry. Die bobbejaan lei hom uit sy gevangeskap op die plaas (178), wat kan beteken dat die “bobbejaan” verligting bring deur hom onbewus van die pynlike werklikheid te maak. Dit is interessant dat die bobbejaan meestal in die nag sy verskyning maak – die tyd waarin irrasionele gedagtes dikwels die botoon voer voordat die lig van die dag aanbreek. Die bobbejaan vertel allerlei “bobbejaanstories” aan hom: oor ’n man wat deur ’n vreemde hondbobbejaan geteister word, ’n meisie wat seks het met ’n tokkelos, ’n leeu wat in ’n kombuis inloop, en ’n spook wat in die bloekombos verskyn. Hierdie stories dui moontlik op die irrasionele kant van die psige, ’n skadusy wat normaalweg deur die rasionele deel van die brein onderdruk word. Die houe wat Eugene op sy brein gekry het, laat egter die irrasionele element na bo kom, met die gevolg dat hy vreemde, angsaanjaende stories registreer.

Dit is asof Eugene in die onbewuste indaal. Hy kry ’n visioen van die dominee wat verongeluk het (184) – is dit ’n illusie, ’n wensdroom of ’n profesie? Navorsing het getoon dat die onbewuste tydloos is en dat die toekoms vanuit die onbewuste, byvoorbeeld deur drome, geopenbaar kan word – is dit hier die geval? Eugene vertel die bobbejaan van Jenny se herkoms, ’n verhaal wat heeltemal bots met wat hy eers vertel het, dat hy Jenny vir die eerste keer as tiener by ’n sirkus opgemerk het (104), en dat hy haar eers in Hillbrow werklik leer ken het (153). Nou vertel hy aan die bobbejaan: “Hy ken haar so te sê van haar geboorte af. Sy was ’n pap baba toe hy haar die eerste keer gesien het” (185). En dan kom hy met ’n verhaal oor Jenny se herkoms wat glad nie geloofwaardig klink nie. Haar ouma is ’n “Temboe-meid” wat graag met ’n tokkelossie gesels het, sê hy (194); ook haar ma, Mona, het graag met die tokkelossie gepraat, en een van Mona se kinders (moontlik Jenny) het geskaterlag terwyl sy met ’n slang speel (195). Dis die tipe storie wat die bobbejaan sal glo: ’n storie wat in die onbewuste ontspring en waar geskiedenis en verbeelding versmelt word.

Die bobbejaan speel in hierdie afdeling ’n prominente rol, maar kom reeds vroeg in die roman na vore. Die bobbejaan het as seun aan Eugene verskyn, toe “die duiwel” in ’n klomp seuns gevaar het en hulle ’n vasgemaakte perd met klippe en bakstene doodgeslaan het. Hy is gevaarlik en spoor mense tot geweld aan. Daarna het die bobbejaan uit die bloekombos gekom en op Eugene se rug kom sit (22). Dis ’n figuurlike bobbejaan wat tot sinnelose dade aanleiding kan gee, en hy sit op Eugene met sy bek teen Eugene se oor (23).

Realisme en simboliek word in die bobbejaanmotief verbind. Die houtverkoper, Bitterhout, het ’n bobbejaan gevang en hom Hitler genoem. Dis ’n realistiese bobbejaan, en hy sit op ’n paal, vas aan ’n ketting, waar hy almal kan sien en almal hom kan sien. Maar een nag skrik Eugene wakker en sien die bobbejaan langs hom op die bed, ketting in die hand. Die bobbejaan strek sy poot uit en vryf Eugene liefderik oor die gesig, wat die seun tegelyk verskrik en nuuskierig maak: “Eugene wil sy kop wegruk, spoeg, maar hy lê doodstil, gelate en nuuskierig” (85). Kort daarna hoor hy ’n gekrap aan sy deur, en wanneer hy uitgaan, kom hy op Meisie af wat erg op ’n dansparty beseer is. Die verbinding van die bobbejaan met die doodmaak van die perd en met Meisie se verwonding suggereer dat die bobbejaan ’n simboliese verteenwoordiger van die skadusy van die mens is, gewelddadig en gewetenloos. Hy is gewoonlik vas aan ’n ketting, maar as hy loskom, is daar moeilikheid.

Dit is opvallend dat daar aan die begin van elke hoofstuk die afbeelding van ’n bobbejaan is. Dit suggereer dat die “bobbejaan” deurgaans die karakters se gedrag bepaal; dit dui aan dat die mens nie net ’n rasionele wese is nie, maar ook ’n irrasionele kant het wat vir die individu en die gemeenskap ’n bedreiging kan wees. Dit is interessant dat die bobbejaan uit Eugene se lewe verdwyn wanneer hy begin stories skryf en die stories gepubliseer word (188–9). Suggereer dit dat die vertel van stories, die openlike uitbeelding van wat onderdruk was, bevryding kan bring?

...............
Dit is interessant dat die bobbejaan uit Eugene se lewe verdwyn wanneer hy begin stories skryf en die stories gepubliseer word (188–9). Suggereer dit dat die vertel van stories, die openlike uitbeelding van wat onderdruk was, bevryding kan bring?
.................

4. Vyfde laan: 1980–1981

Hierdie deel volg direk in die tyd op die vorige afdeling, “Pondok – 1980”. Dit lyk of daar nou groter helderheid by Eugene is, asof die bobbejaan hom verlaat het. Hy kry verblyf by bekendes: eers by Uncle Jimmy en sy vrou Winnie, toe by Pinky se niggie en Boeta Balla (206 ev), en toe weer terug by Uncle Jimmy. Daar is vertellinge oor Eugene se probleme met die kar wat Boeta Balla hom gedwing het om te koop, oor die disfunksionele huwelik van Uncle Jimmy en Winnie, oor die wegkomkanse wat Winnie benut saam met ’n Duitser by die see (221) en oor Eugene se flankeerdery met Pinky se niggie se sussie. Dit is vermaaklike anekdotes wat vertel van die karaktertipes en tipiese ervarings in die omgewing waarin Eugene beweeg, maar die struktuur word weer eens taamlik los; die vertellings is sonder merkbare invloed op Eugene se karakter en op die gang van die intrige.

Die afdeling eindig egter met ’n baie belangrike deel wat baie van die vrae beantwoord wat die verhaal tot sover opgeroep het. Eugene ontmoet vir Bella, die aktivis en meisie van Joe, en sy verskaf vir hom baie inligting oor wat met die politieke aktiviste gebeur het. Sy gee ook vir Eugene die plastieksakkie met papier daarin wat sy van Joe se ma gekry het – die plastieksakkie wat Eugene aan die begin van die roman vir Alan wil gee om wraak te neem. Op hierdie papier het Joe in die tronk geskryf wat met hom en sy kamerade gebeur het. Vir diegene wat nog nie die roman gelees het nie, verswyg ek wat op die papier staan.

5. Lokasie

Eugene woon die begrafnis by van die man wat hy in die Botaniese Tuin doodgemaak het. Die datum word aangegee as Saterdag 18 Februarie 2017 – dus dieselfde jaar as by die eerste afdeling. Hier is ’n probleem met die datums. Eugene het die man in 2015 doodgemaak; die begrafnis vind eers in 2017 plaas, en die polisie beweer die moord is ’n jaar gelede, dus in 2016, gepleeg (17). Is dit ’n agtelosige fout, of hou dit verband met Eugene as onbetroubare getuie? Hierop kom ek later terug.

By die begrafnis luister hy na die boodskap van ’n charismatiese prediker. Die man is daarvan oortuig dat die mens se lewe vooruit bepaal is – “sy lewe is vir hom uitgelê” (237). Hierdie idee bly by Eugene; hy weet nie waarom mense se lotgevalle so verskil en of ’n mens iets kan doen om jou lot te verbeter nie. Sommige mense oorleef, maar vele ander sterf deur geweld; sommige is suksesvol terwyl ander se lewens disintegreer. Hierdie idee sluit aan by die twee fortuinvertellings, een in hierdie afdeling en een in die volgende een. Eugene onthou sy pa het na ’n waarsegster gegaan, en sy het voorspel: “Mistertjie, jy, jy gaan vroeg dood. Jy gaan die dood in die water kry” (241). Eugene se pa het nie jonk doodgegaan nie, maar hy het tog nie vyftig gehaal nie, en het wel in ’n rivier gesterf. Dis asof sy dood vooraf bepaal is.

6. Witpoortjie: 2017

Eugene gaan nou ook ’n waarsegster besoek, en die willekeur van die lewe word gesuggereer deur wat sy aan hom sê. Sy toekoms lyk belowend: “Iemand is dood. Maar jy’t niks om oor te worry nie. Alles verloop vir jou vlot. Ek sien ’n nuwe vrou in jou lewe” (248). Aan die einde van die roman lyk dit inderdaad of daar ’n nuwe vrou in sy lewe gekom het. Maar dan het Eugene ’n tweede versoek aan die vrou: dat sy die toekoms voorspel van ’n persoon wie se geboortedatum hy aan haar verskaf. Die fortuinverteller sê dis ’n vrou, en “die vrou wat hy hier gechannel het, ’n kalwerliefde dalk, se toekoms is pikgitswart”. Is dit Jenny? Sal haar toekoms wel so somber wees? Dit weet ons nie, maar die twee voorspellings suggereer wel iets van die willekeur en die voorafbepaaldheid van die lewe. Die een persoon het niks te vrees nie; vir die ander is dit soos Adam Small gedig het: “Die dice het verkeerd geval vi’ ons / daai’s maar al.”

Aan die einde van die roma lyk dit of Eugene sy sorgwekkende verlede konfronteer. Hy waag dit om die begrafnis by te woon van die man wat hy doodgemaak het, die gebeurtenis wat hom soveel ellende besorg het; daarna gaan hy Witpoortjie besoek, waar die episode plaasgevind het. Hy voel angstig dat hy aangeval sal word, soos twee jaar tevore, maar niks gebeur nie. Blykbaar het hy die kwellende verlede agter hom gelaat.

Dat ’n beter lewe vir hom voorlê, word ook op die laaste bladsy van die boek in die vooruitsig gestel. Die getatoeëerde vrou wat hy in Linden ontmoet het, lê nou langs hom op die bed, en hulle luister na Dis opera op die radio – skynbaar in totale harmonie en vrede. Daar word nie vertel of Eugene in die hof vrygespreek is en of hy tronkstraf moes uitdien nie, maar hy is in elk geval ’n vry man. Daar is ’n kontras tussen sy mislukte verhouding met Helena en die verhouding waarin hy nou verkeer – dit word deur albei ingesien:

Jy het jou naam vergat met Helena, sê sy en gee haar klokhelder lag.

Ja, ek het, sê hy. Maar wat is lekkerder as om met die liefde van jou lewe in ’n warm, snoesige bed te lê. (253)

Tog is sy geluk nie verseker nie – daar is immers ’n lang reeks van mislukte verhoudings in Eugene se lewe. Die bed waarop hulle lê, sê die vrou, is “omring met die gebroke harte wat soos bene van ’n tafel afgevee is ná ’n feesmaal”. Dan hoor Eugene in sy gedagtes ’n aantal onheilspellende stemme, waarskynlik uit sy verlede, onder andere die “gekras van kraaie” en “die gekerm van iemand in die verte oor die vlakte”. Maar ten slotte hoor hy die vrou se stem; sy het die laaste woord. En dit is ’n belowende teken.

Onsekerhede

Aan die begin het ek genoem dat alles wat in die roman gebeur, deur Eugene waargeneem word, en dat daar soms twyfel ontstaan oor die betroubaarheid van sy waarnemings. Dit is ook reeds genoem hoedat hy deurmekaar was nadat hy deur die polisie gemartel is. Die vraag is: Het hy daarna heeltemal helder geword? Of verswyg en verdraai hy soms feite wat hom ongemaklik maak?

Wanneer Eugene in ’n restaurant sit en werk, jare nadat hy uit Hillbrow vertrek het, sien hy ’n vrou wat hy as Jenny identifiseer. Hy bel vir Alan om soontoe te kom, maar as Alan arriveer, is Jenny skoonveld. Dan vind daar ’n interessante gesprek tussen Alan en Eugene plaas. Alan beweer dat Eugene en Jenny saam uit Hillbrow verdwyn het, waarop Eugene ontkennend antwoord: “Jy’s mistaken. Ek weet nie ’n fok waarvan jy praat nie. Ek onthou fokol” (62). Veral die laaste woorde is veelseggend – dat hy niks onthou nie.

Daarna kom Alan met verstommende bewerings. Hy het geweet van die verhouding tussen Eugene en Jenny, sê hy, en dat hulle twee vir die SB (Special Branch) gewerk het (63). Hulle is verraaiers en verdien daarom die dood:

Jy’s fokken gelukkig ons issie meer innie bos nie, anners het ons jou innie bos in gevat en jou laat confess, jou impimpi. Dan het ons julle twee fokken vrekgeskiet en julle genecklace, jou hond. (63)

Wie moet die leser glo: Eugene of Alan? Eugene reageer soos iemand wat op ’n sensitiewe plek getref is en klap Alan so hard dat hy op die vloer beland. Maak die waarheid seer, en reageer hy dáárom so gewelddadig?

Dit is reeds aangetoon hoedat Eugene, nadat hy gemartel is, stories oor Jenny se afkoms opdis wat hoogs twyfelagtig is. Maar ook later bots gegewens wat hy oor Jenny verskaf, met mekaar. Nadat hy en Alan klaar gesels het in die restaurant, sien hy dat Jenny haar eksemplaar van Pulp fiction agtergelaat het, en hy neem dit saam met hom (65). Maar vroeër het hy gesê dat Jenny die boek by hom in sy huis vergeet het en dat hy dit by hom gehou het (20).

Die leser begin selfs te twyfel of Jenny werklik in die restaurant was, en of die verskyning dalk ’n produk van sy verbeelding was, ’n hallusinasie. Alan vra dat hy moet bewys dat sy daar was, en hy kan natuurlik nie (62). Na die “ontmoeting” met Jenny dink hy dat sy hom miskien aan die polisie verraai het omdat hy haar vertel het wat in die Botaniese Tuin gebeur het; maar wat hy haar vertel het, was ’n verdraaide waarheid:

En sy het net lank genoeg by Eugene se tafel gesit vir hom om uit te blaker van die vriend van hom wat een oggend in Walter Sisulu gaan stap het en twee laaities moer toe gedonner het. (63–4)

Hy maak of dit ’n vriend van hom is met wie dit gebeur het en erken nie dat dit hy was nie. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat sy op grond van hierdie gesprek vir die polisie op sy spoor sou gesit het. Kry die leser ook van hom halwe waarhede en verskuilde openbarings? Die verstrengeling van tye in die roman, die feit dat die leser soms moeite ondervind om te weet hoe die gebeurtenisse op mekaar volg, suggereer dat die verlede nog baie aanwesig is in Eugene se gemoed, en dat dit steeds ’n bepalende invloed het op wat hy in die hede waarneem en wat hy vertel.

Die leser begin mettertyd al hoe meer twyfel oor die betroubaarheid van Eugene se herinneringe. Wat is waarheid, wat is verdigsel, wat is halwe waarhede? Het hy werklik gelieg toe die polisie hom gemartel het, soos wat hy beweer (173), of het hy die waarheid aan hulle vertel en Alan en sy medestryders verraai? Is sy weergawe van wat gebeur het in die Botaniese Tuin, met hom as held en onskuldige slagoffer, korrek, of het hy dalk (in opdrag?) iemand vermoor wat ’n belangrike posisie in die struggle gehad het? Die oorledene kry immers ’n heldebegrafnis wat deur VVIP’s bygewoon word (235).

So word ’n mens aan die raai gehou. Die raaiselagtigheid, dink ek, is ’n teken van ’n karakter wat gekwel word deur herinneringe aan geweld, verraad en skuld, en wat die verlede ten dele gekonfronteer het maar nie alles wil vertel nie. Sy weergawe van die verlede is ’n vervormde en bedekte openbaring van ’n mens wat diep gekwel is deur sy ervaringe. Wat presies gebeur het, weet ons nie, maar ons weet wel seker van die erns van sy verwonding.

Taalgebruik

By ’n baie belangrike aspek van die roman het ek nog nie uitgekom nie: die taalgebruik. Dis nie taal vir sensitiewe lesers nie. Die taal is dikwels plat en deurspek met Engelse woorde en uitdrukkings. Maar die leser moet onthou dat dit Eugene se herinnering wat hier weergegee word, en die taal wat hy gebruik, is die taal van die kampong en van die mense met wie hy assosieer. Die taal pas by Eugene. Sy eks het vir hom gesê hy is lekker “gangster”, wat hom laat dink:

Gangster, hy? Eugene het gelag en onthou daar is actually ’n óú Kaapse term vir ’n ou soos hy: gentleman-skollie. Netjies gecollar en getie, maar hy skop jou gou in jou poes [...] Eugene staan met een voet hier en met een voet in die ghetto. Overgeset synde, jy kan die gentleman uit die ghetto haal, maar nie die ghetto uit die gentleman nie.

Hy kom uit die ghetto se killing fields. (22)

Die taal van die ghetto lewer soms pragtige vondste op en is deurtrek met humor. Om te steel is byvoorbeeld om dinge te “liberate” (155); en wanneer Ben Kabounie ná ’n maand se afwesigheid na die kampong terugkeer, val-val en kruipend, duidelik geswael, dan is dit ’n “poor man’s bioscope” (95). Eugene is egter ’n “gentleman-skollie” – nie net skollie nie, maar ook gentleman. By geleentheid weet hy hoe om soos ’n “gentleman” pragtig-beeldende Afrikaans te gebruik, byvoorbeeld in die beskrywing van die plek in die Botaniese Tuin waar hy gaan sit:

Die koeltebome gooi donker skaduwees op die grond, sulke blertse aan steeltjies gekoppel aan die voet van die stamme. Die grasperk is geil, selfs nou in die ysige winterweer, die lug glashelder, Roodekrans direk oorkant vuilrooi. Die broeipaar arende is nêrens in sig nie, die nes bo teen die krans leeg. Hulle sirkel seker iewers buite sig op soek na kos, na prooi. (250)

Die taal pas steeds by die persoon wat aan die woord is. Wanneer Eugene en Alan op soek gaan na Mandy, word die deur oopgemaak deur ’n woeste vrou, en die volgende dialoog vind plaas:

Mistertjie, moenie my die poes in makie, skree sy. Vir wat donner djy my deur so, hè? Hiesie ’n fokken Mandy nie.

Excuse me, sê Alan, op sy agterpote. I’m Alan.

Excuse me? Excuse me! blaf die vrou, hande op die heupe. Excuse me se poes. Jy’t ’n fokken nerve om so teen my deur te donner en te kom demand. (129)

En wanneer Bitterhout moet verduidelik waar ’n verlore seun gesoek moet word, gaan dit maar broekskeur met sy Engels:

Ek kan nie sê wedder hy nog da onner in die kamp is nie, sê ou Bitterhout. Hy’s aider da onner óf by die slagpale. Ôldou, come tot think of it, nou vallit my by, ek’t hom ve-oggend hie gesien verbykom met ’n kruiwa gras om te dump hie onner innie veld. (90)

Dit is juis deur die taalgebruik in die roman dat Eugene en die omgewings waarin hy beweeg, so outentiek uitgebeeld word.

Samevattend

Dit was 23 jaar gelede dat Kirby van der Merwe se debuutroman, Klapperhaar slaap nie stil nie, verskyn het. Ons het lank gewag vir sy tweede roman, Eugene, en ons is met hierdie pragtige werk beloon. Dit bevat ’n uiters geloofwaardige uitbeelding van mense en plekke, van die mense van die ghetto’s sowel as die aktiviste van Hillbrow. Hierdie “plaaslike” milieus word op boeiende wyse verbind met breër temas van geweld en verwonding, van liefde en verraad, van die skadusy van die mens wat bevry en bedreig, en wat betekenis kry deur die vertel van ’n storie.

 

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Hierdie boek het ek by tye maar weer gesukkel om te volg. Dis die ou storie. My verbeelding is nie groot genoeg nie. So vermoed ek. Maar dan was daar weer dele wat so helder was. En so boeiend. Veral Eugene as jong volwassene. Die hele klomp karakters met hulle politieke aktivisme. En dit in Afrikaans.

    Wat mens laat verstaan hoekom die boek 'n pryswenner is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top