Kompoun
Ronelda Kamfer
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795710384
Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap.
Lees ook ander besprekings in Chris se leeskringreeks:
Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking
Aansluitings en verskille
...........
Die titel van Ronelda Kamfer se debuutroman Kompoun hou verband met die Engelse woord compound, wat vooraf deur die outeur uit die Oxford-woordeboek verklaar word. Die woord verwys na ’n mengsel, die verbinding van verskillende elemente, en verder ook na die verblyfplek van trekarbeiders en plaaswerkers.
............
Die titel van Ronelda Kamfer se debuutroman Kompoun hou verband met die Engelse woord compound, wat vooraf deur die outeur uit die Oxford-woordeboek verklaar word. Die woord verwys na ’n mengsel, die verbinding van verskillende elemente, en verder ook na die verblyfplek van trekarbeiders en plaaswerkers. In die roman verwys kompoun egter na die woonplek van die werkers van Groenplaas, waar die meeste van die karakters grootgeword het. Die titel dui ook aan dat die roman in die taal van hierdie mense vertel sal word – die Engelse woord compound word vervorm tot ’n ander betekenis en ’n ander klank.
Die titel Kompoun bevat ook die suggestie van ’n saamgestelde vertelling, want die verhaal word afwisselend deur Nadia en Xavie vertel. Van belang is ook die feit dat die roman nie op ’n individu fokus nie, maar oor ’n uitgebreide familie handel – dit is ’n saamgestelde storie, ’n verbinding van verskillende elemente.
Die gesamentlike vertelling oor ’n uitgebreide groep mense herinner aan Vatmaar van AHM Scholtz. Daar word die vertelling as ’t ware “aangegee” van die een verteller na ’n volgende, en dit is ’n vertelling oor ’n groep mense, nie oor enkele individue nie. Maar daar is ook belangrike verskille tussen die twee skrywers: by Scholtz word die dorpsgemeenskap oor die algemeen positief uitgebeeld; in Kompoun is ál die karakters beskadigde mense.
............
Met karakters wat van die plaas na die stad trek, sluit Kamfer se roman ook aan by die uitbeelding van die plaas in die Afrikaanse prosa, maar Kamfer plaas haar eie stempel op hierdie tema.
...............
Met karakters wat van die plaas na die stad trek, sluit Kamfer se roman ook aan by die uitbeelding van die plaas in die Afrikaanse prosa, maar Kamfer plaas haar eie stempel op hierdie tema. By Boerneef byvoorbeeld is die stadsbewoners “stedelinge in ’n stad misplaas”, soos wat Opperman oor Boerneef gedig het, en is die plaas ’n tuiste waarna gehunker word; by Kamfer is die lewe op die plaas die bron van vele ellendes. By Boerneef is oom Karel, die boer, ’n geïdealiseerde patriarg; in Kamfer se roman is daar ’n matriarg wat die bron is van die meeste probleme van haar nakomelinge.
Die invloed van die ouma
Voor in die boek is daar ’n stamboom wat die groot aantal karakters aandui wat van die ouma, die matriarg van die familie, afstam, en toon hoe hulle aan mekaar verwant is. (Lesers sal dankbaar wees vir hierdie stamboom, want dit is soms moeilik om jou kop bymekaar te hou en al die karakters te onthou.) Dit is opvallend dat hierdie stamboom hoofsaaklik deur vroue bevolk word, anders as die meeste konvensionele stambome. Die vaders is afwesig in die stamboom, en meestal ook in die lewens van die kinders. Die hele familie is verbind deur hul verwantskap met die ouma. Sy is “die een wat ons almal wou reach”, sê Xavie (27). Sy het hulle inderdaad “gereach”, maar almal is ook daardeur geskaad.
Eintlik het die probleme al by die vorige geslag begin. Ouma se ma was wit, en sy het neergesien op bruinmense en hulle as ’n “vuil volk” beskou (103). Waarskynlik het die haat van haar ma van Ouma ’n vrouehater gemaak (188). Sy is dominerend en gewelddadig teenoor haar vroulike nageslag; dit blyk onder andere uit haar wreedheid teenoor haar dogter Diana en haar kleindogter Boogie. Wanneer sy hoor dat Diana deur Mal Hans gemolesteer is, is dit Diana wat met ’n sambok bygekom word, nie Mal Hans nie; en wanneer sy hoor dat Diana swanger is, en dat die pa boonop ’n swart man is, slaan Ouma en Oupa vir Diana dat die bloed loop (39).
Ouma se godsdiens word op ’n gewelddadige wyse beoefen. Toe Diana nege jaar oud was, het Ouma “vir haar geforce om haar te bekeer en te laat doop”. Ouma het geglo dat die engele in die hemel juig wanneer ’n siel tot bekering kom, selfs al is dit ’n gedwonge “bekering”, en Oupa, wanneer hy Diana se verset teen die doop opmerk, troos homself met die gedagte: “Diana is soos ’n klip, maar die Here sal haar breek” (16).
Boogie ly ook swaar onder Ouma. Wanneer sy as kind die pap opbring wat sy gedwing is om te eet, “insist my ouma dat sy die opgekotste pap eet”, vertel Nadia (41). Menstruasie, wat volgens Levitikus 15 vers 19 die vrou onrein maak, bring vir Boogie groot ellende. Xavie vertel hoe Ouma reageer wanneer Boogie menstrueer en nie in ’n bad gesit wil word nie:
Van al die terrible goed wat my ouma al aangevang het, was vir my die worst ding sieke dat sy eenkeer my niggie Boogie in ’n koue bad gesit het omdat sy haar period gekry het. My ouma het my niggie aan haar hare gesleep badkamer toe en met ’n plakkie geslaan, in die koue bad gesit en vir haar begin bid en bestraf. (43)
Ouma gee nie om dat die vroue deur die mans mishandel word nie; dit word stil gehou. Sy is “die stammoeder van lieg” (14), die grondlegger van ’n tradisie van geweld en leuens in die familie. Tereg sê Xavie: “My ouma is die definition van gemors” (43).
Wanneer die kinders en kleinkinders na die stad trek, verswak die band met die ouma. Aanvanklik is die meeste van hulle se lot in die stad ellendig, want hulle is plaasmense wat ontuis daar voel en hulle is bruin mense in die tyd van apartheid.
Xavie vertel: “Die familie van Groenplaas het, behalwe vir ’n paar van hulle, almal gescatter oor die Kaapse Vlaktes, party in jou coloured upper working class areas en die res van ons, soos ek en Nadia, het accidentally in die kakste ghettos beland (26–7).
Xavie se karakterisering van die familie in die stad is raak: “Toxic pa en ma en kinders wat sonder religion grootword [...] Daar was ’n oorlog in Irak en ’n oorlog in die townships. Boonop daai het death ons familie kom opbreek, een vir een, tot net die kinders oorgebly het” (26).
Die kleinkinders is slagoffers van die liefdeloosheid van die voorgeslagte en hulle soek ontvlugting in dwelms en drank. Hulle is ontwortel, maar die ontworteling het ook ’n positiewe kant, want hulle leer om saam te staan teen die geweld en leuens van hul voorouers. Hulle deel in mekaar se leed en raak los van die tirannie van die voorgeslag. Tekens daarvan sien ons by die begrafnis van Tasha, wat haarself opgehang het toe sy twaalf was.
Xavie vertel:
Al ons niggies en nefies het in een ry voor in die kerk gesit. Dit wit blomme in die kerk was mooi, die wit kinderdoodskis het ons almal saam gevat. Nie ’n enkele grootmens kon ons troos nie. Nie bang vir pak of bang vir shame nie. Een van ons is dood. Ons almal het al so gevoel. Ek dink ons gaan vir ewig so jonk bly en so let down deur ons ouers. (49)
Dit is veral by begrafnisse dat die verset van die kleinkinders na vore kom. By die begrafnis van Maria, die ma van Nadia se neef Rustig, kan Nadia haar humeur nie bedwing oor die ongevoelige woorde van die pastoor nie. Maria is deur haar kêrel vermoor, sy lê “disembowelled” in haar doodskis, maar die pastoor toon geen simpatie nie: “Harde woorde, broers en susters, harde woorde, ons suster Maria het gelewe soos sy gesterf het ... Soos die kinders sê, live by the gun die by the gun. In haar geval was dit live by the knife, die by the knife” (90).
Nadia gryp Rustig se hand en loop uit die kerk, gevolg deur twee ander neefs. Saam kom hulle in verset teen “almal wat daar binne sit en fokkol doen nie terwyl hulle bloed kak vertel word”.
By die begrafnis van Diana, die ma van sewe van die kleinkinders, breek daar ’n bakleiery tussen die generasies uit. Die familie verdeel in twee groepe, die ouers en die kinders, en daar is ’n suggestie dat die kinders besig is om die oorwinning te behaal. Nadia merk op:
Ek voel hoe die familie split into generations. Is ons – ek, Taakie, Dali, Xavie en Rustig – in een corner, en Antie Daphne en die rest van die susters in die ander corner. Die way die grootmense sad en defeated lyk, sê vir my hulle weet ons het die fight gewen. (215)
Die kinders leef aan die einde van ’n oorgangstyd – die dominasie van die ouers is aan die verbrokkel en die invloed van die ouma kwyn. Die ouma is “die last stage in the game” (27); maar die “game” is nog nie heeltemal verby nie. Die kleinkinders is in verset en tog is die band met die voorgeslagte nie finaal verbreek nie; daar is ’n haat-liefde-verhouding met die ouers en met die ouma. Dit blyk uit die gevoelens van die twee vertellers van die verhaal, Nadia en Xavie.
Die twee vertellers
Die verhaal word beurtelings deur Nadia en Xavie vertel, hoewel Nadia die meeste verteltyd kry. Hulle is skerp waarnemers van wat om hulle aangaan, maar terselfdertyd verteenwoordigers van hulle geslag, draers van die pynlike nalatenskap van ouers en grootouers.
Nadia
Nadia word erg deur haar pa mishandel. Hy is dikwels dronk en slaan haar dan sonder rede (35). Wanneer hy haar ernstig beseer, mag niemand daarvan weet nie (199). Om haarself te beskerm, sny sy haar hare kort soos ’n man, omdat haar pa haar gedurig aan die hare gryp – maar hierdie “manlike” voorkoms wek afkeer (63). Die haat van die vader lei tot selfhaat, en sy begin haarself te sny; sy soek ontvlugting en gebruik dwelms (35–6).
Haar ma het ’n bitterheid so swart soos die geboortemerk wat oor haar rug strek (46) en kry uitbarstings van woede wat haar op ’n keer die veld aan die brand laat steek (47). Sy gee wel om vir ander en gryp soms in wanneer iemand in die familie haar nodig het, maar teenoor Nadia is haar liefde wisselvallig: “Sy dra haar liefde soos ’n voorskoot en hand haar feelings uit soos ou lekkers in daai voorskoot-pouch – as ek verby kom, kry ek een en sy kyk my net aan terwyl ek sukkel om daai ou sticky papier af te kry” (18).
Nadia is wel haar ouma se gunsteling, maar sy besef algaande dat die ouma ’n slegte invloed op haar het: “My ouma is my ma en ek is lief vir haar, maar sy is te mean en ek weet sy is besig om vir my mean te maak” (164). Daarom verlaat sy haar ouma en gaan na haar ma in die stad, wat die ouma laat “opcrack” (53). Nadia word dan “met die plathand gemoer”, maar sy kan Nadia nie op die plaas hou nie. Nogtans behou sy ’n invloed op hierdie kleindogter van haar, en Nadia ervaar verlies by haar dood – sy is steeds geheg aan die persoon wat haar kwaad aangedoen het. Ouma se dood is ’n “knock” (175), dink sy, en sy besef: “Ek was dom om te dink ek het weggekom.” Die ouma het die hele familie “gebind in suffering” (176). Die ouma se dood laat komplekse gevoelens by haar ontstaan: “Ek wil nie vir haar groet nie. Sylvia McKinney kan maar doodgaan, sy het te veel mense na die graf toe gestuur. Maar die problem is die guilt. Die guilt, oordat ek weet vir al my ouma se nonsense was sy baie, baie lief vir my” (218).
Nadia is woedend teenoor mans wat hul mag wil misbruik en gewelddadig teenoor vroue optree. Sy bewonder Antie Trisha: “hard en rof met manmoesies”. Trisha en haar susters woon op die verste hoek van Groenplaas, en hulle lewe word nie deur mans beheer nie: “Hul manne is almal vroeg dood. Hulle maak hulle kinders alleen groot en loop nie kerk nie” (12).
In die taxi op pad na ’n begrafnis wek Rickie, die taxibestuurder, haar wrewel op omdat hy mag oor haar probeer kry met sy wellustige blikke in haar rigting. Sy dink: “Mans in die wêreld speel ’n vuil game. Maar ek maak my lemme skerp vir die dag wanneer ek hulle almal gaan doodmaak [...] Al die clean-cut perves eerste, dan die vrouens wat vir hulle opcover” (133).
Wanneer haar tante Diana deur die oupa aangerand word, word Nadia gedwing om te lieg (23). Die vrouens is nie onskuldig aan die ellendes van die familie nie, want “die vrouens in my familie lieg oor alles” (77). Die skyn van fatsoenlikheid mag nie ondermyn word nie – en so word die geweld teen vroue en kinders voortgesit. Nadia wil “die hele empire dismantle” (13).
Die leuens word versterk deur die kerktaal van die pastoors, en Nadia se verset teen leuentaal lei tot haar afskeid van die kerk. “Romantics moenie kerk toe gaan nie,” dink Nadia, want “die Bybel is vark vol mooi woorde” terwyl sy ly onder haar “bruises wat pyn, my pa se wilde stem en my ma se diluted liefde”. Die pastoors is nie in staat om die werklikheid te konfronteer nie en is óf sentimenteel óf veroordelend. Die onsimpatieke pastoor by Maria se begrafnis is reeds genoem. By die dood van Diana, daarenteen, gee die pastoor oppervlakkige trooswoorde: “Wat die Here doen, is welgedaan, Hy slaan die wond en Hy gee die troos” (36). “Ons moenie treur vir geliefde suster Diana nie. Ons moet jubil en juig [...] Daar is all sorts of fun activities in die hemel” (200–1).
Alle pastoors word egter nie oor dieselfde kam geskeer nie. Die pastoor by die begrafnis van Tasha, wat haar eie lewe beëindig het, se woorde is verstandiger:
Kleine Tasha was net twaalf jaar op die aarde en kon nie meer nie. En moenie kom met daai ou geloof van selfmoord is ’n sonde nie. Sy was ’n kind en ons, ons grootmense wat deur die Here hier geplaas was om haar te hoor en te sien, ons het haar gefaal. (204)
Nadia beland in die hospitaal nadat sy Valiums met Fanta gedrink het. Sy ontvang geen begrip van die familie omdat sy die “overdose” geneem het nie.
Drie dae later maak almal gat van my. Ek het suicide attempt by ’n begrafnis [...] Is funny vir hulle dat my pa my bewusteloos moer en ek prescription drugs abuse omdat ek nie kan cope nie. Is kak funny vir hulle. Maar dit is funny. Is funny hoe niemand eens gebother het na die tyd om te vra hoekom ek Valiums eet soos ’n light snack nie. Ek het besef dit is omdat niemand omgee nie, As jy nie cope nie, moenie expect enige iemand gaan kom tot jou rescue nie. (135-6).
Wat Nadia nodig het, is simpatie, iemand wat omgee en iets doen om haar te help, maar dit kry sy nie. Haar vertelling is ’n oproep om begrip vir mense soos sy en Xavie: “Ek wil vir hom hê wat ek secretly vir myself wil hê, iemand wat ons verstaan met al die kak in ons koppe” (61).
Teen die einde van die roman is daar hoopvolle tekens. In die hoofstuk getitel “Een-en-twintig”, wat dui op volwassenheid, vertel sy dat haar pa opgehou het om haar te slaan, sodat sy sonder ’n mes kan rondloop, en dat haar ma ’n nuwe mens is. Hoewel haar ouma nog vas aan haar sit “soos ’n kak tattoo”, het amper al haar “scars gefade” (241-2). Sy vind vreugde in boeke, en veral Russiese skrywers soos Gogol en Dostojewski bied vir haar troos (75–6). Sy vind nuwe betekenis in haar lewe deur voltyds skrywer te word (217).
Xavie:
Xavie en sy ma vertrek na die Kaap ná sy pa se dood, en hulle gaan bly by Nadia en haar ouers. Die twee word soos broer en suster – “inseparable” (58). Ook hy verset hom, soos Nadia, teen die leuentaal van die ouers wat oorgedra word op die kinders: Die kinders is volgens hom “amazing in brainwashing en even better daarin om elke bad trait van hulle ouers te vat en te own” (49). Saam wil hy en Nadia, soos reeds genoem, “die hele empire dismantle”. Hulle kyk op dieselfde manier na die werklikheid, en daarom bevestig hulle mekaar se waarnemings – hy is ’n tweede getuie in die aanklag teen die voorgeslagte. Hulle is nie net geesgenote nie, maar ook lotgenote. Albei word deur ’n dronk vader gemolesteer en aangerand; albei het haat-liefde-emosies by die dood van die een wat hulle benadeel het – hy by die begrafnis van sy vader (56–7), sy by die dood van haar ouma. Hulle toon wedersyds ’n begrip en empatie wat in die algemeen by die familie ontbreek.
Hulle gehegtheid aan mekaar is ’n ligpunt te midde van die liefdeloosheid en geweld in die familie, ’n oase te midde van neerdrukkende omstandighede (59–60). Xavier is vol deernis teenoor Nadia en is erg ontsteld oor die geweld wat haar pa teenoor haar pleeg (183, 190); sy beskou hom as haar “enigste vriend” (229) en tree simpatiek op by sy pa se begrafnis, want sy het begrip vir sy gemengde gevoelens (211). Albei is ewe ontsteld en opstandig oor die onreg wat hulle waarneem, maar reageer tog verskillend – sy is meer woedend, hy meer depressief. Die feit dat hulle die storie saam vertel, bevestig die hegtheid van hulle vriendskap, wat troos te midde van die konflikte en spanninge in die familie.
Struktuur
Die vertellings volg nie chronologies op mekaar nie, want dit gaan nie soseer om die ontwikkeling van ’n enkele verhaal nie, maar om die uitbeelding van tipiese, terugkerende fasette in die lewens van die familie. Herhaling speel ’n rol om temas te beklemtoon en die vertellings met mekaar te verbind. Herhaaldelik word byvoorbeeld vertel van die reis na ’n begrafnis in die taxi van Uncle Rickie. Die leser weet nie mooi na wie se begrafnis dit is nie – nie eers of die insittendes dalk na verskillende begrafnisse op pad is in dieselfde taxi nie. Begrafnisse oorheers die bestaan van die familie; van verskeie karakters se begrafnis word vertel: Tasha, Maria, Diana, Xavie se pa, Nadia se ouma. Die dood kom deur moord, deur selfdood of deur ’n verworde lewe. Telkens word die begrafnis gelei deur ’n pastoor wat geen kontak met die werklikheid het nie. Begrafnis is normaalweg ’n ritueel van herinnering en afskeid. Hier is die afskeid meestal nie finaal nie, want die herinneringe dui aan dat die gestorwene se lewe nie waarlik verby is nie, maar steeds letsels op die oorlewendes laat.
Gebeurtenisse word dikwels in brokstukke vertel, waardeur spanning opgewek word – die leser wil weet hoe die vertelling gaan afloop. ’n Voorbeeld hiervan is die “langste spookstorie in die wêreld”, wat oor meer as een hoofstuk heen vertel word. Dit gaan om ’n man met een oog en twee tonge – die een tong goed, die ander een sleg. Hy kry die kans om ’n tweede oog te kry, maar dan moet hy een van sy twee tonge prysgee. Dis ’n keuse tussen sien en spraak, en die man vind dit moeilik (191). Uiteindelik kry hy twee oë en ’n “gewone menstong”: “Die man met die twee oë voel geflous. Hy let onmiddellik op dat sy tong swaar is en dat hy van nou af gaan sukkel om te praat, en al sy drome gaan hom beheer, want die nuwe tong is swaar om te leer” (197).
Op die wyse van ’n sprokie word die dilemma van die outeur gesuggereer: om goed te kyk en reg te praat, met ’n “menstong” wat strewe na balans – om nie met ’n tong te praat wat net op óf goed óf sleg fokus nie.
Die verhaal van Diana ontvou ook stuk-stuk en is deur die hele roman gevleg, wat ’n sterk bindende funksie het. Diana is die een wat “die meeste kak aangevang” het (15), maar haar storie word op ’n simpatieke wyse vertel. Van die begin af is die lewe teen haar. Sy is nie aantreklik nie en het ’n donker vel, sodat sy “nice” moet wees: “Daai was Diana se tagline, die lelike nice meisie” (15). Dit is egter ’n “tagline” wat sy nie opneem nie. Ek het reeds genoem dat sy deur haar ouers gedwing is om gedoop te word, dat sy geslaan word wanneer Mal Hans haar molesteer, en dat sy slae kry wanneer sy op ’n swart man verlief raak en hy haar swanger maak. Diana kom in verset teen haar ouers, sy word die “willemeid van Groenplaas” en gaan op ’n “baby making spree” (17) – babas wat grootword sonder die liefde en sorg van hul moeder.
Die vader van haar eerste babas, ’n tweeling, is die swart man Edward. Dit was die enigste man wat sy liefgehad het (118), maar hy word deur haar pa aangerand en van die plaas verdryf. Tina, Nadia se ma, is besorg oor wat van Diana en die tweeling gaan word en reis na Edward – ’n reis wat ook bietjie vir bietjie vertel word. Sy wil hom oorreed om na Diana en die tweeling terug te keer: “Is jou kinders, dat dit buite die huwelik is, is nie rede genoeg lat Dana nou alleen op ’n berg moet sit nie” (126). Edward weier egter, want hy is bang vir wat Diana se mense aan hom sal doen. Eers by haar begrafnis keer hy na die plaas terug (167) en bied sy apologie teenoor Diana se ma aan. Versoening vind egter nie plaas nie, en die begrafnis loop uit op ’n bakleiery tussen Edward, die man vir wie Diana liefgehad maar verloor het, en Koos, die man met wie sy getroud was maar nie liefgehad het nie. Diana se lewe en sterwe was “depressing”, en ál raad is om by haar dood “haar memory sag [te] kook soos ’n outydse stew” (18).
Die waarheid gelieg?
Diana se verhaal het ’n onverwagte kinkel teen die einde. Is die storie waar of gefabriseer? Nadia vertel van die stories wat nog steeds op Groenplaas rondloop: “As hulle van my familie praat, loop daar ’n storie rond van ’n broer wat sy suster pregnant gemaak het met ’n tweeling en gelieg het dat dit is ’n jong van die kompoun se kinders” (245–6).
Die suggestie is dat die storie van Diana en Edward en die tweeling, in die woorde van TT Cloete, “die waarheid gelieg” is. Dis gefiksionaliseerde werklikheid, en dit geld nie net vir Diana se storie nie, maar vir alles wat vertel word, want “hoe jy lewe en hoe jy jou storie vertel, is twee different goed” (245).
...........
Die heel laaste vertelling in die roman, van die pomp wat uit die hand van Xavie se nefie glip, deur die lug trek en vir Nadia ernstig beseer, is kennelik gefabriseer. Dit bevestig dat die boek ’n roman is, nie ’n historiese relaas nie. Dit bevat algemene en nie feitelike waarhede nie.
..............
Die heel laaste vertelling in die roman, van die pomp wat uit die hand van Xavie se nefie glip, deur die lug trek en vir Nadia ernstig beseer, is kennelik gefabriseer. Dit bevestig dat die boek ’n roman is, nie ’n historiese relaas nie. Dit bevat algemene en nie feitelike waarhede nie.
Dit bring ons by die vraag in watter mate die roman outobiografies van aard is. Daar is nogal heelwat ooreenkomste tussen die lewe van Nadia en dié van Ronelda Kamfer. Albei het in die Overberg grootgeword, en is op ’n plaas grootgemaak deur die grootouers voordat hulle na hul ouers in die stad vertrek het. Daar is hulle deur vele sosiale probleme getref: armoede, geweld en dwelms. Uiteindelik het albei rigting gekry deur voltydse skrywers te word.
............
Die foto op die voorblad lyk baie na Ronelda, maar dit is inderwaarheid ’n foto van haar dogter. Dit bevestig dat die roman nie ’n outobiografie is nie. Die meisie op die voorblad is eerder ’n draer van algemene temas wat in die roman aan bod kom: van onskuld wat vernietig word, van broosheid en verlange; miskien ook van verwyt oor wat vroue aangedoen word.
...............
Die foto op die voorblad lyk baie na Ronelda, maar dit is inderwaarheid ’n foto van haar dogter. Dit bevestig dat die roman nie ’n outobiografie is nie. Die meisie op die voorblad is eerder ’n draer van algemene temas wat in die roman aan bod kom: van onskuld wat vernietig word, van broosheid en verlange; miskien ook van verwyt oor wat vroue aangedoen word.
Taalgebruik
By een van die opmerklikste aspekte van die roman het ek nog nie uitgekom nie: die taalgebruik. Die roman begin met die verhaal van die seuntjie wat by die skool pak gekry het omdat hy nie geweet het wat ’n vagina of ’n penis is nie. In sy huis word ’n ander naam vir ’n vagina gebruik. Met hierdie inset word vroegtydig te kenne gegee: Die roman is geskryf in die taal van die vertellers en van die mense oor wie vertel word. Sensitiewe lesers word gewaarsku. Die taalgebruik lewer egter ’n wesentlike bydrae tot die outentisiteit van die roman; fatsoenlike, Standaardafrikaans sal glad nie hier pas nie.
Uit die aanhalings hier bo blyk dit alreeds hoe sprankelend hierdie taal in die roman is. Dit wemel van plastiese beelde en raak seggings. Ek gee nog enkele voorbeelde. “Self-loathing ooze uit my pores,” sê Nadia, en voeg by: “Besides daai, het ek pus-oozing boils oral op my torso develop, die dokter gaan dit een vir een moet uitdruk” (62). Nadia se ma weet hoe om Uncle Empty te hanteer – sy kan hom “uitrafel soos ’n jersey wat verkeerd gebrei is” (83). Nadia is soos haar ma; sy laat nie op haar kop sit nie. As ’n man iets sê wat haar kwaad maak, “dan gly haar tong soos ’n groot lem en sny daai persoon skoon en glad middeldeur” (83). Die feit dat daar verwantskap met swart mense is, is ’n sensitiewe onderwerp in die familie: ’Swart hang nie soos ’n sekel oor ons familie nie, meer soos ’n creeping ivy, mooi en als, maar soms net daar om dinge toe te hou” (99).
...........
Daar is deurgaans ’n humoristiese toon in die taalgebruik, wat ’n balans bied teenoor die somberheid van die temas. Die humor het my dikwels laat glimlag, soms lag, maar die hartseer is selde afwesig.
.............
Daar is deurgaans ’n humoristiese toon in die taalgebruik, wat ’n balans bied teenoor die somberheid van die temas. Die humor het my dikwels laat glimlag, soms lag, maar die hartseer is selde afwesig. Die tradisionele definisie van humor is hier volkome gepas: Dit is lag met ’n traan.
Die taal wissel volgens persoon en situasie. Terwyl Xavie in die dorp Santekraam woon, praat hy Standaardafrikaans: “Ek hardloop vinniger, die wind druk my terug, maar ek hardloop harder en voel hoe ek deur die wind breek. Ek lig my kop op en skree: ‘Ek is die son!’” (109). Wanneer hy in die stad beland, is dit ’n ander storie: “My familie se dysfunction ken nie perke nie, maar ek is my generation se self-appointed breaker of family curses” (120).
In ’n gesprek oor taal sê Nadia: “Ek dink nie jy kan ’n ding nuwe meaning gee nie. Veral nie ’n ou ding nie.” Hierop antwoord Xavie: “Maybe vir jouself kan jy; as jy moeg is van ’n ding kan jy die naam change en die meaning” (127).
............
Xavie het gelyk. In die taal van Kompoun het vroue wat stilweg ly, ’n stem gekry; ontwortelde mense het, deur die vertel van hul storie, ’n nuwe betekenis ontvang, en hul taalgebruik ’n vars erkenning. Met haar debuutroman het Ronelda Kamfer die Afrikaanse prosa verryk en verruim.
..............
Xavie het gelyk. In die taal van Kompoun het vroue wat stilweg ly, ’n stem gekry; ontwortelde mense het, deur die vertel van hul storie, ’n nuwe betekenis ontvang, en hul taalgebruik ’n vars erkenning. Met haar debuutroman het Ronelda Kamfer die Afrikaanse prosa verryk en verruim.
Lees ook:
Hier is jou naaste tak van Bargain Books
As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.