Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché – ‘n verhaal oor verhale

  • 0

Aanspreeklikheid
Jaco Fouché
Human & Rousseau
ISBN: 9780798178334

Chris van der Merwe skryf hierdie bespreking, soos die ander besprekings in die reeks, spesiaal vir leeskringe. Hy kies die boeke self. Bederfwaarskuwing: Lesers wat nog nie die boek gelees het nie, moet bewus wees daarvan dat die teks hieronder gedeeltes van die intrige verklap.

Lees ook ander besprekings in Chris se leeskringreeks: 

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden: ’n leeskringbespreking

Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking

Die drie dae van Gustav van Aardt: ’n bespreking van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith

 

  1. Narratief en trauma

Die Franse filosoof Paul Ricoeur het verklaar dat die menslike lewe ’n “pre-narrative quality” het; met ander woorde, die lewe het ’n onderliggende potensiaal om tot verhaal omskep te word. Hy verwys na Sokrates, wat gesê het dat die lewe wat nie ondersoek word nie, nie die moeite werd is nie. Ricoeur stem saam, maar voeg dan by: “Socrates’s life examined is a life narrated.”[i] Die ondersoekte lewe is een wat tot verhaal omskep is; mense wat denkend lewe, gaan (bewus of onbewus) soos die verteller van ’n verhaal te werk. Hulle selekteer feite en fokus op gegewens wat van belang vir hul lewensverhaal is; hulle soek na kousale verbande en onderliggende patrone wat sin aan hul lewe kan gee. Sodoende bring hulle ’n geïntegreerde verhaal tot stand, met hulself as die hoofkarakter – iemand met ’n narratiewe identiteit, gegrond op etiese waardes wat die keuses bepaal het. Die skep van so ’n narratief impliseer ’n aanvaarde verantwoordelikheid om uit die gegewens van jou lewe die beste moontlike verhaal te maak.

........

Wanneer ’n groot trauma ’n mens tref, stort jou narratief egter in duie. Die woord trauma beteken “wond”, en dit gaan hier nie net oor ’n fisieke wond nie, maar ook oor ’n psigiese wond wat ’n gat in die narratief veroorsaak – die samehang gaan verlore.

.........

Wanneer ’n groot trauma ’n mens tref, stort jou narratief egter in duie. Die woord trauma beteken “wond”, en dit gaan hier nie net oor ’n fisieke wond nie, maar ook oor ’n psigiese wond wat ’n gat in die narratief veroorsaak – die samehang gaan verlore. Vir heling van die wond is dit ideaal dat die trauma gekonfronteer en verwerk word, dat die narratief gewysig word om die trauma te inkorporeer. Dit is egter nie so maklik nie, en dit gebeur ook nie dikwels nie – in elk geval nie gou nie. Die ervaring van die trauma is so intens dat die herinnering in die onbewuste onderdruk word, want om dit te onthou, is te pynlik.

Daarmee is die trauma egter nie afgehandel nie. Uit die onbewuste kom ontstellende emosies soos angs en woede op onverwagte tye na vore sonder dat die bron daarvan bekend is. Hier is dus ’n dubbele trauma: die gebeurtenis self wat die bron van die pyn is, en die ontwrigtende emosionele gevolge vanuit die onbewuste. Vrees vir pyn veroorsaak ook dat ’n getraumatiseerde persoon traag is om in ’n verhouding betrokke te raak, omdat verhoudings lyding kan meebring. Alle emosies word onderdruk as beskerming teen enige moontlike pyn. Verder ervaar ’n getraumatiseerde persoon dikwels ’n magteloosheid en verlies van beheer oor die lewe en soek, bewustelik of onbewustelik, na die herwinning van mag en beheer. Wat dan kan gebeur, is dat hy/sy die traumatiese ervaring herhaal met die rolle omgekeer. Die magtelose verkry die magsposisie, die verkragte word ’n verkragter en die gefolterde word gewelddadig.

Trauma bring isolasie mee, want jy kan of wil nie oor die ervaring praat nie. Dit maak te seer om te onthou, en boonop gaan die trauma dikwels gepaard met gevoelens van skuld en skande – die slagoffer van trauma voel besmet, asof hy/sy die oorsaak is van wat gebeur het. Dit kan genesend werk om daaroor te praat of te skryf, maar die getraumatiseerde ervaar teenstrydige gevoelens: ’n drang om te vertel teenoor ’n vrees om te vertel. Indien die persoon oor die trauma praat of skryf, gebeur dit daarom dikwels op ’n indirekte, verskuilde manier. Die eie skuld, wat moontlik aan die gebeure gekoppel word, word verbloem, en die blaam word op ander geprojekteer.[ii]

  1. Jaco Fouché, Jaco Diehl en Joseph Fouché

Wat hier bo uiteengesit is, het ’n noue verband met Aanspreeklikheid – die roman is ’n narratief oor narratiewe, met traumatiese ervarings wat op ’n verskuilde wyse by die verhale betrek word. In sy resensie-essay vir LitNet bespreek Willie Burger die verbande tussen die skrywer, die hoofkarakter en die biografie wat die hoofkarakter skryf. Diehl, die hoofkarakter, se voornaam is ook Jaco, soos die outeur s’n, en hy word beskryf as die skrywer van nege boeke, wat ook die geval is met Jaco Fouché. Diehl is besig om ’n boek te skryf oor Joseph Fouché, Napoleon se minister van polisie – dus iemand met dieselfde van as die romanskrywer. Joseph Fouché is in die geskiedenis veral berug oor sy gewelddadige onderdrukking van die opstand in Lyon, en sy onderdrukking van die Christelike godsdiens. Dit verbind hom met Diehl, wat afstand gedoen het van die godsdiens van sy jeug, en wie se optrede telkens van ’n gewelddadige aard is. Diehl se eie lewe word dus indirek vergestalt in die man oor wie sy boek handel. Om saam te vat: Jaco Fouché skryf oor Jaco Diehl wat ’n boek skryf oor Joseph Fouché, in verhale met ’n sterk suggestie van verskuilde trauma.

  1. Kortstondige verhoudings

Diehl se verhoudings met vroue volg almal dieselfde patroon: Dit is kort van duur, sonder enige emosionele betrokkenheid van sy kant. Hy self karakteriseer sy verhoudings korrek: “Dis dan ook hoe dit meestal is, die alleenheid wat geen eensaamheid is nie, danksy kort ontmoetings, vinnige interaksie, vlugtige kyke in die verbygaan” (9). Emosioneel is hy afgestomp, en dit is hoogs waarskynlik die gevolg van ’n trauma of traumas uit die verlede. Die vermoede van onverwerkte trauma dring dan ook mettertyd tot hom deur, en hy besef: “Die woord trauma maak iets in my wakker waaraan ek moet sluk” (132).

Die eerste vrou wat haar opwagting maak, is sy buurvrou Soraya. Hy is toevallig in die nabyheid wanneer haar man homself om die lewe bring, en later help hy Soraya om van die mense wat lawaai maak in haar woonstel, ontslae te raak. So beland hy, ondanks sy gebrek aan inisiatief, in ’n verhouding: “Daar is iets tussen ons, iets wat ek vir haar gedoen het en wat ek weet sy aanvaar in die een of ander seremonie wat ek nie mooi begryp nie” (28). In die fisieke verhouding met haar ervaar hy ’n seksuele begeerte sonder deernis, ’n gewelddadige drif: “Ek moet haar nou naak sien en my geslagsorgaan in hare indruk en teen haar stamp, stamp, stamp” (39). Wanneer die lastige Theo aan die voordeur van die woonstel hamer, raak Diehl impotent en verlaat die woonstel. Die naam Soraya is waarskynlik ’n verwysing na ? eerder iets soos “eggo ...”?  ’n Verwysing is iets anders – baie direk en met ’n doelbewuste “verwysende” doel] JM Coetzee se Disgrace, waarin die hoofkarakter sy seksuele behoeftes by die vrou Soraya wil bevredig sonder om betrokke te raak in ’n verhouding met verantwoordelikhede: “He has toyed with the idea of asking her to see him in her own time. He would like to spend an evening with her, perhaps even a whole night. But not the morning after.” [iii]

Wanneer Soraya vermoor word, simpatiseer die woonstelopsigter en die konstabel wat die ondersoek doen, met Diehl, maar hy reageer hoegenaamd nie daarop nie; al waaroor hy uitvoerig uitwei, is sy vermoede dat Theo die moord gepleeg het. Hy het geen skuldgevoel omdat sy vermoor is in die nag toe hy haar alleen gelaat het nie; alleen woede oor die man wat volgens hom die moord gepleeg het – die man wat hy later sal doodmaak.

Die tweede vrou wat ’n rol in sy lewe speel, is Adèle, die eggenote van die speurder Jansen, vir wie hy leer ken wanneer hulle saam in die hospitaal is as gevolg van beserings wat hulle opgedoen het. Wanneer Adèle deur die toedoen van ’n woedende skare betogers in die hospitaal beland, vra Jansen hom om haar te besoek. Hierdie “Lorelei van die Overberg” (115) is ’n mooi vrou, en Diehl stel kennelik in haar belang, maar waarskynlik omdat hy nie met Jansen wil bots nie, vlug hy van haar weg, “al roep sy agter my aan soos ’n helheks wat ’n afgedwaalde duiwel tot orde roep” (119). Hy het weggekom, tot sy verligting.

Diehl ontmoet ook vir Samantha, die suster van Charlie Jonas, die man wat hy vermoor het. Oënskynlik besoek hy haar om haar van die dood van haar broer te vertel en met haar te simpatiseer, maar die gesprek is deurtrek van leuens en skynheiligheid, omdat hy die skuldige is, die oorsaak van haar verlies. In plaas van skuldig te voel oor die moord wat hy gepleeg het en te erken dat hy straf verdien, is daar ’n groot verligting wanneer hy hoor dat ’n onskuldige man van die moord verdink word (193). Ook met Samantha ontwikkel daar, soos met Soraya, ’n koel seksuele verhouding. Hulle verkeer naak in ’n buitegebou van die inrigting waar Samantha terapie ontvang, maar die seks is teen sy wens, want “naak hou sy ’n uitdaging in en steeds ’n verpligting. Ek moet wegkom” (221). Wanneer sy hom verwyt oor sy koelheid, druk hy haar teen hom vas “en vryf haar boud beleef”! Geen wonder dat sy vir hom sê: “Jy is gemeen” nie (221).

Ondanks die feit dat geeneen van hierdie verhoudings êrens heen lei nie, speel hulle tog moontlik ’n positiewe rol in sy lewe. Hulle spreek kritiek uit op sy ongevoeligheid en kan as ’n stem van die gewete beskou word – sy gewete wat teen die einde van die roman begin ontwaak. Soraya sien deur hom en verwyt hom sy selfsug: “Sodra jy iets vir ander mense moet doen, verloor jy alle belangstelling in hulle” (24).

Op besoek aan Adèle gebeur daar iets wat ’n goeie uitwerking op hom het. Die hospitaal waar sy behandel word, word deur vloedwaters oorstroom, en Adèle roep om hulp vir twee kinders wat onderwater is, vasgekeer deur ’n kabinet wat op hulle omgeval het. Diehl se reaksie is te verwagte: “Ek weet nie wat om te doen nie” (118). ’n Vrou kom tot die kinders se redding, lig die kabinet van hulle af op, en sy en Diehl pas dan mond-tot-mond asemhaling op die kinders toe. Dit laat die kinders ontwaak, en sodoende vervul Diehl die rol van ’n helper in nood sonder dat hy inisiatief geneem of heldhaftig opgetree het. Die redding van die kinders verander hom egter, en hy praat daarna op ’n meer positiewe toon met homself: “Ruk my reg. Heel geword toe daardie kinders ontwaak” (123). Hierdie een keer in sy lewe het hy iets gedoen om ander te help, en dit het hom geraak.

Samantha is die meeste uitgesproke in haar kritiek op Diehl. Sy noem die lusteloosheid in sy beoefening van die godsdiens sowel as van die liefde: “Jy aanbid die Here soos jy jou vrou sou, as jy een gehad het” (182). Sy sien in dat sy lewe belemmer word deur laste uit die verlede, en maan hom om die verlede agter hom te laat, soos wat Jane, die vrou van die vermoorde Charlie, gedoen het (184), en soos wat sy ook doen na die dood van haar broer (194). Sy wys daarop dat vergeet nodig is om rus vir jou siel te kry (186) en nooi hom uit om toenadering tot haar te maak. Hoewel hy nie werklik belangstel nie, voel hy tog deur haar vertroetel, want sy reik uit na die sagter dele van sy persoonlikheid (193).

Soos Diehl, bring Samantha haar gevoelens tot uiting in die skryfkuns, maar waar hy dit indirek en verbloem doen met sy boek oor Joseph Fouché, doen sy dit direk deur haar gedigte. Waar hy behep is met die wrede Joseph Fouché, is haar hooftema die liefde, en sy skryf daaroor in ’n boek met blommetjies – sy heg waarde aan skoonheid en liefde. Ook Adèle het intussen ’n skrywer geword. Sy het vroeër vir Diehl gevra om haar te leer skryf, maar hy het nie op die versoek ingegaan nie; nou skryf sy ’n verhaal wat heeltemal anders is as die biografie waaraan hy gewerk het. Sy skryf oor haar verhouding met Diehl en haar man, en doen dit met empatie: “Empatie is die sleutel” (231). Diehl sou heelwat by die twee skrywende vroue kon leer.

  1. ’n Lewe van geweld

Diehl se lewe vorm ’n patroon van angs, woede en wraak. Hy pleeg die een moord op die ander, steeds meer irrasioneel en al hoe meer sinloos. Die eerste persoon wat hy doodmaak, is Theo, wat in die nag in sy woonstel inbreek nadat Diehl hom vroeër uit die woonstel gestoot het. Theo verkrag hom; Diehl kom in verset en slaan vir Theo dood met ’n eselskakebeen wat Theo in die woonstel ingebring het. Die eselskakebeen is ’n verwysing na Simson, wat duisend Filistyne met ’n eselskakebeen doodgeslaan het (Rigters 15:15). Hier is alreeds ’n suggestie, wat later in die roman versterk word, dat Diehl fantaseer oor wat gebeur het. Hy ken aan homself die rol van die sterk man Simson toe wat bose vyande vernietig het. Maar die waarheid is anders – hy voel skuldig omdat hy die eerste ejakuleer, omdat hy dit geniet wat hy behoort te verag.

Op hierdie ervaring volg ’n tipiese reaksie van selfverontskuldiging. Hy troos homself dat “die mens meer fisiologie as psigologie is” (73), maar die troos word gerelativeer met die woorde “of dit is wat ek dink”. Wanneer sy gewete hom wil pla, verwerp hy die idee van menseregte en van die onderskeid tussen reg en verkeerd wat hom sou kon laat sleg voel (73–4). Alle seks is verkragting, sê hy vir homself (73), en dit stem dan ook ooreen met die manier waarop hy vroue seksueel benader. Hy ondervind “’n siedende vlaag haat”, waarskynlik ’n mengsel van selfhaat en haat teenoor die verkragter, maar reageer dan op kenmerkende wyse: “Ek wil hierdie dinge nie weet nie.” Wat hom ongemaklik maak, druk hy weg in die onbewuste.

.........

Diehl word steeds gedryf deur woede, sonder die korrektief van ’n gewete. Hoewel hierdie toneel nie as volkome realisties geïnterpreteer kan word nie, is dit waarskynlik ’n verbloemde weergawe van ’n traumatiese gebeurtenis uit sy verlede. 

............

Diehl word steeds gedryf deur woede, sonder die korrektief van ’n gewete. Hoewel hierdie toneel nie as volkome realisties geïnterpreteer kan word nie, is dit waarskynlik ’n verbloemde weergawe van ’n traumatiese gebeurtenis uit sy verlede. Die verkragting deur Theo word telkens opgeroep wanneer hy in ’n situasie verkeer wat hom bedreig of wat onbeteuelde seksuele drifte in hom wakker maak. Dit gebeur wanneer hy sien hoe Sebastiaan en Elsie, twee jongmense in sy woonstel, eroties verkeer (190). Ook wanneer ’n man hom in die toilet wil gryp, dink hy aan Theo (199). In die geselskap van Samantha, wat hom in ’n verhouding wil inlei, glip hy terug in ’n ontstellende herinnering: “Ek is afsydig. Maar daar is herinneringe. Die jong man wat my teen die bed platdruk. Ek wat met iets slaan, wild en dodelik. My kop voel warm. Sweet bars oor my lyf uit. Soveel mense om my. Die vrou by my voel vir my vreemd” (206).

Die verkragting deur Theo is dus skynbaar ’n gewysigde weergawe van ’n traumatiese gebeurtenis. Die magteloosheid, geweld en skande in die toneel behoort waarskynlik tot ’n werklike ervaring, maar dit word verbloem: Diehl kry ’n helderol en daar vind geen beskuldiging of vervolging na die tyd plaas nie. Die verlede word opgeroep en terselfdertyd vervals.

Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, soek Diehl werk, en hy word aangestel as skoonmaker by ’n karateklub. Dis interessant dat hy juis hier begin werk, want karate is ’n gewelddadige sport, hoewel dit “gestileerde geweld” is (145). Charlie Jonas, een van die lede van die klub, wil hom leer hoe om karate te beoefen, maar Diehl is nie ’n goeie leerling nie. Wanneer hy later vir Charlie vermoor, is dit ’n onbeteuelde geweld, teenstrydig met die doelstellings van karate. Dit is ironies dat hy werk as skoonmaker kry, want hy bevlek die vloer van die klub met Charlie se bloed.

Wanneer Diehl geweld pleeg, is daar steeds ’n vrou betrokke, minder of meer prominent. ’n Driehoeksverhouding kom sterk na vore in die moord op Charlie. Charlie nooi hom na sy huis uit, en wanneer hy daar kom, is Charlie afwesig, want hy is op besoek by sy suster Samantha. Diehl begin te dans met Charlie se vrou Jane, en dit laat allerlei wilde gevoelens by hom opkom: “Teen elfuur dans ons wild, ons voete stampend op die vloer.” Sy verbeelding sit met hom op loop: “Toe kyk ek na haar en stel my voor ek dans teen haar, my lendene skroeiend weens die kontak. Ek moet dit nie doen nie, ek doen dit. Ek mag nie, ek sal” (157).

Hy dink dat Jane hom moontlik gebruik om haar op haar man te wreek. Of dit waar is, weet ons nie, maar die gedagte versterk sy drange: “Ek wen ’n vriendin, ’n hart. Daarby troef ek ’n kryger. Sit hom ore aan. Steek hom die loef af. Oorwin hom stilletjie op so ’n ondergrawende manier [...] Die aand is vreemd en wonderlik en deurdrenk met skuldgevoelens en loodsware verlange” (157).

Op dié manier hoop hy om vir Charlie, wat hy nie met karate kan oorwin nie, op die liefdesbaan te troef. Hy het ’n illusie van mag, maar Jane sit hom op sy plek: “Sy druk my weg. ’Daar is iets omtrent jou,’ sê sy. ’Ek dink jy is gevaarlik.’”

Hy verlaat die huis per voet, en Charlie volg hom met sy motor. Charlie het waarskynlik by sy vrou gehoor hoe “gevaarlik” hy teenoor Jane opgetree het. ’n Toneel vol angs volg, wat hom aan sy dae in die weermag herinner: “Word herinner aan die army, konflik in die nag, wanneer troepe by die deure inkom en op geld aandring en jou in elk geval slaan, of jy gee of nie” (159).

Hy pleit onskuld by Charlie, maar Charlie rand hom aan. Dis beheerste geweld, en hy maak Diehl nie dood nie, wat hy maklik sou kon doen; hy begenadig hom. In teenstelling daarmee, reageer Diehl die volgende môre genadeloos, met onbeheerste geweld, en bring Charlie se lewe tot ’n bloedige einde. Weer eens is daar aanduidings dat hy die gebeurtenis idealiseer – dis byna asof Charlie vra om doodgemaak te word: “Geklee in sy karate-gi, die swart gordel uitgebleik, die merk van ervaring. Hy sak voor my op sy knieë neer en druk sy vuiste teen sy dye en laat sak sy kop” (163).

Hy het nou volledig die mag herwin oor hierdie man met sy swart gordel in karate.

Hierna raak Diehl heeltemal die kluts kwyt. Sy moorde raak volkome irrasioneel, en sy verhaal val uitmekaar; dit word moeilik om alles te glo wat hy kwytraak. Hy raak bevriend met Abie, ’n Moslem wat ’n voedselwinkel besit, en hoor van sy kommer oor die kêrel met wie sy dogter bevriend is. Abie glo dat die jongman hom voorberei om ’n Islamitiese terroris te word. Diehl besluit dat hierdie potensiële geweldenaar uit die weg geruim moet word; hy vermoor hom en steel sy geld. So het hy aan Abie se probleem aandag gegee deur die ongewenste man weg te kry van Abie se dogter. Weer eens word sy moord nie ontdek nie; hy het gedoen wat hy wou sonder kwade gevolge. Wat hy begeer, gebeur in sy verhaal.

  1. Sinloos en lewensmoeg

Diehl beweeg van die een werk na die volgende, van een woonplek na ’n ander, en van verhouding tot verhouding. Nêrens is vastigheid nie; daar is niks of niemand wat hom bind nie; daar is geen vrede vir sy gemoed nie. Die wêreld om hom is ’n weerspieëling van sy onrustige gemoed; oral is daar tekens van verval en van ’n dreigende revolusie. Die godsdiens van sy jeug, wat hom sou kon getroos het, het hy prysgegee. Geen wonder dat hy moeg en neerslagtig is nie; hy het ’n opgekropte woede oor die lewe wat vir hom geen sin maak nie.

..........

Diehl beweeg van die een werk na die volgende, van een woonplek na ’n ander, en van verhouding tot verhouding. Nêrens is vastigheid nie; daar is niks of niemand wat hom bind nie; daar is geen vrede vir sy gemoed nie. Die wêreld om hom is ’n weerspieëling van sy onrustige gemoed; oral is daar tekens van verval en van ’n dreigende revolusie.

...........

Soms ervaar hy ’n intense gevoel van onbehae: “Liewe goedertierenheid, hoe sleg voel ek nie, die slagoffer van buie, ’n onbehandelde luimversteuring. Dis ’n dag vir God verwens en sterf. Dis ’n dag vir jou eie ma vloek” (94).

Hy voel dat “die Genade self nie meer goed sien nie” (94), en besluit dat hy iets moet doen om van sy slegte gevoelens ontslae te raak. Hy gaan dan na ’n begraafplaas, waar hy die een grafsteen na die ander vandaliseer. Sy geweld maak geen sin nie – dis bloot ’n vernietigende woede wat hy op die beelde uithaal, in plaas van om homself te ondersoek en te kyk of die oorsaak van sy ellende nie in hom lê nie.

Diehl word gedryf deur primitiewe drifte, deur seksdrange en aggressie; hy het geen morele waardes wat sy drange beheer of rig nie. Hy herinner aan wat CS Lewis in The abolition of man geskryf het oor die moderne mens wat net kop en krop geword het, sonder (in)bors wat menslike waardes bevat:

The chest – magnanimity, sentiment – these are the indispensable liaison officers between cerebral man and visceral man. It may even be said that it is by this middle element that man is man: for by his intellect he is mere spirit and by his appetite mere animal.[iv]

So het Diehl sy menslikheid verloor. Dit kan ook anders gestel word: Diehl is ’n beliggaming van die magte van die hel, waar deernis en empatie ontbreek en waar onbeteuelde drifte en drange heers. Dit kan uit sy naam afgelei word: “Diehl”, veral as dit hardop gesê word, staan duidelik vir “die hel”.

In die laaste deel van die roman is daar egter suggesties van uitkoms uit die hel waarin Diehl hom bevind. Hierdie tekens van hoop word later uitvoerig behandel.

  1. Onbetroubare verteller

Uit die voorgaande het dit geblyk dat Diehl nie ’n baie betroubare verteller is nie. Die verhaal word in die eerste persoon vertel – dit is sý weergawe wat ons lees, en sy storie klink soms baie onwaarskynlik. Reg aan die begin van die roman is daar reeds tekens dat sy waarnemings onbetroubaar is; hy is byvoorbeeld onseker oor die lengte van die vrou (Soraya) in die woonstelblok langs syne: “Ek verbeel my sy is langer as wat sy was; sy is reeds amper ’n kop langer as ek” (7). Dis ’n vreemde vrou wat so verrassend langer word! Op die volgende bladsy bevestig hy sy onsekerheid oor die waarheid van sy vertelling: “Soveel omtrent die saak is onduidelik vir my, wat swak is vir ’n skrywer, maar ek het nie die moed om ondersoek in te stel nie en tot dusver ook nie die drang om betrokke te raak nie.” Dis ’n baie eerlike bekentenis van ’n baie oneerlike verteller!

Hy verduidelik aan Jansen dat ’n skrywer nie die werklikheid ongefiltreerd weergee nie – ’n boek is soos ’n “weerkaatsing van die werklikheid in ’n dowwe spieël in ’n sleg verligte vertrek” (87). Reeds vroeër het hy erken dat hy soms die kluts kwyt raak en nie ’n goeie getuie van gebeure is nie (79), en wanneer hy vir Adèle in die hospitaal gaan besoek, word die leser gewaarsku dat Diehl nie altyd geglo kan word nie – daar is reën in sy oë, en ook reën in sy herinneringe (110).

Die duidelikste aanduiding van sy onbetroubaarheid vind die leser wanneer hy van sy dae in die weermag vertel. Hy beweer dat hy ’n maat doodgemaak het (101), wat dit laat klink asof hy ’n moord gepleeg het. Daarna vertel hy egter dat die vriend gesterf het toe hy saam met hom in ’n Land Rover gery en Diehl onverskillig bestuur het. Hy is kwaad vir homself omdat hy uit woede so gevaarlik bestuur het, en beskou homself as “drek van die aarde” (105). Maar dan, plotseling, word beweer dat sy vriend lewe (106), terwyl vantevore verklaar is dat hy gesterf het.

.........

Die leser moet dus goed oplet na wat Diehl vertel én wat hy verswyg, en hoekom hy dit doen. Daar is ’n verhaal agter sy verhaal.

.............

Die leser moet dus goed oplet na wat Diehl vertel én wat hy verswyg, en hoekom hy dit doen. Daar is ’n verhaal agter sy verhaal.

  1. Tekens van verandering

In onderhoude en resensies oor Aanspreeklikheid is tereg klem gelê op die uitbeelding van die somber aspekte van die lewe en die donker kant van die menslike natuur, maar daar is nie genoeg aandag gegee aan die hoopgewende elemente in die boek nie. Dit begin met Diehl se rekenaar wat breek, met die gevolg dat sy biografie oor Joseph Fouché verlore gaan. Dit bied aan hom die geleentheid om met ’n nuwe narratief te begin, in plaas van die een oor Fouché se geweld en die onderdrukking van godsdiens. Sy hart is nie meer in die projek nie (141); dis tyd vir ’n nuwe verhaal. Op ’n dag wat “vaal soos ’n brandsiek hond” is, “het hy lus om [sy] heiland soos ’n minnares in ’n digte woud te ontmoet”; hy wens dat “sin en samehorigheid” aan hom geskenk sal word (131).

In ’n gesprek in sy woonstel met die jong vrou Elsie wys hy op die belangrikheid van “die idee van ’n karakter wat verander, verbeter. Dis deel van die letterkunde, ’n kerndeel” (228). Vir die struktuur van ’n verhaal is ontwikkeling nodig, want die herhaling van dieselfde patroon kan vervelig raak. Diehl se lewe vorm tot op hierdie punt inderdaad ’n eenselwige patroon van geweld; dis tyd vir verandering in die storie. Hierdie idee is van toepassing op die verhaal en op die lewe – verandering sou nie net Diehl se verhaal meer boeiend kon maak nie, maar ook sy lewe meer sinvol en eties. Nadat Diehl hierdie opmerking gemaak het, dink hy aan die twee kinders wat byna verdrink het en wie se lewe hy gered het. Dit was ’n gebeurtenis wat emosies van heling en verandering by hom gewek het; dis belangrik vir sy verhaal.

Daar is ’n hele paar aanduidings dat Diehl nie in staat is om Joseph Fouché se voorbeeld te volg in die onderdrukking van die godsdiens nie. Reeds vroeg in die roman word die leser daarvan bewus dat godsdiens diep in hom gesetel is:

Miskien doen dit die manuskrip skade om op die godsdiens te hamer en tog kan ek nie daarvan wegbly nie. Was jy eenmaal ’n kerkganger, dra jy altyd daardie mantel, en sou dit gebeur dat jy eendag met die brandstapel gedreig word, sal jy soos die laaste Tempelier die kruis met jou lippe verloën maar nooit met jou hart nie. (58)

..........

Sy gehamer op die godsdiens is ’n teken hoe verdeeld hy daaroor voel – hy het ’n obsessie om dit te onderdruk, maar kan ook nie daarvan wegbly nie.

.............

Sy gehamer op die godsdiens is ’n teken hoe verdeeld hy daaroor voel – hy het ’n obsessie om dit te onderdruk, maar kan ook nie daarvan wegbly nie.

Sy innerlike konflik kom goed tot uiting op bladsy 62. Omdat hy die godsdiens nietig verklaar het, vind hy “geen rus vir die gewete, geen plek vir die siel” nie, en dit dryf hom tot ’n gebed:

Heer, staan my by in my verlatenheid, U wat soos woestynwind om my waai, word ’n Gestalte wat ek kan sien, versoek ek U. Kom na my deur, klop aan, kom in en ontvang my gulheid. Maar Liewe Heer, mag ek U herken. Dis wat my kwel, dat U by my sal aankom en ek sal U nie herken nie en dan wegstuur.

Daar kom ’n duidelike ontwikkeling wanneer hy sy sondes bely, om vergifnis bid en God vir ’n meer betekenisvolle lewe vra:

God, vergewe my my sondes, my luiheid, al hierdie ure wat ek bloot om-bestaan. Gee my iets om te doen, iets spesiaals. Laat my toe om iets by Jou te kom haal, genadige Vader, en dit na die menigtes te bring. (188)

Sy gevoelens wissel egter steeds. Hy besoek ’n kerk, maar verlaat dit weer, omdat hy nie meer die “stem van die Vader” hoor nie (200). Hy het die behoefte aan ’n geestelike ervaring, maar vind nie die vervulling waarna hy verlang nie. En dan kom dit miskien tog:

Lank lê ek so, probeer iets oproep, ’n begenadiging afsmeek. Dit kom ná lang kwartiere, ’n warm gevoel in my kop wat ek met die Heilige Gees assosieer sonder dat ek seker kan wees. Maar ek voel nou kalm en gelukkig en dit moet dus wees. (228)

Ek het reeds verwys na die vroue in Diehl se lewe wat soos ’n stem van die gewete funksioneer. Die gewete word nog sterker verteenwoordig deur Jansen, die speurder wat die dood van Theo ondersoek het en vir wie Diehl goed leer ken wanneer hulle saam in die hospitaal behandel word. Hy is ’n kontrasfiguur: Anders as Diehl, stel hy belang in sy medepasiënte en reik hy na hulle uit. Hoewel sy vrou beweer dat hy om selfsugtige redes sy hulp aanbied (112), gee hy tog verstandige raad: Hy weet dat Diehl sy hart moet “skoonmaak” van die trauma wat hom kwel (82) en moedig hom aan om meer inisiatief te gebruik (93).

Om sy trauma te verwerk, is dit nodig dat Diehl sy verlede konfronteer. Speurder Jansen gaan op ’n speurtog na Diehl se verlede, vind heelwat dinge uit en praat met Diehl daaroor; en Diehl ervaar dat hy nogal openhartig met hom gesels (100). Dit gaan aanvanklik veral oor die tyd in die weermag: Diehl se gevoel van onbenulligheid daar, en die reeds bespreekte vertelling van hoe Diehl die oorsaak van ’n vriend se dood was. Later bel Jansen hom om te vertel wat hy verder ontdek het: hoedat die nuwelinge in die weermag snags geslaan is deur die seniors, en hoedat Diehl dieselfde gedoen het toe hy ’n senior geword het: “Jy kry jou selfrespek terug deur ander s’n te vernietig.” Jansen maan hom om te doen wat reg is en om verantwoording vir sy dade te doen. Hoewel Diehl probeer om die herinneringe te onderdruk, maak die gesprek tog die erkenning in hom wakker dat hy slagofferskap koester en aanspreeklikheid ontken: “Ek skud die herinneringe van my af. Net nóg ’n rede om skuldig te voel, aanspreeklik. En in werklikheid gedy ek in ’n atmosfeer van onskuld en slagofferskap” (138).

Jansen is vasberade om meer oor Diehl se verlede uit te vind, en hy kom dan ook op heelwat relevante inligting af, maar dit is te betwyfel of hy die volle waarheid oor Diehl agterkom en dit bekend maak. Dit bly nog Diehl wat die verhaal vertel, en hy het die mag om te openbaar sowel as om te verbloem.

  1. Die wending in die slot

..........

Jaco Fouché se Aanspreeklikheid is ’n komplekse, diepsinnige, fassinerende boek – uiters geskik vir bespreking deur leeskringe. Die tema van aanspreeklikheid is besonder relevant vir ons tyd; dit betrek nie net die hoofkarakter nie, maar raak ook aan die plig van skrywers en die verantwoordelikheid van lesers.

...........

Die “moord” van Diehl op Elsie en Sebastiaan aan die einde van die roman kom ooreen met sy vorige moorde, maar is ook heeltemal anders. Daar is weer ’n driehoeksverhouding: hy wat ’n vrou begeer, met ’n ander man wat ’n mededinger is. Hy verlang om “Bybels een vlees” met Elsie te wees (227), maar sy het ’n erotiese verhouding met Sebastiaan. “Daar is wedywering tussen my en die heelwat jonger man om Elsie” (227). In sy afguns steek hy die twee met ’n mes dood en gooi hulle by sy woonstelvenster uit. Dis ’n baie onrealistiese toneel. Nie Elsie of Sebastiaan verset hulle teen hom nie. Sebastiaan is, soos Charlie vroeër, heeltemal in sy mag: “Sebastiaan is lagwekkend swak en kennelik nie gewoond aan fisieke inspanning nie. En hy is verskrik, verlam. Lamgelê deur paniek” (233).

Die gefantaseerde gebeure is kennelik ’n reaksie op ’n trauma van die verlede, en ’n poging om die magsposisie te herwin: “Ek wat op die bed platgedruk word in die een of ander voorspel soos deur ’n Afrikanerman beoefen. Ek, supreme being, commander in chief, held van die stemloses” (234).

Die “moord” is in werklikheid ’n afrekening met ’n pynlike herinnering. Die bestuurder van die woonstelblok vra hom waarom hy so skree, en hy ontken dat dit hy is (234–5). Ook ander mense daag nou op, en ’n man wil weet hoekom niemand “die man” help nie. Die krete van die “vermoordes” hou nie op nie; dis krete wat ’n “gesnik” is (235). Die man wat om hulp skree, is eintlik Diehl, en die “vermoordes” is projeksies van sy eie verdriet. Die “lyke” van Elsie en Sebastiaan word by die vuilgoedblikke gevind; die “moord” op hulle is deel van die “vuilgoed” uit Diehl se verlede, en hy is besig met ’n reinigingsproses.

Anders as met sy vorige moorde, kom Diehl hierdie keer nie skotvry daarvan af nie. ’n Vyandige groep mense, wat weet dat hy skuld dra, konfronteer hom en dring aan op reg en geregtigheid (238). Wanneer hy wegvlug, na sy woonstel hardloop en die deur sluit, volg hulle hom, klop aan sy deur en skel op hom. Nou, in sy alleenheid, bedreig deur ’n vyandige skare, besef hy hoedat hy self die skuld dra van die eensame, selfgesentreerde lewe wat hy lei:

Ek het in die gewoonte gekom om van mense weg te skram; selfs diegene wat ek nog sien, vermy ek sommer terwyl hulle nog in my teenwoordigheid is. Hoe maklik lê ’n mens nie ’n verbintenis af nie. Hoe gou dink jy nie dis heilsaam om juis dit te doen nie. (239)

En dan kom Jansen, die stem van sy gewete, die woonstel binne. Hy het intussen meer oor Diehl se verlede uitgevind, sê hy – Diehl het twee kinders wat op mekaar verlief was en mekaar gestreel het, uit afguns vermoor, maar is nie voor die gereg gedaag nie. Diehl se reaksie daarop is betekenisvol: “’Jou inligting is steeds verkeerd,’ sê ek floutjies” (240). Moontlik is Jansen se inligting nie volkome korrek nie, maar die feit dat Diehl slegs “floutjies” protesteer, laat die leser vermoed dat daar tog ’n mate van waarheid in die bewering steek. Dit sluit aan by die afguns en seksuele drif wat steeds by Diehl se “moorde” aanwesig is.

Diehl het sy eie ellende so gekoester dat hy nie opgemerk het hoeveel skade hy aan ander verrig nie. Jansen stel ongemaklike vrae hieroor: “Waarom gaan soveel mense in jou omgewing dood?” Die besef van hoe hy tekortgeskiet het, en wat hy behoort te gedoen het, begin tot hom deurdring: “Moontlik koester ons daardie sinloosheid, wat sonder blaam behoort te wees, geen druk op ’n mens moet plaas om iets te doen nie: die wapen op te neem, boete te doen, jou bergskuiling te verlaat vir die vallei, die hoogtes vir die vlaktes” (241).

Jansen konfronteer hom met die valse narratief wat hy van sy lewe gemaak het en moedig hom aan om eerliker te wees:

As ek jou sou vra om jou verhaal neer te skryf, sal jy dit in eerlikheid doen? Sal jy jouself verdoem? Sal jy jouself die held van jou eie verslag maak? Sal jy vertel van jou pyn en dit as die rede aanvoer vir jou gedrag? Wat sal jy alles weglaat? Sal jy die land blameer? Al die sterftes en geweld en onrus? Sal jy die sterftes om jou beskryf en sal jy eerlik wees? (241)

Hy noem die kritiese manier waarop Diehl na die land kyk, en wys daarop dat Diehl ook ’n verantwoordelikheid in dié verband het: “Ek ken jou aankla en beskuldig. Ek kan vir jou sê jy is ook verantwoordelik. Jy help grawe aan die put waarin die land wegsink. Dis wat jy moet weet en dis die wete wat jy moet dra” (242).

Diehl voel dat Jansen sy gewete oorlaai het (242), en soos sy gewoonte is wanneer hy bedreig voel, begin hy met ’n moordpoging. Hy dreig Jansen met ’n broodmes, bind hom vas en sleep hom onder die wasbak in. Maar dan word hy in sy planne gestuit – sy broek bult, soos wat dit gebeur het toe hy deur Theo verkrag is; “dit breek [sy] spoed” en laat hom nadink: “Dink aan wellus en wraak en hoe misplaas dit is. In die army bars troepe snags by die bungalows in om tradisie voort te sit. Slaan soos jy geslaan is. Doen aan ander wat aan jou gedoen is” (243).

Dan volg ’n verrassende wending. Sy uitgewer bel hom en sê dat sy daarin belangstel om sy boek oor Joseph Fouché uit te gee. Dis nogal ironies, want sy rekenaarskyf met die verhaal van Fouché het gebreek en daar is tekens dat hy ’n nuwe storie wil skryf en ’n nuwe lewe wil lei. Hy besluit om Jansen nie dood te maak nie, en die begenadiging beskou Jansen as die werking van sy gewete (245). Die “gewete” is wel nog vasgebind, is dus nie heeltemal vry nie, maar leef darem nog.

Diehl verlaat die woonstel en droom van nuwe lewensmoontlikhede – “soveel ingewinge, planne, blyke van optimisme en hoop” (246). Hy besef nou “daar is tog meriete in verbintenis”, en hy aanvaar sy aanspreeklikheid (246). Op straat merk hy twee lydende mense op – ’n vrou met ’n verweerde gesig, en haar siek man. Sy, wat hy as ’n verteenwoordiger van menslike lyding beskou, versoek hom om haar saam met hom te neem (247). Diehl het nou sy afstandelikheid prysgegee, en vertoef “saam met die twee mense, sibbes in isolasie, ons drie kinders van die koelte” (247).

Dan begin die reën uit te sak, wat herinner aan die toneel waar Diehl die redder van die twee kinders onder die water was en nuwe lewe uit die halfdooie kinders gewek het. Die water is simbool van lafenis, reiniging en hergeboorte: “Die lug ruik na begenadiging, ’n soetheid van die gees wat ’n mens aan ’n Pinksterdiens laat dink, die welwillendheid, die gesing, die seisoenale bewustheid van die kerkjaar, iemand wat met ’n natgehuilde gesig tot bekering kom” (248).

Diehl besef dat hy iets moet doen om sy lewe te verander, en dat hy na die lydende vrou moet uitreik. Of hy na haar uitreik, weet ons nie, en hoe sy lewe in die toekoms gaan verloop, word nie vertel nie. Die slot bly oop, maar dit is oop vir verrassende moontlikhede. Hy wil “aanbeweeg”, weg van sy traumatiese verlede (248), al is geen afsluiting ooit finaal nie: “altyd ander plekke, en later weer warm dorstige dae, tamheid en die bleekgebrande hemel. En daar sal verdere aanspreeklikheid wees, sonder twyfel” (249).

Jaco Fouché se Aanspreeklikheid is ’n komplekse, diepsinnige, fassinerende boek – uiters geskik vir bespreking deur leeskringe. Die tema van aanspreeklikheid is besonder relevant vir ons tyd; dit betrek nie net die hoofkarakter nie, maar raak ook aan die plig van skrywers en die verantwoordelikheid van lesers.

[i] Ricoeur, Paul. A story in search of a narrative, bl 435 (kursivering deur Ricoeur). In Mario Valdés (red): A Ricoeur reader. Reflection and imagination. Toronto: University of Toronto Press, 1991.

[ii] Die voorgaande uiteensetting is 'n kort samevatting van die eerste hoofstuk in die boek wat ek en Pumla Gobodo-Madikizela geskryf het: Narrating our healing. Perspectives on working through trauma. Newcastle: Cambridge Scholars Press, 2008.

[iii] Coetzee, JM. Disgrace, bl 2. Londen: Secker & Warburg, 1999.

[iv] Lewis, CS. The abolition of man, bl 19. Oxford: Oxford University Press, 1943.

Lees ook:

Aanspreeklikheid: ’n onderhoud met Jaco Fouché

LitNet Akademies-resensie-essay: Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top